BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Afgedwaaldes. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Afgedwaaldes. Wys alle plasings

Donderdag 14 November 2019

WIE?

WIE SE SAAK MET GOD IS REG? 

 Wie mag die Nagmaal gebruik en so sy verlossing vier? Met ander woorde, wie se saak is reg met God? Wie word deur God self as ‘n regverdige beskou? Jesus self gee ‘n duidelike en radikale antwoord in LUKAS 18:9-14. Dis ‘n pynlike, skokkende antwoord wat baie kerkmense en vroom godsdienstige siele aan hulle Paasbolletjies en Kersmaaltye sal laat verstik! Aan die anderkant is dit juis ‘n antwoord wat vir hopeloses, moedeloses en gebrokenes hoop gee. Vir hoogmoediges en selfversekerdes is dit ‘n wrede ontnugtering; maar vir geestelike bedelaars is dit inderdaad evangelie! 

Jesus het ‘n baie spesiale doel waarom Hy hierdie gelykenis vertel : Sy doel is om mense te ontmasker en te waarsku wat op hulleself vertrou dat hulle saak met God reg is! Dis nou almal wat op hulle eie geestelike en morele bates staatmaak om in die koninkryk in te gaan. Veral mense wat hulleself met ander vergelyk en daarom seker voel van hulle saligheid. 

“En Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel.” (Lukas 18:9 OAV) 

TWEE MANNIE IN DIE TEMPEL 

Daar is ‘n duidelike ooreenkoms tussen hierdie twee manne. Altwee gaan na die tempel om te bid. Altwee glo in God. Altwee (soos alle mense) is sondaars. Die een weet dit net nie! Maar dis waar die ooreenkoms ophou. 

Daar is inderdaad diepgaande verskille tussen die twee. Dit moet noodwendig tot twee uiteenlopende toestande lei. Uiteindelik twee verskillende ewigheidsbestemmings! 

HOE VERSKIL HULLE? 

Wat betref hulle opinie oor hulleself: 

Die fariseër het baie selfvertroue en voel goed oor homself.  Hy het 'n valse geloofsekerheid gehad! Hy was seker van die hemel, maar bestem vir die hel! Dit word duidelik dat sy geloof eerder in homself is as God! Sy goeie selfbeeld sou kon doen as ‘n handboekvoorbeeld vir elke plaaslike, Amerikaanse of Nigeriese welvaartsprediker! 'n Ware trofee vir die beste lifecoach!

Die tollenaar het geen goeie selfbeeld of selfvertroue nie. Hy voel bitterlik sleg oor wie hy is! In mooi taal – hy mishaag homself! 

Die fariseër vergelyk homself met ander en hoe meer hy dit doen hoe meer neem sy selfvertroue toe. Hy raak so liries oor homself, hy is eintlik besig om homself te aanbid! 

Die tollenaar probeer homself nie eers met ander vergelyk nie, Hy sien homself net as sondaar voor God en dit stroop hom van alle selfvertroue! Sy hele houding, lyftaal en woorde vertel net een ding : diep berou en hartgrondige sondebesef. (13) "Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’ 

Wat betref die basis van hulle vertroue: 

Die fariseër vertrou op homself. Dit lyk of hy inderdaad rede het...Hy het ‘n indrukwekkende geestelike batelys. (Baie soos Paulus voor sy bekering waarvan hy later in Filippense 3 vertel) Hy is volgens alle uiterlike standaarde ‘n vroom man wat God se wette ernstig opneem. (11) En dis reg, ons moenie hierdie verkeerde dinge doen nie. Verder....hy kom die regte godsdienstige pligte na... (12) Hy vas, gee tiendes... En dis inderdaad goeie en belangrike dinge! Onthou, Jesus veroordeel nie die fariseër omdat hy vroom is nie, maar omdat hy op sy vroomheid staatgemaak het! 

Die tollenaar is geestelik bankrot. Hy het niks goeds om oor homself te sê nie. Niks om op trots te wees nie. En hy probeer nie eens om verskonings vir sy verkeerde gedrag uit te dink nie. Hy noem homself eerlik net “‘n sondaar” sonder enige versagtende beskrywings... (LW – daar staan nie “arme” sondaar nie!) Onthou, Jesus prys die tollenaar nie omdat hy so vol sonde is nie, maar omdat hy op God se genade staat gemaak het. 

Altwee is sondaars. Die fariseër besef dit nie. Die tollenaar is diep daarvan bewus. Dis eintlik al wat hy oor homself kan sê!

Altwee is sondaars. Die fariseër dink egter dat sy goeie dade homself laat kwalifiseer vir die koninkryk. Volgens sy self opgestelde geestelike balansstaat oortref sy goeie dade sy slegtes! Die sondaar besef hy het geen kwalifikasies nie. Hy is bankrot voor God. Sy enigste hoop is op God se genade! 

EWIGHEIDSVERSKIL

Die belangrikste verskil is : Die tollenaar gaan daar weg as ‘n regverdige. Hy word deur God self vrygespreek! Die fariseër nie. Dis die allerbelangrikste verskil, dis ‘n ewigheidsverskil! Daar is eintlik maar net twee soorte mense. Daar is ‘n duidelik skeidslyn. Onwedergebore en wedergebore. Kind van die hel, kind van God. 

WEERGEBORE?

In die fariseër se houding en woorde sien mens die duidelike eienskappe van iemand wat nie weergebore is nie. Wat is dit? Hy bid wel tot God maar sy eintlike vertroue is op homself, sy moraliteit en sy godsdienstigheid! Hy vind troos in homself dat hy goed genoeg is om nie hel toe te gaan nie. 

 Die beroemde Amerikaanse teoloog, Jonathan Edwards* het gesê: “Almost every natural man that hears of hell, flatters himself that he shall escape it!” Dis so waar - onwedergebore godsdienstiges troos hulleself oor die algemeen– “Ek is darem nie so sleg dat ek hel toe sal gaan nie…” 

In die tollenaar se houding en woorde sien mens die duidelike tekens van wedergeboorte: Bewustheid van sonde en eie onwaardigheid. Vertroue op God! Hy weet hy verdien die hel. Daarom is sy vertroue alleenlik op die genade van God. Die genade wat God ons deur Jesus skenk. Voortdurende besef van sonde en hartseer erkenning van my onvolmaaktheid is duidelike tekens van die Gees se genadewerking in ‘n mens se lewe. Daarmee saam ‘n afhanklike vertroue op Jesus deur wie ek God se genade kry. 

Die tollenaar is ‘n geestelike bedelaar en volgens Jesus is dit die basiese vereiste om deel te kry aan die Koninkryk van God! (Matteus 5:3) 


DIE VEILIGSTE PLEK 

Die veiligste plek is om jouself plek as sondaar voor God se genadetroon in te neem! Om jouself te verneder. (14) Miskien is jy vol onsekerheid… Ja, jy weet jy het lank gelede jou lewe vir Jesus gegee… Maar jy het dalk baie afgedwaal, dalk lou geword, beleef baie twyfel, baie mislukkings agter die rug... Jy wonder dalk diep binne in jou hart of jy waardig is om die nagmaal te vier… Jy smag na die Here God se teenwoordigheid, maar jy weet nie hoe om by hom uit te kom nie... Wat staan jou te doen? 

Charles Spurgeon het ‘n baie kosbare verhaal in die verband vertel. (aangepas) Dis van die edelman wat ‘n baie goeie verhouding met die koning van die land gehad het. Maar iewers het dinge begin skeefloop. Hy wou so graag weer die koning sien, maar hy kon dit net nie regkry nie. Daar was altyd een of ander probleem of struikelblok. Toe kom hy te hore dat die koning ‘n reuse partytjie in die paleistuin vir al die stad se bedelaars en boemelaars gaan aanbied. Die uitnodiging was baie duidelik : “Almal is welkom!” En net daar kry die edelman ‘n plan! As ek dan nie my koning kan sien as edelman nie, gaan ek nou na die byeenkoms as bedelaar! Bedelaars, alle bedelaars is mos uitgenooi! So gaan ontmoet hy weer die koning as bedelaar in sy vodde en so word die verhouding herstel! 

Die punt is : 

As jy nie meer weet of jy as kind van God voor Hom kan verskyn nie, kom as sondaar! Eerlike gebroke sondaars vol berou is altyd welkom by God. 

Kom as sondaar na God op grond van Jesus se verdienste, sy volmaakte kruisdood… Sondaars wat berou het en uitroep om genade sal nie weggewys word nie! Dis die regte houding, maar ook die vertroue waarmee ons die Nagmaal gebruik! Dis ook ‘n drastiese keuse. KOM! KRY BEROU! VERTROU! Kom nou in kinderlike vertroue na Jesus. Hy nooi jou! “Die Gees en die bruid sê: "Kom!" En elkeen wat dit hoor, moet sê: "Kom!" En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Openbaring 22:17)

Dis met die gesindheid van die tollenaar waarmee ons na die Nagmaalstafel kom. Dis die regte gesindheid!

*Hierdie aanhaling sowel as heelwat ander gedagtes het ek by Nico van der Walt gekry.

Donderdag 05 Oktober 2017

WEGDRYWE?

“SO ‘N GROOT SALIGHEID!” : DIE GENADEGELEENTHEID WAT ONS NIE DURF MISLOOP NIE!


“So ‘n groot saligheid!” So ‘n groot verlossing! Hoe sal ons ontkom as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam het? As ons God se groot verlossingsplan vertrap of selfs net ignoreer, hoe sal ons ontsnap of ontvlug van Sy skrikwekkende, maar regverdige wraak en oordele?


“So ‘n groot saligheid!” Reeds reg aan die begin van sy brief het die Hebreërs skrywer verduidelik waarom die verlossingsplan so oneindig finaal, groot en heerlik is! Sien Hebreërs 1:1-3. Dit gaan oor Jesus as die finale Woord van God! Voorheen het God op baie maniere met sy mense gepraat deur die profete… wonders, drome, die wet (tora), tabernakel, tempel, maar NOU in hierdie laaste dae het Hy finaal gepraat deur die SEUN! Jesus self is die finale hoogtepunt van God se selfopenbaring aan die mens!

JESUS SE UNIEKE HEERLIKHEID

Nou het God deur Jesus gepraat en HY oortref alles en almal in heerlikheid, uniekheid en belangrikheid. Dis nie sommer praatjies nie. Die skrywer noem sewe redes waarom Jesus se heerlikheid so ontsagwekkend heerlik en onvergelykbaar is.

1.Deur Hom is die wêreld geskep. “Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.” (Joh. 1:3)

2.Hy is die erfgenaam van alles. “Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom, die hele aarde as jou besitting.” (Ps. 2:8 ) Ja, aan Jesus behoort die aarde, maar ook die ganse heelal!

3.Hy is die afskynsel van God se heerlikheid! Anders gestel die heerlikheid van God straal uit Hom. As jy na Jesus se karakter lewe en optrede kyk sien jy God! Dink maar hoe het Jesus opgetree teenoor die Samaritaanse vrou, Saggeus, klein kindertjies... vol genade en waarheid!

4.Hy is die afdruksel van sy wese, die ewebeeld van God. Hy wys vir ons hoe lyk God wat Gees is (soos ‘n afdruksel van ‘n muntstuk in klei) Ja, ook wat betref sy heilige toorn. (dink aan die reiniging van die tempel)

5.Hy hou die heelal in stand. “Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand.” (Kol 1:17) Hy voer alles na ‘n heerlike finale bestemming en doel.

6.Hy het die reiniging van ons sondes bewerk. Hier is nou ‘n wending. ‘n Verskuiwing van Jesus se kosmiese funksies na sy persoonlike betrokkenheid by ons. Jesus het iets drasties gedoen aan ons verskriklike sondeprobleem, die probleem wat skeiding maak tussen ons en God… Verder maak die skrywer dit duidelik dat Jesus deur Sy een volkome offer ons volkome en vir altyd van ons sondeskuld bevry! “Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak.” (Hebr. 10:14)

7.Hy sit aan die regterhand van God! Dis die absolute magsposisie en ereplek in die ganse heelal. “Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is,sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig,...” (Fil. 2:9,10) Hy is in beheer, nie Satan of sy trawante nie. Dis ‘n heerlike troos wat ons bevry van vrees!

Verder in die hoofstuk word dan ook beklemtoon dat Jesus ook ver verhewe is bo die engele.

PASOP!

Na die beskrywing van die heerlikheid van Jesus as die fokus en uitvoerder van God se verbysterende heerlike verlossingsplan, kom die skrywer by sy eerste waarskuwing in hierdie brief. Sien Hebreërs 2:1-3. Pasop, moenie wegdrywe nie! Dis so belangrik om dit te hoor. So baie mense gaan verlore, nie omdat hulle op ‘n dag, eensklaps Jesus verwerp nie, nee hulle drywe maar net so stadig en stelselmatig weg van die waarhede van die evangelie… Hulle harte raak geleidelik afgestomp, koud en ongevoelig teenoor Jesus! Dis ‘n resep vir die hel!

Dis ‘n baie dringende ernstige waarskuwing om nie die evangelie te ignoreer of te verwerp nie. Om nie te verswak in die geloof nie. Om die erns te onderstreep verwys die skrywer na die tradisie dat die wet van Moses met behulp van engele oorgelewer is.* As daardie wette deur mense oortree is, is hulle baie swaar gesterf. Die punt is, hoeveel swaarder sal ons gestraf word as ons die verlossingsplan soos geproklameer in die evangelie verwerp? Die evangelie is immers nie aarde toe gebring deur ‘n engel nie, maar deur die Seun van God self!

Hou jy nog vas aan die evangelie van Jesus Christus of het jy al begin wegdrywe?

Wees baie eerlik, wat is jou reaksie tans op hierdie groot saligheid? Raak dit jou hart, het dit al gelei tot waaragtige bekering, motiveer dit jou tot ‘n heilige lewe, maak dit jou opgewonde om spesiaal op Sondae die Here te aanbid en te loof saam met sy kinders in die erediens, het jy ‘n passie vir die gekruisigde en opgestane Jesus, neem jy standpunt in vir Jesus of dryf jy saam met die groot stroom van laksheid en goddeloosheid…? Jy sê : “Ek is nou nie seker oor hierdie vrae nie, maar ek is darem ‘n goeie ordentlike eerlike mens!” Ag vriend, die Bybel leer dat ons almal sondaars is. “Daar staan immers geskrywe: "Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie,...” (Romeine 3:10) Daar is niemand sonder sondeskuld voor God nie, nie een nie en daar is net een hoop – hierdie groot saligheid wat Jesus gebring het! Hy het die skuld betaal! As jy Hom nie ken nie, of weggedryf het van Hom is daar geen uitkoms nie, geen ontvlugting nie, geen hoop tot in alle ewigheid nie! 

Onthou net God in sy groot genade stuur hierdie waarskuwing ook vandag na my en jou, juis omdat Hy ons bemin en wil behou!

*Dat die wet deur middel van engele oorgelewer is, vind ons nie direk in die Ou Testament self nie. Ons vind hierdie tradisie wel in Galasiërs 3:7 en Handelinge 7:53



Ugab

Maandag 03 Maart 2014

KULTUS VAN DIE LEKKENDE WATERTENKS

- gevang en verneuk deur nuttelose plaasvervangers!

Israel het ‘n besondere geskiedenis gehad. Hulle het prakties beleef dat God ‘n getroue Verbondsgod is wat sy beloftes hou. Hy praat nie net nie, Hy doen! Hy het met ‘n kragtige hand hulle uit Egipte verlos. Met hulle eie oë het hulle gesien dat God ’n lewende God is..... hulle het self droogvoets deur die Rooisee getrek, water uit die rots gedrink, die manna en die kwartels geëet, elke dag beleef hoe hulle gelei word deur die wolk en vuurkolom.... Hulle het die liefde, die genade, die verlossingskrag en almag van die ware God konkreet leer ken. 

Maar toe gebeur die onbegryplike...

Sondag 12 Augustus 2012

VERLORE SEUNS (1)

- die jongste word feestelik vergewe.

Ons ken almal hierdie baie bekende en pragtige vertelling van Jesus in Lukas 15 as die gelykenis van die Verlore Seun. Dis natuurlik ‘n opskrif wat die vertalers voorsien het. ‘n Beter titel sou dalk kon wees : DIE VERLORE SEUNS. (Waarom, sal ons in volgende week se preek sien) Voorlopig kan ek net sê, die skerpkant en verrassingselement in die boodskap van  hierdie gelykenis kom eintlik eers na vore in die tweede gedeelte wat handel oor die oudste tuisblyer seun. Tog het hierdie eerste gedeelte (Lukas 15:11-24) opsigself ook ‘n baie sterk boodskap. 

Ons het hier ’n radikale verhaal. ’n Verhaal van uiterstes! Uiterste opstand, uiterste ellende, maar ook uiterste vergifnis en genade!  Maar daar is ‘n probleem, ons ken die verhaal so goed - dit  raak ons eintlik nie regtig meer nie. Ons hoor nie meer die soet  musiek van opwindende genade hierin nie. Ons voel nie meer die “onbeskryflik groot” nie.* Ons harte word nie meer so geraak dat ons in aanbidding voor ons Vader wil neerbuig nie.

So kom ons luister bietjie op ‘n ander manier na die “Verlore Seun”.

Die Amerikaanse joernalis-skrywer Phillip Yancy** vertel die gelykenisse van Jesus op ’n eietydse manier oor, gegrond op  hedendaagse gebeurtenisse. Johan Celliers vertel sy weergawe van die “Verlore Seun” so oor in Afrikaans:

’n Tienerdogter het op ’n dag van haar ouerhuis in die platteland af weggeloop na die stad en in verkeerde geselskap beland. Sy raak verslaaf aan dwelms en verval in prostitusie. Gou beland sy op straat en moet sy saans in gevaarlike stegies slaap. Een nag terwyl sy lê en luister na voetstappe, lyk die wêreld om haar skielik anders. Sy voel nie meer soos ’n vrou van die wêreld nie. Sy voel soos ’n klein dogtertjie, verlore in ’n koue en vreesaanjaende stad. Sy het onttrekkingsimptome. Haar sakke is leeg en sy is honger. Sy trek haar bene in en rol haar op in die fetusposisie waar sy bewend van die koue onder ’n paar koerante lê. Skielik vul ’n enkele prentjie haar kop : haar ouerhuis, waar die kersiebome vol bloeisels is, haar hond wat blaffend tussen die bome en die bloeisels op die grond agter ’n tennisbal aan hardloop.
“God, waarom het ek weggegaan,” sê sy vir haarself, en die pyn sny deur haar hart “My hond by die huis eet beter as wat ek nou eet.” Snikkend besef sy dat sy meer as enigiets anders in die wêreld wil huis toe gaan.
Op die een of ander manier slaag sy daarin om haar ouers te skakel, maar hulle is nie daar nie en al wat sy kan doen is om ’n boodskap op die antwoordmasjien te laat kom om te sê dat sy die volgende dag om twaalfuuur met die bus huis toe kom. “En Pa,” voeg sy by : “ek sal verstaan as julle my nie wil kom ontmoet nie. Dan bly ek maar op die bus tot my geld opraak.”
Die sewe uur wat sy op die bus moet deurbring, word vir haar ’n nagmerrierit. In haar gedagtes probeer sy ’n verskoning aan haar ouers formuleer, maar haar keel trek toe. Sy het in geen jare enige mens vir enigiets om verskoning gevra nie.
Uiteindelik na wat soos ’n ewigheid gevoel het, bereik sy haar bestemming. In totale onsekerheid sluip sy die busterminus binne. Nie een van die tientalle tonele wat sy in haar gedagtes sien afspeel het as moontlikhede vir wat sy daar sou aantref, het haar egter voorberei op dit wat sy voor haar oë sien nie. Want, toe sy om die hoek die saal binnekom, bars daar ’n blye pandemonium los. Daar staan ’n skare van haar broers en susters en ooms en tantes en neefs en niggies en ’n ouma- en oupagrootjie ook nog. Hulle het almal sulke skewe potsierlike partytjiehoedjies op en blaas op raserige partytjietrompette, en dwarsoor die hele terminusmuur is ’n banier gedrapeer wat uitroep: “Welkom tuis! Welkom tuis!”
Iemand tree uit die groep na vore. Dis haar pa! Sy staar na hom deur haar trane heen, en begin haar gememoriseerde toesprakie stotter : “Pa , ek is jammer, pa. Ek weet ek is nie werd...”
Hy onderbreek haar. “Stil, my kind. Ons het nie tyd vir verskonings nie. Jy gaan laat wees vir jou partytjie. Daar wag ’n reuse -feestelikheid op jou by die huis...”  

Daar was drie radikale momente in die verhaal van die jongste se terugkeer wat treffend die reddingsgeskiedenis van die sondaar beskryf. Miskien herken jy jouself.

Radikale rebellie en ellende. Die jongste seun het sy Vader se liefde op ‘n gruwelike wyse verwerp. Met minagting het hy losbandigheid bo Vaderversorging gekies. Maar uiteindelik moes hy agterkom dat ‘n lewe weg van die Vader bitter en eensaam is. Sonde bring net tydelike genot en gewildheid. Dit bring ‘n skynvreugde met skynvriendskappe. Maar op die ou einde trek die sonde jou af in ‘n smerige varkhokbestaan. As die laaste dop uitgewerk is, as die losbandige verhouding begin vaal raak, as die geld vir plesier op is - dan is die sondaarhart leeg en eensaam. Dan word die geestelike bankrotskap pynlik en voelbaar.

Radikale besef en besluit.  Iewers het die waarheid tot hierdie seun deurgedring en het hy eerlik met homself geraak. Dis ‘n baie belangrike draaipunt in die sondaar se bekering. Die eerlike  erkenning : “Dis hoe ek lyk voor God!” So het Dawid (nadat Natan die vinger na hom gewys het) ook besef dat hy skuldig staan voor God. (Psalm 51)  As God uit genade deur sy Gees in die afgedwaalde werk, begin dit by ‘n sondebesef, ‘n bewustheid van my boosheid en leegheid. Deur die genade kom ek dan tot ‘n besluit : “Tot hier toe en nie verder nie. Ek staan nou op en gaan terug, kom wat wil.” 

En jy... het jy al opgestaan?

Radikale Vaderlike vergifnis.   Dis waar die klem val in die eerste gedeelte! Ja, die opstand en ellende van die seun word redelik breedvoerig beskryf, maar die Vader se optrede steel die kalklig! Die terugkerende seun kry ‘n ontvangs wat alle verwagtinge oortref.  ‘n Rebelse seun loop homself vas in ‘n fees! Mens sou nie raai dis hy wat sy Pa beledig en bitter verdriet aangedoen het nie. (Dit lyk eerder of hierdie seun ‘n olimpiese medaljewenner was!)  Pa gooi alle waardigheid oorboord en hardloop na die seun. Hy het nooit sy seun vergeet nie...hy het nog al die tyd vir hom gewag.  Hy was wel vir ‘n tyd uit sy seun se gedagtes, maar sy seun was nooit uit sy gedagtes nie. Sy hart is gebreek oor hierdie wegloperseun. As die seun by hom aankom is daar  geen verwyt nie.   Nie eers,  “ja, ek vergewe jou, maar van nou af moet jy darem in jou spoor trap” of “is jy seker jy is jammer?” of “ek hoop jy het nou jou les geleer” nie.  Onvoorwaardelike liefde. Ja, die seun het berou, hy bely en erken sy sonde (dis onmisbare elemente in ons redding!)... maar vanuit die Vader se oogpunt is dit amper ‘n bysaak. “Ja, ja, ja ek hoor jou, maar kom ons vier fees!” (Kyk hoe word die element van feesvier beklemtoon in vers 23,24)

Terugkerende sondaars kry ‘n  omhelsing van God. Volkome vergifnis! Volkome aanvaarding! Volkome vreugde!

Waarom wag jy? Waarom is jy bang of skaam? Wat hou jou terug? Om nog net een uur in die varkhok van sonde te sit is ‘n vermorsing van vreugdetyd wat jy kon beleef het. Staan op, gaan na jou Vader, Hy wag reeds vir jou... Hy het reeds sy liefde aan die kruis bewys deur Jesus Christus.  Hy nooi jou uit : “Kom nou laat ons die saak met mekaar uitmaak...”  (Jesaja 1:18)
“Ja, maar ek het eens op n tyd sy liefde en beleef by my bekering, maar het weer afgedwaal. Ek is 'n ware ‘backslider’, ek het my genadekanse weggegooi”, maak iemand beswaar. Vriend, hierdie boodskap is juis vir jou. “Kom terug kinders wat afgedwaal het...” (Jeremia 3:14)

Staan op, kom na die Vader, vind vergifnis en vier fees in heiligheid en reinheid!

*Johan Celliers
** Die feit dat ek Yancey aanhaal impliseer nie dat ek noodwendig met al sy sienings in sy werk saamstem nie.