BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Rook. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Rook. Wys alle plasings

Donderdag 04 Januarie 2024

VERSLAAF (addicted)?

- HOE KAN EK VRY KOM?

Daar is baie raad en planne teen verslawing. Dis uiteraard 'n komplekse probleem en mens moet versigtig wees vir oorvereenvoudigings en goedkoop raad. Kinders van God kan vir alle lewenssituasies egter staatmaak op God se onfeilbare Woord. Die Bybel vertel ons HOE ons verslawing kan oorwin!

Ek wil jou verseker God se Woord is waar en kragtig en daarom kan jy wat regtig wil vry kom beslis HOOP hê!

 Die apostel Petrus skryf oor verslawing in die 2 Petrus brief in hoofstuk 2. Petrus waarsku hier teenteen die vals profete en leraars en dan raak hy die kwessie van verslawing aan... 

Vers 19 "mense (vals profete) wat aan hulle (ander Christene) vryheid beloof, alhoewel hulle self slawe van die verderf is. 'n Mens is immers verslaaf aan dit waaraan jy toegee."




 Die valse leraars beloof ‘n valse vryheid aan hierdie jong Christene – met die gedagte van “Ons leef nou in die genade daarom maak God se wette nie meer saak nie” – en hulle maak hierdie vals beloftes terwyl hulle self vasgevang en verslaaf is aan sonde. 

VERSLAWING  is ‘n aktuele saak wat ons almal raak!


So dikwels hoor ons, of ons sê dit vir onsself -“Ek kan nie hierdie ding los nie” – hierdie ding is dalk pornografie, buite egtelike verhoudings, dobbel,  die skadelike rookgewoonte, ooreet, videospeletjies, woede uitbarstings…of dalk ‘n verslawende, verlammende luiheid waarin jy vasgevang is... ‘n luiheid om te bid, kerk toe te kom, die Woord te lees.... (in ‘n sekere sin is ALLE sonde verslawend, gewoontevormend... hierdie boodskap is dus vir ons almal bedoel!)


Verslawing is om iets se slaaf te wees... Iets of iemand anders word jou BAAS! Verslawing is natuurlik in ‘n sin ‘n relatiewe term… met groot sekerheid sou mens kon sê – niemand is absoluut verslaaf nie… Ek bedoel...as die gevolge wat op die spel is erg genoeg en seker genoeg is, sal jy nie sommer aan jou verslawende drang toegee nie… As jy byvoorbeeld voor die TV sit en net een kliek hoef te gee om na naaktheid of ‘n porno fliek te kyk, maar daar is ‘n ISIS terroris met ‘n mes teen jou keel… Hy sê :"Nou toe, as jy hierop kliek sny ek jou keel onmiddellik hier af!" Sal jy kliek? Of andersins, as jy jou vinger op die knoppie het en iemand kom in met ‘n vet beursie met een miljoen kontant en sê: “Jy kry dit nou as jy nie daardie knoppie druk nie.”, dan sal jy verbaas wees oor hoeveel selfbeheersing jy het om die verslawing te oorwin.* 

KAN NIE of WIL NIE?

Dit kom dus daarop neer dat ons nie die oordele oor  en negatiewe gevolge van verslawing aan sonde ernstig opneem nie of aan die anderkant nie die heerlike beloning wat vir ons wag as ons verslawing oorwin ernstig opvat nie. Ons moet versigtig wees om te sê : “Ek kan nie loskom nie” die eerlike oorsaak is dalk eerder “ek wil nie loskom nie!”

Petrus spreek juis hierdie twee sake aan – die ernstige gevolge van verslawing aan sonde aan die eenkant en die heerlike beloning as ons die sonde oorwin aan die anderkant. Hy kyk na die ernstige gevolge in vers 20-22    

Trouens, as mense, nadat hulle deur die kennis van ons Here en Verlosser Jesus •Christus aan die besoedeling van die wêreld ontsnap het, tog weer daarin verstrik raak, en daaraan toegee, is die einde vir hulle slegter as die begin.  Dit sou immers vir hulle beter gewees het as hulle die pad van die geregtigheid nie leer ken het nie, as wanneer hulle dit wel leer ken het, net om dan weer af te wyk van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is. Op hulle is die waarheid van die volgende gesegdes van toepassing:  “ 'n Hond keer terug na sy eie braaksel,”  en  “'n Sog was haarself deur te rol in die modder.”

Petrus gebruik ‘n baie grafiese beeld om die situasie van ‘n Christen wat hom weer laat oorwin deur een of ander sonde en verslawing uit te beeld – Die van 'n hond wat sy eie braaksel weer opvreet! Van 'n gewaste vark wat weer in die moddr gaan rol! Petrus waarsku ons baie duidelik teen die grusame en tragiese gevolge wat dit inhou om terug te val in ‘n lewe van ongehoorsaamheid en verslawing. So ‘n toestand van teruggevallenheid is erger as om nooit bekeerd te gewees het nie. 

Jesus rig ‘n soortgelyke waarskuwing in Lukas 11:24-26. Die bose gees wat uit die mens uitgegaan het, maar as die "huis" leeg bly, kom hy weer terug en bring sewe ander slegter geeste saam. Die einde is baie erger as die begin!

Besef die skrikwekkende ernstige gevolge as jy jou weer laat oorwin deur sonde... dan gaan jy twee keer dink.

Petrus spreek ook die saak van heerlike beloning aan vir die kinders van God wat volhard in heiligheid. Hy moedig positief God se kinders aan om onberispelik en vlekkeloos te leef juis omdat daar so ‘n heerlike prys vir ons wag – die onberekenbare heerlikheid van die nuwe hemel en die nuwe aarde! 2 Petrus 3:10-13


Vers 13 "Maar ons verwag, volgens sy belofte, nuwe hemele en 'n nuwe aarde, waar geregtigheid woon."




Broer en suster as jy oortuig is van God se oordele, die skrikwekkende gevolge van sonde en as jy oortuig is van God se beloning van heerlikheid, die volmaakte vreugde en vervulling van die nuwe hemel en aarde wat op God se kinders wag – sal jy versoeking en verslawing kan oorwin! 


GENOEG KRAG?

Miskien wil jy nog steeds beswaar maak – "Ja, ek weet hierdie dinge, maar my krag is te min! Dis nou maar so, ek is net te swak!" Kom ons maak net eers seker – Is jy regtig ‘n kind van God? Is jy besig met meer as net uiterlike godsdiens en het jy jou tot Jesus bekeer en stel jy jou vertroue alleen in sy volmaakte offer aan die kruis? Is jou hoop nie op jou eie prestasies nie, maar op sy volmaakte genoegsame kruisdood, op sy meriete? 

Indien dit die geval is, kan ek jou uit die Woord verseker jy het beslis reeds genoeg krag om alle sonde, versoeking en verslawing te oorwin! 

Kyk beslis na 2 Petrus1:3! 

"Sy goddelike krag het ons immers reeds alles gegee wat ons nodig het vir 'n godvresende lewe, deur die kennis van Hom wat ons deur sy majesteit en goddelike krag geroep het."

En wat is die praktiese effek en gevolge van hierdie krag? Vers 4-7!  (GAAN LEES DIT) Jy wat waarlik aan Jesus behoort, het reeds die krag ontvang om by jou geloof allerhande praktiese vorme van Christelike groei te voeg. En let op – een van die opdragte is juis SELFBEHEERSING! 

Ons ontvang die opdrag tot selfbeheersing omdat God deur sy Heilige Gees aan elke kind van Hom reeds die krag daarvoor gegee het! God sal nooit onmoontlike opdragte aan sy kinders gee nie! Ons mag dus nie meer die verskoning gebruik van “Ek kan nie” – die eerlike rede is dalk “Ek wil nie”  Ons mag nie die verskoning gebruik van “Ek is te swak nie.” Die probleem is nie krag nie, maar hardkoppigheid en onwilligheid. Die godsman AW Tozer het gesê : “Elke kind van God is so heilig soos hy regtig wil wees.”  Kom ons wees net elkeen baie eerlik met onsself... En as jy eerlik is oor jou onwilligheid, pleit ek by jou – bedink die ernstige gevolge van jou sondige verslawing, en dink aan die heerlike beloning wat jy gaan misloop...


Kies teen jou verslawing, jy kan. Dit gaan nie maklik wees nie... dit gaan drastiese stappe verg. Dit gaan pynlik wees... Konkrete definitiewe aanpassings in jou leefstyl of daaglikse program mag nodig wees. Jy sal heel moontlik  fisies van party dinge ontslae moet raak, party afsprake moet kanselleer en party vriendskappe moet verbreek. Jesus het hierdie beginsel van radikale optrede baie grafies gestel...“En as jou hand jou laat struikel, kap dit af! Dit is vir jou beter om vermink die lewe in te gaan as om met twee hande weg te gaan tot in Gehenna (hel), in die onblusbare vuur.”  (Markus 9:43)



Verslawing is soos om ‘n os in ‘n manga te wees – jy kan nie wegkom nie, jy is op pad na die slagpale van die eindoordeel. Mag jy deur die genade en krag van God betyds vrykom! Jesus kan en wil jou volkome vry maak!

Jesus beloof ons in Johannes 8:35 :

"As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle werklik vry wees."

Sterkte vir jou! En onthou daar is broers en susters wat graag saam met jou op hierdie pad sal stap... wat net so afhanklik van Jesus se genade is soos jy!



Is hy nog jou BAAS?


*Voorbeeld gekry by John Piper

 

Vrydag 09 April 2021

Let go and let God?



Sal God my help? En hoe doen Hy dit?

Hoe help Hy my in tye van rampe, krisisse en kwellings? In tye van persoonlike swaarkry, finansiële moeilikheid, huwelik en gesinsprobleme? Wat is God se rol in my persoonlike stryd teen sonde, moedeloosheid en depressie? Dikwels hoor mens die eenvoudige eenlynige antwoord en eenstop oplossing: "Let go and let God! "Of mens kry die raad : “Gee dit net vir die Here!”

Die bedoeling is dan waarskynlik – vertrou net op die Here en als sal reg uitwerk! Dit klink so wonderlik. So kragtig. Eenvoudig en vroom. Maar is dit regtig die volle Bybelse antwoord? Is dit hoe mens byvoorbeeld ‘n wiskunde eksamen moet benader? Is dit die oplossing vir jou finansiële krisis? Is dit hoe mens jou huwelikskonflik moet aanpak? Is dit die oplossing vir ons (elke kind van God) stryd teen sonde? Of anders gesê is dit die sleutel vir sukses op die pad van heiligmaking? Daardie moeilike pad wat elke kind van God beleef om al hoe meer heilig te word en gelykvormig aan Jesus te word.


Kom ons toets die gedagte van Let go and let God aan ’n paar Skrifgedeeltes binne konteks.


SPREUKE 3:5-7

“Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie.

Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.

Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is:”



“Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.

Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.

Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad; (OAV)



As mens so vinnig lees dan lyk dit of “Let go, let God” presies die raad van Spreuke is. Laat alles net aan die Here oor en als sal regkom. Maar dis nie heeltemal wat hier staan nie. Ja, daar moet vertroue op God wees, maar daar moet ook aksie van ons kant wees. Hier is ‘n opdrag -Tree op teen die verkeerde in jou lewe! “Wyk af van die kwaad, vermy wat sleg is.”

Dis vir die verstaan van hierdie teks ook belangrik om na die totale boodskap van Spreuke te kyk. Spreuke gaan oor wysheid. Vertroue op die Here beteken juis dat ek die wysheid wat van die Here kom prakties sal toepas in my lewe. Praktiese stappe neem. En hoe lyk hierdie wysheid? Dis alles behalwe ‘n passiewe “Let go and let God! “ Dis konkrete dade en keuses. Dink maar wat leer Spreuke ons : Ek moet kies om my kinders te tugtig, ek moet wegbly van verleidelike vroue, ek moet nie borg teken vir iemand anders nie ( bly weg van bedenklike finansiële praktyke), ek moet eerlike besigheid doen, ek sal omkopery vermy (17:23) ek moet hard werk, ek moet nie ‘n kermende kywende vrou wees nie – want dan gaan my man my los (Spreuke 21:9) ens. Gaan lees Spreuke en volg daardie raad in die praktyk– natuurlik is dit nie 'n towerstaffie vir gerief nie, maar jy sal die verskil in jou lewe begin agterkom! Kom ons wees prakties – Dit help nie net om te sê – Ek het my finansiële probleme vir die Here gegee nie, maar ek gaan aan om onnodige luukshede te koop, ek is te lui om kos te maak en leef van duur kitskos… Dit help nie ek vra : "Here maak my asseblief heilig", maar ek sit aand na aand voor die TV wat my gedagtes besoedel nie! Dit help nie, ek bid vir gesonder longe , maar ek weier om op te hou rook nie! Spreuke leer vir ons ‘n duidelike balans tussen vertroue op die Here en die praktiese toepassing van sy opdragte. Spreuke leer geen passiewe - “Let go and let God” nie!

ROMEINE 8:12,13.

“Daarom dan, broers, staan ons onder ‘n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.” Hier gaan dit seker oor die grootste stryd in elke kind van God se lewe – die worstelstryd teen sonde. Wat is Paulus se opdrag? Let go and let God? Nee, dis ons aktiewe plig as kind van God om sondige praktyke uit te roei. Hoe doen ons dit? Deur die Heilige Gees. Deur die krag van die Gees. Dit beteken nie dat ons passief is nie. 


Dink aan ‘n windpomp. Heeltemal afhanklik van die wind. Tog is die windpomp aktief betrokke. Die rem moet los wees. Die windpomp kreun so hard werk hy, al kom die energie van die wind. Die Gees gee ons krag, maar ons moet tot aksie oorgaan. Deur die krag van die Heilige Gees sal ek ‘n telefoon optel en ‘n einde maak aan ‘n sondige verhouding!


HEBREËRS 12:4,14

“Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ‘n stryd om lewe of dood geword het nie. Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.” 

Weereens geen passiwiteit nie. Die skrywer moedig ons aan. “Julle moet weet hierdie stryd teen sonde is ernstig, dit vat alles van julle – 'n stryd om lewe en dood.” Wat behels dit positief? Beywer julle… weereens volle aksie en betrokkenheid van ons kant af!

2 TIMOTEUS 2:22 

“Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit 'n rein hart aanroep.”

Hier vind ons praktiese raad vir heiligmaking. Dit vereis aksie, negatief en positief. Vlug weg van als wat verkeerd is. Gebruik jou voete indien nodig. Bly weg van daardie partytjie waar jy versoek gaan word! Positief - Oefen die regte dinge in saam met ander mense wat ook ernstig is oor God!

2 PETRUS 1:3-5

“Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag.

Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.

En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis,...”

God skenk sy kinders als wat nodig is vir ‘n heilige lewe. Maar hoor dan mooi verder : “Werp alles in die stryd!” Aksie! Dade! Vgl. Filippense 2:12,13 My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.”

Ja, alle eer en dank aan God wat ons wil verander en vir ons bekwaamheid gee... Maar dit bring ons tot aksie. Ons moet gehoorsaam raak om te leef soos Hy wil hê!

Die eenvoudige raad "Let go and let God!" word goed bedoel. En as mense daarmee bedoel dat ons nie op onsself moet vertrou nie, maar absoluut in biddende afhanklikheid van God moet leef is dit ‘n groot waarheid. Dit kan egter maklik verkeerd verstaan word – as ‘n tipe passiewe toeskouer Christenskap. 'n Verskoning om nie verantwoordelikheid vir ons woorde en dade te vat nie. Dan is dit in stryd met wat die Woord ons leer. Die Bybelse boodskap is dat ons as kinders van God volkome moet vertrou op Jesus wat my skuld gedra het, dat ons volkome moet vertrou op die Heilige Gees wat in my woon. Maar hierdie vertroue moet oorgaan tot aksie en gehoorsaamheid. As ek mens iemand vertrou, gehoorsaam ek juis sy opdragte. As ek baie vertroue het in my huisdokter gaan ek juis doen wat hy my voorskryf... of dit nou oefening of pille of wat ook al is... Maak dus erns met al die opdragte in God se woord! Vra jouself, wat sê God se Woord oor alle sake in jou lewe. En gehoorsaam!

Vertroue op God beteken nie maar net om in enkele situasies of in tye van moeilikheid op God staat te maak nie. Nee, vertroue op God is 'n LEEFSTYL van dinge doen soos Hy dit in sy Woord beveel. Binne in so 'n verhouding bring Hy wonderlike uitkoms!

Vrydag 01 Februarie 2013

WAARLIK VRY!

– die laaste sigaret.

[Ek is besig om ‘n boek te skryf oor die lewe van my Pa, Johan de Koning wat laasjaar oorlede is. Vir meer kliek op ONS BEGRAWE PA. Ek beoog om so van tyd tot tyd uittreksels daaruit op hierdie webjoernaal te plaas.]

Na matriek het Johan de Koning  by die Tabakkoöperasie op Patensie in die Oos-Kaap gaan werk. Seker baie aangename werksomstandighede vir ‘n groot roker soos hy!  Sy  hoërskoolvriend, Eugene Toerien het hom egter vertel van werksgeleentheid in die Aartappelraad en so het hy in 1952 in Pretoria by dié te lande gekom. Spoedig sou dit baie duidelik word dat God dit so beskik  en ‘n besondere afspraak daar met hom gehad het.  So ‘n ontmoeting was baie nodig voordat God Johan sou kon gebruik vir sy lewenstaak as sendeling wat voorgelê het. Ja, hy het weliswaar ‘n goeie paadjie in Pretoria probeer bewandel. Hy was aktief betrokke by kerklike dinge as Sondagskoolonderwyser en diaken en was in Christelike kringe bekend as Christen, maar diep in sy hart was daar onsekerheid. Kragteloosheid. Dan was hy ook nog vasgevang in die rookgewoonte wat al op ‘n jong ouderdom begin  en hom meer as eenkeer in die moeilikheid laat beland het.  Maar al die moeilikheid, selfs ook nie ‘n pakslae met ‘n bandolier kon hom van die gewoonte bevry nie.  Johan het wel probeer om ‘n stryd teen die verslawing te voer en kon soms tot  5 maande uithou,  om dan maar net weer te begin en erger te rook .  Teen hierdie tyd het hy daagliks ‘n groot klomp Kommando sigarette en tussenin in nog pyp ook gerook.

Johan was besig met sy finale jaar CIS (Chartered Institute of Secretaries)  studies en die eksamen was voor die deur.  Dit was ‘n Donderdagaand. Terwyl hy besig was om sy werk deur te gaan, wat hy gemeen het dat hy goed ken, het iets vreemds gebeur. Dit was asof elke deel wat hy deurgaan eerder uitgewis word uit sy geheue. ‘n Bewustheid van sonde het oor hom gekom en hy het sy onreinheid besef. In sy nood vat Johan die Bybel. Dit  het oopgegaan by Romeine 7.  Hier lees hy onder andere in vers 19 “Die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, doen ek” Hy het besef, hy het geen krag tot oorwinning oor die sonde nie.

In hierdie toestand van radeloosheid het Johan besluit om na die konferensie op Kaalfontein,  die plaas van oom Lardus Erasmus te gaan. (Oom Hansie Kleynhans, ‘n vriend  en ook by die Aartappelraad werksaam het hom alreeds hierheen uitgenooi.  Johan het egter die studies as verskoning voorgehou.)  Vrydag oggend het hy op sy fiets geklim, werk toe gery en vir oom Hansie gaan sê: “Oom Hansie, ek ry saam.” Daar in oom Hansie se  kantoor by die Aartappelraad het hy nog ‘n laaste sigaret gerook, sonder om te besef dat dit die laaste sigaret in sy lewe sou wees!

By die konferensie was daar pragtige Christen mense en leiers soos  Prof. H.D.A. du Toit, Dr. O’Brien Geldenhuys, Ds. Bennie Buys, Ds. Gerhard Cruywagen, Oom Dries Steyn en nog ander.  Almal was vrolik en vriendelik.  Niemand kon sy innerlike stryd sien nie.  Met sy kennis van die jeug het Oom Dries Steyn dalk iets vermoed.  Op sy vraag: “Johan de Koning, ken jy die Groot Koning?” het Johan wel positief geantwoord en toe sê hy: “Ek sien jou April DV  by Winklespruit se CSV kamp.” 

Duidelik praat die Here met Johan uit die preek van Dr. Geldenhuys oor die oes wat groot is en die arbeiders  wat min  is uit Matt 9:35-39, en sluit af deur te sê: “Daar eenkant staan ‘n tent, as iemand voel die Here het met hom gepraat, gaan daarheen en praat met die Here.”

Gou was hy in die tent, maar twee dames was voor hom daar.  Hy  wou egter alleen wees met die Here.  Hulle drie het eers saam gebid en toe hulle uit is was sy gebed omtrent iets soos: “Here, ek wil krag hê om u te dien.” Hy het ook sonde bely en gesê, hy sal dinge gaan regmaak as hy by die huis kom.

Al het Johan nie presies  geweet wat hy vra nie, het die Here geweet wat Hy wou gee.  Daardie dag,  3 Oktober 1954 het die Heilige Gees besit geneem van sy lewe en het 2 Korintiërs 5:17 vir hom waar geword: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel, die ou dinge het verby gegaan, kyk dit het alles nuut geword.”

Johan het borrelende vreugde beleef.  Mense kon dit raak sien.  Oom Hansie wat eintlik vroeër wou ry, vra  toe of  hy nie wil bly om ‘n getuienis te gee nie. Van iets soos ‘n getuienis het Johan min geweet, behalwe dat "sektes" getuig.  “Die Here het my geseën,” was min of meer wat  hy gesê het, tog het die mense op sy gesig gesien dit wat in woorde nie gesê is nie. Dit was die eerste van baie getuienisse wat sou volg.


Die volgende oggend op pad terug in die motor na Pretoria terwyl hy diep ingedagte al die gebeure weer sit en deurleef vra oom Hansie: “En toe, wanneer koop jy vir ons weer sigarette?”  Johan antwoord verbaas: “Haai Oom, dit is nou drie dae wat ek nie meer gerook het nie!” Nooit weer het hy gerook nie. Baie jare later sou hy nog steeds kon getuig dat Johannes 8:36 die waarheid is: 

“As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.”