BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Attribute van God. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Attribute van God. Wys alle plasings

Woensdag 21 Oktober 2015

VRAE AAN DIE "FELDMUIS"

Die Feldmuis van Namibië is 'n baie skerp muis wat mens soms ook laat skaterlag, maar nou het die einste muis aan my siel geknaag...

Wat onstel my so? Ek haal aan:


[Die probleem lê dieper...

Die uiteenlopende standpunte wat lidmate en kerkrade oor selfdegeslagverhoudinge huldig, is ’n simptoom van ’n dieperliggende verskil tussen gelowiges. Ten diepste verskil gelowiges se verstaan van die gesag van die Bybel (bv. letterlik soos dit daar staan teenoor inagneming van tyd en omstandighede van ontstaan), hulle siening oor wat sonde is (bv. ’n lys van verkeerde dinge teenoor ’n persoonlike verhouding met God wat verbreek is) en hoe hulle God ken en oor Hom dink (bv.’n veroordelende God wat sondes straf teenoor ’n liefdevolle Vader wat in sy Seun, Jesus Christus, genadig en barmhartig is)]


GEVAARLIK EN ONSKRIFTUURLIK

Hier word myns insiens 'n baie gevaarlike teenstelling(s)* gemaak en sommer ook 'n ongelukkige beskuldiging rondgeslinger. Die indruk word geskep dat mense (soos ek) wat op duidelike Bybelse gronde teen die goedpraat van selfdegslagverhoudings gekant is, beskuldig word dat ons kwansuis (slegs) glo in 'n veroordelende God wat sondes straf. (en by implikasie nie aan 'n liefdevolle God nie) Die pro selfdegeslagmense is diegene wat dan nou glo in 'n liefdevolle Vader. Dis natuurlik 'n valse teenstelling en tipiese strooipop argument.

Dis ook om dit sagkens te stel, nie 'n baie nugtere omgang met die Bybelse gegewens nie!

Met my hele hart glo ek in 'n liefdevolle Vader wat my genadig is in Jesus Christus! Dis my as sondaar se enigste hoop. As ek sing, "Leeg met my sondelas hou ek U verdienste vas", is dit my persoonlike belydenis en my enigste troos. Ek glo in radikale vergifnis en ek verkondig radikale vergifnis! (Kliek op VERGIFNIS BY DIE VUUR)

Maar ek glo inderdaad ook in 'n God wat sondes straf. Trouens, Hy haat sonde so dat Hy selfs sy eie Seun gestraf het, toe Hy belaai was met my sonde en as sondaar in my plek behandel is. (Jesaja 53:5,6; 2 Korintiërs 5:21)

Ja, as ek in Jesus glo word ek inderdaad nie meer gestraf nie, maar ontvang ek die ewige lewe as geskenk. Maar dit beteken nie dat God nou skielik sonde goedpraat of Sy Heiligheid prysgee nie.

As dankbare kind van God moet ek nou teen die sonde stry! Romeine 6:1,2 is mos duidelik! "Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?" God se genade in Jesus, maak nie sonde nou skielik OK nie!

Binne die konteks van 'n gelowige se lewe is sonde steeds 'n saak waarteen ons moet stry en waarvan ons moet wegvlug! Selfs ten bloede toe! En daarom herinner die Hebreërskrywer ook juis vir Nuwe Testamentiese Christene dat "ons God 'n verterende vuur" is!  (Hebr 12:29) Ook op baie nader plekke in die Nuwe Testament word God se heiligheid en wraak oor sonde duidelik uitgespel en word ook gelowiges daarop attent gemaak. (deur byvoorbeeld parallele te trek tussen gelowiges en oud Israel, wat verlos is uit Egipte, maar weens die toorn van God nooit die beloofde land bereik het nie) Dink maar aan 1 Korintiërs 10 en die hele brief, Judas! En wat van die sterk taal waarmee die sewe gemeeentes in Openbaring tereggewys word? Nou onlangs tref die sterk woorde van veroordeling van die Here van die kerk my in Openbaring 2:23 my..."En haar (die valse profetes Isebel) kinders sal ek sekerlik doodmaak..." Feldmuis moet dalk vir ons verduidelik wat hierdie Skrifgedeeltes beteken!

HEIDELBERGSE KATEGISMUS

Ek wonder ook wat Feldmuis van die Heidelbergse Kategismus in die verband sê, wat gelowiges waarsku om te volhard in goeie werke? Hierdie waarskuwings sou mos geen sin maak as God nie meer oor sondes omgee en dit straf nie?

HK 86 Vraag: Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is? Antwoord: Omdat Christus ons, nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe sodat ons met ons hele lewe bewys (a) dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons geprys (b) word: Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry. (c), en ons deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir Christus kan wen (d). (a) Rom 6:13; 12:1, 2; 1 Pet 2:5, 9; 1 Kor 6:20. (b) Matt 5:16; 1 Pet 2:12. (c) 2 Pet 1:10; Matt 7:17 Gal 5:6, 22. (d) 1 Pet 3:1, 2; Rom 14:19.

87 Vraag: Kan die mense dan nie salig word wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie? Antwoord: Nee, glad nie. Want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower en sulkes die koninkryk van God sal beërwe nie (a). (a) 1 Kor 6:9, 10; Ef 5:5, 6;1 Joh 3:14. 

Ek wil nie graag met iemand 'n geveg gevoer in die kuberruimte nie. Maar Feldmuis se menings is in die openbare domein en daarom mag ek nie daaroor stilbly nie. (ek hoop my opmerkings word in die lig hiervan verstaan) Ek val ook nie hier 'n persoon/persone aan nie, maar 'n standpunt!

Terloops, Feldmuis laat weet ons dat die hele besluit oor selfdegeslagverhoudings NIE op Namibië van toepassing is nie. Dis aan die eenkant goeie nuus, maar laat mens met nog meer vrae as antwoorde. Waarom word dit nou eers so lank na die gebeure eksplisiet gesê? Hoekom is dit nie duidelik gestel in die pastorale brief wat ons 'n ruk gelede ontvang het nie? Hoe kan een kerkverband nou verskillende vereistes vir legitimasie (of dan beroeping) stel? Want dit sou beteken dat praktiserende homoseksuele  predikante/proponente nie in Namibië beroep mag word nie, maar wel in Suid-Afrika. Help my as ek verkeerd is. Kan ons dan hoegenaamd nog deel wees van die Algemene Sinode? As Namibië se regering hulle standpunte sou verander, gaan die kerk in Namibië dan weer inval by de AS besluite? Wat is die regte rede waarom Namibië dan uitgesluit word van die AS besluit? Het ons meer respek vir die staat as die Woord? Baie vrae... help asseblief as iemand die antwoorde ken...

*Die ander teenstellings is net so aanvegbaar, ek behandel net een.

Vir die Bybelse balans tussen God se straf en liefde, kliek op LIEFDE VIR 'N HOER!

Vrydag 17 Oktober 2014

IS JESUS “COOL”?

- Nee, as Beeld van God is Hy ontsagwekkend heilig anders en pas glad nie in by die sondige mens se misplaaste verwagtings nie! 


By geleentheid het die mense van Nasaret vir ‘n kort rukkie gedink “Jesus is cool”, maar spoedig daarna het Hy hulle so kwaad gemaak dat hulle Hom van ‘n krans wou afsmyt. Toe Hy hulle onverdund die waarheid rondom God se soewereine genade vertel, wou hulle Hom vermoor! Lees gerus die gebeure in Lukas 4:14-32.

God is anders as die mens. Juis omdat HY GOD IS! Hy is volmaak liefdevol, maar terselfdertyd heilig en regverdig. Jesus is die sigbare bekendmaking van God se karakter en Hy is vol genade* én waarheid! (Johannes 1:14) God pas nie by ons idee van ‘n bloot sentimentele liefde sonder enige norme en beginsels nie! Die heerlikheid van Jesus Christus lê onder andere daarin dat Hy altyd uit pas is met die wêreld, maar juis daarom altyd relevant vir die wêreld is. “Uit pas” – beslis nie “cool” nie! As Hy netjies ingepas het sou Hy van min waarde gewees het. Mense probeer mos Jesus mak maak om by hulle eie sondige begeertes te pas... Die rugbymalles wil graag hê Jesus moet help dat hulle span wen, die politici eis Jesus op vir hulle siening en doelwitte (Dis hoekom selfs Malema die vals profeet TB Joshua gaan besoek het), die geldgieriges glo Jesus gaan hulle help om geld te maak... Ongetroudes wat saambly en vroom vertel hoe hulle elke aand saam hande vashou en bid voor hulle in die bed spring, probeer Jesus inspan vir hulle sondige begeertes... Daar is net geen perke aan die boosheid waarvoor mense hulle selfgemaakte “Jesus” wil aanwend nie... ‘n Jong dame het al selfs beweer dat Hy haar gelei het om ‘n skoonheidskompetisie te wen! Watter belaglike snert! Sal Jesus wat so sterk gewaarsku het teen wellus met die oë, ‘n jong meisie aanmoedig om met haar skrapse uitrustings haarself as ‘n objek van wellus op verhoë uit te stal? (Kliek op SKOONHEIDSKOMPETISIES)

Waarvoor wil jý dalk Jesus misbruik?

Daar is ‘n “harde kant” van Jesus se liefde wat veral vir ons sentimentele westerse mense aanstootlik is. Almal sê vandag : “Jesus is cool”, maar dink mooi, mense wat dunvellig is sou seergemaak gevoel het deur Jesus se snydende tong. Sy woorde was dikwels amper gewelddadig. Natuurlik was dit nie die enigste manier waarop Hy gepraat het nie. Ons het reeds gekyk na die rykdom van sy barmhartigheid, na sy geduld en vriendelikheid en vergifnis. Sy liefde is oneindig eg en buitengewoon groot. Juis daarom dat sy harde woorde nie sommer afgemaak kan word as onbeheerste norsheid of woede uitbarstings nie. Wat ons in die bytende taal van Jesus kry is ’n vorm van liefde wat juis gepas is in die wêreld van korrupsie, dooie harte en rebellie teen God. (Nasaret se mense moes tot hulle ontsteltenis hoor dat God se genade nie inpas by hulle eie volksvoorkeure nie! Hulle kon dit nie sluk toe Jesus hulle herinner dat God gekies het om ‘n heidense weduwee en ‘n heidense generaal uit te kies vir sy guns bo baie Israeliete nie!) 

Jesus se harde woorde van waarskuwing maak juis sin en is juis nodig in ‘n wêreld wat op pad is na ‘n skrikwekkende oordeel en ‘n ewige hel! Kom ons luister na die skokkende hardheid van Jesus se genade. Dit het mense in sy eie tyd verwonderd laat staan. Selfs sy vyande het erken dat hy nie bekommerd was oor andere se goedkeuring nie. “Hulle vra Hom toe: "Meneer, ons weet dat u in u prediking en onderrig regsinnig is. U let nie op die aansien van persone nie. U is getrou aan die waarheid, en so maak u die wil van God bekend.” (Lukas 20:21) Jesus was nooit ‘n people’s pleaser nie! 

Toe Jesus sy openbare optrede in die sinagoge in Nasaret begin het, het almal aanvanklik goed van Hom gepraat (22), maar toe Hy eers onverskrokke teen die grein van hulle selfgesentreerde verwagtings ingaan (24-27), was daardie selfde mense “woedend” (28) en het probeer om permanent van Hom ontslae te raak. Jesus pas by niemand se kortsigtige sondige selfsugtige verwagtings in nie – daarom raak baie mense net vir ‘n tydjie opgewonde oor Hom, maar as Hy op ons tone trap draai ons teen Hom. Soos die skare wat eers Hosanna skreeu, maar nie lank daarna nie : “Kruisig Hom” 

Die heerlikheid wat Jesus van God vertoon is ook vol waarheid, daarom draai Hy nie doekies om die skokkende toestand van die sondige mens te beskryf nie. Toe mense Hom vra vir ’n teken was sy reaksie : “ ’n Slegte en afvallige geslag wil ’n teken hê” (Matteus 16:4) Toe sy eie dissipels nie ’n demoon kon uitdryf nie, trap Hy hulle uit met : “Ongelowige geslag, hoe lank moet ek nog by julle wees?” (Markus 9:19) Sy reguit taal moes mense van woede laat stik het!  “Julle is soos wit geverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerhede is.” Vir verbondsmense : “Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen.” (Johannes 8:44) En selfs toe Jesus se eie toegewyde dissipel Petrus heldhaftig geprotesteer het teen Jesus se lydensweg, het Jesus hom streng bestraf : “Moenie in my pad staan nie Satan!....” (Matteus 16:23) Jesus as beeld van God, die God van waarheid, sluit ook die waarheid van die oordeel en die hel in. Hieroor was Jesus uitgesproke eerlik. Niemand in die Nuwe Testament het meer oor die hel gepraat as Hy nie. Maar dis juis genade en opregte liefde wat Hom daartoe gebring het. Jesus geen kwesbare gevoelens gespaar om mense teen die hel te waarsku nie. (Matteus 8:12; 13:49-50; 22:13;25:30 en Markus 9:43,48) In die lig hiervan verduidelik Jesus met skrikwekkende logika dat blote aardse gevare - soos om doodgemaak te word - niks in vergelyking is met die bedreiging van die hel nie. “Aan julle My vriende, sê Ek : Moenie bang wees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie. Ek sal vir julle sê vir wie julle moet bang wees : vir Hom wat mag het om, na die dood, in die hel te werp. Ja, Ek sê vir julle, Hom moet julle vrees.” (Lukas 12:4-5)

Glo jy in God? Glo jy in Jesus as die een wat God kom openbaar het? Dan moet ons die volle waarheid glo. Met eerlikheid wys Jesus ons die weg na die hemelse heerlikheid, of mense daarvan hou of nie! Rym hierdie waarhede met die GOD VAN LIEFDE? Ja! As dit dalk vir jou nie klink na die Prins van Vrede nie, onthou net, sy doel is nie vrede met ONGELOOF en SONDE nie. Dis vyande wat vernietig moet word, anders vernietig hulle ons. Daarom noem Jesus ons probleme by die naam en roep mense op tot bekering! Hy spel die konsekwensies ondubbelsinnig uit as ons ons nie bekeer nie.

Wie kan hierdie reguit boodskap vat? Wie kan na hierdie dinge luister? Wie kan dit verstaan? Die mens kom van nature in opstand teen hierdie feite! Jy kan die waarheid van God net aanvaar as Hy dit self aan jou openbaar! “By daardie selfde geleentheid het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel: "Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.” (Lukas 10:21) Die nederiges, die leerbares, die gebrokenes, die onderdaniges, die eenvoudiges - hulle sal die stem van krag en waarheid en geregtigheid en liefde hoor in die woorde van Jesus. As God my hart verander sal ek nie aanstoot neem aan Jesus se woorde nie. Ek sal juis moed skep uit die feit dat daar ten minste Iemand is wat die erns van die menslike toestand raaksien, die vyand ken, nie kompromie maak nie en praat soos ’n oorwinnende Koning en ’n groot Verlosser. HY wil ook jou Verlosser wees sodat jy Hom kan aanbid en bewonder!

GOD IS ONTSAGWEKKEND HEILIG ANDERS, JUIS DAAROM IS HY ONS EWIGE AANBIDDING WAARDIG!

(met erkenning aan John Piper se “Seeing and Savoring Jesus Christ”)



[Juis omdat God so heerlik heilig anders is, kan Hy van menslike wrakke "kunswerke" maak tot Sy eer!]

*Lees meer oor die RYKDOM VAN SY GENADE. Kliek op GOUD, DIAMANTE...


Vrydag 10 Oktober 2014

LEEU ÉN LAM

- die veelvoudige heerlikheid van God word gesien in Hom wat die sewe seëls kan breek. 

Baie mense het net ‘n enkelvoudige heerlikheid (hulle het net een sterk punt) : Iemand is miskien magtig en sterk, of dalk sagmoedig en vriendelik, maar nie beide nie. Miskien slim, maar nie juis liefdevol nie... Jesus as beeld van God, die Een wat God vir ons kom wys, het ‘n komplekse veelvuldige heerlikheid. Hy is ‘n LEEU maar terselfdertyd ‘n LAM. Hierdie heerlikheid is die heerlikheid van God!



’n Leeu word bewonder vir sy vreesaanjaende krag en koninklike voorkoms.

 ’n Lam word weer bewonder vir sy sagmoedigheid. Diensbaar gewillig om ons van wol en vleis te voorsien.

Maar nog meer bewonderenswaardig sou ’n kombinasie wees van hierdie twee. ’n Sterk leeu met die sagte nederige gesindheid van ’n lam en ’n lam met die krag van ’n leeu. Christus se Goddelike heerlikheid is iets soortgelyks. 

Ons beskou eienskappe soos dapper, sterk, koninklik... dikwels as teenoorgestelde van sagmoedig, vriendelik, liefdevol. Jy is of die een of die ander... God se koninklike mag soos geopenbaar deur Jesus gaan egter hand aan hand met sy sagmoedigheid. Jesus is magtig én nederig! Hy het met sy kragtige wysheid die vloer gevryf met die hoogmoedige skrifgeleerdes, maar Hy was eenvoudig en nederig genoeg om deur kinders bemin te word. Met net een magswoord kon Hy ’n woeste storm stilmaak, maar Hy wou nie die Samaritane met vuur tref of Homself van die kruis bevry nie. Hy jaag skelms met ‘n sweep by ‘n tempel uit, maar skenk liefdevolle aandag aan bedelaars en blindes!

Die heerlikheid van God soos ons dit sien in Christus is nie iets enkelvoudig nie. Dis ’n samevoeging binne in een persoon van uiterste diverse kwaliteite.* Ons sien dit baie duidelik in Openbaring 5:1-6. Die dringende vraag is hier : Wie is almagtig genoeg om die geskiedenis te ontsluit en die heelal tot ‘n sinvolle einddoel te lei? Die antwoord kry ons in vers 5 : “Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seels oopmaak.” Hier is die triomfantelike Leeu Christus gereed om die boekrol van die geskiedenis te ontsluit, die geheimenisse van God se raadsplanne tot volvoering te bring

Maar wat lees ons net in die volgende vers? “Toe het ek.... ’n Lam sien staan, die Een wat geslag was. Hy het sewe horings en sewe oë gehad...” (Vers 6)

 Dramaties! Johannes hoor : “LEEU”, 
maar sien : “LAM!” 

Dus die magtige Leeu is ook terselfdertyd ’n Lam, ’n dier wat swak en skadeloos is, ’n maklike prooi, wat kaalgeskeer word sodat ons klere kan hê en geslag word vir voedsel. Christus is ’n leeu met die eienskappe van ’n lam.

Die Leeu van Juda het juis die oorwinning behaal omdat Hy gewillig was om die nederige hulpelose rol van ’n Lam te vervul. Hy het op Palmsondag Jerusalem triomfantelik binnegekom soos ’n koning onderweg na ’n troon, en Hy het op Goeie Vrydag die stad verlaat soos ’n lam na die slagplek. Hy het die rowers uit die tempel verdryf soos ’n leeu wat sy prooi verskeur. Maar aan die einde van daardie selfde week, het Hy sy edele nek gebuig voor die “offermes”, en die Leeu van Juda word geslag as ’n ‘n plaasvervanger Lam op die altaar van die kruis.

Lam! Ja, maar watter soort Lam? Openbaring 5:6 sê : “Toe het ek...... ’n Lam sien staan, die Een wat geslag was. Hy het sewe horings en sewe oë gehad.” Twee sake is opvallend en vra ons aandag. Eerstens, die Lam staan. Hy lê nie meer swak en bebloed op die grond nie. Ja, Hy is eens op ’n tyd geslag. Maar nou staan Hy, staan Hy in die binnekring by die troon. Tweedens, die Lam het sewe horings. ’n Horing is deurgaan sin die boek Openbaring ’n simbool van krag en sterkte. (12:3; 13:1; 17:3,12) Dit was reeds al in die Ou Testament so.** Verder dui die getal sewe op volheid. Dus, hierdie is nie ’n gewone lam nie! Hy is lewend uit die dood, en Hy is volkome magtig in sy soewereine sewevoudige krag. Hy is voorwaar, ’n Lam, met die eienskappe van ’n Leeu!

In Openbaring 6:16 sien ons hoe die Leeu eienskappe van die Lam ontvou, wanneer mense tot die berge en klippe uitroep : “Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon, en vir die toorn van die Lam.” Moenie die Lam onderskat nie! Moenie kanse vat met Jesus omdat Hy sagmoedig en nederig is nie! En in Openbaring 17:14 lees ons : “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar die Lam....sal hulle oorwin omdat Hy die Here van die heersers en die Koning van die konings is.”

So is Christus dan die Lam soos ’n Leeu en die Leeu soos ’n Lam. Dit is sy heerlikheid : “bewonderenswaardige samevoeging van diverse heerlike eienskappe” Sy heerlikheid is die heerlikheid van die ewige lewende God! Eens op ’n tyd is die Leeu wat soos ’n Lam is, verdruk en beproef. Hy is na die slagpale gelei. Soos ’n skaap wat stom is voor sy skeerders, het Hy nie sy mond oopgemaak nie. (Jesaja 53:7). Maar op die laaste dag sal dit ’n totaal ander storie wees. Dan sal die Leeu nie meer soos ’n Lam optree nie, maar die Lam soos ’n Leeu. Met selfversekerde heersersmag sal Hy sy plek inneem aan die kant van die poel van vuur, waar sy hardkoppige vyande sal straf! (Open 14:10-11) Hierdie Verlosser wat almagtig is, maar ook sagmoedig, is presies wat ons nodig het! HY is heerlik en aanbiddingswaardig! Kom na Hom, Hy nooi jou! (Matteus 11:28)

*John Piper. Ek maak vryelik gebruik van sy boekie, SEEING AND SAVORING JESUS CHRIST
**Deuteronomium 33:17; Psalm 18:2, 112:9

Donderdag 18 September 2014

GOUD, DIAMANTE EN RENOSTERHORINGS

- Ja , maar dis nog niks...

Al die wêreld se goud, diamante en ook renosterhorings behoort aan Hom! Inderdaad, maar Hy het nog baie meer! God is die rykste Persoon in die ganse heelal. Hy besit meer as enigiemand anders. Meer nog, Hy besit almal en alles wat enigiets besit. As jy iets skep dan behoort dit mos aan jou. En God het alles geskape - insluitend ons! “Hy het ons gemaak en ons is Syne” (Psalm 100:3) Daar is maar eintlik net een werklike eienaar in die heelal, God self! (As die dwase mense wat so oor erfporsies stry of oor pensioene en beleggings wroeg maar net dit kon besef!) God is alleeneienaar; ons ander is net trustees. Nóg onsself nóg dit wat ons besit behoort regtig aan ons. Ons is slegs rentmeesters. Tydelike kortstondige rentmeesters. Alles is in trust aan ons gegee om te gebruik en te bestuur in belang van die groot Eienaar. In hierdie sin is alle sonde eintlik diefstal en verduistering van God se eiendom. Ja, kom ons dink sommer ‘n bietjie hieroor... God het jou ‘n liggaam gegee en as jy daardie liggaam deur nikotien verwoes of vir losbandigheid misbruik is jy besig om God se eiendom te beskadig! God het jou ‘n huisgesin gegee en as jy hulle afskeep om meer geld te maak is dit God se eiendom wat jy verwaarloos en jy sal verantwoording moet doen..


Die opvallende in die Nuwe Testament is dat God se rykdom hoofsaaklik nie beskryf word in terme van wat Hy geskep het en besit nie, maar in terme van die heerlikheid wat Hy het vanaf alle ewigheid. By herhaling lees ons van “die rykdom van sy heerlikheid” of “sy rykdom in heerlikheid.” (Efesiërs 3:16; Filippense 4:19 ens.) As God net ryk sou wees omdat Hy alles gemaak het en besit, dan sou Hy arm gewees het voor die skepping. Dit sou op sy beurt dan weer beteken het dat God uit nood geskep het en in ’n sin van sy skepping afhanklik is. Maar dis uiteraard nie te rym met die prentjie wat ons van God in die Bybel vind nie. God het nie geskep om welvaart te verkry nie, nee, Hy het geskep om sy rykdom te toon te stel, naamlik die rykdom van sy heerlikheid vir die genot van sy volk. (Efesiërs 1:6,12,14)

OORVLOEDIG RYK IN GENADE

Meer spesifiek, die fokus van die Nuwe Testament is dat die hoogtepunt van die rykdom van God se heerlikheid, die rykdom van sy barmhartigheid of genade is. Die heerlikheid van God wat Jesus vir ons kom wys het is mos “vol van genade en waarheid!” (Kliek op JESUS WYS VIR ONS GOD) Dit is iets wat die wêreld maar min van dink : “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld. Sê dit vir jou niks?” ( Romeine 2:4) Hierdie genade van God is natuurlik nie iets nuuts nie. Dit word alreeds in die Ou Testament beklemtoon! (Miga 7:18,19) Hy skep en red sy mense juis om “bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van ontferming, die mense wat hy vantevore vir die heerlikheid voorberei het.” (Romeine 9:23) Of om dit anders te stel, Hy skep en red sy mense sodat Hy die rykdom van sy genade kan ten toon stel en daarvoor bewonder kan word! 

Juis omdat God absoluut heilig en regverdig is en sonde met ‘n passie haat is dit die toppunt van sy heerlikheid om genade te betoon. Ons verdien oordeel en hel. Tog bewys God genade. So besef ons sy ware karakter!

GOD IS GENADIG! DIS EEN VAN SY BESONDERE ATTRIBUTE WAT JESUS AAN ONS KOM OPENBAAR HET!

En dis juis vir hierdie rede hoekom Jesus Christus in die wêreld gekom het. Jesus self is die vleesgeworde sigbare gestalte van God se genade. Jesus is genade in aksie. Hy kom om te red.“God het nie Sy Seun in die wêreld gestuur om die wêreld te oordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered sou word.” (Johannes 3:17) 

Die demonstrasie van die heerlikheid van God se genade is die doelwit van Christus se koms! 

Dit word reeds treffend beklemtoon in die geboorteverhale. In die Lofsang van Maria en in Sagaria se profetiese lied by die geboorte van Johannes die Doper, is die rede wat vir Jesus se koms gegee word, “sodat Hy aan sy barmhartigheid sou dink” (Lukas 1:54) en weens die “innige barmhartigheid van ons God” (Lukas 1:78). 

DIE PRYS

Die barmhartigheid en genade wat Jesus prakties kom wys het is absoluut gratis. Dit beteken nie daar was geen koste nie. Jesus het hierdie prys betaal met die koste van sy eie lewe. “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van ons misdade, volgens die rykdom van sy genade.” (Efesiërs1:7) Tot in alle ewigheid sal die verlostes lof bring aan God vir hierdie rykdom van genade... 


Jesus het gekom om die weelde van God se genade te demonstreer, daarom was sy hele lewe op aarde ’n oorvloedige uitstorting van genade op alle soorte mense. Hy keer as’t ware skottels en skottels vol genade op mense om... Elke soort menslike behoefte en pyn is deur Jesus tydens sy paar jaar op aarde aangeraak. Hy het genade bewys aan siekes, melaatses, lammes, bedelaars, honger skares, maar ook aan sondaars, tollenaars, duiwelbesetenes! Tot aan die einde van sy lewe het Jesus God se genade gedemonstreer – dink maar aan die rower aan die kruis! Jy kan maar amper sê, Hy gebruik sy laaste bietjie krag en asem om genade uit te deel. 

Het jy al die rykdom van God se genade eerstehands beleef? Het dit jou al tot bekering aangemoedig? "God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?" (Romeine 2:4) Aanbid en dank jy Hom vir sy oorvloedige genade en oorlopende ruim vergifnis? Maak dit ‘n verskil in jou lewe? Nog nie? Wel dis vandag weereens beskikbaar... Weereens, hierdie goedheid en genade wil jou tot bekering uitnooi!

                                                   (foto - internet)

[met erkenning aan John Piper se "SEEING AND SAVORING JESUS CHRIST"]

Vrydag 08 Augustus 2014

NIKS IS VIR HOM ONMOONTLIK NIE

- God se almag en soewereiniteit word vertoon deur Jesus.

Die sin van ons bestaan is om God te dank, aanbid en te bewonder. Ons kan dit net doen as ons sy heerlikheid raaksien. Een faset van God se heerlikheid waarvoor ons Hom moet bewonder is sy ALMAG! Iets van God se almag kan in die natuur gesien word. Psalm 29 herinner ons : “Dit is die magtige God wat die weer laat dreun........ die stem van die Here is vol majesteit.....dit stroop die bosse kaal. In sy paleis roep almal uit : Hoe geweldig!” (Psalm 29:3) Die almagsbewyse van God in die natuur is ‘n algemene tema in die Psalms! Vuur en hael, sneeu en damp, stormwind, wolke en weerligstrale gehoorsaam sy opdragte! (Psalm 135:5-7; 148:7,8) 

Ons het gesien dat Jesus God se heerlikheid vir ons wys. (Kliek op JESUS WYS GOD) Die eienskap/attribuut van God se almag word ook deur Jesus vertoon. Daarom is dit nie verbasend dat toe Christus in die wêreld gekom het, die hele natuur voor sy gesag gebuig het nie. Die doel van sy wonders was om sy Goddelike identiteit te openbaar! Hy beveel die wind en die see en hulle gehoorsaam. "Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: "Hou op! Bedaar!" Die wind het gaan lê en daar het ‘n groot stilte gekom. Toe sê Hy vir hulle: "Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?"Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: "Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?" (Markus 4:39-41) Dis baie veelseggend, want die Jode wat ‘n nie seevarende volk was, was maar baie bang vir die see!

WATER

Water is een van die belangrikste elemente in die natuur en juis water moet maak soos Jesus wil – teen die natuurlike wette. Op sy bevel het dit “solied’ geword onder sy voete en het Hy daarop geloop. Toe sy dissipels dit sien het hulle voor Hom “gekniel” en verklaar: “U is waarlik die Seun van God.” (Matt 14:33) ’n Ander keer by die bruilof te Kana het Hy die water beveel en dit het wyn geword. Daardeur, meld Johannes “het Hy sy mag laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom.” (Joh 2:11) Wind en water doen wat Jesus hulle ook al beveel. Word stil, word vas, word wyn.* Die natuurwette is deur Christus vasgelê en word ook op sy bevel verander. Goddelike almag in aksie! God is nie gebonde aan natuurwette nie en kan dit wysig en gebruik soos Hy wil.

Maar dis nie al nie...Oor sterftes en siektes. Oor vis, voedsel, vye bome... bewys Jesus sy Goddelike almag. Noem maar op, Jesus is die absolute heerser oor alle bestaanswerklikheid! Met ’n woord roep Hy dooies op tot die lewe. Die gesagswoord van die Lewegewer : “Lasarus, kom uit!” (Joh 11:43) Jesus bring 'n begrafnisstoet tot stilstand. Hy stop die dood in sy spore, as hy die weduwee se gestorwe seun aanspreek : “Jongman, Ek sê vir jou, staan op!” (Lukas 7:14) Dis heerlike Goddelike almag! 'n Dooie dogtertjie hoor : “Talita koemi” ,wat beteken : “dogtertjie....staan op! (Markus 5:41) Hy het die koors bestraf en onmiddellik het dit Petrus se skoonmoeder verlaat. (Lukas 4:39) Sy Goddelike almag omvat ontsettende detail. Hy het dit so bewerk dat ’n bepaalde vis ’n muntstuk sou insluk en aan Petrus se hoek gevang word. (Matt 17:27) ‘n Goddelike almag vol goedheid en medelye. Hy het met vyf brode vyfduisend gevoed. (Matt 14:19-21) ‘n Goddelike almag wat ook nie skroom om te oordeel nie. Hy het ’n vyeboom laat verdroog deur ’n vloek uit te spreek. (Markus 11:21)

Die Goddelike almag soos vertoon deur Jesus is allesomvattend en volledig. Die bestanddele van alle dinge is nie slegs deur Christus geskep nie (Joh 1:3; Kol 1:16) maar dit word ook oomblik vir oomblik deur Hom in stand gehou in die ganse heelal deur sy wil. “Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand.” (Hebr 1:3) “deur Hom bly alles in stand” (Kol 1:17)  Sou iets vir Hom dan onmoontlik kon wees?

SOEWEREINE ALMAG

Saam met almag gaan ook soewereiniteit. God is van niemand afhanklik nie, Hy doen wat Hy wil, soos Hy wil en wanneer Hy wil! Niemand kan Hom voorskryf of dwing nie – God is waarlik in die volle sin van die woord – KONING. En dis hierdie koningskap wat ons in Jesus sien. Hy genees soos en wie Hy wil. Die verhaal van Lasarus illustreer dit so duidelik. - “Kon Hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?” (Joh 11:37) Natuurlik, die antwoord op daardie vraag is, ja. Inteendeel, Jesus se tydsberekening was daarop gemik sodat sy vriend sou sterf. ‘n Doelbewuste beplande vertraging. Hy het vir twee dae gewag en gesê: “Lasarus is dood en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle in My kan glo.” Jesus kan deur niks onkant gevang word nie, ook nie deur die dood nie. Jesus het immers self die finale sê oor lewe en dood! : "Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste,die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.” (Openb. 1:17,18) 

Sy soewereine almag kom seker die duidelikste na vore as dit kom by die redding van sondaars. Hy red wie Hy wil. “Soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil."  (Joh 5:21) Jesus is die sterkste! Aan Hom is alle mag in hemel en aarde gegee. En hierdie mag word spesifiek genoem in die konteks van die redding van sondaars! Goeie nuus. “U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee.” (Joh 17:2; ook Matt 28:18) Dis hierdie mag wat Saggeus die gierige skelm uit ‘n boom gaan haal en van hom ‘n kind van Abram gemaak het, dis hierdie mag wat die selfversekerde vyand van die kerk, Paulus in sy spore gestop het en hom tot apostel geroep het! 

Inderdaad, sonder die almag van God sal mense nooit gered kan word nie! Die hartseer verhaal van die Ryk jongman in Markus 10 onderstreep dit baie goed. “En hulle was uitermate verslae en het vir mekaar gesê: Wie kan dan gered word? Maar Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik.” (Markus 10:26,27) Die almag van God word vir ons heerlik gedemonstreer as Hy deur Jesus mense nuut maak – nuwe skeppings! (2 Korintiërs 5:17) Eendag sal die hele skepping weer nuut gemaak word (Rom 8) en sal ons as nuutgemaakte mense dit vir ewig bewoon en God daarvoor loof en prys! 

Het sy genadige almag jou al nuut gemaak? Hierdie almagtige God kan ons maar vertrou, ons kan by Hom skuil, ons kan Hom maar net aanbid en bewonder! Dis so heerlik om te weet, ons aanbid nie 'n swakkeling nie, maar die ALMAGTIGE GOD!

*John Piper. Vir die hele gedeelte is daar swaar (ook woordeliks) geleun op sy SEEING AND SAVORING JESUS CHRIST.


Vrydag 01 Augustus 2014

KYK NA JESUS

- en sien die hart van God!

Om God te ken, lief te hê, te dank en te bewonder is ‘n einddoel opsigself. Weet nou maar vir ‘n feit – geld maak gaan nie vir jou ‘n sinvolle doel gee om voor te lewe nie. Ja, selfs ook nie ons kosbare kinders nie. Dis dalk vir jou nuus, maar jy kan nie vir jou kinders lewe nie – ons is gemaak vir ‘n groter doel as dit. (Hoe ontsaglik belangrik hulle ook al is!)

Onthou weer God is nie ‘n middel tot ‘n doel nie, maar is self die doel! (Kliek op WAAROM DIEN JY GOD?) Om Hom te bemin en te eer met ’n passie, met ’n volkome hart, met ons lewe en ons energie is die sin en opdrag van ons bestaan. Natuurlik sit ons nou met ‘n praktiese probleem - hoe kan ons God liefhê as ons nie weet hoe Hy is nie? As ons nie sy karakter en persoonlikheid eerstehands van naby ken nie. ‘n Mens raak tog eers regtig lief vir iemand soos jy daardie persoon beter leer ken. Nou is dit ’n feit - ons ken God nie sommer so van vanself nie. (Ons kan wel sekere dinge aflei uit natuur, hoe groot en magtig Hy is.) Maar ons ken nie God se hart en gevoelens nie. Ons ken nie sy persoonlikheid en bedoelings nie. Inteendeel - mense het ’n valse beeld van God. Trouens die Satan skep ’n valse beeld van God juis sodat ons Hom nie moet aanbid en liefhê nie. (Reeds in die paradys insinueer hy dat God ‘n tiran is, wat nie wil hê dat die mens in sy voorregte en kennis moet deel nie) Daar is veral twee valse beelde van God:



Tiran : God is ‘n wrede heerser, ‘n hartelose despoot wat lekkerkry as hy ons kan uitvang of kan straf.

Vader Krismis figuur : Dis die ander uiterste van ‘n skewe beeld van God. Hy is ‘n persoon sonder enige norme en beginsels. God is maar altyd vriendelik en wil net persente uitdeel. Hy is nie konsekwent ten opsigte van sy eie wette nie. Hierdie valse God, wat maar eintlik die mens se eie skepping is, gee nie om as jy ongetroud saambly nie, as jy bedrog pleeg nie, as jy met onvergewensgesindheid en bitterheid loop nie... Hy "smile" net oor als.

MAG GOD ONS BEVRY VAN VALSE BEELDE OOR HOM!

Dis so dringend belangrik dat ons God sal ken, maar waarom ken ons Hom nie? Een rede is - niemand het God ooit gesien nie! Die dieper rede hiervoor is natuurlik dat ons sondigheid dit onmoontlik maak om God te sien. Ons sal sterf as ons Hom sien!  ...en tog dis juis so nodig dat ons Hom "sien".

Vir hierdie dilemma het God die volmaakte oplossing: “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon--en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom--vol van genade en waarheid. Johannes getuig van Hom en roep en sê: Dit was Hy van wie ek gesê het: Hy wat ná my kom, het voor my geword, want Hy was eerder as ek. En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade. Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.” (Johannes 1:14-18)

Dis die heerlike en drastiese stelling wat Johannes hier maak. Jesus het God aan ons bekend kom stel. Jesus het God vir ons kom wys. Jesus wys deur sy lewe en sterwe God se hart vir ons! As ons na Jesus kyk, deur die evangelies te lees dan sien ons God. Dit gaan nie oor ‘n uiterlike fisiese samestelling nie, nee God is Gees. Jesus wys vir ons God se persoonlikheid, sy karakter, sy wense en bedoelings. Anders gestel - Jesus wys God se heerlikheid vir ons. (Ja, Jesus is die finale antwoord op Moses se hartsbegeerte en versoek wat ons in Eksodus 33:18 kry : “Laat my tog u heerlikheid sien!") ’n Heerlikheid vol genade én waarheid. Jesus wys God self vir ons. Omvattend en volledig. Hoor wat sê Jesus vir Filippus in Johannes 14:8-9. “Toe sê Filippus vir Hom: "Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg."En Jesus sê vir hom: "Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’?" Geweldig! Jesus is God wat mens geword het, Jesus openbaar God self aan ons. 

Belangrik : God is nie anders as Jesus nie. Ek vermoed sommige van ons sit met ’n valse teenstelling : God, die Vader is streng en ongenaakbaar; Jesus is sag en vriendelik. God straf sonde , maar Jesus gee nie eintlik om nie. Dis ‘n totale valse persepsie. Jesus sê – “wie my gesien het, het die Vader gesien.” God se karakter verskil nie van Jesus se karakter nie!

Jesus wys God vir ons. Hy verklaar God *, deur sy woorde en dade vertel Jesus as’t ware God vir ons Ook ander NT skrywers bevestig dit : Paulus stel dit so duidelik in Kolossense 1:15 “Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie."  En in Hebreers 1:3 lees ons : “Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God.” “Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese...” (OAV)

JESUS WYS VIR ONS GOD!

Wil jy weet hoe is God? Wil jy sy heerlikheid aanskou? Kyk na Jesus se woorde en dade. Blaai sommer saam met my deur die Johannes evangelie. Sien hoe straal die heerlikheid van God uit Jesus - ’n heerlikheid vol van waaragtige, egte genade. Sien God se liefde vir sondaars raak as Jesus by die put met die Samaritaanse vrou praat. ’n Liefde vir sondaars! (Het jy geweet God het sondaars regtig lief terwyl hulle nog sondaars is. (God is so anders as ons – dis moeilik vir ons om ’n prostituut, verkragter of plaasmoordenaar lief te hê – maar God kan!) Maar kyk hoe gebalanseerd is God se liefde wat deur Jesus gewys word - Jesus bied lewende water aan, maar dit beteken nie sonde word goedgepraat nie – Hy bring haar verborge sondige leefstyl aan die lig, naamlik haar saambly met iemand wat nie haar man is nie!) God is volmaak liefde, ook volmaak heilig en dis deel van dieselfde heerlikheid.

Wil jy weet hoe is God? Kyk na Jesus by die graf van Lasarus. Hy huil, Hy voel saam met mense. Maar sien ook die Goddelike almag. Reddende almag wat ‘n vrot dooie van vier dae tot lewe kan roep!

Wil jy weet hoe is God? Hoor hoe hanteer Jesus vir die diep gevalle Petrus? (lees Johannes 21) Volmaakte vergewende liefde. ’n Liefde wat herstel. Kyk na Jesus, dan “sien “ jy God se genade vir iemand wat gestruikel het. 

Wil jy weet hoe is God? Kyk ook na Jesus as Hy die duiweverkopers en die gulsige “foreign exchange” agente by die tempel uitboender. (Johannes 2) Luister as Hy vir die ongelowige Jode uitkryt: “Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen...” (Joh 8:44) Onthou die heerlikheid van God is vol genade én waarheid... Ja, beslis ook waarheid, die heiligheid van God kan nie sonde en valsheid toesmeer nie, maar ontbloot dit!

Wil jy weet hoe is God? Kyk veral na die kruis, daar word God se volmaakte karakter soos nêrens anders geopenbaar nie. Daar sien ons die volle omvang en intensiteit van God se heiligheid en liefde. Sy intense heiligheid vereis dat Hy sy haat en toorn oor Jesus uitgiet aan die kruis, want op daardie oomblik is Jesus die offerlam wat in ons plek sterf, bedek met ons sonde. Maar juis daar sien ons sy intense onbeskryflike liefde as Hy sy eie Seun ’n martel en vloekdood laat sterf om sondaars te red. God is nie ’n tiran nie, Hy is ook nie ’n beginsellose sentimentele Vader Krismis nie. Hy is die volmaak heilige, die volmaak liefdevolle God wat die wêreld so liefgehad het dat Hy sy eie Seun gestuur het....

Kyk na Jesus dan sien jy wie is God. Kyk na Jesus, glo in Hom wat in jou plek die sondestraf gedra het, dan ontvang jy ’n nuwe hart, wat jou in staat stel om God regtig lief te hê. 

*Die Griekse woord wat hier vir bekendmaak/verklaar gebruik word is die woord waarvan ons begrip “eksegese” afgelei word naamlik εξηγησατο



Saterdag 26 Julie 2014

WAAROM DIEN JY GOD?

- “Laat my tog U heerlikheid sien!


Waarom is jy ‘n Christen? Wat verwag jy om uit die “deal” te kry? Wat beteken dit vir jou, wat bring dit jou in die sak? Waarom dien jy God? Wat is jou doel met jou godsdiens? Is dit om beter gesondheid te geniet, geriefliker te lewe en dalk iemand te hê om vir jou te sorg? Miskien voel jy dit gaan darem jou daartoe bring om moreel ‘n beter mens te wees, om darem ordentlik volgens reëls en norme te kan leef? Miskien hoop jy dat godsdiens jou gaan help om groter geluk op aarde te beleef, of ten minste darem eendag die hel vry te spring? Sommige van hierdie dinge kan wel soos God dit wil byvoordele wees, maar daar is ‘n baie groter en meer fundamentele rede...

In Romeine 1 dring Paulus deur tot die kern van die saak. Paulus se doel met hierdie brief is om die evangelie sistematies te verduidelik. En waar begin hy? Na sy inleiding (vgl. Die kragtige uitspraak in 1:17) begin hy by die toorn (heilige wraak) van God. Lees dit saam met my...

1:18 God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.
1:19 Wat ‘n mens van God kan weet, was immers binne hulle bereik, want God het dit binne hulle bereik gebring.
1:20 Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie,
1:21 omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister.

Hoekom begin Paulus op so ‘n negatiewe noot? Eenvoudig : ‘n Mens moet eers jou sonde besef voordat die genade boodskap vir jou sin maak. So baie mense stel nie belang in genade nie, want hulle reken eintlik dat hulle dit glad nie nodig het nie omdat hulle voel dat God nou nie juis te veel onrustig is oor hulle sonde nie! Paulus begin dus by sonde en God se oordeel daaroor. Wat is die eintlike groot sonde, die wortel van alle ander sondes? (21) Die mens besef vanuit die natuur wie God is en tog eer en dank hulle Hom nie as God nie! Anders gestel, wat is die groot wortelsonde wat die mens die hel laat verdien? Leef vir jouself! Mis so jou skeppingsdoel!

DIE GROOT DOEL VAN ALS

Nou as ons raaksien wat die groot sonde is, kan ons ook aflei wat die groot opdrag aan die mens en doel van die mens is... Om God as God te eer en te dank. Soos die Shorter Cathechism dit stel : “to glorify God and enjoy Him forever” Die doel en sin van ons bestaan is God self. Die doel waarom God sondaars red, is om hulle na Homself te bring! (1 Petrus 3:18 – kliek op REDDINGSDOEL) Dit word bevestig deur Jesus se samevatting van die wet : “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand...”

God moet aanbid en geëer word omdat Hy God is*, omdat Hy Skepper is, omdat Hy die Almagtige is, omdat Hy alleen hoog en verhewe is, omdat Sy Naam heilig is. As ons waarlik in God se teenwoordigheid kom, vergeet ons van alle byvoordele en eer Hom as God! 

God is nie ‘n middel tot ‘n doel nie, God self is die doel!


So baie lyne in die Ou en Nuwe Testament loop uit op hierdie punt. Kom ons kyk na ‘n paar:

God self is sy kinders se erfdeel. Na die Intog word die land verdeel onder die stamme van Israel. Nou is dit opvallend, die stam van Levi kry nie ‘n grondgebied nie... Die opdrag aan die Leviete in Numeri 18:20 (OAV) spreek boekdele : “Ook het die HERE vir Aäron gesê: Jy sal in hulle land nie erwe nie, en jy sal geen deel onder hulle hê nie. Ek is jou deel en jou erfenis onder die kinders van Israel.” God self is hulle erfenis en beloning. In die nuwe bedeling is ons almal priesters... Hierdie beginsel geld nou vir alle gelowiges! Vir my en jou!

God self versadig ons en is die bron van ons vreugde. Habakuk 3:17-19 spel dit so duidelik uit! "Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. Vir die koorleier. Met snarespel. Die woordjie “nogtans...”(18) vertel als. Maak nie saak wat gebeur nie, oor God sal ek my verbly!

In Psalm 73 gaan dit oor die worsteling van ‘n gelowige met die vraag oor hoekom dit met hom sleg gaan, terwyl die goddeloses vet van die voorspoed is. Eers ontstem dit hom en maak hom sommer baie ongelukkig, maar uiteindelik kom Hy tot die gevolgtrekking dat sy geluk in God self te vind is! “Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.” (25)

Ook die Nuwe Testament maak dit vir ons duidelik, dit gaan nie oor wat God vir ons gee nie, maar oor God self, om Hom te ken... "En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is." (Johannes 17:3) 

Die ewige lewe is nie iets wat God gee, los van Homself nie, dis HYSELF!

Die essensie van die sin van ons bestaan is om te besef wie God is en Hom as God te eer en te dank! Dis jou doel op aarde! Om God opreg en passievol te eer en te dank moet ons eers weet hoe wie en hoe Hy is. Hoe nodig het ons daarom om die heerlikheid van God raak te sien! Laat ons daarom saam met Moses verlangende tot God roep : “Laat my tog u heerlikheid sien.” (Eks 33:18 OAV) As ons nie weet hoe wonderlik Hy is nie, gaan ons nie die begeerte hê om Hom te eer, te dank en te bewonder nie! Mag ons God se heerlikheid sien! Geen ander heerlikheid kan ons versadig en ‘n doel gee om voor te leef nie!

Is jou oë al geopen vir wie God is? 

Dit bring ons by die aller belangrikste vraag : Hoe en waar kan ons God se onbeskryflike heerlikheid raaksien?

Natuurlik kan ons baie van God se grootheid, heerlikheid en almag in sy skepping sien. Ons het dit gelees... Daarom sal niemand eendag ‘n verskoning hê nie. God openbaar homself in die natuur, maar Hy het Homself nog duideliker bekend gemaak. Deur mens te word in Jesus Christus... In Jesus se woorde en dade en veral in sy kruis en opstanding skyn die heerlikheid van God, die allesoorweldigende heerlikheid wat ons op ons knieë in aanbidding voor Hom bring! Na hierdie heerlikheid gaan ons nou vorentoe verder kyk. Spesifiek hoe Jesus die verskeidenheid van die ATTRIBUTE (eienskappe) van God se eerlikheid aan ons bekend maak.

*D.Martyn Lloyd-Jones, THE PLIGHT OF MAN AND THE POWER OF GOD, p33


Die heerlikheid van God se almag kan in die natuur gesien word, maar die volle heerlikheid, vol van genade en waarheid, kan ons alleenlik in Jesus Christus aanskou! (foto - Rundu)