Metodisme is een van daardie
vloekwoorde in die kerklike wêreld waarvan min mense wat die term gebruik presies
weet wat hulle daarmee bedoel. ‘n Algemene beskuldiging wat sommer onnadenkend
rondgeslinger en gehoor word is : “Die Skotse predikante het die Metodisme in
die NG Kerk ingevoer” of “In Suid-Afrika word dr. Andrew Murray die draer van
die Metodistiese denkstrominge.” Dit
maak dan sommer by implikasie van dr. Andrew Murray ‘n vreeslik gevaarlike dwaalleraar,
want daar word ook beweer : “Die hoofgedagte van Metodisme is dat elke mens die
saad van Goddelike genade in hom dra. Dit beteken dat dit van die mens self
afhang of hy in die genade deel of nie. Daardeur verwerp hulle die
uitverkiesingsleer.” Nou wonder mens van watter Metodisme word hier gepraat,
aangesien een van die grondleggers van die Metodisme, George Whitefield juis ‘n
vurige verdediger van die uitverkiesingsleer was!
Soms word die indruk gewek dat
die etiket van die gewraakte Metodisme ‘n baie breë kwas is om almal te smeer
wat erns probeer maak met Bybelse begrippe soos geloof, bekering en radikale
lewensheiliging. Sommige maak selfs die
Bybelse opdrag om mense tot ‘n geloofsbeslissing uit te daag af as Metodisme.
(Asof Johannes die Doper, Paulus en Jesus dit nie gedoen het nie!) Party is
oortuig bidure is “Metodisties” en moet daarom liefs vermy word. Vir ander is die begrip “herlewing” per definisie ‘n
metodistiese dwaling. Is dit histories en teologies korrek en regverdig om
sulke aannames te maak? Vermoedelik is
daar kampvegters vir die suiwer leer wat die term “Metodisme” dalk met goeie
intensies gebruik om kritiek te lewer op die oppervlakkige evangelisasie
metodes en revivalisme wat by die semi-Pelagiaan Charles Finney (amper ‘n eeu
later) ontstaan het. Dat ons skepties behoort te wees oor die sienswyses en
praktyke wat party hedendaagse
“evangelicals” by hom oorgeneem het, spreek vanself, maar om dit onder die noemer van Metodisme te
hanteer kan nie histories of teologies geregverdig word nie. ‘n Bietjie
agtergrond kan dalk help om die verwarring op te klaar en baie van die
wilde stellings te temper.
METODISME
Waarvandaan kom die begrip Metodisme? Daar is duidelike historiese bewyse1.
dat die term van vroeg af deur George
Whitefield op homself van toepassing gemaak is. Dis eers later deur John Wesley
gebruik. Hierdie twee saam met John se broer Charles en verskeie ander was lede
van die sogenaamde “Holy Club” in Oxford in 1729. Op hierdie vroeë stadium was
die “Holy Club” natuurlik geensins evangelies van aard nie. Die fokus was
streng geestelike dissipline en asketisme, maar sonder evangeliese sekerheid en
blydskap. Die evangeliese herlewing en die kragtige prediking daaraan verbonde
het eers later plaasgevind nadat Whitefield en die Wesleys die bevryding van
die vryspraak deur die geloof in Christus alleen proefondervindelik gesmaak
het. Niemand sal seker presies weet waarna die term “Metodisme” oorspronklik
verwys het nie, maar Wesley se verklaring was
soos volg : “A Methodist is one who lives according to the method laid
down in the Bible.” Dié benaming is natuurlik ook deur die teenstanders van die Groot Evangeliese
herlewing van die 18de eeu gebruik om almal wat deur die herlewing beïnvloed is
mee aan te dui hetsy diegene binne die Kerk van Engeland of daarbuite. Eers later is die woord gebruik om Metodiste
van Anglikaanse evangeliese gelowiges te onderskei. Verder moet mens ook in ag neem dat die
noemer “Metodiste” in ‘n engere sin na die volgelinge van John Wesley (wat Arminiaanse
oortuigings gehuldig het) kon verwys, maar in ‘n breër sin ook kon verwys na
Whitefield en Lady Huntingdom se
volgelinge wat die leerstellings van die Calvinisme onderskryf het. Die werk van Whitefield en ander Calvinistiese
herlewingspredikers soos Howel Harris en Daniel Rowland het immers later
uitgeloop op die totstandkoming van die Calvinistic Methodist Connexion.
GEORGE WHITEFIELD
Dit spreek dus van absolute
onkunde om Whitefield en Wesley in dieselfde teologiese mandjie te gooi bloot
omdat hulle vriende en beide groot predikers was tydens die Groot Evangeliese
Herlewing van die 18de eeu. George Whitefield, een van die invloedrykste
predikers in die geskiedenis van die Christendom was ‘n oortuigde Calvinis2. en het
drasties en duidelik van Wesley verskil oor laasgenoemde se leer van
perfeksionisme en Arminianisme. Enige iemand wat hieroor sou twyfel kan gerus
maar net Whitefield se uiters bekwame antwoord lees wat hy aan Wesley geskryf
het in reaksie op dié se aanval op die Calvinisme in sy preek getiteld “Free
Grace”. Whitefield berispe Wesley onder andere met die volgende sterk taal :
“Dear Sir, for Jesus Christ’s sake, consider how you dishonour God by denying
election. You plainly make salvation depend not on God’s free-grace, but on
man’s free-will…” Hou ook in gedagte dat
Whitefield besondere aanklank gevind het by die hoog aangeskrewe Calvinistiese
teoloog (en kenner van herlewing) Jonathan Edwards van die Verenigde State.
Juis ook as dit kom by die onderwerp van herlewing moet ons versigtig wees vir
oorhaastige uitsprake en ongeldige kritiek. Om alle voorstanders van ware
herlewing3. (wat iets heel anders is as die revivalisme van die
latere Charles Finney) in ‘n Metodistiese (bedoelende Arminiaanse) kamp saam te
jaag, is teologies onverantwoordelik, histories onjuis en getuig van onkunde
oor die kragtige genadewerking van God gedurende herlewings waarvan die vrugte die
toets van die tyd deurstaan het. Dink maar byvoorbeeld aan die heerlike en
blywende vrug van die Koreaanse herlewing…
Die Kaapse goewerneur Lord
Charles Somerset het vanaf 1822 ‘n verengelsingsbeleid deurgevoer. Hiervoor sou
hy ook die kerk probeer inspan. Die dringende tekort aan predikante weens die
aansienlike vermeerdering van gemeentes het ‘n gaping vir hom gelaat om
Engelsprekende predikante aan te stel en so op subtiele wyse sy doelwitte te
help bereik. Drie Skotse leraars wat voorheen in diens van die Londense
Sendinggenootskap4. was naamlik George Thom, John Evans en John
Taylor is in NG gemeentes aangestel. In 1820 het die goewerneur vir ds. Thom na
Skotland gestuur om nog Skotse predikante te gaan werf. Tydens die Kaapse sinode
van 1834 was meer as die helfte van die predikante van Skotland afkomstig. Dit spreek vanself dat hulle ‘n beduidende
invloed in die NG Kerk sou uitoefen. Wat ons nie uit die oog moet verloor nie
was dat die Skotse predikante waaronder ds. Andrew Murray (die bekende dr.
Andrew Murray en prof. John Murray se
vader) Calviniste was. Dit was ‘n deurleefde evangeliese Calvinisme van die
soort waarvan die lewe en werk van
bekende Skotse leraars uit daardie tyd waaronder Andrew en Horatius Bonar,
Robert Murray McCheyne en die latere sendeling in China, William Burns5.
getuig. Die verskynsel van herlewing binne ‘n Calvinistiese konteks was iets
waarmee hulle goed bekend was. (Dink aan
die Kilsyth Herlewing van 1838-39 in Skotland.)
Alhoewel goewerneur Somerset klaarblyklik duistere oogmerke gehad het
met die invoer van Skotse predikante, het hierdie leraars met hulle sterk
evangeliese en puriteinse uitkyk ongetwyfeld daartoe bygedra dat daar ‘n
behoefte in die kerk gestimuleer is na ‘n meer proefondervindelike godsdiens.
Daar was ‘n verlange na ‘n geestelike ontwaking of herlewing.
HERLEWING
Dit bring ons dan by die
evangeliese herlewing wat in die jare 1860-62 in die NG Kerk, maar ook in ander
kerkgenootskappe in Suid-Afrika ondervind is. Hierin het dr. Andrew Murray,
maar ook ander predikante (wat terloops nie Skotse wortels gehad het nie) soos
G.W.A. van der Lingen, J.H. Neethling en
N.J. Hofmeyer ‘n groot rol gespeel. In hierdie tyd het baie lidmate ‘n
persoonlike belewenis van die heil in Christus ervaar en was daar ‘n merkbare
groei in toewyding in die kerklike lewe. Belangrike vrae om te antwoord is onder meer :
Hoe geregverdig is dit om Metodisme te koppel aan die evangeliese herlewing van
die 1860’s in Suid-Afrika? Wat was dr. Andrew Murray se rol hierin? En wat was
die vrugte van die herlewing?
ANDREW MURRAY
Ons moet pasop om herlewing nie
outomaties te assosieer met die verwerping van die uitverkiesingsleer (onthou
vir Whitefield) en ortodoksie in die algemeen nie. Dit was juis Andrew Murray
wat ‘n kragtige stryder teen die liberalisme was. (En hoe dringend nodig het
die NG Kerk tog vandag weer so ‘n dapper
persoon wat vir die waarheid sal opstaan!)
Om net twee voorbeelde te noem. Murray moes die kerk se gereformeerde standpunt in ‘n
hofsaak verdedig toe die advokaat siek
geword het. Hy het toe ‘n toespraak van vier uur gelewer en die saak is gewen!6. Murray het ook die liberalisme bestry in
sy “Het Moderne Ongeloof.” Laat ons nie vergeet nie, dr. Andrew Murray
was ‘n predikant van gereformeerde oortuiging wat selfs ‘n kommentaar op die
Heidelbergse Kategismus geskryf het. Inderdaad
het hy ook sy teologiese swak plekke gehad waaronder sy siening oor Goddelike genesing en sy affiniteit vir die
Keswick leer van ‘n dieper lewe, maar hy was alles in ag genome ‘n man van
God met ‘n reuse positiewe geestelike
nalatenskap. Dis wel verstaanbaar dat
sekere fasette van die herlewingsprediking
aanstoot sou kon gee soos die beklemtoning van bekering (veral seker vir
onbekeerdes!) en ‘n sterk emosionele element versterk deur die sing van
opwekkingsliedere en passievolle Woordverkondiging. Beslis is daar
altyd die gevaar van uiterstes, eensydighede
en oorbeklemtoning wat mag voorkom, maar in geheel gesien is die lewe en
praktyk van die NG Kerk oneindig verryk deur die herlewing waarin dr. Andrew
Murray en baie ander ‘n groot aandeel in gehad het. Buitendien is alle moontlike negatiewe gevolge
van bogenoemde niks in vergelyking met die gevaar van verbondsoutomatisme en
valse gerustheid nie. Die persoonlike ervaring van God se genade in Christus,
erns met lewensheiliging, stimulering
van ‘n innige gebedslewe (soos ook tydens bidure en Pinksterdienste) en ‘n sendingywer (waarvan die geskiedenis
van die NG Kerk so merkwaardig getuig) is vrugte van herlewing wat tot die eer
van God en die uitbreiding van sy Koninkryk gelei het!7. As hierdie dinge dan deel van die “Metodisme”
sou wees, dan moet ons dit as ‘n seëning uit die hand van die Here beskou.8.
Uiteraard kan dit nie ontken word dat die aantygings oor “Metodisme” in die NG
Kerk vir baie ‘n ernstige saak was
nie. Dit sou immers ook aangevoer word
as een van die redes vir die hartseer afskeidings wat die NG Kerk beleef het met
die totstandkoming van die Gereformeerde Kerk in 1859 en ook later die stigting
van die Gereformeerde Kerke onder die Kruis. Gewoonlik is sulke gebeure baie kompleks
vanweë misverstande, plaaslike persoonlikheidsbotsings en omstandigheidsfaktore
en moet mens sekerlik baie versigtig wees om “Metodisme” op ‘n simplistiese
wyse die oorsaaklike sondebok vir hierdie kerklike onenigheid te maak. 9.
Histories gesien bly dit in elk
geval ‘n vraag of die invloed wat dr. Andrew Murray en ander op die kerk gehad
het as Metodisme beskryf kan word. Daar
sou moontlik ‘n indirekte lyn aangedui kon word, maar die direkte wortels van hulle oortuigings en praktyke
moet eerder by die Réveil, ‘n geestelike
beweging wat in Nederland (en ook ander
Europese lande) van 1830 tot 1850 gevoel is, gesoek word. Die Réveil het klem
gelê op die innerlike geloofslewe en praktiese Christenskap. Dit was ‘n
broodnodige reaksie op die geestelike verval binne in die kerk. Onder die
invloed van die Réveil het daar in 1844 ‘n studentevereniging SECOR DABAR aan die Universiteit van Utrecht tot stand
gekom met die doel om persoonlike bekering en ‘n praktiese vroom
lewenswandel te bevorder. Deur hierdie
vereniging het Afrikaner studente soos John en Andrew Murray, N.J. Hofmeyer,
J.H. Neethling en ander wat in daardie
jare in Utrecht gestudeer het, met die beginsels van die Réveil kennis gemaak
en weer as latere geestelike leiers die NG Kerk in hierdie rigting beïnvloed. Wat die herlewing van die 1860's betref is dit belangrik om kennis te neem van die uitbreek van herlewing in verskeie lande in 1859 soos onder andere Ierland, Skotland en die VSA. Dit het niks te make gehad met Metodisme nie, maar het beslis meegewerk om die behoefte aan 'n geestelike ontwaking ook in Suid-Afrika te stimuleer. (Kliek op ULSTER HERLEWING as 'n voorbeeld)
Weens die komplekse geskiedenis
en veelsydigheid van die Metodisme lyk
dit vir my of mens maar baie versigtig
moet wees om dit sommer as ‘n algemene etiket te gebruik om afwykings van die
gereformeerde leer mee aan te dui en persone met wie mens nie heeltemal
saamstem nie verdag te maak. As gelowiges mag en moet ons mekaar in broederlike
liefde wys op gevare en foute, selfs ook oor kerkgrense heen. Hierdie
teregwysings moet duidelik en sinvol wees sodat dit tot die geestelike welsyn
van die aangesprokenes mag strek. ‘n Vae en ongenuanseerde beskuldiging van
Metodistiese invloede dien myns insiens nie so ‘n doel nie.
Voetnotas
1. Dallimore, A., George Whitefield, Volume 1, p381ev.
2. Jonker, W.D., Uit Vrye Guns Alleen, p34.
3. Met “ware herlewing” word hier bedoel ‘n soewereine werk van God se genade op ‘n groot skaal wat lewens oor ‘n wye front radikaal aanraak en verander. Dit kan nie deur mense georganiseer word nie, maar is ‘n bonatuurlike heerlike ingrype van God. Vir ‘n duidelike hantering van die verskil tussen “herlewing” en “revivalisme” sien Murray, I. H. se Revival & Revivalism – The Making and Marring of American Evangelicalism 1750-1858, The Banner of Truth Trust, 1994.
4. Was hierdie voormalige sendelinge van die Londense Sendinggenootskap Calvinisties van oortuiging? ‘n Dieptestudie hieroor kan seker van groot waarde wees, maar val buite die skopus van ‘n kort skrywe soos hierdie. Daar is egter byvoorbeeld geen rede om die Calvinisme van iemand soos ds. George Thom te betwyfel nie. Sy leermeester by die sendingseminarie, Dr. David Bogue was ‘n Calvinis met ‘n sterk geloof in predestinasie. Na Thom se aankoms in die Kaap in Oktober 1812 het hy betrokke geraak by die 93rd Highland Regiment en spesifiek by ‘n Calvinistiese vereniging wat sedert 1808 tussen die soldate bestaan het. Van ds. Thom se voorstelle by die sinode van 1824, nadat hy ‘n leraar van die NG Kerk geword het, het ingesluit dat daar ten minste een keer per maand uit die Heidelbergse Kategismus gepreek word. Sien Christian Library (internet), George Thom (1789-1842): Scottish pioneer in South Africa (outeur onbekend). Vir ‘n evaluering van die enorme positiewe bydra van die Skotse leraars in die NG Kerk, sien Sass, F. W., The Influence of the Church of Scotland on the Dutch Reformed Church of South Africa (ongepubliseerde Ph.D. tesis, University of Edinburgh, 1956)
5.Interessant, as negejarige skoolseun, het Andrew Murray se pad met die van Burns gekruis in Skotland. Murray is natuurlik in Graaff-Reinet gebore, maar vir skoolopleiding oorsee gestuur. Heiberg, C.F., A Heart on Fire: The Life of Andrew Murray (1828-1917)
6. Ibid.
7. ‘n Boom word aan sy vrugte geken en die sendingywer wat kenmerkend was van Murray se fisiese en geestelike nasate spreek boekdele. Elkeen wat kennis dra van die merkwaardige sendingpogings van die NG Kerk dwarsoor Afrika en tot sover as die destydse Ceylon sal hiervan kan getuig.
8. Die kerkhistorikus Prof. P.B. van der Watt skryf dan ook : “Die meer praktiese inslag wat die Ned. Geref. Kerk ten gevolge van sy kontak met die Metodisme gekry het, moet as ‘n bate erken word.” Van der Wat, P.B., Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1824-1905, p24. Van der Watt onderskei ongelukkig self ook nie duidelik tussen die Arminiaanse en Calvinistiese vorm van die Metodisme nie.
9. In alle billikheid moet dit gemeld word dat daar ook ander redes vir die afskeiding van 1859 aangevoer word soos die kerk-staat verhouding, kollegialisme en natuurlik die Gesangekwessie. Met sommige van hierdie redes kan mens inderdaad meer simpatie as met ander hê. (Interessant genoeg, die Skotse leraars was juis die grootste beswaarmakers teen die staat se invloed in kerklike sake.) Die doel van hierdie kort artikel is egter nie om die redes van afskeiding te beoordeel nie, maar slegs om aan te dui dat die beskuldiging van “Metodisme” so maklik op ongenuanseerde en onverantwoordelike wyse gebruik word.