BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 23 Desember 2018

BY DIE NEDERIGES...

- Kersbome of nie, wat saakmaak is nederige harte wat ontvanklik is vir genade! 


Ouderling Andries Gous het Sondag (2 Desember) ‘n Kersdiens gereël by Oerwoud, ’n hervestigingsnedersetting waar hy gereeld die Woord bedien. Twee ander Boesman “gemeentetjies” het saamgemaak. Die Woord is gebring en geskenke is uitgedeel. Met “die Woord is gebring” bedoel ek nie sommer net ’n kort teksie en vinnige boodskappie nie. Nee! Daar is eers ’n deeglike oorsig oor die heilsgeskiedenis gegee met die hulp van prente (letterlik van Adam en Eva af) en toe is daar uit Matteus onder andere die implikasies van Jesus se maagdelike geboorte verduidelik... en natuurlik ook die belangrikheid om Jesus self, die groot Geskenk van God te aanvaar. 

Die groepie Boesmanmense het hulle eie inisiatief gebruik om ’n Kersboom te versier. Terloops, hulle het ook self ‘n klein sink en skadunet geboutjie opgerig waarin die Woord bedien kan word. Nou weet ek van al die “slim mense” wat weer hierdie tyd van die jaar te kere gaan oor die heidense wortels van Kersfees, kersbome en kersgebruike. Onder hulle is daar ook die Israelvisie ouens wat juis glo dat aan mense soos die Boesmans nie die evangelie behoort gebring te word nie. Allerhande lang bedrieglike redenasies. Ek moet sê, al is ekself nie ‘n aanhanger van kersbome nie, laat mense wat tot satwordens toe oor kersbome kibbel en hare kloof my nogals dink aan die Fariseërs wat verontwaardig was toe Jesus siekes op die sabbat genees het. So vasgevang in feite en vertolkings van feite dat hulle vergeet om die genade raak te sien! Hier tussen die eenvoudige, spontane en vriendelike mense, het ek Goddelike genade raakgesien en maar net gedink aan die woorde in Jesaja 57:15 wat sê : “Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees,...” 

God was hier teenwoordig in die warm somerhitte van Noord Namibië, hier by die geringes en nederiges. En Hy praat met hulle deur sy Gees. Twee paartjies het later vir Andries ‘n aanduiding gegee dat hulle wil trou omdat dit nie reg is om so saam te bly nie... Ja, die Here is vandag nog besig met die nederiges en geringes. Jesus is self immers in ‘n stal gebore...






Hoe moet mens Kersfees vier? Kliek op SOOS SAGGEUS

Saterdag 01 Desember 2018

BROER BONESCHANS WEIER OM TE BUIG VOOR BYGELOOF!


Dink jou in. Twee jonger boeties met die naam van Jan Hendrik is reeds vroeg dood. ‘n Derde seuntjie word word vir die gesin gebore. Gaan ons dit waag om hom ook Jan Hendrik te noem? Wat ‘n moeilike besluit vir ‘n pa om te neem... 



Luister bietjie fyn rondom jou na party Christene se gesprekke… Bangmaakstories oor geheime organisasies, bloedlynvloeke, bose magte… Vol vreesagtige bygeloof! Dit klink soms of ons terug is in die Middeleeue. Ek sou kon dink ek bevind myself tussen ‘n onbereikte heidenstam wat vasgevang is in vrees elke keer as iemand hoes of hoofpyn kry. “Watter mag is dit nou weer, wie het my getoor of vervloek…? Pasop die duiwel wil jou kind doodmaak of steel! Die noodlot is teen ons! ” 


Moet my nie verkeerd verstaan nie. Die bestaan van bose magte is ‘n werklikheid. Oor die gevare van betrokkenheid by enige vorm van okkulte (soos SPIRITISME) het ek myself al duidelik uitgespreek... 

Maar iewers is ‘n vermaning tot nugterheid nodig! Die vreesagtige beheptheid van sommige met geeste en generasievloeke is ‘n verloëning van die oorwinning van Jesus! Die populêre raad wat uit sekere Christenkringe kom is ‘n verdraaiing van die verlossingsboodskap! Trouens dit het meer met heidense gnostiek as Christusevangelie te make. Huise wat gesalf word, die bloed wat oor ‘n kar gepleit word. Botteltjies spesiaal geseënde olyfolie wat aan liggelowiges verkwansel word. Geestelike oorlogsvoeringstegnieke! Mense wat tot satwordens toe aan bevrydingsessies onderwerp word… 

Die feit is Jesus se kruisdood was baie meer as net ‘n betaling van ons sondeskuld. Sy dood was ‘n triomfantelike oorwinning oor alle bose magte! (Kliek TRIOMF

Christene het nodig om die kruisboodskap te verstaan en te glo. En daarmee saam die waarheid van God se soewereine bestuur en almag. Dis dié boodskap wat ons bevry van vrees en bygeloof! 


[Hilze en De Wet Strauss - NGK Academia]

Ek het onlangs ‘n pragtige getuienis gehoor by Hilze Strauss oor haar oupagrootjie, ds. JH Boneschans. Dit was vir my ‘n aangrypende voorbeeld van hoe eenvoudige gelowiges geweier het om toe te gee aan die vrees vir bygeloof! Positief, ‘n geloofskeuse is gemaak om te glo in die soewereine God, die enigste beskikker oor lewe en dood! Ek deel dus graag iets van ds. Boneschans se verhaal met jou. 

RUS DAAR DALK ‘N VLOEK OP ‘N NAAM? 

Kom ons laat Ds. Boneschans dit vertel in sy eie woorde : 

“Op 29 Mei 1889 het ek uit die hand van die Here die eerste lewenslig ontvang. Die plek van my geboorte lê in die provinsie Groningen (Nederland) op die Duitse grens. Dit is Oostwold, ‘n gesellige woondorpie aan die Dollard. Ek is die vyfde kind uit ‘n getal van agt, waarvan 4 dogters is en 4 seuns. Van die seuns is ek die derde Jan Hendrik aangesien dit God behaag het om die twee wat voor my was, elkeen met dieselfde naam, deur die dood weg te neem. Voor die geboorte van die tweede seun (Jan Hendrik) was die eerste reeds oorlede en toe dit my ouers behaag het om ook die tweede Jan Hendrik te noem, het ‘n tante van my vader daarteen gewaarsku. Sy was bevrees dat die Here ook die tweede om dié rede kon wegneem. My vader het dit egter beskou as ‘n vorm van bygeloof. Nietemin was dit tog die Here se wil om dié seuntjie ook weg te neem. By my geboorte was dit nou die vraag: ‘Sal ons hom ook weer Jan Hendrik noem? Dit wil mos voorkom dat tante gelyk gehad het.’ [Ek hoor al die Charismate se verklaring van ‘n bloedlynvloek wat aan hierdie naam gekoppel sou wees… - JdK] Tog word besluit om die derde seuntjie ook weer Jan Hendrik te noem - so nie, sou my ouers dan tog uiteindelik aan die tante gelyk gegee het en die opmerking van ‘n vorm van bygeloof op hulself van toepassing gemaak het. My lewensgeskiedenis sou bewys lewer dat my ouers to reg was.” 

Watter diep insig het hierdie gelowiges gehad! Om toe te gee aan ‘n vrees oor ‘n naam sou bygeloof wees. En bygeloof is niks anders as ongeloof nie! Dis ‘n verloëning van God se soewereine almag en beskikking, ‘n onderskatting van die kruisoorwinning van Jesus! Dis immers Jesus self wat die laaste sê oor die dood het. 

"Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.” (Openbaring 1:17,18) 

Die derde Jan Hendrik het oorleef, maar daar was wel ander droefheid waardeur die gesin moes gaan. Laat ons dit tog maar weer besef, geloof bewaar ons nie van beproewings nie! 

“Ook herinner ek my nog baie goed die dood en begrafnis van ons jongste sussie toe ek amper vyf jaar oud was – Des 1893. Dit was in die bittere koue van die Europese winter en pas na haar geboorte is die sussie oorlede. Sag het my pappie ons in die kamer gebring waar sy reeds in haar kissie gelê het, om vir die eerste maal na ons nuwe sussie te kyk. Kort daarna het my vader en ‘n vriend van hom wat die kissie gemaak het, die deksel van die kissie opgeskroef en haar alleen in die kerkhof gaan begrawe.” 

IN DIE YSWATER 

En wat het toe verder met Jan Hendrik gebeur? Die soewereine God se bewarende hand was oor hierdie seuntjie, maar als was nie altyd so eenvoudig nie! 

“‘n Ander insident wat vermeld moet word, is die reddende en genadige hand van die Here gedurende my sesde lewensjaar. Regoor ons huis het die weelderige pastorie van die Nederlands Hervormde Kerk gestaan. Tussen in was daar egter eers ‘n groot stuk veld, dan ‘n grag waaroor ‘n lieflike brug na die pastorie was, en dan net vlakvoor die gronde van die pastorie was daar die kerkrylaan wat met klippe uitgelê was en tot by die kerk gelei het. 

Dit was gedurende die winter en die grag wat in die “koediep” - ‘n groot stuk water waarop groot voertuie vaar - gelei het, was (net soos die ander gragte) vol dik stukke aaneengeslote ys. Oud en jonk het nou vrolik op die ys in die grag geskaats. Daar moes egter opgepas word om nie te na aan die wal teenaan die brug te beweeg nie want daar was die ys baie dun en het die gevaar bestaan dat mens deur die ys kon sak en verdrink. 

My oudste sustertjie wat toe elf jaar was, het besluit om ook te gaan skaats. Aangesien sy baie goed kon skaats wou ek en my ander sussie gaan kyk. Ons is toegelaat mits my oudste sussie na ons sou kyk. Ek en my jonger sussie is toe ook met ons klompies op die ys om maar daar rond te gly en val. Wat ‘n heerlikheid! 

Sonder om te weet hoe gevaarlik dit langs die brug by die walle van die grag is, beweeg ek stadig na die brug toe. Versigtig trap ek op die ys om nie te gly nie – maar o wee! – die ys breek en ek sak deur die yskoue water! Dinge het te vinnig gebeur om nog om hulp te skreeu en hulpeloos het ek net my handjies na bo gegooi voor ek onder die water verdwyn het. Raak ek onder die yskors – en dit sonder dat iemand my sien – het ek geweet sou dit klaarpraat wees met ook die derde Jan Hendrik! Gelukkig het ‘n man my gesien en my koue verkluimde liggaampie weer uit die water gehaal. Ek kan alleen die Here dank dat iemand my op dié kritieke moment, tog raakgesien het!” 

NA SUID-AFRIKA! 

Jan Hendrik se pa is deur president Paul Kruger as onderwyser gewerf en die gesin het na die Boere republiek, die ZAR verhuis. Hulle het verneem dat die land ‘n warm plek was en het dus nie genoeg warm klere saamgeneem nie. Jan Hendrik het ernstig siek geword! Was hier nou tog maar weer ‘n tragedie in wording? 

“Kort na ons aankoms het ek ernstig siek geword met dubbele longontsteking. My vader het die dokter, dr Lingpeeck, ingeroep. Hy was van mening dat ek geen kans op oorlewing het nie maar as ek twee tot drie dae tog kon oorleef, sou daar hoop wees. 

My vader het my tussen hom en my moeder in die bed geplaas vir natuurlike warmte. Die nag het my vader, uit jammerte, die puntjies van my ore aangeraak om te voel of dit nog warm was. Hy het teruggedink aan my tante wat voorspel het dat my vader God uittart deur my weer Jan Hendrik te noem. Hy bid toe in geloofsvertroue dat God my moet spaar en, as dit moontlik is, ek dan in die bediening sal staan. My vader het my dit nooit vertel nie maar sy gelofte stil gehou - selfs teenoor my moeder. Van kleins af het egter kerk-kerk gespeel en vir my sussies se poppe gepreek.” 

PREDIKANT 

God het die vader se gebed verhoor. Hy is nie beskaam in sy geloofsvertroue nie. ‘n Beurstoekenning het dit vir Jan Hendrik moontlik gemaak om na die ontwrigting van die Boere-Oorlog verder skool te gaan en daaropvolgend op die besondere jong ouderdom van 16 jaar vir predikant in die Gereformeerde Kerk te studeer! Die genadige almag van God het getriomfeer oor die leuens en vreespraatjies van die Bose! 

[Die jong Jan Hendrik as teologiese student. Tweede ry, heel links.]

Ons hoef nie vloeke en bygeloof te vrees nie, ons moet maar net deur Jesus ons Verlosser op die soewereine God vertrou!