BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Geestelike oorlogvoering. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Geestelike oorlogvoering. Wys alle plasings

Vrydag 03 Februarie 2017

JY KAN GOD NIE MANIPULEER NIE,

want God is anders as die afgode!

God is anders as die afgode! “Wel”, sal iemand miskien sê, “dis seker nie nodig om dit vir ons te vertel nie, ek bedoel wie weet dit nou nie?” Die waarheid is dat baie van ons dit nie weet nie, miskien teoreties, maar ons praktiese houding teenoor God wys dat ons oor Hom dink asof hy maar net nog 'n afgod is. Dat Israel dikwels hierdie verkeerde denke oor God gehuldig het is baie duidelik, ook uit 1 Samuel 4 :1-11. Die ongehoorsame Israeliete wat gedink het hulle kon God dwing om hulle teen die Filistyne te help as hulle die verbondsark saamneem na die slagveld toe... As ons 'n bietjie oor die saak nadink kom 'n mens tot die skokkende besef dat 'n baie groot persentasie van mense wat hulleself as Christene beskryf dieselfde foute begaan. 



Mense (ook binne in die kerk) dink oor God en hanteer Hom asof Hy maar net nog een van die afgode is. 



Die grootste dowwe kol in die kerk se denke is 'n verkeerde en gebrekkige Godsbegrip. Ons besef nie wie is die God met wie ons te make het nie. God word verwar met die afgode al word Hy by die regte naam genoem. Dit kom eintlik daarop neer dat ons vir onsself ‘n “god” gemaak het wat by ons behoeftes pas.

Om die verskil tussen die lewende God en die afgode duidelik te onderstreep is dit nodig om te vra : Hoe lyk die afgode? In watter opsigte is God anders as die afgode?

WIE EN WAT IS DIE AFGODE?

Afgode is menslike skeppings wat voortkom uit menslike gedagtes. In sommige gevalle word hulle fisies deur mense voorgestel of gemaak.

Omdat die afgode menslike skeppings is, is hulle vreeslik mens en sonde vriendelik. Die afgode het baie ruimte vir sonde... Dis lekker gode soos byv. die Kanaäniete se vrugbaarheidsgodsdiens wat gepaard gaan met allerhande losbandigheid en uitspattigheid wat goed aangepas is by die mens se sondige begeertes. Dink maar net ook aan die Griekse gode en godinne se losbandige eskapades!

Afgodery is eintlik maar duiwelsdiens en Satan se doel hiermee is om die mens te vernietig. Die afgode vra 'n ontsaglike prys en is baie wreed. Afgodsdiens behels dikwels selfkastyding of selfpyniging (dink aan hoe die Baälpriesters hulleself stukkend gekerf het op Karmelberg) en eis selfs kinderoffers en natuurlik lei dit tot die ewige verdoemenis. (maar dit besef die misleides natuurlik nie) Hierdie vernietigende aspekte is natuurlik net so waar van die moderne afgode dink maar byv. aan die gevolge van hebsug/gierigheid. (dit word pertinent afgodery genoem in Efesiërs 5:5)

Baie belangrik – die afgode is manipuleerbaar sodat hulle tot voordeel van die mens optree. Hierdie manipulasie vind plaas deur die regte rituele en formules. Die afgode is nie so gesteld op die hartsgesindheid nie, solank die regte offers, woorde, rites en voorskrifte gevolg word doen die afgode wat ons wil hê : gee reën en oeste, help met liefdesprobleme en vrugbaarheid, sukses en rykdom...

Die afgode staan dus eintlik in diens van die mens wat hulle gemaak het. Daarom is afgode hoofsaaklik etnies gebonde. Dagon is ons Filistyne se god, hy tree in ons belang op. Baäl is weer die van die Kanaäniete ens. (En mens wonder sommer, het baie van ons Afrikaners nie al probeer om God te reduseer tot 'n "god" wat altyd aan die Afrikaner se kant is nie??)

Omdat afgode eintlik maar net 'n menslike skepping is, is hulle beperk en in ‘n sekere sin van mense afhanklik. Mense bring kos vir hulle en verskaf woonplek. (tempels) 

Israel se optrede in hierdie krisis tyd wys baie duidelik dat hulle oor die lewende God dink in terme van hierdie afgodsdenke. Wat gebeur hier? 

God het besluit om Sy volk te straf. Hy gebruik die Filistyne as instrument in sy hand. Die volk word daarom verslaan deur die Filistyne, soos Hy dit bekend gemaak het aan Samuel. Hulle besef dit, maar nou maak hulle wat hulle dink ‘n slim plan is.... “Toe die manskappe van Israel in die laer kom, het die leiers gesê: "Waarom het die Here ons vandag voor die Filistyne laat vlug? Kom ons gaan haal die verbondsark van die Here uit Silo na ons toe dat dit by ons kan wees om ons te red uit die greep van ons vyande." (1 Sam 4:3) Hulle redenasie is duidelik die van afgodsdienaars...”wag 'n bietjie ons gaan hierdie Filistyne 'n ding wys, God gaan vir ons veg en ons gaan seker maak dat Hy aan ons kant is. Gaan haal die ark, waar die ark is sal Hy mos wees en dan sal Hy aan ons laat wen!”

Israel dink hulle kan God dwing en manipuleer om in hulle belang te veg!

GOD IS (HEERLIK) ANDERS!

In skrille maar ook heerlike kontras staan die Lewende God teenoor die afgode. Hy is waarlik God, van ewigheid af. Kom ons stip net 'n paar aspekte aan wat hoofsaaklik uit hierdie stuk geskiedenis in 1 Samuel na vore kom :

God is nie deur mense gemaak nie, trouens Hy self en Hy alleen is die Skepper van die mens en alles wat bestaan. Hy openbaar Homself aan wie Hy wil. Hy slaan die priester Eli oor en maak Homself aan die jong seun Samuel bekend. Hy het geen beperkings nie. Hy is die Almagtige. Daarom het God het Israel nie nodig nie en is Hy van geen mens en geen priester afhanklik nie. Terloops, Hy benodig ook nie offers as ‘n lewensmiddel nie, want buitendien al die vee behoort aan Hom. Hy is ook nie verleë oor die tempel as 'n woonplek nie. Salomo* het dit duidelik geweet. Hy handhaaf Homself. Dit wat in Dagon se tempel gebeur het (lees 1 Samuel 5:1-5), bewys dat Hy nie verslaan is nie, maar dat Hy selfs heerskappy voer in die tempel en land van Sy vyande. Hy tree nie op ter wille van mense as sodanig nie, Hy tree op ter wille van Sy Naam en sy eer.

Die ware God dien nie die mens nie, mense is veronderstel om Hom te dien volgens Sy voorskrifte. Hy kan nie gemanipuleer word nie en Hy laat Hom nie misbruik nie. Israel se poging misluk jammerlik en dit lei tot 'n ramp... Daar was 'n groot slagting, hulle moes vlug en die ark is deur die vyand buit gemaak. God se arm kan nie gedraai word nie. Ons afkoms of bepaalde gebruike en rituele veroorsaak nie dat Hy outomaties aan ons kant is nie.** 

Die Heilige God, moet aanbid word volgens Sy voorskrifte, en met eerbied. Hy self bepaal die voorwaardes en manier van aanbidding. Dit moes die mense van Bet Semes op 'n harde manier uitvind toe hulle die ark met sy terugkoms in Israel onwettig bekyk het. (1 Samuel 6:19).*** 

Hoe tree mense vandag teen God op? By nadere ondersoek blyk dit baie dink aan God en oor God asof Hy eintlik maar net nog 'n afgod in ons diens is. Ons ontwerp 'n “god” in ons gedagtes wat by ons behoeftes pas. Ons laat Hom in ons lewens toe in soverre ons dink Hy vir ons nuttig kan wees.

Ons betrek God by ons planne i.p.v. in te val by Sy wil en planne. Dikwels is hierdie planne direk teen Sy geopenbaarde wil. Dink aan skelm besigheidstransaksies, huwelike met ongelowiges en projekte wat net op ons eie eer ingestel is en dan het ons die arrogante vermetelheid om Hom te vra dat hy dit sal seën. 

Ons maak God ook klein in ons denke. Al meer mense twyfel oor Sy almag en soewereiniteit. Mense praat en dink asof God nie volmaak in beheer is nie. Party mense betwyfel God se almag deur in vrees vir die duiwel te leef... 

Daar is al hoe meer 'n terugkeer na ritualisme. Die dwase mens dink God kan tevrede gestel word deur die regte rituele en formules! Vir sommiges is die doop of belydenisaflegging so ‘n formule wat saligheid en sukses verseker. 

Ons verlaag God tot afgodsstatus deur sy seën en hulp net by sekere geleenthede in te roep sekere geleenthede... By begrafnisse en troues word God se naam gehoor en gaan ons kerk toe, maar die res van ons lewens leef ons soos ons wil! 

Ons gee ons eie inhoud aan Bybelse terme : Die term geloof is baie gewild selfs onder die goddeloses! Hulle dink : Geloof in God sal die lewe beter laat uitwerk vir jou! Dis egter ‘n selfsugtige afgodsgeloof en dis nie wat die Woord met geloof bedoel nie! 

Gebed word misbruik as ‘n towerstaf dat God MY drome moet waarmaak. In die Bybel gaan gebed oor onderwerping aan God se wil. 

Genade is 'n denkmantel vir 'n losbandige lewe volgens ons eie begeertes en behoeftes. Die Woord waarsku baie duidelik teen hier die misbruik van genade.

Die godsdienstige praktyke van baie wat as Christene bekend staan kom neer op 'n oortreding van die tweede gebod. Hulle maak 'n god in hulle gedagtes, volgens hulle behoeftes en grille en koppel die naam van God van Jesus aan Hom.

Hierdie geskiedenis maak dit baie duidelik dat God Hom nie laat manipuleer nie. Israel se kastige slim plan om God te betrek het in hulle gesigte ontplof met skrikwekkende gevolge...

KOM ONS BESEF WIE GOD IS...

Ons moet opnuut weer besef God het ons nie nodig nie. God kan uit klippe kinders van Abram maak.

Ons moet opnuut weer besef God kan nie geflous word nie. 'n Bybel voor my bed beteken nie dat Hy aan my kant is nie! Ons moet opnuut weer besef God handhaaf homself, Hy is nie verleë oor ons pogings of (suinige) bydraes nie!

Ons moet opnuut weer besef ons kan God nie met die regte tegnieke dwing of oorreed om by ons betrokke te wees en ons te seën volgens ons verwagtings nie. Dis nie regte gebedstegnieke nie, maar die gebed van die regverdige m.a.w. die een wat in die regte verhouding met Hom staan wat groot krag het!

Ons moet opnuut weer besef dis nie moderne kommunikasie en preek metodes (of toegang tot die internet) nie, maar geheiligde en gehoorsame instrumente wat deur Hom gebruik word. 

Ons moet opnuut weer besef dis nie obskure geestelike oorlogvoeringstegnieke en spreek-lewe resepte wat ons die oorwinning oor die bose sal laat behaal nie, maar gehoorsaamheid aan die waarheid van die Woord.

DIE WEG TOT GOD

Wel, hoe moet ons die Lewende God benader? Slegs binne 'n persoonlike verhouding of anders gestel ‘n weg van gehoorsaamheid en heiligheid. Ja, ons self kan nie aan sy standaarde voldoen nie, maar deur Jesus het Hy ons in ons sondenood te hulp gekom. Jesus Christus is die Weg en die Waarheid en die Lewe. Ons kan God nie beveel, manipuleer, misbruik en om die bos lei nie, maar (en dis onbeskryflik heerlik) ons kan wel Sy genadetroon nader in heilige eerbied in die naam van ons ewige hoëpriester Jesus Christus. Ons nader God nie met valse motiewe volgens uiterlike rituele en voorgeskrewe formules nie, maar deur die verdienste van Jesus met opregte harte.  Ja, deur Jesus word Hy ons Vader en mag ons  met vrymoedigheid ons harte voor Hom uitstort en Hy sal hoor...AMEN

*Salomo se gebed by die inwyding van die tempel wys duidelik dat hy besef dat God nie in ‘n gebou wat deur mense opgerig is woon nie. "Sou God werklik op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het!” (1 Konings 8:27) 

** Dink ook aan die waarskuwing van die profeet Jeremia (lees Jer 7:4)...... "die Here se tempel, die Here se tempel..." (Kliek op TEMPEL)

*** Israel was traag om hierdie les te leer. Baie jare hierna moes Ussa ten spyte van sy goeie bedoelings ook die verskriklike gevolge dra omdat hy nie die voorskrifte van God ernstig opgeneem het nie en aan die ark geraak het. “Toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, gryp Ussa na die ark van God om dit teë te hou, want die osse het gestruikel. Die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam en God het hom net daar, by die daad van heiligskennis, getref. Hy het op die plek gesterf, langs die ark van God. ( 2 Samuel 6:6,7)

VERDER. HOE LYK HIERDIE "AFGODSDIENS" EN MANIPULASIE IN DIE PRAKTYK ONDER ONS AFRIKANERS? Kliek op AFRIKANER BYGELOOF

Sondag 14 Junie 2015

WEES GEWAPEND EN STAAN VAS!

- DIE BYBELSE BELANGRIKHEID EN EENVOUD VAN GEESTELIKE OORLOGVOERING.



Geestelike oorlogvoering het ‘n veelbesproke saak onder baie Christene geword. Baie is al daaroor geskryf en bespiegel. Ongelukkig kry mens soms die indruk dat dit voorgestel word as ‘n hoogs tegniese kwessie waarvoor jy spesiale tegnieke moet bemeester. Dat dit eintlik net ’n saak is vir ’n paar uitverkore deskundiges, “super Christene” met geheime inligting en ‘n hele klomp esoteriese navorsing agter die blad. Dis nou die ouens wat weet hoe om “bloedlynvloeke” te breek en hardnekkige “gebiedsgeeste” vas te pen... 

Allermins! Geestelike oorlogvoering is iets wat elke Christen direk raak, want elke ware Christen is in ‘n hewige stryd teen die Satan en sy trawante gewikkel. Elke dag. As jy ’n Christen is, dan het jy die afgelope week deel gehad aan hierdie stryd... Dis veel erger as net ‘n fisiese stryd - dis ‘n stryd teen bose magte. Efesiërs 6:10-20 is seker een van die Bybelgedeeltes waar die tema van geestelike oorlogvoering die mees direkte wyse aangespreek word. Daarom is hierdie gedeelte van die grootste belang vir elke Christen. Ongelukkig bly dit vir baie ‘n onverstaanbare Skrif.* Ons lees dit op ’n manier wat maar min konkrete hulp en troos bied. Daar is veral twee redes: 

- Mense gaan met vooropgestelde idees van wat geestelike oorlogvoering is, na hierdie Skrifgedeelte en sien dus nie regtig raak wat Paulus wil sê nie. Hulle het sulke vaste idees oor wat die liste van die duiwel behels en vaste idees dat geestelike oorlogvoering oor duiwel uitdrywing, die bevegting van sogenaamde gebiedsgeeste, die verbreking van vloeke en die binding van demone gaan, dat hulle dit hier inlees en hulle eie betekenisse aan die gedeelte gee. 

- Aan die anderkant kan mens in te veel detail verval met betrekking tot die stukke wapenrusting. Na al die tegniese beskrywings van die Romeinse soldaat se uitrusting en die verwante simboliese betekenisse wonder jy aan die einde van die reeks preke hieroor - “maar nou, wat nou?” Hoe gaan al hierdie feite prakties ‘n verskil maak aan my stryd teen die bose? Dis myns insiens ‘n gevaar om te veel afsonderlik aandag te gee aan elkeen van die stukke wapenrusting, te spekuleer oor al die moontlike betekenisse van die gordel of die helm of die borsplaat. So verloor mens maklik die draad van dit wat Paulus eintlik wou sê. En die praktiese nut van sy kosbare lering gaan verlore. Die kernboodskap gaan by ons verby. Onthou hierdie brief was ‘n gewone brief aan die gemeente van Efese, dis nie ‘n letterkundige stuk werk of ‘n tegniese handleiding wat mens moes uitpluis en allerhande verborge betekenisse daarin soek nie. 

BELANGRIKE VERTREKPUNTE 

Nou sal jy dalk vra, maar hoe gaan ons seker maak dat ons hierdie gedeelte wel reg verstaan? Daar is twee belangrike vertrekpunte vir die verstaan van hierdie gedeelte: 

~ Dis tog net vanselfsprekend dat ons hierdie gedeelte oor die wapenrusting moet verstaan in die lig van die hele brief. Hierdie opdragte in hoofstuk 6 vorm tog ‘n integrale deel van die brief, dit sal dus uiteraard logies aansluit by dit wat Paulus in die voorafgaande gedeelte geskryf het. Lees hierdie oorlogsmetafoor saam met die vloei en inhoud van die brief as geheel! 

~ Verder moet ons kyk na die Ou Testamentiese agtergrond wat Paulus verreken het in die skryf van hierdie gedeelte. Paulus het tog sy Bybel geken, dit wil sê die OT en inderdaad sal ons sien dat hy die waarhede en begrippe wat hier gebruik vanuit die OT kry. 

Kom ons kyk eers na die inleidende verse naamlik 10,11. 

"Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. 

Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. 

Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. 

Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly."  ( Ef 10-13) 

STAANDE BLY! 

Ons word opgeroep om staande te bly teen die liste van die duiwel. Belangrik, die deurlopende klem val op staande bly en nie allerhande avontuurlustige en verbeeldingryke aanvals ekspedisies teen bose magte nie! 

WIE IS HULLE?

Ons stryd is teen Satan en sy trawante wat hier genoem word : "magte, wêreld heersers, bose geeste." Wie en wat is hierdie magte? Nou is dit belangrik dat ons hierdie magte sal verstaan binne die konteks wat Paulus hulle reeds vooraf in dieselfde brief aan ons bekend gestel het. As ons hoor van hierdie magte moet nie toelaat dat ons verbeelding met ons op loop gaan of dat ons die idees van fiksie skrywers (soos Frank Peretti) hier sal inlees nie. Dis dwaas en ongeoorloof om oor die aard, range en identiteite van hierdie magte te spekuleer. Kom ons hou ons by die Bybel! Belangrik : Satan se aktiwiteite en planne is ‘n deurlopende tema in hierdie brief en dis waar ons ons agtergrond inligting vir die verstaan van hierdie gedeelte moet kry. Een basiese feit wat na vore kom is : Hierdie kragte en magte teen wie ons stryd is, is baie magtig, maar ons moet onthou dat hulle volkome onderworpe is aan Christus. God het met krag Chrstus uit die dood opgewek en Hom laat sit “bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige.” (1:21) Hierdie selfde feit word ook baie duidelik en nog meer uitgebreid in Kolossense gestel. Die implikasie van die kruis was dat “Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar ten toongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.” (Kol 2:15) Die stryd waarin ons ons bevind is nie ’n stryd waarvan die uitslag onseker is nie. Die Satan en sy magte is aan die kruis verslaan. Hoe? Wel deurdat ons sondes gestraf is, het die Satan nie meer aanspraak op God se kinders nie, hy het sy houvas op ons verloor, want God het ons vergewe op grond van Jesus se betaling aan die kruis. Tog is die duiwel nog gevaarlik. Uit hierdie gedeelte kan ons aflei daar is ’n hewige stryd. Hoe werk dit? Miskien kan mens dit vergelyk met ’n groot oorlog...Die groot slag is gelewer,daar is geen twyfel oor die uitslag nie, maar daar is nog opruimingsoperasies en die vyand is nog steeds gevaarlik en kan ons inderdaad baie seermaak. 

DIE DOEL EN METODES VAN DIE BOSE MAGTE 

Ons het gesien ons word opgeroep om vas te staan in ons worstelstryd teen die bose magte. Dis belangrik om te vra wat is die aard van hierdie stryd, hoe val die magte ons aan, wat is die duiwel se oogmerk met ons? Dis baie belangrik om te weet, want anders sal ons tog nie weet hoe om te kan weerstand bied nie. Weereens moet ons ons inligting uit die brief aan die Efesiërs as geheel gaan haal. 

Die werk van die bose soos in Efesiërs beskryf, is moreel van aard. “En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander."  (2:1-3) Wat is duidelik uit die beskrywing van die bose magte se aktiwiteite? Die vernietigingswerk van hierdie magte word gesien in die mens se verslawing aan sonde. Die gevolg daarvan is dat mense onder die toorn van God staan. In die ongelowiges se lewe voer hierdie magte totaal die botoon deurdat ongelowiges verslaaf is aan die sonde, oftewel die “werke van die vlees”. 

Alhoewel die kinders van God vrygspreek is van hulle sondeskuld en bevry is van die slawemag daarvan val die duiwel en sy magte ons nog steeds aan om ons weer te laat sondig. Daarom die opdrag in 4:27. “Moenie die duiwel vatkans gee nie.” Weereens die duiwel se oogmerk met ons is moreel van aard - hy wil ons laat sondig. Sy modus operandi, sy werkswyse is om ons te mislei met sy leuens. Die wapen wat die duiwel gebruik om ons te laat val, ons te verwar en ons daartoe te bring om weer die werke van die sondige natuur te doen is dus verraderlike misleiding, listige planne, allerhande slim “schemes”. Hy wil ons weglok van Christus met allerhande truuks. Reeds in 4:14 verwys Paulus hierna. “Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie.” Ook in 5:5-6. “Dít moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of ‘n gierigaard is—want gierigheid is afgodery—het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie. Moenie dat iemand julle met allerlei onwaarhede mislei nie, want daardeur kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is.” 

Nou is dit baie belangrik om raak te sien, Paulus sluit aan by hierdie gedagte van misleiding in 6:11,12. In die vorige gedeeltes het dit gegaan oor die misleiding deur mense, menslike bedrog en menslike leringe. Versoekings wat via mense na ons kom. Wat Paulus nou hier impliseer is dat ons moet besef dat die duiwel eintlik die een is wat agter die misleidinge sit. Daarom beklemtoon hy dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie. Hy wil dus sê : “Moenie vaskyk teen die bedrog en geslepenheid van mense nie, moenie dink dit gaan sommer net oor menslike versoekings en leuens nie. Dis die Satan self wat agter hierdie misleiding sit, die stryd is veel erger en dieper as wat julle dink! Ons moet die werklike aard van ons stryd besef - dis nie ‘n fisiese stryd teen valse mense en hulle boodskap nie, maar teen die Satan en sy magte. Die werklike vyand is die duiwel en sy listige verraderlike planne en slim stories. Die woord wat hy hier vir liste gebruik is meqodeiaV. (Die woord laat ons dink aan ons woord “metodes”) Dis ‘n vorm van dieselfde woord wat ook in 4:14 gebruik word! So wanneer ons aan die duiwel se vyandelike aktiwiteite teenoor ons dink moet ons veral dink in terme van sluwe verleiding deur middel van leuens tot sonde en ongehoorsaamheid aan Christus. Dis sy taktiek al van die tyd van Adam en Eva af. Kan u sien dit gaan nie hier oor ‘n bedreiging van vloeke of bindinge of besetenheid of sogenaamde gebiedsgeestenie? Nêrens in hierdie brief kry ons so ‘n insinuasie of waarskuwing in die verband nie. Die stryd en die saak waaroor dit hier gaan het betrekking op ‘n morele konflik en ons kwesbaarheid om deur die duiwel mislei te word. 

GENADE VAN GOD EN VERNIETIGINGSWERK VAN SATAN 

Onthou ons het gesê ‘n brief vorm ‘n eenheid. Die groot temas wat in hoofstuk 2:1-10 aangespreek word, word verder uitgepluis in die res van die brief. Die twee groot sake waaroor dit in 2:1-10 gaan is aan die eenkant die vernietigingswerk van die Satan en aan die anderkant die genadewerk van God in Jesus. Die krag van Satan teen die krag van God. Hoe lyk en werk die krag van Satan? Die krag van die Satan kom na vore en word gesien in die heerskappy van sonde en die sondige natuur. 

Waarin kom God se krag na vore? God se krag sien ons deur die genadegawe van geloof in Jesus Christus en die gevolglike doen van goeie werke. (LW - goeie werke is baie prominent hier, maar as uitvloeisel van genade) Die verloste kinders van God word dus opgeroep in die res van die brief om nie ‘n toonbeeld van die verwoestingwerk van die duiwel nie, maar van die genadewerk van God te wees. Byv. in 4:1; 4:17; 5:1,2. Die boodskap is dus : Leef ‘n nuwe lewe soos dit pas by die kinders van God. Natuurlik wil die duiwel dit nie hê nie en gaan hy alles in sy vermoë doen om ons te probeer laat terugval in die sondige patrone van die ou lewe. Dis die doel van die duiwel se listige planne om ons weer ‘n Godonterende lewe te laat lei. In die lig van hierdie bedreiging maak Paulus die oproep in 6:10,11. 

ONTHOU : 

Die duiwel se krag en verwoestingswerk in mense lewens word sigbaar deur sonde, God se krag en genade word sigbaar deur geloof en goeie werke. 

Dis die duiwel se doelwit om deur leuens ons te verlei tot sonde en ongehoorsaamheid aan God. Sy werkswyse is misleiding, leuens, slinkse bedrog. Deur subtiele misleiding wil hy ons sover kry om sy wil naamlik sonde te doen. Wanneer ons dus dink aan die aanslae van die Satan moet ons dus dink in terme van sy misleiding en leuens. Hy gaan uiters slinks te werk dis hoekom dit so gevaarlik is. Hy sal nie sommer sê “”Gaan pleeg owerspel” nie, nee eerder : “Gaan verleen geestelike hulp aan daardie mooi vrou wat so swaar kry...” Hy sal nie direk sê: “Haat God” nie, nee eerder insinueer : “Jong die Here behandel jou darem nie goed nie... So wil hy jou laat verval in onvergnoegdheid en selfbejammering en so sondig ons dan teen God deur sy goedheid en liefde te bevraagteken. Deur gesprekke, films, persone, omstandighede... probeer hy weer om ons ou sondige passies te laat opvlam... 

DIE WAPENRUSTING 

Die antwoord op hierdie subtiele bedreiging van Satan en sy meelopers is om die volle wapensruting van God op te neem. 

Hoe kan ons seker maak dat ons reg verstaan wat Paulus met hierdie wapenrusting bedoel? Ons moenie te veel of te min daarin lees nie. Onthou die brief vorm ‘n eenheid. Nou as mens mooi lees sal mens sien dat Paulus in die hele brief self ‘n voorbeeld is van hoe hierdie wapenrusting gebruik moet word. In die brief self gee Paulus ‘n demonstrasie van hierdie geestelike oorlogvoering.

PAULUS

Paulus se heupe is omgord met die waarheid van die evangelie. Wat behels dit? Hy glo en bevestig die waarheidsboodskap van Christus. Hy het die borswapen van geregtigheid aan. Hy gehoorsaam God (die doen van geregtigheid) en hier in Efesiërs leer hy ander om die pad van geregtigheid te doen. Paulus gebruik die skild van geloof. Hy lewe deur geloof in die krag van God (1:19) Dit beteken om nie te kyk na die sigbare feite nie, maar vas te staan op God se beloftes in Jesus. Hyself het die helm van verlossing op. Hy verheug hom in die vastigheid van die verlossing soos deur Jesus bewerk (1:3ev). Hy bring die evangelie van vrede na die nasies - dis waarmee hy besig is - hy het dus die skoene aan. Nodeloos om te sê - hy gebruik die swaard van die Heilige Gees nl. die Woord van God - lê dit uit. Hy bid vir andere om te groei in die kennis van Christus en sy krag. (en vra ook gebed vir homself) Die brief as geheel illustreer vir ons wat dit beteken om die wapenrusting van God aan te hê en hoe om staande te bly teen die liste van die duiwel. Hierdie laaste gedeelte in Efesiërs 6:10ev is eintlik net die samevatting daarvan in ‘n mooi metafoor. 

REEDS IN DIE OU TESTAMENT 

Ons moet ook kyk na die OT agtergrond as ons werklik wil verstaan waaroor die wapenrusting gaan. Dis baie duidelik dat Paulus se beskrywing en terminologie vir die wapenrusting sterk beïnvloed is deur veral die boek van Jesaja. Een groot saak word duidelik as ons na die OT gaan - die wapenrusting van God is die wapenrusting wat God self dra. Dit vergestalt God se modus operandi soos gesien in die lewe van Jesus. Luister na die beskrywing van die Messias in Jesaja 11:5 (OAV) “En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees.”** Die Here self sit die (gordel) geregtigheid aan in sy stryd om sy volk te bevry. Met ander woorde Hy is volmaak sonder enige ongeregtigheid soos die versoeking in die woestyn bevestig het. (Jes 59:17) Dis die Here self wat die boodskap van verlossing uitroep. (Jesaja 52:7) In die psalms is die Here self die skild waaragter die gelowige skuil. (Genesis 15:1, Psalm 91:4) Hier word sommer ‘n baie belangrike saak onder ons aandag gebring. Dis nie ons sterk geloof opsigself wat ons skild is wat ons beskerm nie. (dit sou nie ‘n baie veilige skild wees nie, want ons weet hoe wankelbaar ons geloof is) Dis God en sy getrouheid wat ons skild is, Jesus en sy volmaakte werk. God beskerm ons - ons fokus is dus nie op hoe sterk ons geloof is nie, maar op hoe sterk ons Here en Verlosser is. En as ons op Hom fokus en in swakheid ons vertroue op Hom plaas, wel dan het ons geloof. Dit gaan dus nie oor die kwaliteit van ons geloof nie, maar oor die objek van ons geloof. Die Here word geskets as die Een wat die helm van verlossing dra. “En Hy het geregtigheid aangetrek soos 'n pantser, en die helm van heil was op sy hoof; en die klere van wraak het Hy aangetrek as kleding en Hom gewikkel in die ywer soos in 'n mantel.” (Jesaja 59:17) 

Hy bring vaste en onaantasbare verlossing. Die Woord van God is die swaard wat uit die mond van die Messias gaan. Jesus het God se Woord aan ons gebring. (Jes 49:2 en vgl. ook Openbaring 1:16) 

JESUS EN SY WERK 

Ons het gesien die wapenrusting is maar eintlik ‘n beskrywing van Jesus se persoon en werk. Om die wapenrusting op te neem is om jouself met Christus te beklee, Hom te vertrou, te gehoorsaam. Toets nou maar dit aan die beskrywing van die wapenrusting : 

~ Die gordel van die waarheid is die evangelie waarheid met ander woorde waarheid van Jesus se persoon en werk. Dis om vas te klou aan en te bly staan by die waarhede, die feite van die evangelie al gebeur wat. 

~ Die borswapen, die harnas van geregtigheid. Die geregtigheid is die geregtigheid van Christus - hier bedoel in subjektiewe sin nl. om te leef soos Hy geleef het.*** (dis duidelik uit konteks van Efesiërs waar die term geregtigheid****   gebruik word in die konteks van ‘n oproep tot ‘n heilige lewenswandel - Ef. 4:23,24) Praktiese gesproke die najaag van wat reg is. 

~ Die skoene is die bereidheid vir die evangelie van Christus – om daarin te volhard, daarby te bly en dit verkondig! ( ‘n lang redekaweling of die bedoeling hier is ons commitment tot die evangelie of die uitdra daarvan is irrelevant - die twee aspekte sal noodwendig saamgaan), 

~ Die skild van die geloof, is geloof in Christus. Prakties sal dit behels om volkome op Hom en sy werk namens my staat te maak. (weereens nie op my geloof staat te maak nie, maar op Christus se volmaakte krag en sy volmaakte versoeningswerk in my plek, om blindelings sy beloftes te vertrou) 

~ Die helm van die verlossing is die vaste hoop op die Verlossing wat Hy, Jesus bewerk het. Hierdie verlossing is ’n uitgemaakte seker saak, want dis nie iets wat ’n feilbare mens bewerkstellig het nie. Nee, Christus het dit deur sy dood en opstanding eens en vir altyd verseker. Hierdie hoop dra my in alle omstandighede en laat my volhard ongeag die sette van die duiwel om my mismoedig te maak. 

~ Die swaard, die Woord van God is die Woord waarvan Jesus Christus self die sentrum is. Die Woord lei ons voortdurend weer na Jesus, vestig ons aandag op wat Hy gedoen het. Dit bring ons telkens weer by ’n ontmoeting met die lewende Jesus! 

AANTREK 

Kan u sien : Alles fokus ons op Jesus! En dis nou waar die gebed inkom. “Doen dit alles biddend” (NAB) Gebed is die aantrek of aanwending van die wapenrusting. Gebed is vertroue op Christus prakties geïmplimenteer. Daar's geen duideliker of meer direkte manier hoe om jou prakties tot Christus te wend nie, dis tog die manier waarop ons uiting gee aan ons verstaan van die waarheid, aan ons geloof en vertroue ens. Gebed is praktiese gehoorsaamheid aan die Woord, ‘n beoefening van geloof, ‘n staatmaak op Christus alleen. 

’n Biddelose mens het dus nie die wapenrusting aan nie! 

’n Gebrekkige en verwaarloosde gebedslewe maak jou weerloos teen die Satan se listige aanslae. Die Christen wat nie knieëwerk doen nie is ’n sagte teiken.

Kan jy sien, om die wapenrusting van God aan te trek is nie ‘n klomp ingewikkelde stappe of rituele of tegnieke nie. Eenvoudig kernagtig stel David Powlison dit so : “To take up the armour is simply to live in Christ”. Ek bly staande teen die misleiding van Satan en sy bose magte deur voortdurend op Jesus te vertrou, op Hom te hoop, sy opdragte te gehoorsaam, in die genoegsaamheid van sy offer te rus. Dit behels o.a. dat ek voortdurend in biddende afhanklikheid van Jesus sal leef. Die uitdaging is - beoefen voortdurende vertrouende kontak met JESUS. Dis die verrassing van die wapenrusting, dis nie iets ekstra of nuut nie, dis maar net 'n metafoor om ons weer te wys op Jesus se heerlikheid, mag, genoegsaamheid en ons weer terug te bring na die "basics" van die evangelie! Fokus biddend op Jesus! Bring jou denke doelbewus en keer op keer by Jesus en wat Hy gedoen het, stel telkens weer opnuut jou vertroue op Hom en Hom alleen. Dit gaan dus oor Jesus en sy krag nie oor ons tegnieke nie. Dis die hoofgedagte en dit word bevestig as ons na die inleiding tot die hele gedeelte oor die wapenrusting kyk. Vers 10 - “word kragtig IN DIE HERE en die krag van SY sterkte”



* Erkenning aan D. Powlison, "POWER ENCOUNTERS - Reclaiming Spiritual Warfare" wat hierdie deel van die Skrif vir my oopgemaak het en waaruit ek die bogenoemde verkry en verwerk het.

** “trou” in OAV word met “waarheid” in die LXX vertaal.
Kyk gerus na al hierdie Skrifgedeeltes:

Jesaja 11:5 (OAV) En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou (waarheid) die gordel van sy heupe wees.

Jesaja 59:17 En Hy het geregtigheid aangetrek soos 'n pantser, en die helm van heil was op sy hoof; en die klere van wraak het Hy aangetrek as kleding en Hom gewikkel in die ywer soos in 'n mantel.

Jesaja 52:7 Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning!

Psalm 91:4 Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is 'n skild en pantser.

Jesaja 49:2 En Hy het my mond gemaak soos 'n skerp swaard, in die skaduwee van sy hand het Hy My verberg; en Hy het My 'n skerp pyl gemaak, in sy pylkoker My weggesteek; 



*** Die konteks van die brief as geheel waarin Paulus die gelowiges tot heiligheid en goeie werke aanspoor vereis dit. Ek moet dus (ongelukkig) hier met Martyn Lloyd-Jones verskil. Hy gebruik hierdie term hier om die hele leerstelling van die regverdigmaking deur die geloof, toegerekende (imputed) geregtigheid te verduidelik. (Die 1983 NAB sien dit ook so en vertaal dus geregtigheid met vryspraak) Myns insiens is die leerstuk van die regverdigmaking/vryspraak deur die geloof eerder geïmpliseer in die skild van geloof. Geloof in Jesus se volmaakte versoeningswerk in my plek waardeur ek onveroordeeld voor God kan staan. Ek dink Martyn Lloyd-Jones maak die fout om hier te veel dogma in die teks in te lees eerder as om meer ag te slaan op die onmiddellike konteks van die gedeelte soos gevind in die res van die brief. 

**** dikaiosunh



Satan is slinks en gevaarlik, hy reël vir jou 'n vriendelike ontvangs...