BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Onse Vader. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Onse Vader. Wys alle plasings

Dinsdag 22 Februarie 2022

DIE EEN GROOT HAAKPLEK

- wat keer dat jy vergifnis en vrede beleef!

Die grootste ontdekking wat ‘n sondaar kan maak is die ontdekking van vergifnis! Dis die heerlike boodskap van Psalm 130. Dit bevry jou uit die diep put van moedeloosheid, selfverwyt, depressie en desperaatheid… ja, dit bevry jou van die angste van die hel. Anders gesê, almal wat in die hemelse Koninkryk sal ingaan, het een gemeenskaplike deler – dis almal wat vergifnis ontvang het! Toegang tot die Koninkryk hou direk verband met genade en dis deur genade dat ons vergifnis ontvang!

Tog lyk dit asof die geskenk van vergifnis party mense net ontwyk. Die lig van vergifnis wil net nie deurbreek nie. Miskien sê jy – "ek het my sonde voor God bely, Ek vertrou op Jesus, ek het Hom aanvaar, ek stel nie meer my hoop in myself nie, maar alleen op die verdienste van sy kruisdood… en tog, ek het nie vrede nie, ek sukkel om te beleef dat ek vergewe is…" Wat is fout?

In Matteus 6:14 en 15 kom daar ‘n baie belangrike uitspraak uit die mond van die Here Jesus. 




 Dis ‘n baie direkte skokkende uitspraak. En dis nie die enigste plek waar Jesus ons vergifnis wat ons by God kry, koppel aan die vergifnis wat ons aan ander mense moet gee nie. “En wanneer julle staan en bid – as julle iets teen iemand het, vergeef hom, sodat julle Vader in die hemele julle ook julle oortredings kan vergeef.” Markus 11:25

Hierdie uitspraak oor vergifnis in Matteus, volg soos ons gesien het op die Onse Vader gebed. Volgens die verklaarder Van Bruggen gaan dit oor meer as net ‘n voetnoot op die een bede. Dit sluit aan by die Onse Vader gebed as geheel. In die Onse Vader gaan dit soos in die res van die Bergrede oor die groot saak van INGANG TOT DIE KONINKRYK VAN GOD! Om in die koninkryk in te gaan het ons genade nodig. Dis die enigste pad na die koninkryk. Genade, wat natuurlik die ontvangs van vergifnis behels. As ons wat bid om in die koninkryk te mag ingaan, hardvogtig en sonder genade is, dan kanselleer ons as’t ware ons eie gebed. As ons genade en vergifnis aan ander weier sal dit ook aan ons geweier word. 


Dis eintlik ‘n bevestiging van wat Jesus reeds in die inleiding tot die Bergrede geleer het. “Gelukkig is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid ontvang.” (5:7) Sien jy, ook hier is ‘n duidelike verwantskap tussen die barmhartigheid wat ons aan ander gee en die barmhartigheid wat ons van God ontvang! Anders gestel - Wat jy weet dat jy van God nodig het, betoon dit ook aan ander mense!* Iemand wat nie barmhartigheid bewys nie sê dus maar net ek het self dit ook nie nodig nie, met ander woorde ek hoef nie in Jesus te glo nie. Onbarmhartiges is dus by implikasie mense wat nie in Jesus glo nie en daarom verlore is! Barmhartigheid is ‘n bewys dat ek barmhartigheid ontvang het, en dat ek dus in Jesus glo. 



Martyn Lloyd-Jones  sê dit so :“What makes me merciful is the grace of God. But the grace of God does make me merciful. So it comes to this: if I am not merciful there is only one explanation, I myself have never understood the grace and mercy of God; I am outside Christ; I am yet in my sins , and I am unforgiven” Skrikwekkende woorde, maar so waar!






Gaan jy erns maak om ander te vergewe? Die groot beswaar is mos : “Ek kan nie, want ek voel nie so nie!” Ons moet duidelik verstaan – vergifnis is nie ’n gevoel nie, maar ’n besluit in gehoorsaamheid aan God se opdrag. As ek waarlik my eie sonde voor God besef, as ek besef ek verdien nie vergifnis nie, maar God gee dit vir my uit genade omdat Jesus met sy lewe betaal het, omdat Jesus my straf aan die kruis gedra het... as ek weet dat ek absoluut afhanklik is van God se genade en vergifnis – dan kan en sal ek besluit om ander te vergewe. Dis nie ’n gevoel nie, maar ’n besluit/keuse om niks meer teen die ander persoon te hou nie. Dis ’n besluit wat ek aan die voet van die kruis neem, wetende dat ekself ook nie God se genade verdien nie! In elk geval die sondes waarvoor God my vergewe is baie kleiner en minder as die sonde wat die ander persoon teen my gepleeg het.

As ek vergifnis aan ander weier dan wys dit eintlik maar net dat ek nog nie ’n eerlike skuldbesef het van die grootheid en aakligheid van my eie sonde nie. As ek aanhou om wraakgedagtes te koester dan kan ek hoegenaamd nie die Onse Vader bid nie, want dan wys dit maar net dat my eie eer en ego belangriker is as die heiligheid en eer van GOD se Naam! Met onvergewensgesindheid kan ek nie opreg bid : “Laat U Naam geheilig word.” nie! 


 My bitterheid belemmer my gebed as geheel.



Laat die bitterheid in jou lewe vervang word deur – Bedink, Berou, Besef, Bely en Besluit!

Bedink dus eers die erns van jou eie sonde. Hoe groot is my sonde! Ek het al tien van God se gebooie op een of ander manier oortree. Ek het God nie so lief soos ek moet nie, ek het my medemens nie so lief soos myself nie. Mag God jou dan berou skenk, ware berou soos die van Dawid en Petrus... wat mens laat uitroep om genade!

Besef dat jou enigste hoop lê in die vergifnis wat jy van God ontvang, omdat Jesus vir jou gesterf het toe jy nog ‘n sondaar was.

Bely jou sonde en bring dit na Jesus. En vertrou volkome dat Sy sterwe ’n genoegsame offer was daarvoor.

Besluit om dan die vergifnis wat jy van God nodig het, ook aan ander te skenk – maak nie saak wat jou eie gevoelens is nie! Dit gaan oor gehoorsaamheid en nie gevoel nie!


Saterdag 01 Augustus 2020

JI PACKER


EN DIE AANNEMING TOT KINDERS

[JI Packer (1926-2020) is verlede maand oorlede. Hy was ‘n behoudende Anglikaanse teoloog en kampvegter vir die waarheid*. Sy bekendste werk is seker sy blitsverkoper, Knowing God. Ek deel hieronder enkele gedagtes uit die boek oor die heerlike onderwerp van aanneming tot kinders.]

Het jy besef? God neem verloste sondaars aan as sy eie kinders!

 

 “Want julle het nie ontvang 'n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;"  (Romeine 8:15,16)

Die vraag “Wat is ‘n Christen?” kan op baie maniere beantwoord word. Die rykste antwoord is : ‘n Christen is iemand wat God as sy eie Vader het.  

Net terloops, nie alle mense is kinders van God in hierdie sin nie. Inteendeel Paulus stel dit duidelik dat ons almal, voor ons redding deur Jesus, kinders van die toorn was. Met ander woorde ons het onder God se oordeel en raak gestaan.  “…en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.” (Efesiërs 2:3) 

Die aanneming tot kinders is ‘n uitsonderlike stuk genade en  die grootste voorreg wat die evangelie ons bring. 

Ja, daar is ook ander voorregte. Soos vryspraak. Ons ken die betekenis….Regverdiging, vryspraak (justification) is ‘n forensiese saak.  Dit gaan oor die wet en oor God as regter. In die vryspraak spreek God ons vry van al ons skuld via ons geloof in Jesus op grond van sy volmaakte skuldoffer en boetedoening aan die kruis. Dit beteken , ek wat glo staan onskuldig, strafloos voor God omdat Jesus my straf gedra het. Dis heerlik.  Genadig! 

Aanneming tot kinders gaan egter nog verder. Dis ‘n familiesaak. Hier gaan dit nie oor die wet nie, maar oor liefde, nie oor God as Regter nie, maar oor God as Vader. Die aanneming tot kinders behels dat God ons in sy eie huisgesin opneem, ons word aangeneem as sy kinders en hanteer as sy erfgename! “Jy is dus nie meer ‘n slaaf nie; jy is nou ‘n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.” (Galasiërs 4:7) 


Ons hele praktiese Christelike lewe word beheer deur hierdie wonderlike waarheidsfeit. Ek is ‘n kind van God. Ons gaan spesifiek kyk hoe dit in die bergrede uitgespel word in praktiese terme. God se familiekode.

 Kom ons kyk na drie praktiese terreine in ons lewens waar die besef dat God ons Vader is ‘n reuse verskil sal maak:

1. Hierdie feit van kindskap bepaal my gedrag en lewenswandel.

 

Op 3 maniere beïnvloed ons kindskap van die Vader ons gedrag:

 

As kinders is ons nabootsers van die Vader. Jesus leer -"Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerddoen.” (Matt 5:44,45) As kinders moet ons die karaktereienskappe van die Vader vertoon . Terloops, as ons vol van vrees is, as ons dronk word, as ons te lui is om op ‘n Sondag na die Vader se woorde te kom luister... wat vertel dit vir die wêreld van ons Vader? Gaan iemand God eer omdat jy dronk word?

As kinders moet ons die Vader se naam eer aan doen. Anders gestel ons moet Hom verheerlik. As mense na ons gedrag kyk, moet hulle sê : “Kyk watse goeie Pa het hy!”  Hoor Jesus se woorde -  “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik." (Matt 5:16)  Word ander mense na God toe getrek deur jou voorbeeld en gedrag. Of stoot jy hulle weg van God en die evangelie? 

As kinders moet dit ons begeerte wees om ons Vader gelukkig te maak. Dink bietjie mooi – Is jou Hemelse Vader gelukkig ... met jou gedagtes, met jou grappe langs die braaivleisvuur, hoe jy jou geld of tyd bestee? As ons goeie dinge doen moet ons nie na mense se goedkeuring soek nie, maar die Vader se goedkeuring in gedagte hou. Sy beloning is wat tel! "Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.” 6:1 Die implikasie is dat wat God van ons dade dink, dis wat saakmaak! 

2. Hierdie feit van kindskap is die basis van my gebedslewe. 


Ons vrymoedige gebedslewe berus op die voorreg dat ons God ons Vader kan noem. Dis die spesiale voorreg van God se kinders in die Nuwe Verbond om God as Vader aan te spreek as ons bid. Dink maar aan die “Onse Vader” gebed wat Jesus sy dissipels geleer het. (Dit was nie so in die Ou Verbond nie!) Die Vader is altyd toeganklik vir sy kinders. Hy weet wat ons nodig het en wil die beste vir ons gee. Dit impliseer natuurlik nie dat ons altyd kry wat ons wil hê nie, want ons vra dinge wat nie altyd die beste is nie. (Weens onkunde, selfsug, sondige begeertes ens.) En tog, kind van God kan jy seker weet dat die Vader net jou beste belange op die hart dra! Jy hoef nooit daaraan te twyfel nie! “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?” (Matteus 7:11) 

3. Hierdie feit van kindskap bepaal my geloofsvertroue op God om in al my behoeftes te voorsien.


Ons hemelse Vader is ‘n omvattende versorger soos enige goeie Pa, net baie meer. Jesus verseker ons -"Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” (Matteus 6:31-33) 


Miskien moet elkeen van ons weer opnuut gaan dink : Is ek ‘n kind van God deur my vertroue op Jesus en sy offer? As ek daarvan seker is wat is die heerlike implikasies dat ek die Almagtige en liefdevolle God, my eie Vader kan noem? 





*In 2002 toe die sinode van die Anglikaanse diosees van New Westminster in Vancouver goedgekeur het dat sy biskop selfdegeslagverbintenisse mag seën, was Packer een van die sinodegangers wat in protes uitgestap het. Sy rede vir hierdie drastiese optrede was soos volg : 

“Because this decision, taken in its context, falsifies the gospel of Christ, abandons the authority of Scripture, jeopardizes the salvation of fellow human beings, and betrays the church in its God-appointed role as the bastion and bulwark of divine truth.”



 


Vrydag 11 Mei 2012

'N GEES KAN NIE 'N GRAAF OPTEL NIE, 'N SIEL KAN NIE SPIT NIE...

- God is nie net besorg oor ons siele nie, maar oor ons hele menswees!

Dit help om te bid! Oor alles!  Gebed maak ‘n verskil! Dis ‘n seker feit,  want Jesus het mos reeds in Matteus 6:6 duidelik gesê : “Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” Opregte Godgewilde gebed lewer resultate! Maar hoe lyk sulke gebed wat volgens God se bedoeling en wil is?  Om mee te begin : Dis nie nodig  om God met ‘n stortvloed van woorde te probeer dwing nie. (7,8) Dit gaan dus nie oor ‘n gebedstruuk of spesiale gebedsresep nie. 

Wat is ware gebed dan? Kyk gerus maar weer na die bekende Matteus 6:5-15.  Die Onse Vader wat Jesus self vir sy dissipels geleer het is die model waarop alle ware gebed geskoei is. (Ons hoef dus nie altyd net hierdie presiese woorde te bid nie, maar die fokus sal dieselfde wees) Verlede keer het ons na die eerste drie bedes gekyk. Die boodskap daaruit is baie duidelik : Ware gebed plaas die fokus op God. As ek werklik bid op die manier wat God wil hê ek moet bid, maak ek ‘n U draai. Ek skuif van die ek na die U! Ek veg nie meer vir my naam, my koninkryk (belange) en my wil nie, maar vir God ....  

Hieruit is dit duidelik, die groot meerderheid gebede sneuwel nog voordat ons begin bid het. 

Ons gaan mos na ons kamers met ‘n inkopielys wat draai om “I, me and myself.” Deur ons selfsugtige gebede verklaar ons eintlik : Here ek gee nie om of ek U eer nie, ek gee nie om wat gebeur met U kerk en U koninkryk nie, ek gee nie om of ek U wil gehoorsaam nie, maar asseblief Here, ek is so belangrik, ek het meer geld nodig, ek het ‘n beter man of vrou nodig, ek het soeter kinders nodig...ek, ek, ek,...” Weet julle en dan is ons nog vermetel genoeg om die Here te verwyt dat Hy nie gou genoeg spring en ons wenslys waar toor nie!

Ons moet dus altyd die boodskap van die eerste drie bedes onthou, as ons vir ons  behoeftes bid! Ja, jy het reg gehoor! 

Ons mag inderdaad ook vir ons eie behoeftes bid. 

Hierdie hele gebed kom mos uit Jesus se mond. 

Net eers oorsigtelik. Wat leer die laaste drie bedes vir ons?
~ Hierdie bedes is net bedoel vir mense wat hulle beywer vir  God se Naam, koninkryk en wil. Dis nie ‘n blanko tjek vir almal nie. Dis slegs  vir mense wat ‘n passie het vir God se eer. Slegs vir mense wat oppad is na die koninkryk.  Slegs vir mense wat ‘n verlange het om self volgens God se wil te leef. Die Onse Vader is dus in ‘n sin ‘n reisgebed op ons pad  na God se Koninkryk!
~ Terwyl ons so oppad is het Hy ons die voorreg gegee om sekere dinge van Hom te vra.  Hoekom? Ons as kinders van God het ook  bepaalde behoeftes en nood. Ons het fisiese versorging, voortdurende vergifnis en beskerming teen die bose elke dag nodig!. Vir hierdie dinge mag ons dus met vrymoedigheid vra. Hierdie gebed leer ons dus indirek, ook om ‘n realistiese verwagting te hê oor die tyd waarin ons ons nou bevind.  Ons kan verwag dat ons hierdie dinge nodig sal hê. Dis nie vreemd dat kinders van God,  hierdie behoeftes het nie. Wat ‘n wonderlike troos! Jesus skryf hierdie gebed voor omdat Sy Vader bewus is van ons omstandighede op die pad - ons behoeftes, nood, swakheid, gevare waarmee ons te kampe het... “Julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra” (8)
~ Hierdie bedes is ‘n aanduiding van die Vader se besorgdheid oor ons hele lewe. God is nie net ‘n God van die siel nie. Hy is ‘n Vader wat oor die totale welstand van sy kinders besorg is. Al sy kinders s’n. 
~ Daar is geen plek vir selfsug in hierdie gebed nie. Let op : “Ons”.  Ware gebed bring ons by ‘n dubbele bekering : van ek na U, maar ook van my  na ons!

Kom ons kyk (baie kortliks) na die drie behoeftes waarvoor ons aangemoedig word om te bid:
  • Daaglikse brood.  As mense wat kinders van die koninkryk is, het ons nog steeds liggaamlike behoeftes. God weet dit. Ons is mense van vlees en bloed en ons Vader wil nie net in ons geestelike behoeftes voorsien nie, maar ook in tydelike en liggaamlike nood!  Ook ons liggame is belangrik. Ons weet mos  ‘n gees kan nie ‘n graaf optel nie! En by wyse van spreke : dis dikwels nodig in ons beywering vir die Koninkryk om ‘n graaf op te tel en te spit. Om fisies dinge te doen, om te leef en te werk as mense.   Daarom is dit so heerlik om te hoor dat ons mag bid vir “daaglikse brood” Die presiese vertaling van die woord epiousios ("daaglikse") is onbekend. Ons moet dit  uit die konteks probeer aflei. Die konteks is die voorrang van God se naam, koninkryk en wil. Hierdie brood (behoeftes) is dus nie bedoel om van vet  en  ryk te word nie. Dis nie in diens van die eie ek en die belangrike self nie! Dit gaan oor die praktiese lewensbehoeftes wat ek (ons) as mense nodig het  in ons beywering vir God  se Naam, koninkryk, wil...  “Nodige brood”* sou ook ‘n moontlike vertaling kon wees. Soos God vir sy volk voorsien het (deur manna), wat hulle nodig gehad het vir hulle reis oppad na Kanaän, so voorsien Hy in ons behoeftes oppad na ons ewige tuiste! En so terloops, ons weet die manna was vir elke dag net genoeg! Dit het daaglikse en voortdurende afhanklikheid van God in die hand gewerk.
  • Vergifnis. As mense van die koninkryk is ons nog steeds feilbaar. Ons kan steeds sondig! Ja, ook ware gemeentes van Jesus bestaan nog steeds uit gebroke mense! Hierdie bede verseker ons weer, daar is iets soos vergifnis! (Ps 130) Ons mag daarvoor vra vir myself en ook vir ander saam met my op die pad! Dit verhinder dat ons moed verloor en tou opgooi langs die pad van die geloof. Dit gee hoop, dit laat ons volhard!
  • Bewaring van die Bose.   As mense van die koninkryk het ons te make met die aanslae en versoekings van die Satan. Dis normaal! Juis omdat ons aan die kant van God en sy koninkryk is, is die Bose ons vyand. Ons kan hom nie met eie krag oorwin nie, maar moet daarvoor bid.  Hoe wonderlik. Ons het nie iets anders as gebed nodig om die Bose te oorwin nie! Nie botteltjies olie om aan ons huise te smeer, voorgeskrewe beswerings of ander bygelowe nie. Net ware Godgesentreerde gebed!


Is jy oppad na Koninkryk! Bid met vrymoedigheid vir al die behoeftes en nood wat ons op hierdie pad ervaar! Bid vir mekaar! 

* La Sainte Bible stel dit so :  “Donne-nous aujourd’hui la nourriture nécessaire”

Vrydag 04 Mei 2012

"U"-DRAAI IN DIE BINNEKAMER

- rewolusie teen die “Eie Ek”

Die Onse Vader is oorbekend, maar ek wil jou uitdaag om weer ‘n slag eerlik hierna te kyk...en meer nog, dit opreg te bid voor die aangesig van God! Dis ‘n stuk Goddelike dinamiet wat alle mensgerigte godsdiens en selfsug aan flarde skiet! Wie dit opreg bid beleef ‘n rewolusie in sy hart, want dit onttroon die “Eie Ek” So maak ek  ‘n opregte oorgawe aan God my Verlosser. Hierdie is nie maar ‘n mooi rympie wat ons denkloos kan voortbabbel nie, dis ‘n lewensveranderde gebed. Dit trek ‘n duidelike streep tussen selfgerigte menslike godsdiens en ware Godgesentreerde aanbidding! Wie dus die Onse Vader opreg kan bid is besig met ware aanbidding. Wie wegskram van die Onse Vader se implikasies beweeg in die rigting van vals aanbidding. Ons gaan nou net stilstaan by die eerste drie bedes (Matteus 6:9,10) en spesifiek by die betekenis en die implikasies van die kort voornaamwoord “U”. 

Dis die fokus: Nie ek nie, maar U! 

Nie my Naam nie, maar U Naam! Nie my koninkryk nie, maar U koninkryk!  Nie meer my wil nie, maar U wil!  Dit kom neer op ‘n “U draai” - weg van mensgesentreerdheid na Godgesentreerdheid! Kom ons kyk na ‘n paar praktiese implikasies:

Die erkenning van die voorrang van Sy Naam, Sy koninkryk, Sy wil. God se Naam, koninkryk en wil kom eerste. Dis die belangrikste! Sien ons die prioritet van God se Naam, m.a.w. sy reputasie  en eer raak? Esegiël 36:20-23 wys hoe belangrik dit vir God is. (lees) Besef ons dat die koms van God se koninkryk belangriker is as enige ander saak, ambisie of projek? God se koninkryk is die wenperd!   Wie sy hoop op iets anders stel gaan verloor. Net God se koninkryk het werklike waarde, alle menslike aspirasies en prestasies gaan verkrummel. (Dink maar aan die beeld wat Nebukadneser in sy droom gesien het) Tel God se koninkryk vir jou meer as jou sportprestasies, rykdom en persoonlike belange? Glo ons dat God se wil die hoogste en volmaakste uitdrukking is van wat goed is?  Net God se wil is perfek. God se wil  en geen mens se opinie nie, ook nie die meerderheid se opinie nie, is die enigste norm in die heelal. Wat die res van die mensdom en sy modes sê dra geen gewig nie! Ware heiligheid word gemeet aan onderwerping aan God se wil. Hiervan is Jesus se gebed in Getsemane die uiterste voorbeeld : “...nogtans nie my wil nie, maar U wil.”

Die prysgawe en afstand doen van my naam, my koninkrykie en my sondige wil. Dit gaan in die Onse Vader oor ‘n  keuse teen myself, en vir God. Vir God se eer, vir God se koninkryk, vir God se wil. Dit sal elke ander  keuse beïnvloed wat ek maak. “Hoe raak dit hierdie ding wat ek wil doen, hierdie vriendskap, hierdie planne... ?” Wie eerlik die Onse Vader bid, ondergaan dus ‘n pynlike bekering, ‘n doodmaak van die self, maar ek beleef juis ook ‘n wonderlike bevryding - ek hoef nie meer angstig te wees oor my naam en reputasie en my eer nie, ek hoef nie meer met hand en tand te veg vir my ou klein koninkrykie (dit kan my gemeente, my plaas, my besigheid, my ego...wees) en sy belange nie, my wil hoef nie te gebeur nie, want God se wil is beter... ja, beter ook vir my, want Hy is ‘n liefdevolle Vader! ‘n Heerlike stuk gemoedsrus, ‘n vind van vrede in die volmaaktheid van God!

Die beskikbaarstelling van myself. My gebede is nie eerlik as ek dit nie self my vir die vervulling daarvan bewyer  nie. Ek moet myself beskikbaar stel vir die heiliging van God se Naam. Hoe? Deur so te leef dat almal sal sien dat God die belangrikste persoon is in my lewe. Deur so op te tree dat mense sal dink en sê : “Wat ‘n wonderlike God dien hy.” My keuses - selfs in klein sake soos kleredrag en ontspanning - moet wys dat God se waardes swaarder vir my weeg as menslike standaarde en opinies. Ek moet myself beskikbaar stel vir die koms van sy koninkryk. Ek onderwerp myself aan sy koningskap, maar moet ook prakties daarvoor werk. Deur getuienis met woorde en dade. Ek moet myself beskikbaar stel vir die bevordering van sy wil. Ek moet vra dat Hy my so deur sy Heilige Gees sal regeer dat ek dit wat God wil hê sal doen en sal liefhê. Dit beteken praktiese gehoorsaamheid aan sy Woord, al bots dit met my wil en gevoelens. “Here, ek voel nie meer lief vir hierdie vrou van my nie, maar ek sal haar liefhê, want dis U opdrag en wil! Here, ek voel nie lus om daardie ou wat my so sleg behandel het te vergewe nie, maar ek sal dit doen, want dit is wat U wil van my vra...”

Dis seker al teen hierdie tyd vir elkeen van ons duidelik. Die sondige mens kan en wil nie uit sy eie uit die Onse Vader bid nie. Ons harte is van nature net ingestel op ons eie belang, eie eer, eie gerief en op ‘n mensgemaakte plesiergerigte godsdiens. (Soos wat Israel rondom die Goue Kalf beoefen het) Hierdie gebed wys ons dus op die noodsaak van die wedergeboorte! Net as ek ‘n nuwe hart met ‘n nuwe visie ontvang het, kan ek my vereenselwig met die Onse Vader en dit opreg bid.

Hierdie eerste drie bedes het ten slotte nog die volgende praktiese nut :

‘n Toets vir die toestand van ons harte. Dis ‘n skeidsregter wat oordeel oor my diepste motiewe terwyl ek met God se dinge besig is. Dit wys uit of ek my al werklik  bekeer het van die afgode (veral die selfgod) tot die lewende God! Dit ontbloot die gruwelikste selfsug wat insluip in ons vroomste woorde en dade!

‘n Teenmiddel teen sondige hoogmoed wat hardnekkig en voortdurend in ons harte wortel skiet.. Elke keer as ek hierdie gebed opreg bid, is dit as’t ware ‘n nuwe bekering, om my opnuut in nederigheid  te onderwerp aan God en word hierdie onkruid uitgetrek.

‘n Troos dat God die dinge waarvoor Hy wil hê dat ons bid definitief sal laatgebeur op die bestemde tyd. God sal hierdie gebed nie onbeantwoord laat nie. Al lyk die wêreld nou hoe goddeloos en chaoties, ons kan rustig weet : God se Naam sal geheilig word. Ja, elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Jesus die Here is! God se Koningsheerskappy sal finaal heerlik sigbaar word en elke vyand sal die onderspit delf  en in die poel van vuur gewerp word. God se wil sal geskied. Elkeen van God se raadsplanne sal tot in die fynste besonderhede tot op die letter toe uitgevoer word en niemand sal dit kan dwarsboom nie.

Calvyn sluit sy bespreking van die eerste drie bedes van die Onse Vader af met ‘n klomp goue waarhede, wat mens tot diep nadenke stem:

"Wanneer ons dit bid, moet ons God se heerlikheid alleen voor oë hou, onsself nie in aanmerking neem of enige voordeel vir onsself in gedagte hê nie. Hoewel daaruit groot voordeel na ons toe kom, moet ons dit nogtans nie hier vra nie. Hoewel al hierdie dinge egter nietemin op die bestemde tyd moet gebeur, ten spyte van ons gedagtes, ons wense en ons gebede, moet ons nogtans daarvoor bid en vra. En dit is vir ons ook van groot belang om so te getuig en te bely dat ons diensknegte en kinders van God is en ons sover dit in ons vermoë is, vir hierdie eer te beywer wat ons aan Hom as ons Here en Vader verskuldig is, en ons waarlik ten volle daaraan oor te gee. Mense wat derhalwe nie met so ‘n gesindheid en met so ‘n ywer ter bevordering van God se heerlikheid bid dat God se Naam geheilig mag word, dat sy koninkryk mag kom en dat sy wil mag geskied nie, moet nie as sy kinders en diensknegte beskou word nie." (Inst.3.20.43)

Kom ons bid die Onse Vader in nederige onderwerping, maar ook met ‘n helder sekerheid en blydskap!