BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Mormone. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Mormone. Wys alle plasings

Maandag 02 April 2012

DIE ENGELE STAAN OP HULLE TONE

- wat maak hulle so opgewonde?

Engele! ’n Fassinerende onderwerp vir baie mense. Daar word boeke oor hulle geskryf! Hoe lyk hulle, wat doen hulle, wat is vir hulle belangrik? In 1 Petrus 1:10-12 (lees asseblief) word op ‘n terloopse wyse tog ’n baie insiggewende opmerking oor die engele gemaak. (Natuurlik vind ons nie hier ’n volledige inligtingsbrosjure oor engele nie) Wat wel duidelik is : Die engele het ’n besondere belangstelling! Daar is ’n saak wat hulle geweldig interesseer. Soveel so dat hulle as’t ware vooroorbuig* uit die hemel om dit beter te kan sien. Die engele kyk eintlik so oor die skouers van die gelowiges om te sien wat in die gemeente gebeur.**

Wat is dit wat hulle belangstelling gaande maak? Wel, dit moet iets buitengewoon heerlik wees. Ons moet tog besef, die engele woon in die hemel, in volmaakte toestande. Hulle aanskou die heerlikheid van God. Wat op hierdie aarde kan dan nou so heerlik en fassinerend wees dat hulle as’t ware op hulle tone staan en hulleself inspan om dit te sien? Ons kry die antwoord hier in 1 Petrus.

Kom ons probeer net die strekking van die argument hier in 1 Petrus verstaan. Petrus wil Christene wat baie swaarkry bemoedig in hulle geloof. Hy vertel hulle eintlik : “Julle het rede om bly te wees ten spyte van die ergste verdrukking, want onthou hierdie verdrukking suiwer julle geloof. En deur sulke gesuiwerde kosbare geloof kry julle deel aan die saligheid. Dis mos die einddoel van julle geloof.” (vers 9)

Dit gaan hier oor ’n basiese volgorde : lyding nou; heerlikheid eendag! Die heerlikheid van eendag vul ons egter nou reeds met blydskap omdat dit ’n werklikheid is.


Oor hierdie saligheid, (verlossingsplan) het die profete (van die Ou Testament) al ondersoek gedoen en nagevors. Wat het hulle bevind?

Lyding speel ‘n sentrale rol! ( vers 11 - “die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna” - OAV) Hoe raak dit ons? Die patroon en volgorde van ons lewens as Jesus se volgelinge volg die patroon van sy lewe! Ons moet ook maar bereid wees om die paadjie te loop wat Hy geloop het!

Jesus moés eers deur lyding gaan.

Daar was vir Jesus geen keuse nie. Hy moes sy werk deur middel van lyding voltooi. Natuurlik was dit nie die maklikste pad nie. Trouens, dit het angs by Hom gewek. Dink aan sy ernstige gebed : “laat hierdie beker by my verbygaan!” Ook vir Jesus se eie dissipels was hierdie pad van lyding wat Hy moes loop onaanvaarbaar. Dink maar net aan Petrus se protes nadat Jesus sy naderende lyding aangekondig het . “Mag God dit verhoed!” En hoe Jesus hom moes bestraf : “Gaan weg agter my Satan!” (Matt 16:22,23).

Die profete van die Ou Testament het reeds lank tevore hierdie pad van lyding vir die Messias voorspel. Op verskeie plekke. So vind ons dit in die Psalms. (Ps 69:9; 22:1-21.) Jesus se bekende woorde aan die kruis : “My God, My God waarom het U my verlaat?”, kom uit Psalm 22:2. Ook in die geskiedkundige dele van die Ou Testament vind ons alreeds die onderliggende tema van lyding van die Messias... Dawid se lyding onder Saul is ’n voorafskaduwing van die onskuldige gesalfde van God se lyding onder die goddelose. Die profete se eie lewens was ook ’n toonbeeld van hierdie lyding. Hulle moes ly as gevolg van hulle getroue verkondiging van God se Woord. Dink aan Jeremia wat in die put gegooi is. Die hele Ou Testamentiese offersisteem het heengewys na die Lam van God wat geslag sou word vir die sondes van die wêreld. Jesus se plaasvervangende lyding word seker op die mees direkste wyse vir ons in die Knegliedere van Jesaja uitgespel! (Kyk weer na Jesaja 53)

Die hele Ou Testament verwag egter ook heerlikheid. Die ontplooiing van die die verlossingsgeskiedenis is daarop gerig en stuur daarop af. Dink maar net aan die beloftes van die herstelde tempel, al die nasies wat toestroom na die Here, die nuwe hemel en nuwe aarde. Dit kom daarop neer dat Eden herstel sal word. Die finale heerlikheid is God wat regeer, op sy plek oor sy mense in volmaakte harmonie! ***

Al hierdie heerlike waarhede is vooraf deur die profete aangekondig. Hoe het hulle dit alles geweet?

Die Gees van Christus, dit wil sê die Heilige Gees was reeds werksaam in die Ou Testamentiese profete!

Dis ’n uiters belangrike stelling! (vgl. 2 Petrus 1:21) Christus was van altyd af daar! Hy was ook teenwoordig in die tyd van die Ou Testament - nie net as aangekondigde Messias nie, maar ook deur sy Gees! Jesus is nie net die Een van wie die Ou Testamentiese profete gepraat het nie, Hy is ook die Een wat deur sy Gees, reeds deur die Ou Testamentiese profete praat!

Die profete het van hierdie geheimenisse gepraat sonder dat hulleself of hulle hoorders die volle omvang en heerlikheid daarvan besef en beleef het. Die volle heerlikheid was verborge vir hulle oë. Die groot saak wat Petrus sy lesers wil laat verstaan is dat sy lesers - die Christene, (ons!) die groot erfgename van die profete se boodskap is. (Vers 12 OAV -“vir ons die dinge bedien”) Ons aan wie die evangelie verkondig is pluk die volle vrugte van die genade waaroor hulle geprofeteer het. Die apostels wat aan ons die evangelie gebring het, het dit gebring deur die Heilige Gees. (12) Dis eintlik die Heilige Gees wat die evangelie aan ons verkondig al gebruik Hy mense as instrumente. Die Gees van Christus (Heilige Gees) doen dus ’n wonderlike werk. Hy verseker eintlik die kontinuïteit tussen die Ou en Nuwe bedeling. Dieselfde Heilige Gees wat die profete van ouds geïnspireer het, bekragtig ook die verkondigers van die evangelie. Hy werk nou in ons!!!

Eers met die koms van Christus na die wêreld het al hierdie dinge wat geprofeteer is, ’n heerlike werklikheid geword. Dit kom daarop neer : Die geringste volgeling van Jesus is dus in ’n gunstiger posisie as selfs die grootste profeet in die Ou Testament! Ons is, nou na die koms van Christus, en sy kruis en opstanding in ’n baie beter situasie om die Ou Testamentiese openbaring te verstaan as die grootste Ou Testamentiese profeet! Maar dis nog nie al nie sê Petrus in effek : “Julle wat ly en swaarkry is, is selfs ook meer bevoorreg as die engele!" Hierdie ontplooiing van God se ontsagwekkende verlossingsplan is so heerlik dat selfs die engele in die hemel hulle inspan om te sien hoe word dit hier op aarde voltrek!

Die engele se begeerte gaan nie oor blote nuuskierigheid nie, maar hulle word gedryf deur ’n verlange om die vervulling van God se heerlike verlossingsplan te aanskou.

Om terug te kom na die engele. Hierdie gedeelte soos reeds gesê wil nie ons kennis oor engele aanvul nie. Die reaksie van die engele word genoem sodat ons beter kan begryp hoe groot en heerlik God se verlossingsplan is. Ons moet besef hoe bevoorreg ons is wat in die genade van hierdie verlossingsplan kan deel. Dit maak ons kortstondige lyding nie net draaglik nie, maar selfs ’n saak van blydskap!

Maar kan ons nog iets oor die engele sê? Seker, heelwat, maar ek wil net een kwessie uitlig.


Pasop vir ‘n misplaaste belangstelling in engele.

Hoekom sê ek dit? Net kortliks: Paulus waarsku dat ons nie mislei moet word deur mense wat hulle met engele en visioene bemoei nie. (Kolossense 2:18) Ons moet vashou aan die Hoof, naamlik Christus. Ja, daar is engele, maar hulle is nie ons middelaars of verlossers nie. Jesus alleen is ons Verlosser-Middelaar. Ook as die Hebreërskrywer van engele praat en hulle “geeste in diens van God” noem, is sy punt juis om ons te laat verstaan dat Jesus baie heerliker is as die engele! Geen engel sit aan die regterhand van God nie, net Jesus!(Hebreërs 2:13,14) Inderdaad sou engele vandag nog aan mense kon verskyn, maar ons moet baie versigtig wees. Engele mag nooit ons bron van lering of dogma word nie! Paulus is hieroor baie uitgesproke in Galasiërs 1:8 “Al sou ons of ’n engel uit die hemel julle ’n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ’n vervloeking wees!” Die evangelie van Jesus is vir eens en altyd opgeteken in God se onfeilbare Woord! As enige hedendaagse predikant, priester, profeet of engel ’n boodskap bring wat van die Bybelse waarhede verskil moet ons dit as valse lering afkomstig van Satan verwerp! En inderdaad, vermom Satan homself as ’n engel van die lig om mense te mislei. (2 Korintiërs 11:14) Mense dink dan dis ’n engel wat met hulle praat, maar dis al die tyd ’n demoon! ’n Klassieke voorbeeld van sulke vernietigende misleiding, is die Mormone se aanspraak dat ’n engel, genaamd Moroni met Joseph Smith gepraat het en aan hom die basis van hulle geloof oorgedra het. Dis ’n valse leer, want die Mormoonse geloof bots duidelik met God se Woord!

God stuur en gebruik sy engele soos Hy wil. Nêrens word ons egter aangemoedig om kontak met engele te soek of hulle op enige manier te leer ken of te vereer nie. Nee, ons fokus moet op ons heerlike verlossing en spesifiek op ons aanbiddingswaardige Verlosser, Jesus Christus wees! God se wens vir ons in hierdie verband, word so mooi verwoord in 2 Petrus 3:18 as hy waarsku dat ons nie moet toelaat dat ons van ons standvastigheid beroof word nie : “Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem (groei) in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.”

Mag dit waar word van my en jou!

* Die letterlike betekenis van die Griekse woord, parakuptoo is “vooroorbuig” (om beter te kan sien)

** PHR van Houwelingen : 1 Petrus - Rondzendbrief uit Babylon. Daar is ook gebruik gemaak van Edmund P. Clowny : The Message of 1 Peter

*** Sien ook op hierdie Blog, LUGFOTO VAN DIE BYBEL (3 dele)


Vrydag 06 Januarie 2012

AMERIKAANSE PRESIDENTSVERKIESING

- die oordele van God?

Dis ontstellend om te verneem dat twee van die aspirant kandidate van die Republikeinse party vir die presidentsverkiesing later vanjaar tot die Mormoonse sekte behoort. Een van hulle, Mitt Romney het waarskynlik die beste kans om aangewys te word as die kandidaat wat teen die huidige president Obama sal staan. (Die ander Mormoon in die wedloop is Jon Huntsman) Die Mormone is hoegenaamd nie ’n Christelike kerk nie, maar ’n bisarre kultus gegrond op verregaande misleiding. Dit het ontstaan in 1830 vanuit die belaglike bewerings van Joseph Smith wat daarop aanspraak gemaak het dat ’n engel, Moroni vir hom gewys het waar ’n boek geskryf op goue plate op die Cumorra heuwel begrawe sou wees. Smith het hierdie geskrifte kwansuis vertaal as die Boek van Mormon wat vir hulle die bron van gesag naas die Bybel geword het. Die Mormone se leerstellings is bitter ver verwyderd van die historiese Christelike kerk. Hulle ontken die Drie-eenheid en ook dat God gees is. (Vgl. Joh 4:24) Hulle beweer : “The Father has a body of flesh and bones as tangible as man’s.” Hulle leer ook dat daar baie gode is en dat die gode eers mense was, maar ook dat mense weer gode kan word!

Nou wonder mens met verbystering, waarom (veronderstelde) intelligente mense soos Amerikaanse aanspraakmakers op die presidentskap sulke twak kan glo en so mislei kan wees? Hoe is dit moontlik dat in ’n land soos Amerika met sy baie kerke en lang Christelike geskiedenis ’n situasie kan ontstaan, waar ’n Mormoon dalk president kan word? Die antwoord (of dan ten minste deel daarvan) vind mens in 2 Tessalonisense 2:9-12 waar Paulus die opkoms en bedeling van die Antichris beskryf. Hierdie beskrywing is waarskynlik ook tiperend van elke vervalle samelewing.

Ek wil net kortliks op drie aspekte wys :

1. Daar sal gruwelike misleiding plaasvind. (Mense word om die bos gelei deur magsvertoon en vals wonders)

2. Die rede vir die misleiding is omdat hulle die waarheid nie liefgehad het en wou aanvaar nie.



Maar die groot verrassing is die derde element wat ons in vers 11 kry!

3. “Dit is ook waarom God hulle aan die mag van dwaling oorgee, sodat hulle die leuen sal glo”

God straf mense wat sy waarheid (Sy Woord ) verwerp deur hulle oor te gee aan dwaling! Dis soortgelyk aan wat in Romeine 1 vanaf vers 18 beklemtoon word. (Sien verse 24, 26 en 28! God gee mense oor aan allerhande perverse gedrag omdat hulle Hom nie as God eer en dank nie.) Wanneer ’n persoon, maar ook ’n samelewing of volk, die Woord van die waarheid verwerp, word hy/hulle ’n voorwerp van God se toorn en een manier hoe Hy hierdie oordele voltrek is om hulle in dwaling te laat verval! God self maak hulle blind en dom, om onsin te glo!


Ten diepste is dit God wat leiers aanstel of ontslaan. Wanneer Hy toelaat dat misleide leiers die botoon voer, is dit die gevolg van ’n samelewing of volk wat hulle rug op God en sy Woord gedraai het. Is dit nie maar presies wat ook met die Afrikanervolk gebeur het nie? Ek vra maar net...