BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Prediking. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Prediking. Wys alle plasings

Woensdag 13 Januarie 2016

RAMP BY KEURBOOMSTRAND



Die Kersdiens sonder Jesus


Ons kamp by Keurboomstrand. Die omgewing is pragtig en die weer wonderlik. ‘n Mens voel sommer lus om die Here groot te maak. Met hierdie gemoedstoestand besluit ek en vroulief op Oukersaand dat ons die volgende oggend ons spannetjie gaan aanjaag na die “Boskerk” wat volgens ou kampers laer af in die kampterrein onder die bome gehou word. Blykbaar ‘n baie gewilde bymekaarkomplek. Ek is van vroeg al op en soos gewoonlik bekommerd dat ons weer laaste daar gaan opdaag en ons kan nie juis ongemerk insluip met ‘n ‘n 18 jarige, ‘n eenjarige en iets van alles tussenin nie.

Ek raak daarom toe ook besonder kriewelrig toe al meer en meer mense met stoele al van vroeg oggend by ons tent verbystroom onmiskenbaar op pad na die Boskerk met stoele in die hand, op die kop en selfs op bakkies gelaai. Die diens begin mos eers 10HOO? Om onnodige spanning te voorkom maak ek so 9H30 die voorstel dat ek maar solank sal gaan om plek te hou. Op pad soontoe is my stille gebed dat die preek tog my oudste sal aanraak wat maar swaar op my hart lê.

Ook maar goed ek het betyds gegaan. Die plek was stampvol. Maar nog net met stoele. Dit was blykbaar die gewoonte om eers jou stoel te gaan plaas en dan later, kort voor die diens jouself op die stoel te gaan plaas.

Nou ja, uiteindelik het my spannetjie darem opgedaag en het ons ons sit gekry. Die Boskerk was gepak. Baie bekende openbare figure het na ‘n stoel geskuif, van oud springbokke tot bekende predikante. Nadat ‘n paar bekende Kersliedere gesing is, party minder geslaagd as ander, is ons welkom geheet en die prediker voorgestel. Nogal van Pretoria en ‘n studenteleraar. Sekerlik die regte man vir die kinders....

Met verwagting het ek na Johannes 3 geblaai wat ons teksgedeelte sou wees. Ja, dit is nou ‘n goeie gedeelte vir die geleentheid het ek stilweg gedink – jy kan wedergeboorte en Jesus se koms wonderlik hier bymekaarbring.

Die preek begin goed. Enkele sinvolle inleidende opmerkings word gemaak oor die feit dat Jesus in Johannes evangelie dikwels iets leer deur misverstand. So byvoorbeeld dink die vrou by die put Jesus praat van gewone water terwyl Jesus van geestelike water praat. Hier in Johannes 3 praat Jesus oor geestelike geboorte, terwyl Nikodemus dag Jesus praat oor fisiese geboorte. Ek is heel opgewonde, vanoggend kan hier dalk iets gebeur...

Daar was nog een, volgens my, sinvolle aanhaling van iemand wat verwys na die feit dat ons dink ons is vry met al ons sosiale media, maar eintlik is ons meer vasgevang as ooit. Dit was dit. Hierna is my verwagtinge stadig maar seker tot poeier verpletter. Of daar ooit weer in die preek na Jesus verwys is kan ek nie heeltemal onthou nie, maar indien wel, net so terloops. Van Sy koms, onthou dit was Kersdag – niks. Toe ons almal nog dink dat hy gaan begin, toe eindig hy en maak verskoning teenoor die kinders dat die diens so lank was!

So wat het hy eintlik gesê? Hier is my beskeie poging om nadat ek alles gesif het, uit te kom by die kern van die preek. Johannes 3 gaan volgens die prediker oor vryheid. Nikodemus was nie vry nie, hy was deel van ‘n groep waar hy nie vry was nie. Daarom kom hy na Jesus. Hiermee kan ek nog saamgaan. Maar hoe word ek vry? Wat is wedergeboorte volgens die prediker? Wedergeboorte vind plaas wanneer jy deel word van ‘n groep/gemeente waar jy aanvaar word met al jou unieke andersheid. Dan is jy waarlik vry. 

As ek hom verkeerd verstaan het sou ek graag reggehelp wou word. Maar dit is maar wat my vrou ook gehoor het. My arme kinders het helaas niks gehoor nie!

Ek was, om dit lig te stel, ontstoke. Ek het gevoel ek is gekul, beroof. My hart was stukkend oor die honderde om my wat net mooi niks oor Jesus, Sy menswording en verlossing op hierdie heerlike dag gehoor het nie.

Nadat die prediker op ligter toon die kampgangers vermaan het om nie Bybelse vrae vir hom op die strand te vra nie aangesien hy wil ontspan, het ons almal soos skape ( wat geen groen gras gekry het nie) malende wegbeweeg na ons tente. Ek kan nie onthou dat ek iemand iets hoor sê het oor die feit dat daar geen Kersfees, geen Jesus, geen evangelie was nie. Ek het gewonder. Aanvaar almal dit maar? Sekerlik moet daar nog wees wat voel soos ek... 

Almal kan tog nie tevrede wees met ‘n Kersdiens sonder Jesus nie?

[Geskryf deur  dr. Jacobus de Koning van Pretoria]






Maandag 06 Januarie 2014

LUISTER, JA!

- maar na wie?

In die kerk word daar baie verwys na die sogenaamde “Seisoen van luister”. Hiermee poog die kerkleiding om die belangrikheid te onderstreep van luister na ander stemme wat insluit, lidmate, buite kerklikes, skeptici ens. “Ons moet hulle ernstig opneem en regtig hoor”, is die voortdurende oproep. Die kerk behoort (volgens hierdie siening) aandag te gee aan die argumente van allerhande andersdenkendes en selfs ateïste. (Ja, inderdaad word ateïste uitgenooi om kerklikes toe te spreek!) Alles in belang van sogenaamde debat en dialoog! Dit word soms tot uiterstes te gedryf soos die voorbeeld van “Kletskerk” wat verword het tot ‘n forum vir smerigheid en die Stellenbosch Woordfees debakel waar sommiges blykbaar gedink het die kerk moet so ver gaan om ongeloof en heidendom te subsidieer – alles in die naam van “ons moet luister wat die mense daarbuite sê.”

Natuurlik mag die kerk haarself nie in ‘n ivoortoring van kulturele onkunde en isolasie toesluit nie. Beslis moet die kerk die taal, agtergrond, kultuur, vertwyfelinge en filosofiese vertrekpunte van die mense onder wie sy beweeg en werk verstaan. Niemand stry daarmee nie. Paulus het homself ook deeglik vergewis van die Atheners se denkwyse, maar toe het hy die Woord reguit op die man af gebring...

IS DAAR NOG PLEK VIR PREDIKING?

As dit nodig is om na mense te luister is dit nog duisend maal meer nodig dat ons na God sal luister...