BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Volledige vergifnis. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Volledige vergifnis. Wys alle plasings

Donderdag 15 November 2018

SKULDIG, ONSEKER EN VOL VREES?


- Neem kennis van die triomf van die kruis! 


Soveel mense wat hulleself kinders van God noem, voel steeds skuldig en minderwaardig, onseker, bang en vol vrese. Dikwels is daar die gevoel van “ek kort nog iets, maar ek weet nie juis wat nie”, ander weer sal sê : ”Ek weet God het my vergewe, maar ek sukkel steeds om myself te vergewe.” Wat is die oplossing? Verstaan en glo die triomf van Jesus aan die kruis! 

Dis die heerlike boodskap van Kolossense 2:13-15. Die gelowiges in Kolosse het ook hierdie tipe probleme ondervind en Paulus verduidelik daarom vir hulle wat die volheid en die genoegsaamheid van Christus beteken. "In Hom is die volle wese van God beliggaam en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid." (9,10) Hy wil vir hulle laat verstaan : As julle Jesus het en vas vertrou op Hom alleen, het julle als wat julle nodig het! Julle moet besef, julle is volledig met God versoen deur Jesus. Julle het nie meer geheime resepte en tegnieke nodig nie. Julle het nie ekstra bewyse van vergifnis nodig nie. Julle hoef geen bose mag of krag te vrees nie! Daarom gaan Paulus nou weer die betekenis en gevolge van Jesus se kruisdood verduidelik. 

ALLES VERGEWE! 

Paulus stel dit duidelik. Julle is nou lewend, want AL julle sondes is vergewe! “Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het.” (13) Goddelike vergifnis is ‘n volledige vergifnis. Goddelike vergifnis is ons enigste hoop wat ons het (Psalm 130:3-4) As daar nie iets soos volledige vergifnis was nie, was daar geen hoop dat ons ooit voor God kon verskyn nie. 

ANTWOORDE BY DIE KRUIS

Hoe werk hierdie vergifnis, hoe het dit gebeur, hoe drasties is dit, hoe seker is dit? Die antwoorde op al hierdie vrae kry ons by die kruis. By die kruis het daar iets gebeur. Onthou tog die kruis was nie maar ‘n stukkie toneelspel, ‘n hartseer drama wat bedoel was om ons simpatie te ontlok nie. Nee, met Jesus se sterwe het daar iets gebeur met ons sonde. Dit word treffend verduidelik deur die beeld van ‘n skuldbrief, ‘n verbandsdokument as jy wil. Dis ‘n dokument met my handtekening op wat teen my getuig dat ek so en so bedrag verskuldig is. Ek erken dis my skuld en ek is daarvoor verantwoordelik. Ek is vas. Geestelik gesproke is ons so vas in die skuld by God. Ons sonde het ons in die skuld gebring by God. ‘n Onbetaalbare groot skuld. Morele prestasies, goeie werke en goeie bedoelings kon niks daaraan verander nie. Ja, sommige probeer inderdaad hulle skuld voor God self afwerk met beloftes en allerhande godsdienstige dade of reëls - dus futiel. Is jy dalk een van daardie dwases, al bedoel jy dit dalk baie opreg? Jy kan net sowel die see probeer leeg dra met ‘n emmer. 

‘n Hopelose situasie! Maar hoor hier! Kyk wat het Jesus met hierdie verdoemende bewyse teen ons gemaak : “Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.” (14) 

SONDEREKORD UITGEWIS! 

Vir die wat glo in Jesus alleen is dit so dat Hy self hierdie dokument waarvan die inhoud teen ons getuig vernietig het. (Sommige sien “eise/insettinge” as ‘n verwysing na die gebooie van die wet, wat ons beskuldig). Nietemin, die boodskap is duidelik. Ons sondeskuld lêer by God het nie maar net weggeraak nie, is nie net toegemaak, gebêre nie - dan sou daar altyd ‘n moontlikheid wees dat dit weer opgediep kon word. Nee, ons sonderekord is uitgewis, vernietig deur God self in Jesus aan die kruis. Hy het hierdie dokument aan die kruis vasgenael. Miskien is hier ‘n indirekte verwysing na die beskuldiging teen Christus wat bo sy kop aan die kruis vasgespyker is. Jesus het die beskuldiging teen ons ook daar vasgeslaan net soos die beskuldigings teen Hom daar gespyker was. Dit maak baie sin as ons daaraan dink dat Hy eintlik gestraf is vir dinge wat ons gedoen het. 

Hoe ook al die detail van die beeld verstaan moet word, dit kom daarop neer dat ons totaal sonder skuld is voor God. Met ander woorde ons is onstrafwaardig, volledig versoen, in die regte verhouding met Hom. Alle bewyse en klagtes teen ons (en is daar nie baie nie!) is totaal vernietig. Dit bestaan nie meer nie. Verlossing beteken nie dat ek maar net ‘n nuwe bladjie omslaan en probeer om van nou af reg te leef nie. Nee die “ou blaadjie” met al sy vuil kolle en mislukkings is vernietig, dit bestaan nie meer nie. Ek kan deur niemand meer beskuldig word nie, want die bewyse en gronde bestaan nie meer nie. In Romeine 8:33,34 stel Paulus dieselfde waarheid so : “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Die implikasie is : Ons staan wat op Jesus vertrou staan as regverdiges voor God! 

DIE BOSE MAGTE HET HULLE HOUVAS VERLOOR! 

Die konsekwensies van die kruis gaan dus dieper as persoonlike skuld. Baie dieper. Nie alleen is ons skuld gekanselleer waardeur hierdie magte ons in hulle greep gehou het nie, die bose magte wat God se kinders beskuldig of probeer afpers is self oorwin aan die kruis. “Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer.” (15) Die kruis alhoewel dit soos ‘n neerlaag vir Christus gelyk het was juis Sy oorwinning oor alle bose magte wat daar ook al mag bestaan. Die kruis wat die skandpaal was het nou ‘n oorwinnaars rytuig geword. (Verwys na ‘n triomf optog, oorwinnaars parade wat destyds algemeen bekend was.) Hierdie bose magte is totaal ontwapen, in die openbaar verneder. Hulle moet hulpeloos en vernederd meedoen aan die oorwinningsparade van Jesus en so onwillig Sy heerskappy erken. Die ontwapening kan binne die konteks moontlik verwys na die skuldbewys wat vernietig is. Hulle kan ons nie meer met afdreiging teister nie, want die dokumente wat hulle gebruik het om ons mee te teister bestaan nie meer nie. 

Die duiwel kan jou nie meer afpers met die sondes wat jy gedoen het nie, want alle bewyse daarvoor is vernietig! Satan het geen wapen meer om jou te dreig nie. Sy dreigemente is net bangmaakstories! 

BEVRYDING VAN VREES! 

Die oplossing vir ons vrese en twyfel is nie nuwe geestelike tegnieke nie, ook nie sielkundige truuks om jouself te probeer te vergewe nie. Die oplossing is : 

Besef en bedink die realiteit van die kruisgebeure! 

Vir al ons vrese is daar soos vir die Kolossense net een deur van hoop uit die doolhof van wanhoop. Die boodskap van die Gekruisigde Jesus. Alle magte in die heelal is aan Hom onderwerpe, alle magte goeies en slegtes. Hy is hoof oor almal omdat Hy self die Skepper is van almal. Hulle is dus aan Hom onderworpe as Skepper. Verder is die bose magte ook nog aan Hom onderworpe as Oorwinnaar. Dis die realiteit van die heelal waarin ons leef - Jesus is algehele oorwinnaar! (ongeag wat New Age gurus of fiksieskrywers ons wil laat glo.) Die magtige verlossingswerk van Jesus is van kosmiese omvang. Die Jesus wat vol van liefde, ontferming, genade en barmhartigheid is - Dis HY wat in beheer is, Hy bepaal die uitkoms en gang van die geskiedenis. Niemand anders nie, die rebelle van die kosmos (bose magte) is uitgeskakel! Oor demone en duiwels, geheime organisasies en samesweringsteorieë hoef gelowiges hulle nie te kwel nie. 

Die kruis gee ons volkome gemoedsrus!



[Die kruis by Omandongo in Ovamboland waar die Finse sendelinge met hulle pionierswerk begin het.]

Donderdag 22 Oktober 2015

VERGIFNIS BY DIE VUUR

- DAAR IS VERRAAD GEPLEEG, MAAR OOK VOLLE VERGIFNIS EN HERSTEL ONTVANG!

Stukkende mense, stukkende huwelike, stukkende gesinne... pynlik sondegebroke mensdom, dis die werklikheid. Dis wat ons elke dag sien, beleef en self aan ons lywe voel... Maar, dis vir hierdie stukkende wêreld wat Jesus hoop bring. Wat is die hoop? Volledige vergifnis en herstel! 

PETRUS

Die heerlike feit van volledige vergifnis en herstel word vir ons dramaties en hartroerend uitgebeeld in die lewe van Petrus. (Lees gerus Johannes 18:15-18,25-27; 21:1-18) Petrus die rots. Ons ken die geskiedenis van hierdie “rots” - hy het Jesus drie maal openlik verloën. Die rots het gewankel, die pilaar het geval, die staatmaker het gevou. Petrus was een van daardie ongelukkige mense wat openlik gesondig en in die skande beland het. Sy sonde kon nie verberg word nie, almal het daarvan geweet. ‘n Mens kan jou indink die skande, vernedering, hartseer, selfverwyt en beskuldigende kyke wat hy moes deurgaan. “ja, jou grootbek....” (Op hierdie stadium het hy waarskynlik reeds persoonlik vergifnis ontvang, want hy het bitterlik gehuil na die haan se derde kraai...) 

Nou hier na ete - kom Jesus met hierdie vraag in die openbaar: “Het jy my waarlik lief, meer as hulle hier? “meer as hulle” - verwys na die ander dissipels wat teenwoordig was. Hoekom so voor almal? Dit maak baie sin want juis Petrus was ten opsigte van die ander die een wat die sterkste homself uitgespreek het. Terwyl die ander stil was het hy gespog : “ek sal my lewe vir u aflê!” (13:37,38) Petrus was die voorbarige, die sterke, dis juis hy wat tot aksie oorgegaan het en Malchus se oor afgekap het. Maar daarna het dinge tragies skeefgeloop. Petrus se selfvertroue en sy vleeslike dapperheid het hom in daardie krisisnag in die steek gelaat. Menslik gesproke het hy sy potensiaal as toekomstige leier onder die apostels onherroeplike skade aangedoen. 

NIE AFGESKRYF NIE!

Ja, menslik gesproke, maar Jesus het hom nie afgeskryf nie! Want Jesus bring volledige (in hierdie geval ook openbare) vergifnis. Mooi verduidelikings en verskonings sou niks vir hierdie gevalle dissipel kon doen nie. Gesien die omstandighede dat Petrus as leierfiguur sy aansien onder die ander dissipels verloor het weens sy lafhartigheid, was iets meer as net private vergifnis nodig. Jesus moes hom in die openbaar herstel. 

Langs ‘n houtskoolvuur* het Petrus verraad gepleeg en langs ‘n houtskoolvuur het hy volle vergifnis en herstel ontvang. 

Hier voor almal vra Jesus ‘n diepte ondersoekende vraag, wat Petrus waarskynlik tot in die diepte van sy siel sou geruk het. Probeer jou indink - hier voor almal word hy by die naam uitgesonder, en dit terwyl almal van sy pynlike mislukking bewus was. “Jy, Simon, seun van Jona, het jy my lief, meer....” Petrus se antwoord is veelseggend. Vroeër was hy nie skaam om homself ‘n trappie hoër as sy mede dissipels te stel nie. Maar nou is dit opvallend - hy probeer glad nie eers die vraag antwoord deur ‘n vergelyking met die ander te maak nie. Hy werp hom maar net op Jesus se kennis van sy hart. Sy gebroke, berouvolle hart. Petrus sê in effek, “Here ten spyte van my bittere mislukking, weet U dat ek U liefhet.” Jesus aanvaar sy antwoord. Die bewys daarvan kry ons in die opdrag “ laat my lammers wei” Dit eindig egter nie hier nie - Jesus herhaal die selfde vraag nog twee keer. Drie keer moet Petrus ten aanhore van almal hierdie pynigende vraag hoor. “Het my lief?” Die derde keer lees ons (17) het Petrus bedroef geword. Miskien het hy openlik gehuil ons weet nie. Sy hart was gebreek. Net soos hy Jesus drie keer verloën het verlang Jesus nou drie keer hierdie opregte belydenis van hom. Die derde keer antwoord die bedroefde Petrus : “U weet alles....” Ek kan dit so voor my oë sien hoe ‘n betraande Petrus dit uitroep : “Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet” Gebroke , geen spoor meer van selfgeregtigheid en voorbarigheid nie! Petrus het niks meer oor om mee te spog nie. Ook Jesus herhaal sy opdrag : “Laat my skape wei.”

Petrus se bediening word herstel!

Let op die bediening word nie in ‘n titel gegee nie maar in praktiese opdragte : “laat wei, pas op.” Inderdaad het hy hierdie bediening getrou uitgevoer soos mens kan aflei uit sy opdragte aan ander herders. ( 1 Petrus 5:1-4) Net terloops - die skape wat Petrus moes oppas was nie sy skape nie , maar Jesus s’n “....my skape...” Die kerk is nie een van ons s’n nie, maar Jesus se eiendom wat Hy met sy bloed gekoop het! Onthou dit maar…

1.Hierdie gedeelte bring hoop vir gevalle kinders van God wat berou het. Sonde beteken nie die einde van jou kindskap of bruikbaarheid nie! Hier is hoop vir daardie dissipels wat deur sonde in die bittere skande voor God en mense gebring is. Hoop vir jou en my in ons grootste mislukking, skande of ellende! Wat is die hoop? Die volledig herstellende genade en vergifnis van Jesus Christus. Totale kwytskelding! Die ontroue Petrus kry sy “job” terug! Petrus se skandelike sonde is radikaal deur Jesus self vergewe en die bewys daarvan vind ons in sy vrugbare arbeid en sy getrouheid tot die dood. ‘n Ontroue dissipel word vergewe en bly uiteindelik getrou. Watter ongelooflike troos! Wie van ons kan nie met Petrus identifiseer nie? Wie van ons is nie diep bewus van die talle kere wat ons ons Here in die steek gelaat het nie. Watter troos om te weet dat ware dissipelskap nie altyd ‘n super suksesverhaal is nie. Dis ‘n genadeverhaal!

2.“Het jy my lief?” Hierdie vraag bly steeds die primêre vraag wat Jesus aan sy volgelinge stel. Hy vra dit nou vir jou! Getrouheid en lojaliteit aan Jesus word nie in die eerste plek gemeet aan ‘n intellektuele onderskrywing van ‘n stel geloofsartikels nie. Petrus het deurgaans die regte feite oor Jesus geglo, maar wat Jesus wou dat hy in die openbaar moes bely is sy liefde vir sy Verlosser! Die inhoud sowel as die motivering van ware toewyding is liefde vir Jesus self. Waar dit ontbreek is daar geen ware verhouding met die Verlosser nie, slegs miskien uiterlike godsdiens. 

Kom ons hoor elkeen hierdie vraag - “Het jy my lief?” uit Jesus se mond en ons antwoord met ons lewens daarop. 

*ανθρακια Hierdie woord word net twee keer in die Nuwe Testament gebruik. Deur hierdie stukkie detail wil Johannes waarskynlik seker maak (op ‘n subtiele manier) dat ons die twee gebeure met mekaar in verband bring.



Vrydag 21 November 2014

UITGEWIS!

- Dis die beste nuus wat jy nog ooit gehoor het. 


“Uitgewis!” Dis ‘n baie sterk woord. As ’n mens iets of iemand uitgewis het, bly daar niks van oor nie! ‘n Vyand wat uitgewis is, is totaal vernietig en verdelg! Dink nou net bietjie as God iets uitgewis het.... wat word daarvan? Wat bly oor? God se daad van uitwissing is finaal, volkome, volledig. Nou hoor ons dat God ons sondes uitgewis het... 

“Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.” (Jesaja 44:22) 

Drie sake vra ons aandag: 

1) Die werklikheid van ons sonde. Die aaklige realiteit van sonde is ‘n onontkombare feit. Dis groot, dis baie, dit het tragiese gevolge. In jou eie lewe en in ander mense se lewe. Ons kan nie ons sonde wegredeneer nie, dis daar. Dis erg, dis baie - ’n skrikwekkende lang lys vol bedrog, valsheid, dade teen medemense (selfs ons eie geliefdes)... en dan praat ons nie eers van verkeerde gedagtes, motiewe, gesindhede... Ja, wat dit veral erg maak is dat alle sonde, sonde teen God is*. Die gevolge is afgryslik. Dis inderdaad ’n donker dik wolk wat oor ons hang en ons hele lewe negatief beïnvloed en tot in die ewigheid strek. Dit belemmer en befoeter ons verhouding met God en naaste en selfs ons omgewing op alle vlakke. ’n Donker wolk wat keer dat ons nie die strale van God se heerlikheid kan raaksien en waardeer nie - vat ons blydskap weg, ’n donker wolk wat verhoed dat ons die warmte van God se liefde kan voel skyn dit laat ons vrees, donker wolk. Hierdie donker wolk voorspel vir ons dat daar enige oomblik ’n storm gaan losbars, die toornige storm van God se ewige oordeel... Daar is geen menslike oplossing vir die donker wolk van sonde nie. Tog probeer die mens in sy dwaasheid juis dit doen met allerhande saamgeflanste beteuterde poginkies. Kom ons kyk na ‘n paar. Ons probeer dit : 

Vergeet : Ek probeer my sondebewustheid afskud en nie daaraan dink nie. Sommige dink dalk dat hulle dit goed regkry, maar God vergeet nie onvergeefde sonde nie. Die oordeelsdag sal ‘n dag van afrekening wees waartydens alle sonde, ook die diep verborge sonde, aan die lig sal kom. 

Versag : Ek probeer my sondes met allerhande eufemismes en trooswoordjies “kleiner en sagter” maak. Ek het nie die sinkplate by die myn gesteel nie, ek het dit net gescore; Ek was nie dronk nie, ek het net bietjie te veel gekuier, Ek hoereer nie,( dit klink darem te erg), ek knyp net die kat in die donker! 

Verskuif : Ek blameer my moeilike ouers, ongenaakbare eggenoot, onregverdige baas, opstandige werkers “wat my siel hel toe sleep...” 

Vergoed : Ek probeer vergoed vir my slegte dade deur dit met goeies uit te kanselleer. deur godsdiens en goeie dade. (As ek ‘n slag in kerk was, voel ek bietjie beter al het ek aan Saterdag se rugbywedstryd gedink tydens die preek...) Ek probeer beter voel deur meer te bid, meer Bybel te lees...Maar helaas, my sondeskuld agtervolg my soos ’n skaduwee. 

Verminder : ek werk daaraan om my sonde bietjie te beskaaf en te beteuel. Ek probeer darem om ’n Christen te wees, ek het miskien al met ’n paar lelike dinge opgehou. Dis ‘n futiele oefening! 

Kan jy iets aan ’n dreigende onweerswolk doen, kan jy met jou kaal hande ’n haelstorm keer? 

Nee, ons is magteloos. Ons is magteloos ten opsigte van ons sondeskuld en die oordele van God wat dit op ons gaan afbring! 

God is egter nie magteloos nie. Dit bring ons by die tweede punt: 

2) God se hantering van ons sonde. Ons kan niks effektief omtrent hierdie donker dreigende sondewolk doen nie, MAAR GOD KAN. God het. Hy het dit uitgedelg. God sê : “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis...” Hoor ons dit, God verlustig Homself in hierdie kragtige uitspraak. Ek het dit gedoen in genade, ek het dit gedoen in medelye, ek het dit gedoen in regverdigheid, ek het dit gedoen in liefde, ek het dit gedoen net omdat ek wou , omdat ek God is, terwille van my eer. God doen dit want Hy is getrou aan Homself en sy beloftes. God is die een wat genade bewys en verlossing bewerk - vanaf Genesis toe Hy in sy goedheid vir Adam en Eva klere van vel gemaak en die moederbelofte gee het...Dwarsdeur die geskiedenis sien ons God se genade, maar een toneel staan bo alles uit. Golgota. Die kruis. Jesaja 53 verduidelik so goed wat daar gebeur het...**

God se uitwissing van ons sonde is totaal en volkome –“En tog is dit Ek wat jou opstandigheid vergewe. Ek is getrou aan Myself, Ek dink nie meer aan jou sondes nie.” (Jesaja 43:25) Vergelyk ook Jeremia 31:33,34. Hoeveel sonde en simptome van sonde is daar nie by ons aanwesig nie - sondes van die liggaam, die oog , die oor, growwe openbare sondes, geheime weggesteekte sondes (maar net so aaklig), sondes van die gedagtes, en verbeelding, sondes by die huis, die skool , die werk , hier by die kerk... Herhaalde sondes, opsetlike sondes, twyfel, laster, direkte sondes teen God, sondes teen jou medemens, teen jouself, noem maar op ... God laat geen kategorie uit nie – Hy het alles uitgedelg. Weereens, waar en wanneer het God ons sondes uitgewis, uitgedelg? Dit het by die kruis gebeur. “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,” ( Kol 2:13,14) Op Golgota is ons sondeskuld, hierdie sondeskuld wat verdoemend teen ons getuig, finaal en volledig uitgewis! Ja, jy onthou dit nog miskien, ander mense onthou dit, sommige sondes laat lewenslange letsels na - maar daar waar dit saakmaak - in die gedagtes van God - is dit uitgewis. God se uitwissing van sonde, God se vergifnis van sonde is iets buitengewoon wonderbaar en finaal! “Wie is ‘n God soos U? U vergewe sonde, U straf nie die sonde van dié wat uit u volk oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde. Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak, U sal al hulle sondes in die diepsee gooi. “ (Miga 7:18,19) Ja, Hy het ons sondes in die diepte van die see gewerp! (en onthou : visvang is verbode)

3) Ons gepaste reaksie op God se genadedaad. God verwag geen teenprestasie nie. Genade is genade. Dit word nie verdien nie, dit kan nie verdien word nie, dit benodig geen aanvulling nie. Dis ’n geskenk. ’n Mens betaal of werk nie vir ’n geskenk nie, maar ’n geskenk lok wel reaksie uit. Dis mos so....Watse reaksie is hier gepas? Watse reaksie verwag God van ons noudat ons gehoor het, dat Hy ons sondeskuld uitgewis het? God sê vir sy volk : “Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos...” Wie die Goeie Nuus van die verlossingsdaad op Golgota werklik glo draai om van die ou pad en aanvaar dit met dankbaarheid... Die Goeie Nuus van die uitwissing van ons sondes laat elkeen wat dit glo in sy spore omdraai. Mense wat ongesteurd voortgaan, wys dat hulle God se genade verwerp het, dat hulle die boodskap van die kruis minag. Hulle sal die gevolge moet dra.

Soos jy hier lees val jy in een van twee groepe en in elke geval is hier vir jou ‘n kragtige boodskap:

~ Jy het nog nooit die Goeie Nuus (evangelie) werklik geglo nie. Miskien is jy baie godsdienstig, maar jy het nog nooit in dankbaarheid die evangelie aanvaar nie. By jou wil ek spesiaal pleit : Sien raak die werklikheid en feit van jou sonde, maar hoor dan die Goeie Nuus! “Ek het dit uitgewis...” Kom vandag, NOU na Jesus toe. Aanvaar in die geloof wat Hy reeds lankal gedoen het. As jy Hom aanvaar het, kan jy verseker weet ook jou sondes persoonlik is vir eens en altyd uitgewis.

~ Jy het hierdie boodskap lank reeds aanvaar en geglo. Tog kom daar twyfel by jou op as jou gedagtes begin rondhardloop : “Wat van hierdie vreeslike ding, wat van daardie sonde waarin ek herhaaldelik geval het, wat van my daaglikse mislukkings...?” Geliefde kind van God, hoor gelowig wat sê God. “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis” Vat God op sy Woord, want Hy is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie. As Hy sê : “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis” dan bedoel Hy dit. Laat sy Woord vir jou genoeg wees en los al die “maars”. Sy Woord tel meer as ons gewete, ons mislukkings of ander se opinie.  Mag hierdie kragtige uitspraak van God rus, vrede, sekerheid en blydskap in jou hart bring. Bedink dit en Bêre dit in jou hart! Vier dit in die Nagmaal. Dis 'n feit so seker as die brood en wyn wat jy voor jou oë sien en met jou mond proe!



*In Psalm 51:6 bely Dawid : “Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.”

**"Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom."

[Met erkenning aan Donald MacDonald, CHRISTIAN EXPERIENCE, hoofstuk 5]


In die diepte van die see...