BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Vrugdra. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Vrugdra. Wys alle plasings

Sondag 10 Maart 2019

GEWAARBORGDE GEBED!

Kom luister na Jesus se duidelike lering oor gebedsverhoring. 

Gebedsverhoring. Of dan nou die gebrek aan gebedsverhoring. Daar is seker min praktiese sake in die Christen se lewe wat soveel vrae laat ontstaan as gebedsverhoring. Ons bid dan vir reën, genesing, gesondheid, beter wiskunde punte... Daar is min onderwerpe wat tot soveel menings en opvattings en wanopvattings aanleiding gee. Hier in Johannes, praat Jesus self oor gebedsverhoring. Ons kan dus nie anders as om ons ore te spits nie. Luister net wat sê Jesus self oor gebedsverhoring : 

"En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen." (Joh 14:13,14) 

"As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry." (Joh 15:7) 

“Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.” (15:16) 

Bedoel Jesus dit wat Hy hier sê? Werk dit so in die praktyk? Is hierdie beloftes waar vir ons nou en hier? Weet ons nie almal van baie mislukkings in hierdie verband nie? 

Wel, Jesus bedoel seker definitief wat Hy sê. As ons nie hierdie uitsprake glo nie, wat kan ons dan glo? Kan ons dan hoegenaamd ons ewigheidstoekoms in Sy hande laat? Jesus bedoel dus verseker wat Hy sê. Die vraag is net wat presies sê Hy? Ek dink dis so moeilik nie, ons moet net erns maak met die konteks waarin Hy dit sê. 

GROTER WERKE AS JESUS 

Kom ons kyk eers na Sy voorafgaande uitspraak in vers 12. “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo--die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.” Dis natuurlik opsigself omstrede en word baie uit verband geruk, maar ek wil nie te veel aandag hieraan bestee nie. 

Net die volgende : Jesus het so pas ‘n oproep tot geloof gedoen. “Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self.” (11) Hierdie appèl word nou voortgesit in vers 12-14 deur te fokus op die vrug wat elkeen wat in Hom glo sal voortbring en geniet. Dan koppel Jesus ‘n ongelooflike, ‘n verbysterende belofte (wat mens se asem wil wegslaan) aan geloof. Die wat in Hom glo sal nog groter werke doen as Hy. Nie omdat so ‘n persoon groter as Jesus sal wees nie, maar omdat Jesus na Sy Vader gaan. 

Wat presies beteken groter werke? Dit kan nie beteken dat die kerk (in aantal) meer werke as Jesus sou doen nie. As dit die bedoeling was sou Jesus dit gesê het. Daar is Griekse woorde om dit te sê. Groter werke kan tog ook nie beteken meer spektakulêr of meer bonatuurlik nie. Watter Christen deur die eeue het al iets meer opspraakwekkend en bonatuurlik gedoen as die opwekking van Lasarus (vier dae dood), die vermeerdering van brood of het op die water geloop? 

Die sleutel* tot verstaan is die frase “omdat ek na my Vader gaan” Jesus se dissipels gaan groter werk as Hy doen omdat Hy na Sy Vader gaan - dit beteken nie dat hulle nou groter ruimte vir aktiwiteit sal hê omdat Hy nou weg is en as‘t ware die turf aan hulle oorgegee het nie. Nee, dit beteken die basis vir hulle groter werke is Jesus se weggaan na die Vader. Hulle werke sal juis groter wees as gevolg van die nuwe bedeling wat Sy weggaan na die Vader tot gevolg sal hê. Die dade en woorde van die dissipels na Jesus se weggaan behoort tot die nuwe bedeling. 

Voor Jesus se verheerliking (kruis, opstanding en hemelvaart) was alles nog versluier en vaag. Die dissipels self het ten spyte van die wonderwerke nie alles duidelik verstaan nie. Hulle sou byv. nooit kon droom dat alle nasies moet deel kry aan die kerk en koninkryk nie! (Dink aan die keer toe hulle vuur uit die hemel wou afbid om die Samaritane te verteer; eers na Jesus se verheerliking en die uitstorting van die Heilige Gees verstaan hulle dat Samaritane hulle kan bekeer en deel word van die kerk as nuwe Messiaanse gemeenskap)** Selfs direk voor Jesus se hemelvaart, was hulle visie beperk en het hulle nog ‘n aardse koninkryk verwag met Jerusalem as sentrum. (Handelinge 1:6) 

Eers as gevolg van Jesus verheerliking en na Sy verheerliking sal Sy volgelinge Hom in alles wat Hy is en doen werklik ken en dit aan ander bekend maak. Hulle werke is groter want dis werke wat voortvloei vanuit die afhandeling van Jesus se werk aan die kruis en die opstanding. Dan eers sal hulle die volle heerlikheid van Jesus besef en dan sal hulle Hom so kan verkondig. (Deur hulle lewenswyse, wonders en veral prediking!) Die gevolg van hierdie groter werke na Jesus se verheerliking sal wees dat baie meer mense in die Messiaanse gemeenskap, die kerk ingebring sal word. Jesus self het maar net ‘n bediening van drie jaar beperk tot Palestina gehad met ‘n klein klompie ware volgelinge. Dit gaan natuurlik nie net oor getalle as sodanig nie, dit gaan oor die krag en die helderheid van die evangelie boodskap en sy konsekwensies wat sal opbloei in die nuwe fase wat sou volg na Jesus se weggaan. 

Groter werke gaan dus oor die totale vrug van die dissipels binne die konteks van die nuwe bedeling wat sou aanbreek met Jesus se verheerliking. (Sy weggaan na die Vader en die koms van die Gees) 

Weereens, onthou die tyd voor Jesus se kruis en opstanding was nog ‘n tydelike fase, die prys was nog nie betaal nie, die Gees het nog nie gekom nie, die kerk het nog nie begin vorm aanneem nie, die evangelie is maar nog net so stuk-stuk verstaan. Dit alles sou verander met sy weggaan! Dit het. Ons leef voorwaar nou in ‘n bedeling van groter werke! 

GEBED EN VRUG 

Nou kom ons by die eintlike saak van die gebed Die rede waarom groter dinge na die weggaan van Jesus gedoen sal word nou gegee in 13 en 14. Die dissipels se groter werke, naamlik vrugdra is die produk van hulle gebede. Gebede in Jesus se Naam. Dit bewys verder dat die kontras nie lê in die finale sin tussen Jesus se werke en sy dissipels se werke nie, maar tussen Jesus se werke wat Hy self op aarde gedoen het en dit wat Hy nou deur Sy dissipels gaan doen na Sy dood en verheerliking. Jesus gaan voort met Sy werk met groter werke deur Sy dissipels - die hele boek Handelinge is ‘n bevestiging daarvan.*** 

Die uitsprake van Jesus oor gebed moet verstaan word in die konteks van hierdie groter werke van die huidige bedeling - of anders gesê die vrugdra van ons as dissipels. Dis ook baie duidelik uit die ander twee gedeeltes. Vrugdra en gebed word telkens aan mekaar gekoppel. (15:8,16) 

Vrugdra vloei voort uit gebed in Jesus se Naam. 

IN DIE NAAM VAN JESUS TOT VERHEERLIKING VAN DIE VADER 

Twee ander temas wat konstant genoem word, en ons verder insig gee in die aard van die gebed wat Jesus bedoel,  is : Gebed in die Naam van Jesus en tot die verheerliking van die Vader. 

Gebed in Jesus se Naam behels nie bloot dat ons ons gebede in Sy Naam afsluit nie. Jesus se Naam is nie ‘n magiese woord wat dinge laat gebeur nie. Gebede in SY naam is gebede wat in ooreenstemming is met alles waarvoor Hy staan. In lyn met sy bedoeling en karakter. Waarvoor staan Jesus? Vir die wil van SY Vader. Daarom is een van die vereistes vir ware gebed - “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil.” (1 Joh 5:14) Pas dit waarvoor ek nou bid by Jesus se wese en karakter? 

Bring hierdie dinge eer aan God of wil ek God misbruik vir my mensgerigte skemas en ambisies? 

Verder gaan dit daaroor dat ons in ons gebede erken dat Jesus die enigste weg na die Vader is. Hy self is ons toegang tot die Vader. Sy teenwoordigheid aan die regterhand van God maak die troon van God ’n genadetroon. (Hebr 4:14-16)

Die doel van die gebed, die gerigtheid van die gebed is die verheerliking van die Vader. Gedurende Sy aardse lewe was dit die konstante doel van Jesus om Sy Vader te verheerlik, eer aan hom te bring.**** Met die oog hierop gaan Hy na die kruis. Jesus weier selfs om vir Homself brood uit klippe te maak, want dit sou beteken dat Hy nie meer gerig sou wees op die wil van die Vader nie. God se wil vir Sy Seun was volmaakte gehoorsaamheid en lyding! Na Jesus se verheerliking gaan Jesus se doel nie verander nie. Deur gebed in Sy Naam gaan Hy nou Sy dissipels in staat stel om groter werke te doen, om vrug te dra sodat Sy Vader daardeur verheerlik kan word. 

Ons sit Jesus se werk voort, of liewer Jesus sit Sy werk op nog ‘n heerliker skaal voort deur ons. Deur gebed in Sy naam word ons in staat gestel om vrug te dra en so Sy doel naamlik die verheerliking van die Vader te verwesentlik. Deur gebed word ons ingeskakel by Jesus se werk om die Vader te verheerlik! Onbegryplik diep en heerlik! 

Hier kom dus ‘n paar belangrike stukke lering oor gebed na vore: 

‘n Ware dissipel bid vir vrug. Vrug is dit wat eer bring aan God se naam. Wat bring eer aan God se Naam? Deur Jesus te leef en te verkondig... Ook ten spyte van en binne-in my moeilike omstandighede! Hierdie soort van gebed se sukses word deur Jesus gewaarborg. Gebed in Jesus se Naam is die sleutel tot vrug. Vrugdra is nie moontlik sonder voortdurende gebedsafhanklikheid nie. Te min vrug in jou lewe wys daar is te min gebed, gebed in ooreenstemming met dit waarvoor Jesus staan. Te min gebed dui daarop dat daar te min afhanklikheid van Jesus is in my lewe. 

Hier word ‘n hele paar valse idees oor gebed ontbloot: 

Gebed is nie ‘n koue tegniek (wat volgens sekere vaardighede uitgevoer word) nie, maar funksioneer net in ‘n verhouding met God deur Jesus. Ons bid immers tot ons VADER! 

Gebed gaan nie oor persoonlike belange nie, maar het as einddoel die verheerliking van die Vader in die oog. 

Gebed is geen resep wat ons persoonlike gerief waarborg of van vervolging vrywaar nie. (Inteendeel, diegene wat baie bid gaan baie vrugdra en juis swaarkry en vervolg word soos Jesus. Johannes 15:20,21) 

As ons die lering van hierdie gedeelte in ag neem kan mens verstaan waarom baie skyn dissipels teleurgestel word en verklaar dat gebed nie werk nie: 

‘n Skyn dissipel bid nie vir vrug nie maar vir sy eie voordeel en dikwels sondige eie belange. 

‘n Skyn dissipel kan nie werklik in Jesus se Naam bid nie, want Sy motiewe en doel staan teenoor dit waarvoor Jesus staan.

‘n Skyn dissipel bewaar nie Jesus se gebooie nie, daarom sal Sy gebede misluk. Sulke mense verklaar maklik dat Christenskap nie werk nie. (Die ware probleem is egter opstand teen God se gebooie) 

HEERLIKE POSITIEWE MOONTLIKHEID 

Ons is almal in staat om vrug te dra, almal wat waarlik in Jesus glo. Laat ons daarvoor bid. 

Gewaarborgde gebed volgens Jesus se belofte is nie towerstaffie gebed om my op ‘n selfsugtige mensgesentreerde koers aan te help nie, maar is gebed met die hoofdoel om vrug te dra en dit is om ‘n Godverheerlikende lewe te lei! 

Ons gaan gebedsverhoring begin beleef wanneer ons vergeet van onsself en opreg begin bid : “Here, laat my vrugdra!” 

* Daar is 'n soortgelyke uitspraak in Johannes 5:20,21. "Want die Vader het die Seun lief en toon Hom alles wat Hy self doen. En groter werke as hierdie sal Hy Hom toon, sodat julle verwonderd kan wees. Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil."  Die konteks van 5:20 wys dat die groter werke wat die Vader die Seun sal wys en wat die Seun sal toon aan Sy volgelinge, het te make met Sy opstanding. Dit gaan oor die lewendgewende mag van Jesus. Die lewegewende mag van Jesus is afhanklik van Sy dood, opstanding en verheerliking. Hierdie groter ding sluit ook die mag in van Jesus as die Een aan wie die oordeel toevertrou word. Die dade en woorde van die dissipels na Jesus se weggaan behoort tot die nuwe bedeling van lewendgewende evangelieverkondiging. 

** Lukas 9:51ev 

*** “Die eerste verhaal, Theófilus, het ek opgestel oor alles wat Jesus begin doen en leer het tot op die dag dat Hy opgeneem is, nadat Hy aan die apostels wat Hy uitverkies het, deur die Heilige Gees bevele gegee het;” (Hand 1:1,2) Die implikasie is dat die evangelie gaan oor die werke wat Jesus BEGIN doen het. Die boek Handelinge gaan oor die werke waarmee Jesus nou AANGAAN deur Sy Gees met die apostels as instrumente.

Martin Rautanen, die pionier sendeling in Owamboland se gebede het nie tot gerief en gemak gelei nie (ses van sy nege kinders is vroeg dood), maar wel tot blywende vrug!

Woensdag 01 Junie 2016

PROFIEL VAN ‘N DROSTER

[Ds. Erik van Zyl het onlangs ‘n boodskap in ons gemeente gebring oor Bittereinders en Drosters (ook genoem hensoppers of joiners). Dis natuurlik terme wat uit die hartseer geskiedenis van die Anglo Boere-oorlog uit kom. Die bittereinders is die ouens wat aangehou het met veg tot die einde toe, die drosters is die ouens wat tou opgegooi het en in sommige gevalle selfs by die vyand aangesluit het. Van toepassing gemaak op die Christelike stryd en wedloop is Bittereinders die mense wat Jesus as Verlosser aanvaar het en tot die einde volhard en vrugdra saam met Hom. (soos Paulus in 2 Tim 4:6-8) Drosters is mense wat eens op ‘n tyd die Here Jesus gevolg het, maar toe omgedraai het. (soos Demas wat die teenswoordige wêreld liefgekry het in 2 Tim 4:10) Gelukkig het ons in die Bybel ook voorbeelde van drosters wat weer betyds teruggekeer het, weer Bittereinders geword en Jesus getrou gevolg het. (soos Johannes Markus)]



Ek wil bietjie dieper ingaan op die vraag : 


Waarom word volgelinge van Jesus dan drosters? 

Wat veroorsaak dat mense omdraai van die geloofspad en moed opgee? Waarom sak mense uit in die Christelike wedloop?

In die gelykenis van die saaier (Lukas 8) gee Jesus self ‘n baie duidelike antwoord. Dis spesifiek die derde groep, die saad wat tussen die onkruid geval het wat vir ons duidelikheid gee oor drosters! In die eerste twee groepe gaan dit oor mense wat eintlik nooit regtig aan die gang gekom het nie, maar in die derde groep gaan dit oor plante wat goed gegroei het, maar geleidelik deur onkruid verstik is en nooit op die ou einde vrug gedra het nie.

DROS HET ‘N GELEIDELIKE AANLOOP.

“Die saad wat tussen die onkruid val, dui op dié wat die woord hoor, maar deur die sorge en die rykdom en die genietinge van die lewe word dit gaandeweg verstik, en dit skiet nie saad nie.” (Lukas 8:14)

Die kern gedagte is geleidelike stadige byna ongemerkte agteruitgang. “Gaandeweg.” Onkruid maak nie ‘n plant in een dag se tyd dood nie, die plant word net geleidelik verdring en versmoor... Geleidelike, stelselmatige agteruitgang... Dis die profiel van ‘n droster.

By ‘n droster vind mens ‘n geleidelike versmoring en afkoeling van liefde vir Jesus en sy kinders. ‘n Tanende en kwynende entoesiasme vir Jesus se Koninkryk en die werk van die Here. Die potensiële droster vind al meer verskonings om nie die byeenkomste van die heiliges by te woon nie; daar is net altyd iets belangriker... ‘n Al hoe groter geneigdheid om kompromie met sonde te maak... “Ag, dis darem nie so erg nie, ek doen dit net een keer, niemand doen skade op nie....” Verskonings, verskonings... 

Dis interessant dat Jesus die meeste klem lê op hierdie derde groep en drie konkrete dinge noem wat mense geleidelik doodwurg. Dit gaan dalk vir ons ongemaklik wees om hierdie dinge te hoor. Maar luister maar, want dalk lê Jesus sy vinger hier op ‘n seerplek in jou lewe wat dringend aandag moet kry...

BEKOMMERNISSE 

Ons spot partykeer so oor al ons sorge en bekommernisse, maar dis ‘n ernstige saak wat jou geestelike lewe kan vernietig, wat jou ‘n droster kan maak as jy dit nie reg hanteer nie. Die harde feite van die lewe is natuurlik dat almal van ons te make het met situasies wat dreig om bekommernis by ons te veroorsaak. Moeilikheid en bekommernis gaan oor ons pad kom, maar die vraag is hoe ons dit moet hanteer Jesus praat duidelik daaroor in Lukas 12:29-31. “Julle moet julle ook nie gedurig afvra wat julle gaan eet of drink nie, en julle moenie besorg wees nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges in die wêreld begaan is, maar julle het ‘n Vader wat weet dat julle dit nodig het. Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee.” Vertrou op God, God wat weet wat ons nodig het. Hy is immers ‘n Vader wat sorg. Ook Paulus het hieroor geskryf. “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” (Filippense 4:6.) Gebed, dankbaarheid en tevredenheid is die Christen se teenvoeter op bekommernisse! Petrus se raad kom op dieselfde neer. “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.” (1 Petrus 5:7.)) Moenie in bekommernisse vasval nie, moenie dat vrees oor die toekoms jou fokus van God af wegvat nie. Hanteer dit biddend en met vertroue. Ja, bekommernisse is ‘n werklikheid, ons kan dit nie miskyk of ontken nie, maar God is ‘n groter werklikheid! Maak so ‘n realistiese som... sal die God wat vir die Israeliete in die woestyn gesorg het, wat vir Elia by die spruit Krit gesorg het, wat ons so liefgehad het dat Hy sy Seun vir ons gegee het, dan nie ook in alle opsigte vir ons volgens sy wil kan sorg nie?

RYKDOM 

Dis ‘n baie sensitiewe saak, maar vir Jesus baie belangrik. Teen geen ander ding het Jesus meer gewaarsku nie. Geen ander ding hou meer mense uit die hemel as rykdom nie. Rykdom is dié groot rede waarom krygsmanne van Jesus wegdros! Dis nie so eenvoudig om die gevaar van rykdom te definieer nie, want dit gaan nie noodwendig oor die grootte van jou bankbalans of die waarde van jou bates nie. Dit gaan daaroor dat geld en besittings geleidelik vir jou die belangrikste in die lewe geword het. Besit begin jou lewe bepaal. Ek meet myself aan wat ek het of nie het nie. Niemand wil maklik erken dat rykdom of ‘n liefde vir geld vir hom ‘n probleem geword het nie. So, hoe weet ek dat geld vir my ’n gevaar begin word? Hier is vier toetse wat jou kan help as jy eerlik wil weet : 

Rykdom raak vir my ‘n strik : 

  • As ek ander mense begin benadeel om meer geld te maak. (Dis veral my vrou en kinders wat eerste verwaarloos word, al gebruik ek die verskoning van "ek werk juis so hard om vir hulle 'n toekoms te bou...")
  • As ek my afsprake met God en sy gemeente mis ter wille van meer besigheid of invloed. ("Ons kon nie by die kerk wees nie, want ek het my vennote vir 'n jag gevat!")
  • As ek oneerlik begin raak om meer of vinniger geld te maak. 
  • As ek daarvan hou om my rykdom uit te stal. Ander mense moet sien watter model motor ek kan bekostig, my maats moet tog net raaksien dat ek die regte handelsmerk klere en tekkies dra! (Tieners, dis nou daai “brands”!) 

Hoor Paulus se waarskuwing in 1 Timoteus 6:6-11. “Die godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. Geldgierigheid is ‘n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal. Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid.”

GENIETINGE 

Dit gaan hier oor hedonisme, die jaag na plesier as die hoogste doelwit van my lewe. My lewensdoel is om te soek hoeveel plesier ek daaruit kan kry. Natuurlik gee God vir ons baie dinge om te geniet, maar as genot my doelwit word, raak dit gevaarlik. As genot geleidelik die plek van God begin inneem is ek besig om ‘n droster te word. “Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God.” (2 Tim 3:4) As plesier my tyd steel wat ek aan God moet gee, as plesier my sag maak vir sonde, as plesier my aptyt vir God en sy Woord demp (my stokperdjies of ontspanning maak my minder lus vir God se Woord), is die onkruid van genietinge besig om my dood te wurg!

INTERESSANT: GAAN KYK MAAR, DIE REKLAMEWESE IS JUIS GEMIK OP DIE DINGE WAARTEEN JESUS SO ERNSTIG WAARSKU -  IN DIE MEERDERHEID ADVERTENSIES WORD DAAR GESINSPEEL OP ONS VRESE EN BEKOMMERNISSE OF ONS WORD AANGESPOOR EN VERLEI TOT DIE NAJAGING VAN GELD EN PLESIER AS DIE HOOGSTE VREUGDES IN HIERDIE LEWE!


Hierdie dinge is gevaarlik en ek moet daadwerklike stappe neem om hierdie onkruide uit te roei. As hierdie dinge aanwesig is in my lewe is dit ‘n aanduiding dat ek dalk besig is om ‘n droster te word! As bekommernisse my wil oorweldig moet ek doelbewus fokus op God se Vaderlike getrouheid en liefde, as rykdom vir my te belangrik word moet ek doelbewus fokus om skatte in die hemel bymekaar te maak (belê jou geld en lewe in die koninkryk) as genietinge my van die spoor af wil bring moet ek doelbewus my vreugde soek in God en sy werk!

LEEF DOELBEWUS IN DIE TEENOORGESTELDE RIGTING!

Mag God hierdie gelykenis van Jesus gebruik om ons aan te spoor tot volharding, nie tot ‘n “bitter einde” nie, maar inderdaad tot ‘n heerlike einde, die beloning wat wag op elkeen wat volhardend vrug gedra het!


[Hierdie indrukwekkende kremetart oos van Tsintsabis in die Grootfontein distrik is 'n pragtige voorbeeld van 'n "Bittereinder", as jy daaraan dink hoeveel droogtes en bedreiginge hy al getrotseer het om so groot te word!]

Vrydag 12 Februarie 2016

HOE WEET EK?

[Vaste waarheid en norme in die onseker wêreld van wisselende gevoelens en groeiende relativisme]

Hoe weet ek dat God my liefhet? Sommige sal sê : “Ek voel so.” of “Die Here het my gehelp.” Maar wat van die kere wat jy nie so voel nie of nie ervaar dat die Here jou help nie? Is Hy dan nou nie meer lief vir jou nie? 

Hoe weet ek dat ek ‘n kind van God is? Weereens, sommige sal beweer : “Ek voel so.” Maar dis ‘n uiters wisselvallige barometer, want ons weet ons gevoelens verander gedurig en meer nog, ons emosies en buie is altyd maar baie onbetroubaar. (Almal wat positief voel hulle het ‘n wiskunde toets deurgekom, is nie altyd deur nie.) Hoe kan mens iets so belangrik soos jou ewigheidsbestemming op gevoelens grond? 

Hoe weet ek wat is reg en verkeerd? (Al hoe meer word dit in ons postmodernistiese wêreld betwyfel of daar hoegenaamd nog iets soos reg en verkeerd is, want elkeen, so word beweer, is mos sy eie norm en maatstaf.) So dikwels hoor mens : “Ek voel net dis reg.” Dis mode (en ek dink dit word goed bedoel) om ‘n WWJD bandjie om jou arm te dra. Maar die vraag is nog steeds, hoe weet jy wat Jesus sou gedoen het? Is dit maar net jou subjektiewe opinie en pas jy nie maar daardie opinie aan by jou gevoelens en voorkeure nie? Verskriklike onreg en losbandigheid word gepleeg onder die naam van Jesus...

Die allerbelangrikste vraag is geliefdes, hoe weet ons wat is regtig waar, hoe weet ons wat is regtig reg of verkeerd, hoe weet ek my sonde is vergewe, hoe weet ek dat ek in ewigheid by die Here sal wees?

Kom ons kyk wat het Jesus self as die bron van waarheid aangedui in Lukas 24:44-49.

Daarna sê Hy vir hulle: "Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is."
Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.
Verder sê Hy vir hulle: "So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan,
en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’
Julle is getuies van hierdie dinge.
En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is."

(Jesus sê hierdie dinge na sy opstanding en nadat Hy Homself lewend aan sy dissipels vertoon het.) 

Merkwaardig! Hoe versterk en bou Jesus die wankelrige dissipels se geloof? Waarheen verwys Hy hulle om die waarheid te weet? Hy verwys hulle terug na die Ou Testament. Die wet, die profete en die psalms, met ander woorde die Bybel van daardie tyd, want die Nuwe Testament was nog nie op skrif nie. Jesus doen nou nie meer opspraakwekkende sigbare wonderwerke nie hier na sy opstanding nie, maar wat doen Hy? (45) Hy doen ‘n innerlike wonderwerk, Hy open die dissipels se verstand om die Skrifte te verstaan. Jesus verduidelik die betekenis van sy koms en die dissipels se opdrag aan die hand van die Bybel. Let op – “So staan daar geskrywe...” Niemand kan meer twyfel aan die waarde, gesag en belangrikheid wat Jesus self aan die geskrewe Woord toeken nie! 

As jy respek het vir Jesus sal jy respek hê vir die Bybel!

En veelseggend, Jesus gaan dan verder en herinner hulle aan die belofte oor die koms van die Heilige Gees. Die Heilige Gees wat hulle sou ontvang as hulle in Jerusalem sou gaan wag. Hier vind in dus reeds baie duidelik die kombinasie : WOORD en GEES! Woord en Gees gaan altyd saam en is onlosmaaklik aan mekaar verbind! Ons sien dit baie duidelik in ‘n gedeelte soos 2 Petrus 1:20-21.

Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie,
want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.

Petrus het reeds in vers 19 gesê dat die boodskap van die profete soos ‘n lamp is wat in ‘n donker plek skyn. Dis duidelik hy verwys na die Skrif. Maar dis ook duidelik dat ons die Skrif nie deur eie insig kan uitlê of verklaar nie, maar net met behulp van die Heilige Gees, want die Heilige Gees was direk betrokke by die skryf van die Woord. Jesus open nog vandag steeds mense se verstand om die Skrif te verstaan! Dis seker een van die duidelikste kenmerke van die wedergeboorte. Die Bybel wat altyd vir jou dof en deurmekaar was begin skielik sin maak en lewend word! Jesus doen dit deur die Heilige Gees! Weereens , WOORD en GEES! 

Implikasies :

1.Die Woord is die enigste vaste norm- nie tradisie nie, nie ons “gut feeling” nie, nie openbare mening nie, nie politieke korrektheid nie, nie een of ander opwindende ervaring of visioen nie. En beslis ook nie een of ander uitspraak van ‘n hedendaagse geldmaakprofeet of postmodernistiese verwarringsteoloog nie! As ons praktiese vrae wil beantwoord hê en eerlik God se wil wil doen moet ons na die Woord toe gaan. Praktiese vrae oor kerk toe gaan, hoe moet ‘n huwelik en gesin lyk, hoe moet ek geld hanteer, wat moet ek maak in omstandighede waar ek benadeel en sleg behandel word, hoe word ek gered...? Dis dwaas om te sê, “dit of dat voel vir my reg of nie”, die Woord sê duidelik wat ek moet doen!

2. Ons moet vashou aan beide die belangrikheid van die Woord en die Gees. Mens hoor : “Ons het nie meer die Bybel nodig nie, ons is nou verby daardie fase, die Gees praat sommer nou direk met ons.” Dit geliefdes is ‘n baie gevaarlike mite!* Ja, die Gees praat met God se kinders, maar Hy gebruik die Woord as instrument. Daarom noem Paulus die Woord, “die swaard van die Gees.” (Ef 6:17) Aan die anderkant is daar mense wat net ‘n blote kopkennis van die Woord het, dit help ook niks nie. Ons bly gedurig afhanklik van die Gees. As die Gees nie in ons werk nie, sal ons die waarskuwings van die Woord nie regtig ter harte neem nie, sal die Woord nie regtig vir troos bring nie. As die Gees nie ons harte sag maak nie, bly ons onaangeraak deur die beloftes en vermanings van die Woord, dan by ons sonder bekering, sonder geloof, sonder liefde, sonder hoop! 

3. Die Woord moet gehoor, uitgelê en verstaan word as ons wil groei en vrug dra. Ons het gesien hoe Jesus self sy dissipels terugverwys na die Skrif. Hy het seker mos darem geweet wat hulle (en ons) nodig het! Geen vrug sonder verstaan van die Woord nie! ‘n Toe Bybel en ‘n onverstaanbare Bybel is nutteloos! Jesus beklemtoon dit self in die gelykenis van die Saaier. “Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer ‘n oes: soms honderdvoudig, soms sestigvoudig, soms dertigvoudig." (Matteus 13:23) Vir vrugdra moet ons dus erns maak met praktiese geleenthede soos huisgodsdiens, Bybelstudie, katkisasie, prediking...

Daar is geen kortpaaie na volwasse vrugbare kindskap nie! Ons het die Woord, die Gees is hier by ons, kom ons maak erns met Woord en Gees!

*Die gevaar om Woord en Gees van mekaar los te maak is sterk deur die Reformatore beklemtoon in hulle stryd beide teen die Roomse en Anabaptiste. Op klassieke manier word die noue verbintenis tussen Woord en Gees deur Calvyn verdedig in sy beroemde brief aan die Roomse biskop Sadoletus wat die mense van Genève probeer teruglok het onder die Roomse juk in. Hierin sê Calvyn onder andere dat Christus die kerk inderdaad regeer deur die Heilige Gees, maar sodat hierdie regering nie vaag en onstabiel sou wees het Hy dit verbind aan die Woord. Vir hierdie rede het die Gees by monde van Paulus verklaar dat die kerk gebou is op die fondament van die apostels en profete. (Ef 2:20) Calvyn beskuldig beide Anabaptiste en Roomse dat hulle terwyl hulle uitermate roem oor die Gees, hulle die geneigdheid het om die Woord te begrawe en so ruimte te maak vir hulle eie valshede.

Woensdag 01 April 2015

RAAD WAT NIEMAND WIL HOOR NIE

- STERWE : die koninkryksgeheim vir vrugbaarheid.


Sterwe om te kan lewe! Jesus se woorde in Johannes 12:24,25 is moontlik van sy ongewildste uitsprake vir mense in ons dag, maar dis die oplossing vir ‘n sukkelende kerk!

“Dít verseker Ek julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in.
Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou.”

“As die koringkorrel nie sterwe nie...” Geweldige woorde! Ingrypend radikaal! Jesus gebruik ’n eenvoudige beeld uit die landbou wat elkeen van sy hoorders goed sou verstaan. ’n Koringkorrel (of mieliepit) moet in ’n sekere sin sterwe sodat daar ’n oes kan kom. Hy moet sy huidige bestaan, identiteit en vorm as pit prysgee, onder die grond begrawe word en ophou voortbestaan as pit. As die pit by wyse van spreke sou weier, dan sou niks positief gebeur nie. Dit bly dan net alleen, daar’s geen oes nie en die pit mis sy bestaansdoel.

Jesus praat natuurlik in die eerste plek hier van Homself en spesifiek van sy sterwe aan die kruis. (dis kort voor die kruisiging) Jesus se sterwe aan die kruis lewer ’n ryk oes op van verloste mense. As Jesus nie gesterwe het nie, sou ons nie verlos kon word nie en daar sou geen oes van verlostes gewees het nie. Ons moet goed verstaan - Jesus het baie wonderlike dinge gedoen... preke, genesings, wonders.... maar nie een van hierdie dinge kon verlossing bewerk nie, Hy moes spesifiek sterwe en ons straf dra in ons plek. Daarom het Satan alles gedoen om Jesus van die kruis weg te hou... (hy het op 'n stadium selfs vir Petrus ingespan - Matteus 16:21-23)

Jesus moes sterwe! Sonder sy sterwe kon daar geen oes wees tot eer van die Vader nie! Jesus het om ons te red doelbewus ’n lewe van vernedering en lyding gekies wat uitgeloop het op die kruis.

EN ONS?

Hierdie selfde beginsel van sterwe om te kan lewe maak Jesus van toepassing op sy volgelinge. (vers 25) Dis op ons van toepassing op ’n aangepaste manier. Aangepas, want ons lyding verdien nie vir ons die lewe nie en bewerk nie verlossing nie. Anders gestel, niks wat ons kan doen kan vir ons sonde betaal nie. Geen offer wat ons kan bring kan die slegte dinge wat ons gedoen het uitkanselleer nie. En tog word daar van elke kind van God verwag om te sterwe aan sy eie voorkeure en belange.

Wat beteken dit? Jesus moet eerste gestel word, uit dankbaarheid vir wat Hy vir ons gedoen het. Wie Jesus nie bo alles kies nie, kan Hom nie volg nie. Jesus kry voorkeur bo alles wat vir my belangrik en dierbaar is! In hierdie opsig moet ek sterwe aan my eie lewe.

Geen sterwe, geen lewe, geen sterwe geen groei, geen sterwe geen oes! En daarom as daar geen sterwe in my lewe is nie, is my Christenskap vrugteloos,vaal en vreugdeloos. Hierdie beginsel is waar van Jesus self en sy werk geld as ’n basiese vereiste vir volgelingskap. Maar dis OOK die SLEUTEL tot vrugbare getuienis en sendingwerk.

Sonder ’n doelbewuste keuse vir lyding en sterwe kan daar geen suksesvolle uitdra van die evangelie wees nie! Sonder n keuse vir lyding kan jy nie vir die Here werk nie - ook nie by die huis, werk, in die gemeente of verre sendingveld nie. 

Dis baie duidelik : Jesus moes deur lyding God se Koninkryk kom vestig. In Getsemane het Hy homself finaal bereid verklaar vir hierdie pad. Jesus se lyding en vervolging het egter nog nie opgehou nie.  Ons lyding is ’n voortsetting van sy lyding. Dit is soos Paulus sy lyding verstaan het. “Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie. Ek verduur my deel daarvan ter wille van sy liggaam, die kerk,waarvan ek ‘n dienaar geword het volgens die opdrag wat God my gegee het om sy woord ten volle aan julle bekend te maak." (Kolossense 1:24,25) Paulus het lyding verduur ter wille van die kerk. Paulus het lyding verduur om sodoende die evangelie te verkondig en die kerk te laat groei. Dit was ’n doelbewuste keuse tot lyding. Hy kon rustig eenkant ’n kommerlose bestaan gevoer het as Christen. Maar nee, hy kies om die pad van vervolging te loop sodat die evangelie versprei kon word. Paulus pas die beginsel van die koringkorrel prakties toe. “Vir hierdie evangelie ly ek verdrukking, selfs in boeie soos ‘n misdadiger, maar die woord van God kan nie geboei word nie. Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing, wat daar in Christus Jesus is, en die ewige heerlikheid kan ontvang." (2 Timoteus 2:9-10)

God het besluit om sy uitverkorenes deur die lyding van sy Seun te red. God het ook bepaal dat die evangelie deur die lyding van sy diensknegte versprei sou word. 

Evangelieverkondiging gaan onvermydelik met opoffering, lyding en sterwe in baie opsigte gepaard. John Piper stel dit so : More and more I am persuaded from Scripture and from the history of missions that God's design for the evangelization of the world and the consummation of his purposes includes the suffering of his ministers and missionaries. To put it more plainly and specifically, God designs that the suffering of his ministers and missionaries is one essential means in the joyful triumphant spread of the gospel among all the peoples of the world.

Lyding ter wille van die verspreiding van die evangelie behels gewoonlik ‘n doelbewuste keuse Om deur God gebruik te word in die uitdra van sy Woord moet ons bereid wees om baie kere en in baie opsigte te sterf. Wat sou dit prakties beteken? Wat moet ek opoffer sodat die evangelie kan versprei, in watter opsigte moet ek sterwe? (hier is nou nie malariamuskiete en kannibale nie - hoe sterwe ek ter wille van evangelie?) Kom ons kyk na drie praktiese areas. 

Sterwe aan, doen afstand van:

~Aansprake op die veiligheid van my gemaksone, my gerief en eie belang. Ons voel so veilig om weg te kruip in ons bekende gemaksones...bekende mense, bekende aksies, bekende omgewings... Die uitdaging is: Sterf vir jou gemaksone en gaan sit langs ’n plaaswerker of 'n straatkind...steek grense oor, praat met iemand van ‘n ander kultuur of sienings... Wees bereid om my eie voorkeure prys te gee, te kies teen eie belang in terme van tyd en geld. Om die evangelie uit te dra, sal ek dalk tyd opsy moet sit wat ek andersins tot my eie voordeel sou kon gebruik het. Hierdie opofferings is malligheid in die oë van die wêreld, maar ook in die oë van die meeste kerkmense. Maar dis presies wat dit God se kinders gekos het om die evangelie oor die wêreld heen uit te dra – hulle het winsgewende en aanloklike loopbane vaarwel geroep, familie en vriende verlaat, hulle kinders aan malariamuskiete blootgestel... (Dink aan talle voorbeelde : Martin Rautanen, CT Studd, Adoniram Judson, David Brainard, AA Louw...) Maar dit gaan nie net oor sulke opvallende groot sake nie - Om werklik die Koninkryk van God te laat kom moet ek dikwels doelbewus teen my eie welsyn, regte en gerief kies ook wat klein dingetjies betref. Baie mense is bereid om op ’n afstand betrokke te raak by die uitbreiding van die Koninkryk, hulle wil nie hulle hande vuilmaak nie. Tevrede om op ’n veilige afstand ’n tjek uitskryf wat hulle nie eens regtig voel nie. 

~Kulturele ekslusiwiteit. Dis nodig om ons trots in ons sak te steek en in nederigheid grense oor te steek na ander mense en kulture wat volgens ons norme anders of minderwaardig is. Ons moet bereid wees om in ander mense se lewe in te klim, hulle denke te probeer verstaan, opofferings te maak om hulle te akkommodeer. Opofferings ten opsigte van byvoorbeeld taal, kleredrag, eet voorkeure... Ons moet geduldig gewoontes en gebruike wat vir ons onaanvaarbaar is verdra. Gewillig om kulturele opofferings en aanpassings te maak. Weet U dis presies wat Jesus gedoen het - hy het sy hemelse bestaan prysgegee en een van ons geword! (Vergelyk Filippense 2) As ons die evangelie wil deel moet ons diensknegte word wat van ons troontjies afklim. (Daar is geen plek vir die Amerikaanse "back in the States" houding nie!) Dis presies wat Jesus gedoen het .... Hy het nie gekom om “gedien te word nie, maar om te dien..” (Markus 10:45)

~Alle ambisies en begeerte na sukses en populariteit. Laat vaar daardie begeerte dat almal van my moet hou! Sterf aan die begeerte wat ons het om bedank en waardeer te word. As ons werklik die evangelie wil bevorder, moet ons bereid wees om nederige metodes te gebruik, wat aan God al die eer sal gee. Om agter die skerms te werk, om weggesteek te wees. Wees bereid om ongewild te wees en deur ander van valse motiewe beskuldig te word. Mense gaan nie van jou hou as jy vir die beginsels van die Woord staan nie. Is jy bereid om veragting en spot te verduur? Bereid om onbelangrik te wees? Satan het Jesus versoek op hierdie punt... Hy wou Jesus op ‘n pad van sukses en belangrikheid laat afdwaal. (“Spring van die tempel se dak af” Dit sou Jesus baie gewild laat word het, almal sou Hom ge “cheer” het...) Maar Jesus kies die pad van die kruis. Sukses en erkenning mag nooit ons dryfkrag en motief wees nie. Ons moet bereid wees om die evangelie te bevorder al sien ons nooit sigbare suksesse nie. Ons begeerte om bedank te word en erkenning te kry, moet ons afsterf. Wees eerder gereed vir teleurstellings en beledigings. Vriend, en weet maar, as jy vir die Here wil werk gaan jy getoets word. Die skoolkinders of plaaswerkers met wie jy die evangelie deel, juis hulle gaan jou dalk skade aandoen, of ondankbaar wees – en dan? Sal jy nog volhard in jou getuienis? 

Kan jy sien, sonder ’n bereidheid om skade te lei, om te sterwe in vele opsigte, is daar geen kans dat ’n mens regtig die evangelie kan uitdra nie? Sonder sterwe, geen vrugdra, geen oes en daarom geen vreugde! 

Twee slotopmerkings:

~Waar lê die struikelblok, hoekom groei die kerk nie vinniger nie? Hoekom is daar nog soveel onbereikte mense na 2000 jaar van kerkwees? Min Christene is bereid om die pad van die koringkorrel te loop. Min is bereid om hulle finansiële aspirasies en sekuriteite af te sterwe, min mense is bereid om hulle gesondheid op die spel te plaas. John Stott verklaar : The greatest single secret of evangelistic or missionary effectiveness is the willingness to suffer and die.

~ Miskien is daar iemand wat eerlik en opreg is en nou sê :”Ek wil graag die evangelie uitdra - maar ek moet nog aan baie dinge sterwe, ek sal maar eers wag tot ek dit regkry.” Vriende net Jesus se sterwe was volmaak en volledig. By ons is dit ’n onvolmaakte proses. Dis ’n proses wat lewenslank duur. Solank as wat jy lewe sal die kind van God agterkom - hier is nog ‘n soeke na selfbelang en eie eer wat in my pad staan. Moenie wag totdat jy volmaak is voordat jy die evangelie begin uitdra nie- dan gaan jy nooit sover kom nie. Stel jouself maar net tot beskikking van Jesus, die Heilige Gees is getrou en sal jou wys waar jy moet sterwe. Dis ‘n lang en moeisame (maar avontuurlike) pad. Begin net, vandag...

Ek het nog skaars begin leer loop op hierdie pad, mag Hy my genade tot bereidheid daarvoor skenk...


Groen koring in Namakwaland

Woensdag 22 Mei 2013

STERF OM VRUGBAAR TE KAN LEWE

- Jesus se raad (wat die gemiddelde “prosperity gospel” aanhanger en  TBN kyker aan hulle pizzas sal laat stik)

Die sekerste manier om onvrugbaar, vaal en vreugdeloos te wees is:  Leef maar net rustig vir jouself.  Fokus maar net op jou eie gerief, jou eie behoeftes, jou finansiële groei,  jou eie aftreeplanne... Klink dit vreemd en vergesog? Wel dis die duidelike implikasie van Johannes 12:24,25.   “Dít verseker Ek julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in. Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou.”   Geweldige woorde!

Jesus gebruik ’n eenvoudige beeld uit die landbou wat sy hoorders almal goed kon verstaan. ’n Koringkorrel of mieliepit moet in ’n sekere sin “sterwe” sodat daar ’n oes kan kom. Hy moet sy bestaan en vorm as pit prysgee, onder die grond begrawe word en van die toneel verdwyn. As ’n pit by wyse van spreke sou weier... sal hy ‘n mislukking wees, net alleen bly, geen oes voortbring nie, sy bestaansdoel misloop.

Jesus praat hier  natuurlik in die eerste plek van Homself en spesifiek van sy sterwe aan die kruis. (die gesprek vind plaas kort voor die kruisiging) Jesus se sterwe aan die kruis lewer ’n ryk oes op van verloste mense. Sonder Jesus se plaasvervangende dood sou nie een van ons gered kon word nie. Jesus se offerdood wis ons sonde uit omdat Hy so die straf wat ons verdien in ons plek ondergaan. (Jesaja 53:5,6) As Jesus nie gesterwe het nie,  sou ons nie verlos kon word nie-  nie ek nie, nie jy nie... Ons moet dit goed verstaan, Jesus het baie wonderlike dinge gedoen, genesings, vermeerdering van die brood, op die water geloop.....nie een van hierdie dinge kon verlossing bewerk nie,  Hy moes spesifiek sterwe en ons straf dra in ons plek. Daarom het Satan alles gedoen om Jesus van die kruis weg te hou... So dis baie duidelik, as Jesus nie gewillig was om te sterwe nie,  sou daar geen oes van verloste mense vir sy Vader  wees nie. Geen mens sou gered word nie.

Hierdie selfde beginsel van sterwe om te kan lewe, maak Jesus nou egter ook van toepassing op sy volgelinge. (vers 25) Dis op ons van toepassing op ’n aangepaste manier. Aangepas, want ons lyding en swaarkry  verdien nie vir ons die lewe nie en bewerk nie verlossing nie. Anders gestel, niks wat ons kan doen kan vir ons sonde betaal nie. Geen offer wat ons kan bring kan die slegte dinge wat ons gedoen het uitkanselleer nie. En tog word daar van elke kind van God  verwag om te sterwe aan sy eie voorkeure en belange, ja aan sy lewe. Wat beteken dit? Jesus moet eerste gestel word, uit dankbaarheid vir wat Hy vir ons gedoen het. Wie Jesus nie bo alles kies nie, kan Hom nie volg nie. Jesus kry voorkeur bo alles wat vir my belangrik, kosbaar en dierbaar is! In hierdie opsig moet ek sterwe aan my eie lewe.

Geen sterwe, geen lewe, geen sterwe geen oes! En daarom as daar geen sterwe in my lewe is nie, is my Christenskap vrugteloos en vaal en  gevolglik ook vreugdeloos. Hierdie beginsel is waar van Jesus self en sy werk. Maar dit geld as ’n basiese vereiste vir ons vrugbare volgelingskap. Dis veral prakties van toepassing op ons getuienistaak, deur woord en lewe in hierdie wêreld.

Kom ons sê dit anders : Sonder ’n doelbewuste keuse vir lyding en sterwe kan daar geen suksesvolle uitleef en uitdra van die evangelie wees nie!

Sonder ‘n doelbewuste keuse vir lyding kan jy nie vir die Here werk nie. 

Dis baie duidelik : Jesus moes deur lyding God se Koninkryk kom vestig. Jesus se lyding en vervolging het egter nog nie opgehou nie. Dit word voortgesit in ons. Ons lyding is ’n voortsetting van Christus se lyding. Dit is soos Paulus sy eie lyding verstaan het in Kolossense 2:24,25  “Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie. Ek verduur my deel daarvan ter wille van sy liggaam, die kerk,  waarvan ek ‘n dienaar geword het volgens die opdrag wat God my gegee het om sy woord ten volle aan julle bekend te maak.” Paulus het lyding verduur ter wille van die kerk. Paulus het lyding verduur om sodoende die evangelie te verkondig en die kerk te laat groei. Dit was ’n doelbewuste keuse tot lyding. Hy kon rustig eenkant ’n kommerlose bestaan gevoer het as selfsugtige “Christen” in ‘n “gerieflike voorstad” van Jerusalem... Maar nee, hy  kies om die pad van vervolging te loop sodat die evangelie versprei kon word. Paulus pas die beginsel van Jesus in sy eie lewe toe - Hy kies om te sterwe sodat daar ’n oes kan wees! 2 Timoteus 2:8-10. “Onthou altyd dat Jesus Christus, ‘n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek is. Dit is die evangelie wat ek verkondig.
Vir hierdie evangelie ly ek verdrukking, selfs in boeie soos ‘n misdadiger, maar die woord van God kan nie geboei word nie.
Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing, wat daar in Christus Jesus is, en die ewige heerlikheid kan ontvang.”

God het besluit om sy uitverkorenes deur die lyding van sy Seun te red. God het ook bepaal dat die evangelie deur die lyding van sy diensknegte versprei sou word. Evengelieverkondiging gaan onvermydelik met opoffering, lyding en sterwe in baie opsigte gepaard. As jy dink jy gaan gelukwensinge en ‘n klop op die skouer kry omdat jy die evangelie verkondig, leef jy nog in ‘n droomwêreld! John Piper vat als mooi saam : “More and more I am persuaded from Scripture and from the history of missions that God's design for the evangelization of the world and the consummation of his purposes includes the suffering of his ministers and missionaries. To put it more plainly and specifically, God designs that the suffering of his ministers and missionaries is one essential means in the joyful triumphant spread of the gospel among all the peoples of the world.”

Lyding ter wille van die verspreiding van die evangelie is ‘n doelbwuste keuse.   Om deur God gebruik te word in die uitdra van sy verlossingsboodskap moet ons bereid wees om baie kere en in baie opsigte te sterf.

Hoe raak hierdie beginsel ons prakties?  Wat moet ek opoffer soadat die evangelie kan versprei, in watter opsigte moet ek sterwe sodat daar ’n oes vir God ingesamel kan word. (Daar is mos nie oral malariamuskiete en kannibale nie - hoe sterwe ek ter wille van evangelie?) Ek wil net drie praktiese areas uitlig.

Ek moet sterwe aan :

~ My “reg” tot gerief en najaging van  eie belang. Ons voel so veilig om weg te kruip in ons bekende gemaksones...bekende mense, bekende aksies, bekende omgewings, gewaarborgde finansiële pakette en pensioen. Het jy al jou aan jou vrese vir mense gesterf en met ander mense oor Jesus gesels?
Dit sal dalk nodig wees om jou eie belange prys te gee in terme van tyd en geld.  Dit gaan egter nie net oor groot sake nie. Daar is  talle klein keuses waar ek teen my eie belang moet kies om bruikbaar te wees in die uitdra van die evangelie... dalk iets soos ‘n Sondagmiddagslapie wat opgeoffer moet word? Om werklik die Koninkryk van God te laat kom moet ek doelbewus teen my eie welsyn kies. Hierdie beginsel word onderstreep deur talle voorbeelde in die kerkgeskiedenis. Dink maar aan iemand soos Adoniram Judson wat twee vroue en talle kinders moes opoffer om die Woord van God na Burma te bring.  


Lees meer, kliek op ADONIRAM JUDSON.

Baie mense is bereid om op ’n afstand betrokke te raak by uitbreiding van die Koninkryk, maar wil nie hulle hande vuilmaak nie. Ek sal op ’n veilige afstand ’n tjek uitskryf, maar moenie my vra om in ‘n plakkershut in te gaan nie...





~ Kulturele trots en ekslusiwiteit. Ons moet in nederigheid grense oor te steek na ander kulture en klasse wat volgens ons norme anders of minderwaardig is. Ons moet ons hoogmoedige trots in ons sak steek. Ons moet bereid wees om in ander mense se lewe in te klim, hulle denke te probeer verstaan, opofferings te maak om hulle te akkomodeer. Het jy dit al gewaag om teenoor iemand van ‘n ander kultuur of godsdiens te getuig - soos ’n Moslem? Sterf vir jou gemaksone en doen dit. Skuif jou vooroordele opsy en gaan sit langs ’n plaaswerker of ‘n huishulp... of daal doelbewus na die vlak van 'n kind of 'n bejaarde om die evangelieboodskap in hulle leefwêreld se terme oor te dra. Dit kan ook insluit opofferings ten opsigte van taal of ander kulturele aspekte. Weet U dis presies wat Jesus gedoen het - hy het sy hemelse bestaan prysgegee om soos een van ons te word. Ons kan nie die evangelie uit die hoogte deel nie. Ook nie vanuit verkeerde motiewe nie - “Ja, sendingwerk is goed, dit hou darem die ... op hulle plek...” As ons die evangelie wil deel , moet ons diensknegte word wat van ons troontjies afklim. Dis presies wat Jesus gedoen het ...  ”Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense." (Markus 10:45)

~ Alle ambisies en begeerte na sukses en populariteit. Vergeet van daardie begeerte dat almal van my moet hou! Sterf aan die bedekte behoefte  wat ons het om gedurig bedank en waardeer te word. Ons eie ambisies staan in die pad van suksesvolle getuienis....soos om ryk te wil word of aansien in die gemeenskap te hê.  Ons moet ook sterf aan ons “groot indrukwekkende metodes” van evangelisering  wat meer gegrond is op wêreldse propaganda tegnieke as God se Woord.  Die TBN styl van "glitter en glamour!" As ons werklik die evangelie wil bevorder, moet ons bereid wees om nederige metodes te gebruik, wat aan God al die eer sal gee... Om agter die skerms te werk en in ons binnekamers te pleit voor God.  Weet verseker  dat as jy die onverdunde Bybelse boodskap bring,  gaan  jy beslis ongewild wees.  Mense gaan nie van jou hou as jy vir die beginsels van die Woord staan nie. Is jy bereid om ‘n verworpe ongewenste lid van die gemeenskap te wees?  Soos Jesus? Ja, dan eers kan God jou gebruik!  Satan het Jesus versoek op hierdie punt. Hy nooi Jesus om van die tempel se dak af te spring. Dit sou ‘n kortpad na gewildheid wees. Jesus val egter nie vir sy grappie nie, maar kies die bitter eensame pad van die kruis. Sukses mag nooit ons dryfkrag en motief wees nie. Ons moet bereid wees om die evangelie te bevorder al sien ons nooit sigbare resultate nie.  Ons begeerte om geprys te word moet ons afsterf. Jy gaan dalk die teenoorgestelde beleef as jy begin getuig. In plaas van resultate en lof gaan jou skoolleerlinge teenoor wie jy getuig, jou alle hel in die klaskamer gee; juis  jou plaaswerkers vir wie jy die Woord bring gaan jou dalk in die steek laat...terloops dis mos wat Jesus ervaar het van sy eie dissipels! Is jy bereid om al hierdie teenstand deur te gaan?

Kan jy sien, sonder ’n bereidheid om skade te lei, om te sterwe in vele opsigte, is daar geen kans dat ’n mens regtig die evangelie kan uitdra nie? Sonder sterwe, geen vrugdra, geen oes en daarom geen vreugde!

Twee slotopmerkings:

~ Waar lê die struikelblok, hoekom groei die kerk nie vinniger nie? Hoekom is daar nog soveel onbereikte mense na 2000 jaar van kerkwees? Ons kan seker baie lang debatte hieroor voer, maar een duidelik waarheid is : die kerk groei net met die spoed waarteen mense bereid is om te “sterf”!   Daarom is daar in tye van vervolging dikwels vinnige kerkgroei, maar hoe meer welvaart en gerief Christene beleef, hoe minder groei is daar. Namate ons bereid is om aansprake op gerief, eie belang en ambisies prys te gee, groei die kerk. Op hierdie oomblik is daar genoeg middele binne die kerk om die wêreld te bereik - waarom gebeur dit nie? Min Christene is bereid om die pad van die koringkorrel te loop. Min is bereid om hulle finansiële aspirasies en sekuriteite af te sterwe, min mense is  bereid om hulle gesondheid op die spel te plaas... John Stott sê : "The greatest single secret of evangelistic or missionary effectiveness is the willingness to suffer and die."

~Miskien is daar iemand wat eerlik en opreg wonder : Ek wil graag die evangelie uitdra - maar ek moet nog aan baie dinge sterwe, moet ek  maar eers wag totdat ek dit regkry?” Vriende, net Jesus se sterwe was volmaak en volledig. By ons is dit ’n onvolmaakte proses wat lewenslank duur. Solank ons hier op aarde is, sal die kind van God voortdurend maar die soeke na selfbelang en eie gerief in homself ontdek. Moenie wag totdat jy volmaak is voordat jy die evangelie begin uitdra nie- dan gaan jy nooit sover kom nie. Stel jouself tot beskikking van Jesus, NOU!  Die Heilige Gees is getrou. Hy sal jou wys waar jy nog moet sterwe. Begin net!

Bybelse logika :


Streef na jou eie belang en word 'n verloorder! Verloor jouself vir Jesus en sy saak en wees 'n ewige wenner!