BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Abramsverbond. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Abramsverbond. Wys alle plasings

Vrydag 05 April 2019

AFSPRAAK BY BET-EL


- DIE GETROUE GOD ONTMOET MET ‘N SKELM VLUGTELING! 

Dis ‘n donker en harde tyd vir Jakob! Die nag het hom ingehaal en hy slaap met sy kop op ‘n klip! Soos ons weet is hy op hierdie stadium ‘n vlugteling, want hy het saam met sy ma Rebekka, bedrog gepleeg en sy bejaarde pa Isak mislei en sy tweeling broer Esau woedend gemaak. Jakob is ‘n bedrieër en sy skelmgeit het hom nou ingehaal! Hy vlug vir sy lewe... 

Die wonderlike van hierdie verhaal in GENESIS 28:10-22 is dat God nie hierdie glibberige skelm vergeet nie, maar Homself aan Jakob openbaar op ‘n onverwagte plek op ‘n onverwagte tyd! God is inderdaad alomteenwoordig, orals! Hy kan Homself enige tyd en enige plek aan enige mens openbaar. Hy reël ’n ontmoeting soos en wanneer Hy wil... Ook juis met mense wat aan die hardloop is, wat dalk juis probeer wegvlug van God. Ook aan mense in die grootste nood en ergste krisis. Bang mense, benoude mense, stukkende mense, skuldige mense, sondige mense... Jakob sou kon dink dat hy ver is van sy voorvaderlike heiligdom by Berseba, net om hom nou vas te loop in God self. Dit verbaas hom en dit laat hom eintlik skrik. “Jakob het wakker geskrik en gesê: "Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie." Jakob het bang geword en gesê: "Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel." (16,17) Dit laat mens dink aan Psalm 139:7-12.* Jakob moes ontdek, ook hier ver van sy huis is God naby, hier is God aktief, hier staan hy voor die poorte van die hemel! 

God kan jou enige tyd, enige plek ontmoet! 

Dis opmerklik dat die skelm vlugteling Jakob nie hier ‘n skrobbering of teregwysing van God kry nie. Hy kry nie raas nie. Inteendeel, Hy kry ‘n bemoediging en versekering. God verskyn aan Hom as die getroue en genadige God. God verskyn aan die bedrieër nie omdat hy ‘n bedrieër is nie, ook nie omdat hy tog wel oor goeie eienskappe sou beskik nie, maar omdat God getrou is aan sy verbond! God se verbond wat hy aan sy oupa Abram gemaak het, aan sy pa Isak oorgedra is word nou herhaal aan Jakob! “Toe kom staan die Here by Jakob en sê: "Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee. Hulle sal so baie wees soos die stof van die aarde, en jy sal jou gebied na alle kante toe uitbrei, en in jou en jou nageslag sal al die volke van die aarde geseën wees.” (13,14) Dis ‘n basiese herhaling van die drie elemente van die belofte aan Abram : ‘n groot nageslag, ‘n land en die seën aan alle nasies! Dis ‘n oorvloedige ruim belofte. Die grondgebied sal “uitgebrei” word soos ‘n dam wat sy walle oorstroom! Jakob se sonde en mislukkings kon nie die waarheid van God se verbondsbeloftes uitwis nie! 

Jakob kry ook meer as net ‘n algemene herhaling van God se beloftes. God praat met hom baie persoonlik in sy situasie binne die raamwerk van sy verbond. “Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het." (15) Detail maak vir God saak. God sien die nood van sy vlugteling kind raak. Hy het ’n besondere behoefte aan God se teenwoordigheid, leiding en beskerming en dis waarvan God hom nou verseker! 

God werk baie intiem en persoonlik met ons. 

Jakob se hart kon nie onaangeraak bly teenoor die goedheid en genade van God nie. Dit wek ’n reaksie by hom en hy maak ’n gelofte aan God en stig sommer daar en dan ’n aanbiddingsplek.(20-22) Na sy ontmoeting met die lewende God kon Hy nie anders nie, hy verbind homself daartoe om God te dien, ook met sy besittings. Natuurlik is ’n gelofte aan God ’n bitter ernstige saak! Die Skrif waarsku op baie plekke teen onnadenkende geloftes. Tog gebeur dit dat sondaars se harte so oorweldig word deur God se goedheid en genade dat hulle nie anders kan as om hulleself aan Hom oor te gee en trou aan Hom te beloof nie! Natuurlik ons redding is nie gebou op ons geloftes nie, ons geloftes is ’n reaksie op God se redding! 

Beleef jy nood, is jy dalk besig om van God weg te vlug, het jou sondige keuses of onverantwoordelike besluite jou ingehaal? God het nie sy beloftes aan jou vergeet nie. God ontmoet met jou by Bet-El, nou! 

VRAAG : Waar is jou Bet-El, jou huis van God? Weet jy dis nie in die eerste sin ’n plek nie maar ’n PERSOON. Jesus! 

Jesus self is nou die tempel, die huis van God (Bet-El) in die finale sin! Dis merkwaardig dat Jesus self na hierdie stukkie geskiedenis van Jakob verwys. 

Verder sê Jesus vir hom: "Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op— en afklim na die Seun van die mens toe." (Johannes 1:51) 

Die engele wat heen en weer op en af gegaan het op die trap/leer in Jakob se droom was die aanduiding dat hy met n Goddelike heiligdom en teenwoordigheid te make gehad het.` n Hemelse bevestiging dat God hier is! Die engele gaan opwaarts na die hemel om aan God te rapporteer en daal weer af om God se bevele uit te voer. As Jesus na hierdie gedeelte verwys is om vir sy dissipels te laat verstaan dat hulle hemelse bevestiging sal kry dat Hy die Messias is wat deur God aangestel is. Soos elke Jood vir Jakob as die stamvader van Israel geëer het, moet almal nou Jesus as die Messias erken!** God openbaar Homself nou nie meer in besonder op ‘n fisiese plek en heiligdom soos Bet-El nie, maar in Jesus self! Hy vervang die tempel. (vgl. Joh 2:18-22) Al God se beloftes het in Jesus waar geword. As jy jou vertroue op Jesus alleen plaas, is al hierdie beloftes joune! In Jesus word jy deel van Abram se nageslag, in Jesus word jy ‘n erfgenaam van die nuwe Kanaän, in Jesus is jy ‘n ware geseënde! In Jesus kan jy nou ook hoor: “Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan...” Hierdie beloftes is nie vir goeie mense bedoel nie, maar vir skelms en sondaars soos Jakob en ek en jy! Hierdie beloftes kom na jou in hierdie moeilike tyd van verspeelde kanse, verkeerde keuses, mislukte planne, sonde verskeurdheid, ellendes van droogte, siekte en gebrek... 

Deur vertroue op Jesus alleen, kry ek deel aan die volle rykdom van God se beloftes! 

En as ek en jy hierdie beloftes glo en sy genade aanvaar kan ons nie anders nie as om onsself aan God toe te wy nie. Soos die ongelowige Thomas wat ook ’n genadige ontmoeting met Jesus beleef het na die opstanding. Mag sy reaksie : “My Here en my God!” ook my en jou reaksie wees. Jakob het ‘n kortstondige ervaring gehad, jy kan deur Jesus God se majesteit, sy liefde, sy redding permanent beleef! Want Jesus is daagliks by sy mense deur die inwonende Heilige Gees! 


*Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?
Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.
Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas.
Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig. (Psalm 139:7-12)



** Carson, The Gospel according to John, p164



Enige tyd, enige plek... daar waar Jesus met jou ontmoet is die heiligdom van God!




Donderdag 09 Augustus 2018

HUIL JESUS OOR JOU?

BENUT BETYDS DIE GENADE, WANT GENADETYD KAN VERBYGAAN! 


Jesus huil. Die Seun van God is in trane. Waarom? Ons vind hierdie gebeurtenis in Lukas 19:41-45. Ons is hier by die intog van Jesus in Jerusalem m.a.w. kort voor sy gevangeneming en kruisiging. Huil Jesus oor die pyn en dood wat vir Hom wag? Is Jesus hartseer oor die afskeid wat Hy moet neem van sy moeder, sy dissipels? Nee, Jesus huil oor die goddelose stad Jerusalem. Wie is hulle? Afgodsdienaars, rowers, heidene? NEE! Verbondsmense, tempelgangers en Skrifkenners aan wie die beloftes van genade behoort. 

“Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil en gesê: "As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor.” (41,42) Jesus is bitterlik bedroef, want hulle het die tyd van genade, die geleentheid tot redding by hulle laat verbygaan. Hulle was blind vir die genadekans wat na hulle kant toe gekom het. 

GENADE ONBESKRYFLIK GROOT SOOS BELOOF IN DIE VERBOND 

Wat ’n heerlike ding is genade tog nie! Genade beteken God kom besoek ons met onverdiende guns alleen. “En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie.” (44 OAV) Hy besoek ons om ons te red. God besoek vir Jerusalem en ons om redding te bring. Jerusalem het hierdie kans laat verbygaan. God het genade beloof in die verbond met Abraham, Isak en Jakob. Dis hierdie genadeverbond wat God tot aksie laat oorgaan het om die volk destyds uit Egipte te red. “Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem.” (Eksodus 2:23-25) 

As ons die lofsang van Maria lees dan sien ons, God se verbondsbeloftes is ook die rede hoekom Jesus deur God gestuur is! “Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders, aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid." (Lukas 1:54,55) 

Jesus se koms na hierdie wêreld, sy menswording, maar ook sy kruis en opstanding is ‘n vervulling van die verbondsbeloftes aan Abram. 

God besoek ons ook in genade deur Jesus. Hy sê vandag vir jou: “My Seun het al julle sonde op Hom geneem. Hy het die straf gedra. Hy het alles volbring. Hy het alles gedoen wat nodig was om vergifnis te bewerk. Hy het die volle prys betaal.” Hierdie genade maak ‘n appèl op elkeen wat hoor... 

Genade nooi ons : “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” (Matteus 11:28) 

Genade verseker ons : “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” (Johannes 6:37) 

God se genade is volledig en heerlik. Die slegste mens wat bestaan kan dit nou op hierdie oomblik ondervind. Miskien is jy tans betrokke in ‘n buite egtelike verhouding, besig met bedrog, vol haat en bitterheid of dalk net ’n klipharde onbekeerde vorm godsdienstige.... Genade is nommerpas vir jou! As jy God se geskenk in Jesus aanvaar en Hom dank vir sy dood, staan jy op van jou rekenaarskerm of selfoon as ’n mens wat in God se oë nog nooit gesondig het nie! Doen moeite en gaan lees Hebreërs 8:12! 

Genade skenk volkome vergifnis en maak van rebelle kinders van God! 

Dis hierdie genade wat die vuil besetene van Gadara wat tussen die grafte gewoon het nuut gemaak het. 

Dis deur God se genade dat die Samaritaanse vrou met haar vyf mans van die verlede en sondige saamblyverhouding, lewende water by Jesus gekry het 

Dis deur genade dat die skelm Saggeus ‘n kind van Abram geword het. 

Genade is oneindig in omvang! Kom ons sê dit weer - vir die ergste sondaar op aarde kan ek nou verseker : “Glo in Jesus en jy sal gered word!” 

GENADE KAN MISGELOOP WORD 

Die genade aanbod is egter beperk in tydsduur - Dit kan onbenut verbygaan, misgeloop word, verpas word! Jesus self wou so graag dat Jerusalem se mense God se genade ontvang. Hy het ‘n hart vir hierdie stad gehad. Hoor die versugting van sy hart... "Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!" (Lukas 13:34) 

God se genadetyd kan tot ‘n einde kom en dan begin sy onafwendbare oordele. Baie mense glo dit nie – “God is mos liefde.” Die Bybel leer duidelik dat diegene wat sy genade aanhou verwerp onder sy oordele gaan deurloop. 

Dit was letterlik die geval met Jerusalem - Jesus kondig Jerusalem se oordeel aan : “Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër. Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie." ( 43,44) Dit het toe gebeur...

Die verbondsteken aan hulle liggame het nie die Romeine se swaarde gekeer nie! Hulle bevoorregte status het nie God se oordele afgeweer nie! 

Deur die eeue heen het dit gebeur dat God se genadetyd verbygaan en dan kom sy oordele. Dit het gebeur tydens die sondvloed, dit het gebeur met Sodom en Gomorra, met Israel en met Juda .... menseslagtings, ballingskap... Ja, Jesus se oordeelswoorde oor Jerusalem is letterlik vervul in 70nC. Dit was 'n afgryslike slagting en ongekende verwoesting...

Die punt is : Daar kom ‘n tyd wanneer God sê : “Genoeg is genoeg!” Al die oordele, oordele, rampe in die geskiedenis wys heen na die werklikheid van Goddelike oordeel. Dis als ’n voorfilm vir die groot finale oordeel. 

Genadetyd kan verbygaan! Ons moet mense ook hierteen waarsku, maar ons moet dit nie met ’n harde selfgeregtigheid doen nie, maar met bewoënheid soos Jesus. 

KLIM OP! 

Geliefdes ons bly geestelik gesproke in ’n beleërde stad. Die stad se naam is hierdie sondige wêreld. God se skrikwekkende toorn het die stad reeds omsingel. Hy staan gereed om die goddelose wêreld finaal te oordeel en vir ewig te straf. Maar op hierdie oomblik staan ’n trein gereed. Dis ‘n GENADETREIN! Dis die trein van God se verbondsbeloftes. Dis die laaste en enigste ontvlugting uit hierdie verdoemde stad. Die trein se naam is eintlik JESUS. Het jy al opgeklim? Voor Hom gebuig? Sy beloftes geglo en toegeëien? Talm jy? Huiwer jy nog? Waarom langer wag? Die trein kan enige oomblik vertrek. Dan is die laaste kans vir ewige verby... Dan kan die verbondsbeloftes nie meer troos bring nie..

KLIM JY?


Vrydag 10 Maart 2017

GOD SELF

- BELOOF, BEVESTIG EN BEWERK ONS VERLOSSING!



Ons het gesien hoe God met Abram besig is op sy geloofspad in Genesis 15. Hy het sy beloftes aan die wankelende Abram herbevestig. Boonop het Hy toe vir Abram op ‘n nagtelike uitstappie gevat – “Kyk na die sterre! Kan jy hulle tel? Abram, dit wat jy nie kan doen nie, kan ek doen. Dit wat vir jou onmoontlik is , is vir my moontlik.” (Kliek op STERRE) En Abram glo. Maar daar is nog steeds huiwering by hom. “En hy sê: Here HERE, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem?” (8) Hy soek nog meer vastigheid en versterking. Hierdie versoek is nie ‘n teken van ongeloof, maar ‘n bewys van geloof wat van sy eie swakheid bewus is. God verag nie ‘n geringe en swakke geloof nie. (Die aangrypendste voorbeeld in die Nuwe Testament is die pa wat na Jesus toe kom in Markus 9 – “Ek glo Here, kom my ongeloof te hulp!”)



VERBOND


Om Abram se geloof te versterk sluit God ‘n verbond (kontrak) met hom. God bevestig sy beloftes op ‘n formele kontraktuele manier. Hy hoef dit nie te doen nie, sy beloftes moet mos genoeg wees, maar Hy kies om dit so te doen. 

“En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar 'n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur. Op dié dag het die HERE met Abram 'n verbond gesluit...” (17,18)

GOD TREE EENSYDIG OP!

Oor die presiese betekenis van al die besonderhede van hierdie verbondsluitingseremonie is daar nie eenstemmigheid nie.* Dis net interessant om te onthou dat mens in Hebreeus ‘n “verbond sny” Die verdeling van die diere – as ‘n oordeelsteken maak dus baie sin. Wat wel opvallend waar en vol betekenis is, is dat God eensydig** optree. Hy gaan alleen tussen die verdeelde diere deur in ‘n Goddelike verskyning. (Normaalweg sou mens verwag dat beide partye in die verbond dit sou doen) Die rokende oond en fakkel herinner sterk aan die wolk en vuurkolom tydens die Uittog uit Egipte en mag dalk ‘n profetiese boodskap van beskerming inhou ten opsigte van die latere geskiedenis van Israel. Nietemin, die klem val op God se inisiatief, God se ingrype, God se belofte en God se versekering terwyl Abram in ‘n passiewe toestand van vrees en angs is. (12) “En toe die son wou ondergaan, val daar 'n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval.” (Dis miskien iets soos daai drome waarin jy voel of jy van als bewus is, jy word bang, jy wil iets doen, maar jy is magteloos… )

Abram is buite aksie, dis God wat die aksie uitvoer. 

En dis ‘n genade aksie! ‘n Heerlike troos! God staan nie simpatiekloos en kyk eenkant toe hoe ons in die geloofslewe spartel en verdrink nie. Hy gryp in… Hy neem als op Hom. So wek HY geloof en ondersteun HY ons geloof. Hier in vers 18 word die verbond met Abram die eerste keer by name genoem. (die teken van die verbond, die besnydenis word eers in hfst. 17 gegee) En terloops, die hele res van die Bybel gaan oor die magtige verhaal van hoe God getrou bly aan sy verbond. Tot in Openbaring kom dit weer ter sprake!

Aangrypend heerlike drama. Die almagtige Skeppergod daal neer na die nietige mens en maak beloftes aan hom, maar dis nie al nie Hy sluit ‘n verbond met hom om die beloftes te bevestig. God kom na ons in Woord en sakrament. God verbind Homself deur sigbare tekens. Ook aan ons. Doop en nagmaal. Dis die groot saak om raak te hoor in die prediking en raak te sien in die sakrament. God speel die hoofrol. God tree op. God belowe. God bevestig sy beloftes. Ons troos lê in dit wat HY doen en wat HY belowe. In die doop wat die uiterlike teken is van die verbond gaan dit dus nie in die eerste plek wat ons belowe nie. Dit gaan oor God se beloftes, spesifiek God se beloftes wat waar geword het in Jesus. Dink tog maar mooi, watter troos bied ons beloftetjies tog… verbreek ons hulle nie dikwels maar vinniger as wat ons hulle gemaak het nie? 

DOOP

Net terloops. ‘n Streng subjektiwistiese siening van die doop, waar alle klem op my belydenis en my besluit val bied maar min troos in tye van storms en vertwyfel. Die feit dat ons (onder andere) vanuit die Abramsverbond aflei dat kindertjies ook hierdie teken mag ontvang (sommer om nou in ‘n polemiek betrokke te raak) bevestig net hierdie sterk klem op die eensydige kant van God se beloftes wat hier in Genesis 15 so dramaties geïllustreer word. Natuurlik kan klein kindertjies nog nie glo nie, natuurlik kan hulle nog nie tot bekering kom nie. Maar sou dit God verhoed om reeds sy beloftes aan hulle te bevestig? Onthou weer, Abram het geslaap toe God opgetree het... Abram ontvang wel die teken van die verbond nadat hy geglo het in Genesis 17, maar toe sy seun Isak gebore word ontvang hy die teken al op agt dae. Isak sou wel iewers later tot geloof gekom het, want volgens Hebreërs 11 was Isak ook ‘n gelowige.

EVANGELIE

Die groot saak is - Ons hoor reeds die evangelie hier in Genesis 15! God tree eensydig op, Hy gaan alleen tussen die stukke deur, Hy neem die inisiatief by die verbondsluiting. Dis mos presies wat by die kruis van Jesus gebeur het. God het mens geword in Jesus. Hyself vat die volle straf vir ons sonde. By die kruis het God alleen opgetree. Die mens het nie gehelp nie. Deur Jesus se offer het God gekom en ons met Homself versoen. Hy het dit volledig gedoen. Die mens het nie op Golgota enige bydra gelewer nie, die verlossing is genoegsaam en volkome deur God self bewerk in Jesus Christus.

REAKSIE : DANKBAARHEID!

Ons kan niks anders wees as dankbaar nie. Daar bly vir ons niks anders oor om te doen as dankbaarheid nie. Ons bewys ons dankbaarheid deur geloof en bekering. Geloof en bekering is die sigbare bewys van dankbaarheid. Wie nie glo nie en nie bekeer nie, is gruwelik ondankbaar en verwerp God se genade en vertrap die verbond… Juis ook en veral op gedoopte verbondskinders rus die verpligting om te reageer met geloof en bekering.

Net ‘n laaste vraag. In die lig van wat God gedoen het, sy eensydige verbond, sy genade, sy werk deur Jesus aan die kruis… Hoe kan ons onaangeraak bly, hoe kan ons ongelowig bly, hoe kan ons onbekeerd in sonde voortgaan, hoe durf ons die Woord minag…? Dis waansinnig dwaas om God se liefdevolle toenadering te verwerp en inderdaad sal so ‘n verwerping lei tot ‘n ewige waansin van selfverwyt in die hel…


Besondere wolkformasie bo die Omatako's (foto : ds. Hendrik van Zyl)

*Sommige verklaarders maak baie van die ooreenkomstige gebeure in Jeremia 34:18-20 waar die straf weens die verbreking van die verbond voorop staan, terwyl ander meen daar is nie ‘n direkte ooreenkoms nie.

**Dumbrell, Covenant and creation,p49 en ook Woord teen die Lig II/3 p160,162

Donderdag 21 November 2013

WAT GAAN VAN MY KINDERS WORD?

- Ja, tye is rof, versoekings is baie, goddeloosheid floreer, maar hoor bietjie wat sê God se Woord oor die kinders van gelowiges! 

Wat gaan van my kinders word? Sal hulle gered word en eendag saam met my in die hemelse koninkryk God loof en prys? Of gaan die Satan en die wêreld hulle meesleur in die ewige afgrond in? Sal my kinders God eer deur ‘n heilige diensbare lewe of gaan hulle verval in ‘n wêreldgelykvormige lewe van kompromie, onsedelike bandeloosheid en godverlate ellende? Elke ouer dink seker oor hierdie dinge en soek biddend antwoorde. Wat sê die Bybel?