Het die Algemene Sinode nou regtig die doodsklok gelui?
Die skokkende besluit van die NGK se Algemene Sinode (AS) 2015 oor selfdegeslagverhoudings slaan elke Bybelgelowige plat, dit maak jou benoud, kwaad, verleë, hartseer en sommer ‘n klomp ander dinge... Die Sinode het besluit dat sodomie amptelik in die kerk bevestig/geseën mag word! (2.2). Praktiserende homoseksule mag nou predikante word! (2.5) Die feit dat gemeentes self diskresie mag gebruik in die toepassing van hierdie bose besluite (2.6) is maar ‘n klein troos en paai prys in ‘n poging om te keer dat als nie uitmekaar spat nie.
Tog moet mens seker ook nugter oor die praktiese rol, invloed, funksie en werklike gesag van die Algemene Sinode in die NG opset besin voor jy dalk tot oorhaastige gevolgtrekkings en aksies oorgaan.
Glo dit as jy wil, die AS het eintlik hoofsaaklik ‘n simboliese rol in die daaglikse praktyk van NG gemeentes. Kom ek stel dit maar kaalkop reguit : min lidmate steur hulle hoegenaamd nog aan die AS, omdat daar ‘n reuse verwydering tussen die elite leierskorps en gewone gelowige lidmate ontstaan het. Die Belhar katastrofe het dit onlangs mos weer duidelik bewys. Die AS het Belhar as opsionele belydenis goedgekeur maar die kerkvolk (veral op gemeentevlak) het dit duidelik verwerp! Maar daar is ook baie ander besluite van die AS waaraan lippediens bewys word, maar wat niemand juis ernstig opvat nie en waar elke predikant en gemeente maar maak soos hulle wil. Dink maar aan die VBO puntestelsel vir leraars. Daar is min ouens wat dit nog ernstig opvat en die administrasie daarvan is chaoties! Maar ook oor ander omstrede sake soos die vrou in die amp en kindernagmaal of oor wie laat ons op ons kansels toe, maak elke gemeente regtig maar soos hy wil.
Die AS verdien nie juis om ernstig opgevat te word nie en is bekend vir oorhaastige ondeurdagte besluite. ‘n Paar jaar gelede (ek was toe nog predikant binne die Sinode van Noord-Kaapland) is daar met groot fanfare ‘n aksie deur ABID geloods om ‘n sentrale registerstelsel vir lidmate op die been te bring. Dit het totaal misluk. (gaan vra hulle maar hoekom?)
Op papier lyk die AS se rol indrukwekkend en gaan gepaard met groot vertoon, maar in praktyk het dit weinig meer gesag as die van ‘n skooldebatsvereniging se dagbestuur.
Die samestelling van die AS het ook noodwendig meegebring dat hierdie liggaam weinig geloofwaardigheid het. Dis ‘n verkleinde sinode waarop nie elke gemeente verteenwoordig is nie. Dit het tot gevolg dat 200 mense (helfte ouderlinge, helfte predikante) besluite neem vir ‘n hele groot kerk. Die samestelling van die AS bevorder liberalisme, want die NG Kerk se liberale fakulteite word verteenwoordig deur dosente wat as ouderlinge in die sinode dien.
En dis by hierdie einste fakulteite waar die dood in die pot gevind en gebrou word. Hier word ons teologiese studente opgemors in plaas van opgelei. Dit voorspel niks goeds vir ons kerk se toekoms nie... Maar ek voorsien dat NG gemeentes al meer ander opsies sal oorweeg as bron vir nuwe predikante. As ons besluit om iemand te beroep wat by ‘n ander Bybelskool of universiteit gestudeer het, wie gaan ons keer? Wat dan van die kerkorde, legitimasie en dergelike dinge, wonder jy? Kom ek vertel jou, die kerkorde word slegs baie bolangs toegepas... Ek kan jou noem van ‘n geval hier in ons einste Namibië waar ‘n predikant sonder ‘n kerkraad hom self sommer demissie verleen het...
Natuurlik veroorsaak die dwalinge van ons AS groot smart en verleentheid, maar op die ou end word die geestelike karakter, temperatuur en handelswyse van ‘n gemeente deur haar kerkraad bepaal. Die AS het dalk regtig die doodsklok gelui (dis seker hoekom hulle op ‘n stadium swart gedra het), maar dis dalk ‘n profesie oor hulle eie bestaan, geloofwaardigheid of aansien en nie noodwendig die einde van Bybelgetroue gemeentes en hulle lidmate nie!
TROOS UIT DIE SKRIF
En nou? Kom ons kyk na die Skrif. Uit 2 Timoteus 3&4 het daar vir my groot bemoediging en duidelikheid gekom.
Die AS (natuurlik nie almal wat daar was nie) word so treffend beskryf : “Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.” *
Maar daar is hoop en raad en vertroosting vir elke getroue volgeling van Jesus :
“Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Hierdie basis lei tot ‘n baie duidelike opdrag wat ons nie gering mag skat nie :
“Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”
Laat ons terwyl die AS hulle met fabels besig hou, die Woord aanhou verkondig!
SELFDEGESLAGVERHOUDINGS
Die Algemene Sinode het op Vrydag 9 Oktober soos volg besluit:
1
Die Algemene Sinode herbevestig die gelykwaardigheid van alle mense ongeag
seksuele oriëntasie en verbind haarself tot die handhawing van die
menswaardigheid van alle mense.
2
Die Algemene Sinode verklaar dat hetero- en homoseksuele persone wat in ʼn verhouding
van persoonlike geloofsgehoorsaamheid aan die Here leef, ten volle kan deelneem
aan al die voorregte van die kerk as verbondsgemeenskap.
3 Die Algemene Sinode herbevestig die besluite
oor die huwelik van 2004, 2007 en 2013 dat slegs die verbintenis van een man en
een vrou as ʼn huwelik beskou word.
4 Die Algemene Sinode besluit om in die lig van
pt 1 hierbo erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van
persone van dieselfde geslag wat gekenmerk word deur liefde en trou, en maak
voorsiening dat hierdie verbintenisse deur predikante wat hulle weg oopsien,
bevestig kan word.
5
Dieselfde Christelik-etiese standaarde (leer en lewe) geld vir die legitimasie
van ordening van alle persone. Punt 7
van die besluit van 2007 verval.
6 Die Algemene Sinode erken die diversiteit van
beskouinge oor selfdegeslagverbintenisse binne die NG Kerk en bevestig die reg
van kerkrade om hieroor hulle eie standpunte en praktyke te formuleer en te
reël.
7
Die Algemene Sinode bevestig die diskresie van kerkrade om die verskille oor
homoseksualiteit in gemeentes te hanteer en versoek hulle om dit in ʼn gees van
Christlike liefde te doen.
8 Die Algemene Sinode bied hierdie besluite oor
selfdegeslagverhoudings aan met nederigheid na ʼn ernstige soektog en as die beste toepassing
van die boodskap van die Bybel soos ons dit tans verstaan. Die Algemene Sinode versoek lidmate,
gemeentes en kerkvergaderings om weereens op ʼn selfstandige soekproses na die
toepassing van die boodskap van die Bybel hieroor te gaan. In die soektog kan
studiestukke van die Algemene Sinoge van 2007, 2011, 2013 en 2015 ernstig
gelees word. In ooreenstemming met die NGB Art 2 behoort die besondere en
algemene openbaring gebruik te word, dws die beste huidige menswetenskaplike
bevindings.
9
Die Algemene Sinode besluit om ʼn Christelik-Bybels-etiese model oor die
seksualiteit vir alle mense te ontwikkel om gemeentes te begelei in die lig van
voorafgaande besluite. Hierdie saak word
ook verwys na die Projekspan vir Leer en Aktuele Sake, wat reeds ʼn soortgelyke
opdrag in A.8.2 bl 172 punt 7.4 ontvang het.
10 Die Algemene Sinode besluit om ʼn bevatlike
oorsig van die NG Kerk se reis met homoseksualiteit saam te stel en te versprei
om gemeenteleiers te bemagtig in die begeleiding van gemeentes oor hierdie
saak.
Die Algemene Sinode het verder besluit:
1 Vanuit ons verbintenis tot die waardes van die
Seisoen van Menswaardigheid sê ons as Algemene Sinode opreg jammer vir mense
wat seergekry het en wie se waardigheid aangestas is weens enige homofobiese
taal, gedrag of gesindheid van die kant van die kerk, ook tydens hierdie
vergadering.
2 Die Algemene Sinode weerhou haarself voortaan van enige
homofobiese taal, gedrag en gesindheid juis vanweë ons verbintenis aan die
Seisoen van Menswaardigheid, en ook vanuit ʼn diepe oortuiging van die
diskriminerende aard van sodanige taal, gedrag en gesindheid as gevolg daarvan.
Die Algemene Sinode het verder besluit:
1 Die Algemene Sinode dra dit aan die Algemene Steunspan Regte
op om die kerkregtelike- en regsimplikasies van enige besluit(e) insake
selfdegeslagverhoudings te ondersoek met verslag en aanbeveling aan die
Algemene Sinodale Moderamen.
2 Die Algemene Sinode neem kennis dat volgens die Civil Union Act (Wet 17 van 2006) vereis
word dat denominasies skriftelik by die Minister moet aansoek doen om
toestemming te verkry om selfdegeslagverbintenisse te voltrek (vergelyk Klousule 5 wat soos volg lees: Designation of ministers of
religion and other persons attached to religious denomination or organisation
as marriage officers: (1) Any religious denomination or
organisation may apply in writing to the Minister to be designated as a
religious organisation that may solemnise marriages in terms of this Act).
Die Algemene Sinode het verder besluit:
1
Die Sinode van Namibië versoek die Algemene Sinode om kennis te neem dat pt 4
in die goedgekeurde voorstel wat soos volg lees
“erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van
persone van dieselfde geslag”, in stryd is met die
landswette van Namibië.
2
Die Algemene Sinode keur goed dat hierdie pt 4 oor selfdegeslagverhoudinge nie
afdwingbaar is op die Sinode van Namibië nie.
[ Die Namibiese regering is dus meer Bybels as die NG Kerk,! Die implikasie is dat die kerk eerder landswette respekteer omdat ons daartoe gedwing word as God se wette wat in Sy Woord staan. Dit troos maar min , want punt 5 is van toepassing en dit beteken in beginsel dat onbekeerde pratiserende homoseksuele predikante bevestig mag word in ons gemeentes]
*Net so 'n raak beskrywing van die AS kry mens in Judas vers 4 "Die rede hiervoor is dat sekere mense ongemerk julle geledere binnegedring het, goddelose mense wie se veroordeling lank reeds vas staan. Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe, en hulle verwerp ons enigste Meester en Here, Jesus Christus."
*Net so 'n raak beskrywing van die AS kry mens in Judas vers 4 "Die rede hiervoor is dat sekere mense ongemerk julle geledere binnegedring het, goddelose mense wie se veroordeling lank reeds vas staan. Hulle misbruik die genade van ons God. Hulle gebruik dit as dekmantel om losbandig te lewe, en hulle verwerp ons enigste Meester en Here, Jesus Christus."