BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Herlewing. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Herlewing. Wys alle plasings

Maandag 01 Mei 2017

METODISME

- vloek of seën? 

Metodisme is een van daardie vloekwoorde in die kerklike wêreld waarvan min mense wat die term gebruik presies weet wat hulle daarmee bedoel. ‘n Algemene beskuldiging wat sommer onnadenkend rondgeslinger en gehoor word is : “Die Skotse predikante het die Metodisme in die NG Kerk ingevoer” of “In Suid-Afrika word dr. Andrew Murray die draer van die Metodistiese denkstrominge.”  Dit maak dan sommer by implikasie van dr. Andrew Murray ‘n vreeslik gevaarlike dwaalleraar, want daar word ook beweer : “Die hoofgedagte van Metodisme is dat elke mens die saad van Goddelike genade in hom dra. Dit beteken dat dit van die mens self afhang of hy in die genade deel of nie. Daardeur verwerp hulle die uitverkiesingsleer.” Nou wonder mens van watter Metodisme word hier gepraat, aangesien een van die grondleggers van die Metodisme, George Whitefield juis ‘n vurige verdediger van die uitverkiesingsleer was!

Soms word die indruk gewek dat die etiket van die gewraakte Metodisme ‘n baie breë kwas is om almal te smeer wat erns probeer maak met Bybelse begrippe soos geloof, bekering en radikale lewensheiliging.  Sommige maak selfs die Bybelse opdrag om mense tot ‘n geloofsbeslissing uit te daag af as Metodisme. (Asof Johannes die Doper, Paulus en Jesus dit nie gedoen het nie!) Party is oortuig bidure is “Metodisties” en moet daarom liefs vermy word. Vir ander is  die begrip “herlewing” per definisie ‘n metodistiese dwaling. Is dit histories en teologies korrek en regverdig om sulke aannames te maak? Vermoedelik is daar kampvegters vir die suiwer leer wat die term “Metodisme” dalk met goeie intensies gebruik om kritiek te lewer op die oppervlakkige evangelisasie metodes en revivalisme wat by die semi-Pelagiaan Charles Finney (amper ‘n eeu later) ontstaan het. Dat ons skepties behoort te wees oor die sienswyses en praktyke wat party hedendaagse “evangelicals” by hom oorgeneem het, spreek vanself,  maar om dit onder die noemer van Metodisme te hanteer kan nie histories of teologies geregverdig word nie.  ‘n Bietjie  agtergrond kan dalk help om die verwarring op te klaar en baie van die wilde stellings te temper.

METODISME

Waarvandaan kom die begrip Metodisme?  Daar is duidelike historiese bewyse1. dat  die term van vroeg af deur George Whitefield op homself van toepassing gemaak is. Dis eers later deur John Wesley gebruik. Hierdie twee saam met John se broer Charles en verskeie ander was lede van die sogenaamde “Holy Club” in Oxford in 1729. Op hierdie vroeë stadium was die “Holy Club” natuurlik geensins evangelies van aard nie. Die fokus was streng geestelike dissipline en asketisme, maar sonder evangeliese sekerheid en blydskap. Die evangeliese herlewing en die kragtige prediking daaraan verbonde het eers later plaasgevind nadat Whitefield en die Wesleys die bevryding van die vryspraak deur die geloof in Christus alleen proefondervindelik gesmaak het. Niemand sal seker presies weet waarna die term “Metodisme” oorspronklik verwys het nie, maar Wesley se verklaring was  soos volg : “A Methodist is one who lives according to the method laid down in the Bible.” Dié benaming is natuurlik ook deur die teenstanders van die Groot Evangeliese herlewing van die 18de eeu gebruik om almal wat deur die herlewing beïnvloed is mee aan te dui hetsy diegene binne die Kerk van Engeland of daarbuite.  Eers later is die woord gebruik om Metodiste van Anglikaanse evangeliese gelowiges te onderskei.  Verder moet mens ook in ag neem dat die noemer “Metodiste” in ‘n engere sin na die volgelinge van John Wesley (wat Arminiaanse oortuigings gehuldig het) kon verwys, maar in ‘n breër sin ook kon verwys na Whitefield en Lady Huntingdom  se volgelinge wat die leerstellings van die Calvinisme onderskryf het.  Die werk van Whitefield en ander Calvinistiese herlewingspredikers soos Howel Harris en Daniel Rowland het immers later uitgeloop op die totstandkoming van die Calvinistic Methodist Connexion.

GEORGE WHITEFIELD

Dit spreek dus van absolute onkunde om Whitefield en Wesley in dieselfde teologiese mandjie te gooi bloot omdat hulle vriende en beide groot predikers was tydens die Groot Evangeliese Herlewing van die 18de eeu. George Whitefield, een van die invloedrykste predikers in die geskiedenis van die Christendom  was ‘n oortuigde Calvinis2. en het drasties en duidelik van Wesley verskil oor laasgenoemde se leer van perfeksionisme en Arminianisme. Enige iemand wat hieroor sou twyfel kan gerus maar net Whitefield se uiters bekwame antwoord lees wat hy aan Wesley geskryf het in reaksie op dié se aanval op die Calvinisme in sy preek getiteld “Free Grace”. Whitefield berispe Wesley onder andere met die volgende sterk taal : “Dear Sir, for Jesus Christ’s sake, consider how you dishonour God by denying election. You plainly make salvation depend not on God’s free-grace, but on man’s free-will…”  Hou ook in gedagte dat Whitefield besondere aanklank gevind het by die hoog aangeskrewe Calvinistiese teoloog (en kenner van herlewing) Jonathan Edwards van die Verenigde State. Juis ook as dit kom by die onderwerp van herlewing moet ons versigtig wees vir oorhaastige uitsprake en ongeldige kritiek. Om alle voorstanders van ware herlewing3. (wat iets heel anders is as die revivalisme van die latere Charles Finney) in ‘n Metodistiese (bedoelende Arminiaanse) kamp saam te jaag, is teologies onverantwoordelik, histories onjuis en getuig van onkunde oor die kragtige genadewerking van God gedurende herlewings waarvan die vrugte die toets van die tyd deurstaan het. Dink maar byvoorbeeld aan die heerlike en blywende vrug van die Koreaanse herlewing…

SKOTSE PREDIKANTE


Die Kaapse goewerneur Lord Charles Somerset het vanaf 1822 ‘n verengelsingsbeleid deurgevoer. Hiervoor sou hy ook die kerk probeer inspan. Die dringende tekort aan predikante weens die aansienlike vermeerdering van gemeentes het ‘n gaping vir hom gelaat om Engelsprekende predikante aan te stel en so op subtiele wyse sy doelwitte te help bereik. Drie Skotse leraars wat voorheen in diens van die Londense Sendinggenootskap4. was naamlik George Thom, John Evans en John Taylor is in NG gemeentes aangestel. In 1820 het die goewerneur vir ds. Thom na Skotland gestuur om nog Skotse predikante te gaan werf. Tydens die Kaapse sinode van 1834 was meer as die helfte van die predikante van Skotland afkomstig.  Dit spreek vanself dat hulle ‘n beduidende invloed in die NG Kerk sou uitoefen. Wat ons nie uit die oog moet verloor nie was dat die Skotse predikante waaronder ds. Andrew Murray (die bekende dr. Andrew Murray  en prof. John Murray se vader) Calviniste was. Dit was ‘n deurleefde evangeliese Calvinisme van die soort waarvan  die lewe en werk van bekende Skotse leraars uit daardie tyd waaronder Andrew en Horatius Bonar, Robert Murray McCheyne en die latere sendeling in China, William Burns5. getuig. Die verskynsel van herlewing binne ‘n Calvinistiese konteks was iets waarmee hulle goed bekend was.  (Dink aan die Kilsyth Herlewing van 1838-39 in Skotland.)  Alhoewel goewerneur Somerset klaarblyklik duistere oogmerke gehad het met die invoer van Skotse predikante, het hierdie leraars met hulle sterk evangeliese en puriteinse uitkyk ongetwyfeld daartoe bygedra dat daar ‘n behoefte in die kerk gestimuleer is na ‘n meer proefondervindelike godsdiens. Daar was ‘n verlange na ‘n geestelike ontwaking of herlewing.

HERLEWING

Dit bring ons dan by die evangeliese herlewing wat in die jare 1860-62 in die NG Kerk, maar ook in ander kerkgenootskappe in Suid-Afrika ondervind is. Hierin het dr. Andrew Murray, maar ook ander predikante (wat terloops nie Skotse wortels gehad het nie) soos G.W.A. van der Lingen, J.H. Neethling  en N.J. Hofmeyer ‘n groot rol gespeel. In hierdie tyd het baie lidmate ‘n persoonlike belewenis van die heil in Christus ervaar en was daar ‘n merkbare groei in toewyding in die kerklike lewe.  Belangrike vrae om te antwoord is onder meer : Hoe geregverdig is dit om Metodisme te koppel aan die evangeliese herlewing van die 1860’s in Suid-Afrika? Wat was dr. Andrew Murray se rol hierin? En wat was die vrugte van die herlewing?  

ANDREW MURRAY

Ons moet pasop om herlewing nie outomaties te assosieer met die verwerping van die uitverkiesingsleer (onthou vir Whitefield) en ortodoksie in die algemeen nie. Dit was juis Andrew Murray wat ‘n kragtige stryder teen die liberalisme was. (En hoe dringend nodig het die NG Kerk  tog vandag weer so ‘n dapper persoon wat vir die waarheid sal opstaan!)   Om net twee voorbeelde te noem. Murray  moes die kerk se gereformeerde standpunt in ‘n hofsaak verdedig  toe die advokaat siek geword het. Hy het toe ‘n toespraak van vier uur gelewer en die saak is gewen!6.  Murray het ook die liberalisme bestry in sy  “Het Moderne Ongeloof.”   Laat ons nie vergeet nie, dr. Andrew Murray was ‘n predikant van gereformeerde oortuiging wat selfs ‘n kommentaar op die Heidelbergse Kategismus geskryf het.  Inderdaad het hy ook sy teologiese swak plekke gehad waaronder sy siening oor  Goddelike genesing en sy affiniteit vir die Keswick leer van ‘n dieper lewe, maar hy was alles in ag genome ‘n man van God  met ‘n reuse positiewe geestelike nalatenskap.  Dis wel verstaanbaar dat sekere fasette van die herlewingsprediking  aanstoot sou kon gee soos die beklemtoning van bekering (veral seker vir onbekeerdes!) en ‘n sterk emosionele element versterk deur die sing van opwekkingsliedere en passievolle Woordverkondiging. Beslis  is  daar altyd die gevaar van uiterstes, eensydighede  en oorbeklemtoning wat mag voorkom, maar in geheel gesien is die lewe en praktyk van die NG Kerk oneindig verryk deur die herlewing waarin dr. Andrew Murray en baie ander ‘n groot aandeel in gehad het.  Buitendien is alle moontlike negatiewe gevolge van bogenoemde niks in vergelyking met die gevaar van verbondsoutomatisme en valse gerustheid nie. Die persoonlike ervaring van God se genade in Christus, erns met lewensheiliging,  stimulering van ‘n innige gebedslewe (soos ook tydens bidure en Pinksterdienste)  en ‘n sendingywer (waarvan die geskiedenis van die NG Kerk so merkwaardig getuig) is vrugte van herlewing wat tot die eer van God en die uitbreiding van sy Koninkryk gelei het!7.  As hierdie dinge dan deel van die “Metodisme” sou wees, dan moet ons dit as ‘n seëning uit die hand van die Here beskou.8.   

Uiteraard kan dit nie ontken word dat  die aantygings oor “Metodisme” in die NG Kerk  vir baie ‘n ernstige saak was nie.  Dit sou immers ook aangevoer word as een van die redes vir die hartseer afskeidings wat die NG Kerk beleef het met die totstandkoming van die Gereformeerde Kerk in 1859 en ook later die stigting van die Gereformeerde Kerke onder die Kruis.  Gewoonlik is sulke gebeure baie kompleks vanweë misverstande, plaaslike persoonlikheidsbotsings en omstandigheidsfaktore en moet mens sekerlik baie versigtig wees om “Metodisme” op ‘n simplistiese wyse die oorsaaklike sondebok vir hierdie kerklike onenigheid te maak. 9.  

Histories gesien bly dit in elk geval ‘n vraag of die invloed wat dr. Andrew Murray en ander op die kerk gehad het as Metodisme beskryf kan word.  Daar sou moontlik ‘n indirekte lyn aangedui kon word, maar die direkte  wortels van hulle oortuigings en praktyke moet  eerder by die Réveil, ‘n geestelike beweging wat in Nederland  (en ook ander Europese lande) van 1830 tot 1850 gevoel is, gesoek word. Die Réveil het klem gelê op die innerlike geloofslewe en praktiese Christenskap. Dit was ‘n broodnodige reaksie op die geestelike verval binne in die kerk. Onder die invloed van die Réveil het daar in 1844 ‘n studentevereniging SECOR DABAR  aan die Universiteit van Utrecht tot stand gekom met die doel om persoonlike bekering en ‘n praktiese vroom lewenswandel  te bevorder. Deur hierdie vereniging het Afrikaner studente soos John en Andrew Murray, N.J. Hofmeyer, J.H. Neethling en ander  wat in daardie jare in Utrecht gestudeer het, met die beginsels van die Réveil kennis gemaak en weer as latere geestelike leiers die NG Kerk in hierdie rigting beïnvloed. Wat die herlewing van die 1860's betref is dit belangrik om kennis te neem van die uitbreek van herlewing in verskeie lande in 1859 soos onder andere Ierland, Skotland en die VSA. Dit het niks te make gehad met Metodisme nie, maar het beslis meegewerk om die behoefte aan 'n geestelike ontwaking ook in Suid-Afrika te stimuleer. (Kliek op ULSTER HERLEWING as 'n voorbeeld)

Weens die komplekse geskiedenis en veelsydigheid van die Metodisme  lyk dit vir my of  mens maar baie versigtig moet wees om dit sommer as ‘n algemene etiket te gebruik om afwykings van die gereformeerde leer mee aan te dui en persone met wie mens nie heeltemal saamstem nie verdag te maak. As gelowiges mag en moet ons mekaar in broederlike liefde wys op gevare en foute, selfs ook oor kerkgrense heen. Hierdie teregwysings moet duidelik en sinvol wees sodat dit tot die geestelike welsyn van die aangesprokenes mag strek. ‘n Vae en ongenuanseerde beskuldiging van Metodistiese invloede dien myns insiens nie so ‘n doel nie.



Voetnotas

1. Dallimore, A., George Whitefield, Volume 1, p381ev.

2. Jonker, W.D., Uit Vrye Guns Alleen, p34.

3. Met “ware herlewing” word hier bedoel ‘n soewereine werk van God se genade op ‘n groot skaal wat lewens oor ‘n wye front radikaal aanraak en verander. Dit kan nie deur mense georganiseer word nie, maar is ‘n bonatuurlike heerlike ingrype van God. Vir ‘n duidelike hantering van die verskil tussen “herlewing” en “revivalisme” sien Murray, I. H. se Revival & Revivalism – The Making and Marring of American Evangelicalism 1750-1858, The Banner of Truth Trust, 1994.

4. Was hierdie voormalige sendelinge van die Londense Sendinggenootskap Calvinisties van oortuiging? ‘n Dieptestudie hieroor kan seker van groot waarde wees, maar val buite die skopus van ‘n kort skrywe soos hierdie. Daar is egter byvoorbeeld geen rede om die Calvinisme van iemand soos ds. George Thom te betwyfel nie. Sy leermeester by die sendingseminarie, Dr. David Bogue was ‘n Calvinis met ‘n sterk geloof in predestinasie. Na Thom se aankoms in die Kaap in Oktober 1812 het hy betrokke geraak by die 93rd Highland Regiment en spesifiek by ‘n Calvinistiese vereniging wat sedert 1808 tussen die soldate bestaan het. Van ds. Thom se voorstelle by die sinode van 1824, nadat hy ‘n leraar van die NG Kerk geword het, het ingesluit dat daar ten minste een keer per maand uit die Heidelbergse Kategismus gepreek word. Sien Christian Library (internet), George Thom (1789-1842): Scottish pioneer in South Africa (outeur onbekend). Vir ‘n evaluering van die enorme positiewe bydra van die Skotse leraars in die NG Kerk, sien Sass, F. W., The Influence of the Church of Scotland on the Dutch Reformed Church of South Africa (ongepubliseerde Ph.D. tesis, University of Edinburgh, 1956)

5.Interessant, as negejarige skoolseun, het Andrew Murray se pad met die van Burns gekruis in Skotland. Murray is natuurlik in Graaff-Reinet gebore, maar vir skoolopleiding oorsee gestuur. Heiberg, C.F., A Heart on Fire: The Life of Andrew Murray (1828-1917)

6. Ibid.

7. ‘n Boom word aan sy vrugte geken en die sendingywer wat kenmerkend was van Murray se fisiese en geestelike nasate spreek boekdele. Elkeen wat kennis dra van die merkwaardige sendingpogings van die NG Kerk dwarsoor Afrika en tot sover as die destydse Ceylon sal hiervan kan getuig.

8. Die kerkhistorikus Prof. P.B. van der Watt skryf dan ook : “Die meer praktiese inslag wat die Ned. Geref. Kerk ten gevolge van sy kontak met die Metodisme gekry het, moet as ‘n bate erken word.” Van der Wat, P.B., Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1824-1905, p24. Van der Watt onderskei ongelukkig self ook nie duidelik tussen die Arminiaanse en Calvinistiese vorm van die Metodisme nie.

9. In alle billikheid moet dit gemeld word dat daar ook ander redes vir die afskeiding van 1859 aangevoer word soos die kerk-staat verhouding, kollegialisme en natuurlik die Gesangekwessie. Met sommige van hierdie redes kan mens inderdaad meer simpatie as met ander hê. (Interessant genoeg, die Skotse leraars was juis die grootste beswaarmakers teen die staat se invloed in kerklike sake.) Die doel van hierdie kort artikel is egter nie om die redes van afskeiding te beoordeel nie, maar slegs om aan te dui dat die beskuldiging van “Metodisme” so maklik op ongenuanseerde en onverantwoordelike wyse gebruik word.

Woensdag 13 Julie 2016

AS DIE DANSBAAN LEEGLOOP

- en die kerk raak vol, dan besef jy God werk en niemand kan Hom keer nie...

Ek ontvang nou die dag ‘n brief van my dierbare moeder met my verjaarsdag. Daarin skryf sy onder andere : “Ja, toe vind ek weer die boek van Duncan Campbell hier... Ontdek dat dit presies 60 jaar gelede is wat hy in SA was en ek hom gehoor het. Daar het ek gehoor wat God kan doen as mense bid en die Woord suiwer verkondig word.”

Ek het toe weer bietjie gaan nalees oor Duncan Campbell, sy ingrypende bekering as jongman en sy betrokkenheid by die merkwaardige herlewing op die Hebrides eilande aan die kus van Skotland. Dis ‘n inspirerende verhaal van die krag van God om sondaars tot bekering te bring, die krag van God wat in werking kom as daar gebid word... Hierdie werk van God was so aangrypend en heerlik dat die dansbaan sy glans verloor en mense eerder na die kerk gestroom het... (in ons gemeentes is dit as ‘n reël net mooi die teenoorgestelde)

Duncan Campbell se ouers was Christene en hy het dus met die evangelie grootgeword. Na skool het hy egter die pad van die wêreld geloop. Hy was ‘n goeie musikant en was in groot aanvraag om by danse en konserte te speel. Dit was tydens een so ‘n geleentheid in Desember 1913 dat sy gedagtes skielik weggedraai het van die heuwels van Skotland na die heuwel Golgota en hy is oorweldig deur ‘n diepe sondebesef. Hy het so bewus geword van die leegheid van sy lewe dat hy nie in staat was om verder te speel nie. Die man in beheer het gedink hy het siek geword en toe Duncan vir hom sê dat dit sy sonde was wat hom gepla het, is vir hom gesê dat hy gou daaroor sou kom. Duncan kon die gevoel egter nie afskud nie en het met ‘n onstuimige gemoed die geleentheid verlaat. Interessant genoeg het hy toe langs die pad ‘n vriend raakgeloop wat ‘n soortgelyke ervaring gehad het. Die vriend het egter besluit om ‘n keuse vir die Here tot later uit te stel. Duncan was egter vasbeslote om die saak met die Here uit te maak en het verklaar : “I'm going home to get right with God tonight."

BIDDENDE OUERS

Toe Duncan by die saal verbystap waar hy as kind Sondagskool gehad het, was hy verbaas om die ligte aan te sien, want dit was al omtrent middernag. Hy het by die deur gaan staan en luster en gehoor hoe sy vader besig was om te bid. Dit was ‘n byeenkoms van die Faith Mission. Duncan het ingegaan en gaan sit. Iemand het oor die teks gepraat in Job 33:14 wat sê : "God speaketh once, yea twice, yet man perceiveth it not.” Sy sondebesef het nou onhoudbaar geword en hy het die saal verlaat. Op pad huis toe het hy verskeie kere gestop en tot God geroep om genade. By die huis aangekom vind hy sy moeder op haar knieë, besig om te bid. Sy kon weens besoekers nie die byeenkoms in die saal bywoon nie. Sy het Duncan aangemoedig om geen tyd te mors om vrede te maak met God nie. Hy het na die skuur gegaan en in sy moedertaal Gaelies gebid : “Here ek weet nie wat om te doen nie, ek weet nie hoe om te kom nie, maar as U my sal vat soos ek is, kom ek nou” Terwyl hy so bid, is sy gedagtes gevul met die belofte van God in die woorde van Jesus in Johannes 5:24 , "He that heareth my word, and believeth on him that sent me, hath everlasting life, and shall not come into condemnation; but is passed from death unto life." (John 5:24). Met die vreugde van verlossing in sy hart is hy haastig terug na sy moeder en saam het hulle die Here gedank vir sy genade.

Spoedig het Duncan ‘n getuie vir die Here geword en is kragtig deur hom gebruik. Soos duisende jongmanne van sy tyd is hy ook deur die gruwels van die Eerste Wêreld Oorlog. Hy het later as predikant ook ‘n tyd van geestelike droogte en onvrugbare diens deurgemaak, maar is weer deur die Here opgerig en herstel.

God het hom toe gebruik in die kragtige herlewing wat oor die Hebrides elande gespoel het. 

WAT IS HERLEWING?

Oor die feit dat herlewing nie mensewerk is nie, maar ‘n bonatuurlike ingrype van God was Duncan Campbell baie uitgesproke :

“There are two things that I would like to say in speaking about the revival in the Hebrides. First, I would like to make it perfectly clear that I did not bring revival to the Hebrides. It has grieved me beyond words to hear people talk and write about the man who brought revival to the Hebrides. My dear people, I didn't do that. Revival was there before I ever set foot on the island. It began in a gracious awareness of God sweeping through the parish of Barvas.

Then I would like to make it perfectly clear what I understand of revival. When I speak of revival, I am not thinking of high-pressure evangelism. I am not thinking of crusades or of special efforts convened and organized by man. That is not in my mind at all.

Revival is something altogether different from evangelism on its highest level. Revival is a moving of God in the community and suddenly the community becomes God conscious before a word is said by any man representing any special effort.”

TWEE OU TANNIES BEGIN BID

Die herlewing het sy oorsprong gehad by twee ou dames, die susters Peggy and Christine Smith van onderskeidelik 84 en 82 jaar (een was stokblind), wat met ‘n swaar las op hulle harte oor die bedenklike geestelike toestand begin bid het. Die toestand van die kerk het hulle baie ontstel, daar was nie ‘n enkele jong persoon wat die eredienste bygewoon het nie. Die vers wat hulle aangegryp het was : “Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek sal my Gees op jou kroos giet en my seën op jou nakomelinge." (Jesaja 44:3) Wat 'n geweldige belofte! Hulle het twee keer ‘n week begin bid. Op ‘n Dinsdag het hulle van die aand tienuur tot drie of vier uur die volgende oggend. Een nag het hierdie dames ‘n visioen gehad van die kerk vol jong mense en ‘n vreemde leraar op die kansel. Dit het hulle aangespoor om die predikant en sy kerkraad ook uit te daag om te begin ernstig bid, wat toe ook gebeur het. 

HERLEWING EN HEILIGHEID

In so ‘n biduur het die herlewing eintlik begin toe ‘n diaken diep geraak is deur Psalm 24 se woorde : “Wie mag die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom gaan staan? Dié een wie se hande rein en wie se hart suiwer is, wat alle bedrog vermy en geen vals eed aflê nie.” Daar het hulle besef dat herlewing gekoppel is aan heiligheid.

‘n Bewustheid van God het die eiland aangegryp. Een van die dames het voorgestel dat hulle ‘n prediker moes nooi. Iemand is genooi wat dit van die hand gewys het, maar vir Duncan Campbell voorgestel het. God het hom toe wonderbaarlik gebruik.

Campbell self vertel van die aand wat hy daar aangekom het, hoe die gehoor skielik van 300 tot 800 gegroei het en hoe God soewerein begin werk het :

I shall never forget the night that I arrived... We got to the church about quarter to nine to find about 300 people gathered. I would say about 300 people. And I gave an address. Nothing really happened during the service. It was a good meeting. A sense of God, a consciousness of His Spirit moving but nothing beyond that. So I pronounced the benediction and we were leaving the church I would
say about a quarter to eleven.

Just as I am walking down the aisle, along with this young deacon who read the Psalm in the barn. He suddenly stood in the aisle and looking up to the heavens he said, "God, You can't fail us. God, You can't fail us. You promised to pour water on the thirsty and floods upon the dry ground - God, You can't fail us!"

Soon He is on his knees in the aisle and he is still praying and then he falls into a trance again. Just then the door opened--it is now eleven o'clock. The door of the church opens and the local blacksmith comes back into the church and says, "Mr. Campbell, something wonderful has happened. Oh, we were praying that God would pour water on the thirsty and floods upon the dry ground and listen, He's done it! He's done it!"

When I went to the door of the church I saw a congregation of approximately 600 people. Six hundred people--where had they come from? What had happened? I believe that that very night God swept in Pentecostal power - the power of the Holy Ghost. And what happened in the early days of the apostles was happening now in the parish of Barvas.

VLUG VAN DIE DANS NA DIE KERK!

Over 100 young people were at the dance in the parish hall and they weren't thinking of God or eternity. God was not in all of their thoughts. They were there to have a good night when suddenly the power of God fell upon the dance. The music ceased and in a matter of minutes, the hall was empty. They fled from the hall as a man fleeing from a plague. And they made for the church. They are now standing outside. Oh, yes - they saw lights in the church.That was a house of God and they were going to it and they went. 

Men and women who had gone to bed rose, dressed, and made for the church. Nothing in the way of publicity... But God took the situation in hand - oh, He became His own publicity agent. A hunger and a thirst gripped the people. 600 of them now are at the church standing outside... And then the doors were opened and the congregation flocked back into the church.

Now the church is crowded--a church to seat over 800 is now packed to capacity. It is now going on towards midnight. I managed to make my way through the crowd along the aisle toward the pulpit. I found a young woman, a teacher in the grammar school, lying prostrate on the floor of the pulpit praying, "Oh, God, is there mercy for me? Oh, God, is there mercy for me? " She was one of those at the dance. But she is now lying on the floor of the pulpit crying to God for mercy.

That meeting continued until 4 o'clock in the morning. So we left them there, and just as I was leaving the church, a young man came to me and said, "Mr. Campbell, I would like you to go to the police station." I said, "The police station? What's wrong?" "Oh," he said, "There's nothing wrong but there must be at least 400 people gathered around the police station just now."

Now the sergeant there was a God-fearing man. He was in the meeting. But people knew that this was a house that feared God. And next to the police station was the cottage in which the two old women lived. I believe that that had something to do with the magnet, the power that drew men. There was a coach load at that meeting. A coach load had come over 12 miles to be there. Now if anyone would ask them today, why? How did it happen? Who arranged it? They couldn't tell you. But they found themselves grouping together and someone saying, "What about going to Barvas? I don't know, but I have a hunger in my heart to go there." I can't explain it; they couldn't explain it, but God had the situation in hand.

SOEWEREINE DAAD VAN GOD!

This is revival dear people! This is a sovereign act of God! This is the moving of God's Spirit, I believe in answer to the prevailing prayer of men and women who believed that God was a covenant-keeping God but must be true to His covenant engagement...

That continued for almost 3 years. Until the whole of the island was swept by the mighty power of God.

As God se kinders getrou begin bid, as ons ons self voor Hom verootmoedig is niks vir Hom onmoontlik nie!

Maandag 26 Oktober 2015

GOOD NEWS FROM GERMANY/GOEIE NUUS UIT DUITSLAND

In the wake of so much bad news e.g. the capitulation of churches to the humanistic gay agenda, it is really encouraging to hear about a German pastor Olaf Latzel who fearlessly  preaches the Gospel! Let us pray for him...

To see video, click OLAF LATZEL

Met al die slegte nuus van die afgelope tyd oor 'n kerk wat nie meer erns met die Bybel maak nie, is die prediking van Pastoor Olaf Latzel van Duitsland soos 'n vars briesie van bemoediging. Latzel neem duidelik standpunt in teen selfdegeslaghuwelike en gesamentlike aanbidding met Moslems. Hiervoor moet hy selfs vervolging en verguising verduur. Hy is al deur politici voor stok gekry en 70 van sy mede pastore het deelgeneem aan 'n betoging teen hom. Kom ons bid vir hom en elke ware verkondiger van die Woord...



Sondag 13 September 2015

VERGETE FRANSE HERLEWING

- toe die vlam van toewyding onder die nasate van die Hugenote weer aangeblaas is.

Die evangeliese herlewings van die 18de eeu in die Engelssprekende wêreld is welbekend en goed nagevors. Dieselfde geld ook vir latere herlewings soos die in die New Hebrides en Wallis (1904). Die herlewing tussen die twee Wêreldoorloë (veral van 1922-1930) in die suide van Frankryk (Le Réveil de la Drôme) is  egter taamlik onbekend veral vir ons hier in Suidelike Afrika.



Dit was nie op dieselfde skaal as die herlewings in die Engelsprekende wêreld nie, maar tog in baie opsigte merkwaardig en dus belangrik om van kennis te neem. Dit was nie ‘n ingevoerde beweging nie, maar het in Frankryk ontstaan en die betrokkenes was Franse en enkele Switsers. Ook interessant, dit was ‘n herlewing wat in wese gereformeerd en Calvinisties was. Vir die Afrikaner is dit juis ook van besondere betekenis omdat dit plaasgevind het in die ou plattelandse Hugenote gemeentes.* ‘n Herlewing dus binne die protestantse kerk van ons voorsate.

Net so iets oor veral hoe die herlewing begin het...

Soos dikwels die geval met historiese herlewings het hierdie buitengewone werking van God se Gees ook plaasgevind in uiters donker en ontmoedigende omstandighede. Die kerk was in ‘n beklaenswaardige toestand van verval.

Op Volvent is daar vir 16 jaar geen erediens meer gehou nie en selfs die deur van die kerkgebou was toegegroei met onkruid. Verskeie gemeentes het vir jare nie meer leraars gehad nie. Die morele verval en die benarde finansiële toestand kan mens jou kwalik voorstel.

Opvallend is dat al die jong leraars tydens wie se bediening die herlewing uitgebreek het, nie aanvanklik evangelies gesind was nie**. Nietemin was daar tog by hulle ‘n egte liefde vir God en ‘n ware bekommernis oor die toestand van die kerk. Onder die laag van teologiese rasionalisme was daar tog iewers ‘n vlammetjie van die evangelie. Hierdie leiers van die herlewing, genoem, “les brigadiers de la Drôme”, was jongmanne wat die verskrikkings van die Eerste Wêreldoorlog oorleef het. Die feit is dat die betreurenswaardige toestand van die kerk hulle aan die hart gegryp het, soos Nehemia diep geraak was deur die tragiese toestand van Jerusalem se omgevalle mure. Soos Nehemia het hulle ook nie by treur stilgestaan nie, maar hulle in gebed tot die Here gewend. Vanaf 1922 het hierdie jong predikante saamgekom en tot die Here geroep en hulleself in gebed voor Hom verneder. Die verskillende herlewings in die Bybel en in die kerkgeskiedenis is ook bestudeer.

En die wonder het toe gebeur – die herlewing het uitgebreek daar waar dit die minste verwag is! In ‘n afgeleë gemeente waar daar vir jare geen leraar was nie. La Motte Chalancon tussen Nyons en die Drôme vallei. Geen predikant wou soontoe gaan nie, maar ‘n evangelis wat opgelei is deur die Heilsleër, Victor Bordigoni is daarheen gestuur. Gou het hy toe hy die ellendige toestand sien, ‘n daaglikse biduur gereël. Tydens so ‘n biduur het hulle besef net God kan herlewing stuur. Terwyl hulle gebid het, het God die geloof in hulle harte gegee om Hom te vertrou met ‘n doping deur Sy Gees. Die volgende dag het daar iets merkwaardig gebeur. In die klein gehuggie van Establet, tydens die diens het ‘n vrou opgestaan en aan die prediker te kenne gegee dat sy wou praat. Bewend het sy met die mense gepraat en bely dat sy tot op daardie stadium net vir haar plaas, haar diere en haar kaas geleef het. Sy het besef God is nie met haar tevrede nie, daarom wou sy van toe af net vir Hom lewe. God kom eerste!*** Die prediker was diep geraak en het ‘n uitnodiging tot die mense gerig en verskeie persone het gereageer. Dieselfde aand tydens die hooferediens by La Motte Chalancon het Victor Bordigoni vertel wat by Establet gebeur het en het weer ‘n uitnodiging tot oorgawe aan Jesus gemaak. Daar het ook toe verskeie mense gereageer. Die herlewing het gekom!

God het so in mense se harte gewerk dat hulle ten spyte van die feit dat dit laventel oestyd was (Augustus 1922) nie alleenlik kerk toe gekom het nie, maar ook stukkende kerkgeboue herstel het!

Op die 24ste September omtrent ‘n maand na die eerste bekering is Édouard Champendal een van die leraars ook vir die herlewing gewen. Twee maande later het God gewerk tydens ‘n tweedaagse leraarsbyeenkoms van die kerk by Crest. Victor Bordigoni het met die broers gepraat aan die einde en hulle gevra : “Ek wonder terwyl ek na julle luister of julle weet wie God is en wat die bediening is waartoe Hy julle geroep het?” Hy het hulle daarop gewys dat God nie verander het nie, hulle het verander. ‘n Kragtige uitdaging en oproep het gekom : “Ek het na julle geluister die afgelope twee dae... julle is die hindernis vir sy krag. Bekeer julle, bely julle bankrotskap, neem nuwe besluite en mag God se heerlikheid voortaan gesien word!” Die manne het op hulle knieë gegaan en belydenis van sonde gedoen en vergifnis gevra... laksheid, hoogmoed, twyfel, geheime bitterheid en baie ander dinge... Bevry van hierdie dinge, het God hulle besoek!

Die effek was gou sigbaar. Henri Eberhard, die leraar van Dieulefit het sy boodskap wat hy vir die Sondag voorberei het in die vuur gegooi. Toe hy moes preek het hy gesê : “My broers, die herlewing het pas begin in ons kerk en die eerste ontwaakte een is ekself.” Na die preek het hy die mense wat soos hyself nou aan die Here die eerste plek wil gee, uitgedaag om hulle name in ‘n register te skryf wat hy voorberei het. Verskeie persone het hulle name by die lys gevoeg. Twee of drie dae later het ‘n dame na hom gekom en gevra dat hy tog haar naam van die lys moes afhaal, want sy was nie gereed nie. Eberhard het die boek geneem en by die regte bladsy oopgemaak en geantwoord : “Haal self jou naam af, mevrou!” Sy is geruk deur sy reaksie en het in trane uitgebars, omdat sy nou gevoel het dat sy self haar naam uit die boek van die lewe sou uitwis. In die studeerkamer van die leraar het sy haar lewe aan die Here gegee... Die herlewing het voortgebrand in die meeste gemeentes in die suide van die Drôme. 

Die herlewing is gekenmerk deur spanwerk, prediking wat gefokus het op die heiligheid van God, entoesiasme en ‘n gees van oorwinning, ‘n vashou aan Gereformeerde teologie en ‘n balans tussen leer en lewe. Opvallend van die herlewing was dat die leiers (uitgesonder Bordigoni) almal jongmanne was!**** Sal ons nie bid dat God ook in ons dag jongmanne sal opwek om ons weer op te roep tot ware oorgawe, gehoorsaamheid en diens aan God nie!

*Il se produisit et se développa dans de vieilles paroisses huguenotes campagnardes.

** S’adressant aux étudiants de l’Institut Biblique Emmaüs, Édouard Champendal disait : “Si je vous racontais ce que je croyais à cette époque, vous sauteriez tous par les fenêtres.”

*** J'ai compris aujourd'hui, dit-elle, que Dieu ne se contente pas de ce que je suis. Jusqu'à présent, j'ai vécu pour mes terres et mon troupeau de brebis. Je prends l'engagement de mettre Dieu à la première place dans ma vie et dans mes affaires ; le reste viendra après ! (soos aangehaal deur Edouard Champendal)

****À part V. Bordigoni, ils avaient tous entre 25 et 30 ans. Pour chacun d’eux c’était leur premier poste pastoral.

[Hoofsaaklik ‘n verwerking van ‘n gedeelte van Philippe Decorvet se “Le Réveil, du rêve à la réalité : Un exemple français, le Réveil de la Drôme”]




Laventel - ek was ongelukkig nie self daar om die foto's te neem nie!

Onder. Van links na regs :

Henri Eberhard, Pierre Caron, Jean Cadier et Edouard Champendal
(Le matin vient, Jean Cadier 1990)




Vrydag 31 Januarie 2014

HERLEWING EN PINKSTER

- Kan en moet ons vandag nog iets soos herlewing verwag? 


Die antwoord is nie noodwendig so eenvoudig soos dit vir sommige mag klink nie. Daar is selfs ernstige behoudende Christene wat die konsep van “herlewing” bevraagteken. Een rede is natuurlik (soos reeds gesien – kliek op HERLEWING 1) die vervlakking van die term “revival”, veral deur die Amerikaners tot bloot ‘n reeks spesiale dienste. ‘n Ander saak wat Christene kan afstoot van “revival” is die gelykstelling van herlewing aan buitengewone en onordelike verskynsels.

Daar is egter ook ‘n meer grondliggende teologiese rede waarom sommige Christene nie vir die begrip “herlewing” te vinde is nie.

Donderdag 16 Januarie 2014

DIE NUWE VERBOND BEVRY ONS VAN DIE VERLEDE

- en verseker ons van ‘n nuwe toekoms!


Ons elkeen het ‘n verlede. (Nie een van ons wat nou hier lees het netjies skoon verpak, met vlerkies en al uit die lug geval nie!) Meer nog, ons elkeen het ‘n donker sondige verlede. Ons is in sonde gebore! Ons het ‘n “loopbaan van sonde” agter ons! Miskien is ons verlede nie nuuswaardig genoeg om die Rapport se voorblad te haal nie, maar nietemin donker genoeg om ons lewens te skend, maar erger nog, boos en gruwelik genoeg om ons onder die toorn en straf van God te laat steier!

Dinsdag 24 April 2012

HANS NIELSEN HAUGE

- ‘n Noorweër wat ons oproep tot ‘n radikale lewe.

Die afgelope tyd is die wêreld weer herinner aan die massamoordenaar van Noorweë, Anders Breivik se gruweldade. Terwyl Breivik altyd onthou sal word vir sy radikale boosheid, is daar ‘n ander Noorweër wat ons gerus kan onthou vir sy radikale toewyding aan God. Hans Nielsen Hauge is deur God aangeraak en uitgestuur as ‘n lekeprediker en het ‘n merkwaardige geestelike sowel as ekonomies-maatskaplike invloed op Noorweë gehad. Die Here het hom kragtig gebruik in ‘n tyd toe die Lutherse staatskerk van Noorweë gebuk gegaan het onder ‘n dooie tradisionalisme.

Hans Hauge is in 1771 gebore as die vyfde van tien kinders en het op die familieplaas grootgeword naby Tune in die distrik Østfold.  Hulle was ‘n godsdienstige gesin, wat elke Sondag kerk toe gegaan het en as hulle nie kon nie, hardop uit Luther se versameling preke gelees het. Hans was self ook lief vir lees.

Op 5 April 1796 het ‘n ontmoeting met God, Hauge se lewe omgekeer. Dit was terwyl hy op die landerye gewerk het. Soos ‘n Elisa is hy agter die ploeg geroep.  Hy beskryf sy bekering as volg:

 “Soms het ek op my knieë neergeval en God almagtig gebid om ter wille van Jesus sy Seun my te vestig op die geestelike Rots, Christus Jesus... Een dag terwyl ek buite gewerk het onder die oop lug, het ek uit my kop uit ‘n lied gesing : “Jesus ek verlang na U geseënde gemeenskap” Op daardie oomblik is my gedagtes so opgehef, dat ek nie bewus was van myself nie en ook  kan ek nie verduidelik wat in my siel plaasgevind het nie. Want ek was buite myself. Onmiddellik toe ek weer tot my sinne kom, is ek gevul met berou dat ek nie hierdie liefdevolle transendente goeie God gedien het nie. Nou het dit vir my gelyk asof niks in hierdie wêreld enigiets werd was nie...”

Hauge het God gevra wat hy moes doen en die antwoord in sy hart was :  “Jy moet my Naam bely voor die mense, roep hulle op tot bekering en om my te soek terwyl Ek gevind kan word en aan te roep terwyl Ek naby is en hulle harte aan te raak dat hulle hulle mag wegkeer van die duisternis tot die lig.”

Vir Hauge het alles inderdaad nuut geword. Hy het ‘n begeerte gehad om die Bybel te lees en nuwe insig ontvang om dit te verstaan. Ook was daar ‘n diep liefde vir God by hom en ‘n begeerte dat andere ook deel sal kry aan hierdie genade wat hy ontvang het. Die eerste persone wat deur die nuutgemaakte Hans beïnvloed  is, was twee van sy eie susters op daardie selfde dag. Dit was die begin van ‘n herlewing wat eers die bure in Tune aangeraak het, daarna die naburige dorpie en uiteindellik ‘n geweldige invloed op Noorweë as geheel.

Hauge was ‘n doelgerigte, vasbeslote en hardwerkende mens. Hy het oor die land heen gereis, meestal te voet en gepreek.  Dikwels word Christenwerkers daarvan beskuldig (miskien soms tereg) dat hulle ver van die werklikheid leef met hulle koppe in die hemel en op ander teer... Wel, niemand sou so ‘n verwyt voor Hauge se kop kon gooi nie. Terwyl hy geloop het, het hy gebrei en dan die handskoene en sokkies weggegee aan armes. Hy het ook ‘n besondere besigheidsvernuf en inisiatief gehad wat daartoe gelei het dat hy verskeie industrieë opgerig het. Sy aktiefste jare was tussen 1800 en 1804. Van Lista in die suide tot Tromsø  in die noorde was hy betrokke by die vestiging van fabrieke, myne, meulens, drukkerye ens..

Hauge was ‘n populêre prediker. Hy het met krag en gesag gepreek in ‘n taal wat die mense kon verstaan. Hy het orals gepreek waar mense bymekaargekom het : huise, kerktrappe, fabrieke... Hy het gepreek oor sonde, die Christelike lewe en hoe om die pad na God te vind. Maar hy het ook nie gehuiwer om te praat oor die Christen se verantwoordelikheid teenoor sy medemens en die gemeenskap waartoe hy behoort het nie. Hauge het ‘n God gegewe liefde vir sy medemens gehad, wat deur mense raakgesien is en gemaak het dat hulle hom vertrou het. 

Hauge het sy boodskap ook nie net deur prediking oorgedra  nie. Gedurende 18 jaar het hy 33 boeke gepubliseer en daar word geskat dat 100 000 Noorweërs een of meer van hulle gelees het  in ‘n tyd toe daar ongeveer 900 000 geletterdes in die land was. 

Verenigings van Vriende (ook genoem Haugiane) is georganiseer soos die herlewing deur die land versprei het. Hulle het by huise bymekaargekom en tyd in gebed en lering spandeer. Hierdie mense het mekaar nie net geestelik nie, maar ook prakties bygestaan. (soos om tuisnywerhede te begin) Die klasseverskille in die landbou samelewing is ook oorbrug deurdat daar plek was vir boere, knegte, kreupeles en ou mense. Hauge het leiding gegee aan hierdie Verenigings van  deur sy briewe. Hierdie briewe het gehandel oor beide geestelike sake en besigheidsaangeleenthede.

Hans Hauge se suksesse moet ons nou nie laat dink dat sy pad heeltyd met gerief en lofredes besaai was nie. Verre daarvandaan! Teenstand, valse aanklagte en vervolging het sy lewe gekenmerk. Sy prediking het die vyandskap van kerkleiers en owerhede opgewek omdat hy volgens hulle die “Konventikkel Ordonnansie” van 1741 oortree het. Hiervolgens het die predikante die alleenreg gehad gehad om God se Woord te preek en leke kon dit net doen in die teenwoordigheid van die leraar van die kerk. Afguns op Hauge se sukses en invloed het hom seker ook  nie juis geliefd onder sommige ampsdraers gemaak nie. Hauge is altesaam tien keer gearresteer en was van 1804 tot 1811 meestal  in die tronk.  Aan die einde van sy lewe het Hauge wel respek by die owerhede afgedwing. Maar volgens alle aanduidings is sy gesondheid deur die gevangenisstraf aangetas.

Hauge het ook persoonlike smart op ander terreine geken. Na sy vrylating uit die tronk het hy by Bakkehaugen naby Christiana gaan bly as boer en nyweraar. In 1815 is hy met Andrea Andersdatter getroud wat met die geboorte van sy seun, Andreas gesterf het. In 1817 is hy weer getroud met Ingeborg Marie Olsdatter. Al drie kinders wat hy by haar gehad het, het gesterf.  Op 29 Maart 1824 is hierdie besondere kneg van die Here oorlede.

Na Hauge se dood het sy erfenis voortgeleef in die mense wat deur sy boodskap aangeraak is. In 1842 het die Haugiane en die Morawiërs, Noorweë se eerste sendinggenootskap, die Noorweegse Sendinggenootskap gestig. Die baie Noorweërs wat in sy leeftyd na Amerika geëmmigreer het, het tot gevolg gehad dat sy invloed ook daar in die Amerikaanse Lutheranisme  uitgedra is.

Die geskiedenis van Hans Hauge het ‘n hoopvolle boodskap van God vir ons in ons tyd van afvalligheid in  kerk en samelewing:
  • Die soewereine God is enige tyd instaat om ware predikers van die Woord op te wek ongeag hoe donker die omstandighede. Dis uiteindelik die Here van die oes wat self arbeiders uitstuur en ons word opgeroep om juis daarvoor te bid. (Lukas 10:2) God gebruik nie net  geordende leraars nie, maar elkeen wat waarlik geroep is.
  • Die oplossing van ons land se geestelike nood, lê  nie in die stigting van nuwe denominasies nie, maar in herlewing van die lidmate van die  bestaande kerke. Hauge het in die Lutherse kerk en teologie gebly, maar juis binne hierdie raamwerk sy kragtige boodskap van bekering gebring. Daar word te vinnig in ons dag, nuwe kerke gestig asof dit nou 'n verskil sal maak. 
  • Die aanvaarding van die ware evangelie as verlossingsboodskap mag ons nooit blind maak vir mense se tydelike nood nie. Dit maak ons ook nie afsydig teenoor die harde bestaanswerklikhede rondom ons nie. Hauge het leer en lewe bymekaargebring. Die Christen se daaglikse werk is deel van sy aanbidding!* Dis 'n etiek wat al deur Luther na vore gebring is en waaraan ons in ons samelewing 'n groot behoefte het.
  • Die prys vir getrouheid aan die waarheid is lyding en vervolging. (Is ek en jy bereid daartoe?) Hieroor moet daar geen illusie wees nie, die wat vrugdra sal vervolg word. Die grootste vervolgers van God se ware kinders sal juis  kerkmense wees, wat die gedaante van godsaligheid het, maar nie die krag daarvan ken nie.
* Die bron stel dit in Engels "work is part of worship" Verskeie bronne op die Internet is geraadpleeg, o.a. ook Wikipedia.


 Hauge standbeeld in Oslo

Donderdag 16 Februarie 2012

BABALAAS BRITTE

- BENODIG BLYE BOODSKAP VAN BEVRYDING!

Die BBC dra die volgende berig op 15 Februarie:

David Cameron vows to tackle binge drinking scandal. Prime Minister David Cameron has called for bars, supermarkets and the drink industry in England to do more to help ensure responsible drinking.

Cameron bedoel dit seker goed. Die geskiedenis van sy eie land bewys egter dat die euwel van dronkenskap (en alle ander euwels) nie deur wetgewing, regerings of sosiale aksies opgelos kan word nie. Die probleem lê nie in strukture nie, maar in die mens se hart. En dis net God wat nuwe harte kan skenk! God verklaar so duidelik in Esegiël 36:26,27 :

“Ek sal julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle uit julle liggaam uithaal en julle ’n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef...”


Radikale vernuwing van binne! Dis presies wat God in die Britse Eilande gedoen het tydens die 18de eeuse herlewing toe Hy die kragtige prediking van George Whitefield, John Wesley, Daniel Rowland en baie ander gebruik het om ’n nasie te skud. En ons moenie vergeet nie, die sukses van die evangelie het juis sigbaar geword in ’n nasie wat vasgevang was in die slawerny van dronkenskap. Die sogenaamde Gin Craze het Engeland beetgepak en die gevolge was skrikwekkend. Biskop Benson het gesê : “Gin has made the English people what they never were before - cruel and inhuman.” Hierdie vloedgolf van drankmisbruik het gevolg op die verbod in 1689 op die invoer van sterk drank. Mense het toe hulle eie drank gebrou en die aanvraag was so groot dat daar beweer word dat elke sesde huis in London 'n gin shop was!
Maar juis in hierdie donker omstandighede het die evangelie hard en helder weerklink. Skares van 20 000 en 30 000 het na George Whitefield kom luister! (Onthou daar was geen klankversterking nie!

Baie, baie mense se lewens is deur die eenvoudige evangelie boodskap van bevryding verander! Wat by mense onmoontlik is, is moontlik by God! Mag Cameron en sy volk terugkeer na die Bybelse oplossing: die evangelie van Jesus Christus! Dis die krag van God tot redding vir elkeen wat glo! (Rom 1:16,17)

Gaan lees gerus oor die merkwaardige gebeure van die 18 de eeuse herlewing in Brittanje in die twee volume biografie van Arnold Dallimore : “GEORGE WHITEFIELD - The life and times of the great evangelist of the 18th  century revival”




Maandag 26 Desember 2011

HERLEWING IN DIE SOUTPANSBERG

Kan God in ons goddelose tye nog steeds kragtig werk en mense harte verander? Ja, beslis! Dis baie belangrik dat die Christelike kerk (en ook ons hier op Tsumeb) sal weet dat niks vir God onmoontlik is nie. In hierdie tye van morele verval, ongeloof en valse teologie is Hy steeds instaat om mense te red en by sy kerk by te voeg. Die kragtige dade van God in die verlede moet ons aanspoor om ook met ’n verwagting te bid vir ’n huidige ruim werking van die Heilige Gees!



Een van die groot ingrypings van God se genade in die verlede in Suider Afrika was die herlewing in die Soutpansberg gebied in 1875-76. Die menslike instrument wat God in hierdie werk gebruik het was Stephanus Hofmeyer, ’n sendeling van die Kaapse NG Kerk.



Eers iets oor sy eie bekering en roeping. Volgens homself het die Here van kleinsaf in sy lewe gewek, maar hy was maar ’n wilde en ongehoorsame kind. ’n Voorperd van die duiwel wat die breë pad van die verderf met al sy krag bewandel het! Later het hy wel vroom en godsdienstig geword en selfs vir die bediendes huisgodsdiens gehou. Diep in homself het hy egter geweet dat hy verlore was, omdat hy nog nie wedergebore was nie. Hy het hom al meer oor sy eie geestelike toestand bekommer.

 

In April 1862 het God met Hofmeyer ontmoet by die stookketel in die kelder op die plaas en het hy kragdadig tot bekering gekom. Hy beskryf dit so : “Terwijl ik zoo stond zeide ik, Ach Heer, wat zal ik doen, ik heb alles geprobeerd en niets helpt, ik kan niet meer bidden of weenen, krij tog voor mij jammer.” Op daardie oomblik was dit asof die hemel en sy hart gelyk oopsprig. Die liefde van Jesus het vir hom ’n werklikheid geword en dit het vir hom gevoel asof hy deur duisend vure na Hom sou kon loop. Die trane het uit sy oë gebars. Hy het uitgeroep : “O, dat ik toch een hoogen berg kon beklimmen en de geheele wêreld toeroepen en verzekeren, dat de Heer Jezus zondaars lieft heeft!”



Na opleiding en ander arbeid vir die Here is hy op 21 November 1864 in die kerk op Stellenbosch vir sendingwerk in die Soutpansberg (in die noorde van Transvaal) afgesonder. Sy veld was die Buyse en die heidene rondom.



Die herlewing wat in 1876 uitgebreek het, het klein en groot aangeraak. Dit het eintlik in die kinderbiduur begin. Terwyl Hofmeyer oor die geskiedenis van Josef gepraat het, het die plegtige stilte hom getref. Toe hy geleentheid vir gebed gee, het daar ’n opgekropte smart losgebars. Een van die dogters het met trane haar sonde bely en gesê : “ons gaan verlore, ons van sovele gebede en genademiddele; ander heidene neem die Koninkryk van die hemele voor ons weg.”



Vanaf 3 Januarie 1876 was die begeerte om God se Woord te hoor so groot dat daar elke dag ’n biduur gehou is. Grysaards, towenaars, moordenaars, hoereerders ens. het saam met kinders gehuil. Selfs vreemdelinge het verbaas erken : “Dié God is die lewende!” ’n Skare pasbekeerde kinders het vir drie dae nie geëet en vir drie nagte nie geslaap nie, maar bidure in die veld gehou en singende rondgegaan.



Hofmeyer was self verras en verbaas oor die groot werk van God. “... ik was aan mijne zitplaats genageld. Ach, heeft God waarlijk mijn gebed... verhoord? Beschaamd zat ik daar verbrijzeld. Nu zag ik het ongeloof dat immer mijn werk aankleefde, nu zag ik de perken ik den Allerhoogsten gesteld had.”



Die invloed van die herlewing was nie net tot die gekleurdes beperk nie. God het ook kragtig in die Blanke gemeenskap gewerk. ’n Sekere diaken Grobler het met ’n biduur op Renosterpoort begin. Eers het ’n bediende tot bekering gekom en toe is die Blankes ook aangeraak. Hele huisgesinne is omgekeer. Hofmeyer het vertel van voetpaaie wat deur bekommerde bidders na die bosse en slote oopgetrap is.



Mag die Here ons tog van ons ongeloof bevry. Kom ons spoor mekaar aan om met passie en ’n verwagting te bid dat God ook nog ’n groot genadwerk in ons dag sal doen!




(Bron : W.L. Maree, Lig in die Soutpansberg)