BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Ovamboland. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Ovamboland. Wys alle plasings

Maandag 17 Oktober 2016

VERRE NOORD

- is nie te vêr vir God se genade nie.



Oshivelo, Oshakati, Oshikango… Ondangwa, Ongwediva, Onandjokwe… Omuthiya, Ombalantu... hierdie name spel : “Wamboland” en vir baie van  ‘n vorige generasie se manne : “Bosoorlog.” Wel, genadiglik is die oorlog verby, maar Oktobermaand in hierdie geweste beteken nog steeds : “Bloedig briesende hitte.” Dis byna sewe maal warmer hier as in Nebukadnesar se berugte oond. Die hitte het nie verander nie, so ook nie die donkies nie, maar verder amper alles. Dis nie meer die weermagbasisse, cuca winkels en stukkende karre wat die hoofrol speel nie. Oshakati-Ongwediva-Ondangwa is ‘n polsende stad met moderne winkelsentrums, robotte en ‘n stroom luukse motors op die oorvol paaie... Dis ‘n plek van uiterste kontraste – op ‘n sypaadjie voor die moderne Bank of Namibia gebou gee ‘n bokooi geboorte aan tweeling lammers, direk langs die besige teerpad word daar voor my oë (in die versengende hitte) ‘n bees geslag... ja, as jy dalk gewonder het, daar is nog steeds boomslaghuise in bedryf!






Owamboland is egter baie meer as net ‘n versameling eienaardighede en bedrywighede, dis die tuiste van die NG Gemeente Verre Noord. Dis ‘n gemeente met ‘n veelbewoë geskiedenis van saamstaan, opofferings, wonderlike genadeverhale, maar helaas ook van verwaarlosing, skokke, teleurstellings, baie groot nood... geestelik, maar ook andersins. Die afgelope paar jaar is die gemeente veral deur ‘n moeilike meul. Hartseer dinge het gebeur. Daar is seerkry. Huiwering. Onsekerheid. Vir ‘n geruime tyd is hier ook nie meer ‘n predikant nie. Strukture sal weer opgebou moet word. Een ding is wel seker, die gemeente is nog hier, want hier is steeds wonderlike gelowige (en bereidwillige) mense en die belangrikste – die Here van Sy kerk laat sy mense nooit in die steek nie!

Die gemeente is nou in ‘n tyd waarin daar opnuut oor die pad vorentoe besin moet word, maar veral gebid moet word. Dit was my voorreg om vir bietjie meer as ‘n week vier dienste (waaronder ‘n nagmaalsgeleentheid) hier te hou en ook persoonlik by ‘n hele aantal van die lidmate uit te kom.

Ons kon praat oor basiese Christenskap en gemeentewees (Kliek op BYBELSE CHRISTENSKAP), oor die belangrikheid van die gemeente as die draer en beskermer van die waarheid (1 Timoteus 3:14-16), oor die wonderlikheid van Jesus die Seun van Dawid wat sonde, Satan, dood en hel oorwin het! (Kliek op DAWID). Ja, God self het deur sy Seun ons sondeskuld uitgewis en nooi ons uit om na Hom terug te keer! (Kliek op UITGEWIS)

Bid asseblief vir die Koning van die kerk dat Hy aan hierdie gemeente ‘n herder sal skenk wat Sy skape met liefde sal versorg. Die behoefte aan en versugting na 'n leraar is baie groot - "ons is soos visse op land." ‘n Herder wat in die eerste plek God sal behaag en die waarheid in liefde sal verkondig sonder kompromie met die tydsgees van losbandigheid en ongeloof! Bid vir die gemeentelede, die getroues en vlytiges, maar ook vir diegene want eenkant en afvallig of wantrouig geraak het. Daar is hoop, want God is ‘n God van ‘n nuwe begin...




NS 1. Dankie aan almal in Wamboland wat my so vriendelik ontvang en sommer diep in mens se hart gekruip het...

NS 2. AS jy 'n staaltjie uit die ou dae in Wamboland wil deel, is jy welkom om dit onder OPMERKINGS te doen. As jy 'n woord van bemoediging tot die gemeente wil spreek, kan jy dit ook hieronder doen!



Hierdie miershoop in die ou deel van Oshakati is die resultaat van samewerking onder die termiete... Kom ons werk saam en bid saam vir Verre Noord gemeente!




Woensdag 01 Julie 2015

STERWE OM TE KAN LEWE

- geboorte op Tsumeb na ‘n miskraam.

Die Here is altyd betyds, al voel dit dikwels vir ons of Hy heeltemal te laat is en ons in die steek gelaat het... Jesus was oënskynlik te laat om Lasarus te genees (mens kry die indruk dat Hy met opset getalm het*), maar toe doen Hy iets baie groter vir die man, Hy skenk hom ‘n nuwe lewe vanuit die graf en toon so sy Goddelike genade en almag!

Die pad wat die Here met ons gestap het tot in Tsumeb, was darem nou nie so dramaties nie, maar tog in baie opsigte die van ‘n nuwe lewe nadat die oue eers moes sterf. En sterwe is natuurlik nooit maklik of aangenaam nie.

Ons het die tyd in Bray (Onder-Molopo gemeente) aan die Botswanagrens baie geniet, maar weens verskeie redes het ‘n skuif (veral na Namibië) baie wenslik gelyk. My ouers in Walvisbaai het ook bejaarde ouderdom bereik en daar was ander oorwegings ook...

Die gemeente Verre Noord, in die noorde van Namibië (Ovamboland soos ons hom ken, met dorpe soos Oshakati, Ondangwa, Ongwediva, Ruacana ens.) het vakant geword. Ek het aansoek gedoen en maar gewag om te sien wat gaan gebeur. Op Woensdag 7 Oktober 2009 bel Mev. de Lange uit Oshakati om te hoor waar Bray is. (Ja, min mense weet waar dié afgeleë plekkie homself bevind.) Verder sê sy niks nie. Ek gee die saak aan die Here oor: “Here, dis alles in U hande”

Ek hoor later daar was 12 aansoeke. Dis nogal heelwat. Menslik gesproke is die kanse baie skraal dat ek beroep sou word of selfs net ‘n preekbeurt sou kon kry. Ek is doer ver in die gramadoelas. Wel, dis wonderlik, ek kry toe tog ‘n e-pos van Oshakati om te hoor of ek die naweek van die 30ste Oktober daar kan wees. Wat ‘n geleentheid! Ek kry toestemming van my gemeente dat ek die kerkbakkie kan gebruik om Namibië toe te gaan – dis ‘n groot verligting!

Als begin mooi in plek val vir ons groot reis na die noorde. Ek maak ook kontak met my vriende Vic en Milly Basson in Rundu. Ons beplan om met die terugpad sommer via die ooste van Ovamboland deur die Kavango te gaan en daar oor te bly voor ons terugtog deur Botswana.

Die moontlikheid van ‘n nuwe begin bo in die noorde is nie al nuwe begin en nuwe lewe nie. Hier aan die einde van Oktober vermoed Jacolette sy is swanger! Nuwe lewe! So op die vooraand van ons vertrek.

Ek kry juis ook in hierdie tyd ‘n brief kry van Pa waarin hy skryf oor Martin Rautanen – pionier van Ovamboland. (In Ovamboland het my Pa self ook kosbare dinge beleef.) Ek het ‘n boek oor dié sendeling se besondere lewe van volharding ‘n paar jaar tevore vir hom as geskenk gegee. Is dit toevallig dat hy nou oor hom skryf, is dit dalk ‘n aanduiding van die rigting vir die toekoms?

Die reis na die noorde lewer wel ‘n kwota moeilikheid op as die bakkie se petrolpomp probleme gee, maar ons kom veilig aan by ons bestemming. Oom George Benz is ons baie behulpsaam en dit word opgelos. Na soveel jare is die verandering en ontwikkeling in Ovamboland verstommend. Oshakati-Ongwediva-Ondangwa het ‘n polsende stad geword! Die manne wat Ovamboland laas in hulle “army dae” gesien het, sal nie meer weet waar om te trap nie...

Ek preek Sondag 1 November op Oshakati oor 1 Kor. 1:18-25. Dis vir my aangenaam om die Woord te bring en die mense luister aandagtig. Nou het ek gedoen wat ek kon en is alles in die Here se hande! Die Saterdag koop Jacolette ‘n swangerskaptoets by ‘n apteek op Oshakati, maar sy gebruik dit nog nie. Direk na kerk vat ons die lang pad terug via Eenhana – Okongo – Nepara tot by Rundu. Wat ‘n eindelose lang pad. ‘n Groot deel is vreeslik sinkplaat. Ons slaap die Sondag en Maandagaand by Vic hulle oor. Maandagoggend doen Jacolette haar tuis swangerskaptoets – dis positief! Groot opgewondenheid, nuwe lewe!

Op Woensdag 4 November is ons weer terug op Bray! Nou begin daar ‘n uitmergelende tyd van wag en wonder... Ek was onder die indruk dat Verre Noord reeds op Donderdag 5 November ‘n beroep so uitbring. Hoor Donderdag niks, hoor Vrydag niks...

Onseker, wonder ook, sal als goed gaan met die nuwe baba? (My dierbare vroutjie is nie meer so jonk nie.) Wat van die beroep, ek hoor niks, moet ek weer iewers anders aansoek doen?

Later lei ek af van ‘n e-pos van Anina, die skriba dat hulle nog nie beroep het nie, maar dinge bly baie vaag...

Op 11 November vat ek die bakkie vir sy diens op Vryburg. Die urine toets van die dokter bevestig dat Jacolette swanger is. Die bloedtoets se uitslag moet nog kom.

Die volgende dag bevestig ook die bloedtoets se uitslag amptelik, ons gaan ‘n baba hê. Goeie nuus. En dan, slegte nuus. Dieselfde dag is daar ‘n e-pos met wat my heeltemal uit die veld slaan. Vriende van my het op Oshakati in die kerk opgetree en volgens die e-pos gaan hulle Oshakati toe. Die gemeente het blykbaar nie geld om nou al ‘n predikant te beroep nie. Hulle gaan vir ‘n tydperk soontoe om die bediening waar te neem. Wat gaan aan? Ek wonder waarom ek niks hoor nie, waarom is die gemeente dan nie meer openlik met my nie? Is dit die dood van die Verre Noorde droom? Moet ek Namibië afskryf en uit my hart verban? Moet ek op ander plekke aansoek doen en kort-kort toestemming vra om elders te gaan preek? Ten spyte van probleme wat ek by Verre Noorde raakgesien het, het ek my nogtans ingestel om te gaan en opgewonde geword oor die moontlike beroep en skuif na ‘n nuwe plek met nuwe uitdagings. Dalk ‘n effens benoude beklemmende opgewondenheid soos ek oor die laatlam baba opgewonde is?

Nie lank nie toe word nie net Oshakati nie, maar ook die swangerskap ‘n groeiende (sterwende?) krisis. Jacolette het baie pyne, bloeding... Iewers is iets fout.

Net na die kerkdiens op Bray op Sondag 15 November vat ek vir Jacolette Vryburg toe. Hospitaal toe. Hulle doen ‘n sonar. Daar is geen hartklop waarneembaar nie! Ek besef dis verby. Na twee dae is daar geen twyfel nie, die swangerskap is iets van die verlede. Sy ondergaan die nodige prosedures. Dis vir haar ‘n hartseer tyd; ‘n vrou beleef ‘n miskraam baie intens. Die gemeentelede is baie simpatiek en ondersteunend. Ek aanvaar als meer gelate. Dis tog dalk ten goede. Die feit dat daar nie meer ‘n baba gaan wees nie, sal ‘n trekkery iewers heen makliker maak... of probeer ek dalk maar net als vir my rasionaliseer? 

Uiteindelik ontvang ek die tyding per e-pos van Oshakati wat sê dat hulle nie nou ‘n beroep gaan uitbring nie, maar eers die volgende jaar in die eerste kwartaal. Dit plaas my in ’n moeilike posisie. Moet ek vir ander plekke aansoek doen of geduldig wag en dan dalk in elk geval nie soontoe beroep word nie?

Aan die einde van ‘n veelbewoë jaar op 31 Desember skryf ek : “Here, my tye is in U hand. Hoe lank gaan ons nog op Bray bly? Mag die Here insig gee. Ek sien geen langtermyn toekoms vir my en ons kinders hier nie... Wat gaan met Oshakati gebeur, wat gaan hulle besluit?”

En toe heel onverwags op Dinsdag middag 19 Januarie 2010 bel ds. Darius Botha onverwags van Tsumeb. (ek het hom nog nooit ontmoet nie) Hy gaan na Kroonstad en wou weet of ek beskikbaar is. Ek sê dadelik "JA" en hoor van hom dat hulle op die 31ste Januarie gaan beroep. Daar wag dus ‘n spanningsvolle tyd op my...

Saterdagaand 30 Januarie bid, skryf ek : “Môre gaan DV ‘n baie deurslaggewende dag in my lewe en toekoms wees! O, Here God ek bring dit alles na U toe! Here Jesus U het ons leer bid : Vader, laat U wil geskied! Ek bid dit, laat my hart vreugde in U vind.”

Sondagaand 31 Januarie om 17:30. Ek het pas gehoor ek is na Tsumeb beroep! Piet Gous het my geskakel.

Ek sou later verneem dat die feit dat ek vir Verre Noord aansoek gedoen het, ‘n rol gespeel het in my beroeping. Dis waar Tsumeb my naam gekry het. My Verre Noorde ideaal en verwagting moes sterf, sodat ek op Tsumeb nuwe lewe kon vind. Die Verre Noorde moontlikheid was ‘n miskraam, maar nie die einde van God se pad met ons nie. Op 11 April 2010 word ek op Tsumeb as leraar bevestig en so begin ‘n nuwe opwindende fase in ons lewe... Ons is besonder gelukkig hier, en ja, minder as ‘n jaar later maak nog ‘n nuwe lewetjie haar opwagting, toe Natanie Vreugde op 20 Januarie 2011 die lewenslig aanskou. God het sy tyd en sy plek!

NS En nou kan my gebed maar net wees : "Here dankie vir U onbeskryflike genade en asseblief Here gee vir ons weer LEWE, lewe soos in HERLEWING, 'n vars werk van U Gees in ons binneste wat sal lei tot ware toewyding, heiliging en entoesiasme in onsself en die gemeente, sodat U Naam geheilig kan word!

*Nadat Hy gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy egter nog twee dae op die plek gebly waar Hy was. (Johannes 11:6)



[Die meubels word gelaai op Bray. Stephanie en Christien Eloff, Jonette en Marisja.]


[Natanie]

Vrydag 05 Julie 2013

DIE BELOFTE BY DIE DAM

- ‘n groen Land Rover en ‘n lang bediening.

[Ek is besig om ‘n boek te skryf oor die lewe van my Pa, Johan de Koning wat laasjaar oorlede is. Vir meer daaroor, kliek op ONS BEGRAWE PA. Ek beoog om so van tyd tot tyd aangepaste uittreksels daaruit op hierdie webjoernaal te plaas.]

Na sy nuutmaking deur die Gees (kliek op WAARLIK VRY)  en studies op Kalkbaai was Johan de Koning nou ‘n jong sendeling in diens van die Dorothea Sendinggenootskap. Op ‘n keer was hy bevoorreg om saam met Mnr. Hans von Staden, die sending se stigter en leier op toer te gaan na die Oos Kaap. So na aan sy ouerhuis en na ‘n geruime tyd reeds in die werk is hy vergun om vir ‘n week verlof te neem. Dit was heerlik om tuis te wees, en te kon getuig van God se seëninge. In Pretoria het daar egter nog ‘n heerliker verrassing vir hom gewag.



By sy terugkoms in Pretoria vra tannie Rosa Kuhn, een van die senior werksters vir hom: “Hoe dink jy my boetie, waar gaan ons heen?” “Rhodesië toe” was sy haastige antwoord. (Op daardie tydstip het die behoefte om na Rhodesië uit te reik prioriteit geniet.) “Nee, nie Rhodesië toe nie, maar Suidwes toe,” sê sy. Johan het ‘n uitroep van opgewondenheid gegee. Dit was te goed om waar te wees...



Die rede vir hierdie groot blydskap was ‘n belofte wat Johan kort vantevore gemaak het. Dit het so gekom. Na ‘n lang reeks dienste, het een van die ouer werkers in die sending, Marie Young eendag ‘n voorstel aan hom gemaak. “Hoekom neem jy nie Vilho saam met jou na die huis (van die De Wijns) by die Hartebeespoortdam nie, dan gaan rus jy ‘n paar dae en is jy ook nie so alleen nie.” Dit was soos dit later sou blyk ten diepste nie haar plan nie, maar so het Johan geglo, die Here se agenda. 

Evangelis Vilho Shijandja, ‘n Kwanyama afkomstig uit die destydse Suidwes-Afrika, en Johan het toe al ‘n veldtog of twee in Suid-Afrika saam gewerk en oor dinge in “sy land” gesels. Die dinge waarvan Vilho gepraat het was vreemd vir Johan, van die slegte behandeling van kontrakwerkers wat swaar gekry het op sommige plase tot Vilho se eie ondervindings met leeus. By die dam het hulle heerlik ontspan, berg geklim en dikwels saam gebid, ook natuurlik vir Suidwes en Vilho. Na ‘n tyd van gebed en Bybelstudie neem Johan, Vilho se Bybel en sê: “Ek gaan hierdie versie in jou taal lees en ek beloof jou ek sal dit nie weer vergeet nie... Weet jy waarom ek dit doen? Net om daardeur vir jou te sê, binne twee jaar sal ek in jou land gaan dienste hou.” Die vers was Johannes 1:12. Vilho was bly oor sy entoesiasme al was Ndonga, nie eintlik sy taal nie. (op daardie stadium was daar nog nie ‘n volledige Bybel in Kwanyama nie en het die meeste Kwanyamasprekendes ‘n Ndonga Bybel gebruik.)

Niemand sover sy kennis gestrek het, het van sy woorde aan Vilho geweet nie, en hier word dit binne ‘n paar ‘n kort tyd nou ‘n werklikheid. Dit was ‘n heuglike vreugde. Twee maande na sy belofte by die dam was Johan, Vilho en ander spanlede op weg na Suidwes.

 Dit was die begin van ‘n ingrypende koersverandering in sy loopbaan en lewenslange verbintenis met Suidwes-Afrika wat later Namibië sou word.

In Junie 1961 is Johan dus die eerste keer na Suidwes. Hulle het met ‘n Taunus bussie deur die Kalahari gereis. In Windhoek het hulle in die berugte Ou Lokasie sowel as in die nuwe woonbuurt Katutura gewerk. Dit was ‘n tyd van wonderlike ondervindings en merkwaardige bekerings. In Desember 1961 en Januarie 1962 was Johan vir die tweede keer in Suidwes. Daar is weer dienste in Windhoek gehou en die Aminuis reservaat is ook in Januarie besoek. Die rooi Kalaharisand van Aminuis was te veel vir die Taunus. Toe Johan op ‘n keer wou ratte wissel was daar geen koppelaar nie. So in tweede rat ry hy toe tot by die van der Westhuizens waar hy tuis was. Die man het darem geduld gehad en meer kennis van voertuie as hy. Die een na die ander stuk rubber is versny om die nodige koppelaaronderdeeltjie te maak. Maar elke keer sodra die koppelaar getrap word spuit die vloeistof uit. Met die laaste probeerslag het die Here egter hulle gebede verhoor...

Die Taunus het sy deeltjie gedoen, maar was duidelik nie geskik vir die toestande in Suidwes veral vir daardie jare nie. Dis dan nou waar die besondere verhaal van die groen Land Rover in die prentjie kom...

Johan was nou reeds in Suidwes gewees, maar streng gesproke was die belofte aan Vilho om in sy land te preek nog nie vervul nie, want sy land was eintlik Ovamboland in die verre noorde. Johan het gevolglik ‘n brief aan pastoor Hukka, die hoof van die Finse Sending in Ovamboland gepos om toestemming te vra om in dié gebied te gaan werk. Die antwoord het gekom: “As jy net evangelisasie werk wil kom doen is julle baie welkom om in Julie volgende jaar (1962) te kom.”

Hierdie goeie nuus het uitbundige vreugde gewek. “Ek gaan Ovamboland toe!” Johan se gasheer en ou skoolmaat, die apteker Pierre Retief by wie hy in Windhoek tuis was, het op sy tipiese dröe manier gereageer: “En waarmee dink jy sal jy Ovamboland toe gaan, seker nie met die Taunus-bussie nie. Vir Ovamboland het ‘n mens ‘n Land Rover nodig.” “Wel, God stuur my, en as Hy my stuur sal Hy ook die Land Rover stuur.” Met die woorde net so “profeties” uit sy mond as sy belofte aan Vilho by die dam, stap hy toe na sy kamer en gaan op sy knieë. Hier bid hy ‘n ernstige smeekgebed tot God vir ‘n Land Rover. “Here, U stuur my na Ovamboland, stuur nou asseblief ook vir my ‘n Land Rover.” Al het hy geen idee gehad hoe die Land Rover kon kom nie, was daar ook geen twyfel dat God sou voorsien nie. 

Johan is per trein terug na Pretoria. Sy vriend Danie Blom, ‘n oud medestudent van die Bible Institute te Kalkbaai  het vir ‘n tyd sy werk kom oorneem in Suidwes. Eers na hulle troue in Februarie 1962 sou hy en Ria terug gaan na hulle groot taak in die Dorsland...

Met sy aankoms by die sendingstasie te Roslynn by Pretoria, vind hy een van die werkers besig om ‘n kappie te bou vir ‘n Chev bakkie. Hy hoor toe die onderlangse fluisterstemme wat sê: “Die bakkie is joune vir Suidwes.” Hy was baie lief vir Chevrolet bakkies, terloops, hy het groot geword met Chev voertuie. Daardie dae was jy mos of ‘n Fordman of ‘n Chevman en Johan was laasgenoemde. Maar dit was nie ‘n Land Rover nie en hy het gebid vir ‘n Land Rover...

Na hulle troue in Heidelberg, Kaap was hy en Ria met ‘n span werkers op die plase te Odendaalsrus. Die tyd vir Danie om terug te keer uit Suidwes het aangebreek. Hy stuur toe ‘n telegram en vra of hy met die Taunus (waarmee hy in Suidwes gewerk het) moes kom of met die trein. Johan was toe verplig om die sendinghoofkantoor te skakel. Die gesprek het as volg verloop: “Tannie, Danie het getelegrafeer om uit te vind of hy met my voertuig moet kom. Ek het op Dorothea verneem dat ek die Chev bakkie gaan kry, wat moet ek vir Danie laat weet?” “Sê maar vir Danie hy moet met die bussie kom. Jy moet na hoofkantoor kom as julle klaar is, ek het iets baie beter vir jou as die bakkie.” Johan druk toe vinnig die spreekbuis toe en sê vir Ria: “Dit is ‘n Land Rover”

Op die hoofkantoor, Eulogia aangekom, vra tant Lettie von Staden : “Raai wat het ek vir jou?” “‘n Jeep”, antwoord Johan. “Nee nie ‘n Jeep nie, ‘n Land Rover.” “Ekskuus tannie, maar dit is wat ek bedoel,” borrel dit uit van blydskap. “Maar tannie, ek moet eers vertel hoe ek die Land Rover gekry het. Tannie, ek het een gebed gebid.” En hy vertel haar die verhaal van daardie dag by Pierre.

“Ja” sê sy, “maar ek sal jou ook vertel hoe ons die Land Rover gekry het. Ons het besef die Taunus is te swak vir Suidwes se paaie en ons het ook gebid vir ‘n Land Rover. ‘n Vrou het in haar boedel in Amerika ‘n bedrag geld bemaak en dit was £1334. Toe ons die prys vir ‘n Land Rover gaan uitvind was dit die presiese bedrag. Ons het geweet dit is vir jou Land Rover. Nou kan jy dit gaan haal by Sydney Clow Motors.”

Johan se hart het in aanbidding oorgeloop het. Hulle het ook net daar in gebed dankie gesê. Daardie eerste aand is hy en tant Lettie na ‘n diens van dr. Eric Hutchinson met die Land Rover. Wonderlik genoeg, die boodskap het juis gegaan oor geloof in God. 

Die verhaal van daardie wonderlike groen Land Rover sou seker ‘n boek kon wees.

Pastoor Angula van Ovamboland het eens opgemerk : “Die Land Rover is wonderlik, ‘n mens hoor hom nie loop as hy aankom nie, en jy sien ook nooit dat hy petrol inneem nie.” Johan se antwoord was : “Die Land Rover loop mos nie met petrol nie, maar op geloof.” 

Die Land Rover het wel van brandstof gebruik gemaak, maar was in baie opsigte ‘n geloofskar. Menige man, vrou en kind het in die Land Rover, Jesus Christus as Verlosser leer ken. 

Toe die Land Rover lankal nie meer daar was nie, het Johan steeds na baie jare mense wat die Here gevind het by plekke waarheen die Land Rover hulle gedra het.

So het hulle te Duineveld ’n reeks dienste gehou. Dit was ’n mooi geleentheid waar Ria en toe nog twee kinders saam kon gaan. Veral is bedags by die skoolkinders ook dienste gehou. Dertien jaar later hou Johan by Kalkrand stil om iets by die winkel te gaan kry. Hy het sy bekende wit helmet opgehad. By die deur van die winkel groet ’n jong meisie. “Ekskuus, meneer, maar u sal my nie ken nie, maar is u nie meneer de Koning nie?” “Ja,” sê hy. “Meneer, 13 jaar gelede was ek in standerd 2 toe meneer op Duineveld met die groen Land Rover dienste gehou het, in daardie diens het ek tot bekering gekom. Ek was maar 9 jaar, en weet u ek is steeds op die Here se pad. Oor twee weke gaan trou ek, en die man met wie ek gaan trou het ook onder meneer se diens tot bekering gekom”.

Wat ‘n vreugde om so ‘n getuienis te kon hoor. Toe hy vir sy vriend, Ds. George Hugo van hierdie voorval vertel was sy opmerking: “Dit is die seën wat ’n mens beleef na ’n lang bediening …”


Die groen Land Rover met sy TP registrasienommer in diens van die evangelie iewers in die Noorde.

Maandag 09 Julie 2012

PA WORD TAGTIG

- volhou en volhard.

Ons Pa (en oupa), Johan de Koning het verlede week, 7 Julie 2012  die ryp en geseënde ouderdom van tagtig jaar bereik. Dit was ons as kinders en kleinkinders se heuglike voorreg om dit saam met hom te vier in Walvisbaai.

Dis ‘n vol en avontuurlike lewe in diens van die Here wat hy nou agter die rug het. ‘n Tyd waarin hy op wonderbaarlike wyse kon beleef hoe God sy beloftes waar maak. By hierdie geleentheid het ek baie kortliks uit die geskiedenis van Kaleb, een van die twaalf verspieders, uit Numeri 14 en Josua 14 voorgelees.  Kaleb en Josua het destyds teen die meerderheid in, ‘n minderheidsverslag uitgebring ten gunste van die verowering van die land Kanaän, omdat hulle op God vertrou het en hulle nie laat afskrik het deur die krag van die vyand nie. Weens hierdie getrouheid aan God, het die Here aan Kaleb ‘n besondere belofte gemaak waarvan ons in Numeri 14:24 lees :

“Maar my kneg Kaleb, omdat ‘n ander gees in hom was en hy volhard het om my te volg - hom sal ek bring in die land waarin hy gekom het, en sy geslag sal dit in besit neem.” (OAV)

God is getrou! Vyf en veertig jaar later kon Kaleb, wat toe al vyf en tagtig jaar oud was,  getuig van hierdie getrouheid en kon hy uiteindelik sy erfdeel, Hebron in besit neem. Die klem val in hierdie gedeelte op “volhou”. (sien Josua 14 vers 8,9,14) God maak sy beloftes waar. Hy is heeltemal instaat om dit te doen. Al wat Hy van ons vra is volhou en volharding. Hierdie volharding het ons ook in Pa se lewe gesien tydens sy lang loopbaan in diens van die evangelie in Suidwes-Afrika/Namibië. Volharding dra vrug!

Dit blyk weereens uit die onderstaande staaltjie uit die skatkis van sy ryk lewenservarings:

Aan die beginjare van sy bediening in die destydse Suidwes het hy dikwels die evangelie in Owamboland verkondig. Hy vertel hoe dit gekom het dat hy in Kwanyama begin preek het, en die seën wat daaruit gespruit het. (Effens verwerk)

Tydens een so ‘n veldtog het hy vir  Vilho Shihandja (een van sy medewerkers) gesê: “Hierdie keer gaan ek in Kwanyama preek.”  Vilho het hom  aangemoedig maar seker  nie geglo dit sal gebeur nie.

Pa vertel verder:

Ons het by Engela gemeente aangekom.  Die pastoor in bevel vra toe dat ek die evangeliste die Sondagaand moet toespreek.  Ek het so ‘n tuisgemaakte karavaan gehad; iets genoeg om enige man se rug seer te maak.  Jy kon net gebukkend in hom staan.  Byna verbrand ek my met die gasprimus. In elk geval, ek berei toe voor en sou uit Jesaja 6, waar dit gaan oor sy roeping, die Woord bring.  Dit was eers nadat my preek in Afrikaans klaar neer geskryf was, dat ek besluit om te probeer of ek nie die preek kan vertaal nie.  Met die hulp van die Engels-Kwanyama woordeboek vorder ek so ‘n derde van die preek toe ek Vilho hoor sê : “Meneer, ek dink dit is tyd dat ons gaan vir die diens.”

Dit was my  beurt om aan die woord te kom en soos gewoonlik stap ek en Vilho na vore.  “Lees asseblief vir my in Jesaja 6" vra ek.  Toe hy klaar gelees het begin ek: “Omujapuki, omujapuki, omujapuki Kalunga kethu omujapuki.”  Heilig, heilig,  heilig is ons Here” Vilho staan en ek gaan voort, menende dat ek die derde van die preek wat ek probeer vertaal het sou aflees.  My boek is egter toe, ek onthou wat ek geskryf het ...... en Vilho beweeg stilletjies agteruit en gaan sit.  Toe die vertaalde derde van die preek egter klaar is, besef ek die Here het my tot hier gehelp, ek kan nie nou vir Vilho roep om te help nie.  Toe ek amen sê, nadat ek die hele preek sonder notas, uit my kop vertaal het, was daar ‘n spontane toejuiging - my twee medewerkers was by my.  “Jy het geen fout gemaak nie, waar het jy die taal geleer?”  Ek was seker net so verbaas soos hulle.  Die Here het my mond geopen.

Nou was my twee medewerkers beslis.  “Ons tolk nie weer vir u nie. Jy kan nou goed  praat.”  Dit het harde werk beteken.  Elke oggend  moes ek vroeg begin in die moeilike karavaan, stiltetyd hou, preke voorberei en kos maak vir die dag.  Gelukkig was ons drie wat kon preek en gewoonlik was daar  by elke diens  ander mense teenwoordig.  Jy kon dieselfde boodskap weer bring.  So het ek later vyf preke gehad wat ek goed geoefen het.

By ‘n sekere gemeente is ‘n pastoor egter saam en nadat ek die eerste en tweede diens gepreek het, wou hy by elke diens hê ek moet weer preek.  My preke het opgeraak, maar elke keer vra hy vir Vilho dat ek ook weer moet preek.  Eers kon ek nie verstaan nie.  Ek word mos moeg.

Daardie nag slaap ek in my karavaan.  Ek was moeg.  Tog word ek vroeg wakker, steek die kers aan en hou stiltetyd.  Dit is nog donker, daar is ‘n klop aan my deur.  Ek maak oop en ‘n man kom in.  “My vriend, ek kom hulp soek, jy moet my help.”  Om as jy al opgewarm is in Kwanyana te praat gaan nog, maar so vroeg in die môre is ‘n ander storie.  Gelukkig is daar ‘n boekie in Ndonga, en met dit in my hand maak ek die pad van saligheid duidelik.  My hoorder sê hy verstaan, hy vra dat ek vir hom oor sy probleme bid.

Later die oggend het ons saam met die twee pastore Bybelstudie.  Ek sê toe vir Vilho van “Nikodemus” wat my in die nag besoek het.  “Vilho ek dink dit is die ou Pastoor, maar sy hoed het hy in my karavaan agter gelaat.”  “Meneer, ek dink dit is hy, maar goed ek sal uitvind, ek sal hom vra of dit sy hoed is.”

Vyftien jaar later deel ek te Leonardville in die suide by ‘n garage traktaatjies uit.  ‘n Jong vrou kom neem een.  Ek vra haar in Owambo of sy al vir Jesus ontmoet het.  So in die gesprek  vertel ek van ander - pastore, evangeliste ens, wat besef het, hulle het Jesus nodig.  Ek vertel toe ook van ‘n ou pastoor wat reg gemaak het met die Here, maar ek het gehoor hy het ‘n week later gesterf.  “Ja meneer, daardie ou pastoor was my vader.”  Sy het my geken en onthou; al het ek  haar nie geken nie. Hoe dankbaar was ek teenoor die Here, dat ek maar weer en weer gepreek het.  So het die ou pastoor te wete gekom dat ek genoeg van die taal ken om hom te kon help.

Inderdaad, volharding dra vrug! God is getrou!


Oupa (80 jaar) en die jongste kleinkind, Natanie (18 maande)

Die hele klomp bymekaar!