BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Gees van Jesus. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Gees van Jesus. Wys alle plasings

Dinsdag 14 Februarie 2017

OMVALGEES

-of GEES VAN JESUS?

Ons bely om in ‘n Drie-enige God te glo – Vader, Seun, Heilige Gees. Die lewende God openbaar Hom so en is so as Drie-enige God betrokke by ons persoonlike verlossing. Die Vader het ons van ewigheid af lief, het ons uitgekies en het sy Seun Jesus gestuur om die uitverkorenes se verlossing deur die kruis en opstanding te bewerkstellig. Jesus, die Seun het ons ook lief en het in gehoorsaamheid aan die Vader ons verlossing aan die kruis bewerk deur ons sondestraf te dra en ons sodoende los te koop. Maar wat nou van die Heilige Gees? Hoe is Hy betrokke? 


Beleef jy die werk van die Gees persoonlik in jou lewe? As dit kom by die werk van Gees is daar dikwels groot verwarring in baie mense se denke. Wat doen Hy? Beleef ek Hom eers as ek omgeval het? Moet ek kan getuig van snaakse ervarings soos onbeheerde lagbuie, om soos ‘n hond te blaf of ‘n papegaai te skreeu?

Terloops. ‘n Basiese vertrekpunt om te onthou : Die Heilige Gees is op Pinkster aan die kerk gegee. Sy koms en teenwoordigheid is ‘n historiese feit net soos die kruis en opstanding.

Wat doen die Heilige Gees in hierdie tyd? Waarmee besig? Wat is sy hooftaak? Hoe lyk ‘n mens of gemeente waar die Gees werksaam is? Watse praktiese verskil maak die Gees in ons lewens? Jesus self gee in die gesprek met sy dissipels op die vooraand van die kruisiging onskatbare belangrike inligting oor die Heilige Gees. Ons gaan fokus op Johannes 16:12-15. Hierdie lering van Jesus sal baie help om verwarring en misleiding te voorkom.

Jesus se dissipels het wonderlike dinge beleef, maar hulle verstaan van Jesus en sy verlossingsplan (veral die noodsaak van sy kruisdood) was egter nog op hierdie tydstip baie beperk. Nou maak Jesus ’n wonderlike belofte in vers 13. 

“Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig.” 

DIE WAARHEID

Hoe moet ons dit verstaan? Van watter waarheid word hier gepraat? Jesus self is die waarheid – Johannes 14:6! Jesus self is die finale waarheid, die finale spreke van God aan die mens. Ons hoef nie en mag nie wag vir ‘n ander meer op datum waarheid nie. God het sy finale boodskap aan ons deur Jesus gebring. “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete,maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak”. (Hebr 1:1-2) Jesus self is die klimaks van God se openbaring aan die mens. Jesus is die hele waarheid. In Hom woon die volheid van God. Daar is nie iewers nie ekstra stukke lering of waarheid wat ons nog moet ontvang nie. 

Die Heilige Gees leer nie vir ons nuwe ekstra bykomstige waarhede nie, maar bring begrip en insig by ons oor Jesus en sy werk!

Die Heilige Gees is die Gees van die waarheid. Hy maak die waarheid (Jesus self) aan ons bekend. Hy verduidelik aan ons die implikasies van Jesus se lewe en sterwe. Hy maak ons oë oop vir Jesus! Die Heilige Gees kom nie met nuwe lering, nuwe rigtings, nuwe openbaring nie. (Pasop vir mense wat beweer dat God nou na 2000 jaar se kerkwees ‘n nuwe ding aan hulle deur die Gees geopenbaar het – byv. dat God nou deur Hebreeuse name aanbid moet word. Kliek op Wortels van Verwarring)

Die Gees sal ons lei (guide) – dit het hier in hierdie konteks niks met leiding (guidance) te doen in sin van met wie ek moet trou, beroep ens. nie. (Oor hoe om keuses te maak volgens God se wil is ‘n ander onderwerp en natuurlik is die Heilige Gees ook hier deur middel van die Woord betrokke.)

Nee, sy leiding stel ons in staat om God se openbaring in Jesus te begryp en te gehoorsaam!

Die Heilige Gees gee nie sy eie selfstandige boodskap nie – Hy sê net wat Hy van God hoor (net soos Jesus – vgl. Johannes 5:19) Die Heilige Gees se bediening is baie soortgelyk aan Jesus se aardse bediening, net op ’n baie groter skaal. Juis daarom was dit voordelig dat Jesus sou weggaan! “die dinge wat gaan kom” - ontsluit die betekenis van Jesus se dood en opstanding wat nou op hande was (gaan nie hier oor wederkoms nie). Weereens die Heilige Gees maak die implikasies van Jesus se sterwe en opstanding duidelik. 

ALLE FOKUS OP JESUS

Belangrik. Vers 14 lees : “Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.” Die Heilige Gees se hoofdoel is om Jesus te verheerlik. Om ons die grootheid, die heerlikheid, die wonder van Jesus te laat raaksien en verstaan. Weereens is daar ’n parallel tussen Jesus en die Heilige Gees se bediening : Jesus se bediening het heerlikheid aan die Vader gebring, die bediening van die Heilige Gees bring heerlikheid aan Jesus – Vgl. Johannes 17:4. 

INNIGE BAND MET JESUS

Die Heilige Gees plaas dus nie die fokus op Homself nie, maar op Jesus. Die Heilige Gees maak Jesus groot. Die Heilige Gees open ons oë om Jesus se heerlikheid raak te sien. Sonder die werk van die Heilige Gees bly Jesus vir jou oninteressant, net van teoretiese belang. Ons sien hier die intieme noue verband tussen Jesus en die Heilige Gees. Dit word bevestig in die res van die Nuwe Testament soos in :

Romeine 8:9 – “Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie.”

1 Korintiërs 2:16 – “Daar staan geskrywe: "Wie ken die gedagtes van die Here? Wie sal Hom raad gee?" Maar ons, ons het die Gees van Christus.” 

1 Petrus 1:11 – “Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word, en hulle het probeer naspeur wat die tyd en die omstandighede sou wees wat die Gees bedoel het.”

Handelinge 16:7 (NAV) – “Toe hulle by die grens van Misië kom, het hulle na Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus* het hulle dit nie toegelaat nie.”

DIE BELOFTE HET WAAR GEWORD

Hierdie belofte van Jesus (“wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.” ) het duidelik en dramaties waar geword in die lewe van die apostels vir wie Hy hier aanspreek. Eers na Pinkster toe die Heilige Gees uitgestort is kon hulle eers volkome verstaan wat die implikasies van Jesus se sterwe en opstanding is. Daarom kon hulle so kragtig preek oor die kruis en opstanding na Pinkster. Daarom kon hulle sulke diep dinge skryf in die Nuwe Testamentiese geskrifte. Hierdie diep verstaan van Jesus wat deur die Heilige Gees bewerk is, het ons dus hier in ons Bybels. As die Heilige Gees nou in ons werk maak Hy vir ons die Bybel verstaanbaar. Die Heilige Gees se taak is nie om ekstra buite Bybelse insigte aan mense te gee nie! (byv. oor datums van die wederkoms ens.), maar om die Woord vir ons oop te breek! Ons vind die volle waarheid oor Jesus in die Nuwe Testament. Die Heilige Gees het hierdie volle waarheid oor Jesus aan die apostels geopenbaar en ons kan dit in ons hande neem en lees en so openbaar Hy dit weer aan ons.

DIE GEES WERK DEUR DIE WOORD

Dus op ’n afgeleide manier raak hierdie belofte wel ons ook persoonlik - die Heilige Gees open ons oë om die geskrifte van die apostels te verstaan. So leer ons die volle heerlikheid van Jesus ken terwyl ons die Bybel bestudeer.

Die groot saak is dit - Die Heilige Gees fokus ons aandag op Jesus self deur middel van die Woord. Dis sy voortgaande werk. Dit stem ook ooreen met Johannes 16: 8-9. Die Heilige Gees oortuig mense van hulle sonde en van die heerlikheid van Jesus sodat hulle na Jesus kan kom vir redding!

WAT VAN MY?

Kom ons vra weer die praktiese vraag: Werk die Heilige Gees in my? Toets dit hieraan : Het ek ‘n groeiende honger na die Woord en ‘n groeiende begrip van die Woord? Het ek ‘n groeiende besef van my sondigheid? Maar veral, het ek ‘n groeiende besef hoe heerlik Jesus is, het ek ‘n groeiende liefde vir Jesus en ‘n groeiende vertroue op Hom alleen? Is Jesus vir jou kosbaar? Het jy ‘n begeerte om Hom te gehoorsaam? Dis ‘n duidelike teken, die Gees is besig met jou! Dank Hom. Dis net genade! 

Hoe lyk ‘n gemeente waar die Heilige Gees werksaam is? Daar is ‘n honger en dors na Jesus, na Sy woorde. Daar is Christus gefokusde prediking. Daar is ‘n diepe begrip en dankbaarheid oor Jesus se kruis en opstanding. Daar is ‘n erns met sonde en ‘n gebrokenheid oor wat verkeerd is. Verootmoediging en berou. (Die werking van die Gees in ‘n gemeente kan dus nie gemeet word aan hoeveel lidmate omval, lag of blaf nie!) 

God Drie-enig is betrokke by ons verlossing! Dis duidelik, die Heilige Gees se werk is ook onmisbaar belangrik. Niemand kan die Bybel verstaan, niemand kan glo, niemand kan hulle bekeer tot Jesus sonder die werk van die Heilige Gees nie.

*Hier is die NAV se teks beter as die van die OAV



Gloriosa superba / Rooiboslelie / Vlamlelie

Maandag 09 Junie 2014

“EK IS MET JOU/JULLE”

- die heerlike versekering van Jesus aan sy boodskappers in die opmars van die Koninkryk!

Oorgangstye is krisistye. As ‘n gevestigde of geliefde leier weggaan kan daar so maklik chaos of agteruitgang kom. Mense kan koers en entoesiasme verloor. Dinge kan dan so maklik skeefloop. Ons moenie vergeet nie, in Handelinge kry ons die geskiedenis van ‘n dramatiese maar ook kritiese oorgangsfase - Jesus het na drie intieme jare saam met sy dissipels opgevaar na die hemel. Voor hulle oë het Hy verdwyn in ‘n wolk... weg. Wat gaan nou gebeur? Hy laat ‘n klein groepie onbelangrike volgelinge agter. (Hulle was juis nie die dapperste en geleerdste ouens wat jy kon kry nie...) Dit was ‘n krisis tyd, ‘n beslissende tyd in die bestaan van die kerk en die uitbreiding van die koninkryk. 

Daar was al vantevore in die heilsgeskiedenis so ‘n kritieke oorgangstyd. Neem u gedagtes terug na die groot Eksodus gebeure, die Uittog uit Egipte. God gryp in deur Sy kneg Moses en Hy bewerk ‘n magtige verlossing. Maar uiteindelik kom ook Moses te sterwe - wat gaan nou gebeur? Moses het so na aan God gewandel, maar nou is daar ‘n nuwe leier, Josua. “Sal ek die mas kan opkom?” wonder Josua seker. Dan kry hy hierdie heerlike versekering uit God se mond : “Ek sal met jou wees.”

“En ná die dood van Moses, die kneg van die HERE, het die HERE met Josua, die seun van Nun, die dienaar van Moses, gespreek en gesê: My kneg Moses is dood; maak jou dan nou klaar, trek deur hierdie Jordaan, jy en hierdie hele volk, na die land wat Ek aan hulle, die kinders van Israel, sal gee. Elke plek waar julle voetsool op sal trap, dit gee Ek aan julle, soos Ek met Moses gespreek het. Van die woestyn en hierdie Líbanon af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier, die hele land van die Hetiete, en tot by die Groot See in die weste sal julle grondgebied wees. Niemand sal voor jou standhou al die dae van jou lewe nie; soos Ek met Moses gewees het, sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie." (Josua 1:1-5)

MET JOU!

“Ek is met julle.” Dis ook ‘n versekering wat aan die kerk van Jesus gegee word. (sien Matteus 28:10) Hy is met ons, Hy, Jesus is steeds na sy hemelvaart aktief teenwoordig in Sy kerk. Ons het gesien hoe dit Lukas se bedoeling was om Jesus se voortgaande bediening te skets. (Kliek HANDELINGE VAN JESUS) Steeds na sy hemelvaart bly Hy die koning wat sy amptenare, die plaasvervanger apostel, Mattias kies. Jesus is na sy hemelvaart nog steeds die aktiewe Verlosser. Hy bring verlossing na mense deur sy woorde en dade. Jesus is dus die een wat leer en die een wat doen. Hoe gebeur dit?

~Die uitstorting van die Gees deur Jesus. Een van die gebeurtenisse in Handelinge wat die meeste aandag trek en die grootste diskussie en meningsverskil uitlok is die talewonder op Pinksterdag. (Dis nie nou tyd om volledig daaroor te besin nie) Wat wel duidelik is, die fokus van die bonatuurlike gebeure op Pinksterdag is nie op die bonatuurlike verskynsels as sodanig nie, maar op die verkondiging van die groot dade van God. Die gebeure gee aanleiding tot Petrus se prediking oor die groot dade van God in Jesus Christus. Mense uit alle uithoeke en van alle tale hoor die verlossingsboodskap. (Die vloek oor Babel word omgekeer en alle nasies kan nou die woord in hulle eie taal hoor.) Dis die Heilige Gees se teenwoordigheid wat hierdie verkondiging moontlik maak. Nou is dit baie belangrik om raak te sien, die Heilige Gees kom nie sommer vanself of toevallig nie. Dis Jesus wat die Heilige Gees uitstort. Dis die duidelike boodskap van Handelinge 2:32,33 waar ons lees : “Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is. Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor.” Dis ‘n vervulling van die profesie van Johannes die Doper dat Jesus “met Heilige Gees doop” (Lukas 3:16, Handelinge 11:16) Omdat Jesus die groot Doper met die Gees is, stort Hy Heilige Gees uit. 

Ons moet alle verwysings na die Heilige Gees in Handelinge sien as verwysings na die aktiwiteit van Jesus. 

Dis ‘n uiters belangrike vertrekpunt vir die verstaan van Handelinge. Jesus is teenwoordig en werksaam deur die Heilige Gees. Nou verstaan ons waarom Hyself verklaar het dat dit voordelig sou wees as Hy weggaan. Deur sy Gees is Hy nou orals op aarde in sy kerk aanwesig en besig.

~Jesus is die een wat sy boodskappers bekragtig om te kan verkondig. Hy bekragtig hulle deur die Heilige Gees. (Handelinge 1:8) Dis so belangrik – daar is die nouste moontlike band tussen Jesus en Heilige Gees. Die Heilige Gees het nie nou ‘n afsonderlike bediening nie. Jesus en die Heilige Gees het nie twee botsende of alternatiewe agendas nie. Die Gees waarmee die verkondigers bekragtig word is die Gees van Jesus. Die Heilige Gees is die Gees van Jesus! “Toe hulle by die grens van Misië kom, het hulle na Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle dit nie toegelaat nie.” (Handelinge 16:7 NAB*). Dis hoe Jesus met sy mense is in die veroweringstog van die kerk... Die ooreenkoms/parallel met die Eksodus/Josua gebeure is merkwaardig. In die oorgang van Moses wat die groot bewerker, middelaar van verlossing uit die Egiptiese slawerny was na Josua wat die verowering van die heidense gebied moes bewerkstellig, kry Josua die versekering “Ek is met jou.” Jesus was die groot Middelaar wat verlossing uit sondeslawerny bewerk het, maar nou is daar ‘n nuwe oorgangsfase - die heiden wêreld moet nou verower word deur sy boodskappers. Sy boodskappers kry nou dieselfde versekering as Josua. “Ek is met julle.” Dis presies die versekering wat Paulus van Jesus kry te midde van die teenstand wat hy in die stad Korinte moes verduur. “En die Here het deur 'n gesig in die nag aan Paulus gesê: Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie; want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad.” (Handelinge 18:9,10)

~Jesus verlig en verander die harte van die wat die verkondiging hoor. Jesus se saam wees met sy mense behels meer as dat Hy hulle krag en vrymoedigheid gee. Hy is selfs nog meer aktief en persoonlik betrokke by die veroweringstog van die Koninkryk van God in hierdie wêreld . Hy werk nie net in die verkondigers nie, maar ook in die wat luister. Dis ‘n onontbeerlike noodsaaklikheid waarsonder geen sukses moontlik sou wees nie. Die boodskap van die evangelie is inderdaad goeie nuus, maar die gevalle mens se hart het geen waardering daarvoor nie. (Selfs mense wat dikwels in die kerk is en kinders in wat Christen huise grootword trek hulle neus op vir die boodskap van vergifnis en bevryding...) Hulle kan nie insien dat dit die enigste hoop op lewe is nie. Mense benodig ‘n bonatuurlike ingrype van die Here Jesus self, anders sal daar nooit bekering plaasvind nie. Dis die geval met die leiers en die inwoners van Jerusalem. Hulle het hulle verhard teen die Here en sy gesalfde. Petrus preek vir hulle dat hulle moet bekeer (2:38;3:19) Hoe kan sulke ongevoelige en vereelte harte tot bekering kom? Slegs as die bekering deur Jesus geskenk word. “Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle omgebring het deur Hom aan 'n kruishout te hang. Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk.” (Handelinge 5:30,31) Jesus skenk hartsverandering aan Sy vyande wat uitloop op vergifnis. Jesus speel ‘n direkte rol in bekering van Paulus, maar ook in die van Lidia. “En 'n vrou met die naam van Lídia, 'n purperverkoopster van die stad Thiatíre, 'n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is." (Handelinge 16:14).

Verlossing is slegs ‘n genade geskenk – dit het niks met menslike prestasie of verdienste te doen nie!


EN NOU? Jesus is reddend teenwoordig hier in die kerk, hier waar jy nou lees... Luister na wat Hy oor Homself gesê het : “Die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore is.” Volgens die boodskap van Handelinge het Hy nie na Sy Hemelvaart hierdie taak laat vaar nie, Hy is steeds daarmee besig. Heerlik! Jy wat nog buite staan, ronddwaal .... Hy is by magte om jou te red... Kom na Hom!

En jy wat reeds gered is? Kind van God jy is ‘n boodskapper wat die oorwinning wat Jesus aan die kruis behaal het, verder moet vat. Nuwe gebiede moet deur die evangelie verkondiging verower word. “Kanaän” by wyse van spreke, moet ingeneem word! Hoe? Deur verkondiging, proklamering van Jesus, getuie wees op alle maniere en terreine. Hierin word jy versterk, bemoedig en aangevuur deur die wonderlike versekering : "EK IS BY JOU!"

* Volgens goeie tekskritiese gegewens moet die vertaling "Gees van Jesus" soos dit in die NAB voorkom, voorkeur kry.