BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Feesvier. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Feesvier. Wys alle plasings

Donderdag 23 Februarie 2017

JULLE MAAK MY NAAR…

- HARDE WOORDE... VAN LIEFDE EN UITNODIGING!



“Julle is lou, arm, blind en kaal!” Wie durf sulke dinge vir ordentlike Christen mense sê? Wie waag dit om ‘n gemeente so te beoordeel? Dis Jesus self wat hierdie harde woorde uitspreek in hierdie brief aan die gemeente van Laodicea wat ons vind in Openbaring 3:14-22. Hy stel Homself duidelik bekend as die geloofwaardige Getuie – sy oordeel en uitspraak is dus onpartydig en waar! Hy is die Een deur wie God geskep het, Hy praat dus met Goddelike alwetendheid en gesag! “Ek weet alles wat julle doen…” Die gemeente, ek en jy moet dus luister…

"Julle is lou, arm, blind en kaal!" ‘n Skokkende en heeltemal onverwagse beskuldiging teen die gemeente van Laodicea. Hoe is dit moontlik? Hierdie gemeente het geen finansiële probleme gehad nie. Hier word geen beskuldiging gemaak van dwaallering of growwe sondes soos afgodery en sulke dinge nie. Daar was niks wat hierdie gemeente gepla het nie – ons kan aflei hulle het baie goed en tevrede gevoel met hulleself. “Julle sê: "Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie," en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal.” (17) Maar dit was juis die probleem – selftevredenheid. Dit was moontlik ‘n probleem in die gemeenskap wat oorgespoel het na die kerk. Die stad Laodicea het in 60nC ‘n aardbewing beleef en hulle was baie trots daarop dat hulle sonder die hulp van Rome die stad weer kon opbou. Daar was dus ‘n houding van : “Ons is onafhanklik, ons kan op ons eie regkom, ons het niks en niemand nodig nie…”

"Ja, ons finansies staan sterk, ons blink uit in organisatoriese vernuf, ons hulpbronne is oneindig (vir alle probleme en vrae is daar mos 'n antwoord op die internet), ons teologiese opleiding is van 'n besondere standaard en ons predikante woon gedurig kursusse by waar hulle VBO punte kan verdien... en moenie vergeet nie ons is by baie gemeenskapsprojekte betrokke."

Die beeld van louheid en die erns daarvan sou vir die gemeentelede van Laodicea baie goed verstaanbaar gewees het in terme van hulle eie watersituasie. Tien kilometer noord was die stad Hiërapolis geleë wat bekend as vir sy warmwaterbronne, tien kilometer wes was Kolosse wat weer suiwer kouewaterbronne gehad het. Laodicea het nie eie waterbronne gehad nie en was afhanklik van ‘n akwaduk en op ‘n plek het hierdie water oor ‘n kalkkrans gestort en het louwarm in Laodicea aangekom. Saam met die kalkinhoud het dit die water ondrinkbaar gemaak.

Die tussentoestand van geestelike louheid maak ons onbruikbaar en verwerplik. Ons word so maklik lou en laks in ons erediensbywoning, in ons gebedslewe, in ons bestudering van die Woord, ons stryd teen sonde, in kompromieë maak… “Ag, ek weet hierdie sepie wat ek kyk is nie heeltemal tot eer van die Here nie, maar ek kyk maar…” Maar veral lou in ons liefde en toewyding aan Jesus… en weet jy wat, hierdie houding maak Hom naar! Die woord wat in die Grieks hier gebruik word beteken letterlik – braak.* Dis die afgryslike tragedie en mistasting van ‘n lou Christen of ‘n lou gemeente – jy dink, die Here is darem redelik tevrede met my, maar intussen maak ek Hom naar!

HARDE LIEFDE

Vir ‘n lou gemeente en lou Christen is daar net een oplossing. Erken jou nood en kom na Hom. Kom na Hom vir geestelike rykdom. Kom na Hom vir wit klere – ware reinheid en geregtigheid. Kom na Hom vir oogsalf – om geestelike insig te kry. Weereens sou hierdie metafore vir die Laodisense goed verstaanbaar wees en sinspeel dit op hulle werklike situasie. Hulle stad was bekend as ‘n produseerder van swart wolkklere en ook bekend vir die vervaardiging van oogsalf.

Jesus gebruik harde woorde vir die gemeente. Miskien beleef jy dit ook so- “Hy praat darem hard met my.” Maar onthou, agter hierdie skerp taal sit sy onblusbare liefde! “Ek bestraf en tug elkeen wat Ek liefhet. Laat dit dan vir julle erns wees en bekeer julle.” (19) Dis die unieke liefde van Jesus... Hierdie gemeentemense se louheid maak Hom naar, maar juis daarom het Hy hulle lief en waarsku Hy hulle. Moenie dit miskyk nie.

BEKERING

Wat nou? As ek besef ek is lou, wat nou? “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.” (20) Jesus sê vir die gemeente: “Ek is beskikbaar, ek wag dat julle reageer op my woorde. Ek wil die liefdesband herstel.” Dis ‘n Goddelike uitnodiging tot berou en bekering. Dit gaan in hoofsaak hier nie oor die aanvanklike bekering nie, dit gaan oor bekering van ‘n kind van God wat lou en afvallig geword het.

Die kerk van ons dag (ja, ons...) moet weer hoor dat bekering nodig is... nie nog 'n teologiese kursus nie (ongeag die hoeveelheid VBO punte), nie nog 'n gemeenskapsprojek nie, maar 'n bekering wat intimiteit met Jesus sal herstel!

Bekering is om te besef ek is verkeerd, om weg te draai van wat verkeerd is, om weer opnuut Jesus se vergifnis te ontvang. Bekering is nie een of ander formule of prestasie nie. Bekering is om te reageer op Jesus se liefdesuitnodiging. Bekering lei tot ‘n ware feesmaal. Om saam aan tafel fees te vier is ‘n teken van aanvaarding, van versoening, van deelgenote wees, van wedersydse seën. Jesus het jou nie afgeskryf nie, maar smag weer na innige geloofsgemeenskap, “fellowship” met jou!

Nagmaal is ‘n voorskou van die ewige feesmaal in God se teenwoordigheid. Dis ‘n prentjie van die liefdesgemeenskap wat vir ons wag. Nagmaal is juis ook ‘n geleentheid tot ‘n hernuwing van bekering. “Here Jesus, omdat ek nou weer opnuut aangeraak word deur die werklikheid van u liefde aan die kruis, open ek my lewe vir U...”

ONS MOET KOOK!

Ons moenie lou wees nie, ons moet kokend warm wees! Vol liefde, gehoorsaamheid en opregte ywer! Geen verdeelde hart, geen kompromie met sonde en die wêreld nie. In die lig van Jesus se groot genoegsame offer, in die lig van die Nagmaalsboodskap, in die lig van sy aangrypende liefde, wat kan ons anders wees? 

*Grieks -emeo So in die volgende vertalings : Mais tu n'es ni bouillant ni froid, tu es tiède, de sorte que je vais te vomir de ma bouche ! (FR Courant) You're stale. You're stagnant. You make me want to vomit. (MSG)
** Moontlik ‘n sinspeling op Hooglied 5:2. (lees) "Ek het geslaap maar my hart het wakker gebly. Toe hoor ek die man wat ek liefhet, klop en hy sê: ‘Maak vir my oop, my beminde bruid, my duif, my volmaakte! My kop is nat van die dou, my hare is nat van die nag se klammigheid!’

Vrydag 12 Desember 2014

FEESTYD!

- vol vreugde en vergenoegdheid!


Hierdie tyd van die jaar is veronderstel om vreugdevol te wees. Ons vier mos immers die geweldige gebeurtenis van die vleeswording van God se Seun.* Vir baie mense is dit egter ‘n hartseer tyd, want dit onderstreep juis een of ander nood, gebrek of gemis. Ander het dalk geld om presente en lekker kos te koop en jy moet droë bek by die huis sit in groot verknorsing oor jou geldsake. Ander is omring deur vriende en familie en jy worstel met jou verwurgende eensaamheid eenkant ver! Ander lag in vrolikheid, jy huil van pyn in die feestyd of treur oor ‘n geliefde wat nie meer daar is nie! Jy plak maar ‘n gedwonge glimlag aan...

Moet ek nou maar bitter en sonder vreugde en vervulling bly? Is daar dan nie tog ‘n manier om jou blydskap te behou nie? Om eg tevrede en vreugdevol te wees ten spyte van een of ander stuk swaarkry nie?

Wees verseker, jy hoef nie ‘n vreugdelose feestyd te hê nie! 

Die brief aan die Filippense gee baie praktiese raad oor blydskap (lees hoofstuk 4) en dis eintlik ironies, want Paulus skryf dit vanuit die tronk. (nie juis 'n vreugdevolle habitat nie) Hy het reeds oor die opdrag tot blydskap geskryf en die belangrike raad in 4:6 gegee. “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” Gebed en smeking met danksegging is die pad na blydskap!

VERGENOEGDHEID

Nou kom hy by ‘n verdere aspek en dis vergenoegdheid, tevredenheid. (dit gaan saam met blydskap) Vergenoegdheid is ‘n kosbare juweel wat ‘n Christen dra. Wat uniek is aan die Christen se vergenoegdheid is dat dit ‘n vergenoegdheid behels wat in alle omstandighede teenwoordig is. Hoor bietjie - “...ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.” (11,12 OAV) Vir Paulus was hierdie saak van vergenoegdheid nie ‘n stukke studeerkamerteorie nie, maar praktiese ondervinding. Hoe het hy dit reggekry? Die dikwels aangehaalde vers 13 gee die antwoord. “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” Let mooi op, hierdie krag wat Jesus gee is nie ‘n superkrag om dinge te doen wat my pas nie. Dis nie ‘n towerstaffie wat probleme laat wegsmelt nie. Dis nie ‘n reseppie vir gerief, geld en grootheid nie! Dis nie die sleutel tot menslike ambisie en sukses nie! Dis nie die fondasie van die Prosperity Gospel nie – allermins! In die Nuwe Testament is krag nie selfsugtige middel om vir my dinge maklik te maak volgens my smaak nie! “Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard.” (Kol 1:11) Dis ‘n krag wat my in staat stel om alle omstandighede te verdra met blydskap en tevredenheid! 

Christus gee my krag om alles te hanteer en te verduur... meer nog, om in alle omstandighede tevrede en vol vreugde te wees!

In wie werk hierdie krag van Jesus Christus en hoe werk dit? Ons kry reeds in die eerste hoofstuk ‘n praktiese voorbeeld van hoe hierdie krag van Jesus vir Paulus in staat gestel het om vreugde en vergenoegdheid in ‘n Romeinse gevangenis te beleef! Paulus se geheim kry ons in 1:21. “want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.” Sy lewe fokus en draai om Jesus Christus. Jesus self het sy ambisie en doelwit geword. Christus en om Hom beter te leer ken het sedert sy bekering sy hoof ideaal geword. Vat 'n tydjie om hieroor te dink... “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood,” (3:10) Jesus self het sy vreugde geword. Omdat Jesus altyd dieselfde bly in alle omstandighede, stel dit hom in alle omstandighede in staat om vergenoeg te wees. Paulus se lewensgeluk, vreugde en ideale was nie afhanklik van eksterne faktore nie! Hy sê dat selfs al moes hy sterf, dit vir hom wins sal wees , want dan is hy mos by Jesus en dis verreweg die beste. Jy sien as die kosbare Jesus Christus die bron van jou blydskap en inspirasie geword het, dan kan dit nie deur omstandighede verander word nie. As jy oorvloed het, wel dan geniet jy die oorvloed wat die Here jou gee (sonder om skuldig te voel) Maar as jy deur ‘n tyd van gebrek gaan, kan jy nog steeds gelukkig wees. (sonder om verontreg te voel) Want in alle omstandighede bly Jesus jou fokus en heerlikheid!

Hierdie gefokusde afhanklikheid op Jesus, is ook Paulus se wens vir sy weldoeners in die gemeente van Filippi. " En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.” (19) Deur Jesus Christus ontvang ons alles wat God volgens sy wil weet dat ons nodig het. Hierdie oorvloedige rykdom is ‘n rykdom van genade! (vgl. Ef 1:6)

Natuurlik maak hierdie krag van Christus nie dat mens ‘n gevoellose masjien word wat maar alles net met ‘n ystergestel verduur nie. Nee, Paulus het mens gebly en hy het hulp van ander mense ontvang wat hom weer opgebeur en bly gemaak het. Hy het in die tronk ‘n gawe/geskenk van die gemeente in Filippi ontvang en een van die redes vir die skryf van die brief was juis om dankie te sê. Die geskenk was vir hom ‘n bewys dat hulle hom nie hier in die tronk vergeet het nie. “Ek was baie bly in die Here dat julle na so ‘n lang tyd weer gewys het dat julle nog aan my dink. Nie dat julle my ooit vergeet het nie, julle het net nie die kans gehad om iets te doen nie.” (10) Jesus gebruik inderdaad ander dele van sy liggaam om ons by te staan, te versorg en te bemoedig. (Ja, daardie SMS, Kersmaaltyd, klein geskenkie, glimlag...is kosbare middele in God se hand...) Ons as kinders van God het dus wel ‘n verpligting om die wat minder het, siek is, eensaam is op praktiese maniere te ondersteun, ook in hierdie feestyd... Is jy oop vir die taak wat die Here vir jou het in ander se lewens, juis nou? Jesus gebruik inderdaad mense soos ek en sy om vreugde in ander se lewens te bring, maar die Bron bly Hyself. Ons gawes aan ander, kan juis help dat hulle dit sal besef en die Here meer sal vertrou en dank! En daar is 'n bonus - deur te gee word jyself ryker, ryker in jou belewenis en verstaan van God se genade! Dis waaraan Paulus die Filippense herinner as hy hulle bedank vir hulle geskenk : "Dit gaan vir my egter nie om die gawe nie, maar om die vrug daarvan: daardeur word julle self ryker." (17)

Paulus sê in wese, “baie dankie vir julle geskenk – dit beteken vir my ontsettend baie, maar ek wil net hê julle moet weet my blydskap is nie afhanklik van uiterlike voorspoed nie, maar van Jesus wat my krag gee om in alle omstandighede vergenoeg en vreugdevol te wees.” Hierdie mense se gawe het Paulus se hart weer opnuut dankbaar teenoor die Here gemaak! Paulus het in die slegste omstandighede vreugde en vergenoegdheid beleef, Jesus gee vir jou ook die krag hiertoe...

WEES VERGENOEGD EN TEVREDE - DIS DIE POSITIEWE VAN DIE TIENDE GEBOD!

*Dit beteken nie dat ons dink Jesus is op 25 Desember gebore nie. (Kliek op KERSKOUS)

Woensdag 08 Augustus 2012

BAIE DANKIE/VIELEN DANK

- mein Glas ist nicht nür halb voll.

Baie dankie en baie welkom aan die besonder baie besoekers aan hierdie Blog die afgelope paar dae! Ongelooflik! Ek hoop julle geniet dit en vind  groot seën, vreugde en vertroosting. (Net soos die vreugde wat ek beleef deur hierdie Blog te skryf)

Omdat die evangelie die Blye Boodskap is van dit wat Jesus deur sy kruisdood en opstanding vir ons as sondaars kom doen het, is ‘n ware grondige blydskap deel van die basiese Christelike belewenis. Dis ‘n blydskap wat die wêreld nie ken en verstaan nie. Dis ‘n blydskap gebou op God se standvastge en heerlike beloftes wat waar word in Jesus. Juis omdat ons vreugde, ‘n stroom blydskap is wat ons uit die onuitputlike Bron, Jesus self ontvang, het God se kinders nie nodig om dit by bedenklike oorde te soek nie. Psalm 141:4  is so treffend en veelseggend :

 “Hou my gedagtes weg van verkeerde dinge, dat ek nie in sonde verval saam met manne wat onreg doen nie, en dat ek nie deelneem aan hulle feeste nie.” ("...ich mag nicht essen von ihren leckeren Speisen")

Die kind van God wat kan bely : "Die Here is my Herder" ondervind dat God self vir hom 'n fees berei. "U laat my by 'n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos 'n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid."
(OAV - "my beker loop oor!!!") Psalm 23:5

Die kind van God se blydskap is ‘n blydskap in alle omstandighede. Ons is bly al huil ons ook soms. Daarom kan Paulus verklaar : “In al ons sorge is ek vol moed en oorstelp van blydskap.” (2 Korintiërs 7:4) Dis ‘n unieke soort van blydskap. Dis bonatuurlik en altyd blywend, en dalk nog vreemder - dis ‘n blydskap wat floreer op beledigings wat ons te beurt val ter wille van Christus. Ja, jy het reg gelees. Jesus stel dit so duidelik in Lukas 6:22-23 

“Geseënd is julle wanneer die mense julle haat en julle verstoot en uitskel en julle naam vermy soos iets wat sleg is, alles ter wille van die Seun van die Mens. Wees bly op daardie dag en spring rond van vreugde, want vir julle is daar groot beloning in die hemel.”

So gesien is alle kinders van God se glase nie net half vol nie, maar oorlopens toe vol! Altyd!

Baie gelukkig en vol vreugde  hier op Tsumeb.
Johannes

Sondag 05 Augustus 2012

KARNAVAL

- fees van die vlees.

Tsumeb moes verlede week die jaarlikse karnaval verduur. Tsumka. As Christen wat in hierdie pragtige dorp woon mag ek nie daaroor stilbly nie...

Wat die agtergrond  van die woord “karnaval” betref is daar nie duidelikheid en eenstemmigheid nie. Volgens sekere volksetimologieë kom dit van die Laat Latynse uitdrukking “carne vale” wat beteken afskeid van die vleis en sou dit dui op die laaste dae voor die vastyd van Lydenstyd, waartydens mens volgens Rooms Katolieke gebruik nog toegelaat is om vleis te eet. Die woord “carne” kan ook met vlees vertaal word, wat dan sou neerkom op ‘n “afskeid van die vlees” iets wat deur sommige deelnemers aangegryp sou kon word om vir oulaas hulle ou sondige self te wees tydens die fees. Teen hierdie verklarings sou mense besware kon inbring en oor die oorsprong sou mens kon debatteer, maar   wat wel duidelik sigbaar is vir alle waarnemers van die drinkende rasende menigte,  is dat die sondige vlees (ou natuur) van die mens hier besonder geesdriftig gedien word. 

Kan ‘n Christen deelneem aan hierdie aanbiddingsparade vir Bacchus? Laat die Woord vir ons die antwoord gee :

Galasiërs 5:19-21 “Die praktyke van die sondige natuur (werke van die vlees - OAV) is algemeen bekend : onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het : Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.”  

“Ja”, sal party teenkap : “Moet ons nie maar ‘n positiewe bydra probeer lewer nie?” Die Bybelse raad in Efesiërs 5:10-12 wat God aan sy kinders gee laat geen twyfel nie : “Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie... dis ‘n skande om selfs te praat oor die dinge wat die ongehoorsame mense in die geheim doen.”   As ons nie eens daaroor mag praat nie, hoe durf ons saamlag vir die dronkmanskaskenades en hoe kan ons saamry met vlotte vol vulgêre slagspreuke?  (En nog ons kinders ook daarop laai?)    

Is kinders van God dan ‘n klomp suurgesigte en dikbekke wat teen blydskap gekant is? Nee, verre daarvandaan!

 Christene is beslis nie teen feesvier nie, inteendeel dis ons opdrag. 

Maar dis ‘n ander fees met ander waardes soos waartoe 1 Korintiërs 5:8 ons duidelik oproep :”Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid.”

Ja, God se kinders het vanoggend weer feesgevier toe ons Hom in die erediens geloof en geprys het. Wat ‘n vreugde is dit elke Sondag en ‘n voorsmaak van die ewige Fees waarheen die bloedgewastes van die Lam oppad is!



NS As ons dan karnaval wil hou, laat ons dit eerder doen soos die beroemde Italiaanse morele hervormer, Girolamo Savonarola. Gedurende die karnaval van 1496 in Florence het hy dit omskep in ‘n Fees van Boetedoening. ‘n Groot vuur is aangesteek vir die verbranding van allerhande “ydelhede” soos dobbeltoerusting en slegte boeke. Maar pasop, sy hervormings en dapper optrede teen goddeloosheid, het hom uiteindelik sy lewe gekos!