BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Antichris. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Antichris. Wys alle plasings

Saterdag 26 November 2022

Die Antichris loer vir jou..

 - Ja, baie beslis deur jou televisieskerm en slimfoon... maar dikwels ook in sinodesale en vanaf kansels!

[Ly jy aan Antichris-angs, eindtyd-verskrikking of laaste dae-luiheid? Lees hier oor die Antichris en hoe om sy aanslag te oorleef!]



Paulus gee uiters belangrike en aktuele inligting oor die Antichris en die wederkoms in 
2 Tessalonisense 2:1-12 … (lees dit deur asseblief)  Die belangrike vraag is wat is sy doel met hierdie inligting? En spesifiek die inligting wat hy hier in hoofstuk 2 gee?  Sy doel sou logies ook die kernboodskap vir ons wees. So waarom skryf Paulus oor hierdie dinge?


Paulus het reeds in hfst. 1 aandag gegee aan die feit van die wederkoms. Daar gaan dit oor bemoediging  en  versterking vir die kinders van God wat verdruk word.  (1:6-10) As Jesus kom sal die bordjies verhang word en die verdrukkers van God se kinders sal hulle straf ontvang en God se getroue kinders sal in heerlikheid ingaan!



Hier in hfst. 2 is sy doel anders.  

Dit gaan daaroor om  Christene wat hulle kop verloor het en paniekerig geraak het deur allerhande bespiegelings oor die wederkoms, te kalmeer en praktiese leiding vir hulle te gee oor hoe hulle moes optree in die lig van die naderende koms van Jesus. 


Daar was mense wat angstig geraak het oor die nabyheid van die wederkoms en hulle is so meegevoer deur die dinge wat hulle gehoor het dat sommige gereken het, hulle hoef nie meer met hulle normale dagtaak aan te gaan nie. Hulle het so histeries en onordelik te kere gegaan dat party nie eens wou werk nie. (3:11) Hulle het passief geraak en hulle normale verpligtinge as Christene verwaarloos. Paulus wil nou weer vir hulle 'n nugtere perspektief gee.

 Mens kon Paulus se boodskap oor die wederkoms in  2 Tess so saamvat : die doel van hfst 1 is standvastigheid in lyding en swaarkry, die doel van hfst 2 is standvastigheid in die doen van goeie werke en normale lewenstake soos om jou brood te verdien. (John Piper)  

Maar so terloops kom ‘n uiters belangrike saak ter sprake soos ons verder sal sien...

AFVAL EN DIE ANTICHRIS

So hoe kalmeer Paulus nou hierdie beangste en histeriese Christene?  Paulus gee detail inligting oor twee sake: die afval (apostasia) en die mens van wetteloosheid. Twee aspekte  is ook opvallend. Hy gee baie detail oor die afval en die mens van sonde. Een of twee sinne sou mos genoeg wees?  Dink net, al hierdie detail om net op die ou end daarmee te sê, gaan rustig aan met julle normale take, want die wederkoms is nog nie hier nie. Aan die anderkant, tsv die detail is daar ‘n klomp onbeantwoorde vrae : 

Wat presies is die afval? 

Wie presies is die mens van wetteloosheid?  

Watter tempel van God is hier ter sprake? 

Wat is dit wat die koms van die mens van wetteloosheid verhinder/terughou? 

Dit lyk asof Paulus in sy tyd detail lering aan die Christene in Tessalonika gegee het oor hierdie sake en hulle nou net weer wil herinner. Maar ons wat nie daar was nie, ons  ken nie al die feite nie! Ons kan aflei dat die mens van wetteloosheid die Antichris is, maar wat betref dit wat hom  terughou is daar net raaiskote byv. die werking van die Heilige Gees, die invloed van die kerk, die Romeinse regstelsel (wat 'n teenwig was teen absolute chaos en anargie) of dalk die regstelsel in die algemeen.  Ons weet nie en dit lyk asof God dit in sy wysheid so bepaal het.... juis sodat ons nie dalk allerhande berekenings moet maak nie. 

Met ons beperkings in gedagte, kom ons kyk spesifiek na die twee hoofsake : die rebellie (afval) en die mens van wetteloosheid


Die afvalligheid. Dis nie die die "normale afvalligheid" of dwalings wat mens maar oral deur die geskiedenis in die kerk gekry het nie. Dit behels iets ongekend, buitengewoon boos en sigbaar opvallend! ‘n Ongekende direkte rebellie teen God en sy wette! Dit herinner sterk aan Jesus se woorde in Matteus 24:10-12.




Mens van wetteloosheid.  Net so 'n paar feite oor hierdie persoon, die Antichris. Dis ‘n mens, nie ‘n demoon of 'n "alien" van 'n ander planeet nie.  Hy is in sy wese wetteloos en sal aan geen wet of wetgewer onderworpe wees nie. Hy sal absoluut arrogant wees en maak soos hy wil. Aangesien net Een naamlik God bo alle wette is, volg dit logies dat hierdie persoon homself as God sal beskou – hy sal alle instellings, reëls en wette verander soos hy wil! Hy word genoem die seun van verderf – hy is dus gebore en bestem tot vernietiging en sal dus nooit tot bekering en verlossing kom nie. Opvallend – hierdie term word ook vir Judas Iskariot gebruik (Joh 17:12) – Judas was eintlik sy voorloper – soos Judas is daar vir hom geen hoop nie, net die ewige verdoemenis wat vir hom wag! 


Veral belangrik. Die krag van Satan sal op ‘n besondere manier deur hom werk – hy is ‘n spesiale Gesant van die duiwel. (2:9) 




Dit stel hom instaat tot bedrieglike tekens en wonders! Dis die groot gevaar : Mense gaan val vir hom omdat hy buitengewone goed sal doen! Hy sal regtige wonders doen, maar dit sal nie van God kom nie. Dis waarteen God al sy mense in Deut 13:1-3 gewaarsku het. Juis as gevolg van hierdie superkrag sal hy ‘n buitengewone vermoë hê om mense te mislei. (10) Hy sal ongeregtigheid – dit wat verkeerd is, as groot plesier en vooruitgang aan mense opdis en bemark! 


Weereens is daar groot ooreenkomste tuusen Paulus se lering hier en die woord van Jesus - Matteus 24:23-24.




Aan die einde van hierdie vreeslike tyd van wetteloosheid en misleiding sal Jesus skielik kom!


Waar die Antichris letterlik gaan verskyn is nie so belangrik nie... Jerusalem, Rome, Brussels of New York? (Die term "die tempel van God" het verskeie betekenismoontlikhede - dalk gaan hy buitengewone invloed binne die sigbare kerk uitoefen?) Luister dus maar fyn vir sy stem in kerkvergaderings en selfs van die preekstoel... Onthou dis opmerklik dat hy alle Goddelike ordes en instellings en waardes sal omkeer...





Die groot afvalligheid en die werking van die Antichris gaan saam.  Dis reeds besig om te gebeur (dit was al in Paulus se tyd 'n faktor) – die skeppingsorde van die huwelik, die basiese waarheid dat God die mens as man en vrou geskape het, die basiese waarheid dat daar ‘n onderskeid tussen God en mens is, onderskeid  tussen waarheid en leuen... al hierdie fundamentele waarhede word al hoe meer openlik bespot en geminag... Maak net oop jou oë!


Belangrike vraag : Waarom fokus Paulus op die groot afval en die mens van wetteloosheid net om daarna weer te sê gaan aan met julle lewe as Christene? 


PASOP VIR MISLEIDING


Die groot gevaar is misleiding! Om te val vir die plesier van ongeregtigheid en wetteloosheid. Vers 12 ("hulle vind behae in ongeregtigheid") En dis presies wat gebeur – mense hou van “songs” en sepies wat sonde uitbeeld! Dis so lekker om na sonde te luister en te kyk!  Die vermaaklikheidswêreld is die groot vanghok en slagyster van die Antichris. Dit maak ons sag vir sonde.... dit klink nie meer so erg nie...


Wat is die oplossing? Hoe kan ons beskerm word teen afvalligheid en misleiding? Mense gaan val vir die leuens van die Antichris, omdat hulle nie lief is vir die waarheid nie. Meer nog - oorlewering aan die Antichris se misleiding is eintlik God se straf vir mense wat nie wil erns maak met sy Woord nie!  Die oplossing en antwoord vir ons in hierdie deurmekaar tye is dus om lief te word vir die waarheid – lief te word vir die Woord, ja vir Jesus self wat die waarheid is! As jou sepies vir jou kosbaarder is as die Sondag erediens is jy klaar ‘n sucker vir die Antichris al sit jy allerhande vroom boodskappies op jou slimfoon!


Die Antichris is nie net daar ver nie, hy probeer jou kop swaai, jou hart wen en jou lewe steel - binne in jou eie huis!

Wat is die kernboodskap van Paulus aan ons? Gaan rustig, gelowig en gehoorsaam aan met julle lewens en moenie angstig en onstabiel raak weens allerhande gerugte nie – doen julle normale dagtake met heiligheid en integriteit soos dit by God se kinders hoort en hou by die waarheid van die Woord! Dan sal julle nie moislei word nie en gereed wees vir die wederkoms!  Vind jou vreugde in die doen van geregtigheid en nie in die sonde nie. Dan sal julle nie ‘n prooi van die Antichris word nie!

Dinsdag 01 Augustus 2017

AANDAG VIR DIE ANTICHRIS

- Hoe oorleef ek in ‘n tyd van massale afvalligheid?


KIES DIE WAARHEID BO WONDERS!

Ons leef in ‘n tyd van massale afvalligheid en afgryslike dwaling. Dwarsdeur die wêreld, maar helaas ook in ons eie land en kerk is daar al groter getalle mense wat basiese waarhede en waardes verwerp. Basiese waarhede soos wie Jesus is, sy uniekheid as enigste Middelaar, sy plaasvervangende kruisdood en sy liggaamlike opstanding word betwyfel en bevraagteken, selfs ook op ons teologiese fakulteite. Fundamentele etiese norme soos wat ‘n huwelik is word daagliks ondergrawe, nie slegs deur internasionale drukgroepe nie, maar in ons eie kerklike vergaderings...

Dit alles dui daarop dat as die Antichris kom gaan die groot meerderheid van mense hom aanhang en volg. (Ook die meerderheid van mense wat ons kerke vol sit!) Eintlik wys dit dat vele alreeds voor die Antichris se propaganda geswig het, want die Bybel leer natuurlik dat daar nou reeds baie antichriste is. “Kinders, dit is die laaste uur. Julle het gehoor dat daar ‘n antichris kom; en daar is nou reeds baie antichriste. Daaruit weet ons dat dit die laaste uur is.” (1 Johannes 2:18) Elke geslag lewer sy kwota antichriste op en hulle verblind en verlei die massas. Dit is nie iets wat nog kom nie, dit gebeur reeds elke dag voor ons oë! Die kernstrategie is misleiding. (Christene wat dink die Antichris, gaan sê : “Hi ouens, ek is die Antichris, kom hier dat ek vir julle ‘n 666 tjap op die voorkop kan gee,” is baie naïef en gaan beslis onkant gevang word!) 

Hoekom het die finale Antichris en ook al sy voorlopers so ‘n groot aantrekkingskrag? Waarom val so vele vir die valse “christusse” van elke era in die geskiedenis? Wat maak mense kwesbaar en vatbaar vir hierdie misleiding?

Ons kry hier in 2 Tessalonisense 2:9-12, drie belangrike hoofredes waarom mense soos vlieë agter vrot vleis agter die Antichris sal aanswerm. Paulus verwys hier na die Antichris as die “wettelose mens” of “mens van sonde”.(OAV) Vergelyk ook 2 Tessalonisense 2:3. “Laat niemand julle op watter manier ook al mislei nie. Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die laaste afvalligheid gekom het en die wettelose mens wat vir die verderf bestem is, sy verskyning gemaak het nie.”

EERSTE REDE. Die Antichris se koms sal gepaard gaan met sigbare en opwindende vertoon - ongelooflike wonders! “Deur die werking van die Satan sal die verskyning van die wettelose gepaard gaan met groot magsvertoon en allerhande vals tekens en wonders.” (9) En dis juis wat mense gaan vang, want die goddelose mens wil graag sien en voel en ‘n ervaring hê! Dit staan reëlreguit teenoor die pad van geloof wat God uitgestippel het vir sy kinders. Paulus stel dit so in 2 Korintiërs 5:7 : “want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.” Die Antichris gaan mense dus maklik aan die hoek kry met die aanloklike aas van oorweldigende magsvertoon en “showbusiness”. Hy sal beslis gebruik maak van meesleurende reklame foefies, massamedia beïnvloeding, oortuigende retoriek en indrukwekkende wonderwerke. Die maklik verleibare massas sal verstom en verbyster word deur die valse wonders wat die Antichris se opgang sal ondersteun. Volgens Openbaring sal die valse profeet hierin ‘n groot rol speel. Die vals profeet as simbool van alle anti-waarheidsgodsdiens se bonatuurlike mag om wonders te doen sal miljoene mislei. Openbaring 13:13,14 stel dit so : “Hy doen groot tekens, sodat hy selfs vuur van die hemel af op die aarde laat kom vir die mense om te sien. Aan hom is daar mag gegee om wondertekens namens die dier te doen, waardeur hy die bewoners van die aarde mislei.” (Vals profete soos TB Joshua het reeds bewys hoe maklik massas met hulle vals wonders mislei kan word.) Alle wonders is nie Goddelike wonders nie! (Dink aan die Egiptiese towenaars wat ook water in bloed kon verander en hulle kieries slange laat word het!) Alle bonatuurlike dade het nie ‘n suiwer bron nie. Ja, daar is ware egte wonderwerke, spesifiek die wonders wat Jesus en sy apostels gedoen het, om Jesus se Godheid te demonstreer en om die evangelie in sy kinderskoene dae te sanksioneer. En natuurlik is God die Almagtige vir wie niks onmoontlik is nie, vandag nog in staat om wonders te doen soos en wanneer Hy wil! God vereis egter nou van ons om te glo sonder om te sien. Jesus se woorde aan Tomas is vol betekenis : “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” Ons moet deeglik daarvan kennis neem dat die Satan en sy agente konsentreer op wonders, want hulle ken die mens se hart. Die mens wil graag sien, wil graag vermaak word, wil graag wonders hê om sy eie lewe maklik en gerieflik te maak. Alle mense hou van wonders en sensasie, ook die mees goddelose rebel. Daarom sal die Antichris dit met groot welslae gebruik. Wees maar eerlik - as ons sou afkondig dat hier volgende Sondag definitief vuur uit die hemel sal kom, sal man en muis hier wees. Maar as ek vandag vir julle sê dat ek volgende Sondag die heerlike evangelie van genade in Jesus sal verkondig...dan is daar maar min belangstelling! Mense soek opwinding en vermaak - die Antichris sal dit in oormaat verskaf en hulle met ‘n slap riem vang!

TWEEDE REDE. Mense val vir die valsheid van die Antichris omdat hulle die waarheid nie liefhet en aanvaar nie! “...met gruwelike misleiding van dié wat verlore gaan, omdat hulle nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie.” (10)

Die “waarheid” is die waarheid van God, wat Hy geopenbaar het, naamlik die evangelie van Jesus Christus. Hierdie evangelie kom na ons deur die Woordverkondiging wat ons hoor en so word saligmakende geloof in ons gewek. Die mens wat nie erns maak met die Woord en doelbewus die evangelie aanvaar nie, is ‘n oop teiken vir die Antichris. Daarom sal selfs baie kerklidmate deur die Antichris en sy leringe meegesleur word, aangesien hulle nog nooit redding deur die evangelie gevind het nie. Ja, dis selfs moontlik dat die sogenaamde kenners van die eindtye deur die einste Antichris oor wie hulle so fluks spekuleer, geflous gaan word, want hulle het hulleself nog nooit aan die Waarheid (Jesus) onderwerp nie! Inderdaad, wemel dit in sommige kringe van beweerde en gewaande wonders, terwyl die waarheid onder hulle so skaars soos sonskyn in ‘n Arktiese winter is!

Gaan ek en jy veilig wees teen die Antichris? Die beste beskerming teen die leuen is om die waarheid baie goed te ken. Daarom ook Paulus se vermaning net ‘n entjie verder in vers 15. “Wees dan standvastig, broers, en hou vas aan die leer wat ons aan julle oorgedra het, of dit deur ons prediking of deur ‘n brief was.” Hou vas aan die apostoliese waarheid, die waarheid wat ons vandag in die Nuwe Testament het!

Dink bietjie. Hoe word mense opgelei om valse banknote uit te ken? Daar word nie gekonsentreer op voorbeelde van vals note nie - die vervalsers maak in elk geval altyd nuwe uitvindings, nee, die beste beveiliging is om die kenmerke en eienskappe van die egte note baie goed te bestudeer! Dan sal jy als wat daarvan afwyk, gou kan opmerk. Hoe beter ek die evangelie ken en die boodskap daarvan my eie maak, hoe minder kwesbaar sal ek wees vir die wolhaarwonders van die Antichris. Hoe meer ek die VOLHEID in Jesus ontdek (die genoegsaamheid van sy sterwe én lewe), hoe minder sal ek val vir die valsheid van die Antichris en sy trawante.

Daar is ook ‘n DERDE REDE waarom soveel mense vir die Antichris sal val. Dit hou direk verband met hierdie tweede rede, waarna ons nou net gekyk het. “Dit is ook waarom God hulle aan die mag van dwaling sal oorgee, sodat hulle die leuen sal glo.” (11) Om die waarheid van die evangelie te verwerp het skrikwekkende gevolge. God self word jou vyand en Hy bring jou onder die oordeel. Hoe doen Hy dit? Hy gee jou oor aan die mag van die dwaling. Het jy al gewonder hoe dit moontlik is dat selfs intelligente mense deur dwaalleraars aan hulle neuse rondgelei kan word? (Dink maar hoe mense val vir die Israelvisie, Hebrew Roots Movement, allerlei New Age propaganda truuks...) Hier is die antwoord. Wie God se Woord van waarheid verwerp en die ongeregtigheid verkies word as’t ware deur God self aan die Bose se mag oorhandig. Die straf oor sonde is nog erger sonde. Ons kry dieselfde gedagte in Romeine 1:28. “En omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings...” Dis asof God sê : “Julle het my waarheid doelbewus verwerp, daarom is dit julle straf om die leuen te glo en so julle eie lot te verseël!”

Verwerp die Waarheid en God sal jou verwerp! 

Maar positief : Ons kan veilig wees teen die aantreklike verleiding van die Antichris! Hoe? 

Vat die Woord en volhard daarin! Dis hoe God jou sal bewaar!

Kies die Waarheid bo wonders! Die Waarheid is die Woord, die Waarheid is die evangelie, die Waarheid is Jesus self. (Joh 14:6) Diegene wat by Hom skuil is veilig!


Jy hoef nie te wonder of die briljante en omstrede Macron dalk die Antichris is nie... Jy moet wel seker maak dat jy die Waarheid ken en tot jou redding aanvaar het!

En ten slotte! Ons hoef nie een van die kastige "soekers na die waarheid" te wees nie. Die Waarheid is naby en by ons, dis Jesus self soos Hy Homself in die Woord deur die werking van die Heilige Gees openbaar! Kliek op SOEKERS




Sondag 04 November 2012

WONDERWERKE OF WAARHEID?

- wees gewapen teen die Antichris.

As die Antichris kom gaan die groot meerderheid van mense hom aanhang en volg. (Ook die meerderheid van mense wat ons kerke vol sit!) Die Bybel leer natuurlik ook dat daar nou reeds baie antichriste is.  (1 Johannes 2:18)  Elke geslag lewer sy kwota antichriste op en hulle verblind en verlei die massas. Ook nou in ons dag op hierdie oomblik! Hoekom het die finale Antichris en ook al sy voorlopers so ‘n groot aantrekkingkrag? Waarom val so vele vir die valse “christusse”?

Ons kry hier in 2 Tessalonisense 2:9-12, twee belangrike hoofredes waarom mense soos vlieë agter die Antichris sal aanswerm. Paulus verwys hier na die Antichris as die “wettelose mens” of “mens van sonde”.(OAV) Sien 2 Tessalonisense  2:3.

Kom ons kyk na die redes:

EERSTE REDE. Die Antichris se koms sal gepaard gaan met sigbare en opwindende vertoon - ongelooflike wonders! En dis juis wat mense gaan vang, want die goddelose mens wil graag sien en voel en ‘n ervaring hê! Dit staan reëlreguit teenoor die pad van geloof wat God uitgestippel het vir sy kinders. Paulus stel dit so  in 2 Korintiërs 5:7 : “want ons lewe deur geloof,  nie deur sien nie.”  Die Antichris gaan mense dus maklik aan die hoek kry met die aanloklike aas van oorweldigende magsvertoon en “showbusiness”.  Hy sal beslis gebruik maak van meesleurende  reklame foefies, massamedia beïnvloeding, oortuigende retoriek en indrukwekkende wonderwerke.  Die maklik verleibare massas sal verstom en verbyster word deur die valse wonders wat die Antichris se opgang sal ondersteun. Volgens Openbaring sal die valse profeet hierin ‘n groot rol speel.  Die vals profeet as simbool van alle antiwaarheidsgodsdiens se bonatuurlike mag om wonders te doen sal miljoene mislei. Openbaring 13:13,14 stel dit so : “Hy doen groot tekens, sodat hy selfs vuur van die hemal af op die aarde laat kom vir die mense om te sien. Aan hom is daar mag gegee om wondertekens namens die dier te doen, waardeur hy die bewoners van die aarde mislei.”  Alle wonders is nie Goddelike wonders nie!  Alle bonatuurlike dade het nie ‘n suiwer bron nie. Ja, daar is ware egte wonderwerke, spesifiek die wonders wat Jesus en sy apostels gedoen het, om Jesus se Godheid te demonstreer en om die evangelie in sy kinderskoene dae te sanksioneer. En natuurlik  is God die almagtige vir wie niks onmoontlik is nie, vandag nog! God vereis egter nou van ons om te glo sonder om te sien. Jesus se woorde aan Tomas is vol betekenis : “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”  Ons moet deeglik daarvan kennis neem dat die Satan en sy agente konsentreer op wonders, want hulle ken die mens se hart. Die mens wil graag sien, wil graag vermaak word, wil graag wonders hê om sy eie lewe maklik en gerieflik  te maak. Alle mense hou van wonders en sensasie, ook die mees goddelose rebel. Daarom sal die Antichris dit met groot welslae gebruik. Wees maar eerlik - as ons sou afkondig dat hier volgende Sondag defnitief vuur uit die hemel sal kom, sal almal op Tsumeb hier wees. Maar as ek vandag vir julle sê dat ek volgende Sondag die heerlike evangelie van genade in Jesus sal verkondig...dan is daar maar min belangstelling! Mense soek opwinding en vermaak - die Antichris sal dit in oormaat verskaf en hulle met ‘n slap riem vang!

TWEEDE REDE. Mense val vir die valsheid van die Antichris omdat hulle die waarheid nie liefhet en aanvaar nie! (10)  Die “waarheid” is die waarheid van God, wat Hy geopenbaar het,  naamlik die evangelie van Jesus Christus.  Hierdie evangelie kom na ons deur die Woordverkondiging wat ons hoor en so word saligmakende geloof in ons gewek. Die mens wat nie erns maak met die Woord en doelbewus die evangelie aanvaar nie, is ‘n oop teiken vir die Antichris. Daarom sal  selfs baie kerklidmate deur die Antichris en sy leringe meegesleur word, aangesien hulle nog nooit redding deur die evangelie gevind het nie. Ja, dis selfs moontlik dat die sogenaamde kenners van die eindtye deur die einste Antichris oor wie hulle so fluks spekuleer,  geflous gaan word, want hulle het hulleself nog nooit aan die Waarheid (Jesus) onderwerp nie! 

Inderdaad, wemel dit in sommige kringe van beweerde en gewaande wonders, terwyl die waarheid onder hulle so skaars soos sonskyn in ‘n Arktiese winter is!

Gaan ek en jy veilig wees teen die Antichris? Die beste beskerming teen die leuen is om die waarheid baie goed te ken. Hoe word mense opgelei om valse banknote uit te ken? Daar word nie gekonsentreer op voorbeelde van vals note nie - die vervalsers maak in elk geval altyd nuwe planne en uitvindings, nee, die beste beveiliging is om die kenmerke en eienskappe van die egte note baie goed te bestudeer! Dan sal jy als wat daarvan afwyk, gou kan opmerk. Hoe beter ek die evangelie ken en die boodskap daarvan my eie maak, hoe minder kwesbaar sal ek wees vir die wolhaarwonders van die Antichris. Hoe meer ek die volheid in Jesus ontdek, hoe minder sal ek val vir die valsheid en leegheid van die Antichris en sy trawante.

Eintlik is hier ‘n DERDE REDE  waarom soveel mense vir die Antichris sal val. Dit hou direk verband met hierdie tweede rede, waarna ons nou net gekyk het. Ons vind dit in vers 11. “Dit is ook waarom God hulle aan die mag van dwaling sal oorgee, sodat hulle die leuen sal glo.” Om die waarheid van die evangelie te verwerp het skrikwekkende gevolge. God self word jou vyand en Hy bring jou onder die oordeel. Hoe doen Hy dit? Hy gee jou oor aan die mag van die dwaling. Het jy al gewonder hoe dit moontlik is dat selfs intellegente mense deur dwaalleraars aan hulle neuse rondgelei kan word? Hier is die antwoord. Wie God se Woord van waarheid verwerp en die ongeregtigheid verkies word as’t ware deur God self aan die Bose se mag oorhandig. Die straf oor sonde is nog erger sonde. Ons kry dieselfde gedagte in Romeine 1:28. “En omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings...”  Dis asof God sê : “Julle het my waarheid doelbewus verwerp, daarom is dit julle straf om die leuen te glo en so julle eie lot te verseël!”

Verwerp die Waarheid en God sal jou verwerp!

Maar positief : Ons kan veilig wees teen die aantreklike verleiding van die Antichris! Hoe? Vat die Woord en volhard daarin! Dis hoe God jou sal bewaar! 

Kies die Waarheid bo wonders! 

Die Waarheid is die Woord, die Waarheid is die evangelie, die Waarheid is Jesus self. (Johannes 14:6)

Saterdag 01 September 2012

MERK VAN DIE DIER

- belangrike les van die Ses Ses Ses!

“Het jy gehoor wat gaan hulle in Amerika doen? Die merk van die dier, presies soos die Bybel voorspel het... Dit wys net die einde is nou naby...” 

Die merk van die dier (sien Openbaring 13 :11-18) is seker een van die sake in die laaste boek van die Bybel  wat  die meeste aandag kry en tot die grootste spekulasies lei. Dit  kan ook  onnodige vrese tot gevolg hê in die sin dat party Christene dink dat hulle dalk hulle verlossing sou kon verloor as hulle moontlik nie hierdie gedeelte reg interpreteer en verstaan wat die merk van die dier is en dit betyds weier nie. (Net onlangs het daar weer ‘n e-pos met wilde bewerings in hierdie verband die rondte gedoen, wat ontsteltenis en vrae by mense ontlok het)

Kom ons verstaan net weer twee belangrike beginsels van interpretasie :

~ Openbaring is in die eerste plek geskryf vir sy eerste lesers, om hulle te vertroos en te bemoedig in hulle verdrukking. Dit was veronderstel dat hulle hierdie boek sou verstaan, insluitend die betekenis van  die merk van die dier. Vers 18 skep die indruk dat die verstaan van hierdie simbool nie baie probleme vir die eerste Christene sou inhou nie..
~ Openbaring is ook geskryf vir alle Christene deur alle eeue en nie net vir ons in ons tyd van rekenaars en bankkaarte nie. Kinders van God wat vyf honderd jaar gelede geleef het, sou 'n boodskap kry uit die "merk van die dier", maar daar is ook 'n belangrike les vir elke kind van God, vandag, nou!

Die merk van die dier staan teenoor die merk wat God se kinders ontvang. (sien Openbaring14:1) Niemand veronderstel  dat dit beteken dat God se kinders ’n letterlike merk op hulle voorkoppe kry nie. Dit simboliseer sekerheid van die verlossing, gewaarborg deur God, wat ons deur die geloof in Jesus ontvang. Elkeen wat hierdie verlossing deelagtig word, word “gemerk” en kan nie sommer wegraak en verlore gaan nie.  Die Nuwe Testament leer ons dat ons deur die inwoning van die Heilige Gees verseël word. (In ’n sin kan ons sê  dat God ons deur sy Gees merk as sy eiendom - vgl Efesiërs 1:13)

Dis gevaarlik en jammer dat party mense so die klem op die merk van die dier plaas - “solank ons dit net nie kry nie, is ons veilig”, in plaas van positief seker maak : “Het ek al die Here se merk ontvang?”  (Met ander woorde die belangrkste saak om van seker te maak is of ek deel in die wedergeboorte wat God aan ons skenk)

Baie mense bring vandag die merk van die dier met ’n rekenaarskyfie onder die vel in verband en die gevaar is dat mense kan dink solank ons net nie daardie skyfie kry nie is ons saligheid verseker. Terwyl die hele Openbaring die klem laat val op ons verlossing deur die bloed van die Lam.  Die dringende vraag wat ons vandag aan mense moet vra, is nie of jy ’n mikroskyfie onder jou vel het nie, maar of jy weet dat jy gered is deur die bloed van die Lam?

666

Hoe moet die simboliese getal van die trippel ses verstaan word? Ons moet dit verstaan teen die agtergrond van die destydse gebruik van gematria, ’n sisteem waarvolgens elke letter van die alfabet ook ’n getalwaarde gehad het. Dit was gebruik onder die Jode sowel as die Grieke en Romeine. In die welbekende stad Pompeji is daar grafitti gevind wat lees “Ek bemin haar wie se naam 545 is”* As die Griekse woorde “Keiser Nero”, die wrede vervolger van Christene,  in Hebreeus getranskribeer word en dan opgetel word, lewer dit die totaal van 666. Dus is dit baie waarskynlik dat hierdie getal oorspronklik aan Nero gekoppel is en dat die eerste lesers van Openbaring dit so verstaan het. Maar, die getal 666 moet waarskynlik  ook wyer simbolies gesien word as die bose menslike aanslag teen God. Die Goddelike getal van volmaaktheid is  777. Die 666 kan dit nie bereik nie. Die drie bose agente: draak, valse profeet, antichris skiet tekort by God. Die destydse wrede Nero was ’n voorloper, ‘n beeld van alle antichriste en ook die finale laaste Antichris, wie hy of wat sy sisteem ook al sal wees. Dit gee vir ons insig oor hoe die finale Antichris optree.  Goddeloos en wreed. Om met getalle te probeer uitwerk wie die persoon is, lei net tot groot spekulasie. Daar was al ’n verbysterende groot getal kandidate - so het sommige beweer dat die voormalige Amerikaanse president Ronald Wilson  Reagan die antichris was. (Elkeen van die drie name het ses letters!) Die probleem is, elkeen gebruik ’n interpretasie sisteem soos dit hom pas! Die bedoeling van 666  is dus nie om vir ons te sê presies wie die Antichris is nie, maar hoe hy te werk sal gaan.

Antichris

Wat ons wel moet weet : Die Satan voer ’n hewige stryd teen God en sy mense. Hy gebruik die Antichris en die vals profeet as sy bondgenote om namens hom oorlog te voer. (Weereens die tema van konflik wat so algemeen in die Openbaring boek voorkom)**. Die eerste dier is ’n parodie van Christus - ons kan ook sê ’n na-aper van Christus. Hy is byvoorbeeld ook dodelik gewond, maar genees, dus ‘n na-aping van die opstanding van Jesus. (13:3) Die valse profeet (valse wêreld godsdienste)  probeer mense oortuig om hierdie dier (Antichris) te aanbid.  Hy sal Hom voordoen as ’n alternatiewe Verlosser! Dit klink ook baie soos die keiserkultus van destyds. Die teenstanders van God, die antichriste en die finale Antichris gebruik alle mag van misleiding en selfs ook ekonomiese stelsels om hulle stryd te voer! Kan ’n bose staatsbestel eendag ’n kontantlose stelsel misbruik om totale beheer uit te oefen en mense in die proses  verplig om rekenaarskyfies te dra? Ja, dit sou kon gebeur! Dit bly egter ’n vraag of ons Openbaring se simbole so letterlik moet opvat, want as ons sê dat elke mens letterlik ’n 666 gaan kry, dan beteken dit dat elkeen presies dieselfde getal sal kry en dit gaan nie werk vir doelwitte van identifikasie nie!

Wat van nou?

Gesien vanuit die geheelboodskap van Openbaring en die kontras tussen die Here se merk en die merk van die dier, is die boodskap vir ons uit hierdie gedeelte NOU dat ons getrou moet bly aan die Here en alle ongeloof en onreinheid moet vermy! Anders gesê, ons moet nie meedoen aan die bose sisteme van hierdie wêreld nie (merk op die hand), ons moet ook nie dink soos die bose wêreld nie (merk op die voorkop). 

Moenie doen en dink soos die sondige wêreld nie!

Wie weier om mee te doen aan goddeloosheid en bedrog, wie weier om te redeneer soos hierdie goddelose wêreld sal nou reeds op hierdie oomblik vind dat hy vervolg, uitgesluit en skade aangedoen sal word! Lyding ter wille van Christus is nou reeds vir God se kinders ’n alledaagse werklikheid! (Die Christen besigheidsman wat nie omkoopgeld wil betaal om kontrakte te kry nie, ly finansiële skade ter wille van sy geloof! Die Christen skoolmeisie wat weier om deel te neem aan trompoppies en weens haar standpunt uitgestoot word uit die vriendekring... dis voorbeelde van Christene wat ly omdat hulle nie die merk van die dier wil dra nie!)

Die sentrale tydlose boodskap van die Merk van die Dier is dus : 

Vermy alle kompromieë met sonde en dwaling!

Dis wat so hartseer is : Terwyl Christene stry oor presies wat die merk van die dier sou kon wees, besoedel hulle hulleself met hierdie einste merk, deur kompromie met sonde, wêreldliefde en valse leringe!

Ons moet ons nie laat vang deur mense en sisteme wat Christus na-aap nie!  Pasop veral ook vir “ander evangelies” - al word hulle deur sogenaamde  “wonders” bevestig! (Dink hier aan die Prosperity Gospel, die Hebrew Roots Movement, Word of Faith Movement... en natuurlik alle teologie wat die liggaamlik historiese opstanding van Jesus uit die dood bevraagteken)  Pasop vir die betowerings van die Vals Profeet, in watter vorm ook al!  Valse profete is instaat tot subtiele propaganda en wondertekens! (Maak seker jy lees Openb 13:11,13!) Iemand wat op buitengewone wonders aanspraak maak, is nie noodwendig ‘n leraar van die waarheid nie! Moet geen ander evangelie aanvaar as dié wat deur die apostels aan ons in die Bybel oorgelewer is nie. (Vgl. Galasiërs  1:8)  As ons in heilige gehoorsaamheid aan die Here leef sal ons dan in elk geval ook weet hoe om op te tree in ’n toekomstige kontantlose samelewing, wat dit ook al mag inhou!

Die kind van God het dus niks om te vrees nie, ons hoef ook nie bang te wees dat ons dalk per ongeluk een of ander verdoemende merk sal kry nie. Ons moet net getrou bly aan die evangelie boodskap en in kompromislose heiligheid lewe!

* Vir hierdie feit en ander gedagtes erkenning aan Du Rand, Die A-Z van Openbaring.
** Sien reeks : MAAK OOP BY OPENBARING