BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Geloof en twyfel?. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Geloof en twyfel?. Wys alle plasings

Donderdag 04 November 2021

EK TWYFEL...

WAT NOU?


Kan God se ware kinders tye van twyfel beleef? Kan egte gelowiges se geloof wankel? Die antwoord is JA! Ons is baie keer skaam of bang om daaroor te praat, maar dis die realiteit. 

Spoel die golwe van twyfelangste oor jou? Is jy dalk vasgevang in ‘n wurggreep van twyfelaanvegtinge? Ek vertrou die Woord gaan vir jou HOOP bring! Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde van twyfel by God se kinders. Die Bybel is verrassend eerlik oor die twyfel van die geloofshelde...

Abraham. Hy word genoem die vader van die gelowiges. Hy is ‘n geloofsheld. En tog was sy geloof nie altyd so rotsvas nie. Toe hy bang was en vir sy lewe gevrees het, het hy gelieg oor Sara en gesê dat sy, sy suster was. Toe die belofte van ‘n eie seun te lank vat het hy na Sara se verkeerde raad geluister en Hagar as byvrou gevat… Ismael is gebore en dit het groot ellende veroorsaak... (tot vandag toe nog) Maar op die lange duur het Abram volhard in die geloof en word hy as ‘n voorbeeld vir ons voorgehou in Romeine 4 en Hebreërs 11.

Johannes die Doper. Hy was die kragtige profeet van die Jordaanrivier wat met oortuiging en geloof na Jesus gewys het en gesê het: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” Maar toe hy in die tronk was het daar ‘n twyfel hom beetgepak en hy het sy dissipels na Jesus gestuur om te vra : “Is U die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?” (Matteus 11:3) Kan dit wees? Ja, hierdie dapper man van God het begin twyfel. Jesus het hom egter nie afgeskryf nie en hom bemoedig deur hom te herinner aan die OuTestamentiese profesieë wat in Jesus vervul is.

Ja, dissipels van Jesus (insluitend sy uitgestuurde apostels) kan twyfel oomblikke ervaar. Ons het lees in Matteus 28 hiervan  kort voor sy hemelvaart, toe Jesus vir hulle die sendingopdrag gegee het en hulle uitgestuur het na al die nasies. 


Sommige aanbid, sommige twyfel! Dis opmerklik dat Jesus nie vasgehaak het by hulle twyfel nie (Hy moes mos daarvan geweet het), maar voortgaan om hulle uit te stuur. Hy verwag maar net gehoorsaamheid. En dan maak Hy die heerlike belofte aan die wat gehoorsaam is : “En kyk Ek is met julle al die dae, tot aan die voleinding van die tyd.” (Matt 28:20b)





John Bunyan
Daar is ook baie voorbeelde uit die kerkgeskiedenis van God se kinders wat twyfelwroegings ervaar het.. John Bunyan, die skrywer van die “Pelgrim se Reis na die Ewigheid” was eerstehands baie goed bekend met geestelike stryd. Dis sekerlik juis hierdie worstelinge wat tot gevolg gehad het dat dié boek so ̕n akkurate beskrywing van die Christen se wel en weë op die pad van geloof is. Aan die einde van “Grace Abounding to the Chief of Sinners” (die boekie wat sy persoonlike getuienis bevat) maak hy ̕n paar slotopmerkings wat vir elke Christen wat deur geestelike stryd gaan tot groot bemoediging en seën behoort te wees. Ek deel die eerste versoeking wat hy noem. 



Bunyan skryf : “Van al die versoekings wat ek ooit in my lewe teëgekom het, is om die bestaan van God en die waarheid van die evangelie te bevraagteken die ergste en die ergste om te verduur. As hierdie versoeking kom vat dit die gordel van my af weg en verwyder dit die fondament onder my uit.” (Wat ‘n troos om te weet dat die sterkste Christene en geestelike reuse ook soms deur twyfel aangeval word!) Ook Luther die bekende reformator het geweldige geloofsworstelinge beleef – hy noem dit aanvegtinge.

Daar is natuurlik soorte twyfel. 

Twyfel oor die waarheid van die Bybel.  Twyfel oor die bestaan van God of oor Jesus se kruis en opstanding. Twyfel oor jou eie geloof – is dit eg? Is dit nie maar net iets wat ek van my ouers outomaties aangeleer het nie? Twyfel of ek sal kan volhard tot die einde toe? Hierdie verskillende soorte twyfel vereis verskillende benaderings, en tog is daar uiteindelik EEN OPLOSSING!*

Wat is die oplossing? 

Bring jou twyfel in gebrokenheid na Jesus! Hy verwerp geen gebroke sondaar nie, ook nie twyfelaars nie!

Dis hier waar die verhaal in Markus 9:14-29 ons baie help. Dis ‘n pa wat sy seun wat die gees van stuiptrekkings gehad het na Jesus gebring het. Hy sê vir Jesus : “As U iets kan doen, ontferm U tog oor ons en help ons.” Jesus sê toe vir hom : “As U kan? Alle dinge is moontlik vir iemand wat glo.” “Onmiddelik roep die vader uit : ‘Ek glo! Kom my ongeloof te hulp!” (vers 24) 

Kyk mooi wat gebeur hier. Hierdie pa is eerlik oor sy twyfel. Hy glo wel, maar dit voel vir homself soos ongeloof. Hy is nie baie seker van sy geloof nie. Tog het hy die essensie van geloof gehad, al het hy dit klaarblyklik self nie besef nie - hy bring sy probleem (sy geteisterde seun) na Jesus toe! 

Om na Jesus uit te reik en uit te roep is tog die kern van geloof! 

Jesus eer sy geloof, al is dit ‘n brose en gebrekkige geloof. Hy maak die seun gesond. Hier is ‘n belangrike les – die vraag is nie hoe groot of sterk my geloof is nie.  Die belangrikste is om te weet hoe sterk, Jesus is! Jesus self is die oplossing vir al ons sonde en swakheid ook die sonde van ons twyfel. Ja, twyfel is verkeerd, maar Jesus wys nie twyfelaars weg nie. Hy skryf jou nie af as jy begin twyfel nie.


Ons het dit mos nou telkens gesien. Dink maar ook aan Thomas na die opstanding. Hy werk saggies en geduldig met Thomas. Mag ek en jy soos Thomas ook weer opnuut voor Hom neerval in aanbidding en uitroep : “My Here en my God!” (Johannes 20:28)





Net 'n PRAKTIESE WENK. Die beste teenvoeter teen twyfel is nie om te konsentreer op die twyfel nie, maar jou geloofsplantjie water te gee uit die Woord. Spandeer tyd in die Woord van God! Lees en bedink byvoorbeeld die wonderlike  Johannes evangelie met sy rykdom en fyn struktuur en nuanses. Jy sal besef dit is onmoontlik dat dit sommer net deur ‘n mens uitgedink kon wees.  Jy sal jou ook verwonder oor Jesus self en die geloof sal in jou hart begin groei! Die belangrikste -Begin net gehoorsaam raak aan Jesus selfs al is daar nog twyfelvrae wat aan jou siel knaag...

Jesus ontmoet jou in sy Woord deur die bonatuurlike werk van die Heilige Gees!

*As jou twyfel veral van intellektuele aard is kliek op TWYFELVRAE

Vrydag 22 Julie 2016

AS MY GELOOF NIE SO SUKSESVOL IS NIE...

- en die golwe groot raak en ek wil sink...



Van voor tot agter is die Bybel baie duidelik : REDDING KOM DEUR GELOOF ALLEEN! Ons lees al in Genesis 15:6 dat Abram geglo het – “En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.” God beskou Abram as ‘n regverdige omdat hy geglo het! Die hele Nuwe Testament leer ons , redding kom deur geloof in die Seun van God. “En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.” (1 Johannes 5:11-13) Dis so onontbeerlik belangrik om te glo en die Bybelse begrip geloof te verstaan... 


PETRUS OP DIE WATER

Die verhaal van Petrus op die water in MATTEUS 14::22-36 gee ons kosbare insigte oor geloof...


  • Ware geloof gaan oor tot aksie. Ware geloof is nie ‘n mooi teorie nie, dis kennis ja, maar dis ook vertroue en dit gaan oor tot aksie. Dit maak ‘n keuse. Petrus ken vir Jesus (wie Hy is), Hy stel sy vertroue in Jesus en dan neem hy ‘n besluit, hy klim uit die skuit en begin na Jesus loop op die water... (natuurlik eers nadat Jesus hom die groen lig gegee het) Ons sien dieselfde beginsel by Abram. God maak beloftes aan hom. Hy glo die beloftes en dit bring hom tot aksie, hy trek... Het jy al Jesus vertrou? Jou ewige toekoms in sy hande geplaas? Ja, jy het al gehoor dat sy offer aan die kruis vir ons sondes volkome en genoeg was, maar het JY Hom al vertrou dat dit ook vir jou genoeg is, het jy Hom al begin volg as Here? ‘n Duidelike keuse gemaak?

  • Ware geloof is dikwels gemeng met angs en twyfel. Geloof is gewoonlik nie ‘n super suksesverhaal nie. Petrus kyk na die golwe en raak bang en benoud. En begin sink. Dink maar terug : Abram se geloof het ook by tye gewankel en dan het hy allerhande menslike planne gemaak... en tog het hy ‘n gelowige gebly. Daar is dikwels ‘n stryd tussen geloof en twyfel in die kind van God se hart. Moenie moed opgee as jy ‘n tyd van twyfel beleef en dink dat jy hoegenaamd nie ‘n kind van God kan wees as jy begin twyfel nie. Ware geloof word juis aangeval met vertwyfelinge. Ware geloof beleef konflik in ons binneste. (‘n Mens sou amper kon sê, dat iemand wie se geloof nog nooit onder druk en aanvegtinge gekom het nie, hoegenaamd nie geloof het nie.)

Wat laat jou twyfel? Wat is die golwe wat jou laat moed verloor? Daar kan baie moontlikhede wees... “My sonde is so groot, my mislukkings is so baie, ek het myself en my medegelowiges en die my Here teleurgestel ... My omstandighede is so moeilik en buite beheer... siekte, finansiële probleme, alles wat net wil skeefloop... Soms kan mens ‘n intellektuele twyfel beleef...hoe werk dit en hoe werk dat, hoe weet ek die Bybel is waar, het Jesus regtig OPGESTAAN uit die dood...?”* En dan kom daar twyfel en vrees in jou hart : “Kyk net, nee wat ek kan nie ‘n Christen wees nie, ‘n Christen kan mos nie so dink of so voel of so maak nie...Twyfel hoort mos nie by ‘n kind van God nie, so ek is seker nie God se kind nie.” Geliefde, die Woord wil jou vandag kom bemoedig. Gelowiges kan wel tye van twyfel beleef. Dis nie die einde van my geloofspad nie. Kyk na Jesus, kyk hoe gryp Hy Petrus vas, kyk hoe help HY hom weer in die skuit...

  • Ware geloof word nooit teleurgestel nie, al vertoon dit hoe swak. Die groot troos in hierdie gedeelte is dat Jesus nie die weifelende en sinkende Petrus aan sy lot oorgelaat het nie. Hy gryp die sopnat Petrus en help hom weer in die skuit. Ja, Jesus berispe vir Petrus oor sy klein geloof, maar Hy los hom nie laat hy vergaan nie. Jesus wil vir Petrus verder help en leer wat geloof is, maar Hy verwerp hom nie oor sy beperkte geloof nie. Gaan kyk maar weer na Abram se geskiedenis, daar is baie wel en weë, baie hartseer en beproewings, maar uiteindelik het al God se beloftes waar geword! 

Dis die heerlike boodskap : 

Dis nie die krag en die volmaaktheid van ons geloof nie, maar die krag en volmaaktheid van Jesus wat ons red!



  • Ware geloof fokus altyd op die persoon van Jesus. Die klimaks van die verhaal is nie Petrus nie, maar Jesus se reddende krag en Goddelike majesteit. Die held van die gebeure is ook nie Petrus nie, maar Jesus. As Jesus eintlik die storm stilmaak dan bring dit sy dissipels tot ‘n belydenis en erkenning : “"U is waarlik die Seun van God." (31) Kyk nou op hierdie oomblik weg van die golwe en bedink wie Jesus is. God het Hom as gewone mens na die wêreld gestuur, gebore uit ‘n jong maagd. God het Hom bekragtig met die Heilige Gees, Hy het wonders gedoen... Hy het gepreek... maar die belangrikste Hy is na die kruis gestuur, waar Hy ons volle skuld en straf gedra het. Die heerlike verlossing bewerk het... Dit word bevestig as Hy op die derde dag opstaan uit die dode en lewend aan sy dissipels verskyn. Brood en vis voor hulle oë eet... Hy vaar op na die hemel, gee vir ons as dissipels werk om te doen en beloof om weer terug te kom. Moenie dat die onstuimige see vol woelinge en geweld in jou lewe jou ontstel nie, maar stel jou vertroue in hierdie Jesus, kom lewe, kom dood... Hy alleen is ons Redder.

Kyk na Jesus en nie na die golwe nie!

* As jy met twyfelvrae worstel oor die Bybel waar is, kliek op HOE WEET EK?





Die Groot Omatako! Moet hom nie onderskat nie, hy het my amper gesink...


Daar's verwoede klippe, steiltes en doringbosse...


maar ek het darem ook bo uitgekom!(en dit weer af gemaak)