BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Tweede gebod. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Tweede gebod. Wys alle plasings

Maandag 25 Junie 2018

THE SHACK

- beslis 'n tranetrekker, maar gaan dit my nader na die waarheid trek?

Die blitsverkoperboek se boodskap doen nou weer die rondte nadat dit as ‘n film in 2017 uitgereik is. Baie mense getuig van ‘n positiewe impak op hulle lewens... 

Geskryf deur William P. Young, wat op die sendingveld grootgeword het, is die boek en film (geredigeer deur Stuart Hazeldine) waarskynlik ‘n eerlike poging om antwoorde te probeer gee oor die vraag na “onregverdige lyding” in hierdie gebroke wêreld van ons. “Waar is God in ‘n wêreld van onbeskryflike pyn?” Die verhaalvorm waarin die boek geskryf word is maar net die voertuig om teologie op ‘n verstaanbare manier aan die gewone man oor te dra. Die bedoeling van die boek en film is dus teologie en nie fiksie nie. Die kwessie is dus nie of dit ‘n oulike storie is nie. Hierdie werk moet teologies beoordeel word in die lig van die Skrif. 

Die vraag voor ons is of The Shack, Bybelse teologie of menslike spekulasie en verdraaiing is? 

Young se argumente in die bespreking van lyding word min of meer soos volg deur die uiters bekwame evangeliese teoloog en kerkplanter van New York, Tim Keller opgesom : 

Die ellende in die wêreld is die gevolg van die mens se misbruik van sy vrye wil. God het nie die kwaad gekeer nie sodat Hy ‘n groter en heerliker doel kan bereik, ‘n doel wat vir ons menslike verstand onverstaanbaar is. As mens verbitterd bly teenoor God weens ‘n bepaalde tragedie, dan plaas ons onsself in die plek van die Regter van die aarde. Dis ‘n taak waarvoor ons as nietige mense uiteraard nie opgewasse is nie! Daarom moet ons liewers ‘n ewige perspektief probeer kry waarin ons God se mense vol vreugde in sy heerlike teenwoordigheid sien. Dis wat met Mack die bedroefde vader van die vermoorde dogtertjie, Missy gebeur, as hy sy oorlede dogtertjie sien in die vreugdevolle teenwoordigheid van Jesus. So word sy hartseer genees. Hierdie is alles basiese waarhede van standaard pastorale teologie, alhoewel daar dalk te veel gemaak word van die vrye wil begrip. Tog soos Keller dan verder uitwys is daar ernstige vrae en probleme rondom hierdie storie van Young... 

Wat regtig pla is dat daar deurgaans in Young se verhaal elemente* is wat basiese Bybelse waarhede oor God ondermyn. 

Die God van die Bybel vind jy nie in die Shack nie! 

Die god van die Shack en die Drie-enige God van die Bybel kan moeilik met mekaar versoen word. In Young se storie word God die Vader deur ‘n Afro-Amerikaanse vrou, Papa uitgebeeld, Jesus bly (meer realisties) Jesus, ‘n Midde Oosterse skrynwerker en die Heilige Gees is ‘n Asiatiese vrou, Sarayu. Dis om die minste te sê, ‘n vreemde en selfs bisarre uitbeelding van die Drie-eenheid! Waarskynlik is dit Young se manier om te sê dat ons moet pasop om nie vooropgestelde idees oor God te koester nie. Mens sou net wou vra, wat het geword van die tweede gebod? Verbied dit nie juis alle spekulasie en selfgemaakte uitbeeldings van God nie? Moet ons nie maar eerder by die Skrif bly nie?

Te min Skrif en te veel filosofiese spekulasie! 

Die Bybel vertel vir ons immers duidelik genoeg wie God is en hoe Hy “lyk.” Jesus Christus, die vleesgeworde Woord is die beeld van die onsienlike God, die God wat Gees is! Jesus vertoon die heerlikheid van God aan ons, ‘n heerlikheid wat vol genade en waarheid is! (Johannes 1:1,14; Johannes 14:9,10; Kolossense 1:15-20) 

Om maar net een aspek van Young se uitbeelding van God te noem wat krap. Dis opvallend en steurend dat God die Vader uitgebeeld word as ‘n vrou. Ja, ek weet, inderdaad word daar by verskeie geleenthede in die Skrif moederlike en sagte eienskappe aan God toegedig, maar deurgaans in Sy amptelike titels gebruik God manlike titels : vader en nie moeder nie, koning en nie koningin nie!**  Jesus praat met sy Vader in die Hemel, nie met sy Moeder in die hemel nie! Die misleiding oor God gaan egter veel meer as oor ‘n metafoor wat vir sommige aan Godslastering mag grens. 

Die Shack swyg oor Goddelike toorn en straf. 

Die basiese Bybelse waarhede rondom sonde en verlossing is in gedrang en dit lei weereens tot ‘n skeeftrekking van God se karakter. So is die boodskap van die profete duidelik dat God sonde haat en straf, maar in The Shack word die indruk geskep dat sonde God glad nie meer pla nie! Dit blyk ook dat Young die totale verdorwenheid van die mens ontken en die skeiding wat sonde tussen God en mens veroorsaak ignoreer. 

"Papa" sê in die verhaal : “I am not who you think I am Mackenzie. I don’t need to punish people for sin. Sin is its own punishment, devouring from the inside. It is not my purpose to punish; it is my joy to cure it.” Dit terwyl die hele Bybel daarvan vol is dat God sonde straf! Wat dan van die sondvloed, die vernietiging van Sodom en Gomorra, die verwoesting van Jerusalem en die ballingskap, wonder mens? En vir diegene wat verder wonder, dis nie net in die Ou Testament dat God se toorn teenoor sondaars ontbrand nie! 

Ja, die Nuwe Testament leer nog steeds dat God sonde haat en dat elkeen wat die offer van Jesus verwerp die ewige straf tegemoet gaan. Van offer gepraat, dis juis as dit by die betekenis van die kruis kom dat die valse teologie van Young die duidelikste ontbloot word! In Young se onlangse boek, “Lies we believe about God” raak Hy skokkende bewerings kwyt oor die kruis. As God die oorsprong is van die kruis is, is Hy volgens Young ‘n “cosmic abuser” wat “cruel and monstrous” is! Mens sou wou vra, wat maak Young met die Bybelse gegewens oor God se beskikking van die kruis soos in Jesaja 53:10 en Handelinge 2:23.*** 

Die Shack is 'n aantasting van die kruisboodskap!

In ag genome Young se verdraaide beeld van God se heiligheid en die noodsaak van ‘n kruisoffer is dit ook te verstane dat The Shack se boodskap grens aan die leer van die universalisme, die teorie dat alle mense uiteindelik gered sal word. Natuurlik het die universalisme baie variasies. Young noem homself ‘n “hopeful universalist” en glo dat God sy Seun vir elke enkele sondaar gestuur het en dat die oordeel daarop sal uitloop dat elke sondaar Christus sal aanvaar en so met God versoen word. In “Lies we believe about God” is Young egter baie meer eksplisiet en gevaarlik as hy openlik verklaar: “Are you suggesting that everyone is saved? That you believe in universal salvation? That is exactly what I am saying!” En nog verder die skokkende kettery : “Every human being you meet . . . is a child of God” Dis nie hoe die Bybel oor kindskap van God praat nie!

Deur menslike verdorwenheid, sonde en skuld te herdefinieer word ‘n valse evangelie omhels wat dalk baie gewild gaan wees in ons dag, maar wat nie meer die krag van God is tot redding vir elkeen wat glo nie! 

The Shack, hoe goed ook al bedoel is nie waarheidsteologie nie! Ons gaan nie antwoorde kry vir ons vrae deur aan God se karakter en wese te torring nie! Ons kry die antwoorde in die Skrif!**** Ons gaan nie genesing vir ons sonde en pyn vind deur fiksie verhale nie. Die Woord is duidelik, ons almal word uitgenooi na die evangelie, God se oplossing vir die sonde en lyding van die wêreld, die kruisevangelie. Hierdie oplossing vereis geloof en lei tot bekering. Wie hierdie “groot verlossing” verwerp bly sonder hoop en sal nie die wraak van God kan ontvlug nie! (Hebreërs 2:3) 

Wie God wil ontmoet moet maar liefs wegbly van Young se kasarmte en gaan skuiling soek by die kruis! Daar kom God se liefde vir die mens en sy toorn oor sonde bymekaar. Dis waar die onbegryplike groot liefde van God vir sondaars aan ons bekend word en vrede, vergifnis en vreugde ons harte vervul! 

Die Shack is dalk gewild, maar dis gevaarlik! Dis in my opinie maar net nog ‘n voorbeeld van die sogenaamde Progressiewe Christendom wat eintlik maar 'n terugkeer na ou en gevaarlike dwalings is!

*Die bedoeling van hierdie kort kritiek op The Shack is nie om alle moontlike dwalinge hierin uit te wys nie. Daar is vele en baie ander teoloë het dit reeds elders aangespreek. 

**Hierdie dwaling om God te probeer “vervroulik” of skimpe in daardie rigting te maak, het lankal reeds ook in ons eie teologiese opleiding begin kop uitsteek. Prof. Johan Heyns het al tydens ons studiejare gesê dat God Homself as Moeder kon openbaar het en sy enigste dogter na die wêreld kon gestuur het. Natuurlik God kan enigiets doen. Die punt is, Hy het nie! Hy het Homself as Vader openbaar en Sy enigste Seun gestuur. In die teologie en lewenspraktyk moet ons ons met die Woord besig hou en nie met spekulasie nie! 

*** Jesaja 53:10 “Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly. As hy sy lewe as skuldoffer gee, sal hy ‘n nageslag hê en nog lank lewe, deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik.” 

Handelinge 2:23 “God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak.”

**** Moet jy dus gaan kyk? Goeie raad van David Mathis:
"We do not need a wilderness shack to hear from God. He gave us his word, through his appointed prophets and apostles in the Great Book, and he gave us the Spirit to illumine and apply our hearing. In short, the voices in your head are not God; they are you. If you want to hear God audibly, then read the Bible out loud." Ek sou hiermee graag wou saamstem!


Vrydag 03 Februarie 2017

JY KAN GOD NIE MANIPULEER NIE,

want God is anders as die afgode!

God is anders as die afgode! “Wel”, sal iemand miskien sê, “dis seker nie nodig om dit vir ons te vertel nie, ek bedoel wie weet dit nou nie?” Die waarheid is dat baie van ons dit nie weet nie, miskien teoreties, maar ons praktiese houding teenoor God wys dat ons oor Hom dink asof hy maar net nog 'n afgod is. Dat Israel dikwels hierdie verkeerde denke oor God gehuldig het is baie duidelik, ook uit 1 Samuel 4 :1-11. Die ongehoorsame Israeliete wat gedink het hulle kon God dwing om hulle teen die Filistyne te help as hulle die verbondsark saamneem na die slagveld toe... As ons 'n bietjie oor die saak nadink kom 'n mens tot die skokkende besef dat 'n baie groot persentasie van mense wat hulleself as Christene beskryf dieselfde foute begaan. 



Mense (ook binne in die kerk) dink oor God en hanteer Hom asof Hy maar net nog een van die afgode is. 



Die grootste dowwe kol in die kerk se denke is 'n verkeerde en gebrekkige Godsbegrip. Ons besef nie wie is die God met wie ons te make het nie. God word verwar met die afgode al word Hy by die regte naam genoem. Dit kom eintlik daarop neer dat ons vir onsself ‘n “god” gemaak het wat by ons behoeftes pas.

Om die verskil tussen die lewende God en die afgode duidelik te onderstreep is dit nodig om te vra : Hoe lyk die afgode? In watter opsigte is God anders as die afgode?

WIE EN WAT IS DIE AFGODE?

Afgode is menslike skeppings wat voortkom uit menslike gedagtes. In sommige gevalle word hulle fisies deur mense voorgestel of gemaak.

Omdat die afgode menslike skeppings is, is hulle vreeslik mens en sonde vriendelik. Die afgode het baie ruimte vir sonde... Dis lekker gode soos byv. die Kanaäniete se vrugbaarheidsgodsdiens wat gepaard gaan met allerhande losbandigheid en uitspattigheid wat goed aangepas is by die mens se sondige begeertes. Dink maar net ook aan die Griekse gode en godinne se losbandige eskapades!

Afgodery is eintlik maar duiwelsdiens en Satan se doel hiermee is om die mens te vernietig. Die afgode vra 'n ontsaglike prys en is baie wreed. Afgodsdiens behels dikwels selfkastyding of selfpyniging (dink aan hoe die Baälpriesters hulleself stukkend gekerf het op Karmelberg) en eis selfs kinderoffers en natuurlik lei dit tot die ewige verdoemenis. (maar dit besef die misleides natuurlik nie) Hierdie vernietigende aspekte is natuurlik net so waar van die moderne afgode dink maar byv. aan die gevolge van hebsug/gierigheid. (dit word pertinent afgodery genoem in Efesiërs 5:5)

Baie belangrik – die afgode is manipuleerbaar sodat hulle tot voordeel van die mens optree. Hierdie manipulasie vind plaas deur die regte rituele en formules. Die afgode is nie so gesteld op die hartsgesindheid nie, solank die regte offers, woorde, rites en voorskrifte gevolg word doen die afgode wat ons wil hê : gee reën en oeste, help met liefdesprobleme en vrugbaarheid, sukses en rykdom...

Die afgode staan dus eintlik in diens van die mens wat hulle gemaak het. Daarom is afgode hoofsaaklik etnies gebonde. Dagon is ons Filistyne se god, hy tree in ons belang op. Baäl is weer die van die Kanaäniete ens. (En mens wonder sommer, het baie van ons Afrikaners nie al probeer om God te reduseer tot 'n "god" wat altyd aan die Afrikaner se kant is nie??)

Omdat afgode eintlik maar net 'n menslike skepping is, is hulle beperk en in ‘n sekere sin van mense afhanklik. Mense bring kos vir hulle en verskaf woonplek. (tempels) 

Israel se optrede in hierdie krisis tyd wys baie duidelik dat hulle oor die lewende God dink in terme van hierdie afgodsdenke. Wat gebeur hier? 

God het besluit om Sy volk te straf. Hy gebruik die Filistyne as instrument in sy hand. Die volk word daarom verslaan deur die Filistyne, soos Hy dit bekend gemaak het aan Samuel. Hulle besef dit, maar nou maak hulle wat hulle dink ‘n slim plan is.... “Toe die manskappe van Israel in die laer kom, het die leiers gesê: "Waarom het die Here ons vandag voor die Filistyne laat vlug? Kom ons gaan haal die verbondsark van die Here uit Silo na ons toe dat dit by ons kan wees om ons te red uit die greep van ons vyande." (1 Sam 4:3) Hulle redenasie is duidelik die van afgodsdienaars...”wag 'n bietjie ons gaan hierdie Filistyne 'n ding wys, God gaan vir ons veg en ons gaan seker maak dat Hy aan ons kant is. Gaan haal die ark, waar die ark is sal Hy mos wees en dan sal Hy aan ons laat wen!”

Israel dink hulle kan God dwing en manipuleer om in hulle belang te veg!

GOD IS (HEERLIK) ANDERS!

In skrille maar ook heerlike kontras staan die Lewende God teenoor die afgode. Hy is waarlik God, van ewigheid af. Kom ons stip net 'n paar aspekte aan wat hoofsaaklik uit hierdie stuk geskiedenis in 1 Samuel na vore kom :

God is nie deur mense gemaak nie, trouens Hy self en Hy alleen is die Skepper van die mens en alles wat bestaan. Hy openbaar Homself aan wie Hy wil. Hy slaan die priester Eli oor en maak Homself aan die jong seun Samuel bekend. Hy het geen beperkings nie. Hy is die Almagtige. Daarom het God het Israel nie nodig nie en is Hy van geen mens en geen priester afhanklik nie. Terloops, Hy benodig ook nie offers as ‘n lewensmiddel nie, want buitendien al die vee behoort aan Hom. Hy is ook nie verleë oor die tempel as 'n woonplek nie. Salomo* het dit duidelik geweet. Hy handhaaf Homself. Dit wat in Dagon se tempel gebeur het (lees 1 Samuel 5:1-5), bewys dat Hy nie verslaan is nie, maar dat Hy selfs heerskappy voer in die tempel en land van Sy vyande. Hy tree nie op ter wille van mense as sodanig nie, Hy tree op ter wille van Sy Naam en sy eer.

Die ware God dien nie die mens nie, mense is veronderstel om Hom te dien volgens Sy voorskrifte. Hy kan nie gemanipuleer word nie en Hy laat Hom nie misbruik nie. Israel se poging misluk jammerlik en dit lei tot 'n ramp... Daar was 'n groot slagting, hulle moes vlug en die ark is deur die vyand buit gemaak. God se arm kan nie gedraai word nie. Ons afkoms of bepaalde gebruike en rituele veroorsaak nie dat Hy outomaties aan ons kant is nie.** 

Die Heilige God, moet aanbid word volgens Sy voorskrifte, en met eerbied. Hy self bepaal die voorwaardes en manier van aanbidding. Dit moes die mense van Bet Semes op 'n harde manier uitvind toe hulle die ark met sy terugkoms in Israel onwettig bekyk het. (1 Samuel 6:19).*** 

Hoe tree mense vandag teen God op? By nadere ondersoek blyk dit baie dink aan God en oor God asof Hy eintlik maar net nog 'n afgod in ons diens is. Ons ontwerp 'n “god” in ons gedagtes wat by ons behoeftes pas. Ons laat Hom in ons lewens toe in soverre ons dink Hy vir ons nuttig kan wees.

Ons betrek God by ons planne i.p.v. in te val by Sy wil en planne. Dikwels is hierdie planne direk teen Sy geopenbaarde wil. Dink aan skelm besigheidstransaksies, huwelike met ongelowiges en projekte wat net op ons eie eer ingestel is en dan het ons die arrogante vermetelheid om Hom te vra dat hy dit sal seën. 

Ons maak God ook klein in ons denke. Al meer mense twyfel oor Sy almag en soewereiniteit. Mense praat en dink asof God nie volmaak in beheer is nie. Party mense betwyfel God se almag deur in vrees vir die duiwel te leef... 

Daar is al hoe meer 'n terugkeer na ritualisme. Die dwase mens dink God kan tevrede gestel word deur die regte rituele en formules! Vir sommiges is die doop of belydenisaflegging so ‘n formule wat saligheid en sukses verseker. 

Ons verlaag God tot afgodsstatus deur sy seën en hulp net by sekere geleenthede in te roep sekere geleenthede... By begrafnisse en troues word God se naam gehoor en gaan ons kerk toe, maar die res van ons lewens leef ons soos ons wil! 

Ons gee ons eie inhoud aan Bybelse terme : Die term geloof is baie gewild selfs onder die goddeloses! Hulle dink : Geloof in God sal die lewe beter laat uitwerk vir jou! Dis egter ‘n selfsugtige afgodsgeloof en dis nie wat die Woord met geloof bedoel nie! 

Gebed word misbruik as ‘n towerstaf dat God MY drome moet waarmaak. In die Bybel gaan gebed oor onderwerping aan God se wil. 

Genade is 'n denkmantel vir 'n losbandige lewe volgens ons eie begeertes en behoeftes. Die Woord waarsku baie duidelik teen hier die misbruik van genade.

Die godsdienstige praktyke van baie wat as Christene bekend staan kom neer op 'n oortreding van die tweede gebod. Hulle maak 'n god in hulle gedagtes, volgens hulle behoeftes en grille en koppel die naam van God van Jesus aan Hom.

Hierdie geskiedenis maak dit baie duidelik dat God Hom nie laat manipuleer nie. Israel se kastige slim plan om God te betrek het in hulle gesigte ontplof met skrikwekkende gevolge...

KOM ONS BESEF WIE GOD IS...

Ons moet opnuut weer besef God het ons nie nodig nie. God kan uit klippe kinders van Abram maak.

Ons moet opnuut weer besef God kan nie geflous word nie. 'n Bybel voor my bed beteken nie dat Hy aan my kant is nie! Ons moet opnuut weer besef God handhaaf homself, Hy is nie verleë oor ons pogings of (suinige) bydraes nie!

Ons moet opnuut weer besef ons kan God nie met die regte tegnieke dwing of oorreed om by ons betrokke te wees en ons te seën volgens ons verwagtings nie. Dis nie regte gebedstegnieke nie, maar die gebed van die regverdige m.a.w. die een wat in die regte verhouding met Hom staan wat groot krag het!

Ons moet opnuut weer besef dis nie moderne kommunikasie en preek metodes (of toegang tot die internet) nie, maar geheiligde en gehoorsame instrumente wat deur Hom gebruik word. 

Ons moet opnuut weer besef dis nie obskure geestelike oorlogvoeringstegnieke en spreek-lewe resepte wat ons die oorwinning oor die bose sal laat behaal nie, maar gehoorsaamheid aan die waarheid van die Woord.

DIE WEG TOT GOD

Wel, hoe moet ons die Lewende God benader? Slegs binne 'n persoonlike verhouding of anders gestel ‘n weg van gehoorsaamheid en heiligheid. Ja, ons self kan nie aan sy standaarde voldoen nie, maar deur Jesus het Hy ons in ons sondenood te hulp gekom. Jesus Christus is die Weg en die Waarheid en die Lewe. Ons kan God nie beveel, manipuleer, misbruik en om die bos lei nie, maar (en dis onbeskryflik heerlik) ons kan wel Sy genadetroon nader in heilige eerbied in die naam van ons ewige hoëpriester Jesus Christus. Ons nader God nie met valse motiewe volgens uiterlike rituele en voorgeskrewe formules nie, maar deur die verdienste van Jesus met opregte harte.  Ja, deur Jesus word Hy ons Vader en mag ons  met vrymoedigheid ons harte voor Hom uitstort en Hy sal hoor...AMEN

*Salomo se gebed by die inwyding van die tempel wys duidelik dat hy besef dat God nie in ‘n gebou wat deur mense opgerig is woon nie. "Sou God werklik op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het!” (1 Konings 8:27) 

** Dink ook aan die waarskuwing van die profeet Jeremia (lees Jer 7:4)...... "die Here se tempel, die Here se tempel..." (Kliek op TEMPEL)

*** Israel was traag om hierdie les te leer. Baie jare hierna moes Ussa ten spyte van sy goeie bedoelings ook die verskriklike gevolge dra omdat hy nie die voorskrifte van God ernstig opgeneem het nie en aan die ark geraak het. “Toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, gryp Ussa na die ark van God om dit teë te hou, want die osse het gestruikel. Die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam en God het hom net daar, by die daad van heiligskennis, getref. Hy het op die plek gesterf, langs die ark van God. ( 2 Samuel 6:6,7)

VERDER. HOE LYK HIERDIE "AFGODSDIENS" EN MANIPULASIE IN DIE PRAKTYK ONDER ONS AFRIKANERS? Kliek op AFRIKANER BYGELOOF