BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Selfbelang. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Selfbelang. Wys alle plasings

Maandag 16 Julie 2018

“SEERGEKRY IN DIE KERK”


- "Ek het nog die Here lief, maar wil niks met die kerk te doen hê nie!"



Dis een van die mees algemeenste opmerkings wat mens hoor as die kerk ter sprake kom. "Die kerk het my teleurgestel, seergemaak, ingedoen… daarom dien ek nou maar die Here op my eie." 


As jy seergekry het in die kerk wil ek jou bemoedig deur sommer dadelik te sê, jy is nie die eerste en enigste een met hierdie hartseer en ongelukkige ervaring nie. Maar ek wil jou ook graag help om nie by hierdie punt te bly vassteek nie. Ek wil by jou pleit om God se wil te soek en te gehoorsaam as dit by die kerk kom. Want God het in sy Woord so baie oor die kerk te sê... Ons lees in 1 Timoteus 3:14,15 die volgende : 

“Ek skryf hierdie dinge aan jou hoewel ek hoop om gou na jou toe te kom. 
Ingeval my koms vertraag word, sal jy dus weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God. Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid.” 

Sommer hier met die eerste oogopslag sien mens twee baie belangrike sake: 

  • Die kerk is God se kerk, sy huisgesin. Dis nie sommer ‘n losse vereniging, klub of "private boomkerk" nie, maar ‘n ordelike gestruktureerde eenheid waar daar ouderlinge en diakens is! (sien die voorafgaande instruksies rakende ouderlinge en diakens in hoofstuk 3) 
  • Die kerk het ‘n onmisbaar belangrike rol : Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid. Saam met ander gelowiges (ook van alle eeue) verstaan ons die waarheid, want nie een enkele individu het die volle waarheid in pag nie.

Kom ons dink bietjie saam oor die onderwerp van die kerk en seerkry en hoor wat die Here in hierdie omstandighede vir sy kinders wil sê. 

Eers gaan ek jou nog verder skok met die volgende stelling: 

Elkeen wat voluit betrokke is by ‘n plaaslike kerk van Jesus Christus gaan een of ander tyd seerkry.*

Natuurlik kan dit baie wissel in intensiteit. Dit kan enigiets wees van geringe teleurstellings en irritasies tot grondige verskille, hewige botsings en gevegte wat diep wonde en letsels veroorsaak. 

Waarom gebeur dit so algemeen dat mense binne ‘n kerkopset verwond word? 

‘n Kerk wat regtig funksioneer is soos ‘n huisgesin of familie. Ons hoor dit weer in wat Paulus hier vir Timoteus sê. Ons beweeg na aan mekaar, ons het inspraak in mekaar se lewens en dis wonderlik, maar hoe nader mense aan mekaar leef hoe groter is die potensiaal dat verskille in wrywing en konflik kan ontaard. Dit klink dalk vir sommige ongevoelig, maar “seerkry” is ‘n risiko wat altyd in ‘n kerk aanwesig sal wees soos dit altyd ‘n risiko in ‘n gewone huisgesin of huwelik is. 

Seerkry is deel van kerkwees, maar hoe moet ons daaroor dink en hoe moet ons dit hanteer? 

Drie perspektiewe kan baie help: 

ONTHOU WIE DIE KERK SE LIDMATE IS. 

Die kerk word met wonderlike metafore beskryf. Behalwe huisgesin word sy onder andere ook genoem die gebou van God (1 Petrus 2:5), die liggaam van Christus (1 Korintiërs 12:12), maar die heerlikste beeld is seker dat die kerk, die bruid is van Jesus Christus, die hemelse Bruidegom! (Openbaring 19:7–8) Al te dikwels voel ons daar is nogal ‘n groot kontras tussen hierdie heerlike beskrywings van die kerk en dit wat ons van dag tot dag ervaar. Hoekom? Die kerk bestaan uit mense! Hoe maklik vergeet ons hierdie ooglopende waarheid. Die sigbare kerk sal daarom altyd ook skynheiliges huisves...

Jesus het 'n kring van twaalf dissipels gehad en een van hulle was 'n duiwel! 'n Volmaakte kerk waarin almal toegewyd en heilig is, is 'n illusie.

Natuurlik is die kerk veronderstel om uit bekeerdes te bestaan. Mense wat genade ontvang het, maar onthou, ook diesulkes is steeds mense wat gebroke is en daarom sondig, beperkte insigte en vermoëns het en gedurig verander. Dit verklaar so baie van die hartseer dinge wat in ‘n kerk gebeur. En moenie vergeet nie, ek en jy wat seergekry het is ook mense, mense met hierdie einste foute en beperkings. Ons moet ook sensitief wees vir ons eie foute en sondes. Die sonde van selfbejammering, die sonde van ‘n onleerbare gees en eiesinnigheid, die sonde van weiering om gesag te aanvaar, die sonde van verbittering en onvergewensgesindheid is nogal algemeen by mense wat seergekry het in die kerk. En partykeer is dit juis hierdie sondes wat aanvanklik tot die seerkry aanleiding gegee het! Sien dit ook maar net raak! Mag dit tog bietjie begrip en genade vir ons medelidmate en kerkleiers by ons opwek! 

ONTHOU WIE DIE KERK SE VYAND IS. 

Die groot vyand van die kerk is nie daardie ou wat jou so irriteer nie, ook nie die man wat Sondae voor jou sit en jou ‘n klomp geld skuld nie. Die vyand van die kerk is die groot aanklaer, leuenaar en mensemoordenaar, Satan! Die duiwel is ook jou groot vyand (nie die ou wat langs jou in die kerkbank sit en van jou geskinder het nie), hy is Jesus se vyand, hy is God se vyand! Die Satan haat God en dis juis op die kerk waar hy sy groot woede uithaal omdat die kerk so kosbaar is vir God en omdat die kerk God se instrument is om die waarheid te bewaar en die wêreld te bereik! Die Satan weet sy doppie is geklink, maar dis juis daarom dat hy alles uithaal om soveel moontlik skade aan te rig aan die bruid van Jesus. Hy weet sy tyd is min.**  Hy gebruik elke vuil en lafhartige taktiek in en buite die boek. 

Pasop dat jy nie vir die verkeerde mense kwaad word nie, die eintlike vyand is die duiwel! Pasop dat jy nie deur te skinder en deur jou bitterheid self ‘n instrument in die hande van die duiwel word nie! Deur die kerk te los en af te kraak bevorder jy die agenda van die duiwel en nie die wil van God nie! 

ONTHOU VERAL WIE DIE KERK SE KONING IS! 

Die kerk is God se huisgesin. Die kerk is Jesus se kerk. Elke plaaslike gemeente, hoe gebroke ook al waar Christus bely word is Jesus se kerk. Sy eiendom wat Hy deur sy bloed gekoop het. Pasop dus maar wat jy van die kerk te vertel het... Jesus is die koning, maar ook die bruidegom van die kerk. Ons toewyding aan die bruid (kerk) sê geweldig baie oor ons toewyding aan die Bruidegom! Hoe waardevoller die Bruidegom vir jou word, hoe waardevoller sal die kerk vir jou wees! 

Natuurlik is dit ‘n hartseer feit dat die bruid dikwels nog vuil en bevlek is en min van die heerlikheid en karakter van die Bruidegom vertoon. Dit moet ons nie laat tou opgooi nie, maar ons juis aanspoor om te bid en te werk vir die genesing, heiligmaking en gereedmaking van die bruid! Jesus sal eendag sy bruid volmaak en vlekkeloos maak. Ja, daardie swartgallige medegelowige wat jou so irriteer sal ook eendag volmaak wees! Onthou dit maar. Daardie irriterende medegelowige is egter nou reeds jou broer of suster aan wie jy liefde moet bewys.. Jesus het vir hulle ook gesterf, ja hulle wat jou nou seergemaak het! Jesus het hom en haar lief!

Deur die kerk te beledig, te vermy, af te kraak of te ignoreer maak jy Jesus seer! 

Ja, jy is dalk heeltemal eerlik as jy sê dat die kerk het jou seergemaak, maar hoor ook hierdie eerlike waarheid – jou houding veroorsaak pyn vir Jesus. Dis ‘n sonde, dis ‘n sonde waarvan jy moet bekeer! Jy is op ‘n gevaarlike pad! Wat jy aan die kerk doen, doen jy aan Jesus! Dit moes Paulus duidelik hoor op pad na Damaskus... 

 “Hy het op die grond neergeval en ‘n stem vir hom hoor sê: "Saul, Saul, waarom vervolg jy My?" "Wie is U, Here?" vra hy toe. "Ek is Jesus," antwoord Hy. "Dit is vir My wat jy vervolg. (Handelinge 9:4,5) 

Paulus het die kerk vervolg, maar Jesus ervaar dit as vervolging van Homself! Nadat Paulus tot bekering gekom het, het hy nie net ‘n liefde vir Jesus gekry nie, maar ook ‘n liefde vir Jesus se kerk. “O, ja maar die kerk was baie goed en suiwer in daardie dae...,” sê jy vir jouself. 

Ekskuus, maar jy maak ‘n fout. Gaan lees maar die Nuwe Testament en let op al die probleme waarmee die gemeentes te kampe gehad het. Die briewe aan hierdie gemeentes is deels juis geskryf om hierdie kwellings aan te spreek: dwaling (Kolossense), wettisisme (Galasiërs), tweespalt, onenigheid, onsedelikheid, wanorde rondom die gawes amp (1&2 Korintiërs), konflik en selfsugtige ambisies (Filippense). Daar sou nog baie voorbeelde genoem kon word...

Juis die onvolmaaktheid van die kerk het aanleiding gegee tot die meeste van die Nuwe Testamentiese geskrifte! 

Los die verskonings en wees gehoorsaam...

Kerklose Christenskap is nie iets wat ons in die Nuwe Testament kry nie...

Nee, jy het geen verskoning nie. Wees lief vir Jesus, wees lief vir sy bruid en liggaam, die kerk en spesifiek die plaaslike kerk waar Hy jou geplaas het! 

Moenie ophou om Jesus lief te hê nie! Dis nie Hy wat jou in die steek gelaat het of seergemaak het nie. Hy het nog nooit enige mens onregverdig behandel nie. Sy liefde vir jou het nog niks verander nie, dis nog net so groot soos die dag toe sy liefde vir jou Hom na die kruis laat stap het! 

Moenie die kerk afskryf en ‘n weersin in kerkwees ontwikkel nie! Die kerk is groter as die bepaalde gemeente waar jy seergekry het, die kerk is die liggaam van Jesus dwarsoor die hele wêreld heen. Die kerk is meer as daardie mense wat jou gekwes het. Jesus se kerk soos reeds gesien, het baie foute. Die gemeente van Laodicea het Hom so ontstel dat dit Hom naar gemaak het (Openbaring 3), maar Hy nooi altyd weer sy kerk om terug te keer na ‘n lewende verhouding met Homself! 

Moenie nalaat om die gemeente se byeenkomste by te woon nie! (Hebreërs 10:2) Dis die Here se opdrag, dis in jou belang, maar dis ook ter wille van jou broers en susters.

Wees positief en lewer ‘n bydrae! Deur gebed en betrokkenheid. Deur te vergewe, verskille uit te praat, deur jou aan gesag te onderwerp, deur in alles die belang van Jesus se bruid te bevorder en nie jou eie begeertes voorop te stel nie!



*  Sien artikel van Kirstin Tabb Ek het ruim van sy insigte gebruik gemaak.

**Openbaring 12



Dit was so lekker toe Christiaan Meyer en Andries Niemann by ons op Tsumeb kom kuier het. Jongmanne wat kinders was tydens ons Antipas dae in Vereeniging. Hier saam met Natanie en Marisja by Tierkloof.

Donderdag 13 September 2012

Die "K-woord"

- wat van die kansel verdwyn het.

[Het die Predikant/Pastoor/Gospelsanger/Christen radiostasie al vir jou vertel dat jy ‘n kruis moet dra as jy Koning Jesus wil volg?] 

Kruisdra. Die ononderhandelbare vereiste vir dissipelskap.  Wat het Jesus self oor hierdie saak te sê in Lukas 9:23-26?  Kom ons luister na die waarheid uit sy eie mond. Mag ons die moed hê om sy woorde onverdund te sluk en te absorbeer.  Laat ons ons daarvan weerhou om die skerpkant van sy uitsprake stomp te vyl met ons rasionele redenasies en verskonings.

Oor die sentrale belangrikheid van hierdie tema kan daar geen twyfel wees nie.  Dis nie maar net ’n terloopse of randuitspraak van ons Heer nie.  Dit word telkemale in die evangelies herhaal ‒ Lukas 14:27, Matteus 10:38&39, 16:24&25, Markus 8:34 en ook Johannes 12:25 (al word die woord “kruis” nie direk hier gebruik nie.)  Jesus se oproep vind ook neerslag in die res van die Nuwe Testament.  Dink maar aan Paulus se uitspraak, “aan Hom gelyk te word in sy dood” (Filippense 3:10) om maar net een voorbeeld te noem.  Oor die wye implikasies en toepassing van die oproep tot kruisdra hoef ons ook nie te wonder nie.  Hy sê dit vir “almal”  (v. 23).  Dit is dus van uiterste belang dat ons sal weet wat hierdie kernbegrip beteken en prakties vir ons inhou.

VOLGELINGSKAP EN KRUISDRA

Dis die twee sleutelbegrippe in hierdie gedeelte.  Hulle is onlosmaaklik aan mekaar verbind.  Kruisdra kan net verstaan word binne die konteks van volgelingskap. 

Jesus se boodskap aan mense was, “Die koninkryk van God het naby gekom.  Bekeer julle en glo die evangelie.”  Die  prakties toegespitste appèl van hierdie prediking tref ons soos ’n refrein in die evangelies, “Volg my”, “Kom agter my aan.”  Jesus roep mense na Homself.  Dink maar aan Simon en Andreas daar langs die meer, ook Jakobus en Johannes, Fillipus, Matteus die tollenaar, die ryk jongman en vele naamlose voorbeelde.  “Volg” soos Jesus dit gebruik is duidelik ’n gelaaide begrip.  Dit behels baie meer as net ’n bietjie saamstap ‒ dit impliseer geloof, vertroue, oorgawe, diens, gehoorsaamheid (“my skape luister na my stem en volg my”).  Jy skaar jou openlik by die een vir wie jy volg.

Jesus roep sy volgelinge op tot ’n beslissende radikale keuse van afstand doen van die prioriteit van vorige verhoudings, lojaliteite, besittings en lewensstyl tot volle vertroue in Hom, ’n konkrete vereenselwiging met Hom, ’n nederige onderwerping aan Hom, ’n bewuste nabootsing van Hom as Meester in leer en lewenswandel.  Om die radikaliteit van volgelingskap, die selfverloëning wat dit vereis en die verreikende implikasies daarvan by sy hoorders tuis te bring, gebruik Jesus die begrip of beeld van kruisdra.

Kruisdra is ’n skerp, veelseggende begrip, wat almal van destyds sou verstaan en aanspreek.  Al Jesus se toehoorders het waarskynlik al gesien hoe ’n ter dood veroordeelde met sy kruis oppad is na die plek van teregstelling.  Veroordeeldes is gedwing om hulle kruise of ten minste die patibulum (dwarsbalk) self te dra.  As jy so iemand sou sien,  weet jy een ding, daardie man is ’n uitgeworpene, oppad na sy dood, sy aardse bestaan het nou ’n einde bereik.  Volgens sommige is dit ook moontlik dat die beeld van kruisdra ’n algemeen bekende metafoor van destyds was wat radikale sosiale isolasie en vernedering aangedui het.

Dis moeilik vir moderne mense om die stigma en skande wat aan die kruis gekoppel is, te verstaan.  Vir die meeste het dit bloot ’n sentimentele simbool geword.  Die kruis as teregstellingsinstrument vir die ergste tipe misdadigers, val in dieselfde kategorie van weersinwekkendheid as die vuurpeloton, galg of elektriese stoel van vandag. 

Belangrik om van kennis te neem: 

Jesus roep sy aspirant aanhangers nie op om bloot ’n kaartjie in te vul, hand op te steek of rympie te prewel nie, maar om hulle kruis op te neem!


TWEE GROOT MISVERSTANDE

Voor ons meer in detail na die betekenis van kruisdra vir ons kyk, moet daar eers twee algemene wanopvattings uit die weg geruim word.  Kruisdra is nie:
• een of ander persoonlike of familiebeproewing nie.  God gebruik inderdaad beproewings in die lewe van  Sy kinders met die oog op hulle heiligmaking en toetsing van hulle geloof.  Beproewings stuur Hy egter soos en wanneer Hy wil.  Dis nooit iets waartoe hy ons oproep nie, Hy bring dit op ons pad soos Hy dit nodig ag.
• algemene ellende of swaarkry nie.  Dis soos baie mense dit verstaan en dit het ook so in ons taalgebruik ingesluip in die uitdrukking, “Elke huis het sy kruis.”  Daar is inderdaad baie ellende , rampe en siekte in die wêreld en God se kinders is nie daarvan gevrywaar nie.  Hierdie ellendes het niks met kruisdra te doen nie, dit tref ons almal, dis nie iets wat ons vrywilig kies nie.

VYF BASIESE ELEMENTE VAN KRUISDRA

In v.23 sê Jesus (omskryf in ons taal van vandag), “As iemand van julle graag onder my aanhangers getel wil word, moet hy vir eens en vir altyd vaarwel sê vir sy eie self en moet hy bewustelik kies vir pyn, skande, ongerief en vervolging ter wille van my en die bevordering van my saak ‒ sonder ophou dag in en dag uit, en so moet hy my dan lojaal volg.”  Vers 23 bring ten minste vyf basiese elemente van kruisdra onder ons aandag:

❏ Kruisdra is vrywillig.  Dis ’n keuse waarvoor Jesus elke belangstellende en voornemende volgeling stel.  “Oorweeg jy dit om my te volg?, wel jy is welkom, neem jou kruis op en kom ...”  Jesus wil jou nie om die bos lei nie, Hy sê eerlik en reguit wat dit gaan kos, wat die gevolge gaan wees van jou verbintenis met Hom.  Bereken eers die koste.  Besluit of Ek dit vir jou werd is om al hierdie veragting, swaarkry en probleme ter wille van My te verduur.  Kruisdra is ’n doelbewuste, vrywillige en berekende keuse. Ek gaan oop oë in hierdie saak in.

❏ Kruisdra is ’n voortdurende aksie.  Vers 23 sê “elke dag.”  Dit behels nie net ’n eenmalige krisis tydens my bekering en dan is dit verby nie.  Dis ’n besluit wat lewenslange konsekwensies het en oor en oor bevestig moet word.

❏ Kruisdra is nie lekker of maklik nie.  Juis omdat dit gaan oor selfverloëning.  Dis  pynlik, want dis ’n doelbewuste keuse teen myself.  ’n Keuse vir Jesus is by implikasie in baie opsigte ’n keuse teen myself.  My ou self se belange sal noodwendig bots met die van my nuwe Meester s’n, aangesien eersgenoemde verdorwe is en lg. volmaak heilig is.  Selfverloëning is ten diepste ’n bekering van die afgodsdiens van selfgesentreerdheid en selfgerigtheid.  Dis makliker gesê as gedaan en daarom is dit ’n halwe waarheid as ons vir mense sê, “O, dis altyd so lekker om ’n Christen te wees.”  Terloops, Jesus het nooit vir iemand gesê , “Volg my, want dit gaan so lekker wees” nie. Inteendeel. (Die wat Jesus inderdaad volg met die gesindheid van selfverloëning, doen dit nie ter wille van byvoordele nie, maar omdat ons oortuig is dat Hy die Seun van God is, ons enigste Middelaar en Hoop).
❏ Kruisdra is ’n ononderhandelbare voorwaarde vir en onontbeerlike bestanddeel van dissipelskap.  Dis nie ’n bykomstigheid nie, maar ’n minimumvereiste.  Hieroor spreek Jesus Homself baie duidelik uit in Lukas 14 :27 “...kan my dissipel nie wees nie.”  Dit kom dus daarop neer dat Jesus geen ware dissipels het wat nie kruisdraers is nie.  Jesus het tydens sy aardse bediening die beginsel van kruisdra onlosmaaklik aan dissipelskap gekoppel, en daar is nog geen omsendbrief van die hemel af gestuur om te sê dat dit nie meer geld nie.  Die vereiste van kruisdra vir alle dissipels beteken noodwendig dat daar nie iets bestaan soos twee “klasse” van Christene nie ‒ A klas dissipels met kruise (sg. Geestelikes) en B klas dissipels sonder kruise (sg. Vleeslikes, wat vir hulleself lewe maar tog mos darem hemel toe sal gaan) nie.  ’n “Dissipel” sonder ’n kruis (sonder selfverloëning) is volgens die Bybel hoegenaamd nie ’n dissipel nie, al noem hy homself een.

❏ Kruisdra is iets wat ek doen ter wille van Christus en verduur as gevolg van Hom.  Prakties beteken dit ek doen doelbewus afstand van my voorkeure, wense, gerief, ambisies en belange in soverre dit in my pad staan om Jesus voluit en onvoorwaardelik te gehoorsaam en te dien. Dit beteken ook dat ek my bereid verklaar en inlaat om die gevolge wat voortvloei vanuit getroue navolging van Jesus te dra en verduur.  Troue navolging van Jesus behels o.a. dat ek my openlik voor mense aan Sy kant sal skaar (v. 26), Hom ten alle tye sal gehoorsaam en Sy wil en belange eerste sal stel.  Watter negatiewe gevolge sal dit vir my inhou?  Veragting van mense, valse aantygings ("hy hou hom heilig, hy dink hy is beter as ons"), sosiale uitsluiting, materiële verliese weens die handhawing van Bybelse beginsels in my besigheid ens.  
Soos die geval met ander Bybelse begrippe word die inhoud van kruisdra verdraai en verwring om by die mens se sondige motiewe te pas.  Let op die volgende verdraaiings wat dikwels voorkom:
• Sommige sien kruisdra as ’n stuk selfkastyding waarmee ek vir my sonde kan betaal en so geregtigheid voor God kan kry.
• Party dink dis ’n manier hoe ons God se arm kan draai om sekere dinge vir ons te doen of
• ’n Manier om my heiligheid aan ander te bewys, aandag te trek of  simpatie te ontlok.
• Dis ook ’n mode om swaarkry ter wille van politieke oortuigings of omstrede standpunte as kruisdra te klassifiseer.  (Volgens die Skrif val net dit wat ek ter wille van Christus en Sy saak verduur onder die opskrif van kruisdra; om 20 jaar of meer vir my politieke beginsels in die tronk te sit kan dalk prysenswaardig wees, maar dis nie kruisdra in die Bybelse sin van die woord nie.)

Onthou : Kruisdra red ons nie, dis wel ons enigste sinvolle reaksie op die radikale verlossing wat ons Verlosser aan die kruis vir ons bewerk het!

PERSOONLIKE TOEPASSING

Is jy nog onseker wat kruisdra in jou persoonlike omstandighede behels? Vra jouself ‒ is daar vriende, verhoudings, belange (sport?) en of enige ander lojaliteit wat my verhinder om te alle tye Jesus se wense soos uitgespel in die Skrif te gehoorsaam?  Spurgeon se waarskuwing is hier van pas, “O, do not for the sake of a man’s frown or a woman’s smile forego eternal life.”  Vra jouself ‒ watter konsekwensies laat my op dié stadium nog terugdeins en wegskram om openlik aan Jesus (en Sy kerk) se kant te gaan staan?  Dit behoort jou ’n goeie aanduiding te gee van die betekenis en implikasies van kruisdra binne jou persoonlike konteks.

DIE VERGETE BEGINSEL

Jesus se eie woorde kan by ons geen twyfel laat dat die opneem van die kruis ’n onmisbare deel van Nuwe Testamentiese Christenskap is nie.  Kruisdra is ’n onontbeerlike bestanddeel van Christenskap. Net soos dit onmoontlik is om mieliepap sonder mieliemeel te maak.  Hoeveel  bykosse en souse jy ook saam met die mieliepap kan maak, sonder die basiese bestanddeel van mieliemeel hou dit op om egte mieliepap te wees.  

Dis ’n tragiese feit dat die beginsel van kruisdra  grootliks uit die breë kerklike praktyk van tans verdwyn het en  nog eintlik net in die argiewe gevind word. Kruisdra het ‘n verbode “K-woord” geword, wat nie meer dikwels in Christelike geselskap gehoor word nie! Die oproep tot daaglikse kruisdra het verborge geraak onder ’n dik stoflaag van menslike tradisies, gemaksug en wêreldgelykvormigheid.  Die vraag is net: is dit wat oor die algemeen as Christenskap deurgaan, hoegenaamd nog die ware Jakob? Gaan baie nie dalk eendag te laat uitvind dat hulle nooit volgelinge van Jesus was nie? Mag die Gees van God weer ons oë open om die sentrale beginsel van kruisdra te herontdek en implementeer.

DIE MOEITE WERD

Ten minste een belangrike aspek moet nog vermeld word.  Die heerlike belofte wat saam met die oproep gaan.  Vers 24b.  Kruisdra is verseker nie lekker en maklik nie, maar dis  beslis ook nie ’n doodloopstraat wat op niks uitloop nie.  Kruisdra ter wille van Jesus beteken wins in absolute terme, ’n ewige batige saldo.  Dis oor en oor die moeite werd.  Trouens dis die enigste pad vir die mens wat tot ware wins lei.  Miljoene getroue dissipels wat reeds die wedloop afgelê het en op hierdie oomblik by Christus is, sal net kan saamstem.

Neem jou kruis op en volg Hom, Hy sal jou ook die genade gee daarvoor!



(Ou skyfie van Pa van Owamboland)