BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Egosentrisme. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Egosentrisme. Wys alle plasings

Woensdag 14 Oktober 2020

DIE GEVAARLIKE GOGGA VAN EGOSENTRISME (1)

- wat gate vreet in jou siel!



"I, me and myself.”  Selfgesentreerdheid. Dis nie ’n nuwe probleem van ons tyd nie. Dis baie duidelik as mens lees hoe Jesus al destyds met Sy dissipels in  MARKUS 9:33-50   gepraat  het oor egosentrisme. Dis so raak, dis so treffend en van toepassing, dis asof Hy hier staan en spesiaal ‘n boodskap vir ons bring. Selfgesentreerdheid/egosentrisme is die denkwyse waarvolgens ek eintlik in die middel is. Ek is die belangrikste “peanut” in die pakkie. Miskien dink jy : “Ek het nie so ’n probleem nie.” Wag ’n bietjie... Wat is die simptome van selfgesentreerdheid? “Ek hou nie daarvan nie/dit staan my nie aan nie/dit pas my nie, daarom gaan ek nie meer saamspeel nie.” Of wat van selfbejammering, ‘n gedurige leef in die verlede? Ek voel maklik te na gekom, ek word gou-gou jaloers,  ek voel maklik seergemaak en dan beplan ek sommer vinnig  wraak... ? Al hierdie dinge het maar iets te doen met selfgesentreerdheid/egosenrisme. Jy sal moet erken, dit raak ons maar eintlik almal...

 

Ons gaan nou eers kyk na Markus 9:33-37:

 

33 Toe hulle daarna in Kapernaum by die huis kom, het Hy vir hulle gevra: "Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?"

34 Hulle het egter niks geantwoord nie, want hulle het langs die pad met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is.

35 Jesus het gaan sit en die twaalf geroep. Hy sê toe vir hulle: "As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees."

36 Toe het Hy ‘n kindjie geneem en hom tussen hulle laat staan. Hy het sy arm om hom gesit en vir hulle gesê:

37 "Elkeen wat so ‘n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang nie net vir My nie, maar ook vir Hom wat My gestuur het."

 

EEN STUK LERING

Hierdie gedeelte is deel van ’n  hele gesprek in Markus 9:33-50. Dis ‘n stuk lering van Jesus wat ‘n eenheid vorm.  As mens dit raaksien dan word dit ook aansienlik makliker om die onderskeie gedeeltes te verstaan. Drie sake wys op die eenheid en samehang van hierdie onderwysing van Jesus.*

Dit vind op een plek plaas. Die huis in Kapernaüm (9:33) Dis hier waar Jesus gaan sit het om te onderrig.

Aan die einde van Sy lering kom Jesus weer terug by die saak wat oorspronklik tot die hele gesprek aanleiding gegee het. Die gesprek het begin nalv die dissipels se twis (9:34) en Hy sluit Sy onderrig gepas af met die woorde : "Julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe." (9:50b)

Daar is duidelik ‘n tematiese eenheid. Die egosentriese benadering van die dissipels word aangespreek en gekorrigeer tot ‘n Christosentriese benadering.

 

JESUS SE LYDING

 

Jesus is oppad na Jerusalem om te gaan sterwe. Sy naderende lyding en verwerping staan sentraal en hang ook in die agtergrond van die gesprek. Hy het sy dissipels geleer en vir hulle gesê: "Die Seun van die mens word in die hande van mense oorgelewer, en hulle sal Hom doodmaak; en drie dae nadat Hy doodgemaak is, sal Hy opstaan." (31) 

Op hierdie belangrike pad is vrede en eenheid onder die dissipels noodsaaklik en daarom moet Jesus hulle aanspreek oor hulle getwis en vra hy die vraag: "Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?" (33) Die stilswye van die dissipels sê alles.(34) Teen hierdie tyd moes hulle al besef het dat Jesus mense se gedagtes en harte deurgrond, alles weet. Hulle stilswye is eintlik skaamte : “Ons is uitgevang, wat kan ons nou sê?”

 

WORD DIENAARS

 

Jesus gaan sit nou en roep die Twaalf. (Onthou daar was ook ander dissipels/leerlinge) Mens kan jou die spanning en afwagting voorstel.  Hulle sou dalk dink : “Gaan Jesus tog nou aankondig wie die belangrikste is? Is ons twaalf tog dalk die belangrikste onder die groot getal leerlinge?”

Hoe vreemd klink Jesus se woorde dan nie in hierdie situasie nie.  Die twaalf (en die ander) wil graag voor staan, eerste wees. Dis uit hierdie wil waaruit hulle twis voortgespruit het. Jesus buig hierdie wil nou om, keer dit onderstebo - ja, daar is wel ‘n ereplek by Jesus, maar dit bestaan daarin dat ek die laaste plek, die plek van die dienaar moet inneem.  Die dienaar van almal wees.

 

Koninkrykswaardes is die omgekeerde van die wêreld se waardes!

 

Ons het hier te maak met ’n verrassende wending - die nader roep van die Twaalf lei nie daartoe dat Jesus aankondig wie die belangrikste is nie, maar  gee wel ‘n aanduiding van hoe mens die belangrikste kan word. Maar Jesus laat Sy lering nie net by die teoretiese nie. Hy wys nou prakties hoe lyk die “belangrikste”. Hy bring ‘n kindjie binne die kring in en slaan Sy arm om hom. Dis nie Jesus se bedoeling om te sê dat kinders die belangrikste in die gemeenskap is nie. Hy gebruik juis die kind omdat hulle die minste is, hulle het nog nie posisie of waardigheid nie.’n Kind tel nog nie eintlik nie. Die kind daar in hulle midde is ‘n onderstreping van Jesus se woorde. Wie belangrik wil wees moet die laaste plek inneem, moet soos ‘n kindjie word.

Hoe moet die term “ontvang” tuisgebring word by hierdie situasie? (37)  Onthou die boodskap wat Jesus hier wil oordra is gerig op hierdie leerlinge wat gestry het oor wie die belangrikste is. Hulle “aanvaarding, ontvangs deur ander, hoe ander hulle behandel” was voorop in hulle gedagtes. Nou help Jesus hulle reg. Dissipels word nie geroep om hulle eie ontvangs te reël nie, maar juis om vir andere die eer van ontvangs voor te berei.

 Jesus leer vir hulle (en ons) : “Julle is nie dissipels  ter wille van julleself nie maar ter wille van die voordeel van ander.” Dissipels  moet dienaars wees, dienaars van almal selfs ook geringste kind.**

 

KOM ONS RAAK PRAKTIES:

 

Selfgesentreerdheid kom ongelukkig ook voor onder Jesus se volgelinge. Dis een van die stukke bagasie wat maklik en ongemerk saamgebring word uit die vorige bestaan. Selfgesentreerdheid is altyd en vir almal verkeerd, maar wat dit soveel erger maak by volgelinge van Jesus is dat Jesus juis die teenpool van alle selfgerigtheid en selfbelang is. Hy is die lydende Jesus wat afstand gedoen het van alle selfbelang en regte terwille van ons.

Ons motiewe in die beoefening van ons Christenskap word tot op die been oopgevlek.  Is ek dalk ’n  kind van God ter wille van my eie voordeel? Sien ek nie Christenwees as maar net nog ‘n aspek van die lewe wat my tot hulp kan wees om my maksimum potensiaal te laat bereik nie?

Jesus se lering plaas ons denke oor die evangelie en die kerk onder die soeklig. Om die evangelie aan te bied as ‘n pakket wat allerhande tydelike voordele vir my kan bring pas nie in by hierdie lering van Jesus nie. Die voorspoedsteologie van die Word Faith (groepe soos die CRC) is nie dieselfde evangelie wat Jesus verkondig het nie!  Ons vind in Jesus se woorde ook ‘n nuwe perspektief op kerkwees. Hoe verstaan jy jou lidmaatskap?   Gaan dit vir jou dalk oor : “Wat kry ek hier, hoe kan ek bedien word?”  Jesus sê,  nee ons is hier om dienaars te wees.  Dien ek en jy ander binne ons gemeentes?

Mag ons weer opnuut besef wie se volgelinge ons is - die Lydende Jesus!   Die Jesus wat afstand gedoen het van al sy hemelse voorregte!  Die Jesus wat Homself verneder het om ’n slaaf te word. (letterlik) Die Jesus  wat Sy eie lewe nie liefgehad het nie,  maar dit afgelê het vir my en jou, Sy skape!  Kom ons besef weer wie Jesus is. Dit  sal ons help om  weerstand te bied teen die altyd teenwoordige bedreiging van egosentrisme. ‘n Gedurige fokus op Jesus sal verseker dat ons soos Hy plek sal maak vir die geringes.

 

*Erkenning aan die kommentaar van Jakob van Bruggen vir eksegetiese insigte.

**In 10:13-14 waar Jesus die kindertjies seën  is dit duidelik dat hulle dit moeilik kon verstaan!

 

Donderdag 07 Januarie 2016

‘N DOKSOLOGIE VIR DIE NUWE JAAR

- Sien God raak en begin Hom bewonder en prys!

Hoe moet ons ‘n nuwe jaar begin? Hoe moet ons na die toekoms kyk en waarop moet ons fokus?



Ons grootste probleem (nie net nou nie, maar oor die algemeen) is dat ons by onsself begin. Ons is so subjektief, so egosentries, so opgetrek met onsself. Selfs ook as ons hier in die kerk is, ja juis ook wanneer ons die Woord oopmaak of as ons bid is ons so dikwels gepreokkupeer met onsself. Hoe gaan my probleme opgelos word, hoe gaan my planne in werking gestel word, hoe gaan ek my hoogste ideale bereik? Hoe raak die droogte, Zuma en die swak Rand my sak? Weet jy, dis ‘n groot dwaasheid om op hierdie dinge te sit en broei! 

Hoe meer ek op my probleme fokus hoe groter word hulle. Jy sal weet, daar is probleme waarmee jy al jare worstel en jy kom niks verder nie. Jy bid miskien baie oor die probleme en dit help nie, al wat gebeur is jy herinner jouself net daaraan en dit maak jou dalk net meer depressief*. Of ons is geneig om altyd net planne te maak en uit te dink wat om onsself draai. Ook wat ons geestelike lewe betref, draai ons denke maar om onsself, my geloof, my getuienis, my rol in die kerk...Dit is natuurlik nie opsigself verkeerd nie, maar dis nie waar ons moet begin nie...

BEGIN BY GOD. WIE HY IS EN WAT HY DOEN!

Ons moet altyd by God begin. Dis waar die Bybel begin. "In die begin het God die hemel en aarde geskape." Dis waar Paulus ook sy brief aan die Romeine (en al sy ander briewe begin) By God... In sy aanhef tot die brief is hierdie klem al duidelik... “afgesonder vir die evangelie van God” (1:1) Moenie begin by jouself en jou behoeftes nie. Begin by God. Wie is Hy en wat het Hy gedoen en wat doen Hy nog steeds! Wees verwonderd oor God en jy sal uiteindelik ook verbaas wees oor die verskil wat Hy in jou lewe maak en hoe jou eie probleme al kleiner en minder belangrik raak!

HOE MEER EK GOD SE GROOTHEID EN GOEDHEID BESEF, HOE KLEINER KRIMP MY EIE PROBLEME!

Kom ons lees saam deur die Romeine brief en staan saam met Paulus verwonderd oor wat God doen... Sommer net so ‘n paar voorbeelde:

Dis God wat die evangelie geïnisieer en lankal deur die profete aangekondig het. “Van Paulus, ‘n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God. Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig," (1:2)

God het julle lief en Hy skenk genade en vrede! “Aan almal in Rome vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!” (1:7)

In 1:16,17 raak Paulus lieries oor die evangelie , want dis die KRAG VAN GOD... Daarna egin hy met sy uiteensetting van die evangelie boodskap...

God stort sy heilige toorn (wraak) en regverdige oordeel uit oor die goddelose mensdom. “God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.” (1:18)

Maar dis juis ook God wat ryk is in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?” (2:4)

En dan nadat Paulus die sondigheid van beide heiden en Jood onderstreep het, kom hy by die groot tema van die brief, God wat vryspraak gee deur die geloof in sy Seun. Vryspraak beteken dat God ons as skuldige sondaars onskuldig verklaar! “Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo.” (3:21,22) 

So bewerk God self vrede tussen ons en Hom. “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” (5:1)

SIEN JY, GOD SPEEL DIE HOOFROL? DIT GAAN OOR SY MAGTIGE DADE EN GROOT LIEFDE!

Ook as Paulus die probleem van ons swaarkry en verdrukking aanspreek dan fokus hy op God wat met alles ‘n doel en plan het. (vrygespreekte kinders van Good is immers soos ons al almal agtergekom het nie, gevrywaar van verdrukking en ellende nie) En dit bring ons by die verbysterende heerlike uitspraak van 8:28-30! “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.” Ons hele verlossing word van voor tot agter beplan en suksesvol voltooi deur God! En God gebruik alles, ja ook droogte, Zuma, siekte of ongelukke... om ons by sy heerlike doel met ons uit te bring!

Dan kan Paulus nie anders nie as om die heerlike gevolgtrekking in vers 8:31-39 te maak nie! (lees dit in jou eie Bybel weer ‘n slag aandagtig)

GEHEIMENIS

Maar Paulus is nog nie klaar gepraat oor God nie. Die volgende saak wat hy aanspreek is die hele kwessie van Israel. Mense sou kon wonder of God se plan met Israel misluk het, want hulle het Jesus dan verwerp. Paulus gebruik hierdie saak om die onbeskryflike wysheid van God en sy soewereiniteit en sy weergalose genade te onderstreep. God gee sy genade soewerein aan wie Hy wil! (9:15-16) Dan verduidelik Paulus dat alles deel van God se plan was. Deurdat Israel die evangelie verwerp het, het die heidennasies nou ook ‘n kans gekry om deel van God se volk te word. So sal al God se uitverkorenes uiteindelik gered word! Dis ‘n groot geheimenis! “Ons staan hier voor ‘n geheimenis, broers, en ek wil hê julle moet weet wat dit is, sodat julle nie te selfversekerd sal wees nie. Die verharding het oor ‘n deel van Israel gekom en duur totdat die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk ingegaan het;” (11:25) Terloops, God se werkinge is ‘n geheimenis, en as jy ooit voel om God se planne en werkinge met jou te kritiseer, sit liewer jou vinger voor jou mond soos Job en swyg. Want wie kan God verstaan?

DOKSOLOGIE

En as Paulus so oor die grote God gepraat het, oor sy liefde en sy genade, oor sy heiligheid en sy oordele, oor sy ewige uitverkiesing en soewereiniteit, dan kan hy nie anders as om uit te bars in ‘n lofprysing (doksologie) nie!

“O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!

"Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?

Wie bewys Hom ‘n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?"

Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen. (11:33-36)

Dit gaan oor een heerlike saak – GOD IS REGTIG GOD, ver verhewe bo ons begrip en verstand. Ons kan Hom nie analiseer,ontleed of "uit figure" nie! Ons kan Hom nie verstaan nie, maar kan maar net sy grootheid, wysheid, almag, genade... bewonder en Hom aanbid! Hy is God, Hy het ons nie nodig nie, ons het Hom nodig! Hy skuld ons niks nie, en tog is sy genade onbeskryflik groot!

O, vriende, so dikwels verval ons in die vermetele dwaasheid om vir God te wil reghelp en raadgee... is dit nie totaal simpel nie? Ons nietige mense wil vir die Skepper van die oneindige heelal, vertel wat Hy moet doen... Ons sondige wesens wil kritiek lewer op die regverdigheid van die liefdevolle God wat sy Seun vir ons geoffer het...

God is die bron van alles, alles begin by Hom! God is die bewerker van alles, Hy voer sy planne uit en daarom sal niks en niemand Hom stuit nie! God self, sy eie heerlikheid is die doel van alles. Dis so duidelik ook van toepassing op ons verlossing : God het ons eerste uitgekies en ons verlossing beplan en sy Seun gestuur as soenoffer, Hy maak deur die Heilige Gees die verlossing 'n werklikheid in ons lewe deurdat Hy vir ons geloof en bekering skenk. Hierdie verlossing dien alles tot die eer en verheerliking van sy Heilige Naam, ja alles tot Hom!

Mag ons as mense ons nederige plek ken. Mag ons bevry word van die verknegting aan onsself! Die heelal draai nie om my nie, maar om God. En tog hierdie grote God is my genadig deur Jesus! Hy spreek skuldige nietige mense vry en maak hulle sy eie kinders en erfgename sodat ons Hom, Abba, Vader mag noem!

Wat is dus die beste manier om 2016 mee te begin? Fokus op God en loof Hom. Begin met ‘n doksologie. Begin sommer elke dag van jou lewe so! AMEN!

*Natuurlik mag ons ons probleme voor die Here in gebed bring. (Vgl. Filippense 4:6), maar gebede wat altyd net in die eerste plek oor myself en my behoeftes gaan, is nie in lyn met God se wil nie. Soos ons in die ONSE VADER geleer word moet gebed in die eerste plek op God se eer en koninkryk fokus. Selfsugtige gebede sonder dank aan God wat net altyd op my probleme en behoeftes fokus gaan my inderdaad depressief maak.


Dinsdag 19 Maart 2013

GELUK

- via GEBED of GEWELD?


Hoe probeer jy geluk in die lewe vind? Is jy  ’n bidder of ’n bakleier? Word jou lewe oor die algemeen gekenmerk deur gebed of geweld? Hoe klink dit in jou huwelik, gesin, werksplek? Hoe hanteer jy frustrasies en onreg? (En laat ons maar kennis neem, dit sal altyd daar wees) Baklei jy? Nie noodwendig met die vuis nie, nie altyd met harde verbale geweld nie, maar jy begin net so byt-byt, subtiel beledig, skimpe rondstrooi, stilstuipe kry of onttrek jouself aan mense? En ja, selfbejammering en manipulering is seker die algemeenste vorm van geweld tussen huweliksmaats en binne gesinne.  Hierdie alles is inderdaad ook wrede vorme van baklei!

Bid of baklei, gebed of geweld is simptome van ‘n dieper saak. Gebed, ware gebedswandel met God is ‘n uitvloeisel van ‘n herstelde verhouding met God.  Net so is baklei ‘n simptoom van ‘n lewe sonder Jesus, sonder ‘n verhouding met God of dan ten minste ‘n aanduiding van ‘n ernstige versteuring tussen ons en Hom.  Jakobus, hoofstuk 4 vertel vir ons baie oor hierdie twee uiteenlopende benaderings:

"1.Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie?
2. Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ‘n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.
3. As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.
4. Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is.
5. Of dink julle dat die Skrif sonder rede sê dat God die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê?
6. Maar die genade wat Hy gee, is nog groter. Daarom sê Hy: "God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade."
7. Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.
8.Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars.
9.Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid.
10. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog."

Bid en baklei word teenoor mekaar gestel as twee uitsluitende werks en lewenswyses. (sien vers 2)

Hoe lyk die bakleier?

(Uit hierdie gedeelte kan mens ’n paar kenmerke opsom. Vers 1 verwys eintlik terug na die vorige gedeeltes in hfst3.  Waar kom die stryd  waarvan in 3:14-16 gepraat word, vandaan?)

~ Die bakleier huisves naywer, selfsug en afguns. (3: 14-16) Hy is ten diepste jaloers. Nie tevrede met wat hy het nie. Nie tevrede met sy finansies nie, nie tevrede met sy vrou en kinders wat God hom gegee het nie. Ontevrede hoe ek lyk, ontevrede met my werk...

Onvergenoegdheid lei tot geweld, ontevredenheid bring konflik.

~ Die bakleier se lewe word gekenmerk deur vriendskap met die wêreld.  Sy denke en begeertes is deurdrenk met wêreldse sienings en begeertes. Die wêreld se media, opinies en verwronge standaarde bepaal sy begeertes. ‘n Goeie voorbeeld, die sepies vol van die  wêreld se sienings oor geld, seks en mag is sy verwysingsraamwerk. Hoe meer jy na al die chaotiese “Vermaak” kyk, hoe meer lyk jou en jou gesin se lewens soos in die daardie einste sepies. Net soos die sepiekarakters baklei om meer mag en meer plesier, gebeur dieselfde met jou.

~ Die bakleier is ’n diep ongelukkige mens. Ontevrede. Onvergenoegd. Hy voel altyd daar is ’n klomp dinge wat hy wil hê. Hy/sy meet homself altyd aan ander mense : “Kyk hoeveel het daardie ou, kyk, kyk..... en kyk wat het arme ek.”  Begeer, begeer, begeer... Die grootste rede vir sy ongelukkigheid en onvervuldheid is die skrikwekkende feit : God het sy vyand geword. As jou lewe oorheers word deur die wêreld begeertes van nog hê , nog hê ..... dan is jy en God in ‘n staat van vyandskap. (4:4)   Johannes 2:15-17 stel hierdie selfde waarheid so : 

“Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. 
Die wêreldse dinge - alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit-kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. 
En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.”

  
~ Die bakleier bid ook soms. Die bakleier se gebed is egter nie suksesvol nie. Dit frustreer hom of haar net nog meer. Hoekom? God verhoor nie sy gebede nie. Hoekom nie? Hy bid verkeerd. Die selfsug en afguns wat sy lewe kenmerk spoel oor in sy gebedslewe. Die bakleier se selfgesentreerde, selfsugtige gebede is ‘n gruwel voor God. “Gee, gee, gee...” Die bietjie wat hy wel bid is maar net ’n uitlaatklep vir sy selfsugtige begeertes. “Here, ek het dit en dit en dit...... nodig! Here, hy pla my, Here sy maak die lewe vir my moeilik, verander hulle tog dat ek ‘n lekkerder lewe kan hê…”

~ Die bakleier is ’n hoogmoedige mens. (6) Egosentries tot in sy gebeente!  Sy rasionaal is : “Ek is so oulik, ek moet alles hê wat ek begeer.”  Die skrikwekkende feit is,  God self word sy teenstander!  Die bakleier sal sê, alles loop verkeerd, die duiwel maak vir my die wêreld moeilik", maar eintlik is dit God wat teen hom gedraai het.  Daarom vind hy nooit geluk nie, al baklei hy hoe hard daarvoor!

Hoe lyk die bidder?

~ Wel, hy bid! Hy maak tyd daarvoor. Hieruit kan mens iets belangrik aflei. Hy staan in ’n lewende verhouding met God en daarom praat hy met sy Vader! Biddeloosheid is ’n simptoom van iemand wat sonder God leef. Aan die anderkant is ware onselfsugtige gebed  ’n kenmerk van iemand wat God se kind is en in afhanklikheid van Hom leef.

~ Hy vertoon ‘n nederige tevredenheid. “Here, wat U vir my gee en wat U vir my doen is goed.”  ’n Bidder is iemand wat hom in nederigheid voor die Here onderwerp. ’n Bidder sê opreg : Laat U wil geskied! ’n Bidder sê soos Paulus in  Filippense 4:11,12 : “…ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.” (OAV) (Terloops, mense wat aan die prosperity gospel/ voorspoedsevangelie glo, kan nie ware bidders wees nie, hulle is net bakleiers met ‘n vroom godsdiensousie oor hulle selfsug )

~ Die bidder bied teenstand teen die Duiwel. Die bakleier luister na die duiwel en slurp sy propaganda in. Die bidder sê : “Nee!”  Nee vir die duiwel, nee vir versoekings, nee vir die sonde, nee vir die wêreld se lewensstyl!

Die bidder baklei ook, maar hy baklei nie teen sy huweliksmaat nie, nie teen sy werkgewer nie, nie teen die kerk nie, maar hy baklei teen die Satan op sy knieë!

~ Die bidder los sonde. Hy treur oor sonde en laat staan dit! (8,9). ’n Bidder is sensitief vir sy eie sonde. ‘n Bidder fokus nie op ander se foute nie, maar bring sy eie na God in die gebed.

Baklei of bid? 

Dis twee uiteenlopende lewenswyses wat treffend verteenwoordig word deur die twee karakters van Saul en Dawid. . . Die bakleier is soos Saul. Hy was ongehoorsaam aan God, ontevrede met God se plan, jaloers op Dawid en diep ongelukkig!  Sy selfgesentreerde selfsugtige gebede het hom niks gebaat nie, en uiteindelik het God hom heeltemal verlaat en moes hy in desperaatheid ’n spiritis raadpleeg!  Die bidder is soos Dawid, nederig in sy eie oë. In onderworpenheid aan God, wag hy geduldig vir God se tyd! Ja, toe hy nie waaksaam was nie, val hy in sonde, maar hy onderwerp hom weereens in nederigheid aan God. Lees maar Psalm 51.

As ons baklei, stry ons ‘n verlore stryd soos Saul se geskiedenis wys. Al sy planne het niks gehelp nie, want God self was teen hom. As ons bid, dan veg God ons saak, soos Dawid ondervind het. God het vir hom gestry en op die regte tyd die koningskap aan hom gegee.

Is jy ‘n bakleier? Die oplossing is : word ’n bidder. ’n Bidder, ‘n kind van God wat tot God nader, ’n bidder wat afstand doen van die sonde, ’n bidder wat jou onderwerp aan God, ’n bidder wat teen die wêreld draai en homself voor God verneder.
 Die belofte hier in Jakobus is 4:8-10 is ook vir jou (maak nie saak hoe erg jou bakleiersverlede is nie) : As jy biddend nederig na God toe kom, sal Hy jou weer optel en dit sal nie nodig wees om te baklei nie! Jy sal nie meer wil baklei nie, want jy sal diepe tevredenheid  en geluk vind in die teenwoordigheid van God. Hy  vervul ons diepste behoeftes deur Jesus Christus. Hy gee geluk soos wat Hy in sy goedheid en regverdigheid besluit, wanneer ons onsself aan sy volmaakte wil onderwerp.

LOS GEWELD! GOD GEE GELUK VIA GEBED!