BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Skrifgesag. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Skrifgesag. Wys alle plasings

Maandag 04 November 2019

SAAM OP REIS?

So dikwels moet ons hoor : “Moenie sê dis reg of verkeerd nie, moenie verdelende standpunte stel nie, kom ons reis eerder saam op soek na die waarheid!” Byvoorbeeld: “Kom ons doen studie oor die bestaan van die duiwel. Kom ons doen nog verdere studie oor die wese van die huwelik...” En ons weet daar is selfs ook deesdae vrae by baie teoloë oor die uniekheid van Jesus as enigste Middelaar en die feit van die opstanding. 


PASOP VIR HIERDIE REIS!

Hierdie versoek tot saamreis klink so vroom en nederig. Maar kom ons bekyk dit bietjie van nader... Hierdie reis van die liberalisme is ‘n gedoemde reis. 



Dis ‘n reis wat onvermydelik eindig in sinkretisme, agnostisisme en ateïsme. 



Hierdie reis maak dat baie mense reeds hulle respek vir die NGK op groot skaal verloor het. Een voorbeeld: Hierdie reis het al veroorsaak dat ons NG studente gemeentes bykans leeggeloop het en ons eie gelowige kinders na ander denominasies gaan om 'n geestelike tuiste te soek. 

Die reis van die liberale agenda is ‘n reis van swerwers sonder rigting en soekers wat nooit vind... Hierdie reis geskied op ‘n afdraaipad na die dood. Hierdie reisigers het die smal pad van die lewe verloor... 

Ek wonder, waarheen wil die liberaliste in die NGK heen reis? Na watter waarheid wil hulle soek? 

Vir 2000 jaar bely die kerk van Jesus, dat Jesus Christus die Seun van God is, wat vlees geword het en dat Hy alleen die weg, die waarheid en die lewe is. Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! 

Vir 2000 jaar bely die kerk dat Jesus, deur sy kruis en opstanding Satan, sonde, dood en hel oorwin het. Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! 

Vir 2000 jaar weet die kerk dat daar ‘n duiwel bestaan, maar gelukkig ook dat Hy op Golgota die onderspit gedelf het en dat die poel van vuur vir hom en sy meelopers wag. Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! 

Vir 2000 jaar bely die kerk dat Jesus, liggaamlik en histories opgestaan het en dat sy graf leeg is. Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! 

EN JA! JA! Vir 2000 verstaan die kerk dat ‘n huwelik die vaste verbintenis is tussen een man en een vrou. Dat die huwelik ‘n Goddelike instelling is wat die besondere band tussen Jesus as Bruidegom en die kerk as bruid uitbeeld! Weereens, Ons hoef nêrens heen te reis om dit te weet nie! (Veral nie na BENONI toe nie!)

DIE REIS NA SION!

Maar natuurlik is God se kinders wel op reis. Ons reis juis met die waarheid as vertrekpunt. Ons reis nie omdat ons nog na die waarheid soek nie, maar juis omdat ons die waarheid het. Omdat Jesus Homself deur sy Woord en Sy Gees aan ons uit genade geopenbaar het! Ons reis, ja. 

Dis die pelgrimsreis van volharding waarvan John Bunyan so duidelik skryf in sy PELGRIM SE REIS NA DIE EWIGHEID. Dis die reis na die ewige stad Sion waar daar geen sonde, trane en dood meer sal wees nie! Op hierdie reis het ons inderdaad broers en susters, medereisigers nodig wat ons bemoedig, vermaan, ophelp as ons geval het en reghelp as ons verdwaal het. Maar ons hoef nie te soek na die waarheid nie, ons het die sleutel van die waarheid wat die seldeur in die donkerste ondergrondse kerker van die kasteel vertwyfeling kan oopsluit . So ontglip ons die martelings van die Reus Wanhoop en kry ons weer nuwe HOOP! 

Sterkte vir jou, my broer en suster vir die reis van volharding in die navolging van Jesus!





'n Tipiese voorbeeld na waarheen hierdie reis van die liberalisme mens neem, sien ons nou by die Universiteit van Pretoria se Fakulteit vir Teologie en Religie. Die studentekomitee het 'n nuwe embleem vir hulleself aanvaar. (Die studente groep)



Let wel dis nie die fakulteit self se embleem nie, maar die studente komitee s'n. Nietemin is dit 'n duidelike aanduiding van die teologiese klimaat en denkstrome op ons teologiese fakulteite. Prof. Ernest van Eck, die vise-dekaan het wel sy kommer gelug oor die reaksie wat hierdie embleem op sosiale media veroorsaak het en sou met die studente daaroor in gesprek gaan.








Dinsdag 16 Oktober 2018

TAFELBERG GEMEENTE

SAL NÍÉ DIE KNIE VOOR BAÄL BUIG NIE! 

AL KOS DIT BLOED & TRANE! 

Post-moderne liberalistiese godsdiensfilosowe is doelgerig besig om die ware geloof in die NG Kerk - geskoei op die Skrif as onfeilbare Woord van God en die Drie Formuliere van Eenheid - af te breek en talle niksvermoedende lidmate besef nie hoe hulle geliefde kerk onder hulle neuse op sleeptou geneem word nie - die afgrond in. 'n Afgrond waar die Heilige Skrif afgegradeer word tot 'n feilbare menslike boek vol foute en teenstrydighede. 'n Boek van menslike woorde oor God. ‘n Boek van “belangrike antieke dokumente”. En nie meer God se onfeilbare openbaring aan die mens nie. Nou word diegene wat die historiese Christelike Geloof omhels en die Skrif - op voetspoor van Nederlandse Geloofsbelydenis Artt 3-7 - as God se Woord bely, as “fundamentaliste” en “godsdiensregses” afgemaak. Geen kerk kan op hierdie glybaan voortgaan en steeds ware kerk van Christus wees nie. 

MAAR TAFELBERG GEMEENTE SAL NÍÉ BUIG NIE ! 


Dr Chris Saayman - leraar












[Bostaande brief is aan die Kerkbode gestuur en word geplaas met toestemming van dr. Saayman. Mag die Here dr. Saayman sy kerkraad begenadig om aan te hou stry vir die waarheid van die evangelie! Diegene wat in die Kaap woon kan hulle gerus kontak en bemoedig!]

Sondag 17 April 2016

ULTIMATUM AAN DIE ALGEMENE SINODE

- behoort te wees : Herstruktureer of ons tree uit! Die NG Kerk kan nie meer op hierdie manier funksioneer nie.

Dit was van die sterk gedagtes wat uitgespreek is deur Prof. Johan Janse van Renburg tydens ‘n gereformeerde saamtrek op Otjiwarongo tydens die naweek van 15-17 April 2016. Hierdie geslaagde byeenkoms is bygewoon deur belangstellendes van so ver as Aranos in die suide, Omaruru in die weste en Grootfontein in die noord ooste. ‘n Kenner op die gebied van homoseksualiteit, Dr. Peet Botha het ook ‘n sinvolle bydrae gelewer.

Prof. Janse van Rensburg (skrywer van die boekie, “In Gesprek met die Kerk”) het reguit en duidelik gepraat oor sake wat ons na aan die hart lê soos Skrifgesag, Post Modernisme, leierskap, die gevare van die Ontluikende Kerk (Emerging Church), die kommerwekkende stand van teologiese opleiding, kerkvergaderings, Belhar, die AS besluit oor selfdegeslagverhoudings en vele ander verwante sake.

Ekself was net die Saterdag teenwoordig en onderstreep net ‘n paar wyshede van Prof. Janse van Rensburg by wyse van kort aanhalings. Wees gewaarsku, dis nie vir mense met swak siele nie...

SKRIFGESAG EN HERMENEUTIEK

“Ons is klowe uit mekaar wat betref Skrifgebruik.” Ons is ook weer daaraan herinner hoe die relativisme van die postmodernisme so 'n sterk invloed op ons kerk uitoefen dat 'n Algemene Sinode al besluit het dat elkeen maar self moet besluit of daar 'n duiwel is of nie.

“‘n Professor in Ou Testament sê : ‘Ek aanvaar nie Handelinge 8 se uitleg van Jesaja 53 nie.”

“Dis tyd om hermeneutiese keuses te maak en daarby te bly. ‘n Akkommoderende houding kan nie anders as om op relativisme uit te loop nie.”

“Ek was verstom toe ‘n dosent van ‘n fakulteit verklaar dat die Bybel vir ons geen etiese voorskrifte gee nie.”

HOMOSEKSUALITEIT

Oor die hantering van homoseksuele – “Ek sal jou met liefde behandel, maar moet net nie vra ek moet die Bybel verander sodat jy beter kan voel nie.”

ONTLUIKENDE KERK (EMERGING CHURCH)

Prof Janse van Rensburg het gewys op die idees van leiers in hierdie beweging soos Rob Bell, Allen Jones. Sommiges het sterk afwykende beskouings oor sake soos sonde en die kruisdood van Jesus. Met verskeie voorbeelde het Prof. Janse van Rensburg ons attent gemaak op die skrikwekkende invloed van die Ontluikende Kerk binne ons kerk.

“Waar kom die obsessie vandaan om inklusief te wees? Dit kom van die New Age af. Die emerging church is die vertoonvenster van die New Age.”

“Die vorige moderator (AS) is ‘n vurige ondersteuner van die Ontluikende kerk.”

LEIERS EN TEOLOGIESE OPLEIDING

Oor die bedenklike toestand in ons kerk - “Die AS en die leierskap en die teologiese opleiding het ons gebring waar ons nou is.”

“Die invloed van leiers op strategiese beplanning het handuit geruk. Die leiers het teologiese idees wat hulle wil deurvoer in die kerk.”

“Daar is nie ‘n fakulteit van die NG Kerk wat gereformeerde teologie doseer nie.”

GEREFORMEERDE KERKREG

“Ons het die beginsels van die gereformeerde kerkreg opsygesit. Een daarvan is dat die plaaslike kerk volledig kerk is.”

ALGEMENE SINODE

“Dit is absoluut ondenkbaar dat die AS 2015 besluit het dat die Wes Kaap kan besluit om Belhar as belydenisskrif te aanvaar. Dis onwettig. Die AS het dus sy verantwoordelikheid gedelegeer na die Wes Kaap.”

“Die moderator is voorsitter van die sinode in sitting. Na die sinode kan die moderator nie namens die sinode praat nie.”

“Die Algemene Sinode is ver verwyderd van die kerkverband. Die besluite van die Algemene Sinode word al hoe minder deur die publiek in die kerk aanvaar.”

MY GEWAARWORDINGE

Die dinge wat deur Prof. Janse van Rensburg aangeroer is, het mens weer opnuut warm onder die kraag gemaak en mens se ergste vermoedens bevestig. (‘n Mens weet nou ook hoekom word hy nie genooi na een ons predikantekonferensies hier in Namibië nie, of is ek nou verkeerd?) Hy praat van dinge waarvan ons intens bewus is. Soos die gewoonte om die dagwydings te gebruik om ‘n sinode (spesifiek verlede jaar se Algemene Sinode) te probeer manipuleer, die cliché van “Ons moet mekaar vashou” terwyl ons Skrifbeskouing myle van mekaar verwyderd is en nog vele ander.

Wat nou, moet ons moedeloos raak? Nee, selfondersoek, reformasie en herlewing begin by elkeen van ons. Dis ons elkeen se verantwoordelikheid en dan ook op ‘n besondere manier elke ouderling van ‘n plaaslike gemeente s’n. Mense val vir die leuens van die emerging church omdat hulle na ‘n ervaring soek aangesien die suiwer en bevrydende Woordverkondiging al skaarser word. As die Heilige Gees in ons werk en ons oortuig van ons sondelas, as die evangelie boodskap dan aan ons bevryding van hierdie las bring, sal daar waarlik blydskap en vreugde wees in Jesus Christus, en sal ons nie die kunsmatige en okkulte ervarings van die New Age ten prooi val nie.

My sterk gevoel is, die gewone lidmaat, ouderling en predikant, die kind van God wat nog glo in God se Woord, moet die kerk terugeis en terugvat van vreemde beheer en invloed wat ingesypel het deur ons leiers en teologiese fakulteite! Ons moet weer buig voor die koningskap van Jesus, die Here van die Kerk, wat sy kerk deur die Woord en Gees regeer.

Lewer gerus kommentaar en gee jou mening!

Donderdag 05 November 2015

KOKSTAD

- Die koor van teenkanting en protes teen die Algemene Sinode se onskriftuurlike besluite kring al wyer uit!


NG Kerk Kokstad. 29 Oktober 2015

Ons, die NG Kerk Kokstad, wil op die duidelikste moontlike manier ons verwerping van die Algemene Sinode se ingesteldheid rondom Skrifgesag en spesifiek die Woord van God, soos vertoon in besluite rondom homoseksualiteit, die bestaan van Satan en bose magte, die maagdelike geboorte van Christus, en dergelike sake en uitsprake, uitspreek.
Ons verwerp die nuwe rigting wat die Algemene Sinode inslaan, met die volle hartseer en minagting wat dit verdien. 

Die rede hiervoor is dat die Algemene Sinode die verantwoordelikheid ontvang het om oor die leer en lewe van predikante en kerkraadslede te waak, om die leer van die kerk suiwer te hou, en dit nie meer kan doen nie.
Voorbeeld: as ʼn dominee wat homoseksueel lewe, op die kansel mag diens doen, mag ʼn dominee wat ʼn alkoholis of pedofiel of verslaafde is, ook nie geweier word nie. Die toepassing van ʼn beginsel trek veel weier as net die voorbeeld wat die Algemene Sinode ter tafel gestel het.


Hoog geagte predikante, soos Ronel Bezuidenhout en André Bartlett in die onlangse media, verwerp reeds die onfeilbaarheid van die Woord van God en praat van die Bybel as woorde oor God. Dit lê op die voetspore van ons professors aan die teologiese fakulteite en word dus reeds aan die opkomende leraars verkondig. So val die eerste Solus, Sola Scriptura.
Die maagdelike geboorte, en ander heilsmomente word ook verdag gemaak en so word die tweede Solus, Solus Christus, verwerp.


Die Algemene Sinode se evangelie verkondig nie meer sonde as ʼn breuk tussen God en mens nie, maar as ʼn breuk tussen mens en mens wat herstel moet word. Die uitspraak: “Nou is die kerk se leer in lyn met die grondwet van die land”, herbevestig dit. Hierdeur word sonde verskraal tot sosiale denksisteme waar menswaardigheid en aardse geregtigheid met die gepaardgaande restitusie onderling die allerbelangrikste faktor in die evangelie word.


Ons as NG Kerk Kokstad herbevestig ons verbintenis aan die Bybel as onfeilbare Woord van God en daarmee saam die ankers van die Reformasie soos bely en verkondig deur die ware kerk van God.


Ons verbind ons opnuut tot die:
Sola Scriptura Alleen God se Woord is waarheid
Solus Christus Alleen Christus kan ons met God versoen en ons lewens omkeer
Sola Fide Alleen deur geloof in Jesus Christus se soenverdienste is daar redding
Sola Gratia Alleen uit genade word ons weer met God versoen.

Alles lei tot die eer van God: Soli Deo gloria.

Ons glo en bely dat die Woord van God helder en duidelik verduidelik word in die drie Formuliere van Eenheid:
Nederlandse Geloofsbelydenis
Dordtse Leerreëls

NOG GEMEENTES WAT DUIDELIK DIE AS SE BESLUIT VERWERP IS ONDER ANDERE :

Vaalrivier, Witfield, Middelburg Suid, Koppies-Weltevrede, Secunda Goedehoop, Groblersdal, Leeuwberg (Bloemfontein), George Moedergemeente, Piet Retief...