BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Manna. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Manna. Wys alle plasings

Vrydag 05 Mei 2023

KAN GOD SORG? GEE HY OM?

 - ook vir ons aardse materiële nood en behoeftes?

[Johan en Ria de Koning]

KRY BALANS

Ons moet altyd pasop vir uiterstes, vir ekstreme standpunte. Aan die een kant is daar mense wat verkondig dat ‘n Christen altyd ryk en altyd gesond sal wees – jou geloof moet net reg wees.  Dis die siening van die welvaartsteologie en die Word Faith beweging. Ons weet egter duidelik dis nie wat die Skrif leer nie. In teenreaksie hierop kan daar opregte Christene wees wat dink dat God glad nie belangstel in ons daaglikse aardse lewe nie en dat Hy net vir ons siele sorg met die oog op die lewe hierna.  Miskien koester jy dalk self so ‘n aaklige vermoede dat God glad nie vir jou as mens op aarde omgee nie, maar jou net hemel toe wil vat. Jy het die nare suspisie - "God gee net om vir my geestelike lewe." Dis natuurlik en gelukkig nie waar nie!  

FILIPPENSE

God se omvattende sorg kan duidelik afgelei word uit die hele brief aan die Filippense en spesifiek Paulus se bemoedigende versekering in Filippense 4:19.

Let sommer op na twee sake :

 God se voorsiening raak al ons ons behoeftes.

God se voorsiening word beskryf as "ruimskoots" (ryklik, oorvloedig) 




Ons wil vandag bietjie nadink hieroor en vra – sorg God regtig vir sy kinders? 

AGTERGROND - 'N KOSBARE GEMEENTE EN 'N GESKENK IN DIE TRONK

Net eers ‘n bietjie agtergrond vir hierdie woorde van Paulus in vers 19. Hy is in die tronk en nou skryf hy ‘n brief aan die gemeente van Filippi. Hy het ‘n goeie verhouding met hierdie gemeente gehad - Hy en Silas het dit gestig. Dis mos o.a. die plek waar Lydia die purperverkoopster en die tronkbewaarder tot bekering gekom het. (Handelinge 16)  Dit blyk dat daar ‘n besondere band tussen Paulus en hierdie gemeente was. Nou terwyl Paulus in die tronk was het hy ‘n bydra of geskenk van hulle ontvang. Epafroditus het dit vir hom gebring. Een van die redes vir hierdie brief is om dankie te sê. Paulus doen dit baie versigtig, hy is natuurlik baie bly oor die finansiële hulp, maar wil tog nie die indruk skep dat hy ongelukkig is, swaarkry, gebrek het en kla nie. Trouens die hele brief loop oor van die tema van blydskap. Ja dis nogal ironies – die man binne die ellende van ‘n tronk is besig om die mense buite die tronk te bemoedig en tot blydskap aan te spoor. Dis in hierdie konteks wat Paulus dan ook verduidelik dat hy geleer het om in alle omstandighede tevrede, vergenoegd te wees. In tye van oorvloed sowel as in tye van gebrek. Hy verduidelik aan hulle dat hy alles kan hanteer, alle soorte omstandighede wat oor hom kom omdat Jesus hom krag gee. (10-13) Teen hierdie agtergrond bemoedig Paulus hulle nou ook met die versekering van God se versorging. 



PRAKTIESE MERKERS

Kom ons kyk na ‘n paar praktiese beginsels rondom God se versorging.

God se versorging gaan nie net oor ons siele nie. Paulus in die tronk  het self nou God se fisiese versorging beleef deur die gemeente in die vorm van finansiële hulp. Die Onse Vader is ‘n duidelike bevestiging van God se besorgdheid oor ons gewone behoeftes– Ons word aangemoedig om te bid vir daaglikse brood! (fisiese behoeftes) Natuurlik is dit net 'n onderafdeling van 'n houding en 'n gebed wat in die eerste plek Godgesentreerd is!

God se versorging is deel van Sy Vaderlike toesig en opvoeding van sy kinders. Hy besluit wat ons nodig het, wanneer ons dit nodig het en hoe Hy dit sal voorsien. God se Vaderlike versorging is deel van ‘n leerproses. (Dink aan sy voorsiening van die manna in die woestyn. Net genoeg vir elke dag! Hoekom? Die volk moes leer om Hom te vertrou en te gehoorsaam. ) God se eerste prioriteit is om ons meer heilig te maak! Om ons geloof te suiwer! En daarom bring Hy ook tye van beproewing oor ons – ook die geloofsreus Paulus sê vir ons daar was tye wat hy te min gehad het en honger was.!

God se versorging mag nie misbruik word vir gierigheid, sondige selfsug en selfverryking nie. Hy sal Hom ook nie so laat misbruik nie!  God se versorging geskied binne die konteks van radikale gehoorsaamheid om sy koninkryk en sy wil eerste te stel. Dink maar aan die verhaal van Elia en die weduwee van Sarfat – 1 Konings 17  Sy kry die opdrag om “eers” vir e|lia 'n roosterkoekie te maak en dan sal sy die wonderwerk van God se bonatuurlike versorging ervaar!  Wanneer Jesus sy dissipels leer om nie oor kos en klere bekommerd te wees nie – leer Hy hulle om die koninkryk en die wil van God eerste te stel! (Matteus 6:33) 



En onthou maar ook - God beloon vrygewigheid en nie suinigheid nie!


Neem ook kennis - God se manier van versorging is gewoonlik deur sy  ander kinders (God se familie op aardse), maar hy kan enige metode gebruik. Gemeente van Filippi word deur God gebruik om Paulus te verkwik, maar Elia word  deur kraaie versorg sowel as deur ‘n gehoorsame weduwee.

God se versorging sal nooit so werk dat dit ons tot luiheid of onverantwoordelikheid aanmoedig nie. Paulus het self op ‘n stadium vir sy eie onderhoud gesorg deur met sy hande te werk. (Hy was 'n tentmaker – 'n soort leerwerker) Hy skryf aan die gemeente van Tessalonika hieroor omdat daar mense was wat net vir die wederkoms wou wag en nie wou werk nie. Lees gerus  2 Tessalonisense 3:7-12. Hy beveel die lui gemeentelede wat net op die wederkoms wou wag om te werk sodat hulle hul eie brood kan verdien op 'n ordelike wyse. God gaan nie luiheid of roekelose omgang met geld soos onverantwoordelike skuld maak,  beloon nie! Spreuke waarsku mos ook baie duidelik teen die roekelose werk met geld.

Vertroue op God se versorging en ‘n keuse teen bekommernisse is deel van ons nederige onderwerping aan Hom! Vertroue op God as die Sorger is deel van ons basiese geloofslewe. Dis nie opsioneel nie.  


Kyk weer na die bekende 1 Petrus 5:5,6. (2020 Vert.) Hoe verneder ons onsself onder God se hand? Juis deur ons bekommernisse op Hom te laai, juis deur te vertrou dat Hy vir ons omgee en kan sorg. Vertroue op die lewende God wat ook in ons daaglikse behoeftes voorsien is deel van praktiese Christenskap. 

Ek wil sommer in die verband 'n staaltjie uit my eie kinderjare met jou deel. Ons het in Suiderhof, Windhoek gebly. Op 'n keer het my pa, Johan de Koning gebid en gevra dat die Here vir ons sou vleis voorsien. Hy het ook so iets gebid soos "dit maak nie saak deur wie nie" Daardie selfde dag kom 'n Damaraman al die pad uit Katutura en bring vir ons 'n bok se blad. Hulle het 'n bruilof gehad en toe vir ons van die vleis gebring!

VAT VERS 19 OOK VIR JOUSELF!


Paulus se versekering is nie uit die lug gegryp nie, dis in lyn met wie God is en hoe Hy Homself as versorgende Vader aan sy mense openbaar het! As kind van God wat in gehoorsaamheid aan Hom leef, kan jy maar hierdie vertroostende versekering ook vir jou vat! Onthou net in Jesus het God reeds sy grootste geskenk aan jou gegee, die lewe van Sy Seun, dit bevestig sy liefde en die rykdom van sy genade bo alle twyfel – daarom sal Hy verder ook oorvloedig voorsien in wat Hy weet wat ons nodig het. As jy God as VERLOSSER leer ken het, sal jy Hom ook as VERSORGER beleef!

Luister ook op YoutTube - GOD SORG!


Vrydag 02 Februarie 2018

Brood en BROOD

- Dis 'n heerlike troos, maar pasop vir 'n misverstand!


Dis nie meer ‘n geheim nie – ons gaan moeilike tye tegemoet op finansiële en ekonomiese gebied. Al hoe meer mense kry dit swaar om kos op die tafel te sit. (En party gaan dalk selfs nie eers meer water in die krane as vanselfsprekend kan aanvaar nie...Ai, Kaapstad!) Mens kan sê daar is in sommige gevalle al broodsgebrek. Die wonder van die vermeerdering van die brode (Lees dit in Johannes hoofstuk 6) behoort vir ons ‘n groot troos te wees. Dis ‘n uiters belangrike wonderwerk wat Jesus gedoen het. (Terloops, hierdie is enigste wonderwerk wat deur al vier evangelies beskryf word.)

HY KAN SORG!

Dis ‘n groot gerusstelling om te weet dat die lewende Jesus in staat is om vir meer as vyfduisend mense kos te gee met net vyf broodjies en twee vissies. Hy kan die bietjie wat ons het en tot sy beskikking stel, baie maak. Hy voorsien in oorvloed. Almal het genoeg geëet, so veel as wat hulle wou hê! Merkwaardig, toe hulle die brokstukke op tel, was daar meer oor as waarmee hulle begin het. Twaalf mandjies vol! “Hulle het dit toe bymekaargemaak. Daar was twaalf mandjies vol met die stukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat die mense klaar geëet het." (13) Die twaalf is natuurlik nie toevallig nie. Dis ‘n teken dat God deur Jesus vir sy volk kan sorg, die twaalf stamme van die volk Israel. Jesus sorg vir ons wat deur die geloof kinders van Abram geword het! Dis ‘n heerlike realiteit.

MISPLAASTE REAKSIE

Hoe reageer die mense toe op hierdie wonder? Hulle besef Jesus is die profeet, waarvan Moses al gepraat het, maar hulle verstaan nie regtig wat sy sending en doel is nie. Hulle wil Hom sommer met geweld koning maak, want hulle reken Hy sal materiële verligting en aardse bevryding (van die Romeine heerskappy) bring. Jesus laat Hom egter nie misbruik nie. Hy val nie vir ‘n valse vleiery nie. “Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil kom koning maak, het Hy verder die berg op gegaan, Hy alleen.” (15) Dis egter nog nie die einde van die storie nie…

ONS WERKLIKE NOOD EN DIE WARE OPLOSSING!

Die wonder van die vermeerdering van die brood het ‘n baie belangrike nadraai en betekenis soos Johannes dit beskryf. Jesus het die skare verlaat en oor die see vertrek. Later in Kapernaum* praat Hy met die skare oor die betekenis van hierdie wonder. Jesus maak dan hierdie skerp uitspraak : “Jesus antwoord hulle: "Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het. Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen." (26,27). 

Wat bedoel Hy? Natuurlik bedoel Hy nie dat mens nie moet werk nie. Die hele Bybel is duidelik dat ons moet werk vir ons kos. Paulus stel dit selfs so dat die wat nie wil werk nie, moet ook nie eet nie!** Nee, Jesus bestraf hulle oor hulle materialistiese siening van die Koninkryk van God! Hulle dink dat Jesus gekom het om die lewe vir hulle gemaklik en gerieflik te maak. Hulle het gedink Jesus gaan vir ons van kos voorsien en ons van die Romeinse oorheersing bevry. ‘n Misplaaste en selfgesentreerde verwagting van die Koninkryk. Die mense is opgewonde oor iemand wat brood kan verskaf, maar hulle besef nie dat hulle ‘n groter nood het nie!

Dis presies vandag die probleem. Mense klink dikwels opgewonde oor Jesus, maar hoekom? Jesus moet vir ons reën gee (en sommer Kaapstad se waterprobleme ook oplos), Jesus moet my gesond maak, Jesus moet al my finansiële probleme aanspreek…as Hy dit nie doen nie, is ons baie teleurgesteld. Hoor weer… “Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee."  (27) Ons diepste nood is die voedsel wat nie vergaan nie, wat die ewige lewe gee. Ons diepste behoefte is om met God versoen te word! 

Die grootste gevaar is nie hongersnood nie, maar helse straf!


DIE BELANGRIKSTE VRAAG

Nadat Jesus hulle tereggewys het en vir hulle laat verstaan het dat hulle fokus en verwagtinge verkeerd is, vra hulle dan… "Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?" (28) Hulle verstaan nog nie eintlik waaroor dit gaan nie. Sonder dat hulle dit besef het is dit die grootste vraag van die mens, dis die grootste dilemma van die sondaar. Wat kan ek as sondige mens doen dit God tevrede met my sal wees? Hoe kan ek God tevrede stel? Hoe kan ek weet dat ek as regverdige die ewige lewe het? Dan kry ons die wonderlike en veelseggende antwoord van Jesus. “En Jesus antwoord hulle: "Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het." (29) Wat God van jou vra is nie een of ander prestasie nie, maar eenvoudige geloof in Jesus! Dis genoeg. Dis die wil van God. Dis die enigste vereiste om deel te hê aan sy ewige koninkryk. 

Dit wat Jesus hier leer stem presies ooreen met Paulus se lering. “Ons betoog is tog dat ‘n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie.” (Romeine 3:28) “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” (Romeine 5:1)

HY IS DIE WARE MANNA

Jesus self is die oplossing vir ons diepste nood, ons sonde nood. Jesus is groter as Moses. Jesus self is die finale Manna uit die hemel, Hyself is God se BROOD aan ons wat die lewe gee te midde van ‘n geestelike woestyn. Baie mense probeer Jesus misbruik. Baie verstaan nie waarom Hy gekom het nie. Baie het verkeerde verwagtinge oor Hom. Hulle verstaan nie hulle ware nood nie. Ons het ‘n groter behoefte aan BROOD as aan brood. Die wêreld se nood, (ryk en arm) is ‘n sonde nood, wat net deur Jesus aangespreek kan word. My en jou probleem is ‘n sonde probleem. Dis ‘n ewigheidsbedreigende probleem, want sonde versteur ons gemeenskap met God en met mekaar. Sonde bring skeiding en verwydering tussen mens en God en mens en mens. Sonde lei uiteindelik tot ewige dood en skeiding.

Ja, ons leef in moeilike tye! Ook in hierdie tye kan ons weet dat ons Here deur sy Gees by ons is en ons sal versorg. Jesus self het ons immers leer bid : ”Gee ons ons daaglikse brood” Maar onthou net altyd, Jesus het gekom om iets groter as kos, gesondheid, geld en gerief te gee – Hy het gekom om vir ons LEWE te gee. Ewige lewe. En wat is ewige lewe? “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.” (Johannes 17:3)

KEN JY HOM? Het jy al BROOD gekry?

* In die sinagoge van Kapernaum het, waar baie mense aanwesig was wat die wonder beleef het, het Jesus verdere lering gegee. (59) Presies waar die sinagoge gesprek begin is nie duidelik nie. Volgens Carson kan dit al by vers 27 wees. Sien Don Carson se “The Gospel According to John”, p283

** 2 Tessalonisense 3:10 “Toe ons nog by julle was, het ons vir julle uitdruklik gesê: "As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie."

En Kaapstad? Mag die mense van Kaapstad besef, Jesus is ook self die Lewende Water en dat hulle Hom selfs nog meer nodig het as die water in die krane... Miskien wil Hy vir ons almal iets leer deur hierdie vreeslike krisis...