BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Afskeiding. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Afskeiding. Wys alle plasings

Donderdag 03 Maart 2022

GAAN ONS LUISTER NA DIE GEES?

- dis 'n saak van erns! (maak jou Bybel oop)

Verlede jaar het ons, hier in die NGK Tsumeb (dolerend) vir sewe weke saam gekyk na die boodskap van die briewe aan die sewe gemeentes in OPENBARING 2,3. Hopelik het dit ons diep laat nadink. Hopelik gaan dit daartoe lei dat ons dinge anders gaan DOEN in ons gemeente. Ons gaan nou net so bietjie oorsigtelik kyk na die sewe briewe se kern punte.

Dis ’n saak van erns. Aan die einde van elke brief lees ons telkens - “Laat die wat ore het luister na wat die GEES aan die gemeentes sê” (2:29 ens) Baie insiggewend, die Heilige Gees praat met ons deur die Woord. Hierdie Woord wat ons in ons hande het, wat ons nou hoor! Dis die stem van die Heilige Gees van God! Dis nie maar ‘n menslike opinie nie. Wee, ons as ons dit ignoreer!

Wat is die boodskap wat Jesus deur die Woord en die Gees aan ons bring? Eerstens. Jesus weet als van ons... Dis 'n deurlopende waarheid en tema. 'n Refrein deur die briewe…“Ek ken julle...” Jesus weet van die goeie dinge, maar ook van die slegtes. Hy sien en weet wat mense nie sien en weet nie. Hy is immers die Oorwinnaar Verlosser wat tussen die staanlampe (gemeentes) wandel… ons is sy eiendom. Ons moet sy opinie en opdragte ernstig opvat.

Jesus prys sy gemeentes en moedig hulle aan. Die dinge wat uitstaan waarvan Hy hou kry ons byv 2:2,3; 2:13; 2:19. Belangrik -Jesus kyk anders as mense. Vir ‘n gemeente wat arm is, prys Hy dat hulle eintlik ryk is. 

Hoor wat skryf Hy vir Smirna- 2:9 Hulle besit ware evangelierykdom al is hulle materiaal maar sleg daaraan toe. Terloops, Hy raas met nie een gemeente oor hulle lidmaatsgetalle of hulle geld te min is nie! (Oeps,... is dit nie die eerste dinge waaroor ’n kerkraad bekommerd raak nie?) Aan die anderkant is die gemeente van Laodisea ryk, maar eintlik is hulle geestelik bankrot. 3:17,18 Die ergste is, hierdie geestelik bankrot gemeente besef dit nie eers nie, hulle is selfvoldaan en heeltemal gelukkig met hulle self. Weereens Jesus kyk anders as ons. Ons kry dit ook in die brief aan die gemeente van Filadelfia (3:8b) Dit lyk maar na ‘n swak en onbeduidende gemeentetjie, maar eintlik is hulle sterk en word hulle geprys vir hulle volharding.




Jesus vermaan en waarsku sy gemeentes baie ernstig. Dis soms baie kras en kru. (2:4,5) Hierdie gemeente van Efese het wonderlike volharding en liefde vir die waarheid betoon, maar hulle het afgekoel in hulle persoonlike liefde vir Jesus. Hulle het die regte dinge gedoen, maar daardie eerste opgewondenheid oor Jesus was nie meer daar nie! Gevolge… skrikwekkend! Een van die verwyte wat telkens na die gemeentes kom is dat hulle dwalinge en losbandige gedrag in hulle eie geledere toelaat. 

Let op – Jesus raas nie oor die boosheid en goddeloosheid wat rondom hulle in die wêreld aangaan nie, Hy betig hulle oor die slegte dinge wat binne die kerk toegelaat het. (2:14; 2:20) Die probleem is dat daar nie meer dissipline en tug binne die gemeentes toegepas word nie. Almal word maar toegelaat om te leef soos hulle wil. Is dit nie baie aktueel nie? Een van die ergste beskuldigings teen ‘n gemeente kry ons in die brief aan Sardis. (3:1b) ‘n Aktiewe gemeente met ‘n goeie naam, maar in Jesus se oë is hulle dood!

Belangrik. Wat is die doel van Jesus se waarskuwings en bestraffings? 

Jesus se motief is liefde en sy doelwit is bekering!  



(Ook wanneer ons dit nodig vind om ander aan te spreek moet dit ons motief en doelwit wees!) Hoor ons – mense binne die kerk word opgeroep tot BEKERING. Waaroor gaan hierdie bekering? Dit gaan oor ‘n terugkeer na Jesus self. Om Hom weer lief te hê, om kerk te wees uit liefde vir Hom. (2:4,5) Dis erg – ‘n gemeente wat steeds aktief is en by die waarheid staan, maar wat nie meer opgewonde oor Jesus is nie. Maar daar is nog erger toestande van verval- soos wat in Laodisea gebeur het - dat ‘n gemeente van Jesus in so ‘n toestand van selftevredenheid kan verval dat Jesus eintlik buite staan. Dink daaraan – ‘n gemeente van Jesus, maar daar is nie meer plek vir Hom nie. Jesus staan buite sy eie gemeente. En tog – Jesus het selfs hierdie gemeente nie afgeskryf nie, maar nooi hulle uit om weer die gemeenskap met Hom te herstel – 3:20. 




Terloops, in hierdie sewe briewe kom ‘n baie belangrike waarheid na vore – nêrens en nooit roep Jesus lidmate op om hulle van ‘n dooie of vervalle gemeente af te skei nie. Ja, jy hoor reg – nêrens nie! Die opsie van afskeiding van ‘n gemeente – en onthou in sommige van hierdie gemeentes soos Sardis en Laodisea het dit beroerd sleg gegaan – word nie eens as ‘n uiterste alternatief genoem nie! Nee, die gemeente word tot bekering en vernuwing opgeroep! Die probleme, sonde, doodsheid en louheid moet binne in die gemeente reggemaak word.

Waarom is bekering en volharding so belangrik? Daar is ‘n oorwinning wat behaal moet word. Telkens word daar die heerlikste Goddelike beloftes gemaak aan wie oorwin! (2:7b; 3:21) Ja, God se mense is in ‘n stryd betrokke. Daar is geen maklike pad na die nuwe Jerusalem nie. Daar is ‘n oorwinning wat behaal moet word. Daar is ‘n heerlike ewige beloning vir die oorwinnaars. Ons mag dit nie misloop nie. Daarom moet ons die boodskap van Jesus aan sy gemeentes ernstig opneem, ons bekeer van alles waarvan Hy nie hou nie en volhard te midde van versoekings en swaarkry. (3:11) 

Ons moet mooi luister en vinnig reageer… Dit het baie laat geword! Jesus se koms is naby. Gaan ons luister na die Gees…?

Vrydag 06 November 2015

Teen-Evangelie strategie

- die besluite van die Algemene Sinode om selfdegeslagverhoudings goed te keur en kerklik te seën, is baie meer as maar net ‘n etiese kwessie!

Oor etiese kwessies en die fynere toepassings daarvan sal daar altyd verskille onder Christene wees. Mag ‘n Christen rook, kaartspeel of sport op Sondag beoefen? Watter dae is belangrik en watter kos mag ons eet of nie...? Die Bybelse beginsel in sodanige sake is verdraagsaamheid, vryheid en die inagneming van die swakker broeder se gevoelens...

Wanneer iets wat die Bybel duidelik sonde noem egter nie alleenlik oorgesien, goedgepraat, maar selfs kerklik gesanksioneer en geseën word, dan is die hart van die evangelie op die spel. My vriend dr. Hein Strauss het dit baie skerp opgesom in sy opmerking : “Dit bly my verstom dat die hele gay-kwessie tot so 'n uiters doeltreffende teen-Evangelie strategie ontwikkel het...” Dis presies waaroor dit gaan – die gay agenda is ‘n teen-Evangelie aksie! Die Algemene Sinode besluit is ‘n besluit teen Christus en sy evangelie!

Kan mens so sê? JA! Ek gaan verduidelik hoekom.

Kom ons kyk na 1 Korintiërs 6:9-11 "Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God."

Hier is ‘n lys van dinge wat die Here baie ernstig opvat. En ja, laat ons baie konsekwent wees, nie alleenlik homoseks is ‘n afskuwelike sonde nie, maar ook dronkenskap of skinder! Dis ‘n teks wat ons almal weer moet laat sidder... Nou waarom is die sinodebesluit oor homoseksualiteit dan so erg?



Kan ons dit nie maar goedpraat nie, want is ons nie almal maar in elk geval skuldig aan iets soos gierigheid of bedrog (daai belastingopgawe!) nie?



Hier kom ons nou by die verskil. Geen sinode (so ver ek weet) het dronkenskap of gierigheid al tot ‘n aanvaarbare leefstyl verklaar wat amptelik deur die kerk geseën mag word nie!



As sonde tot niet verklaar word, word die evangelie ook oorbodig verklaar! Dan was die plaasvervangende kruisdood van Jesus en sy liggaamlik historiese opstanding ook mos nie nodig nie! En hier kan ons twee en twee bymekaar begin tel. Die groot voorpraters van die gay agenda is nie juis bekend as mense wat sterk staan vir die kruisboodskap en die historiese opstanding nie. Gaan kyk maar. (daar sou wel uitsonderings kon wees) Diegene wat die Algemene Sinode se gaybesluit bevorder het of nou toejuig is (meestal?) mense wat dikwels ander basiese Bybelwaarhede ontken. Dis mense wat binne die dampkringe van die sogenaamde Progressive Christianity beweeg en opereer. Hierdie rigting verkondig lankal nie meer die kruisevangelie van verlossing deur die bloed van Jesus nie. Hulle praat wel van sy kruisdood maar slegs in die sin van ‘n heldedood vir ‘n goeie saak. In die sin waarvolgens Martin Luther King of Dietrich Bonhoefer ook hulle lewens vir ‘n goeie saak opgeoffer het. (Kliek op MARCUS BORG) Hulle staan nie by die raamwerk van die Heidelbergse Kategismus van sonde, verlossing en dankbaarheid nie. Jesus is vir hulle maar net ‘n morele hervormer. En Hy is vir hulle ook maar net een van baie hervormers in dieselfde klas as 'n Boeddha of 'n Mandela.



Die Algemene Sinode besluit raak die hart van die evangelie! Die saak is baie belangriker as wat ons dalk besef.



Die NG Kerk staan hier voor ‘n lakmoestoets of ons hoegenaamd voor die openbaring van God se woord gaan buig en of ons ‘n mens gemaakte godsdiens beoefen? Eer ons God of is ons gedienstig aan die grille en giere van die sondige mens?


Die verwyt word gehoor : “Seksualiteit is hoegenaamd nie so ’n kern-saak in die geloof dat dit afskeiding regverdig nie.”

So op die oor af klink dit na ‘n heel aanneemlike stelling. Die Christelike boodskap het immers baie meer om die lyf as ‘n bepaalde seksuele moraal of gedragskode. Maar kom ons dink ‘n bietjie dieper en luister na die wyd erkende wyd erkende en bekwame teoloog, D.A. Carson :


"At one level I want to say that homosexuality is the wrong issue to divide the church over. It reminds me a bit of what happened at the reformation when Martin Luther nailed the 95 thesis to the gate, to the door of the Wittenberg church in 1517. The trigger issue was selling of indulgences. Imagine splitting the entire western church over indulgences! In one sense it was the wrong issue, but it became the trigger issue about whether you live under the Bible or not…….it affected everything. Homosexuality has become in our day, in many denominations a trigger for a very simple issue; will we live under the authority of the word of God or will we not? And that is absolutely everything. You just can’t duck that one. Sooner or latter you face that issue or you die."



Nie net die Baptis, Carson help ons hier nie, ook die Anglikaan, JI Packer : 

Nadat die Anglikaanse kerk se sinode van New Westminster in Junie 2002 aan biskoppe in hulle gebied die reg gegee het om homoseksuele persone te trou, het dr JI Packer (bekende gereformeerde Christen skrywer en teoloog) saam met ’n aantal sinodegangers as teken van protes die sinodesaal verlaat. Dr JI Packer het ’n artikel geskryf om sy protes-optrede te verduidelik. Sy hoofrede oor hoekom hy uitgestap het, spel hy vir ons baie duidelik uit. “Why did I walk out with the others? Because this decision, taken in its context, falsifies the gospel of Christ, abandons the authority of Scripture, jeopardizes the salvation of fellow human beings, and betrays the church in its God-appointed role as the bastion and bulwark of divine truth.” 

Ja, op sigself is seksualiteit miskien nie so ‘n kernsaak nie, maar in ons huidige debat en konteks, gaan dit wel oor een geloofsbelangrike kernsaak : Erken ons nog die Woord van God as die finale gesag in leer en lewe? Staan ons nog hoegenaamd by die evangelie van Jesus Christus? Dis die antwoord wat die NG Kerk en elke lidmaat nou afsonderlik moet gee..

"Ja, maar julle oordryf als. Die Algemene Sinode besluit stel tog duidelik dat elke kerkraad sy eie diskresie mag gebruik...", so word ons gepaai. D.A.Carson het weer wyse woorde in die verband :

"You see they’ll start off by saying “We’ll allow each church to decide on their personal preference” and so it seems big hearted and wide minded to allow diversity of opinion on this, but pretty soon when more of those people get into office, what I’ve discovered is that, in the vast majority of cases, the least liberal people in the world are liberals, that is they are the least yielding, the least flexible, and pretty soon they start saying that unless you espouse egalitarianism, unless you espouse the legitimacy of homosexuality therefore you are out of here! Well at some point then it becomes a matter of absolute conscience, you have got no choice in the matter."

Mag ons hierdie wyse waarskuwing ter harte neem...

Diegene van ons wat sterk oor die AS se besluit voel en ons daarvoor beywer dat Ringe en Sinodes drasties moet standpunt inneem, word nou beskuldig van verwaandheid, onregverdigheid en natuurlik liefdeloosheid. Ons hoor ook verwyte dat ons nie weet hoe om 'n teks binne konteks te interpreteer nie, ons is bloot moraliste wat dan nou kwansuis nie weet Christenskap gaan oor 'n verhouding nie, ons sou dan net in 'n toornige God glo wat straf en nie in die verlossing wat Jesus bring nie... Dis alles pogings om 'n karikatuur te maak van mense wat maar net in nederigheid aan God se Woord gehoorsaam wil wees. Maar laat ons maar hierdie beledigings met blymoedigheid dra ter wille van die eer van God en die saak van die evangelie!

Naskrif : Die groep Suid Kaapse rings verteenwoordigers se sterk protes, is myns insiens dus geregverdig! (Kliek op SUID KAAP) Die stryd gaan daaroor of daar nog hoegenaamd plek vir die evangelie in die NG Kerk is!

Dinsdag 13 Oktober 2015

OTJIWARONGO STAAN OP VIR DIE WAARHEID!

BESLUIT

DIE KERKRAAD VAN DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK OTJIWARONGO HET OP ‘N BUITENGEWONE VERGADERING GEHOU OP DIE 13DE OKTOBER 2015 DIE VOLGENDE BESLUIT GENEEM:
                                                                                                                

ONS STANDPUNT TEENOOR DIT WAT DIE PAS-AFGELOPE ALGEMENE SINODE VAN DIE NG KERKVERBAND BESLUIT HET OOR SELFDE-GESLAG-VERHOUDINGS (Bewoording met vergunning aan die NG Kerk Moreletapark).


1.      Ons is oortuig dat die Skrif ons leer dat ‘n huwelik die lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is, wat mekaar met die liefde van Christus versorg.  Ons aanvaar dat die enigste wyse waarop ‘n Christelike huwelik tot stand kom is tussen een man en een vrou waar Christus in die middelpunt is.
2.      Ons glo dat die Skrif daaroor duidelik is dat alle seksuele verhoudinge buite die huwelik teen God se wil en plan is.
3.      Ons glo dat die beoefening van homoseksualiteit teen God se wil en plan is soos alle ander sondes waaroor die Skrif praat. Vir al hierdie sondes is daar vergifnis en vrymaking deur die bloed van Jesus Christus.
4.      Die gemeente se deure staan met die liefde en deernis van Christus oop vir alle mense. Wanneer ‘n persoon egter in enige sonde volhard kan hy/sy nie in ‘n leiersposisie (leraar, personeel, bestuurslid, bedieningsleier of aanbieder)  in ons gemeente  dien nie.
5.                Ons wil steeds as kerk die oop arms van Jesus wees wat vir alle mense genade, vergifnis en heling bied.
                                                                                                                
WAT ONS NOU PRAKTIES TE DOEN STAAN.


1.   Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo verbreek onmiddelik alle bande met die Algemene Sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika.

2.   Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo behou voorlopig kerkverbandelike verbintenis met die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië. Die eersvolgende sinode van die Nederduitse Gereformeede kerkverband in Namibië sal bepaal of die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo haar verbintenis met die NG Kerkverband in Namibië sal handhaaf al dan nie.

(Nota: Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo betreur die feit dat die afgevaardigdes van die NG Kerkverband in Namibië die landswette van Namibië moes voorhou as rede waarom nie akkoord gegaan kan word met die besluite van die Algemene Sinode nie. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo sou verkies dat enkel en alleen op suiwer Bybelse beginsels gestaan sou word wanneer die NG Kerkverband in Namibië se betrokkendheid by die AS se besluit, oorweeg word.)

3.   Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo staak met onmiddelike effek alle finansiële bydraes aan die Algemene Sinode. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo gaan wel huidiglik voort met sy finansiële bydraes aan die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië met die duidelike en pertinente voorwaarde dat geen deel van hierdie bydra aan die Algemene Sinodale Verband oorbetaal mag word nie. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo vra dat die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië via sy sinodale kantoor asseblief aan ons die versekering sal gee dat geen so ‘n oorbetaling aan die Algemene Sinode gedoen sal word nie. Indien die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië dit nie moontlik vind om aan die NG Kerk Otjiwarongo se versoek te voldoen nie, sal die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo verplig wees om voorlopig sy finansiële bydraes aan die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië te staak tot tyd en wyl die NG Kerkverband in Namibië se standpunt betreffende selfde-geslag-verhoudings bekend is. In so ‘n geval sal die NG Kerk Otjiwarongo die betrokke betalings in ‘n aparte rekening deponeer, en indien die NG Kerkverband in Namibië dan wel uiteindelik aandui dat sy die weg van God se Woord gaan volg betreffende selfde-geslag-verhoudings, sal die teruggehoude gelde dan volledig aan die NG Kerkverband in Namibië oorbetaal word (So ‘n besluit deur die NG Kerkverband in Namibië sal vanselfsprekend beteken dat die NG Kerkverband in Namibië haarself losmaak van die Algemene Sinodale verband in SA). Indien die NG Kerkverband in Namibië egter sou besluit om in die spore van die Algemene Sinode te volg, is dit vanselfsprekend dat die NG Kerk Otjiwarongo ook sy bande met die NG Kerkverband in Namibië sal verbreek.


Nota:                    Daar moet baie sorgvuldig in gedagte gehou word dat volgens die basiese beginsels van die Skrif en die gereformeerde kerkreg is die plaaslike kerk (gemeente) volwaardige kerk. Christus is die enigste Hoof en Hy regeer sy kerk deur sy Woord, Gees en die ampte. Die kerkverband kom voort wanneer twee of meer plaaslike kerke op ‘n bepaalde beginsel-grondslag met mekaar in verband tree. Daardie beginsel-grondslag word in die kerkorde omskryf. Die kerkverband hanteer dan ook alleenlik daardie sake wat van gemeenskaplike belang is en wat nie sinvol deur die plaaslike kerk alleen gehanteer kan word nie. Dit is verder ook belangrik om altyd in gedagte te hou dat daar binne die gereformeerde kerkreg en verstaan van kerkwees geen sprake is van hierargie nie. Die ring is nie ‘n hoër vergadering as die kerkraad nie, en die sinode is ook nie ‘n hoër vergadering as die kerkraad en die ring nie. Die ring is wel ‘n meerdere vergadering as die kerkraad, en die sinode is ‘n meerdere vergadering as die kerkraad en die ring. Dit beteken dat op ‘n ringvergadering is daar meerdere ervaring en kennis van die Skrif teenwoordig as op ‘n kerkraad en eweneens so op die sinode as op ‘n kerkraad en ‘n ringsvergadering. Wanneer ‘n ring en/of ‘n sinode egter kennelik en duidelik wegbeweeg van die Skrif af (soos wat nou gebeur het met die Algemene Sinode) dan verloor daardie vergadering onmiddelik en logies sy status as meerdere vergadering, en het die kerkraad (plaaslike Kerk) die reg om sy posisie betreffende die betrokke meerdere vergadering in heroorweging te neem. Ons is immers daartoe verbind om eerder aan God gehoorsaam te wees as aan mense (Hand. 4: 19 en Hand. 5: 29).


[Omatako - sinoniem met Otjiwarongo]

Lees ook : Waarom is dit belangrik om standpunt in te neem? Kliek op SKANDE

En lees ook : DANKIE DOPPERS!

Vrydag 06 Februarie 2015

CHRISTEN SONDER KERK?

- volgens die Woord is Christenskap en deel wees van ‘n gemeente onlosmaaklik aanmekaar verbind. 

Wie en wat is ‘n Bybelse Christen? Wat en hoe belangrik is die kerk? Wat is die basiese vereiste vir lidmaatskap? Hierdie is ingrypend belangrike vrae. Handelinge gee vir ons duidelike beginsels hieroor. 


’n Mens kan nie anders as om getref te word deur die positiewe klanke van liefde, aksie, opwinding, krag en eenvoud in die eerste gemeente nie... Lees gerus HANDELINGE 2:37-47. Ek gaan egter nou net fokus op die stelling in vers 47b. Ons lees hier : “En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.” 

Twee sake is klinkklaar duidelik: 

~ Mense het tot redding gekom. Sondaars is gered, want hulle het die Woord gehoor, hulle het oortuig geword van hulle sonde, hulle het tot persoonlike geloof en vertroue in Jesus Christus gekom! Verlore mense wat onder God se oordeel gestaan het, is dus gered en verlos van hulle sonde en God se ewige toorn. (Onthou daar is net twee soorte mense - gered en ongered!)

~ ‘n Tweede saak is net so belangrik - hierdie geredde mense het nie nou maar op hulle eie voortgekarring nie, hulle het deel geword van ’n gemeente, die kerk van Jesus. Dit was nie maar sommer bloot weeens hulle eie voorkeur nie, die Here het hulle aan die gemeente verbind! Dit was nie maar net ’n geestelike of teoretiese saak nie, hulle het sigbaar deel geword van ’n sigbare gemeente en sigbare gemeenskap van gelowiges! So wat het hierdie geredde mense gedoen? Hulle het hulle openlik geskaar by God se gemeente, hulle was verbind aan die gemeente. Hulle het hulle onderwerp aan die gesag en lering daar en hulle het mekaar gedien in die gemeente! Belangrik : God red nie net ’n klomp losstaande enkelinge nie, Hy maak vir Hom ’n huisgesin/volk bymekaar!* 

Vanuit hierdie twee sake kan mens nou ’n kernwaarheid ten opsigte van egte Bybelse Christenskap formuleer : 

Bybelse Christenskap is Christus gesentreer en Kerk gebaseer!** 

Hiermee word bedoel : ware Christenskap behels ’n persoonlike verhouding met Jesus Christus (Christusgesentreer) en word beleef en beoefen vanuit die kerk (Kerkgebaseer). Bybelse Christenskap impliseer dus dat ’n mens wat persoonlik deur Jesus gered is, God begin dien vanuit en binne die gemeenskap van die kerk! 

As ons hierdie kernwaarheid aanvaar is dit baie duidelik dat ons in praktyk deur twee teenoorstaande tragedies geteister word: 

Sommige mense is uiterlik deel van die kerk maar hulle is ongered. Sommige mense beweer wel dat hulle gered is, maar hulle is los van en onbetrokke by die kerk. 

~ Eerste Tragedie : Nominaal deel van die kerk, maar ongered. Vir ’n ongeredde persoon om aan die kerk te behoort is soos iemand wat aan ’n jagtersklub behoort maar nog nooit self iets geskiet het nie. Stel jouself voor jy het ‘n kluis vol vuurwapens, jy het verskeie veld kursusse bygewoon, jy koop alle jagtydskrifte, jy ken al die teorie en terminologie, jy gesels opgewonde saam oor jag, selfs bekend as ‘n kenner op die gebied van jag, maar daar is net een probleem, jy het nog nooit iets geskiet nie, nie eers ‘n mossie met ‘n windbuks gejag nie... Is jy ‘n jagter? Sekerlik nie! Daar is baie sulke “nie-Christen lidmate” van Christelike kerke! En skrikwekkend om te besef, ongeredde mense wat aan die kerk behoort is nog steeds verlore. (Dink aan die gelykenis van die Tien Maagde) Net terloops - hier kry ons die groot oorsaak vir die baie stryery en twiste in die kerk - ongeredde kerklidmate. Hier lê ook die worteloorsaak vir al die gesukkel om dinge gedoen te kry. Onbekeerdes vir wie alles dorre pligpleging is, daar’s geen ware liefde en entoesiasme nie. Hulle dink die kerk is ‘n organisasie wat een of ander diens aan die lede moet lewer. Of ‘n kultuurvereniging wat een of ander groep se belange moet bevorder, of maar net iets wat daar moet wees! “Ek is maar in die NG Kerk want my oupa was ‘n prominente leier of stigter van die gemeente, dis my reg om lidmaat te wees, moenie my uitvra oor my verhouding met Jesus Christus nie!” 

~ Tweede Tragedie : Mense wat beweer om wedergebore te wees, maar hulle is nie toegewyd aan die kerk nie. Party minag en beswadder selfs die kerk. Ander is bloot onaktief en onbetrokke... Hierdie mense redeneer : “My saak met die Here is reg, ek het mos Jesus aangeneem, so ek hoef my nie aan die kerk te steur nie. Ek kan mos die Bybel op my eie lees, ek kan mos na dienste oor die TV kyk. Ek sal daar eenkant die Here dien soos ek wil en soos ek voel. Die Here sal my op my eie lei.” Hierdie verontskuldigings klink dalk vroom, maar is ’n geweldige stuk misleiding van Satan. Hierdie soort Christenskap mag dalk baie gewild wees in ons individualistiese selfsugtige gemeenskap, maar hierdie soort Christenskap vind mens nie in die Nuwe Testament nie! Nou sal iemand sê : “Ja, ek sou graag deel wou wees van ’n kerk soos in Handelinge, maar in ons kerk is daar soveel foute. Ek hou nie van die predikant nie, ek hou nie van die ouderlinge of ander lidmate nie. Daar is te veel skynheiliges....” Geliefde, as jy so redeneer, openbaar jy skokkende onkunde oor die kerk. Kom ons kyk net vinnig na die wese en aard van die kerk... 

Wie of wat is die kerk? Die kerk is die groep geredde mense wat bymekaar is in Jesus se naam. Hierdie groep mense is amptelik Jesus se liggaam. Nou wat van al die skynheiliges? Weet jy dis waar, daar is waarskynlik skynheiliges in elke gemeente wat bestaan. Maar weet jy solank ons op aarde is sal dit altyd so wees. Selfs in hierdie wonderlike eerste gemeente in Handelinge was daar ‘n Annanias en Saffira. Dink aan Paulus se gemeentes, deur die apostel self gestig, gewoond aan die beste prediking – en tog lees ons van soveel probleme. (Lees maar die Korintiër briewe) Die onvolmaaktheid van gemeentes en gemeentelede  verander niks aan saak dat as groep ons nog steeds saam die liggaam van Christus vorm nie. Weet jy watter geweldige implikasies dit het as ons sê: “Hierdie gemeente, hierdie mense is Jesus se liggaam?” Toe Paulus op pad was na Damaskus om die Christene te vervolg, vra Jesus hom : “Waarom vervolg jy my?” Nou weet ons dat Paulus nooit direk vir Jesus kwaad aangedoen het tydens sy aardse lewe nie. Paulus het wel die kerk vervolg en skade aangedoen. Maar Jesus sê : “Waarom vervolg jy MY?” Die implikasie is onmiskenbaar duidelik. Die Christene is Jesus se liggaam! Wat jy van hierdie groep mense dink is dus wat jy van Jesus dink. Wat jy van hierdie groep mense sê is wat jy van Jesus sê. Wat jy aan hierdie mense doen is wat jy aan Jesus doen. Jesus sê : “Wat julle aan die geringstes (van sy dissipels) doen - het julle aan my gedoen.” Diens aan hierdie liggaam is diens aan Jesus. Liefde vir hierdie mense is liefde vir Jesus. 

Dus : ’n Keuse vir Christus behels ook ’n keuse vir sy liggaam, naamlik die kerk! Dit kom eintlik daarop neer : Jy kan nie Jesus aanneem sonder om sy kerk aan te neem nie! Matthew Henry het gesê : “When we take God as our God, we take his people as our people” Positief gestel - ek moet deel wees van hierdie liggaam en my kant bring in hierdie liggaam, NIE omdat ons ’n oulike leraar het nie, nie omdat daar vriendelike ouderlinge is nie, nie omdat daar gawe lidmate is nie, MAAR omdat ons ’n onoortreflike wonderlike Heer en Verlosser het, Jesus Christus en hierdie gemeente, hierdie mense wat ek rondom my sien is SY LIGGAAM! 

Glo ons wat die Bybel sê oor die kerk? Glo ons dat kerkwees ’n basiese ononderhandelbare bestanddeel van Christenskap is? Glo ons dat hierdie gemeente deel vorm van Jesus se liggaam? Dink sommer vinnig aan drie praktiese implikasies: 

~ Kerkbywoning is ’n Godbepaalde prioriteit (dis nie ‘n saak van persoonlike voorkeur soos die bywoon van ’n fliek of konsert nie) Dis ‘n amptelike afspraak met Jesus en sy liggaam! 

~ Ons verwagting oor die erediens moet verander - ons is nie hier om vermaak te word nie, maar om Christus te aanbid en sy liggaam te dien. 

~ Ek mag my nie sommer ligtelik afskei van die kerk nie. Ons moet die pad saamloop al kos dit wat.... My persoonlike voorkeure of teologiese fynproewery mag nie mag nie die maatstaf word nie... Die kerk is ook groter as 'n enkele bekwame of onbekwame leier... As ‘n bepaalde gemeente so ver van die waarheid afgedwaal het dat die evangelie totaal verduister word, sal ek myself seker by ‘n ander kerk moet voeg waar die waarheid wel verkondig word, maar ek moet baie seker wees van my feite en motiewe.... Dit bly ‘n moeilike saak... Kliek op WATTER KERK?

Is jy besig met ware Bybelse Christenskap? Is jy gered deur Jesus en is jy toegewyd aan sy liggaam, hierdie gemeente (waar God jou geplaas het)?

*In 1 Timoteus 3:15 word die gemeente die “huisgesin” van God genoem. “Ingeval my koms vertraag word, sal jy dus weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God. Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid.”
**Vir hierdie formulering is ek erkenning verskuldig aan Albert Martin.


NG Kerk, Mariental.

Sondag 12 Oktober 2014

STIG ‘N NUWE KERK?

- wat staan ons te doen as die kerkleiding klaarblyklik die pad byster raak?

Dis geen geheim dat daar die afgelope dekades reuse woelinge en koersveranderings in kerklike geledere (en onder andere ook by name in die NG Kerk) was nie.

Oor kernleerstellings soos die liggaamlik historiese opstanding van Jesus, Skrifbeskouing, die bestaan van die duiwel, die kerk se hantering van homoseksualiteit en baie ander sake (soos die vrou in die lerende amp) is daar hewige debat gevoer en is daar in sommige gevalle Sinodale besluite geneem wat baie diep gelowige lidmate geskok laat wonder het of ons nog ‘n plek het in die kerk en of ons nog met ‘n goeie gewete lidmate kan bly van ‘n bepaalde denominasie. Inderdaad het duisende van die room van ons lidmate ander kerklike tuistes gevind of gemeentelose swerwers geword... Die voorstel rakende die verandering van Kerkorde Artikel 1* van die NG Kerk is nou weer so ‘n kwessie wat gemoedere gaande kan maak en weereens ‘n besinning oor lidmaatskap tot gevolg kan hê. Om dit prontuit te stel, daar is lidmate wat diep ongelukkig is met die koers waarin die kerkleiding klaarblyklik beweeg. Sommige oorweeg dit dalk weer om die pad te vat... “Wanneer is genoeg , genoeg en moet ons afskeid neem?”, word gevra.

AFSKEIDING EN AFSTIGTING?

Moet ons wegbreek en afstig as die kerkleiding ‘n koers inslaan wat volgens ons mening nie reg aan die Skrif en ons belydenis laat geskied nie? Ek dink dat daar (ten minste tans) goeie praktiese, historiese en teologiese redes is, waarom ons uiters, maar uiters versigtig moet wees om sommer ‘n kerkverband te verlaat en ons “eie” ding te doen.

Prakties : Afskeidings lei tot kerkversplintering en dikwels tot ‘n ongebreidelde individualisme wat uiteindelik ontaard in kerklosheid en chaos. Rondom ons is daar baie sigbare voorbeelde. As jy eers begin afstig en afstig word dit later ‘n eindelose proses van afstigting en kerkhoppery, want kort voor lank kom daar in die nuwe groep ook verskille na vore wat weer afstigting of afskeiding “regverdig”. Die gevolg is op die ou end klompies opregte, maar dikwels verdwaalde skape van die Here wat hulle eie koers inslaan en die prooi word van verwaarlosing en wrede wolwe. Los individue wat elkeen die Here op sy eie manier probeer dien, is nie die Nuwe Testamentiese siening van Christenskap nie!

Histories : Die geskiedenis bewys by herhaling dat afstigtings gewoonlik op die lange duur nie lei tot suiwerder kerkwees nie. (Dink maar aan Nederland!) En dis ook by ons die geval : hoeveel van diegene wat hulle spesifiek van die NGK afgeskei het se bedienings het in ’n doodloopstraat beland en nie juis tekens gelewer van God se seën en goedkeuring nie? Wat van die 16de eeuse reformasie sal mense vra, dit was tog ‘n radikale afskeiding van die Roomse kerk, of hoe? Die geskiedenis wys dat dit nie die reformatore soos Luther se aanvanklike idee was om af te skei nie. Hulle is uiteindelik gedwing om dit te doen. Om weg te loop is een ding, om weg gejaag te word is iets heel anders...

Teologies : Die verbondsvolk van God in die Ou Testament was dikwels (meestal) in ’n uiterste toestand van verval en het selfs polities geskeur na Salomo se regering. Tog word godsdienstige afskeiding of skeuring nêrens as ’n oplossing voorgehou nie. Dis ’n minderheid van die Verbondsvolk wat die ware God by tye gedien het, maar die sewe duisend wat nie die knie voor Baäl buig nie, kry nie die opdrag om eenkant hulle eie ding te gaan doen nie.

Die Nuwe Testament se herhaalde en ernstige waarskuwings om gereed te wees, om selfondersoek te doen, om in die geloof te bly en ook die oproep tot bekering byv. tot die gemeente van Laodicea, wys dat daar nie ’n is-gelyk-aan-teken tussen kerk en ewige burgers van die Koninkryk is nie. Almal in die kerk sal nooit ware volgelinge van Jesus wees nie. Die volmaakte kerk bestaan nie, selfs onder Jesus se binnekring van dissipels was daar ‘n Judas en ook die ander het by tye ernstig gedwaal. Die toestand van die kerk op aarde kan natuurlik wissel in gesondheid en waarheid, soos die briewe aan die sewe gemeentes in Openbaring duidelik aantoon. Dit blyk dat dit met party gemeentes heel goed gaan, terwyl sommige kerke (gemeentes) bloot nog net die naam het dat hulle leef. So was dit met die gemeente van Sardis. “Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood.” (Openbaring 3:1) Tog word selfs hulle nog steeds as gemeente van die Here vermaan en aangespreek en opgeroep tot bekering. Die getroue gelowiges in hierdie afvallige gemeentes kry nie in ’n enkele geval die raad om hulle af te skei nie! Nee, hulle moet optree teen verkeerde elemente en hulleself weer toewy in gehoorsaamheid en liefde vir die Here. Die kerk in Korinte word steeds as gemeente van Christus deur Paulus hanteer al was daar gruwelike voorbeelde van twis en seksuele losbandigheid... Kyk hoe spreek Paulus hierdie gemeente korporatief aan. “aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges,” (1 Kor 1:2 OAV) En ja, beslis, hy raas baie ernstig met hulle vorentoe in die brief, maar tog herinner hy hulle as gemeente daaraan dat Jesus Christus getrou is om hulle te laat vasstaan. (1 Kor 1:8,9)


Gelukkig is die deurslaggewende faktor nie kerkrade, ringe en sinodes nie, maar ons GETROUE HERE JESUS CHRISTUS!

WAT STAAN ONS TE DOEN?

As afstigting nie ‘n opsie is nie, wat dan wel?

Die selfstandigheid van elke gemeente bied bewegingsruimte en kan dien as ’n vertrekpunt vir reformasie. Ons moet tog waak om nie die beginsel van ecclesia completa te vergeet en kollegialisties oor die kerk te dink nie. Die plaaslike gemeente is volledig kerk en nie bloot ‘n tak van ’n instituut nie. Elke plaaslike kerk staan direk onder die regering van Christus deur middel van die Woord en onder leiding van die ampte. Elke plaaslike gemeente wat dit ernstig opneem, het die heerlike voorreg, ruimte (en verantwoordelikheid!) om toe te neem in insig van God se wil en gehoorsame gelykvormigheid aan Christus. Meerdere vergaderings (ringe en sinodes) is slegs meerdere vergaderings omdat meer kerke teenwoordig is en nie omdat hulle meerdere gesag het nie. ‘n Sinode, moet ons onthou is nie ‘n hiërargiese (pouslike) liggaam nie, maar eerder ‘n gebeurtenis! Een kerk (gemeente) het wel ’n getuienistaak ten opsigte van ander kerke (gemeentes) wat die pad byster geraak het, maar kan tog nie verantwoordelik gehou word vir hulle sondes nie. Waarop kom dit neer? Die plaaslike kerk onder leiding van die plaaslike kerkraad, moet na groter gehoorsaamheid aan die Skrif streef en voortdurende reformasie najaag. Ons eerste verantwoordelikheid is hier by onsself! Ek wil amper sê (sonder om die belangrikheid van 'n besluit rondom Artikel 1 te ontken) : "Wees dus asseblief minder bekommerd oor Belhar en meer bekommerd oor die geestelike toestand van ons eie jeug, sedelike norme, kerkbywoning en diensbaarheid!" As ons euwels soos onsedelikheid (saamwonery) en los dissipline (byvoorbeeld oor versuim van kerkbywoning) sommer goedsmoeds in eie geledere duld, hoe kan ons dan die groter kerkverband oor “sondes” aanspreek? Positief gestel, niks wat ‘n sinode sou kan besluit kan ons verhinder om getrou aan Jesus en Sy Woord voluit kerk te wees nie. Laat ons hiermee erns maak!

Kerkrade moet groter verantwoordelikheid vat in praktiese aangeleenthede soos die beroeping van leraars wat die Woord suiwer verkondig, ondersteuning aan Skrifgetroue bedienings en die bestuur van gemeentes in eerlike gehoorsaamheid aan die Woord. Vir hierdie tak moet kerkraadslede hulleself toerus (en laat toerus) sodat hulle kan standpunt inneem teen wat verkeerd is en kan bevorder dit wat reg is.

Lewer ‘n helder en blymoedige getuienis binne jou kerkverband sowel as na buite met die Skrif en belydenisskrifte as basis. ‘n Helder getuienis – laat ons duidelik sê waar ons verskil en dit deeglik vanuit die Woord en belydenis fundeer. Maar ook belangrik – ‘n blymoedige getuienis – sommige kampvegters vir die waarheid verval in ‘n oorkritiese, siniese dikbek gesindheid en kelder so hulle eie standpunte. Oor die waarheid kan en moet ons altyd bly wees. Daarom moet ons bereid wees om ons standpunte met beskaafdheid, vriendelikheid en innerlike vreugde aan almal te stel wat maar wil luister.

Soek groter kontak en eenheid met ander gemeentes wat opreg na Woordgehoorsaamheid streef. Pasop vir die “net ons is reg” sindroom. In elke kerkverband en daarbuite is baie gemeentes en gelowiges wat die Here getrou wil dien in hierdie tye van chaos. (Nooit sal ons ook oor elke "i" se dotjie en "t" se strepie presies dieselfde dink nie. En ons hoef ook nie...) Laat ons wat oor ons baisiese geloofsfondamente dit eens is, mekaar opsoek en die hande vat. Ons het mekaar nodig.

Laat ons ons verootmoedig in gebed en berou oor die gebroke toestand van ons eie gemeente en kerkverband en groter kerk as geheel. Die geestelike temperatuur in die 18de eeuse Engeland is nie deur wegbreekaksies, formele kerkdebatte en besluite verander nie, maar deur ‘n Godgewerkte herlewing! Ja, God het menslike instrumente in hierdie herlewing soos Whitefield en Wesley gebruik, maar dit was in die eerste plek ‘n bonatuurlike ingryping van God self! Hoe nodig het ons Hom nie! Wie ernstig is oor die welsyn van die kerk sal begin bid! God is nog steeds God en vir Hom is niks onmoontlik nie. Ons mag en hoef nie moed te verloor weens die uitsprake van diegene in leiersposisies nie; ons is ook nie afhanklik van sommige misleide akademici aan ons universiteite nie. God kan ’n magtige werk op voetsoolvlak doen as ons Hom entoesiasties gehoorsaam en die waarheid biddend verkondig. Die werk van  (kliek op) Hans Hauge (1771-1824) in Noorweë is ’n pragtige en besielende voorbeeld hiervan.

POSITIEWE HOOP

Solank die Woord binne die kerk gevind word (en onthou sowel die ou as die voorgestelde Kerkorde Artikel 1 begin met : “Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God.”) en ons hierdie Woord mag verkondig is daar hoop! Hierdie Woord is ons basis en vertrekpunt van reformasie.  Maar daar rus ook ’n nederige verpligting op elkeen wat hierdie Woord glo, om dit gehoorsaam uit te leef. Ons hoef nie vir iemand te wag nie - ek en jy kan mos deur die genade dit begin gehoorsaam... 


Die plek om te begin is my eie hart en daarnaas ook in ons eie gemeente. Die versoeking om die pad te vat is dalk soms groot. (Jy het dit dalk alreeds gedoen en ek het baie begrip daarvoor. Jy het dalk geen ander keuse nie, want jy moet Sondag na Sondag die gruwelikste dwaallering aanhoor – daar kan sekerlik situasies ontstaan, wanneer daar geen ander opsie is as om by ‘n ander gemeente of kerkverband in te skakel nie. Moet asseblief net nie die LONE RANGER OPSIE kies nie! ) Elkeen wat dit oorweeg moet egter eers eerlike selfondersoek doen of dit in die lig van die breë beginsels van die Skrif die regte ding is. Het God jou nie juis geplaas waar jy is, binne-in ‘n bepaalde gemeente, met die oog op ‘n tyd soos hierdie nie? Mag Hy jou duidelik deur Sy Gees en Woord lei!

Afskeiding kan maklik ‘n afgrond word...



*Huidige Artikel 1 

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreëls.


Voorgestelde Nuwe Artikel 1 

1. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. 

2.1 Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, word verwoord in die ekumeniese belydenisse, naamlik die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanasius; en die Drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls. 

2.2 Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die Kerk, op so ’n wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as ’n belydenisskrif onderskryf nie. 

3. Die Kerk aanvaar dat haar roeping om haar geloof te bely, altyd geld en dat ’n uitbreiding van haar belydenisgrondslag sonder dwang geskied. 


[Die kerkraad van die NG Kerk Tsumeb het op 12 Oktober 2014 met ‘n groot meerderheid , NEE gestem, teen die voorgestelde verandering van Kerkorde Artikel 1.]