- ten spyte van die onbekende pad anderkant die berg!
Alle mense het ‘n behoefte
aan sekerheid. Ek wil graag seker wees dat ek ‘n werk en ‘n woonplek sal hê volgende
jaar. Ons het ‘n behoefte aan sekerheid oor die toekoms : dat
ons en ons kinders veilig sal wees, dat hulle eendag ‘n goeie lewe sal hê... ons
sou graag sekerheid wou hê oor die reënseisoen wat op hande is en nog baie ander dinge... Die mens is van
nature bang en onseker... dit kom vanaf die sondeval in die paradys... en soek
gedurig na waarborge, antwoorde oor die toekoms en sekuriteit. Dis terloops een
van die redes waarom soveel mense by die okkulte betrokke raak (waarsêers en
waterwysers, kaart en palmlesers, spiritiste ens.)...hulle soek antwoorde op
hulle vrae en vrese en die duiwel verskaf die (valse) antwoorde en waarborge
maar te graag om so ‘n houvas op mense te kry.
Moet ons en kan ons, spesifiek as
kinders van God oor alles seker wees? Die antwoord wat die Bybel is dat die gelowige se pad beide ‘n pad van
sekerheid en onsekerheid is! Anders gesê : daar is dinge waaroor ons moet en
kan seker wees, maar ons moet ook aanvaar daar is dinge waaroor ons altyd
onseker sal wees. Kom ons kyk bietjie vanuit hierdie vraag na 1 Johannes 3:1-3.
SEKERHEID
Waaroor kan en moet ons
seker wees?
Ons kan seker wees van God. Dat Hy bestaan en dat Hy waarlik God
is, die Almagtige Skepper van hemel en aarde. Hy is in beheer van sy skepping
en alles sal gebeur sodat Hy sy ewige doelwitte sal bereik. Dis ‘n heerlike
vertroostende sekerheid. Dit word nie hier in ons teksgedeelte eksplisiet
genoem nie, trouens nêrens probeer die Bybel die bestaan van God bewys nie.
Johannes probeer dit ook nie. Die Bybel sê maar net dis die dwaas wat in sy
hart sê dat daar nie ‘n God is nie! (Psalm 14:1)
Ons kan (en moet) seker wees dat ons
kinders van God is. (1) Dis een van die hooftemas van die hele 1 Johannes brief en eintlik
die groot doel waarom hy dit skryf. “…Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle
die ewige lewe het…” (5:12,13) Die frase “Kinders van God” is so ryk en het
sulke geweldige implikasies. Die Almagtige Skepper van die heelal verbind
himself aan ons op hierdie intieme manier! Hoekom sou ons dan nog bang wil
wees?
Ons kan seker wees van God se liefde. (1) Dit gaan saam met die vorige
saak. Dat ons as gebroke mense nou reeds kinders van God genoem kan word is ‘n duidelike
bewys van die Vader se liefde. Hierdie liefde is ‘n vaste feit. Ons gevoelens en ons
omstandighede kan dit nie verander nie! Dit beteken : al voel ek hoe sleg en
emosioneel af, al voel ek hoe eensaam, al voel ek net donkerte - die feit van
God se liefde staan vas, want dit is eenmalig genoegsaam bewys aan die kruis!
Dit beteken : al is my omstandighede nou hoe benoud en benard, al is daar geen
vooruitsigte en geen uitkoms nie, bly God se liefde ‘n onbeweeglike feit. Weereens dis aan
die kruis bewys. (4:10) God het ons eerste liefgehad sonder enige prestasies
van ons kant af. Ons wederliefde is maar net ‘n (gebrekkige) reaksie.
Ons kan seker wees van God se
einddoel met ons.
Ons weet dat Jesus beslis weer sal kom en dat ons soos Hy sal wees. (2) Ons sal in sy heerlikheid deel.
Johannes sê nie presies hier wat hy bedoel nie, maar uit die res van die
Skrif weet ons dat ons verlossing volledig afgehandel sal wees, dat ons sonder
sonde sal wees en dat ons ‘n verheerlikte liggaam soos Jesus sal hê. (Fil
3:21)
ONSEKERHEID/ONBEKENDHEID
Die kind van God kan bly
wees en getroos wees deur heerlike vaste sekerhede. Tog is daar ook ‘n element
van onsekerheid op ons geloofspad. Hoe so? Ons vind iets daarvan in die frase
“Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie” God het nog nie als vir ons
gesê wat Hy kan sê nie. Daar is geopenbaarde dinge en daar is dinge
wat Hy in sy wysheid nie aan ons geopenbaar het nie. Dis ‘n
belangrike onderskeid. (Deuteronomium 29:29) Kinders van God moet deur die
geloof lewe, dit impliseer dat ons nie nou alles weet, vooruit sien en verstaan nie. “Want ons wandel deur geloof
en nie deur aanskouing nie.” (2 Korintiërs 5:7) Die geloofspad is ‘n stap vir
stap paadjie gerig deur die beloftes van God. God gee nie vir ons die detail
van elke stap wat wag nie. Hy sê net as’t ware
: “Kom agter My aan, vertrou My en ek sal jou by die heerlike bestemming
uitbring.”
Ons sien dit baie treffend in die
lewe van Abram. God het duidelike beloftes aan Hom gemaak oor ‘n nageslag, ‘n land en ‘n ewige seën wat hy sal meebring.
Abram glo en reageer gehoorsaam, maar Abram het nie onmiddellik als geweet wat
oor hom sou kom nie. Daar is vir hom niks vooraf gesê oor die droogte in die beloofde
land nie, oor jare se kinderloosheid, wag en frustrasie nie. Oor die toets wat
sou wag op Moria nie. Nee, stap vir stap het God vir Abram op die geloofspad
gelei. Die geestelike pad wat God met sy kinders stap is ‘n pad vol
verrassings. Ons ken nie die besonderhede en tydsduur van ons aardse
pelgrimspad nie. Ons kan nie anderkant die eerste berg sien nie, maar God wat
my tot hiertoe gelei het sal dit ook vorentoe doen. Ons weet nie wat môre en volgende jaar als oor ons pad kom nie, maar ons weet in wie ons glo
en ons weet dat sy genade in alle omstandighede genoeg sal wees. Ons weet daar
wag ‘n heerlike eindpunt. Ons weet dat God ons nie langs die pad sal laat val
nie, want die goeie werk wat Hy in ons begin het sal Hy voltooi! (Fil 1:6)
En nou? Hoe moet ons leef in ‘n situasie
waar ons nie als weet nie? Waarop moet
ons fokus? Vers 3 gee ‘n belangrike riglyn. Hou jouself rein! Die wete dat ons Jesus sal sien as einddoel moet
ons motiveer om altyd gereed te wees. Ons weet nie watter gevare, versoekingss
en probleme môre sal bring nie. Maar wat word van my
verwag? Ek moet heilig lewe! Los die vrese en bekommernisse oor môre en leef volgens
God se geopenbaarde wil in sy Woord.
Nie toekomsspekulasies nie, maar daaglikse
gehoorsaamheid!
Dis wat nou belangrik is.
Om dit op te som: Ons is seker van
God, maar ons is nie altyd seker oor presies wat Hy met ons gaan doen nie. Maar
die sekerheid oor God en dat Hy ons Vader is, en dat Hy ‘n volmaak
goeie en liefdevolle Vader is, gee aan ons ‘n heerlike sekerheid te midde van ons
onsekerheid. Vertrou Hom en gehoorsaam Hom een dag op ‘n slag! So kom ons uiteindellik by
ons bestemming aan.
Naby Swakopmund.