BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Hiernamaals. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Hiernamaals. Wys alle plasings

Saterdag 31 Julie 2021

DIE LEWE IS KOSBAAR

- maar nie absoluut nie!

Ons is die afgelope tyd deur omstandighede gedwing om weer na te dink oor lewe en dood… ook die lewe hierna ander kant die grense van ons aardse bestaan. 


Die lewe op aarde is kosbaar gawe van God voorreg om as mens op aarde te kan leef en ons Godgegewe opdragte en take uit te voer met lewenslus en dankbaarheid. Daarom raak ons opgewonde oor die geboorte van ‘n baba en hartseer by die afsterwe van ‘n geliefde. Die kosbaarheid en waarde van die lewe sien ons ook in die Tien Gebooie – jy mag nie doodslaan nie. Menslike lewe is baie belangrik vir God en moet beskerm word. Die mens is immers geskape byna God se beeld en is God se verteenwoordiger op aarde. Ons taak om die aarde te bewoon en bewerk is ‘n Goddelike opdrag. 

Maar die aardse lewe is nie die absolute nie, dis nie die hoogste waarde wat daar is nie, dis nie die “ultimate” nie, dis nie die heel belangrikste en die hoogtepunt nie. Anders gestel, daar is belangriker dinge as om net ten alle koste aan die lewe te probeer vasklou.

Hierdie perspektief kry ons in Paulus se gesprek met die ouderlinge van die gemeente van Efese. Paulus is op reis per skip na Jerusalem. Hy weet daar wag vir hom gevangeskap en vervolging. Die Heilige Gees het dit bevestig dat hy gaan ly. Hy neem nou afskeid van die ouderlinge van Efese en dan lees ons hierdie merkwaardige woorde : 

“Maar ek heg geen waarde aan my eie lewe nie, solank ek my lewenstaak en die bedieningsopdrag wat ek van die Here Jesus ontvang het, kan voltooi : om kragtig te getuig van die evangelie van die genade van God.” (Hand 20:24 2020 Vert) 

Verder aan op sy roete na Jerusalem het mense hom ook gesmeek om nie soontoe te gaan nie. En wat is Paulus se reaksie? Weereens verstommend!

 “Wat probeer julle bereik deur te huil en my hart te breek? Ek is bereid om nie net gevange geneem te word nie, maar om ook in Jerusalem te sterf ter wille van die Naam van die Here Jesus.” (Hand 21:13 2020 Vert)

Paulus se siening oor sy Godgegewe doel wat belangriker is as sy aardse lewe is nie iets vreemds nie, dis presies wat Jesus geleer het. Paulus radikale siening ("Is die man dalk mal", sal sommige vra.) is die direkte gevolg van sy geloof in Jesus. 
Jesus leer in Johannes 12 :25 “Wie sy lewe liefhet , verloor dit; maar wie sy lewe in hierdie wêreld gering ag, sal dit vir die ewige lewe behou.” Maak nie saak wat mense sê nie, maar Jesus se boodskap is baie duidelik - Daar is ‘n prioriteit van die ewige lewe. Dis die belangrikste. Dis wat tel! Dis wat jy moet behou.

Die kultusse wat leer - "The best life is now!" - lieg!

Jesus se lewe en sterwe, die evangelie feite het ook ‘n radikale nuwe perspektief op aardse lewe gebring. Jesus se oorwinning oor sonde, Satan, dood en hel maak dat ons anders kyk na lewe en dood as ongelowiges, maar ook as die gelowige mense van die Ou Verbond. Jesus se opstanding het vir ons HOOP gebring en ‘n nuwe toekoms na die graf geopen. 

Kom ek probeer dit so verduidelik : In die Ou Testament  word die aardse lewe as die lewe in God se teenwoordigheid geskets, die doderyk is nie ‘n lekker plek nie. Dis nie ‘n plek waar God geloof kan word nie.  Kyk byvoorbeeld na Psalm 6. “Iemand wat dood is, kan tog nie u Naam bely nie. Kan iemand in die doderyk U prys?” (Psalm 6:6) 

Daar was geen duidelike en positiewe verwagting in die Ou Testament van ‘n heerlike bestaan na die dood nie. Kom ek illustreer dit prakties. Koning Hiskia was ‘n vroom koning, ‘n man van God. Maar ons lees in Jesaja 38 dat hy baie siek geword het en dat die profeet Jesaja vir hom gaan sê het dat hy sou sterf. Wat was sy reaksie? “Hiskia het bitterlik gehuil.” (2) Hy het bitterlik gehuil en gebid dat hy gespaar sou word. Die Here het toe 15 jaar by sy lewe gevoeg. As ons na die Nuwe Testament kyk totaal ander prentjie. 

DOOD IS NOU IETS VOORDELIG!


Kyk byvoorbeeld na die kontras tussen Hiskia en Paulus – toe Paulus met die werklikheid van die dood gekonfronteer is tydens sy gevangeskap skryf hy vir die gemeente van Filippi uit die tronk.  En dan maak hy ‘n baie radikale uitspraak – “om te sterwe, is vir my wins.” (21) En dan gaan hy voort – “As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie. Ek is in ‘n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe."  (22-24) 

Hoor jy? Hier kry ons ‘n totaal ander perspektief op lewe dood. ‘n Heeltemal verskillende benadering. Die dood is nou nie meer ‘n verskrikking nie, maar ‘n WINS – dood is nou voordelig, soveel so dat Paulus selfs daarna uitsien! Wat die verskil maak is die evangelie – Jesus se kruis en opstanding! Paulus het die volle implikasies van die evangelie besef, koning Hiskia nie.

Hoe sien jy die lewe? 

Ja, hierdie lewe is kosbaar en ons moet voluit leef (ons sit nie in ‘n hoekie en wag om dood te gaan nie) Maar as kind van God weet ek dat hierdie lewe nie om myself draai nie! 

Hierdie lewe is die kans wat God ons gee om ons roeping uit te leef.

As jy ‘n kind van God is , is dit ook jou roeping om te getuig van die genade evangelie. Maar, ek wil vir jou vra : het jy ‘n hoopvolle en vreugdevolle perspektief op die ewigheid? Besef jy die beste is nie NOU nie, die beste kom nog? Hierdie wêreld is nie ons finale bestemming nie. 


"Die wêreld is ons woning nie." Soos die digter Totius geskryf het. Besef jy ons hoef nie die dood te vrees nie en ons hoef nie krampagtig en desperaat aan ‘n aardse bestaan vas te klou nie? 





Die eintlike vraag is – Het die evangelie van Jesus al vir jou ‘n werklikheid geword, jou aan die hart gegryp en jou lewensuitkyk verander? Het jy al kom drink by Hom die Fontein van lewende water?

Hierdie boodskap is ook op YouTube beskikbaar. Kliek op KOSBAAR

Donderdag 21 April 2016

HIERMAALS én HIERNAMAALS

Ja, daar is inderdaad ook ‘n hiernamaals, want God is almagtig en Sy Woord is waar!

Mense spot deesdae baie graag met die hiernamaals, dis amper asof sommige ‘n lewe anderkant die graf minag. “Ag, glo jy regtig in ‘n pie in the sky when you die?”, koggel hulle. By ander mense hoor mens amper ‘n fatalistiese houding :"Jong, ons moet maar net nou vir mekaar goed wees, laat ons maar nou ‘n dop saam drink, daar is nie ‘n eendag nie, daar is nie ‘n ewigheid nie! Kyk maar wat jy uit die lewe kan kry en vergeet van ‘n lewe na die dood.” En asof hulle nie genoeg doppe gedrink het nie, word gestorwe vriende en voormalige drinkebroers se lewe soms herdenk met ‘n harde kuier in ‘n kroeg... Dis die tipe van houding waarna Paulus verwys : “Laat ons eet en drink, want môre sterf ons!” 



Natuurlik is dit inderdaad ‘n Bybelse boodskap dat hierdie lewe belangrik is, dat ons nou ten volle moet leef, dat ons nou moet liefde bewys, nou iets moet doen aan armes en hongeriges... Goeie werke is immers iets wat nou op hierdie aarde gedoen moet word! Maar ons moet nooit vergeet dat die heerlike opstanding uit die dood nog altyd deel was van die kern van die Christelike boodskap van hoop nie. As jy die opstanding wegvat, vat jy die hart van die evangelie weg en bly daar niks evangelie oor nie! Hieroor is die apostel baie duidelik : “As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.” (1 Kor. 15:19) Die Bybelse boodskap (in teenstelling met wat Joel Osteen leer) maak dit duidelik, die BESTE is nie nou nie (al ontvang ons nou reeds baie seën) dit kom nog!

‘n Spottery met die hiernamaals en met die opstanding is eintlik ‘n aanval op die almag van God en die evangelie van Jesus Christus. 

UITGEBOUL?

Sulke aanvalle is ook niks nuuts nie. Dis presies wat die Sadduseërs doen in Markus 12:18-27. Die Sadduseërs was destyds een van die twee hoof Joodse groeperinge (die ander groep was die Fariseërs). Hulle het net die eerste vyf boeke van Moses as bron van gesag erken en volgens hulle het daar niks gestaan van ‘n opstanding nie en het hulle nie aan ‘n opstanding en ook nie aan engele geglo nie. (Hand 23:6-8) Die Sadduseërs kom nou met ‘n strikvraag na Jesus toe en dink hulle gaan hom uitboul en in die verleentheid stel. Die agtergrond van hulle vraag is die Mosaïese bepaling oor die leviraatshuwelik. (swaershuwelik) Dit was ‘n wet wat voorsiening gemaak het dat ‘n man ‘n verantwoordelikheid het as sy broer kinderloos sou sterwe om met die gestorwe broer se vrou te trou en so ‘n nageslag vir die broer te verseker. (Deut 25:5) Nou gebruik die vraagstellers hierdie wet in ‘n hipotetiese verhaal van ‘n vrou wie se man kinderloos gesterf het, die proses het homself herhaal en so was sy uiteindelik met sewe broers getroud. Nou in die tyd van die opstanding, in die hiernamaals, wie se vrou gaan sy nou wees? Dis die dilemma wat hulle voorhou. So probeer die Sadduseërs die waarheid van die opstanding belaglik maak. Gaan sy dan nou dalk sewe mans gelyk moet hê is die implikasie van hulle vraag? Mense kan vandag nog allerhande hipotetiese probleme uitdink om die opstanding en die lewe hierna te probeer belaglik en onmoontlik voorstel. Wat van iemand wat as baba gesterf het, sal hy in die opstanding ook ‘n baba wees en vir altyd ‘n baba bly? Wat as ‘n haai jou opgeëet het, hoe gaan jou liggaam weer bymekaargevoeg word?

Jesus reageer baie skerp en duidelik. “Julle dwaal! En die rede hoekom julle dwaal is tweeledig : Julle ken nie die Bybel nie en julle ken ook nie die krag van God nie!”

Dan lyk dit of Jesus eers iets sê oor God se krag. God se krag en sy werkinge is nie aan ons aardse begrip gebonde nie. Ons moet dit nie probeer beperk met ons aardse verstaan nie. Die huwelik is ‘n tydelike aardse instelling en gaan nie ewig voortbestaan of ‘n funksie hê nie. (Terloops, dis dalk ‘n groot troos vir die wat baie swaarkry in die huwelikJ of aan die anderkant, dis ook ‘n troos vir diegene wat om een of ander rede nooit ‘n huweliksmaat kon vind nie, hulle gaan nie vir ewig iets misloop nie!) In die opstanding gaan ons soos engele wees wat nie trou nie, maar dit sal niks van ons volheid en vreugde wegneem nie. Die doel en funksie van die aardse huwelik (hoe kosbaar nou ook al) gaan uitgedien wees! Omdat God se almag onbeperk is, gaan die opstandingslewe ook groter en heerliker wees as wat ons onsself ooit kan indink.*

SKOON GEBOUL MET GOD SE HEERLIKE  VERBONDSGETROUHEID!!

En dan val Jesus die Sadduseërs voluit aan uit die Skrif. Opvallend, Hy kies juis ‘n gedeelte uit die Pentateug wat hulle beweer om te glo. En bewys hulle daaruit verkeerd. Jesus haal aan uit Eksodus 3:6 waar God Homself aan Moses bekend maak as “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abram,die God van Isak, die God van Jakob.” God sê daardeur omdat Hy die God van hulle voorvaders is, Hy nog steeds vir Moses en die Israeliete sal lei en beskerm soos Hy hulle gelei en beskerm het. Dit gaan dus oor God se verbondsgetrouheid. Jesus impliseer dat as Gód getrou is, die dood nie die laaste sê kan hê nie. God se verbondsgetrouheid is sterker as selfs die dood en daarom is daar beslis iets soos ‘n opstanding. God IS hulle God, nog steeds en dit impliseer dat hulle leef in sy teenwoordigheid. Nou is dit Jesus wat die Sadduseërs skoonboul, hulle middelpen spat en hulle kan Hom nie antwoord nie. 

Ons het natuurlik nog minder verskoning om die opstanding te betwyfel as die Sadduseërs. (Inderdaad praat die Ou Testament nie so duidelik daaroor soos die Nuwe Testament nie.) Maar intussen het Jesus self uit die dood opgestaan, liggaamlik! Dit het alles onteenseglik en onbetwisbaar duidelik gemaak! Die dood is finaal oorwin en daar sal ‘n opstanding wees. (Kliek op SPOKE EET NIE VIS NIE)

Geliefdes, daar is ‘n opstanding om na uit te sien, daar is ‘n heerlike hiernamaals om te verwag wat sal aanbreek vir God se kinders. 

Ons glo dit omdat die Bybel so sê, ons glo dit omdat God se skeppings en herskeppingskrag onbeperk is. Hier is ook ‘n dieper stuk raad: Hoe word ons bewaar van dwaling? Leer ken die Skrifte (die Bybel), Leer ken God se krag! As jy na Jesus kom en voor Hom as jou Verlosser buig sal jy sy Goddelike krag eerstehands, proefondervindelik ervaar! God se kinders word immers verseker dat dieselfde krag waardeur Jesus uit die dood opgewek is, in ons werksaam is! (Ef 1:18-20)

Vir 'n merkwaardige getuienis oor 'n nadoodse ervaring lees, die verhaal van ds. de Kock. Kliek op GRENSE VAN DIE EWIGHEID

*Die idee van Moslem jihadi’s wat as martelare sterf dat hulle in die hiernamaals met die geselskap van maagde beloon sal word, wys net weereens dat Islam ‘n mensuitgedinkte mengelgodsdiens is wat niks begryp van God se almagtige heerlikheid nie.