BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 27 September 2012

ONS BEGRAWE PA

- afskeid van ‘n evangelie voetsoldaat.

[Dit was my voorreg om die boodskap te bring by my Pa, Johan de Koning se begrafnis op 26 September te Walvisbaai. My broer Jacobus het die bedankings gedoen en ds. Peet Poggenpoel van NG Meersig het die teraardebestelling waargeneem.

Pa was ‘n voetsoldaat vir sy Verlosser en Koning, Jesus Christus. Soos een van die broers van Narraville dit gestel het : “hy was ‘n leraar van die veld.” Hy was nie ‘n teoloog wat boeke geskryf het of ‘n kerkamptenaar wat verklarings uitgereik het nie. Hy het die destydse Suidwes-Afrika van hoek tot kant deurkruis en aan almal wat op sy pad gekom het die evangelie gebring. Van Noordoewer in die suide  tot Owamboland in die noorde, van Kaokoland in die verre noord-weste tot die Caprivi in die verre noord-ooste.  Hy het alle nasies bedien : van die Topnaars in die Namib tot die Herero’s en Boesmans in die Kalahari. Ja, Owambo's, Kavango's, Basters, Tswanas, Himbas, Namas, Damaras, noem maar op... en natuurlik ook mede Afrikaners het die blye boodskap uit sy mond gehoor. In die beginjare was sy vervoermiddel die bekende vuilgroen Landrover en later van tyd die groen Peugot en ook ander voertuie.  In kerke, skole, tente, onder bome... in tradisionele krale en weermagkampe...het hy die weg van saligheid verduidelik. Nou het sy stem stil geword hier in Namibië, maar ons weet dat hy tot in ewigheid die lof besing van die Lam. Ja, hy wat vir sovele mense op sovele plekke die liedjie, “Wie wil saamgaan?” geleer het, is nou vir ewig, juigend  in die teenwoordigheid van sy Verlosser!]


Diens onder 'n boom.

Ek het die Woord gebring* uit 2 Timoteus 4:6-8.

“Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voltooi; ek het die geloof behou.”

Paulus skryf hierdie brief kort voor sy dood aan Timoteus. Hy is in die skemeraand van sy lewe. Sy laaste skof op aarde het aangebreek. Sy lang en belewenisvolle loopbaan het nou die einde genader.  Hy praat met nugterheid, kalmte en sekerheid oor sy naderende heengaan en die implikasies daarvan.  Hy skram nie weg van die dood of leef in ontkenning nie. Daar’s geen bitterheid of opstand nie. Dis veral merkwaardig as ons besef, hy skryf  uit die tronk tydens sy tweede gevangeneskap in Rome. Waarskynlik kort hierna het hy die martelaarsdood deur onthoofding gesterf. Moontlik in die tyd van die wrede keiser Nero wat ‘n  onregverdige Keiser en onregverdige Regter was!

Reg hier in vers 6 se begin gee Paulus ‘n besondere perspektief op sy lewe. Hy verklaar dat hy reeds as ‘n drankoffer uitgegiet word. Dis ‘n veelseggende manier om van sy lyding vir Christus in diens van die evangelie te praat. ‘n Drankoffer het behels dat water, olie of wyn voor die Here uitgegiet is. ‘n Oënskynlike verkwisting, maar juis ‘n kosbare simbool van toewyding aan God. Dit word “gemors, verbruik” tot eer van God. Die Griekse woord wat gebruik word vir hierdie handeling is “spendomai”. ‘n Mens hoor onwillekeurig die Engelse woord “spend” hierin. Paulus se lewe is inderdaad verbruik of bestee ter wille van Christus en sy Koninkryk! Maar onthou, wie sy lewe vir Jesus "verloor", sal dit juis vir die ewige lewe "behou." (Johannes 12:25)

As ons nou verder kyk na vers 7 en 8, vra ek julle aandag vir twee hoofgedagtes : Paulus sê iets oor sy lewe en loopbaan wat verby is en iets oor wat hy na die dood verwag.

Ten opsigte van sy lewe wat verby sy lewe wat verby is, maak Paulus hierdie drie kort, kragtige, betekenisvolle frases - “EK HET....” x3

~ “die goeie stryd gestry” Die praktiese Christelike lewe van Paulus, maar ook van elke kind van God is 'n stryd. Christenskap is nie maklik nie. In Efesiërs 6 praat Paulus van 'n worstelstryd. Daar is ‘n stryd teen versoekings en sonde, die leuens, aanvalle en aanvegtinge van die Satan. Paulus het volhard in hierdie stryd. Ook jy as jy die Here Jesus getrou volg, sal stryd ervaar, omdat jy nie meer saam met die wêreld en sy norme gaan nie, maar “stroomop swem”.  Volhard jy hierin, of maak jy kompromieë?

~ “die wedloop voleindig” Die lewe van 'n kind van God word treffend uitgebeeld as 'n wedloop. Net soos in ‘n wedloop is daar  'n begin.  (Paulus se begin was daar oppad na Damaskus, toe God se reddende genade in sy lewe ingegryp het. Die gevolg was ‘n egte Godgewerkte bekering!) Ons moet ook iewers wegspring as ons die doelwit wil bereik. Dis my aanvanklike bekering, as ek Jesus in geloof as my persoonlike Here aanvaar. Maar dit gaan voort. Christenskap behels  nie net ‘n eenmalige besluit nie, maar 'n dag vir dag volhardende keuse. Om aan te hou om op Hom te vertrou en Hom te gehoorsaam. Die wegspring is belangrik, maar aanhou is net so belangrik. Maar gelukkig is daar is ook ‘n wenpaal! Daar wag rus en beloning.

~ “die geloof behou” Dit kan bloot  beteken,  Paulus het enduit bly glo in Jesus. Waarskynlik wil dit in hierdie konteks sê : Paulus het nie afgedwaal van die waarheid van die evangelie nie. Hy het getrou die evangelie bewaar wat God aan hom toevertrou het. (Stott) Paulus het soos byvoorbeeld die Galasiërs brief aantoon, ‘n passie gehad vir die suiwer evangelie. Hy wou niks weet van “Christus plus” nie! Hy het alle valse leringe in stryd met die eenvoudige evangelie verwerp. Dis so belangrik, ook in ons dag om vas te hou aan die suiwer waarheid. Daar is soveel dwalinge : Sommige teoloë ontken die historiese liggaamlike opstanding van Jesus. Verwarde mense hardloop agter die Hebrew Roots Movement aan wat die genoegsaamheid van Christus ontken en ons aanmoedig om weer die Sabbat en voedselwette van die Ou Verbond te onderhou! Pasop! Hou vas aan die waarheid wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is! Dis wat Paulus so getrou gedoen het.

Een groot saak is baie duidelik.  Paulus het nie omgedraai op die pad van Jesus nie. Hy  het begin, maar ook aangehou en volgehou...enduit!

Dan sê Paulus ook iets oor dit wat vir hom wag na die dood. Die implikasie is duidelik. Die dood is nie die einde van alles nie.  Die Bybel stel dit onomwonde : vir God se kinders wag daar 'n beloning na die dood! Oor die detail is dit nie juis sinvol om te spekuleer nie, maar die feit van die beloning staan vas. (vir die wat Jesus se genade geweier het,  wag daar natuurlik ewige straf!) Paulus sê daar wag vir hom 'n kroon. Miskien sê u ja, maar hy was 'n apostel, hy was darem spesiaal.... Paulus ruim gelukkig alle misverstand uit die weg, as hy verklaar,  dis nie net hy wat ̕n kroon gaan kry nie, maar almal wat uitsien na Jesus se koms. Is jy lief vir Jesus, het jy Hom aangeneem as Here en  Koning, sien jy uit na sy koms? Weet dan verseker daar wag ̕n kroon. Filippense 1:21 is eintlik ‘n pragtige verduideliking van Paulus se gedagtes in ander woorde. “Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins” As die lewe vir jou om Jesus draai, as jy Hom waarlik ken, dan is die sterwe absoluut voordelig en die beste, skoon wins.

Wat is hierdie kroon? Paulus noem die kroon, die “kroon van geregtigheid” (OAV) Geregtigheid is 'n juridiese term. Hy gebruik dit waarskynlik in kontras  met die onregverdige uitspraak wat die aardse regters of keiser oor hom uitgespreek het om hom ter dood te veroordeel. Die onregverdige aardse regters vind hom skuldig, maar die Regverdige Regter Jesus Christus sal hom vryspreek! Jesus spreek almal vry wat op Hom vertrou.  Nie op grond van enige prestasie of goedheid in ons nie, maar weens die genoegsame betaling aan die kruis.

 As jy Jesus aanvaar het,  hoef jy nie die dood te vrees nie. 

Jy staan nie meer skuldig nie, jy word vrygespreek, jy kry die kroon van geregtigheid. Maar die wat op Jesus vertrou het,  kry meer as net vryspraak. Hulle word ook positief beloon. Hulle sal hoor : “Mooi so! Jy was ‘n goeie en getroue dienskneg. Kom in en deel in my vreugde!” (Matt 25:23) Hierdie gedagte van ewige beloning, vind ons alreeds ook in die Ou Testament in Daniël 12:2,3.  Daar lees ons : 

“Baie van die wat ontslaap het, sal uit die graf opstaan, party tot die ewige lewe en party tot ewige skande en veragting. Die verstandige leiers sal skitter met die glans van die hemel self, en die wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre.”

Ons is natuurlik  hartseer oor ‘n pynlike verlies, maar ons weet ons Pa gaan een van diegene wees wat vir altyd skitter soos die sterre. Hy het nie alleen die genade ontvang om self die regte pad te loop nie, maar hy het baie, baie mense in veral hierdie land (Suidwes/Namibië)** ook na die regte pad gelei. Hiervoor bring ons aan God alleen die dank en eer vandag. 

En ons? Geliefdes is ek en jy kompromisloos besig met die goeie stryd, volhard ons in die Christelike wedloop, handhaaf ons die waarheid van die evangelie onverdund  teenoor dwalinge en vals profete? As ek en jy nou aan die einde van ons lewe moet kom, kan ons met vertroue uitsien  na die kroon van geregtigheid?

Paulus praat natuurlik  nie oor sy loopbaan en verwagtinge om homself op die skouer te klop of  menslike applous in te samel nie. Hy moedig hierdeur vir  Timoteus (en vir jou) aan om ook te volhard in die geloofspad. Mag Paulus se woorde, en ja ook Pa se nederige voorbeeld in ons gedagtes en harte voortleef en ons aanspoor.

*Die preek is effens verwerk. Die oorspronklike is beskikbaar in mp3 formaat.

** Natuurlik het Pa ook die evangelie in ander lande in Suider-Afrika verkondig, en was hy selfs op 'n keer in Indonesië.


Na sy laaste aardse rusplek


Tate Vilho Shihandya, 'n ou kameraad uit sy dae in die Dorothea sending praat by die graf.


Voor die Here.



Saam met ons dierbare moeder, wat altyd getrou aan sy sy gestaan het


Lees meer oor Pa deur hier te kliek op PA WORD TAGTIG

Vrydag 21 September 2012

STILLE SEËN VIR ‘N SKOPPENDE SIEL

- vertroue al verstaan ek nie.

Slegte dinge gebeur met alle mense. Ook met kinders van God. Veral as dit slegte dinge is wat ons nie verstaan nie, raak dit ons diep en skud dit soms ons geloofsfondasies. As dit slegte dinge is wat vir ons nie logies lyk nie, slegte dinge waarvoor ons geen skuld dra nie, slegte dinge waarin ons geen sin en doel kan sien nie,  wat vir ons heeltemal onregverdig voel,  kan dit ons verhouding met God  groot skade aandoen.  

Die meeste van ons het seker al sulke onverstaanbare slegte dinge beleef : As ek van my kant af alles doen om ‘n verhouding of vriendskap te laat werk en dit dan misluk, as ek eerlik en hard werk en dan tref ‘n finansiële ramp my,  nog erger ...as ‘n jong kind in ‘n ongeluk sterf, wanneer 'n geliefde lewenslank aan 'n siekbed gekluister is, as ‘n egpaar wat sendingwerk doen vermoor word...

Hoe reageer ons, as onverstaanbare slegte dinge ons tref? Wat is ons reaksie teenoor die misterie van slegte dinge wat met “goeie mense” gebeur? 

Ons ontwikkel maklik ‘n hoogmoedige wantroue en suspisie teenoor God  of ons verval in bekommernis en vrees. Ek  raak arrogant teen God. Ek kry ‘n suspisie : “God is nie lief vir my nie of God is nie almagtig nie.” Ons redeneer : “Hierdie slegte dinge is ‘n bewys dat God nie vr my omgee nie of hierdie slegte dinge is ‘n bewys dat God dat God nie die vermoë het om my te beskerm nie.” Kortom : God wil my nie help nie, want Hy is nie vir my lief nie of God kan my nie help nie, want Hy is nie sterk genoeg nie! 

Die gevolg van hierdie gedagtes is dat ons lewe nou deur twyfel en bekommernisse en vrese oorheers word. Ons probeer als op ‘n menslike manier uitredeneer en verklaar. Ons maak onsself moeg om oorsake te soek vir ons ellendes, ons draai onsself vas in allerhande teorieë en gedagtes... Die wortelgesindheid van hoogmoed en wantroue vertoon uiterlik natuurlik 'n verskeidenheid van gestaltes : sommige raak verhard en spot met die geloof, ander voel verbitterd in die stilte en raak kopsku vir God en onttrek hulle aan die gemeenskap van die gelowiges... Hoe dit nou ook al sy : Onverstaanbare slegte dinge laat ons vertroue verloor en maak ons harte onrustig!

Hoe kry ek weer rus en vrede as ek onverstaanbare slegte dinge my in opstand of vrees laat veral het? Dawid sê vir ons Psalm 131 dat hy rus gevind het. Hy het “sy siel tot bedaring gebring!” (OAV) Nou hoe kry mens dit reg? Wat is Dawid se resep? Kortliks, kan ons sê dat hy twee keuses maak
  • Hy kies teen hoogmoed en bekommernis. 
  • Hy kies vir kinderlike vertroue


Die oplossing lê in ‘n nederige kinderlike onderwerping aan die Amagtige Alwyse God : “Here, ek gaan my nederig voor u buig en nie als probeer uitredeneer en verstaan nie. Ek gaan my plek as beperkte mens ken. Ek berus by die feit dat U God is en ek ‘n mens. Ek erken : U sien verder as ek, U sien die onsigbare, U alleen sien die eindpunt en doel van alles. Ek aanvaar daar is dinge wat ek nie nou in hierdie lewe sal verstaan nie. Ek maak vrede met die feit dat daar altyd dinge is wat vir my onverstaanbaar en verborge sal bly”  Dis nie God se wil om alles aan ons bekend te maak nie. Deuteronomium 29:29 stel dit duidelik : “Die verborge dinge is vir die Here onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders...” (OAV)

Kies om te berus by die feit dat dit nie God se wil is om nou reeds antwoorde en verduidelikings op al my vrae te gee nie.

Die digter gebruik dan in vers 2 ‘n pragtige en treffende metafoor om sy rustende oorgawe aan  en vertroue in God  uit te beeld.  ‘n Rustige tevrede kindjie by sy moeder. Vers 2 : “Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.”   Sien die prentjie! Spesifiek ‘n “gespeende kind” (sien OAV en NIV - “weaned child”) Dis opvallend en moontlik veelseggend dat hy hierdie term “gespeende kind” (gamul) kies en nie byv. ‘n baba (‘ul) of suigeling (yoneq) nie. Die gespeende kind is een wat al moes leer dat alles nie so maklik is nie (hy het al teleurstelling en skok ervaar), hy is nie meer konstant aan sy moeder se bors soos die suigeling  nie.  Kos en veiligheid is nie meer so vanselfsprekend nie; maar hy kan tog tevredenheid en rus vind by sy moeder. Hy skuil by sy ma, hy vertrou sy ma al verstaan hy baie dinge nie. Kyk na die toneel : Hierdie kindjie skop en skree en raas nie meer, nie hy rus net en so raak hy vol tevredenheid aan die slaap...veilig by sy moeder.

Dis die punt waarby Dawid uitgekom het : 

Volkome vertroue al verstaan ek nie!

Hierdie houding en gesindheid, is die enigste manier hoe ons vrede kan beleef in ‘n hartseer stukkende wêreld. Maar baie belangrik, dis juis hierdie gesindheid van vertroue en oorgawe wat eer bring aan God!  “Here , ek sal U vertrou, ek sal U eer, ek sal U gehoorsaam,  al verstaan ek nie. Ek bly U aanbid al verkeer ek in droefheid en benoudheid!”  Dis die diep vlak van heiligheid waartoe God sy kinders wil bring. Dis die omkering, die teenoorgestelde van die sonde van Adam en Eva  in Eden. Hulle het hoogmoedig geword en God gewantrou, hulle het geredeneer : “Ons weet beter as God, ons vertrou Hom nie, hoekom mag ons nie van al die vrugte eet nie? Ons wil ons eie bestemming bepaal en ons eie besluite neem.” Dit was opstand teen God, dit het God se eer geskend en tot onmeetlike smarte gelei. Wanneer jy God se kind word as  jy Jesus as Verlosser aanvaar, begin Hy om jou gesindheid van hoogmoed, wantroue en opstand te verander na een van nederige berusting en vertroue. God gebruik juis die onverstaanbare hartseer dinge om ons by hierdie radikale punt van vertroue te bring. En dink mooi,  hierdie beginsel van “vertroue al verstaan ek nie”, is tog juis ook die manier hoe ons aanvanklik verlossing en vrede vind by God. Die Christen is iemand wat kinderlik op God se beloftes aangaande sy Seun Jesus Christus vertrou, al verstaan ek nog steeds baie dinge nie. Dis veelseggend as Jesus in Markus 10:15 verklaar : “Wie die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”

Die Psalm sluit af met ‘n uitdaging. Vers 3 : “Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.”  Dit kom na elkeen van ons! Maak hierdie doelbewuste keuse! Ek sal vertrou al verstaan ek nie! Ek sal aanhou vertrou en hoop op God, al bly baie dinge onverstaanbaar!

Dinsdag 18 September 2012

STILSTAAN BY DIE SKADUWEE?

- nee, want Jesus het gekom!

Die Hebrew Roots Movement (asook die Sewendedaagse Adventiste) met hulle aandrang dat ons weer die Sabbat moet onderhou en ons aan die Mosaïse voedselwette moet onderwerp vind sekere gedeeltes in die Nuwe Testament (veral in Paulus se briewe) uiters ongemaklik. Een so ‘n gedeelte is in Kolossense 2:16 - 17 wat sê :

“Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet of drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag (lett - Sabbatte) moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid  is Christus.”

Aangesien hierdie teksgedeelte die HRM skuldig verklaar (want hulle wil weer voedselwette, feeste en Sabatte aan ons voorskryf) is dit te verstane dat hulle hierdie woorde van Paulus sal probeer verdraai. Dis dan ook wat Elim Ministries (Fish Hoek) probeer doen. Met langdradige verduidelikings probeer hulle die duidelik ooglopende bedoeling van Paulus omseil in wat genoem word “A new look at Col 2". (Terloops dit lyk asof hierdie dwaling nog verder gaan en hulle eie vertaling van die Skrif wil maak, genaamd “Woord en Getuienis” net soos hulle geestelike voorvaders, die Jehova Getuies met hulle New World Translation.)*

Kom ons kyk na Kolossense 2:16,17. Omdat hierdie teks nie in isolasie staan nie, maar deel is van ‘n brief, is dit eers belangrik om agter die hooftema en strekking van die Kolossense brief te kom. Vers 16 en 17 sal tog uiteraard daarby inpas.

Die hooftema van Kolossense kan as volg geformuleer word: 

Die algenoegsaamheid van Christus en sy oppermag oor beide die skepping en die herskepping (kerk) vorm die fondasie van ons beskerming teen die misleidinge van die dwaalleraars wat voorgee dat daar geheimsinnige maniere is waarop ons nader na God kan kom sowel as die vaste basis van ons praktiese Christenskap, ons verhoudinge met gelowiges en die wat buite staan. 

Die fokus in Kolossense val dus op Jesus as die genoegsame en volledige openbaring van die volheid van God.

Terug by ons teks. Die opvallende kontras in Kolossense 2:16,17 is tussen skia (skaduwee) en soma (liggaam/realiteit).  Die finaliteit en volheid van Jesus word gekontrasteer met die voorlopigheid van die skaduwee (voedselwette, feeste en Sabatte) Hierdie interpretasie word verder versterk deurdat ons ‘n soortgelyke kontras in Hebreërs 8:5 en veral ook baie duidelik in Hebreërs 10:1 aantref :

“Die wet van Moses (tora) is slegs ‘n skadubeeld van die weldade wat sou kom...” 

Hier is die kontras tussen die voorlopige diere offers en Jesus as finale en volkome offer.

Natuurlik kan soma ook die betekenis van “liggaam” hê, maar die onmiddelike konteks waarin dit teenoor skadu stel, maak dit baie logies om dit hier met “werklikheid”  te vertaal. Die vertaling van soma as “werklikheid/realiteit” in hierdie teks  word gesteun deur gesaghebbende Griekse woordeboeke wat die volgende verklarings gee : “the thing itself, the reality” in die “A Greek-English Lexicon” (Walter Bauer) en  “reality, corresponding reality - but the reality is Christ” in die “Greek-English Lexicon” (Louw en Nida)  

Die kontras tussen skaduwee en werklikheid pas ook pragtig in by Paulus se soortgelyke redenasie in Galasiërs 4:9. As ons Christus (die Werklikheid) leer ken het, is dit mos dwaas en ‘n terugwaartse stap om weer wettiese godsdienstige reëls te probeer nakom, waarvan die rakleeftyd verval het. En net in die volgende vers noem hy die dinge wat onder wettiese godsdienstige reëls tel : “besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare.” (Galasiërs  4:10) Dieselfde sake wat ook in Kolossense genoem word!

Wat sê dit nou als vir ons? In die Mosaïese wetsisteem was sekere voedselwette en die onderhouding van sekere dae en feeste verpligtend. Christene is bevry van hierdie verpligtinge. As ‘n Christen homself wil onthou van sekere voedsel of sekere dae wil gedenk is dit goed en wel, dis ‘n saak vir sy gewete tussen God en homself. (Paulus skryf hieroor in Romeine 14:5 ev.)

Maar baie belangrik : Diegene wat aan Christus behoort, moet hulle dus nie meer oor hierdie sake laat voorskryf, wanneer mense ons wil wysmaak dat ons so meer behaaglik vir God sal wees  nie. Waarom moet Christene weier om geïntimideer te word oor sake soos hierdie? 

Die wetlike voorskrifte van die verlede (Ou Verbond/Mosaïse Verbond) was slegs van verbygaande aard, dit het behoort tot ‘n tydelike oorgangstadium in die uitwerk van die heilsgeskiedenis. (Galasiërs 4:1-7 - “toe ons nog onvolwasse kinders was”) Nou dat die bedeling van Christus aangebreek het, geld hierdie dinge nie meer nie. Dit was maar net heenwysings, skaduwees wat op Hom gewys het. Jesus self is die werklikheid, die substansie. En dis die groot punt in Kolossense : 

Jesus Christus is die genoegsame werklikheid wat geen aanvulling van voedselwette, visioene en engele nodig het nie!

Daar was niks fout met die wet nie, maar dit was net die skadu, nou dat ons by die werklikheid gekom het, is ons aandag en ons saak by die werklikheid en nie meer by  die skaduwee nie.  Dink aan die  program van ‘n konsert. Die program is in ‘n sekere sin baie nuttig, maar net tot op ‘n punt. Dit berei jou voor vir die konsert, maar as die lees van die program jou verhoed om by die werklike konsert uit te kom is daar tog fout.  Die wet het ‘n belangrike heenwysende  funksie gehad, maar dis nou verby, want Jesus na wie dit gewys het, is nou hier!  Paulus sluit heel waarskynlik aan by dit wat hy as Joodse rabbi geleer het.  Baie Jode het die Joodse feeste as voorlopers van die Messiaanse tyd gesien. Volgens sekere rabbynse tekste was die  sabbat byvoorbeeld  ‘n voorsmaak van die tyd wat sou kom. Hierdie heerlike tyd het nou in Christus aangebreek. Die rus waarvan die sabbat gepraat het, het nou in Christus ‘n werklikheid geword. (Vgl. Matteus 11:28ev)  Dit maak tog nie sin om die voorteken te vier as die werklikheid aangebreek het nie. Jesus self is die ware vervulling van die Sabbat, en met sy teenwoordigheid verdwyn die belangrikheid van die afbeeldings. Wie in Jesus glo is besig om die ware Sabbat te onderhou. Prakties - ons hoef nie meer die (Saterdag) Sabbat te vier nie, maar ons moet ook nie die Sabbat na ‘n ander dag verskuif  nie. Die Sondag, terloops  is nie maar net ‘n verskuifde Sabbat nie, dis iets heeltemal anders. ‘n Dag vir die bymekaarkom van gelowiges en feesviering oor die opstanding.

Ons as gelowiges uit die heidendom staan nie meer onder die Mosaïse wetgewing rakende dae en kos nie.  Ons word nie ingeënt in die Judaïsme van die Mosaïse Verbond (Ou Verbond) nie, maar ons is wel kinders van Abram. (Galasiërs 3:7) Ons is in die geloofsfamilie van Abram en bou op die beloftes wat aan hom gemaak is, eeue voordat die wet van Moses bestaan het. Die wet was ‘n latere en tydelike byvoeging.  (Galasiërs 3:17-18) Dit was net bedoel totdat Christus, die Saad sou kom. Ons was net tydelik onder die toesig van die wet, maar staan nou nie meer daaronder nie. (Galasiërs 3:23-25)

Kom ons verheug ons in die vryheid wat ons Volmaakte Verlosser vir ons verwerf het! Kom ons vier die vryheid met heiligheid onder leiding van die Heilige Gees!


* Daar is ook ‘n vertaling genaamd,  “The Word of Yah – the King’s Covenant” waaroor die samestellers die belaglike en leuengtige aanspraak maak dat dit teruggaan op oorspronklike manuskripte wat in 2002 by die Eufraat ontdek is. Alhoewel nie alle HRM aanhangers hierdie vertaling aanvaar nie, is dit net weereens ‘n bewys tot watter uiterstes dwaalleraars sal gaan om hulle onwaarhede te versprei. 


Donderdag 13 September 2012

Die "K-woord"

- wat van die kansel verdwyn het.

[Het die Predikant/Pastoor/Gospelsanger/Christen radiostasie al vir jou vertel dat jy ‘n kruis moet dra as jy Koning Jesus wil volg?] 

Kruisdra. Die ononderhandelbare vereiste vir dissipelskap.  Wat het Jesus self oor hierdie saak te sê in Lukas 9:23-26?  Kom ons luister na die waarheid uit sy eie mond. Mag ons die moed hê om sy woorde onverdund te sluk en te absorbeer.  Laat ons ons daarvan weerhou om die skerpkant van sy uitsprake stomp te vyl met ons rasionele redenasies en verskonings.

Oor die sentrale belangrikheid van hierdie tema kan daar geen twyfel wees nie.  Dis nie maar net ’n terloopse of randuitspraak van ons Heer nie.  Dit word telkemale in die evangelies herhaal ‒ Lukas 14:27, Matteus 10:38&39, 16:24&25, Markus 8:34 en ook Johannes 12:25 (al word die woord “kruis” nie direk hier gebruik nie.)  Jesus se oproep vind ook neerslag in die res van die Nuwe Testament.  Dink maar aan Paulus se uitspraak, “aan Hom gelyk te word in sy dood” (Filippense 3:10) om maar net een voorbeeld te noem.  Oor die wye implikasies en toepassing van die oproep tot kruisdra hoef ons ook nie te wonder nie.  Hy sê dit vir “almal”  (v. 23).  Dit is dus van uiterste belang dat ons sal weet wat hierdie kernbegrip beteken en prakties vir ons inhou.

VOLGELINGSKAP EN KRUISDRA

Dis die twee sleutelbegrippe in hierdie gedeelte.  Hulle is onlosmaaklik aan mekaar verbind.  Kruisdra kan net verstaan word binne die konteks van volgelingskap. 

Jesus se boodskap aan mense was, “Die koninkryk van God het naby gekom.  Bekeer julle en glo die evangelie.”  Die  prakties toegespitste appèl van hierdie prediking tref ons soos ’n refrein in die evangelies, “Volg my”, “Kom agter my aan.”  Jesus roep mense na Homself.  Dink maar aan Simon en Andreas daar langs die meer, ook Jakobus en Johannes, Fillipus, Matteus die tollenaar, die ryk jongman en vele naamlose voorbeelde.  “Volg” soos Jesus dit gebruik is duidelik ’n gelaaide begrip.  Dit behels baie meer as net ’n bietjie saamstap ‒ dit impliseer geloof, vertroue, oorgawe, diens, gehoorsaamheid (“my skape luister na my stem en volg my”).  Jy skaar jou openlik by die een vir wie jy volg.

Jesus roep sy volgelinge op tot ’n beslissende radikale keuse van afstand doen van die prioriteit van vorige verhoudings, lojaliteite, besittings en lewensstyl tot volle vertroue in Hom, ’n konkrete vereenselwiging met Hom, ’n nederige onderwerping aan Hom, ’n bewuste nabootsing van Hom as Meester in leer en lewenswandel.  Om die radikaliteit van volgelingskap, die selfverloëning wat dit vereis en die verreikende implikasies daarvan by sy hoorders tuis te bring, gebruik Jesus die begrip of beeld van kruisdra.

Kruisdra is ’n skerp, veelseggende begrip, wat almal van destyds sou verstaan en aanspreek.  Al Jesus se toehoorders het waarskynlik al gesien hoe ’n ter dood veroordeelde met sy kruis oppad is na die plek van teregstelling.  Veroordeeldes is gedwing om hulle kruise of ten minste die patibulum (dwarsbalk) self te dra.  As jy so iemand sou sien,  weet jy een ding, daardie man is ’n uitgeworpene, oppad na sy dood, sy aardse bestaan het nou ’n einde bereik.  Volgens sommige is dit ook moontlik dat die beeld van kruisdra ’n algemeen bekende metafoor van destyds was wat radikale sosiale isolasie en vernedering aangedui het.

Dis moeilik vir moderne mense om die stigma en skande wat aan die kruis gekoppel is, te verstaan.  Vir die meeste het dit bloot ’n sentimentele simbool geword.  Die kruis as teregstellingsinstrument vir die ergste tipe misdadigers, val in dieselfde kategorie van weersinwekkendheid as die vuurpeloton, galg of elektriese stoel van vandag. 

Belangrik om van kennis te neem: 

Jesus roep sy aspirant aanhangers nie op om bloot ’n kaartjie in te vul, hand op te steek of rympie te prewel nie, maar om hulle kruis op te neem!


TWEE GROOT MISVERSTANDE

Voor ons meer in detail na die betekenis van kruisdra vir ons kyk, moet daar eers twee algemene wanopvattings uit die weg geruim word.  Kruisdra is nie:
een of ander persoonlike of familiebeproewing nie.  God gebruik inderdaad beproewings in die lewe van  Sy kinders met die oog op hulle heiligmaking en toetsing van hulle geloof.  Beproewings stuur Hy egter soos en wanneer Hy wil.  Dis nooit iets waartoe hy ons oproep nie, Hy bring dit op ons pad soos Hy dit nodig ag.
algemene ellende of swaarkry nie.  Dis soos baie mense dit verstaan en dit het ook so in ons taalgebruik ingesluip in die uitdrukking, “Elke huis het sy kruis.”  Daar is inderdaad baie ellende , rampe en siekte in die wêreld en God se kinders is nie daarvan gevrywaar nie.  Hierdie ellendes het niks met kruisdra te doen nie, dit tref ons almal, dis nie iets wat ons vrywilig kies nie.

VYF BASIESE ELEMENTE VAN KRUISDRA

In v.23 sê Jesus (omskryf in ons taal van vandag), “As iemand van julle graag onder my aanhangers getel wil word, moet hy vir eens en vir altyd vaarwel sê vir sy eie self en moet hy bewustelik kies vir pyn, skande, ongerief en vervolging ter wille van my en die bevordering van my saak ‒ sonder ophou dag in en dag uit, en so moet hy my dan lojaal volg.”  Vers 23 bring ten minste vyf basiese elemente van kruisdra onder ons aandag:

Kruisdra is vrywillig.  Dis ’n keuse waarvoor Jesus elke belangstellende en voornemende volgeling stel.  “Oorweeg jy dit om my te volg?, wel jy is welkom, neem jou kruis op en kom ...”  Jesus wil jou nie om die bos lei nie, Hy sê eerlik en reguit wat dit gaan kos, wat die gevolge gaan wees van jou verbintenis met Hom.  Bereken eers die koste.  Besluit of Ek dit vir jou werd is om al hierdie veragting, swaarkry en probleme ter wille van My te verduur.  Kruisdra is ’n doelbewuste, vrywillige en berekende keuse. Ek gaan oop oë in hierdie saak in.

Kruisdra is ’n voortdurende aksie.  Vers 23 sê “elke dag.”  Dit behels nie net ’n eenmalige krisis tydens my bekering en dan is dit verby nie.  Dis ’n besluit wat lewenslange konsekwensies het en oor en oor bevestig moet word.

Kruisdra is nie lekker of maklik nie.  Juis omdat dit gaan oor selfverloëning.  Dis  pynlik, want dis ’n doelbewuste keuse teen myself.  ’n Keuse vir Jesus is by implikasie in baie opsigte ’n keuse teen myself.  My ou self se belange sal noodwendig bots met die van my nuwe Meester s’n, aangesien eersgenoemde verdorwe is en lg. volmaak heilig is.  Selfverloëning is ten diepste ’n bekering van die afgodsdiens van selfgesentreerdheid en selfgerigtheid.  Dis makliker gesê as gedaan en daarom is dit ’n halwe waarheid as ons vir mense sê, “O, dis altyd so lekker om ’n Christen te wees.”  Terloops, Jesus het nooit vir iemand gesê , “Volg my, want dit gaan so lekker wees” nie. Inteendeel. (Die wat Jesus inderdaad volg met die gesindheid van selfverloëning, doen dit nie ter wille van byvoordele nie, maar omdat ons oortuig is dat Hy die Seun van God is, ons enigste Middelaar en Hoop).
Kruisdra is ’n ononderhandelbare voorwaarde vir en onontbeerlike bestanddeel van dissipelskap.  Dis nie ’n bykomstigheid nie, maar ’n minimumvereiste.  Hieroor spreek Jesus Homself baie duidelik uit in Lukas 14 :27 “...kan my dissipel nie wees nie.”  Dit kom dus daarop neer dat Jesus geen ware dissipels het wat nie kruisdraers is nie.  Jesus het tydens sy aardse bediening die beginsel van kruisdra onlosmaaklik aan dissipelskap gekoppel, en daar is nog geen omsendbrief van die hemel af gestuur om te sê dat dit nie meer geld nie.  Die vereiste van kruisdra vir alle dissipels beteken noodwendig dat daar nie iets bestaan soos twee “klasse” van Christene nie ‒ A klas dissipels met kruise (sg. Geestelikes) en B klas dissipels sonder kruise (sg. Vleeslikes, wat vir hulleself lewe maar tog mos darem hemel toe sal gaan) nie.  ’n “Dissipel” sonder ’n kruis (sonder selfverloëning) is volgens die Bybel hoegenaamd nie ’n dissipel nie, al noem hy homself een.

Kruisdra is iets wat ek doen ter wille van Christus en verduur as gevolg van Hom.  Prakties beteken dit ek doen doelbewus afstand van my voorkeure, wense, gerief, ambisies en belange in soverre dit in my pad staan om Jesus voluit en onvoorwaardelik te gehoorsaam en te dien. Dit beteken ook dat ek my bereid verklaar en inlaat om die gevolge wat voortvloei vanuit getroue navolging van Jesus te dra en verduur.  Troue navolging van Jesus behels o.a. dat ek my openlik voor mense aan Sy kant sal skaar (v. 26), Hom ten alle tye sal gehoorsaam en Sy wil en belange eerste sal stel.  Watter negatiewe gevolge sal dit vir my inhou?  Veragting van mense, valse aantygings ("hy hou hom heilig, hy dink hy is beter as ons"), sosiale uitsluiting, materiële verliese weens die handhawing van Bybelse beginsels in my besigheid ens.  
Soos die geval met ander Bybelse begrippe word die inhoud van kruisdra verdraai en verwring om by die mens se sondige motiewe te pas.  Let op die volgende verdraaiings wat dikwels voorkom:
Sommige sien kruisdra as ’n stuk selfkastyding waarmee ek vir my sonde kan betaal en so geregtigheid voor God kan kry.
Party dink dis ’n manier hoe ons God se arm kan draai om sekere dinge vir ons te doen of
’n Manier om my heiligheid aan ander te bewys, aandag te trek of  simpatie te ontlok.
Dis ook ’n mode om swaarkry ter wille van politieke oortuigings of omstrede standpunte as kruisdra te klassifiseer.  (Volgens die Skrif val net dit wat ek ter wille van Christus en Sy saak verduur onder die opskrif van kruisdra; om 20 jaar of meer vir my politieke beginsels in die tronk te sit kan dalk prysenswaardig wees, maar dis nie kruisdra in die Bybelse sin van die woord nie.)

Onthou : Kruisdra red ons nie, dis wel ons enigste sinvolle reaksie op die radikale verlossing wat ons Verlosser aan die kruis vir ons bewerk het!

PERSOONLIKE TOEPASSING

Is jy nog onseker wat kruisdra in jou persoonlike omstandighede behels? Vra jouself ‒ is daar vriende, verhoudings, belange (sport?) en of enige ander lojaliteit wat my verhinder om te alle tye Jesus se wense soos uitgespel in die Skrif te gehoorsaam?  Spurgeon se waarskuwing is hier van pas, “O, do not for the sake of a man’s frown or a woman’s smile forego eternal life.”  Vra jouself ‒ watter konsekwensies laat my op dié stadium nog terugdeins en wegskram om openlik aan Jesus (en Sy kerk) se kant te gaan staan?  Dit behoort jou ’n goeie aanduiding te gee van die betekenis en implikasies van kruisdra binne jou persoonlike konteks.

DIE VERGETE BEGINSEL

Jesus se eie woorde kan by ons geen twyfel laat dat die opneem van die kruis ’n onmisbare deel van Nuwe Testamentiese Christenskap is nie.  Kruisdra is ’n onontbeerlike bestanddeel van Christenskap. Net soos dit onmoontlik is om mieliepap sonder mieliemeel te maak.  Hoeveel  bykosse en souse jy ook saam met die mieliepap kan maak, sonder die basiese bestanddeel van mieliemeel hou dit op om egte mieliepap te wees.  

Dis ’n tragiese feit dat die beginsel van kruisdra  grootliks uit die breë kerklike praktyk van tans verdwyn het en  nog eintlik net in die argiewe gevind word. Kruisdra het ‘n verbode “K-woord” geword, wat nie meer dikwels in Christelike geselskap gehoor word nie! Die oproep tot daaglikse kruisdra het verborge geraak onder ’n dik stoflaag van menslike tradisies, gemaksug en wêreldgelykvormigheid.  Die vraag is net: is dit wat oor die algemeen as Christenskap deurgaan, hoegenaamd nog die ware Jakob? Gaan baie nie dalk eendag te laat uitvind dat hulle nooit volgelinge van Jesus was nie? Mag die Gees van God weer ons oë open om die sentrale beginsel van kruisdra te herontdek en implementeer.

DIE MOEITE WERD

Ten minste een belangrike aspek moet nog vermeld word.  Die heerlike belofte wat saam met die oproep gaan.  Vers 24b.  Kruisdra is verseker nie lekker en maklik nie, maar dis  beslis ook nie ’n doodloopstraat wat op niks uitloop nie.  Kruisdra ter wille van Jesus beteken wins in absolute terme, ’n ewige batige saldo.  Dis oor en oor die moeite werd.  Trouens dis die enigste pad vir die mens wat tot ware wins lei.  Miljoene getroue dissipels wat reeds die wedloop afgelê het en op hierdie oomblik by Christus is, sal net kan saamstem.

Neem jou kruis op en volg Hom, Hy sal jou ook die genade gee daarvoor!



(Ou skyfie van Pa van Owamboland)

Saterdag 08 September 2012

DAARDIE EEN SONDE...

- vind volle vrede by die Vervloekte!

Daardie een verskriklike sonde. Daardie sonde wat jy nie eers oor wil dink nie. Daardie sonde wat aan jou gewete vreet. Daardie sonde wat jou laat vrees vir die oordeelsdag. Daardie vreeslike sonde  van die verlede wat jou nog steeds verlam op die geloofspad.  Ja, alle sondes is erg, maar sommige se gevolge is tog groter. Sommige sondes veroorsaak vreeslike skade, baie keer skade wat nooit weer reggemaak kan word nie. Party sondes het 'n rimpel effek dwarsdeur mens se hele lewe. Dit lyk asof die wet van Moses ook party sondes erger as ander beoordeel het. Vir party sondes kon mens 'n offer bring of die skade regstel, en dan was alles weer reg. Vir ander sondes, spesifiek doelbewuste ergerlike sondes was daar blykbaar net een gevolg : die  doodstraf.  Dis wat  in Deuteronomium voorgeskryf word  vir ‘n opstandige seun. (Deuteronomium  21: 21) ‘n Ander sonde wat die doodstraf oor jou kon bring was owerspel (Deuteronomium 22:22) of om God te vloek (Levitikus 24:16). Geen genade nie, geen genoegsame offer nie, net die allervreeslikste dood. Hierdie sondes het die vloek van God oor jou gebring op 'n baie sigbare manier. So ̕'n oortreder se lyk is aan 'n paal  opgehang, as ‘n verdere verswaring van sy straf... almal kon dit sien.  (Hier in Deuteronomium 21:22-23  word die opdrag gegee dat so ‘n lyk voor sononder begrawe moet word sodat die land nie verontreinig word nie.)

Miskien is het jy ook een of ander “ernstige” sonde gepleeg het. Dalk het jy God direk gevloek in 'n oomblik van woede, miskien het jy een of ander seksuele misstap begaan (jy is bitter spyt, maar jy kan dit nooit vergeet nie), dalk het jy iemand aangerand of beseer, moontlik het jy by die okkulte betrokke geraak, bedrog gepleeg wat ander se lewens vernietig het, of dalk het jy jou eie kinders of ouers onherroeplike skade aangedoen..... Nou is jy gekwel, jy kan nie volle vrede en vreugde beleef nie...die herinneringe aan hierdie sondes agtervolg jou soos ‘n skaduwee.

Vriend, die Woord van God het baie goeie nuus. Jesus red ons van sonde waarvan die wet van Moses (Tora) ons nie kon red nie. Anders gestel, Jesus red ons van alle sonde!

God se oplossing vir ons sondegebrokenheid is geloof in Jesus en nie die wet (Tora)  nie!

 Handelinge 13:38,39 * (OAV)  is so ontsettend belangrik:

“Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word, en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses (Tora) nie geregverdig kon word nie.”

Daar is ‘n heerlike kontras tussen Jesus en die wet van Moses waarvan ons moet kennis neem. Johannes stel dit so : “God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.” (Johannes 1:17) Waar genade beperk was in die wet van Moses, ontvang ons deur Jesus ‘n oorvloed van genade! (Johannes 1:16) Die wet van Moses (Tora)  was ‘n tydelike en beperkte instelling, Jesus Christus is die finale en volkome Verlosser! Jesus bied volledige hoop en vergifnis, wat die wet van Moses nie kon bewerk nie. Hierdie genade is alles moontlik gemaak deur Jesus se kruisdood.  Die sondes waarvoor die wet van Moses ons vervloek het en tot die dood verdoem het, het Jesus op Hom geneem. Hy het die vloek wat die wet uitgespreek het op sondaars gedra en so self ‘n vervloekte geword!  Ek wil graag hê jy moet hierdie waarheid self sien, so kom ons blaai na Galasiërs 3:13. Wat ‘n aangrypende waarheid:

“Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: ‘Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is’”

Jesus het aan 'n houtkruis gehang en gesterf.  ‘n Houtkruis! ‘n Vloekhout! Dis vir hierdie argument van Paulus baie belangrik - Hy is nie net gestenig of met ‘n swaard doodgemaak nie! Paulus verduidelik Jesus se sterwe teen die agtergrond van  Deuteronomium 21:22-23. Hoekom het Jesus juis aan 'n houtkruis gesterf? Dis ‘n bewys, Hy  het nie  maar net ‘n normale dood  gesterf nie, maar spesifiek as 'n vervloekte!  Jesus het maar nie net ‘n toevallige dood gesterf nie, die houtkruis was ‘n teken dat God Hom as ‘n vervloekte behandel en beskou het. Wetsoortreders was onder die vloek, onder die oordeel van God. Daar was geen hoop vir hulle nie.  Hulle is gedood en hulle lyke is aan ‘n houtpaal opgehang. 

Maar God het sondaars lief, Hy stuur sy Seun Jesus na hierdie wêreld juis om mense vir wie daar nie hoop is nie te red. Jesus self het geen sonde gehad nie. Nie een nie. Hy het God se wet immers volmaak gehou. Hy was in alles gehoorsaam aan sy Vader. En tog hier sterf  Hy as 'n vervloekte, onder die oordeel van God aan ‘n houtpaal. Hoe so? Daar is net een antwoord, God het ons sondes gevat en op Jesus geplaas. God het ons ongeregtigheid gevat en op Jesus laat neerkom. (Jesaja 53:6!) God het vir Jesus as sondaar behandel in ons plek. (2 Korintiërs 5:21)  Jesus was dus bedek met ons sondes. Jesus het  as’t ware 'n sondaar geword vol aaklige sondes. Vol sonde, vol van ons sonde. Myne en joune. En wat sê die wet?  Die wet sien Jesus is vol sonde en grom : “Jesus, jy moet sterf!” En Hy sterf...  En ons? Ons wat glo - ons gaan vry! Dis die heerlike evangelie. Dis die boodskap wat hoop bring vir die ergste sondaar! O, wat 'n heerlike omruiling. Christus sterf in ons plek. Hy is vervloek aan die kruis en ons word geseën! Hy sterf en ons lewe!

Jesus het volkome al jou skuld en straf gedra.  Martin Luther stel hierdie waarhede  so sterk en duidelik** : Jesus het nie net vir klein oortredinkies en foutjies en misstappies gesterwe nie, maar vir aaklige sondes, gruwelike sondes, smerige sondes, sondes so groot soos die berge...Hy het aan die vloekhout gehang vir sondes wat die doodstraf verdien. Soos daardie groot sondaars met die ergere sondes van die Ou Testament wat aan die vloekpaal opgehang is! Glo dit. Gryp hierdie goeie nuus aan. Sê vir Hom dankie, sê hier is my lewe ek wy my aan U! Kyk na Jesus,  sien raak dat die volle prys betaal het. 

 Sien raak, sy kruis was ook genoeg vir daardie een vreeslike sonde! 

Hoor soos baie sondaars uit sy mond, "jou geloof het jou gered, gaan heen en sondig nie meer nie." Vier hierdie vergifnis in die Nagmaal, wat weereens ‘n sigbare versekering en bevestiging is van Jesus se genoegsame offer!

 *Natuurlik is Paulus se bedoeling nie hier om te sê dat die wet van Moses in die bedeling van die Nuwe Verbond nog steeds gedeeltelike vryspraak kan bied nie. Dis nie sy punt nie. Hy wil dit  positief stel dat daar deur die geloof in Jesus volledige regverdiging/vryspraak is. FF Bruce stel dit so : “Paul is not making partial but total claims for the power of the gospel over against the law” (THE NEW INTERNATIONAL COMMENTARY ON THE NEW TESTAMENT, The Book of Acts, p279) 

** In sy beroemde Kommentaar op die boek Galasiërs waaruit ek ook geput het vir hierdie preek.

Dinsdag 04 September 2012

DIE PROBLEEM?

- nie my skoonma nie, maar my eie hart.

’n Klomp skoolseuns beland op ’n idilliese eiland, hulle is ordentlike outjies wat in ‘n kerkkoor sing, goeie opgevoede seuns....., maar uiteindelik ontaard hulle in wrede barbare wat mekaar probeer uitroei... Die nobelpryswenner, William Golding in sy “Lord of the Flies”  beskryf hierdie  groot waarheid baie treffend.  Die fout lê by die seuns se innerlike. Die mens se dilemma  is nie sy omgewing of sy omstandighede nie, dis sy eie hart, sy binneste! My probleem is nie my ouers, skoonma,  moeilike man of vrou, onderwysers of die lui werkers nie, maar my eie bose hart!

In Matteus 5:8 verklaar Jesus :

 “Salig/geseënd is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.” 

Die opvallende in hierdie saligspreking  is dat die hart spesifiek genoem word. Nie net - “salig is die wat  rein is”  nie (dit sou mens dalk kon verwag) - maar “wat rein van hart is!”  Jesus sê spesifiek  - “rein van hart.” Dis die klem! Die hart is die simbool van die setel van die mens se innerlike - jou diepste bedoelings, gesindheid en motiewe. Jesus beklemtoon die hart, want vir die toegang tot die Koninkryk is dit die innerlike wat tel. Dis juis op hierdie punt waar Jesus skerp kritiek teen die Fariseërs gehad het.(vgl. sy striemende aanval in Matteus  23:26-28 ) 

Die mens is gesteld op die uiterlike, God stel veral belang in die hart. 

Alle valse godsdienste maak kenmerkend baie van die uiterlike en die sigbare. Solank ek die regte voorskrifte,  seremonies  en rituele volg is alles reg!  Maar hierdie  vashou aan die uiterlike raak ook baie mense in die kerk. Dit lyk of baie redeneer : “As die baba darem ‘n mooi dooprokkie aanhet,  as al die familie darem net by die aanneming kan wees, solank ons maar net ‘n stemmige begrafnis met ‘n kwistige huldeblyk het...dan is ons hemelse bestemming verseker...” Baie vind gemoedsrus in die feit dat “ons darem nie hierdie of daardie gruwelike sonde doen nie” Alles uiterlike maatstawwe!  Jesus stel dit egter baie duidelik : as mens te doen het met die ware God en as mens in sy Koninkryk wil ingaan is iets meer as uiterlike reinheid en rituele nodig. 

God, omdat Hy die lewende God is, kyk tot binne in die hart. Dit wat God in ons binnestes sien verskil hemelsbreed van dit wat mense op ons gesigte sien. Wat God van ons harte af weet, verskil nogal van dit wat mense op ‘n Sondagoggend in die kerk waarneem. Hoe ons vir mekaar lyk,  is iets heel anders as hoe ons vir God lyk. En dis volgens hierdie binneste wat Hy gaan oordeel. (Romeine 2:16)  Hierdie fokus van Jesus op die hart, m.a.w. op ons diepste gesindheid en bedoelings kry mens weer vorentoe  in die Bergrede wanneer Jesus Sy siening gee oor die 6de en 7de gebooie. (Moord en egbreuk is nie iets wat bloot uiterlike gebeure behels  nie, dis sonde wat eerstens in die hart begin en  gepleeg word, lank voor dit tot sigbare dade oorgaan)

As Jesus hier fokus op die hart kom dit neer op ’n ontsettende stuk ironie. Want sien, niks op aarde is juis so onrein as die mens se hart nie!  Jesus gee ‘n skrikwekkend eerlike beskrywing van die boosheid wat uit ‘n mensehart opborrel in Markus 7:18-23. (Lees) Dink maar bietjie aan alles wat sleg, siek, walglik en  wreed en is. Waar begin dit? Waar word dit  uitgedink en beplan?  Waar broei en gis dit voor dit tot uitbarsting kom? Dit kom uit die binneste van die mens. Niks op aarde is so vals en bedrieglik as die mens se hart nie. (Jeremia 17:9!)  Soos reeds gesê, die mens se wesentlike probleem is nie sy ouers, familie,  omgewing of omstandighede nie,  maar sy eie bose hart.  Hieruit kan ons ’n baie belangrike logiese gevolgtrekking maak : die oplossing van die ellende van die mens lê dus nie in ander omstandighede  nie, maar die verkryging van ’n nuwe rein hart!

Wat is ’n rein hart? Skoon. Sonder smet en bedrog. ’n Hart waarvan God hou. ’n Hart wat onverdeeld op God gerig is. 'n Hart wat God waarlik liefhet en daarom ook sy medemens.  ‘n Opregte hart! (Vgl. Jakobus 4:8b.)

“...want hulle sal God sien.” 

Hier is ‘n heerlike en omvattende belofte. Die belofte is dat die wat rein van hart is God sal sien. Dis ‘n groot saak. Om God te sien, om God se teenwoordigheid te beleef, om God te geniet en te bewonder! Dis waarvoor ons hier op aarde is! Dis die sin en vreugde van die mens se bestaan! Wie dit mis, mis alles!  Die saligsprekinge gaan oor die Koninkryk,  so die reines van hart sal God in sy Koninkryk sien. Hulle (en net hulle) sal nou reeds, maar ook vir ewig in sy teenwoordigheid woon. Diegene met onrein harte sal nooit in God se heiligdom toegelaat word nie.  Onrein harte is die grootste struikelblok om God te “sien”. Dis ‘n onrein hart wat verhinder dat ek God se teenwoordigheid beleef, dit verhoed my om God se nabywees te ervaar. Dit belemmer en versteur gebedsgemeenskap met God. (ja, daardie teen die dak vasbid) Onrein harte kelder ons gebede. (Jesaja 59:1,2) Wie ‘n onrein hart het, leef nou sonder God en sal vir ewig sonder Hom wees.  Hoeveel mense is dalk nie in hierdie situasie nie? Hulle is wel uiterlik deel van die kerk, maar hulle sien God nie, hulle beleef Hom glad nie. Daar is geen bewuste gemeenskap met Hom nie! Die rede : ’n onrein hart. Daarom beleef hulle godsdiens as ‘n koue dooie plig.  Onreines sal tot in alle ewigheid afgesny wees van God;  hieroor is Openbaring 21:27 baie duidelik:

“Niks onreins en niemand wat iets losbandigs en vals doen, sal ooit daarin kan kom nie...”


DAWID

Dit bring ons dan by die laaste groot vraag : hoe kry ek ’n rein hart? Hier kan koning Dawid ons nogal help. Dawid was iemand wat met die onreinheid van sy hart geworstel het. Sy sonde met Batseba het die toestand van sy hart pynlik aan die lig laat kom. Dawid het gelukkig ook die oplossing vir sy bose hart raak gesien. Hy wend hom in verootmoediging tot God en pleit berouvol: “skep vir my ’n rein hart, o God!” (Psalm 51:12) God alleen kan ’n onrein hart skoon maak. Die manier hoe Hy dit doen is deur die bonatuurlike werk van die Heilige Gees, wat die mens bring  tot egte geloof in Jesus Christus! 

Jesus se bloed is die enigste wasmiddel vir ‘n smerige hart!

Dit beteken ek kan net ‘n skoon hart ontvang as ek vertrou op Jesus as die Gekruisigde, wat die straf vir my onrein hart in my plek gedra het! Hy skenk my vergifnis, maar ook ‘n nuwe hart met nuwe rein begeertes en beginsels!

Net ‘n laaste opmerking van troos vir God se kinders. Dis in ‘n sin juis die gereinigde kinders van God wat die meeste bewus is (en algaande meer bewus raak) van hulle eie onrein hartstoestand. Dis juis eers as ek ‘n rein hart ontvang het, dat ek bewus word van en ontsteld word oor die oorblywende sonde in my lewe. Die verlange na ‘n rein hart en die versugting tot God vir ‘n heilige lewe, sal  voortdurend by die kind van God aanwesig wees. ‘n Voortgaande verlange na ‘n rein hart, is dus seker een van die duidelikste kenmerke van ‘n rein hart!

Saterdag 01 September 2012

MERK VAN DIE DIER

- belangrike les van die Ses Ses Ses!

“Het jy gehoor wat gaan hulle in Amerika doen? Die merk van die dier, presies soos die Bybel voorspel het... Dit wys net die einde is nou naby...” 

Die merk van die dier (sien Openbaring 13 :11-18) is seker een van die sake in die laaste boek van die Bybel  wat  die meeste aandag kry en tot die grootste spekulasies lei. Dit  kan ook  onnodige vrese tot gevolg hê in die sin dat party Christene dink dat hulle dalk hulle verlossing sou kon verloor as hulle moontlik nie hierdie gedeelte reg interpreteer en verstaan wat die merk van die dier is en dit betyds weier nie. (Net onlangs het daar weer ‘n e-pos met wilde bewerings in hierdie verband die rondte gedoen, wat ontsteltenis en vrae by mense ontlok het)

Kom ons verstaan net weer twee belangrike beginsels van interpretasie :

~ Openbaring is in die eerste plek geskryf vir sy eerste lesers, om hulle te vertroos en te bemoedig in hulle verdrukking. Dit was veronderstel dat hulle hierdie boek sou verstaan, insluitend die betekenis van  die merk van die dier. Vers 18 skep die indruk dat die verstaan van hierdie simbool nie baie probleme vir die eerste Christene sou inhou nie..
~ Openbaring is ook geskryf vir alle Christene deur alle eeue en nie net vir ons in ons tyd van rekenaars en bankkaarte nie. Kinders van God wat vyf honderd jaar gelede geleef het, sou 'n boodskap kry uit die "merk van die dier", maar daar is ook 'n belangrike les vir elke kind van God, vandag, nou!

Die merk van die dier staan teenoor die merk wat God se kinders ontvang. (sien Openbaring14:1) Niemand veronderstel  dat dit beteken dat God se kinders ’n letterlike merk op hulle voorkoppe kry nie. Dit simboliseer sekerheid van die verlossing, gewaarborg deur God, wat ons deur die geloof in Jesus ontvang. Elkeen wat hierdie verlossing deelagtig word, word “gemerk” en kan nie sommer wegraak en verlore gaan nie.  Die Nuwe Testament leer ons dat ons deur die inwoning van die Heilige Gees verseël word. (In ’n sin kan ons sê  dat God ons deur sy Gees merk as sy eiendom - vgl Efesiërs 1:13)

Dis gevaarlik en jammer dat party mense so die klem op die merk van die dier plaas - “solank ons dit net nie kry nie, is ons veilig”, in plaas van positief seker maak : “Het ek al die Here se merk ontvang?”  (Met ander woorde die belangrkste saak om van seker te maak is of ek deel in die wedergeboorte wat God aan ons skenk)

Baie mense bring vandag die merk van die dier met ’n rekenaarskyfie onder die vel in verband en die gevaar is dat mense kan dink solank ons net nie daardie skyfie kry nie is ons saligheid verseker. Terwyl die hele Openbaring die klem laat val op ons verlossing deur die bloed van die Lam.  Die dringende vraag wat ons vandag aan mense moet vra, is nie of jy ’n mikroskyfie onder jou vel het nie, maar of jy weet dat jy gered is deur die bloed van die Lam?

666

Hoe moet die simboliese getal van die trippel ses verstaan word? Ons moet dit verstaan teen die agtergrond van die destydse gebruik van gematria, ’n sisteem waarvolgens elke letter van die alfabet ook ’n getalwaarde gehad het. Dit was gebruik onder die Jode sowel as die Grieke en Romeine. In die welbekende stad Pompeji is daar grafitti gevind wat lees “Ek bemin haar wie se naam 545 is”* As die Griekse woorde “Keiser Nero”, die wrede vervolger van Christene,  in Hebreeus getranskribeer word en dan opgetel word, lewer dit die totaal van 666. Dus is dit baie waarskynlik dat hierdie getal oorspronklik aan Nero gekoppel is en dat die eerste lesers van Openbaring dit so verstaan het. Maar, die getal 666 moet waarskynlik  ook wyer simbolies gesien word as die bose menslike aanslag teen God. Die Goddelike getal van volmaaktheid is  777. Die 666 kan dit nie bereik nie. Die drie bose agente: draak, valse profeet, antichris skiet tekort by God. Die destydse wrede Nero was ’n voorloper, ‘n beeld van alle antichriste en ook die finale laaste Antichris, wie hy of wat sy sisteem ook al sal wees. Dit gee vir ons insig oor hoe die finale Antichris optree.  Goddeloos en wreed. Om met getalle te probeer uitwerk wie die persoon is, lei net tot groot spekulasie. Daar was al ’n verbysterende groot getal kandidate - so het sommige beweer dat die voormalige Amerikaanse president Ronald Wilson  Reagan die antichris was. (Elkeen van die drie name het ses letters!) Die probleem is, elkeen gebruik ’n interpretasie sisteem soos dit hom pas! Die bedoeling van 666  is dus nie om vir ons te sê presies wie die Antichris is nie, maar hoe hy te werk sal gaan.

Antichris

Wat ons wel moet weet : Die Satan voer ’n hewige stryd teen God en sy mense. Hy gebruik die Antichris en die vals profeet as sy bondgenote om namens hom oorlog te voer. (Weereens die tema van konflik wat so algemeen in die Openbaring boek voorkom)**. Die eerste dier is ’n parodie van Christus - ons kan ook sê ’n na-aper van Christus. Hy is byvoorbeeld ook dodelik gewond, maar genees, dus ‘n na-aping van die opstanding van Jesus. (13:3) Die valse profeet (valse wêreld godsdienste)  probeer mense oortuig om hierdie dier (Antichris) te aanbid.  Hy sal Hom voordoen as ’n alternatiewe Verlosser! Dit klink ook baie soos die keiserkultus van destyds. Die teenstanders van God, die antichriste en die finale Antichris gebruik alle mag van misleiding en selfs ook ekonomiese stelsels om hulle stryd te voer! Kan ’n bose staatsbestel eendag ’n kontantlose stelsel misbruik om totale beheer uit te oefen en mense in die proses  verplig om rekenaarskyfies te dra? Ja, dit sou kon gebeur! Dit bly egter ’n vraag of ons Openbaring se simbole so letterlik moet opvat, want as ons sê dat elke mens letterlik ’n 666 gaan kry, dan beteken dit dat elkeen presies dieselfde getal sal kry en dit gaan nie werk vir doelwitte van identifikasie nie!

Wat van nou?

Gesien vanuit die geheelboodskap van Openbaring en die kontras tussen die Here se merk en die merk van die dier, is die boodskap vir ons uit hierdie gedeelte NOU dat ons getrou moet bly aan die Here en alle ongeloof en onreinheid moet vermy! Anders gesê, ons moet nie meedoen aan die bose sisteme van hierdie wêreld nie (merk op die hand), ons moet ook nie dink soos die bose wêreld nie (merk op die voorkop). 

Moenie doen en dink soos die sondige wêreld nie!

Wie weier om mee te doen aan goddeloosheid en bedrog, wie weier om te redeneer soos hierdie goddelose wêreld sal nou reeds op hierdie oomblik vind dat hy vervolg, uitgesluit en skade aangedoen sal word! Lyding ter wille van Christus is nou reeds vir God se kinders ’n alledaagse werklikheid! (Die Christen besigheidsman wat nie omkoopgeld wil betaal om kontrakte te kry nie, ly finansiële skade ter wille van sy geloof! Die Christen skoolmeisie wat weier om deel te neem aan trompoppies en weens haar standpunt uitgestoot word uit die vriendekring... dis voorbeelde van Christene wat ly omdat hulle nie die merk van die dier wil dra nie!)

Die sentrale tydlose boodskap van die Merk van die Dier is dus : 

Vermy alle kompromieë met sonde en dwaling!

Dis wat so hartseer is : Terwyl Christene stry oor presies wat die merk van die dier sou kon wees, besoedel hulle hulleself met hierdie einste merk, deur kompromie met sonde, wêreldliefde en valse leringe!

Ons moet ons nie laat vang deur mense en sisteme wat Christus na-aap nie!  Pasop veral ook vir “ander evangelies” - al word hulle deur sogenaamde  “wonders” bevestig! (Dink hier aan die Prosperity Gospel, die Hebrew Roots Movement, Word of Faith Movement... en natuurlik alle teologie wat die liggaamlik historiese opstanding van Jesus uit die dood bevraagteken)  Pasop vir die betowerings van die Vals Profeet, in watter vorm ook al!  Valse profete is instaat tot subtiele propaganda en wondertekens! (Maak seker jy lees Openb 13:11,13!) Iemand wat op buitengewone wonders aanspraak maak, is nie noodwendig ‘n leraar van die waarheid nie! Moet geen ander evangelie aanvaar as dié wat deur die apostels aan ons in die Bybel oorgelewer is nie. (Vgl. Galasiërs  1:8)  As ons in heilige gehoorsaamheid aan die Here leef sal ons dan in elk geval ook weet hoe om op te tree in ’n toekomstige kontantlose samelewing, wat dit ook al mag inhou!

Die kind van God het dus niks om te vrees nie, ons hoef ook nie bang te wees dat ons dalk per ongeluk een of ander verdoemende merk sal kry nie. Ons moet net getrou bly aan die evangelie boodskap en in kompromislose heiligheid lewe!

* Vir hierdie feit en ander gedagtes erkenning aan Du Rand, Die A-Z van Openbaring.
** Sien reeks : MAAK OOP BY OPENBARING