BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket NOU of EENDAG?. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket NOU of EENDAG?. Wys alle plasings

Sondag 01 Februarie 2015

DIE BESTE NOU OF EENDAG?

- ‘n belangrike vraag met reuse implikasies!

Gaan Christenskap oor hierdie lewe of eintlik oor die lewe hierna? Wanneer en hoe kry Christene hulle beloning? Nou of eers eendag na die dood? Waarop moet ons fokus wees? Is die beste nou reeds hier, of kom dit nog? Wat is die verband tussen die nou en die eendag?


Evangeliese Christene, dis nou mense wat God se Woord as waar beskou, wat erns maak met begrippe soos sonde, bekering, geloof, verlossing, hemel en hel word deesdae taamlik algemeen uitgekryt dat ons net in siele belangstel, dat ons met ons koppe in die hemel lewe, dat ons so uitsien na ‘n eendag dat ons vandag se probleme en ellende miskyk. Daar word geïnsinueer dat ons nie juis vir mense en ook nie vir die natuur omgee nie. Dis natuurlik nie waar nie. Dis ‘n karikatuur en moedswillige verdraaiing. Dis ‘n growwe veralgemening wat nie water hou nie.

Ons weet mos en die Bybel getuig daarvan : As iemand waarlik gered is en van sonde bevry is, kry hy mos nou ‘n nuwe uitkyk op die lewe. As jy gered is dan leef jy uit dankbaarheid deur die dubbele liefdesgebod na te jaag: Lief vir God en my naaste! (Toe die tronkbewaarder van Filippi verlossing deur die geloof in Jesus gevind het, het hy dit onmiddellik opgevolg deur naasteliefde en Paulus en Silas se wonde versorg en vir hulle ‘n maaltyd te gee.)

As bekeerde mense kyk ons anders na God en vind nou ons vreugde in Hom. Ons kyk ook anders na mense en sien hulle geestelike sowel as fisiese nood raak. (Deur al die eeue het Christen sendelinge die evangelie gebring as eerste prioriteit sodat mense gered kan word, maar daar is ook aandag gegee aan mediese sorg, onderwys, landbou ens.)

GESPOT 

Vandag kry ons die tendens dat die klem eksklusief op die lewe hier en nou gestel word. Daar word gespot met Christene wat glo in ‘n ewige beloning van heerlikheid.

Hierdie aanslag kom van twee kante af:

  • Vanaf die Prosperity Gospel se kant word ons gebombardeer met die siening dat God nou reeds alle seëninge van geluk, gesondheid en geld vir ons wil gee. Jy moet net die regte reseppie ken en op die regte manier glo dan sal jy nooit siek of arm wees nie, word beweer. Een van die groot geeste in hierdie rigting, Benny Hinn laat homself so uit oor finansiële voorspoed: “I am sick and tired of hearing about streets of gold. I don’t need gold in heaven, I gotta have it now!” en oor siekte : “The day is comming, I tell you this, I know it like I know my name, the day is coming there will not be one sick saint in the body of Christ... no one will be raptured out of a hospital bed.”* Dit klink baie aanloklik, want wie wil nou arm of siek wees? Maar daar is net een probleem, Hinn het geen Bybelse gronde vir sy uitsprake nie. Dis wensdenkery en pertinent vals! Eeue van praktiese geloof en Christenskap het ook bewys dat dit onwaar is!

Dis dan ook verstaanbaar dat mense in hierdie rigting nie juis hou van prediking wat Skrifuitleg behels nie, en eerder motiveringspraatjies oor hoe om sukses te bereik, verkies. (Kliek op SPREEK LEWE)

  • Vanaf die liberale teologie en die Progressive Christianity word die klem ook eensydig op die lewe van hier en nou geplaas. Vir baie van hierdie ouens was Jesus maar net ‘n eerste eeuse Palestynse rewolusionêr of sosiale hervormer. Hulle sê ook dat Jesus nie plaasvervangend (Kliek op BORG) vir ons sondes gesterf het nie, maar bloot ‘n voorbeeld vir ons gestel het om goeie mense te wees. Volgens hierdie dwaling is daar nie ‘n hemel nie en ook nie ‘n hel nie, ons moet maar net die beste maak van hierdie lewe. Hulle glo ook nie meer dat Jesus regtig liggaamlik uit die dood opgestaan het nie. Jesus het maar net in hulle gedagtes en harte bly voortleef.

Wat sê God se Woord? 

Paulus maak dit baie duidelik in 1 Korintiërs 15 : Die beste deel lê nog voor vir God se kinders! Hy stel dit eintlik andersom en sommer baie sterk! Die beste kom nog, trouens as ons net vir hierdie lewe hoop op Jesus is ons lot die slegste/ ellendigste/ bejammerenswaardigste van alle mense! “As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.” (19) As Christenskap net oor hierdie lewe sou gaan, sou ons absolute verloorders gewees het. Dis juis so want met Christene gaan dit nie altyd so goed in hierdie lewe nie. (Paulus het dit mos aan sy eie lyf gevoel) Om die waarheid te sê, dikwels uiters sleg! Juis ook omdat Christene weens hulle liefde vir en gehoorsaamheid aan Jesus uitgestoot, beledig en verdruk word.

Die hedendaagse boodskap van die Prosperity Gospel dat Christenskap die deur na sukses, gesondheid en rykdom is, is hoegenaamd nie ‘n Bybelse boodskap nie.

Die boodskap van die Progressive  Christianity dat Jesus maar net vir ons ‘n goeie aardse morele voorbeeld was is ook nie die boodskap van die Bybel nie. 

Nee, die Bybel leer duidelik dat Jesus uit die dood opgewek is en so vir ons ‘n ewige toekoms oopgemaak het. Die opstanding Jesus vorm deel van die kern van die evangelie. Dis ‘n feit wat deur baie getuies gestaaf kon word. 

“Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte;Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe. Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels. Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn.” (3-8)

Waarom is dit so uiters belangrik om in die liggaamlike opstanding van Jesus te glo? Om te glo dat sy graf leeg was? Hoe raak dit ons lewe nou, maar ook ons hoop op ‘n beter toekoms?

Jesus se opstanding waarborg ons eie opstanding – liggaamlik met nuwe liggame.

Hierdie wete dat ons ook gaan opstaan en hierdie lewe nie die einde van als is nie, laat ons nou heilig leef, want ons sal Hom sien soos Hy is. (1 Johannes 3:3)

Jesus se opstanding motiveer ons juis nou tot aksie, want daar is ‘n beloning wat vas en seker is, wat die lewende Here vir ons sal gee. Die “beker koue water” wat jy gee sal nie ongesiens verbygaan nie en gaan ewigheidsgevolge hê!

Jesus se opstanding gee die enigste sinvolle antwoord en troos op die tirannie van die dood en verganklikheid. Dis ons enigste hoop in ‘n stukkende wêreld vol smart, siekte en sterwensgeskreeu. Dis ons anker by die oop graf van ‘n geliefde! Daar is ‘n opstanding... (‘n Begrafnisrede of boodskap sonder hierdie element, is blote sentimentele lawaai en sinneloos.)

Jesus se opstanding bevestig dat Sy verlossingwerk tot ‘n heerlike voleinding gebring sal word. Sy verlossing gaan nie net oor vergifnis nie, maar oor die herstel van die totale skepping (wat ons liggame insluit)! Die nuwe hemel en die nuwe aarde. (2 Petrus 3:13,14, Romeine 8:17ev)

FOKUS OP DIE TOEKOMS EN LEEF DAAROM VOLUIT NOU!

Die Christen se fokus is op die toekoms, die finale verlossing,  die ewige beloning, maar juis daarom leef en werk ons nou voluit met vreugde in hierdie wêreld tussen die mense waar God ons geplaas het. Juis omdat Jesus se opstanding so seker is en ons so ook seker kan wees van ons eie opstanding en beloning, juis omdat die dood oorwin is, moedig Paulus aan die einde van die wonderlike 1 Korintiërs 15 sy lesers aan tot oorvloedige aksie : "Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie."

Inderdaad skenk God nou reeds heerlike dinge aan ons (ons lewens is nou vol blydskap én swaarkry/vervolging), maar eendag sal daar net blydskap wees!**

JESUS HET OPGESTAAN, DAAROM WAG DIE BESTE NOG VIR ONS!


* Aangehaal deur Hank Hanegraaff in “Counterfeit Revival” p106 

**Vergelyk Jesus se duidelike uitspraak hieroor in Markus 10:29,30. “Jesus antwoord: "Dit verseker Ek julle: Daar is niemand wat ter wille van My en ter wille van die evangelie afgesien het van sy huis of broers of susters of moeder of vader of kinders of eiendom nie, of hy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe.”