BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket “Let go and let God”. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket “Let go and let God”. Wys alle plasings

Vrydag 09 April 2021

Let go and let God?



Sal God my help? En hoe doen Hy dit?

Hoe help Hy my in tye van rampe, krisisse en kwellings? In tye van persoonlike swaarkry, finansiële moeilikheid, huwelik en gesinsprobleme? Wat is God se rol in my persoonlike stryd teen sonde, moedeloosheid en depressie? Dikwels hoor mens die eenvoudige eenlynige antwoord en eenstop oplossing: "Let go and let God! "Of mens kry die raad : “Gee dit net vir die Here!”

Die bedoeling is dan waarskynlik – vertrou net op die Here en als sal reg uitwerk! Dit klink so wonderlik. So kragtig. Eenvoudig en vroom. Maar is dit regtig die volle Bybelse antwoord? Is dit hoe mens byvoorbeeld ‘n wiskunde eksamen moet benader? Is dit die oplossing vir jou finansiële krisis? Is dit hoe mens jou huwelikskonflik moet aanpak? Is dit die oplossing vir ons (elke kind van God) stryd teen sonde? Of anders gesê is dit die sleutel vir sukses op die pad van heiligmaking? Daardie moeilike pad wat elke kind van God beleef om al hoe meer heilig te word en gelykvormig aan Jesus te word.


Kom ons toets die gedagte van Let go and let God aan ’n paar Skrifgedeeltes binne konteks.


SPREUKE 3:5-7

“Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie.

Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.

Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is:”



“Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.

Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.

Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad; (OAV)



As mens so vinnig lees dan lyk dit of “Let go, let God” presies die raad van Spreuke is. Laat alles net aan die Here oor en als sal regkom. Maar dis nie heeltemal wat hier staan nie. Ja, daar moet vertroue op God wees, maar daar moet ook aksie van ons kant wees. Hier is ‘n opdrag -Tree op teen die verkeerde in jou lewe! “Wyk af van die kwaad, vermy wat sleg is.”

Dis vir die verstaan van hierdie teks ook belangrik om na die totale boodskap van Spreuke te kyk. Spreuke gaan oor wysheid. Vertroue op die Here beteken juis dat ek die wysheid wat van die Here kom prakties sal toepas in my lewe. Praktiese stappe neem. En hoe lyk hierdie wysheid? Dis alles behalwe ‘n passiewe “Let go and let God! “ Dis konkrete dade en keuses. Dink maar wat leer Spreuke ons : Ek moet kies om my kinders te tugtig, ek moet wegbly van verleidelike vroue, ek moet nie borg teken vir iemand anders nie ( bly weg van bedenklike finansiële praktyke), ek moet eerlike besigheid doen, ek sal omkopery vermy (17:23) ek moet hard werk, ek moet nie ‘n kermende kywende vrou wees nie – want dan gaan my man my los (Spreuke 21:9) ens. Gaan lees Spreuke en volg daardie raad in die praktyk– natuurlik is dit nie 'n towerstaffie vir gerief nie, maar jy sal die verskil in jou lewe begin agterkom! Kom ons wees prakties – Dit help nie net om te sê – Ek het my finansiële probleme vir die Here gegee nie, maar ek gaan aan om onnodige luukshede te koop, ek is te lui om kos te maak en leef van duur kitskos… Dit help nie ek vra : "Here maak my asseblief heilig", maar ek sit aand na aand voor die TV wat my gedagtes besoedel nie! Dit help nie, ek bid vir gesonder longe , maar ek weier om op te hou rook nie! Spreuke leer vir ons ‘n duidelike balans tussen vertroue op die Here en die praktiese toepassing van sy opdragte. Spreuke leer geen passiewe - “Let go and let God” nie!

ROMEINE 8:12,13.

“Daarom dan, broers, staan ons onder ‘n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.” Hier gaan dit seker oor die grootste stryd in elke kind van God se lewe – die worstelstryd teen sonde. Wat is Paulus se opdrag? Let go and let God? Nee, dis ons aktiewe plig as kind van God om sondige praktyke uit te roei. Hoe doen ons dit? Deur die Heilige Gees. Deur die krag van die Gees. Dit beteken nie dat ons passief is nie. 


Dink aan ‘n windpomp. Heeltemal afhanklik van die wind. Tog is die windpomp aktief betrokke. Die rem moet los wees. Die windpomp kreun so hard werk hy, al kom die energie van die wind. Die Gees gee ons krag, maar ons moet tot aksie oorgaan. Deur die krag van die Heilige Gees sal ek ‘n telefoon optel en ‘n einde maak aan ‘n sondige verhouding!


HEBREËRS 12:4,14

“Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ‘n stryd om lewe of dood geword het nie. Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.” 

Weereens geen passiwiteit nie. Die skrywer moedig ons aan. “Julle moet weet hierdie stryd teen sonde is ernstig, dit vat alles van julle – 'n stryd om lewe en dood.” Wat behels dit positief? Beywer julle… weereens volle aksie en betrokkenheid van ons kant af!

2 TIMOTEUS 2:22 

“Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit 'n rein hart aanroep.”

Hier vind ons praktiese raad vir heiligmaking. Dit vereis aksie, negatief en positief. Vlug weg van als wat verkeerd is. Gebruik jou voete indien nodig. Bly weg van daardie partytjie waar jy versoek gaan word! Positief - Oefen die regte dinge in saam met ander mense wat ook ernstig is oor God!

2 PETRUS 1:3-5

“Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag.

Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.

En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis,...”

God skenk sy kinders als wat nodig is vir ‘n heilige lewe. Maar hoor dan mooi verder : “Werp alles in die stryd!” Aksie! Dade! Vgl. Filippense 2:12,13 My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.”

Ja, alle eer en dank aan God wat ons wil verander en vir ons bekwaamheid gee... Maar dit bring ons tot aksie. Ons moet gehoorsaam raak om te leef soos Hy wil hê!

Die eenvoudige raad "Let go and let God!" word goed bedoel. En as mense daarmee bedoel dat ons nie op onsself moet vertrou nie, maar absoluut in biddende afhanklikheid van God moet leef is dit ‘n groot waarheid. Dit kan egter maklik verkeerd verstaan word – as ‘n tipe passiewe toeskouer Christenskap. 'n Verskoning om nie verantwoordelikheid vir ons woorde en dade te vat nie. Dan is dit in stryd met wat die Woord ons leer. Die Bybelse boodskap is dat ons as kinders van God volkome moet vertrou op Jesus wat my skuld gedra het, dat ons volkome moet vertrou op die Heilige Gees wat in my woon. Maar hierdie vertroue moet oorgaan tot aksie en gehoorsaamheid. As ek mens iemand vertrou, gehoorsaam ek juis sy opdragte. As ek baie vertroue het in my huisdokter gaan ek juis doen wat hy my voorskryf... of dit nou oefening of pille of wat ook al is... Maak dus erns met al die opdragte in God se woord! Vra jouself, wat sê God se Woord oor alle sake in jou lewe. En gehoorsaam!

Vertroue op God beteken nie maar net om in enkele situasies of in tye van moeilikheid op God staat te maak nie. Nee, vertroue op God is 'n LEEFSTYL van dinge doen soos Hy dit in sy Woord beveel. Binne in so 'n verhouding bring Hy wonderlike uitkoms!

Maandag 10 Junie 2019

MAAK VAS; MAAK SEKER! (3)

- WERP ALLES IN DIE STRYD! 



Die pad na sekerheid, vastigheid en volharding begin om raak te sien wat God gedoen het. Hy het volgens Petrus ons reeds ALLES geskenk wat nodig is om vir Hom te lewe en Hom te dien! Kliek op MAAK VAS; MAAK SEKER! (2)  



Na die wonderlike stellings wat Petrus in die eerste verse (2 Petrus 1:1-4) gemaak het (oor wat God ons geskenk het) sou mens dalk kon verwag, sy raad sou wees : “Ontspan. Let go, let God!” Nee! Toe nou nie! Allesbehalwe. Hoor wat sê hy in vers 5 : “En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk ...” (NAV) En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die..." (OAV) Ontvangers van verlossing word nêrens opgeroep tot passiwiteit, agteroorsit of ontspan nie! Ons durf nie laat slap lê, vir onsself leef of ons besig hou met net geldmaak of rugby speel of kyk nie... 



Daar's harde werk, broer en suster!

In hierdie oproep van Petrus in (2 Petrus 1:5) word die hele Bybelse benadering tot heiligmakig en die Christelike lewe saamgevat. Wat is dit?

Kom ek gebruik ‘n voorbeeld uit die oorlog. 

Twee luitenante moedig hulle manne aan voor ‘n kontak... 

Die een is baie positief. “Manne, julle weet ons het als wat ons nodig het. Ons het die beste opleiding ter wereld. Die bete wapentuig en voorrade. Die beste lugsteun en mediese ondersteuning as dit nodig sou wees. Julle weet die vyand is eintlik reeds verslaan en bang vir ons. Ons moet net die opruiming doen. Maar manne, nou moet ons alles gee... geen tyd vir slaplê of stadig en lui wees nie. Voluit, vorentoe!”

Die tweede luitenant het ‘n ander aanslag. “Manne, ek is bekommerd. Die vyand is sterk en het baie geie wapens. Ek is nie seker of ons genoeg ammunisie en ondersteuning het nie. Ek is ook nie seker of ons dit gaan maak nie. Ons moet maar kyk wat gaan gebeur... Ek wonder selfs of als die moeite werd gaan wees...”


Die Bybelse benadering tot die daaglikse Christelike stryd is duidelik die eerste een. God het ons alles geskenk. Werp daarom nou als in die stryd! Doen wat jy kan en moet. Stry hard! Raak gehoorsaam. Verander. Dink nuut, doen anders. Moenie stilstaan by jou aanvanklike geloof en bekering nie. Maak veranderinge in jou lewe, want God het julle reeds als geskenk wat nodig is om vir Hom te lewe! 


Onthou net, hierdie raad is nie vir alle mense nie. Net mense wat reeds kinders van God is, dus reeds vertroue op Jesus geplaas het. Die Heilige Gees woon in hulle. Hier het ons te doen met harde werk van heiligmaking. Dit kom nie sommer outomaties nie, want dan sou die opdragte nie nodig gewees het in die eerste plek nie.


Kom ons kyk net kortliks na die "trappe" wat volg op die basis van geloof. Die dinge waaraan ons hard moet werk... Ja, WERK! Hier is geen sprake van net een ervaring (die Charismate se omval) of ‘n kitsresep tot geestelike oorwinning nie.

Voeg met alle passie en vuur by jou geloof die volgende: 

DEUG/DEUGSAAMHEID Dis 'n skaars woord in die Nuwe Testament, wat eintlik uit die heidense wêreld kom. Dit beteken voortreflikheid, uitnemendheid (excellence). Dit was 'n belangrike kwessie destyds. Voortreflikheid is die volle vervulling van iets, 'n voortreflike mes is 'n skerp mes wat kan sny, 'n voortreflike perd is 'n perd wat vinnig kan hardloop. Maar nou is die vraag , wat is 'n voortreflike mens? Wat beteken deug nou prakties vir ons? Petrus het alreeds vir ons die leidraad gegee want hy gebruik dieselfde Griekse woord (areth) as wat hy i.v.m. Jesus gebruik het (in vers 3) om aan te dui hoe Jesus se heerlikheid , persoon , karakter ons na hom toe aangetrek het. Ware deug, ware voortreflikheid word in Jesus se karakter gevind. Jesus is die ware vervulde mens, wat aan sy Godgegewe doel beantwoord het, die mens par excellence. Ons word dus hier opgeroep om deur ons lewens iets van die aantreklikheid van Jesus se karakter te reflekteer. Maak werk daarvan... verander wat in botsing is met Jesus se karakter in jou lewe... Gesindheid, gewoontes, gedrag, ja selfs kleredrag!... Begin dink en doen soos Jesus gedink en gedoen het... Dit kos als, dit gaan moeilik wees... Dit gaan jou in botsing bring met die wêreld. Die wêreld hou nie van Jesus nie.... daarom het hulle Hom gekruisig... 

KENNIS. Dit gaan nie hier wetenskaplike kennis nie, maar praktiese insig om as Christen te lewe. Om goed van kwaad te onderskei. Vgl. Ef 5:17 “Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.” Petrus gebruik die woord (gnwsiV) ten spyte van die valse leraars se misbruik van die begrip (hulle "kennis" het tot losbandigheid gelei, teenoorgestelde van selfbeheersing soos ons lees in hoofstuk 2) Hierdie ware kennis lei tot heiligheid! Hoe kry dit prakties? Deur die Woord onder leiding van die Heilige Gees te bestudeer en te gehoorsaam!

SELFBEHEERSING. Kies vir selfbeheersing en beoefen dit! Nie net t.o.v. kos en drank nie maar in elke aspek van mens se lewe. Dit kom daarop neer dat ek my drange en begeertes sal beheer, hulle moenie my beheer nie. (Selfbeheersing het skaars geraak onder sogenaamde Christene - "Ag, ons het nie nou geld om te trou nie, maar ons bly maar saam, want dit kan nou nie anders nie... osn het nie selfbeheersing nie...") Vir die Christen beteken selfbeheersing nie maar net blote selfdissipline nie (dit het party heidene ook), maar oomblik na oomblik onderwerping aan die beheer van Jesus wat deur sy Gees in my woon. (Onthou die leiding van die Gees is lei in heiligheid – Romeine 8 vers 14) Petrus beklemtoon hierdie deel van heiligmaking weereens in direkte opposisie tot die valse leraars wat soos redelose diere die natuur volg, “Maar hulle sal, omdat hulle belaster wat hulle nie ken nie, soos redelose diere wat die natuur volg, gebore om gevang en vernietig te word, in hulle verdorwenheid te gronde gaan...” (2:12) en wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel. “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel.” (3:3). Dit sien ons elke dag , die onbekeerde mensdom is slawe van elke sondige begeerte , soos diere kan hulle nie anders as om hulle sondige instinkte slaafs na te volg nie. Dis juis sommige van hierdie mense wat spog oor spesiale geestelike insig en allerhande wonderlike ervarings met God wat hulle kastig gehad het. Laat ons dit duidelik weet, enige teologie wat ervaring en kennis losmaak van etiese reinheid en selfbeheersing is kettery. Dis valse lering. Vals lering (soos ons dit helaas ook kry aan ons teologiese fakulteite) lei tot onheiligheid en skynheiligheid! Ware lering wat in opregtheid gevolg word lei to ware heiligheid. Gelykvormigheid aan Jesus!

Selfbeheersing is heeltemal uit pas met die losbandige Huisgenoot en Hollywood leefstyl van vandag! Met selfbeheersing wys jy duidelik dat God jou uitgekies en verlos het!

So baie Christene broei heeltyd oor die kwessie van sekerheid. Gedurig besig met selfanalise, gedurig op soek na een of ander bevestiging – 'n wonderwerk, spesiale teks, visioen of ervaring. Petrus se raad is – Besef wat God jou deur Jesus geskenk het en begin met erns die Christelike lewe leef! Maak erns met hierdie opdragte en die res sal volg. Sit skouer aan die wiel om te vorder op die pad van heiligmaking! Dis hoe jy wys waarheen jy op pad is! Dis hoe jy jou uitverkiesing bevestig! AMEN!

Vir die begin van hierdie Pinksterreeks oor Sekerheid, kliek op MAAK VAS; MAAK SEKER! (1) 

Vir die opvolg op hierdie oordenking, kliek op MAAK VAS; MAAK SEKER (4)


Vrydag 14 November 2014

STOP DAARMEE!

- REGUIT RAAD VIR ELKEEN WAT SUKKEL MET SONDE.  

“Ek sukkel met sonde. My sonde maak my moedeloos! Ek voer 'n jarelange stryd teen...” Dis die versugting van baie kinders van God. Die kind van God het inderdaad ‘n stryd teen sonde. Dit weet ons almal uit eie ondervinding en die Bybel praat ook baie daarvan. Die vraag is net, is daar raad vir hierdie stryd, is daar oorwinning? Of moet ons soos baie mense skuil agter die verskoning van “ons is maar net swakke mense”? 

Die Apostel Paulus gee baie duidelike reguit raad oor die stryd teen sonde onder andere in Efesiërs 4:17-5:5. (Maak gerus jou Bybel daar oop) Of anders gestel, hy verskaf duidelike opdragte oor die proses van heiligmaking. Voor ons daarna kyk moet ons net eers seker maak met wie hy hier praat. Hy praat nie met alle mense nie, maar met mense wat reeds kinders van God is. Wedergeborenes! “Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg.” (5:1) Ja, hulle was heidene, maar is mense wat nou Christus leer ken het. “Maar dit is nie hoe julle Christus leer ken het nie. Julle het tog van Hom gehoor, en omdat julle sy volgelinge is, is julle onderrig volgens die waarheid wat in Jesus is.” (4:20,21) Die oplossing wat Paulus hier gee vir die probleem van sonde is dus ‘n oplossing wat bedoel is slegs vir mense wat reeds aan Jesus Christus behoort. (As jy nog buite Jesus staan, ‘n onbekeerde is sal dit jou niks help nie. Dan woon die Gees nog nie in jou nie en is jy magteloos teen sonde en ‘n slaaf daarvan. Dan is die enigste raad bekeer jou en glo in die Here Jesus!)

SKYNOPLOSSINGS

Voor ons by die Bybelse raad van Paulus kom wil ek net twee valse sienings van heiligmaking uitwys wat baie verwarring en ellende onder opregte Christene veroorsaak :

1.Sommige sien heiligmaking as ‘n eenmalige bonatuurlike ervaring.* Net soos regverdiging/vryspraak, inderdaad ‘n eenmalige gebeurtenis is beskou hulle heiligmaking as een daad of belewenis. In ‘n krisisoomblik ontvang ek dan heiligmaking en betree ‘n “dieper lewe.” Dis egter baie duidelik uit hele Nuwe Testament – heiligmaking is ‘n voortdurende proses. Dit gaan oor die voortdurende doodmaak en uitroei van sonde! (Vgl. Romeine 8:13,)

2.Sommige sien heiligmaking as iets passief – dit word soms verwoord in die uitdrukking : “Let go and let God” Jy hoef niks te doen nie, laat net toe dat Jesus deur jou leef en besluite neem. Soos die passiewe mistisisme wat verkondig is deur (kliek op) Hannah Whitall Smith en deel was van die Keswick Teologie. Hierdie lering druis direk teen die Skrif in wat sê : “werp alles in die stryd...” (2 Petrus 1:5ev; Filippense 2:12) Die Bybelse lering is dat die kind van God, ‘n mens is wat nou die Heilige Gees binne in hom het. Die Heilige Gees maak ons nie passief nie, maar gee ons die krag waarmee ons teen versoekings, sonde en satan kan baklei!

[Baie aanhangers van bogenoemde teorieë is uiters opregte Christene wat smag na ‘n heilige lewe. Hulle kom bykans by elke heiligheidskonferensie na vore vir ‘n “oorgawe”, omdat hulle nie die Bybelse lering oor heiligmaking verstaan nie. Ander word moedeloos van “wag” op een of ander bonatuurlike ervaring wat hulle in ‘n baan van geestelike oorwinning sal inslinger...]

NIE BID NIE, MAAR : STOP! STOP! STOP!

Nou watse raad het Paulus vir Christene wat sukkel met sonde? Baie prakties, kort en kragtig : HOU OP! STOP! “Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.” (4:22-24) Nie, "gaan bid daaroor" nie, net - Stop daarmee! Geen lang verduidelikings nie. Paulus gee ook geen simpatie nie, maar ‘n opdrag! (So baie mense wil raad hê oor geestelike probleme, maar wat hulle eintlik soek is simpatie. Hulle wil graag hoor hulle sonde is nie so erg nie, of nie hulle eie skuld nie, maar die sameloop van omstandighede. As hulle dit nie kry nie, word hulle sommer kwaad vir die kerk...) Paulus sê eenvoudig : Stop met die verkeerde dinge en vervang dit met die regte dinge. Lê die ou mens af en beklee julle met die nuwe mens! (OAV) Om ‘n paar praktiese voorbeelde te noem : Stop met steel en begin werk. (4:28) Stop met vuil praatjies en sê eerder dinge wat mense kan opbou.(4:29) Stop met bitterheid en woede en vergewe mekaar. (4:31,32)

Begin eenvoudig om as Christen, wat reeds vergewe is, wat reeds Jesus se liefde ondervind het, die opdragte van God in die Nuwe Testament te gehoorsaam. “Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ‘n offergawe gegee het, ja, ‘n offer wat vir God aanneemlik was.” (5:2) Jy het geen verskoning om meer soos ‘n heiden in onsedelikheid, gierigheid, vuil praatjies en dergelike dinge voort te ploeter nie! Jy moet hoegenaamd niks meer daarmee te doen hê nie! (Kan jy nog ongestoord na jou immorele sepies kyk? Kan jy in ‘n saambly verhouding voortleef? Onmoontlik!)

KAN NIE OF WIL NIE?

Jy sê : “Ek kan nie. Dis juis my probleem. Ek is maar net ‘n mens. ” Is dit regtig waar of is dit dalk eerder : “Ek wil nie?” Waarom stop ons nie met dit wat God duidelik nie van hou nie? Ons besef nie die erns van die saak nie! Ons hou maar aan met ‘n bepaalde sonde, want ons besef nie die skrikwekkende konsekwensies nie!

Wat is die vreeslike gevolge van voortleef in sonde? Paulus noem twee dinge:

Jy bedroef die Heilige Gees! “En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.” (4:30) Dis iets vreesliks! Die Gees van God wat in jou woon word hartseer. Hy word hartseer omdat Hy in ‘n verhouding met jou staan. “Bedroef “ veronderstel ‘n innige verhouding. Ek bedroef nie ‘n polisieman as ek die wet oortree nie, maar ek bedroef wel my ouers of vrou as ek teen hulle oortree, want ons staan in ‘n verhouding! As ek die Heilige Gees wat in my woon bedroef is, kan ek geen vreugde beleef nie en ook geen sekerheid en troos nie, want dis juis Hy wat hierdie dinge aan ons skenk.

Paulus gaan nog verder om die erns van sonde te onderstreep. “Dít moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of ‘n gierigaard is—want gierigheid is afgodery—het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie.” (5:5) Christenskap en immoraliteit is twee uiterste teenoorgesteldes! As jy aanhou met hierdie dinge, mislei jy jouself om te dink dat jy deel gaan wees van die koninkryk van God. Laat ons nie oor hierdie waarskuwing rasionaliseer nie. Kom ons luister maar net, dis God se Woord!

Kind van God, jy moet stop met dit wat verkeerd is, want sonde het skrikwekkende konsekwensies. Kind van God, jy kan stop met wat verkeerd is, want die Heilige Gees van God woon in jou.

En as ek dan wel nou weer geval het? Staan dadelik op en haas jou na jou Middelaar! 'n Christen is mos juis iemand wat in Jesus 'n onfeilbare Hoëpriester en Middelaar het! (Hebreërs 4:14-16)

*Dit kan nie ontken word dat sommige Christene na ‘n spesifieke ondervinding of ervaring, nuwe krag en oorwinning in hulle geestelike lewens vertoon nie. Wat waarskynlik gebeur het was dat so ‘n persoon nie nou eers heiligmaking ontvang het nie, maar wel insig in sekere waarhede gekry het, wat ‘n groot sprong in sy geestelike groei tot gevolg gehad het. 'n Groot stuk vordering word natuurlik ook gemaak as ek uiteindelik met 'n bepaalde sonde breek. Sulke ervarings vanuit mense se getuienis, kan egter nie as bewys aangevoer word vir ‘n “second blessing” teologie wat vryspraak en heiligmaking as twee afsonderlike losstaande fases in ‘n Christen se lewe verkondig nie. (Sien hieroor Martyn Lloyd-Jones se “Life in the Spirit”, spesifiek p386ev.)


Niks gebeur sonder moeite nie. (Kavango rivier by Rundu)