BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Israel Folau. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Israel Folau. Wys alle plasings

Vrydag 17 Mei 2019

LUISTER NA LEVITIKUS


- WEES HEILIG! 



Levitikus is nou seker nie juis die gewildste Bybelboek onder Christene nie. Dis hoofsaaklik ‘n beskrywing van offers en wette. En ons weet tog ons hoef nie meer bloedoffers te bring nie, want Jesus self is die finale en genoegsame OFFER van die Nuwe Verbond. Nou wat van al die ander wette? Ons weet tog ook dat ons nie meer onder al hierdie detailwette byvoorbeeld die voedselwette staan nie, juis ook omdat ons nou in die bedeling van die Nuwe Verbond leef. (Kliek op KREEF) 



Maar het Levitikus dan nog enigsins vir ons ‘n boodskap? 


Ja, baie beslis! Wat is dié boodskap? 'n Boodskap wat die kerk nou nodiger het as ooit tevore...  “En julle moet vir My heilig wees, want Ek, die HERE, is heilig; en Ek het julle van die volke afgesonder om myne te wees.” (Levitikus 20:26) 

Kyk ook na Levitikus 11:45; 19:1,2. Soos ‘n refrein klink dit deurgaans-  "Wees heilig, want ek is heilig!"

En baie belangrik!  Hierdie beginsel word eksplisiet in die Nuwe Testament herhaal. “Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: "Wees heilig, want Ek is heilig." (1 Petrus 1:15,16) 

TWAALF ARTIKELS

‘n Heilige kerk, ‘n heilige afgesonderde Godsvolk – dis ‘n kernwaarheid van die Christelike geloof! Dis immers wat ons gereeld bely in die Twaalf Artikels – “Ek glo in ‘n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges!”

Ja,daar is twee uitstaande kenmerke van die kerk van Jesus – Eenheid. “algemeen”. God het net een kerk oor die hele wêreld, die kerk van alle tye, die kerk wat bestaan uit alle nasies volke en tale. Die ander opvallende en uitstaande kenmerk, eintlik die eerste een wat die Apostolicum uitlig, is die heiligheid van die kerk. Wat beteken dit en waarom is dit so belangrik? 

LIG IN 'N DONKER LAND

In Levitikus vertel die Here aan die volk wat Hy uit Egipte verlos het hoe hulle moet leef. Onthou God het sy volk uit Egipte verlos sodat Hy hulle God kan wees. Hy wil in ‘n innige verhouding met hulle staan. By Sinai vertel Hy aan hulle hoe dit werk... (Eksodus 19:4-6!) “Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het. As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En júlle sal vir My 'n koninkryk van priesters en 'n heilige nasie wees....” 

Hierdie volk moes nou in die land Kanaän gaan woon. Die land Kanaän was vol heidene. Dit was ‘n gruwelike plek vol okkultisme en afgodery – mense het daar selfs hulle kinders aan die afgod Molek geoffer. Afgryslike onsedelikheid, tempel prostitusie, geweld en verwording... En nou sê God vir sy volk in hierdie konteks : “Julle moet anders leef as die goddelose mense rondom julle. Julle is spesiaal, julle is afgesonder vir my. Ek het julle eenkant gesit vir Myself!” Heilig beteken dus - rein, skoon, eenkant gesit, spesiaal afgesonder. “Wees anders as die verdorwe heidendom, want julle is my spesiale mense! Julle is my verteenwoordigers! Julle moet My eienskappe uitstal. Julle moet vir hierdie besoedelde en deurmekaar heidene wys hoe lyk die karakter van die ware God. Julle moet lig wees in die nagdonker duisternis. Ek is heilig, julle moet daarom ook heilig wees!” 

Ons word nou nog net so geroep om anders te wees as die wêreld rondom ons – Ons het ander standaarde as die wêreld. Ons moet God liefhê in ‘n wêreld wat God en sy ordes haat, ons moet God eer en eerste stel in ‘n wêreld wat geen ontsag meer vir God het nie, ons moet vergewe in ‘n wêreld wat vergelding en weerwraak soek, ons moet rein leef in ‘n wêreld wat sedeloos en losbandig leef, aan God getrou wees in 'n verdorwe kultuur wat homoseksualiteit verafgod! Ons moet nugter wees in ‘n wêreld waar mense dink dis snaaks en "cool” om dronk te wees, ons moet eerlik wees in ‘n wêreld wat vol bedrog en korrupsie is, ons moet nederig wees in ‘n wêreld wat altyd spog en brag en selfverheerliking nastreef… Samevattend, ons moet soos Jesus leef in ‘n wêreld wat Hom juis gekruisig het! GEVAARLIK! Hulle gaan ons wat heilig is, ook kruisig! (Vra vir Israel Folau. Terloops, dis darem jammer hy kon nie 'n afgevaardigde wees by die onlangse sinode van die NGK Weskaapland nie!) 

VIR ALMAL!

Hierdie heiligheid is inherent deel van Christenwees. Dis nie net ‘n opdrag vir sommige Christene nie, maar vir almal. 

Alle Christene word as heiliges aangespreek in die Nuwe Testament. (1 Korintiërs 1:2) “Aan die gemeente van God wat in Korinthe is, aan die geheiligdes in Christus Jesus, die geroepe heiliges, saam met almal wat die Naam van onse Here Jesus Christus in elke plek aanroep, hulle sowel as onse Here:" (OAV) 
"Aan die gemeente van God in Korinte, wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here." (NAB) 

Alle Christene word dringend opgeroep tot heiligheid! (Hebreërs 12:14) “Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.” 

Wanneer die kerk nie meer heilig is nie verloor sy haar getuieniskrag en maak ‘n bespotting van die evangelie! Inderdaad kan die kerk so onheilig raak dat selfs die goddelose wêreld daaroor geskok is!* 

Sonder heiligheid kan ons nie ons roeping vervul nie, sonder heiligheid kan ons nie getuies wees nie, nie bruikbaar wees nie. Sonder heiligheid sal ons nie blydskap en sekerheid beleef nie! Sonder heiligheid verloën jy Jesus wat jou juis losgekoop het om juis heilig en afgesonder vir Hom te wees. 

As jy hoegenaamd dankbaar is vir Jesus se kruisdood in jou plek, as jy vanoggend bely om aan die lewende God te glo en aan Jesus behoort, hoor en gehoorsaam hierdie opdrag : Wees HEILIG, WANT EK IS HEILIG! 

*Hierdie pynlike feit is nou weer op skokkende wyse aan die lig gebring deur die Pool, Tomasz Sekielski se skokkende dokumentêr : TELL NO ONE (2019)


Heiligheid beteken vir ons nie meer dat ons nie kameelvleis mag eet nie, maar wel dat ons soos Jesus moet leef volgens die beginsels van die Nuwe Verbond!



Saterdag 20 April 2019

DIE MOEDSKEP VISIOEN

(Vir Israel Folau)*

Een prentjie is meer werd as ‘n duisend woorde! Hier in Openbaring 1:9-20 kry ons ‘n besondere prentjie – ‘n Moedskep-visioen** wat die swaarkry Christene van die destydse Klein Asië moes vertroos en bemoedig. En dis heerlik aktueel… dis vir ons! Vir Christene wat ly in Noord-Korea of Iran, maar ook kinders van God wat in die materialistiese en goddelose Westerse wêreld deur hulle eie families of die samelewing gespot, uitgestoot en vervolg word. Ouens soos Israel Folau wat weens hulle getrouheid aan die Woord skade ly en beledig word... 


TROOSBOEK

Onthou Openbaring is ‘n troosboek en nie ‘n detail voorspellingsboek nie. Die Christene aan wie Johannes geskryf het, het ‘n groot behoefte aan troos en bemoediging gehad. Hyself natuurlik ook. (Johannes deel in die swaarkry wat insluit vervolging en onregverdige behandeling, armoede, uitbuiting, geweld – Johannes self is immers verban na die eiland Patmos ter wille van sy geloof) En wat ‘n heerlike troos kry hulle… Dié troos is nie oppervlakkige clichés soos : “Ag, toemaar dinge is nie so erg nie.” Nie, “Ag onthou elke donker wolk het ‘n silwer randjie” nie. Nee! Dit gaan oor grondige evangeliese troos. Die troos wat Jesus se kruis en opstanding en ewige heerskappy ons bied. Die prentjie wat Johannes sien en waarmee hierdie Christene bemoedig word is die prentjie van die verheerlikte en oorwinnende Christus! Hy wat wel dood was maar nou vir ewige lewe! 

JESUS BY ONS!

In hierdie moeilike omstandighede moet kinders van God weet, Jesus is nie ver of afsydig nie, maar midde in sy kerk – tussen die staanlampe! By ons in ons nood en smart! Jesus is vir altyd betrokke by sy kerk en teenwoordig in sy ware kerk! (13) Jesus is die Seun van die Mens – (Daniël 7) Hy is die Messiaanse bevryder wat beloof is! 

KYK!

Nou word sy voorkoms vir ons in detail beskryf. Natuurlik moet ons dit nou nie verstaan as ‘n letterlike foto van Jesus nie, maar as funksionele beeldspraak om iets van sy ONBESKRYFLIKE HEERLIKHEID EN MAJESTEIT EN MAG te beklemtoon! Woorde ontbreek! 

Net kortliks (maak self jou Bybel hier oop by Openbaring 1): 

Die lang kleed en goue band (13) – Jesus se hoëpriesterlike waardigheid! Sy werk as Hoëpriester is voltooi! 

(14) – witheid dui op sy wysheid, insig, kennis. Hy weet van als en Hy het die oplossing en raad wat nodig is. 

Oë soos vuur – deurpriemende insig, alwetendheid, niks bly vir Hom onsigbaar en niks kan vir Hom weggesteek word nie! 

(15) Voete soos gloeiende geelkoper – Gepoleerde kopervoete beeld Jesus se standvastigheid en krag uit. Hy kan nie wankel nie. (Hy sal nie koue voete kry en vlug en ons in die steek laat nie...) Ook sy volmaakte suiwerheid. Wat ‘n troos in ‘n wankelende onsekere en onreine vuil wêreld! Jesus se heerlike andersheid staan uit! ‘n Magtige stem soos baie waters – dink aan die gedruis van ‘n indrukwekkende en asemrowende waterval! ‘n Gerusstellende geluid, God se stem! Goddelike gesag en Goddelike ontsagwekkende heerlikheid. 

(16) Die sewe sterre in sy regterhand – dui op die sewe leraars van die sewe gemeentes. Sy regterhand is sy sterk hand. Hy alleen beskerm en beheer sy kerk, soewerein! ‘n Skerp swaard – Jesus het die bevoegdheid om met sy woorde te oordeel. Jesus is die Een wat sy kerk aanspreek, bemoedig en oproep tot bekering. Jesus se woorde sal uiteindelik staande bly, Jesus het die laaste sê! Sy hele voorkoms is soos die son op sy helderste – Hierdie verblindende heerlikheid van Jesus herinner mens aan die gebeurtenis toe Moses van die berg Sinai afgekom het (toe sy gesig so geblink het) en ook aan die gebeurtenis by die verheerliking op die berg. Jesus se gesig wat van heerlikheid blinkende skyn. (Matt 17) Die onbeskryflike heerlikheid en majesteit van Jesus kan nie met mensetaal geteken word nie! 

Hierdie angswekkend heerlike visioen laat Johannes verstom en verbyster! Geen woorde nie! Hy val neer soos ‘n dooie. 

SY VERTROOSTENDE HAND EN WOORDE

Wat nou? Nou is dit so vertroostend. Jesus vat aan Johannes. ‘n Gerusstellende hand op sy skouer en gerusstellende woorde : “Moenie bang wees nie!” Hoe dikwels het Jesus hierdie woorde vir sy bang dissipels op aarde gesê – nou na sy opstanding hoor Johannes dit weer! Mag ek en jy dit hoor… en moed skep! Mag jy nou op hierdie oomblik in jou toestand van vrees, hartseer, verwerping of eensaamheid sy hand voel, sy stem hoor... 

DIE EERSTE EN DIE LAASTE

Asof die visioen nie genoeg was nie, gee Jesus in woorde weer ‘n bevestiging waarom Johannes en al God se kinders nie hoef te vrees nie. “Ek is die EERSTE EN DIE LAASTE!” Dieselfde betekenis as die “Alfa en die Omega” (8) Hierdie term kom uit die profeet Jesaja. 

Kom ons blaai bietjie na Jesaja: 

“Wie het dit gedoen en tot stand gebring? Hy wat die geslagte roep van die begin af; Ek, die HERE, die Eerste, en by die laaste is Ek dieselfde.” (Jesaja 41:4) 

“So sê die HERE, die Koning van Israel en sy Losser, die HERE van die leërskare: Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen God nie.” (Jesaja 44:6) 

“Luister na My, o Jakob, en Israel, wat Ek geroep het, dit is Ek; Ek is die Eerste, ook is Ek die Laaste. Ook het my hand die aarde gegrond, en my regterhand die hemele uitgesprei; as Ek hulle roep, staan hulle daar almal saam.” (Jesaja 48:12,13) 

In al hierdie kontekste gaan dit oor God wat die Skepper is van als en almal, oor God wat volkome in beheer is van sy Skepping. God is die oorsprong van sy Skepping en bereik self sy doel met sy Skepping. Niks en niemand kan Hom keer om sy doel te bereik en sy planne uit te voer nie. Absolute soewereine gesag. Jesus, as ware God het hierdie Goddelike gesag en mag! 

Jesus se oneindige gesag en onbeperkte mag word bevestig deur die feit van sy OPSTANDING! 

Die opstanding is die onomstootlike bewys van Jesus se Goddelike heerlikheid en almag. Sonder die opstanding sou dit als maar net mooi woorde wees! Niks kan Jesus se gesag en mag inperk of belemmer nie! Hy lewe vir ewig! Hy en Hy alleen het die sleutels van die dood en die doderyk. Juis dit wat die grootste vrees en onsekerheid by die mens bring – die dood, staan nou onder beheer van Jesus! Wat ‘n heerlike troos vir hierdie Christene wat doodgemaak is vir hulle geloof. Jesus het beheer oor die dood, so selfs as ons sou sterf bly die dood skadeloos, want ons is dan by Hom in heerlikheid! Dis nie die duiwel of ander magte of enige aardse tiran wat finale beheer oor die dood het nie. 

Die Opstandingswaarheid bevry ons van 
ALLE VREES! 


(Maar onthou, die duiwel lieg vir ons en wil ons laat glo dat hy in beheer is en dat hy kan dood en verwoesting saai soos hy wil....) 

Al die heerlike waarhede oor Jesus – sy volledige versoeningswerk aan die kruis, sy almag, sy beloftes oor die ewige erfenis en volmaakte heerlikheid wat vir ons wag… is gebou op die kernwaarheid van die letterlike liggaamlike opstanding uit die dood! ( Twyfel jy oor die opstanding? Kliek – ENIGSTE VERLOSSER) Jesus se opstanding uit die dood op die derde dag is die fondasie van die verlossingsevangelie. Omdat dit waar is, is die evangelie waar. Dis waarom ons feesvier. Ons weet Hy het sonde, Satan, dood en hel oorwin! 

Sy dissipels was daarvan oortuig… hulle het aan Hom gevat, gesien hoe eet Hy brood en vis…. Ons is ook daarvan oortuig deur die Woord en die werk van die Gees in ons harte! 

Kyk vandag weer opnuut na die verheerlikte Jesus, voel sy hand, hoor sy Woorde en skep moed! 

* Israel Folau is die Australiese rugbyspeler wat vervolg word, bloot omdat hy Bybelse waarhede op Instagram herhaal het. Dit het die gay aktiviste die harnas ingejaag. Dis ook heel moontlik 'n voorskou van die tipe vervolging wat nog op alle evangeliese en Bybelgetroue Christene wag.
**Jan du Rand, p131