BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Kompromie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Kompromie. Wys alle plasings

Woensdag 20 September 2023

SAAM BID MET VALSE GODSDIENSTE?

- Wil die Algemene Sinode nou nóg dwalings inbring?


Dit klink asof daar stemme, baie subtiel en baie vriendelik ... binne in ons geliefde kerk opgaan wat dit goedpraat en aanbeveel dat ons selfs binne in ons kerkgeboue saam met aanhangers van heidense godsdienste gebedsbyeenkomste moet hou, waartydens ons in beurte of parallel met mekaar kan bid. Dis wat mens lees in die Agenda van die Algemene Sinode van die NGK van Oktober 2023 *


Natuurlik dit spreek vanself dat ons alle mense, as skepsels van God met respek moet behandel. Onbeskofte gedrag en beledigende optrede gaan niemand vir die evangelie wen nie. Paulus se weldeurdagte, maar kompromislose voorbeeld van verkondiging aan die heidene van Athene in Handelinge 17 is 'n handboekvoorbeeld.

Respekvol wees en sinkretisme (godsdiensvermenging) is twee verskillende dinge. Ek wil daarom ernstig beswaar maak teen die gedagte dat ons in ons gemeentes saam met Hindoes, Moslems, aanhangers van tradisionele Afrika godsdienste ens. kan bid. 

VIER REDES

Ek noem graag vier redes waarom gesamentlike aanbidding met vals gelowe nie mag gebeur nie.. Die eerste drie gaan oor die verbreking van die eerste gebod, naamlik liefde tot God. Die vierde rede gaan oor die verbreking van ons liefdesverpligting teenoor ons medemens.

1.Daar is niks mooi in enige afgodsdiens nie. 

Hoe opreg die afgodsdienaars dit nou ook al bedoel, diens aan enige afgod is weersinwekkend.  In die genoemde ATLAS dokument word inderdaad verwys na Paulus se rede in die Areopagus in Athene, maar Handelinge 17:16 word gerieflikheidshalwe verswyg. “Terwyl Paulus in Athene op hulle (Silas en Timoteus)  gewag het, was hy in sy gees diep verontwaardig toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde is.” Die aanskoue van afgodsbeelde maak Paulus kwaad! PUNT.  Dit was sy diepste gewaarwording, maar natuurlik het hy taktvol en met wysheid hierna verder gepraat. Met vriendelikheid en beslistheid het hy Jesus aan hulle verkondig - die Man wat uit die dood opgewek is! Sy diplomatiese optrede het egter nie verhoed dat hy sy hoorders duidelik teen die komende oordeel gewaarsku het nie. Paulus het ook nie geskroom om die eis tot bekering te stel nie.

2.Wie afgode aanbid, aanbid eintlik demone. 

Dis nog ‘n ernstige rede waarom ons nie maar kan toekyk en deelneem aan ‘n geleentheid waar ander afgode aanbid word nie.  Dis Paulus se argument in 1 Korintiers  10:18-22 Let spesifiek op na vers 20!

“Kyk na die volk Israel: Het diegene wat van die offers eet, dan nie deel aan die altaar nie? 19 Wat bedoel ek hiermee? Dat 'n afgodsoffer tog iets is, of dat 'n afgod iets is? 20 Nee, maar wat hulle offer, offer hulle aan demone, nie aan God nie – en ek wil nie hê dat julle aan demone deel moet hê nie. 21 Julle kan nie die beker van die Here drink én die beker van demone nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here én aan die tafel van demone nie. 22 Of is ons besig om die Here jaloers te maak? Is ons dan sterker as Hy?”  

Wie deel wil neem aan die Heilige Nagmaal, moet seker maak dat hulle nie kompromie met die afgode en eintlik demone maak nie! Dit sou God se toorn kon opwek! Pasop!

3.God deel sy eer met niemand nie!  

Hier kom ons nou by die wortel van die saak.  Laat jou gedagtes bietjie teruggaan na die berg Karmel. Elia, God se enkele profeet op die toneel. 'n Weifelende volk. Hordes heidense priesters. Elia se boodskap en ultimatum  aan die wyfelende verbondsvolk was baie duidelik - “Hoe lank gaan julle nog op twee krukke bly hink? As die Here God is, volg Hom; as dit Baäl is, volg hom.” (1 Konings 18:21) 

Moet ons regtig nou toelaat dat Hindoe gode en voorvadergeeste in ons kerkgeboue aangeroep word?  Duisend maal NEE! Dit sou ‘n aantasting van God se eer wees! God se eie standpunt in Jesaja 42:8 is baie duidelik :  “Ek is die Here, dit is my Naam, die eer wat My toekom, gee Ek aan geen ander nie, die lof wat My toekom, gee Ek nie aan gesnede beelde nie.”

Kompromie met die afgode laat ons getuienis skade ly... Dit bring ons by die vierde rede.

4.Gesamentlike gebed met valse godsdienste is nie net disrespekvol teen God nie, maar is juis ook liefdeloos teenoor die verlore heidene. Hoekom? Daar is net een Middelaar tussen God en mens naamlik Jesus.  In ons tyd van postmodernisme en raltiwisme is die boodskap van 1 Timoteus 2:5 baie belangrik. “Want daar is een God, en een Middelaar tussen God en die mense: die mens Christus Jesus”  As ons nou maar sonder protes saam met heidene bid kan dit die indruk skep  dat daar baie paaie na God is en dat Jesus net een moontlikheid uit baie is, en so mislei ons mense. Dis doodgewoon liefdeloos.

Die stemme binne in die kerk wat ons wil aanmoedig om saam met ander godsdienste te bid is nie die stem van die Lam nie, maar van die vals profeet!

 

*"Christene kan dus meehelp om gesamentlike aanbiddingsgeleenthede ‘n besondere kwaliteit te gee. Dit is nie ‘n geleentheid waar godsdiensgroepe met mekaar kompeteer of armdruk nie, maar ‘n geleentheid waar Christene – saam met mense van ander geloofsgroepe – ons geloof bely, elkeen op ons eie unieke manier. Godself is die Een wat ons harte toets en deurgrond – ons s’n, maar ook die harte van mense van ander godsdienste. Dus word die oordeel aan God alleen oorgelaat. Dit sou dus aanbeveel kon word dat Christene – veral dan ook as gemeentes op plaaslike vlak – nie sal huiwer om gesamentlike geleenthede te reël waarin kwellende kwessies van ons samelewing en die wêreld aan die orde gestel kan word nie. Dit sou op “neutrale” plekke kon plaasvind, maar dit sou ook ‘n besondere gebaar van gasvryheid teenoor mense van ander godsdienste kon wees om sulke byeenkomste in ons kerkgeboue te hou. By sulke geleenthede is wedersydse respek vir mekaar se tradisies en rituele van uiterste belang. Christene kan en moet by sulke geleenthede nie daarop aandring dat mense van ander godsdienste die Christelike tradisies moet volg nie. Eweneens sou Christene ook nie die eiesoortigheid van hul gebedstradisies en -rituele hoef op te gee nie. Sulke gesamentlike byeenkomste kan só ingerig word dat almal geleentheid gegun word om (ná mekaar, of parallel met mekaar) die kwessies wat bespreek is in gebed op te dra."  {Aanhaling uit AS 2023 Agenda p76]

Dinsdag 05 November 2019

DIE SPOEG OP JESUS SE GESIG

- WAS DIT AF DEUR SKAAMTELOOS OP TE STAAN VIR DIE WAARHEID!

Die Algemene Sinode 2019 se besluit om onder die vaandel van diversiteit aktiewe praktiserende homoseksuele predikante toe te laat is meer as net 'n verwarrende etiese besluit. Dit tas die eer van Jesus Christus die Hoof van Sy kerk aan! Dis 'n onheilige kompromie met die anti-Woord en anti God-filosofie van die postmodernisme.

Dit lyk baie soos die kompromie wat sommige kerkleiers destyds in Roemenië met die Kommuniste gemaak het.

Hieroor het die bekende martelaar RICHARD WURMBRAND soos volg geskryf: (kliek op video)






Saterdag 16 Februarie 2019

SAAMTREK?

Nee, want jy is afgesonder vir die heilige God! 



Ons leef in ‘n tyd waarin geen onderskeid tussen lig en duisternis nie. “Alles is maar sommer reg!”, in baie se oë. Paulus praat nou reguit oor hierdie vermeninging van goed en sleg in 2 Korintiërs 6:14 - 7:1. Met een duidelike beeld stel hy die Bybelse standaard : “Moenie saamtrek in die selfde juk as die ongelowiges nie.” 






Heel waarskynlik is dit die boodskap van Deuteronomium 22:10 wat Paulus hier geestelik van toepassing maak. “Jy mag nie met ‘n os en ‘n esel gelyk ploeg nie”. Dit gaan in daardie konteks oor allerhande verbode samevoegings. 

Paulus gebruik hierdie metafoor ook om kinders van God te waarsku teen verbode verbintenisse, vriendskappe en venootskappe. 

Die vraag is : in watter opsig en tot watter mate waarsku Paulus teen kontak en verbintenisse met ongelowiges? 

Wel, eerstens moet ons sê dat hy definitief nie propageer dat Christene alle kontak met ongelowiges en die heiden wêreld moet vermy nie. Hy self erken dat dit nie moontlik is nie. “In die vorige brief het ek aan julle geskryf om nie met mense om te gaan wat in onsedelikheid leef nie. Daarmee het ek glad nie die onsedelikes of die geldgieriges, bedrieërs of afgodsdienaars van hierdie wêreld bedoel nie, want om hulle te vermy, sou julle uit die wêreld moes padgee.” (1 Kor. 5:9,10 ) Dit gaan in daardie gedeelte oor die suiwerheid van die kerk en dissipline en tug binne die kerk self. Die kerk moet juis suiwer wees tot eer van God en om ‘n geloofwaardige getuie te wees. As alle kontak met ongelowiges vermy sou word, sal ons geen geleentheid hê om te getuig nie. 

Waaroor gaan dit dan? Enige aksie of verbintenis wat sou kon veroorsaak dat gelowiges in daad of gedagte betrokke sou raak by die sonde van die wêreld moet vermy word. 

Enige verbintenis of vriendskap wat tot kompromie met sonde kan lei is ongewens vir ‘n Christen. 

Konkrete voorbeelde wat Paulus in gedagte gehad het, was ‘n gemengde huwelik tussen gelowige en ongelowige (1 Kor. 7), die eet van afgodsoffers ( 1Kor.10), die bring van geskille na heidense howe (1 Kor.6) Die metafoor van ‘n juk skep die indruk dat dit oor noue verbintenisse gaan, waarbinne dit moeilik is om konsekwent ‘n Christelike lewenswyse en waardes te handhaaf. Ons vriendskappe en venootskappe met onbekeerde mense moet nie van so ‘n aard wees dat ons tot sonde verlei word nie! 

Na hierdie “sweeping statement” gaan Paulus nou voort om deur vyf teenstellings die noodsaaklikheid om enige assosiasie met boosheid te vermy verder te onderstreep: Dis retoriese vrae, die antwoord word veronderstel - geen, hoegenaamd niks! Paulus gee hier ‘n duidelike grondslag vir die verskil tussen gelowige on ongelowige: 

"Hoe kan daar ’n venootskap wees tussen reg en onreg?" Heiligheid en ongeregtigheid het niks in gemeen nie. Die een is reg en die ander is verkeerd. Daar is geen raakpunte nie. 

"Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis?"  Hulle is onversoenbaar. Moenie probeer pas wat nie kan pas nie! En meng wat nie mengbaar is nie. Lig en duisternis is twee programme wat “incompatible” is! 

"Hoe kan daar eenstemmigheid wees tussen Christus en Belial?" (hierdie term vir die Satan kom nie direk uit die OT nie, maar waarskynlik uit latere Joodse literatuur) Dink bietjie, watter harmonie en samewerking kan daar tussen Christus en die Satan wees? Dis ondenkbaar dat daar enige samehorigheid tussen hulle kan wees. Het Christus en die Satan iets vir mekaar te sê, sal hulle samesprekings voer of samewerking nastreef? Belaglik en ondenkbaar! Hoe kan Christene wat aan Christus behoort dan nou verbintenisse aanknoop met mense wat deur Satan beheer word? 

"Hoe kan ’n gelowige dieselfde belange hê as ‘n ongelowige?" Daar is mos ’n absolute kontras tussen gelowige en ongelowige. Ons het verskillende lojaliteite, belange en belangstellings. ’n Gelowige is iemand wat honger en dors na geregtigheid, wat verlang daarna om God se wil te doen. ’n Ongelowige is presies die teenoorgestelde (Efesiërs 4:17,18) 

"Hoe kan daar ’n ooreenkoms wees tussen die tempel van God en die afgode?" Paulus redeneer soos volg : Die tempel van God is ’n ontsagwekkende heilige plek, geen afgod pas en hoort daar nie. Wat waar was van die fisiese tempel in Jerusalem, geld ook vir die geestelike tempel van gelowiges. Net soos die inbring van enige afgod in die tempel dit sou ontreinig en ongeskik maak vir aanbidding van God, net so sal besoedeling met die afgode ons ongeskik maak om God te aanbid. 

CHRISTENE IS DIE LEWENDE GOD SE TEMPEL!

Nou sluit Paulus aan by sy beeld van die tempel en maak ‘n heerlike en betekenisvolle stelling: 

“Ons is immers die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het: "Ek sal onder hulle woon en wandel, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees." (2 Kor 6:16) 

Paulus beklemtoon 2 implikasies van die feit dat gelowiges God se tempel is. (En terloops dis die bekende verbondsformule wat hy hier aanhaal) : 

· Dis ’n vreugdevolle realiteit dat God in ons woon. Ons kan sy liefde en nabyheid op ’n besondere manier beleef! 

· Dis terselfdertyd ‘n saak van geweldige groot erns en verantwoordelikheid dat ons God se woonplek is. Ons as tempel is ’n heilige, afgesonderde, spesiale plek. Ons durf niks wat vuil is toe te laat in ons lewens nie, juis nie venootskappe en vriendskappe wat ons gaan besoedel nie. 

DIREKTE UITDAGING! 

Paulus rig nou ’n kragtige uitdaging en besondere belofte aan sy lesers. Daarom: "Gaan van hulle af weg en sonder julle af," sê die Here, "en moenie wat onrein is, aanraak nie." "Dan sal Ek julle aanneem en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees," sê die Here, die Almagtige. (17) Omdat God nou woon onder sy volk in terme van sy belofte van die Nuwe Verbond is dit vir ons ‘n kragtige aansporing tot ‘n heilige lewe. Afgesonder en toegewy aan God. Hy verwys na Jesaja 52:11. Dit gaan oor die verlossing uit Babel. Die volk Israel moes Babel verlaat , hulle moes die heidense stad vaarwel roep, want hulle was ‘n priesterlike gemeenskap, draers van die heilige voorwerpe van God. Hoeveel te meer geld dit nie van die nuwe volk van God nie. Ons is nou mos ‘n heilige priesterdom. Ons is verlos uit die ballingskap en slawerny van sonde... 

Ons moet sigbaar en moreel anders wees as die res van die mensdom. Lyk en doen jy anders? Waar daar nie meer hierdie andersheid is nie, is ons nie meer God se afgesonderde priestervolk nie. Die klem val op etiese en nie fisiese afskeiding nie. Die opdrag beteken nie om eenkant in klooster te gaan woon nie, maar anders te wees, anders te leef! 

En moenie die heerlike BELOFTE vergeet nie: “en ek sal julle aanneem...” God self gaan in ‘n besondere naby innige verhouding met julle staan as heilige mense wat anders leef! 

Paulus verwys nou in 7:1 na die beloftes van 6:17. “Geliefdes, hierdie beloftes is ook vir ons. Laat ons ons dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig, en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toewy.” ( 2 Kor. 7:1) Hierdie beloftes raak ons direk. Ja, sy eerste lesers, maar ook ek en jy! Hy raak nou prakties en wil sê : “Julle is die tempel van God, God woon onder julle, maar kyk julle moet besef as God onder julle woon dan moet sy woonplek (julle) skoon wees! Moenie die fout maak om te dink dat God saam met die afgode woon nie! 

Die heilige God woon nie in ‘n morsige hool van onreinheid nie! 

Miskien moet ek of jy hoor : "Daardie YouTubeclips wat jy kyk pas nie by God se woonplek nie...” Paulus gebruik dus hierdie beloftes van God om sy lesers kragtig aan te spoor tot ‘n heilige lewe. Om dit na te streef moet ons alle oorsake en geleenthede van besoedeling van ons af verwyder. Deur term “liggaam en gees” sluit hy die hele spektrum van alle moontlike bronne van besoedeling in.. In respek en eerbied vir God se ontsagwekkende heiligheid moet ons gehoorsaamheid en heiligheid nastreef. 

VAT SAAM 

God se genade beteken nie dat die onderskeid tussen heilig en onheilig uitgewis is nie. Ons word immers nie vrygespreek omdat God nou tot die slotsom gekom het dat sonde nie iets ernstigs is nie. Ons word vergewe omdat Christus met Sy lewe betaal het vir ons skuld. Pasop dus om valse gevolgtrekkings vanuit die vergifnis te maak. Vergifnis is geen vrypas om ons sondige aard uit te leef in kompromie met die wêreld nie. 



Paulus pleit hier vir die verbreking van alle bande en verbintenisse met ongelowiges wat ons geestelik skade kan berokken en tot kompromieë lei.  In vandag se taal:


PASOP WIE IS JOU FACEBOOK VRIENDE, JOU WHATSAPP KONTAKTE EN JOU INSTAGRAM BELANGSTELLINGS!


As ons hierdie opdrag nalaat versmoor ons God se beloftes. Dit beteken dat ons die vreugde van ‘n heilige lewe verbeur en ontbeer. Ja, dis ‘n Bybelse waarheid, hoe meer heilig hoe meer blydskap! Hoe meer heilig hoe meer beleef ons die vreugde van God wat deur sy Gees in ons woon! 

Om heiligheid na te streef met die regte motief moet ons altyd onthou wie ons is. Elkeen wat aan Christus behoort is die tempel (woonplek) van die heilige God. Wie erns maak met hierdie feit sal onmoontlik met die ou lewe van sonde en kompromie kan voortgaan.

(vlnr) Jané Redelinghuys, Mario Nel, ds. Johannes, Teri-Dona Davids, Ferdinand  Gerd Kronsbein, Marco Nel, Demi Louw, Stephanus Johannes van der Merwe, Stephné Jo Voigts, Hermanus Bothma Keyser, Christin Opperman, Johannes Andries Steenkamp.

Mag julle elkeen volhard in die geloof en julle belydenisaflegging van vandag nooit vergeet nie!







Donderdag 11 Augustus 2016

“ONSKULDIGE PLESIER”

- DIE TAKTIEK VAN BILEAM



God se liefde vir sy kinders is oneindig groot. (Kliek op FEITE) Die bewys : Hy het ons losgekoop uit sondeslawerny met ’n baie hoë prys - die bloed van sy eie Seun, Jesus. Daarom weet dit : God se kinders is sy oogappels, uitverkorenes! Jy vra : “Regtig? Ek het nog soveel foute, ek val so maklik?” Ja, as jy alleenlik op Jesus Christus vertrou is jy ’n geliefde uitverkorene...! Juis daarom is ons ’n teiken van Satan - hy wil ons kwaad aandoen, laat struikel, vernietig. Al Satan se helse woede is gefokus op God se kinders. Omdat hy God haat, haat hy elke kind van God en soos ’n brullende leeu soek hy wie hy kan verslind. Satan bedreig God se kinders : Hy het dit in die Ou Testament gedoen en hy het dit in die tyd van die Nuwe Testament gedoen en hy doen dit nog steeds. Hy wil ons dislojaal maak teenoor God, hy wil ons verlei om God se liefde te vertrap en te minag!



Nou hoe gaan hy te werk? Tydens die Uittog uit Egipte het die Israeliete deur Moab getrek. In Numeri 22-24 lees mens die merkwaardige verhaal hoe die heidense Moabitiese koning Balak, ’n towenaar/waarsêer met die naam van Bileam gehuur het om God se volk Israel te vervloek! Hy wou ’n vloek ("spell") op hulle plaas! Niks anders nie as ’n aanslag van Satan teen God se volk! Maar wat gebeur toe? Lees maar self - Balak se plan misluk, want God dwing toe vir Bileam om Israel te seën in plaas van te vervloek! (In die proses het God selfs ‘n pratende donkie gebruik!) God is almagtig! God is sterker as die Satan en sy handlangers. 



Hierdie geskiedenis jubel dit uit : God is getrou en almagtig; Hy beskerm en bewaar sy mense!



~ God is getrou aan sy beloftes. Hy het beloof Hy sal hulle na die land Kanaän lei, en Hy hou sy beloftes! Hoekom? Numeri 23:19 -“ God is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie.”

~ God is almagtig- Hy beskerm sy volk teen bose magte! Dit word so pragtig gestel in Numeri 23:23 “Geen toordery rig iets uit teen Jakob nie, geen waarsêery iets teen Israel nie.” Dis presies wat die NT ook vir ons leer- Jesus sê vir sy skape wat na sy stem luister :”Niemand kan julle uit my hand ruk nie!” (Johannes 10:28) Dis ’n heerlike vertroosting. So dikwels leef party Christene in vrees vir geheime organisasies, Sataniste, vloeke en wie weet wat alles! Die groot gevaar is eerder dat ons aandag afgelei word deur allerhande grillerige stories van die werklike bedreiging. Wat is die werklike bedreiging wat ons elkeen bedreig?

VERLEIDING TOT KOMPROMIE

Jy sien Satan gee nie so maklik moed op nie. As sy vloeke  en towerspreuke nie werk nie, maak hy ’n ander plan. Wat is dit? Wat is die werklike gevaar vir die kind van God? Die werklike bedreiging is die taktiek van Bileam : Kompromie met sonde deur oënskynlik onskuldige pret en plesier! Bileam se vloeke kon niks teen Israel uitrig nie, maar op ’n ander manier het hy Israel geweldig skade berokken. Hoe? Hy het aan die Moabiete die raad gegee* om die Israeliete na hulle feeste te nooi. (Moses verwys hierna in Numeri 31:16 as hy verklaar : “en deur toedoen van Bileam was juis húlle (die Moabitiese vroue) die oorsaak dat die Israeliete by Peor ontrou was aan die Here en daar ‘n ramp oor die volk van die Here gekom het!” Vergelyk met Numeri 25:1-4**) En wat gebeur? Israel val daarvoor, hulle val in die strik van afgodery en seksuele sonde. Hulle sondig en God self rig toe verwoesting onder hulle aan. God bring ’n ramp oor die Israeliete en 24 000 sterf! (Numeri 25:9) 

Baie belangrik om dit raak te sien : Die Satan kon nie deur ’n bose towenaar skade aanrig nie, maar toe Israel kompromie maak met sonde, toe word God self hulle vyand en hulle word swaar gestraf! Let wel – God, nie die duiwel nie, maak sy volk dood!

VERMAAK EN FEESTE

Die grootste bedreiging vir God se kinders is nie vloeke nie, nie openlike vervolginge of geweld, dreigemente van Sataniste, geheime organisasies, hekse of towenaars nie, maar kompromie met sonde! Dis die taktiek van Bileam - subtiele kompromie. Hoe gebeur dit? Die wêreld nooi ons na hulle vermaak, feeste en karnavalle uit! Die wêreld dreig ons nie en sê julle mag nie Bybel lees of kerk toe gaan of bid nie. (So ’n taktiek sou nie werk nie) Nee, die wêreld nooi ons uit – “Kom deel in ons onskuldige pret! Ag, kom kyk maar na ons TV sepies waar wellus en losbandigheid en gierigheid verheerlik word, kom hou saam partytjie waar ons saam dronk kan word, kom deel in ons plesiertjies, kom JOOL en karnaval saam, dis mos vir ‘n goeie doel”- maar dis juis dan wanneer ons in dronkenskap, losbandigheid en allerhande ander sonde verval. Ook Dawid het al die gevaar van die goddelose se feeste ingesien : “Hou my gedagtes weg van verkeerde dinge, dat ek nie in sonde verval saam met manne wat onreg doen nie, en dat ek nie deelneem aan hulle feeste nie.” (Psalm 141:4) 

Hierdie taktiek, die taktiek van Bileam naamlik kompromie met losbandigheid was ook in die Nuwe Testament ’n bedreiging. Die gemeente van Pergamum word hieroor voor stok gekry in Openbaring. “Maar Ek het ‘n paar dinge teen julle. Julle het mense daar wat die leer van Bileam aanhang. Hy het vir Balak geleer om die volk Israel van My afvallig te maak, sodat hulle afgodsoffervleis geëet en onsedelikheid bedrywe het.” Sien Openbaring 2:14 (Hier kry ons dus ‘n duidelike verwysing na die tragiese gebeure in Numeri) Destyds kon die bywoning van heidense feeste baie maklik lei tot kompromie met onsedelikheid en afgodery. Daar was byvoorbeeld aan die begin van die Lente ’n drie dae lange Dionisiusfees wat met ’n hewige gedrinkery en onsedelikheid gepaardgegaan het! Klink bekend!?

God duld nie kompromie met sonde nie. Daarom waarsku Hy die gemeente van Pergamum om hulle te bekeer! As hulle hulle nie sou bekeer nie, sal Hy hulle self bestry met die swaard van sy mond! (Openbaring 2:16) Kan jy sien, net soos destyds tydens die woestyntog, word God sy eie mense se vyand as hulle kompromieë met sonde maak. 

Die taktiek van Bileam is vandag nog steeds die grootste bedreiging vir die kerk van Jesus. Die werklike gevaar vir die kind van God is nie Sataniste of kommuniste nie, nie die ANC, ISIS en Islam nie, nee dis kompromie met sonde. Hoekom? Kompromie met sonde bring God se oordele oor sy eie mense, sy eie kerk! (In ons dag het dit al so ver gegaan, sommige van hierdie feeste word deur die kerk self gereël. Kliek op ARRESTEER JESUS )

Wees dus waaksaam! Wees versigtig vir die feeste, flieks en karnavalle van die wêreld. Moenie naïef wees nie! Waak en bid! Vlug weg van alle kwaad (2 Timoteus 2:22) en dien die Here met ’n heilige lewenswandel saam met ander kinders van God wat Hom ook in heiligheid dien. Dan het ons niks te vrees nie!

TROOS EN WAARSKUWING

Die geskiedenis van Bileam bring groot vertroosting, maar ook ’n dringende waarskuwing :

~ Vertroosting : Moenie beangs raak oor Satan nie - geweld van bose magte kan Satan nie God se kinders van hulle verlossing beroof nie!!

~ Waarskuwing : Moenie God uittart deur kompromie met sonde nie. Dit bring sy oordele oor ons. Wees versigtig vir die feeste van die wêreld! 

Kind van God vlug van alle sonde en glo dan die heerlike waarheid van Judas vers 24,25 wat sê :

“Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen.”

NASKRIF : En terloops, moet asseblief nie so liggelowig wees nie, alle feeste en funksies wat met SKRIFLESING EN GEBED geopen word is nie noodwendig Christelik nie, gaan kyk maar wat gebeur by die biertent en die dans kort daarna...Kliek op BYGELOOF



* Du Rand, Die A-Z van Openbaring, p174

**NUMERI 25:1-4

“Terwyl Israel in Sittim was, het van die Israelitiese mans met Moabitiese vrouens gemeenskap gehad.

Dit het gebeur toe die mans deur die Moabitiese vrouens uitgenooi is na die offers ter ere van hulle gode. Die mans het aan die offermaaltye deelgeneem en die gode van die vrouens aanbid.

So het die Israeliete vir Baäl-Peor aangehang. Die toorn van die Here het teen Israel ontvlam en Hy het vir Moses gesê: "Vat hierdie manne se leiers en hang hulle in die openbaar voor die heiligdom op. Dan sal my toorn nie langer teen Israel woed nie."

Dinsdag 18 Junie 2013

MELINDA,

God hou nie van mengelgodsdiens nie!

‘n Tyd gelede het my oog op ‘n BBC artikel oor ‘n baie moderne sangoma, Thabiso Siswana geval. Daarin lees mens :

“She lets out a piercing cry, her body starts shaking violently, her hands are clapping to the rhythm of large African drums - she is calling out to her ancestors. Thabiso Siswana is a traditional healer, known in South Africa as a sangoma.”

Ingeligtes weet dat voorvaderaanbidding eintlik maar ‘n vorm van satanisme is. Die sogenaamde manifestasie van die voorvaders is niks anders as ‘n maskerade van demone nie. Dis egter nie die skokkendste nie. Wat mens die meeste ontstel van Thabiso is dat sy kan verklaar : “We are Christians at home and we go to church like everyone else”

Dit laat mens wonder, beteken die naam Christen nog enigiets?

Die onkunde van wat Christenskap behels, vind mens egter nie net by die aanhangers van tradisionele Afrika godsdienste wat deur die heidendom verblind is nie, maar in al toenemender mate by kerklik gepleisterde westerse afgodsaanbidders wat heeltemal mislei is deur hulle kompromie met die gode van gierigheid, magsbeheptheid, wellus en wêreldsgesindheid. Ek het geen persoonlike vendettas nie, maar die “uitgesproke Christen”, Melinda Bam, voormalige mejuffrou Suid-Afrika met haar uitlokkende uitrusting se aanwysing deur FHM as “sexyste vrou”  noop my om my mond oop te maak. (en dalk ‘n paar snorbaarde te trek...)

Wat sê God se Woord oor sulke vermenging van lig en duisternis?

GOD HAAT MENGELGODSDIENS

Dis eintlik vanselfsprekend, want Hy alleen is die Skepper van hemel en aarde. Hy alleen is die ware Verlosser van sy mense. Daarom kry die volk Israel die duidelike opdrag na hulle wonderbaarlike verlossing uit Egipte : “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.”

Natuurlik was hulle nie gehoorsaam nie, en moes tot hulle groot skade en skande agterkom dat God bedoel wat Hy sê. Die debakel van die goue kalf in Eksodus 32 het dit baie duidelik gemaak.* Dit was ‘n klassieke poging tot godsdiensvermenging. Nadat Aäron ‘n goue kalf gemaak het kondig hy aan (hoor bietjie mooi): “Môre is daar fees tot eer van die HERE.” Ja, die fees word nog steeds in die naam van die HERE gehou, maar op die heidense manier van dansery en goue kalf verering! God was (en is) nie hiervoor te vinde nie en dit wek sy toorn op.

God se verwerping in die Ou Testament van alle vorms van kompromie en sinkretisme is welbekend. Dink maar aan koning Jerobeam se poging tot godsdiensvermenging ter wille van sy persoonlike sekuriteit (1 Konings 12) en God se oordeel daarop. (1 Konings 13) Jerobeam het gevolglik ‘n standaard voorbeeld van afvalligheid geword!

Ook die Nuwe Testament maak dit duidelik dat God heilige afsondering van sy kinders verwag. Natuurlik hoef God se kinders hulle nie self in kloosters op te sluit nie, maar daar is sekere mense en gebruike waarmee ons niks te doen mag hê nie. Paulus kon hierdie beginsel kwalik duideliker gestel het as in 2 Korintiërs 6:14-7:1 waar hy skryf :

"Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? 

En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? 

Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. 

Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; 

en Ek sal vir julle 'n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.

Geliefdes, hierdie beloftes is ook vir ons. Laat ons ons dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig, en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toewy."

Die weiering tot kompromie wat ware Christene se lewe kenmerk is juis die grootste rede waarom hulle verwerping en vervolging van die gemeenskap in die gesig staar. Kinders van God is teen-die-stroom-swemmers en hulle word nie deur goddeloses met toekennings vereer nie, maar eerder bespot en beswadder! So stel 1 Petrus 4:3,4 die verwerping van Christene deur die goddelose samelewing as ‘n feit: 

“In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg— en drinkpartye en afskuwelike afgodery. Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle.”

As mens oor heiligheid praat kom die die Christelike partytjiegangers natuurlik altyd met die skynslim teenvraag : “Het Jesus dan nie saam met tollenaars en sondaars geëet en gedrink nie?” Ja, Hy het beslis. Hy het bemoeienis gemaak met die verworpe klasse van die destydse samelewing, om hulle tot bekering te roep. (Matteus 9:13 OAV) Met Melinda se halfnaakte uitrusting roep sy duidelik nie FHM se uitgewers of lesers tot bekering nie, maar lok sy hulle eerder uit tot sonde. Enige vergelyking van soortgelyke gedrag met Jesus se optrede is absurd en grens aan lastering of dan ten minste gruwelike Skrifverdraaiing.

Dit lyk my asof alle Christelike onderskeidingstekens afgespoel word in ‘n modderbad van morele relatiwisme. Christelike vrugte is vervang met ‘n valse verdraagsaamheid. Vergete is die opdrag om te verafsku wat sleg is en vas te hou aan wat goed is. (Romeine 12:9) Die benaming “Christen” het totaal niksseggend geword.

Is Thabiso en Melinda Christene? Is Naas Botha ‘n Stormer? Is Julius Malema ‘n Voortrekker?  Is Robert Mugabe voorsitter van die TLU? Is die Pous ‘n Protestant..?

Vir 'n Christelike standpunt oor skoonheidskompetisies, kliek op Sneeuwitjie se Stiefma.

*prentjie : the living lettre chronicles