BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Onreg. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Onreg. Wys alle plasings

Maandag 23 Januarie 2023

Irritasie, frustrasie en onreg

 - hoe moet ek dit hanteer?


Kliek op JAKOBUS om sy ingrypende antwoord te hoor!

(Ook baie van toepassing in 'n huwelik met spanning en onmin)


Dinsdag 27 September 2022

ONREG EN KORRUPSIE

- sou God dit in sy diens tot sy eer kon gebruik?


God se opregte kinders ervaar dikwels onreg. Ons ly onder die gevolge van ander mense se sonde, blatante bedrog en skrikwekkende korrupsie. (Dink nou maar sommer aan die ellendes wat die ESKOM korrupsie veroorsaak!) Dan is daar natuurlik ook nog rampe en ongelukke wat ons diep kan raak. In sulke tye voel dit vir ons so maklik - "Ek kry onregverdiglik swaar!" Dit maak ons moedeloos, depressief en soms ook opstandig teen God. "Here, hoe kan U dit toelaat? Waar is U? Sien U nie die onreg raak nie? Here, het U van my vergeet?"

Ek wil jou herinner aan die veelbewoë geskiedenis van twee Bybelfigure. Josef in die Ou Tstament en Paulus in die Nuwe Testament. Dis nou twee persone wat met reg sou kon vra – “Here, waar is U, het U van my vergeet?”

JOSEF

Ons ken die geskiedenis van Josef. Hy was die dromer, hy was ook die witbroodjie van sy pa. Sy broers doen ‘n vreeslike sonde en verkoop hom as ‘n slaaf in Egipte. Onregverdig! Hy word aangestel in die huis van Potifar. Hy is ‘n getroue en betroubare slaaf. Hy doen als wat reg is. Potifar se vrou probeer hom verlei. Josef weier, want hy weet dis sonde teen God. Hy doen die regte ding. Maar wat gebeur? Potifar se vrou beskuldig hom valslik en hy word in die tronk gegooi. Onregverdig! Hy lê die bakker en skinker se drome reg uit. 'n Goeie daad aan sy naaste. Dit bring eer aan die ware God. Maar wat is die gevolg? Skynbaar niks. Die skinker vergeet van Josef en nog twee jaar moet Josef as onskuldige persoon sy lewe in ‘n Egiptiese tronk slyt. Onregverdig! Toe droom Farao ook en die res is geskiedenis… 

Josef word onderkoning van Egipte en red so ook die lewens van sy familie en dus die volk Israel. Hoe sien Josef sy eie geskiedenis? Na sy pa, Jakob se dood was die broers bekommerd dat Josef uiteindelik sou wraak neem, maar Josef stel hulle gerus. “Moenie bang wees nie, want is ek in God se plek? Julle het kwaad teen my beplan, maar God het dit vir iets goeds in gedagte gehad, met die doel om te doen wat vandag gebeur – om ‘n groot volk aan die lewe te hou.” (Genesis 50:19,20) Ja, Josef se broers doen sonde, Josef ly onreg as gevolg van hulle sonde, maar God het ‘n wonderlike plan daarmee gehad – om sy volk Israel te spaar! In al die tye wat Josef so onregverdig gely het, het God nie vir Josef vergeet nie, maar het God ‘n groter heerliker doel gehad. God was deurgaans met Josef, al het dit dalk nie so gelyk nie. (Genesis 39:2,23)

PAULUS

Ons ken ook die geskiedenis van Paulus. Hy was ‘n vyand van die evangelie, maar Jesus gryp in sy lewe in op pad na Damaskus. Die Here het toe vir Annanias na Paulus gestuur met die woorde : “Gaan, want Ek het hom uitgekies as instrument om my Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel. Ek sal boonop aan hom toon hoeveel hy ter wille van my Naam moet ly.” (Handelinge 9:15,16)  Let op - LYDING is deel van God se "wonderlike plan" met Paulus se lewe! En dis presies wat met Paulus se lewe gebeur het… dink aan die baie ontberings, gevangenskappe en martelings wat hy moes verduur. Uiteindelik het God dit so beskik dat hy tot in Rome voor die keiser moes gaan getuig. Maar hoe het dit gebeur? Hy is onskuldig gevang in Jerusalem. Na sy verhoor deur die Joodse raad het die Here Jesus self Paulus kom bemoedig.  Daardie nag het die Here by Paulus kom staan en gesê : "Hou moed! Want net soos jy in Jerusalem oor My getuig het, so moet jy ook in Rome getuig." (Handelinge 23:11) 

Dit was God se plan vir hom – getuienis in Rome! Toe volg daar een onregverdige verhoor na die ander… niemand kon hom skuldig bevind nie, maar hy word ook nie vrygelaat nie. Beide Feliks en Festus wou die Jode se guns soek en het Paulus onregmatig onder arres gehou. Daar was omkoopgeld betrokke! Onregverdig! Uiteindelik moes Paulus noodgedwonge appelleer na die keiser en Festus het dit toegestaan. 

Sien jy – God gebruik onreg en korrupsie om te sorg dat Paulus voor die keiser kon getuig! 

Maar dit was nog nie die einde van die storie nie – op pad na Rome beland die skip waarmee Paulus gereis het in ‘n woeste storm – dit lyk of die einde gaan kom. Wat gebeur? Die Here stuur 'n engel na Paulus om Hom te verseker dat God se plan dat hy in Rome moet getuig steeds op koers is!  Hy vertel die vreesbevange mense in die skio daarvan. Verlede nag het 'n engel van die God aan wie ek behoort en vir wie ek dien, by my kom staan en gesê, "Moenie bang wees nie, Paulus, jy moet nog voor die keiser verskyn. Kyk, God het in sy genade die behoud van almal wat saam met jou vaar, aan jou geskenk." (Handelinge 27:23-24!) Niks kan God se planne dwarsboom of keer nie! God se weë is onbegryplik vir ons, maar God weet wat Hy doen. Ek en jy kan Hom vertrou!

GOD SE VOORSIENIGHEID

Ons kan natuurlik baie leer uit God se werksaamheid in beide Josef en Paulus se lewens.

Ek wil net een groot saak uitlig – GOD SE VOORSIENIGHEID. Beide se lewens en ook spesifiek die onreg wat hulle gely het is ‘n illustrasie van God se voorsienigheid. Kyk hoe die NGB dit opsom Artikel 13 DIE VOORSIENIGHEID VAN GOD. (Sien hieronder ook die HK Sondag 10)*

Ons glo dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie, maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie. Tog is God nie die bewerker van die sondes wat gedoen word nie, en dra Hy ook nie die skuld daarvoor nie. (Dis nie God se sonde wat maak dat Josef verkoop word as slaaf of dat Paulus onregverdig aangehou word nie, maar Hy gebruik dit!)

Sy mag en goedheid is immers so groot en onbegryplik dat Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en uitvoer, selfs al handel die duiwels en goddelose mense onregverdig. (Soos Josef se broers, soos Feliks en Festus...) Ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na dié dinge wat Hy bo die vermoë van die menslike verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle nederigheid en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is. Ons is tevrede daarmee dat ons leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry. Hierdie leer bied onuitspreeklike troos as ons daardeur geleer word dat niks per toeval oor ons kan kom nie maar alles deur die beskikking van ons hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop - hulle is almal getel - en ook nie een mossie op die aarde kan val nie. (Matt. 10:29-30). 

Ons verlaat ons hierop, omdat ons weet dat Hy die duiwel en ons vyande in toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie. Daarom verwerp ons ook die gruwelike dwaling van die Epikureërs, wat sê dat God Hom met niks bemoei nie en alle dinge aan die toeval oorlaat. 

DIE GROOTSTE ONREG

Beleef jy onreg? Moenie moed verloor of in opstand kom nie. Glo in God se voorsienigheid. Hy is met jou juis ook in daardie donker onverstaanbare tye. Hy sal sy doel met jou bereik! En dis altyd 'n saak van blydskap, al huil ons nou. Vertrou Hom. Dis hoe God werk. Van die heel grootste onreg het ons nog nie eers gepraat nie. En wat was dit? Jesus se kruisiging. Pilatus kon Jesus op geen regsgronde of bewyse skuldig bevind nie, maar lewer hom tog oor aan die Jode. Veroordeling van die enigste Onskuldige op aarde!  Korrupsie! Onreg! Maar juis deur Jesus se kruisiging het God finaal bewys dat Hy onreg in sy diens kan gebruik om die grootste en heerlikste triomf te behaal. Juis daarom het ons hoop en kan ons God blindelings vertrou!

* Heidelbergse Kategismus

Sondag 10 - VRAAG EN ANTWOORD: 27

Vraag: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?

Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God1 waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte,  vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom. 



Sondag:10 - VRAAG EN ANTWOORD: 28

Vraag: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?

Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader  kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.

Dinsdag 01 Mei 2018

Waarom was daar dinosourusse?

Waarom, hoekom, hoe werk dit...? Dis in die mens se aard om te wonder oor baie dinge en vrae te vra. Waarvandaan kom ons en waarheen gaan ons? Waarom bestaan ons? En wat van al die ander dinge wat bestaan? Wat is die sin van al hierdie dinge? Hoekom is daar nie net niks nie? Waarom was daar dinosourusse? Geen mens het hulle tog gesien nie, ons weet nie eers regtig presies hoe hulle gelyk het nie ongeag Jurassisc Park. En wat van die miljarde sterre wat so ver is dat hulle lig ons nog nie eens bereik het nie? Watter verskil maak dit dat hierdie goed bestaan, het dit enige nut en betekenis? Dit voel net of daar te veel dinge is wat ons nie verstaan nie, die betekenis van die werklikheid rondom ons is net te groot en omvattend om alles te begryp! Wees gerus, dis soos die skrywer van die Prediker ook eens op 'n tyd gevoel het. 

Ons lees in Prediker 7:23,24 : “Ek het alles met die hulp van wysheid getoets. Ek wou wysheid bekom, maar dit het buite my bereik gebly. Die betekenis van wat gebeur, lê buite bereik, baie diep; wie kan dit vind?” 



Maar heel waarskynlik word jy deur ernstiger dinge as dinosourusse en sterre gepla. Dieper vrae. Wat van die onreg en onregverdigheid in die lewe? Dit was ook vir die skrywer van Prediker ‘n raaisel... “In my lewe wat tot niks gekom het nie, het ek alles gesien: ‘n regverdige gaan onder al doen hy reg, ‘n goddelose geniet ‘n lang lewe, al doen hy verkeerd.” (7:15) Jy sien hier gaan die Prediker ‘n bietjie dieper in op die lewe as Spreuke. Miskien beter gestel : Hy benader dinge bietjie vanuit ‘n ander hoek. In Spreuke is die beginsel van oorsaak en gevolg gestel, "as jy so maak sal dit en dat gebeur" – en dit is so en bly waar. Maar Prediker merk op dat die lewe meer kompleks is as dit. (en jy het seker ook al) Daar gebeur slegte dinge met goeie mense en dikwels gaan dit met slegte mense goed. So als is nie so eenvoudig nie! Alles kan nie verklaar word in ‘n altyd-geldende lynregte skema van oorsaak en gevolg nie. Wat van al die tragedies, oorloë, natuurrampe... waar pas dit in, watter sin en doel het dit alles? 


Inderdaad soos die Prediker sê, die werklikheid is so groot en so ontsaglik diep. Wie kan dit heeltemal begryp? Die wysheid om alles rondom ons te verstaan bly maar net buite ons bereik. Dis deel van die groot boodskap van Prediker - alles is nie vir ons menslike logika verklaarbaar nie. Die wysheid waartoe ons toegang het verklaar nie alles nie... Ja, dis reg om alles te ondersoek en na te vors, maar ons as mense se insig bly beperk. Hierdie ondersoekende gees van die mens kom natuurlik van God, maar ons moet besef ons sal die werke van God nooit uitput met ons ondersoeke en wetenskap nie. “Ek het gesien dat God aan die mens ‘n taak gegee het om hom mee besig te hou. God het elke ding gemaak dat dit pas in ‘n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens ‘n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie.” (3:10,11) 

NUWE ONTHULLING 

Nou waar laat dit ons? Is daar nie tog ‘n sleutel tot verstaan nie? Is daar nie tog iemand of iets wat ten minste as vertrekpunt kan dien om die kompleksiteit van die heelal, die geskiedenis en ons eie bestaan te ontrafel nie? Die Nuwe Testament (Nuwe Verbond) maak ‘n dramatiese en ingrypende onthulling. Die sleutel van alle begrip is Jesus Christus, die sin van alles is Jesus Christus! 

Kyk na Kolossense1:15-17. 

"15. Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping.
16. God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep.
17. Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand."

Dis waarskynlik ‘n ou Christelike lied wat Paulus aanhaal om sy hoofargument in die Kolossense brief mee te onderstreep. Jesus Christus is vir ons genoeg, want die volle heerlikheid van God woon in Hom. Jesus is oneindig heerlik, niks en niemand is groter as Hy nie. Hy is die belangrikste in die heelal, die eersgeborene, alles is deur Hom geskape, maar meer as dit – alles is ook VIR Hom geskape. Alles wat bestaan, bestaan ter wille van Jesus! Hy hou ook als in stand! Alles wat bestaan en bestaan het, is afhanklik van Jesus! Alles maak uiteindelik net sin in relasie tot Jesus! 

Jesus se rol is groter as net die persoonlike Verlosser van sonde. Hy het ‘n kosmiese rol. Die heelal, die oneindige heelal of heeltalle ("multiverse") draai rondom Hom! 

Kom ons kyk net na twee verdere bevestigings in die Skrif:

"In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie." (Johannes 1:1-3)

"In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak." (Hebreërs 1:1,2 )

DIE BOEKROL

Alles behoort aan Jesus! Maar Jesus is nog meer as net die erfgenaam en eienaar van die heelal. Hy beheer ook alles. Hy hou die sleutel tot die geskiedenis van die heelal, alles wat gebeur. Ons het gesê daar is baie dinge wat gebeur wat vir ons onverklaar en onbegryplik is. Soveel onreg, ellendes en rampe wat vir ons nie sin maak nie en baie keer heeltemal onregverdig lyk. Wie kan dit verstaan? 

Openbaring 5 beskryf vir ons ‘n uiters veelseggende en dramatiese toneel. ‘n Kykie agter die skerms! 

1.“In die regterhand van Hom wat op die troon sit, het ek ‘n boekrol gesien wat aan die voor-en aan die agterkant vol geskrywe was en wat met sewe seëls goed verseël was. 

2 .Toe het ek ‘n sterk engel gesien wat met ‘n harde stem uitroep: "Wie is waardig om die boek oop te maak deur die seëls daarvan te breek?" 

3. Maar niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde was in staat om die boek oop te maak en daarin te kyk nie. 

4. Ek het baie gehuil omdat daar niemand gekry is wat waardig was om die boek oop te maak en daarin te kyk nie. 

5. Toe sê een van die ouderlinge vir my: "Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak." 

6. Toe het ek voor die troon wat omring was deur die vier lewende wesens, tussen die troon en die ouderlinge, ‘n Lam sien staan, die Een wat geslag was. Hy het sewe horings en sewe oë gehad. Die sewe oë is die sewe Geeste van God, wat oor die hele aarde uitgestuur is. 

7. Hy het toe gegaan en die boek ontvang uit die regterhand van Hom wat op die troon sit. (Openbaring 5:1-6) 

Waaroor gaan die boekrol? Die boekrol bevat God se bloudruk, God se plan van verlossing en oordeel en einddoel met die hele skepping! God se beheer van die geskiedenis, van ewigheid tot ewigheid. Dis ontoeganklik vir die mens, dis verseël. Niemand is waardig en in staat om dit te begryp nie. Wat ‘n groot hartseer! Maar dan die dramatiese aankondiging, ja daar is Iemand! Iemand wat God se planne kan verstaan en inwerking stel. Iemand deur wie die ontvouing van God se geheime doel met alles tot uitvoering gebring word. Jesus, die Leeu van Juda, maar juis ook die Lam wat vir ons geslag is! Ons Koning is die Almagtige, maar juis ook die swak en nederige Gekruisigde! (Kliek LEEU/LAM) 

JESUS IS DIE SLEUTEL TOT ALLE VERSTAAN EN DIE SIN VAN ALLE BESTAAN. 

Die skepping en die geskiedenis van die skepping draai om Jesus Christus. Wie Hom nie ken nie, weet niks, verstaan niks en beteken niks!  Die goeie nuus is : Ons kan Hom nou reeds ken, nou reeds liefhê. God het ons juis gemaak en ontwerp om Hom te ken en te eer. Hy maak die hele lewe sinvol – ook as ons navorsing doen oor dino’s of sterrekunde, maar juis ook as ons eenvoudige dinge doen soos om ‘n koppie koffie in die oggend te drink of ‘n baba se doek om te ruil of kinders skool toe te vat. Ons hele lewe en ook ons sterwe maak sin in Jesus. Niks is toevallig nie en niks is 'n vermorsing nie. Ook in onreg en in hartseer is sy liefde by ons en kan ons Hom vertrou dat Hy alles tot by die finale einddoel sal bring. Weens God se liefde in Hom het ons niks te vrees nie. (Kliek – HIPEROORWINNAARS) 


Om terug te kom na die dinosourusse: Dis nie die plek en tyd om te bespiegel oor die wetenskaplike bevindings en vermoedens wat betref dinosourusse nie. Laat die navorsing aangaan... Ons het immers die kultuuropdrag om die aarde te bewoon en te bewerk, en dit sluit wetenskaplike ondersoek in. Wie weet watter interessante dinge daar nog wag om ontdek te word? Wat ons wel nou reeds met sekerheid kan weet is dat Jesus hulle gemaak het vir Homself. Hulle het ook ‘n rol in die hele skepping wat ter wille van Hom bestaan. Hulle het bestaan ter wille van Sy eer, om as bewyse te dien van sy Goddelike heerlikheid en almag! 

Ons het nog nie nou alle antwoorde op al die detail van ons wetenskaplike of lewensvrae nie, maar ons kan weet om Hom te ken is genoeg, want Johannes 14:6 leer ons : “Jesus het vir hom gesê: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” 

Hy, Jesus is alles! Voordat jy Hom nie ken nie, kan niks begin sin maak nie, kan jy nog nie LEWE nie!




Maandag 01 Februarie 2016

AS ONREG OF RAMPE MY TREF...

-is dit tyd om vas te hou aan die voorsienigheid van God!

As slegte goed met goeie mense gebeur, as rampe die regverdiges tref, dan word ons maklik verward, mismoedig en selfs wankelrig in die geloof. Hoe kan dit dan wees, hoekom beskerm God dan nie sy kinders nie? Kan Hy nie of wil Hy nie?

Dis hier waar ons iets moet verstaan van die voorsienigheid van God. Min mense ken nog die woord of begrip. (en dis so jammer) Maar ons voorgeslagte het hierdie saak deeglik deurdink en dit baie mooi geformuleer. Ons vind dit duidelik uitgespel in NGB artikel 13. Dit beteken nie dis ‘n waarheid of leerstuk wat mense uitgedink het nie, die saak word duidelik in die Bybel aangespreek. 

En een van die Bybelverhale waar die voorsienigheid van God op die mees dramatiese manier figureer is die verhaal van Josef. So kom laat ons die geskiedenis van Josef eers so ‘n bietjie afstof. Ons ken dit darem seker almal... 

Josef word deur sy pa Jakob voorgetrek  en dit veroorsaak 'n giftige en wraaksugtige jaloesie by sy ander broers. Om sake te vererger het Josef drome gedroom, wat geïnsinueer het dat sy eie familie eendag voor hom sou buig. Toe op ‘n dag toe hy gaan kos wegneem vir sy broers, neem hulle hulle kans waar, vang hom, gooi hom in ‘n put en verkoop hom aan handelaars wat hom toe weer in Egipte as slaaf verkoop. In Egipte beland hy in Potifar se huis, dit gaan baie goed en hy word bevorder, maar dan kom daar weer moeilikheid. Potifar se vrou probeer hom verlei en toe sy dit nie regkry nie beskuldig sy Josef valslik. Die woedende Potifar laat Josef in die tronk gooi. Sjoe, Josef bly getrou aan God se gebod, maar kyk wat gebeur met hom! Kan dit sin maak? Dit sou kon lyk asof God vir Josef vergeet het of in die steek gelaat het ('n Egiptiese tronk is nie juis 'n vyfster hotel nie!), maar te midde van al hierdie ellendes lees ons dat Here by Josef was! (Genesis 39:2,21,23) Ons ken ook die verhaal verder, hoe Josef die bakker en skinker se drome in die tronk uitgelê het. Die skinker is vrygelaat soos Josef voorspel het en het belowe dat hy Josef se saak by die farao sou stel. Maar ons weet mos wat gebeur met mense se beloftes... Die skinker vergeet van Josef en vir nog twee lange jare moes Josef in die tronk deurbring. (Twee jaar voel soos lewenslank as jy onskuldig in 'n tronk sit.) Weereens sou dit kon lyk asof nie net die skinker nie, maar God self van die arme Josef vergeet het. Maar toe droom die Farao ook en Josef word uit die tronk gehaal om dit uit te lê. Dit lei uiteindelik daartoe dat hy as onderkoning in Egipte aangestel word sodat hy toesig kon hou oor die projek om graan op te gaar. Toe die wêreldwye hongersnood kom wat Josef voorspel het, het sy eie broers daar kom koring koop en uiteindelik het Josef se vader Jakob en sy familie permanent in Egipte kom bly. Toe Jakob sterf was die broers bang dat Josef sou wraak neem oor die onreg wat hulle teen hom gepleeg het en dis toe dat Josef die wysheid en insig oor Goddelike voorsienigheid kwytraak. “Maar Josef het hulle geantwoord: "Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie. Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ‘n groot volk nou in die lewe gebly het.” (Genesis 50:19,20)

In effek sê hy : “Ja, julle het verkeerd gedoen, maar God het dit alles gebruik om sy goeie plan te volvoer!” Josef se woorde word bevestig deur Psalm 105:16,17. “Toe Hy (God) hongersnood oor die land gebring het en al hulle kos laat opraak het, het Hy iemand voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop.” Kyk hoe word hierdie twee sake parallel gestel. God “stuur” Josef – hy beland nie maar sommer toevallig in Egipte nie, maar die manier hoe Hy dit doen is deur die “verkoop” van Josef as ‘n “slaaf”. 'n Slegte daad staan in diens van God!

Die waarhede oor God se voorsienigheid, met ander woorde oor sy soewereine bestuur en beheer van als wat in die skepping gebeur word duidelik gesien in hierdie geskiedenis van Josef en dit word pragtig saamgevat in die NGB Art 13*. Kom ons kyk daarna:

"Ons glo dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie." God onttrek Homself nie van hierdie wêreld nie, maar beheer en bestuur alles volgens sy volmaakte wysheid. Die hongersnood is nie toevallig nie, God het daarmee sy doel gehad. Josef se koms na Egipte en als wat daar met hom gebeur het, was ook nie toevallig nie, God het daarmee ‘n doel gehad. Inderdaad is God se hand agter alles!

"Tog is God nie die bewerker van die sondes wat gedoen word nie en Hy dra ook nie die skuld daarvoor nie. Sy mag en goedheid is immers so groot en onbegryplik dat Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en uitvoer, selfs al handel die duiwels en goddelose mense onregverdig." As ons sê dat God se hand agter als is kan mense nou maklik redeneer dat Hy ook skuldig is aan die verkeerde dinge wat gebeur. Daarom sê NGB Art 13 pertinent dat dit nie so is nie. God se voorsienigheid vat nie ons skuld of ons verantwoordelikheid weg nie. Josef se broers het sonde gedoen deur hom te verkoop (en hulle sou daaroor verantwoording moet doen), dis nie God se sonde of skuld nie, maar God is so groot dat hy ook verkeerde dinge kan gebruik om sy raadsplanne te volvoer. Selfs onreg is ‘n instrument in God se hand. Ja, dit sluit ook ons eie verkeerde keuses en foute in... dit bly ons skuld, maar God gebruik selfs ook dit om sy doelwitte te bereik!

MAAR DIT KLINK SO ONBEGRYPLIK?

"Ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na dié dinge wat Hy bo die vermoë van die menslike verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle nederigheid en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is. Ons is tevrede daarmee dat ons leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy aan ons in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry." Ons kan God se voorsienigheid nie verstaan nie, ons verstand is te klein om alles uit te pluis. Die mens sou kon vra of God nie maar op ‘n ander makliker manier Jakob en sy familie in die hongersnood kon deurgedra het nie. (Of waarom nie sommer van die begin af gesorg het dat daar nie hngersnood was nie?) Ons wonder dalk hoekom moes hy so onskuldig ly? Dis waar ons moet buig voor God en sê dat ons Hom net vertrou al verstaan ons nie. Ek en jy verstaan meestal nie die slegte en hartseer dinge wat oor ons pad kom nie, maar ons kan weet God is God en Hy weet wat Hy doen. 

TROOS! NIKS IS TOEVALLIG NIE!

"Hierdie leer bied onuitspreeklike troos as ons daardeur geleer word dat niks per toeval oor ons kan kom nie maar alles deur die beskikking van ons goeie hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop - hulle is almal getel - en ook nie een mossie op die aarde sal val nie (Mat 10:29, 30). Ons verlaat ons hierop, omdat ons weet dat Hy die duiwels en al ons vyande in toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie. Daarom verwerp ons ook die gruwelike dwaling van die Epikureërs, wat sê dat God Hom met niks bemoei nie en alle dinge aan die toeval oorlaat." Die wêreldgeskiedenis, maar ook ons eie lewensgeskiedenis is nie soos ‘n vragmotor wat sonder remme by ‘n bergpas afhardloop nie... Ons is nie aan ‘n blinde noodlot, kans, geluk of toeval uitgelewer nie. Niks kan met ons gebeur as God dit nie toelaat nie! Dis ons troos binne in ons smart. Die God wat ons liefhet en sy liefde deur Jesus aan die kruis bewys het, is in die finale beheer van sake en Hy bestuur alles tot ons uiteindelike beswil! Dit laat ons geduldig wees in teëspoed en dankbaar wees in voorspoed! Dit laat ons die toekoms met vertroue ingaan, want niks in die skepping kan roer of beweeg sonder God se wil nie!**

NIE FATALISME!

God se voorsienigheid beteken nie (soos sommige ons daarvan wil beskuldig) dat ons maar fatalisties agteroor moet sit in ellendes en net kyk wat God aan die saak gaan doen nie. Beslis werk dit nie so nie! Weereens is Josef 'n pragtige voorbeeld. In uiterste slegte omstandighede doen hy steeds sy uiterste bes en maak die beste van 'n slegte saak. As slaaf in Potifar se huis blink hy uit en kry bevordering, as hy ten onregte in die tronk beland is sy optrede weer so onberispelik dat hy as toesighouer aangestel word. Ons doen wat ons kan, ons gehoorsaam steeds God en sy gebooie en laat dan die res oor aan sy soewereine wil...wetende dat God ons nie vergeet het nie!

Kind van God, (jy wat swaarkry of verontreg voel) weet op hierdie oomblik dat soos God nie vir Josef in die tronk vergeet het nie, Hy jou ook nie vergeet het nie, maar besig is om sy doel met jou te bereik!

NIKS IS TOEVALLIG NIE! SONDER GOD SE WIL KAN GEEN SKEPSEL ROER OF BEWEEG NIE!

*Die tekste wat die NGB Art 13 vermeld is : Joh. 5:17; Heb. 1:3; Sp. 16; Ef. 1:11; Jak. 4:13,19; Job 1:21; 2 Kon. 22:20; Hand. 4:28; 2:23; 1 Sam. 2:25; Ps. 115:13; Jes. 45:7; Amos 3:6; Deut. 19:5; Spr. 21:1; Ps. 105:25; Jes. 10:9; 2 Tess. 2:11; Eseg. 14:9; Matt. 10:29; Rom. 1:28; 1 Kon. 11:23; Gen. 45:8; 50:20; 2 Sam. 16:10; Matt. 8:31; 1 Joh. 2:16; Ps. 5:5; 1 Joh. 3:8; Gen. 1:26; Kol. 1:15; 3:10.

** Die Heidelbergse Kategismus Sondag 10 praat ook heerlik vertroostend oor die voorsienigheid van God, ja dit noem selfs droogte (dit wat baie gebiede tans teister) by die naam!

Sondag 10

27 Vraag: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?

Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God (a) waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer (b) dat lower en gras, reën en droogte (c), vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte (d), rykdom en armoede (e) en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom (f).

(a) Hand 17:25-28; Jer 23:23, 24; Jes 29:15, 16; Eseg 8:12. (b) Heb 1:3. (c) Jer 5:24; Hand 14:17. (d) Joh 9:3. (e) Spr 22:2. (f) Matt 10:29; Spr 16:33.

28 Vraag: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?

Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig (a) en in voorspoed dankbaar (b) kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader (c) kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (d), aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (e).

(a) Rom 5:3; Jak 1:3; Ps 39:10; Job 1:21, 22. (b) 1 Tess 5:18; Deut 8:10. (c) Ps 55:23; Rom 5:4. (d) Rom 8:38, 39. (e) Job 1:12; 2:6; Spr 21:1; Hand 17:2.


Geen ramp of ongeluk is toevallig nie, ook al is mense daaraan skuldig...

Saterdag 13 September 2014

#JusticeforReeva

- die dieperliggende en ewige implikasies.

Die Twitter groepering #JusticeforReeva versprei soos ‘n weghol Oktoberveldbrand na die uitspraak van regter Masipa in die Oscar Pistorius hofsaak die afgelope Vrydag.

Oor die reg of verkeerd van die betrokke uitspraak wil ek my nie uitlaat nie – dit sou beslis onverantwoordelik wees, want ek is nie ‘n regskenner nie. Wat my wel noop om iets te sê is die geweldige gevoel van verontwaardiging as sodanig dat reg en geregtigheid nie geskied het nie. Hoekom? Wel, ons leef vandag in die denkklimaat van die post modernisme en hierdie filosofiese rigting verkondig eintlik mos dat daar geen absolute objektiewe waardes is nie! Hiervolgens is als eintlik maar relatief en subjektief. Vir ‘n God en ‘n Bybel wat vir ons sê daar is sekere dinge wat reg is en sekeres wat verkeerd is, kan daar nie in die huidige wêreld plek gevind word nie. Sonde het ‘n uitgediende en taboe begrip geword in baie kringe.

My punt is dat die byna histeriese reaksie oor die Pistorius hofsaak se uitkoms, duidelik wys dat post modernisme inkonsekwent en inherent onhoudbaar is. Diep binne homself het die mens ‘n besef dat daar iets is (moet wees) soos reg en verkeerd. Onderliggend het ons almal die verlange dat geregtigheid sal geskied en dat onreg gestraf sal word. Ja, ‘n gevoel vir “justice”. Daarom #JusticeforReeva!

ONS HET VASTE WAARHEID NODIG!

Die mens het inderdaad ‘n gevoel dat daar iets soos reg en verkeerd is, maar dis baie lukraak, wisselvallig, normloos en subjektief. Reg en verkeerd word deur die mens geïnterpreteer soos dit homself en sy eie sondige gewoontes die beste pas. Die hele Oscar debakel illustreer dit pragtig. Baie wat (tereg) voel dis ‘n misdaad om ‘n lewe te neem, bly heeltemal stil oor die verkeerdheid van losse buite egtelike seksuele verhoudings. Dis geestelik net so gevaarlik, want beide die heiligheid van lewe en die heiligheid van die huwelik is vir God belangrik. Daar is immers nie net ‘n sesde gebod nie, maar ook ‘n sewende! En dit bring my by die feit dat die mens as die kroon van die skepping en spesifiek geskape as ‘n moreel verantwoordelike wese aangewese is op vaste waarheid, die vaste waarheid van God se Woord. Sonder die vaste objektiewe waarhede, wette en norme soos die Bybel leer sal die mens totaal verwilder! Die mens sonder God is in ‘n vryval van morele selfvernietiging en dis slegs sy ALGEMENE GENADE wat keer dat die ongelowige mens nie ten volle verdierlik en gedemoniseerd word nie! 

Die eis vir geregtigheid wat nou weer orals opklink moet ons ook daaraan herinner, dat volle geregtigheid eendag wel sal geskied. God laat vaar nie die werke van sy hande nie. Hy het ‘n eindplan van geregtigheid vir hierdie wêreld. Dit sluit ook in dat Hy as die groot Regter finaal uitspraak sal gee. Dit sal volmaakte en regverdige regspleging wees waarin ook die diepste bedoelings en verborge motiewe van almal se harte (Romeine 2:16) beoordeel sal word. Nie volgens skewe menslike standaarde nie, maar volgens die eise van God se geregtigheid. Van hierdie oordeel sal geen aardse gladdebek advokaat ons kan vrywaar nie, dis slegs diegene wat die REDDENDE GENADE van God deelagtig geword het in Christus Jesus wat dan finaal vrygespreek sal word. Anders gestel, net diegene van ons wat nou reeds in geloof ons hoop op die gekruisigde en opgestane Jesus Christus as ons persoonlike advokaat gestel het, sal ons verdiende skuldigbevinding en ewige straf vryspring. Daarvoor sal God se kinders Hom tot in alle ewigheid loof en prys!

In God se Woord vind ons 'n gebaande weg met duidelike merke, vaste grense en 'n heerlike eindbestemming!

Vrydag 08 November 2013

NIE NET IN SIRIË NIE...

- maar ook in ons eie woonplekke en werkplekke is daar ‘n verwoestende gebrek aan vrede.

Vrede is seker een van die skaarste artikels wat daar is. So skaars soos wors in ‘n hondestal. Niemand kan hierteen stry nie. Die afwesigheid van vrede is sigbaar elke dag. Nie net op die TV nie, maar juis ook in ons sitkamers, klaskamers, slaapkamers...