BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Immanuel. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Immanuel. Wys alle plasings

Maandag 20 Desember 2021

REGTIG REDE VIR VREUGDE?

- JA, al beleef jy nou ernstige hartseer.

Die boodskap van die engele aan die herders (maak gerus oop by Lukas 2:8-20) is ‘n boodskap van blydskap. Die fees wat ons vier ter herinnering aan hierdie boodskap is ’n fees van blydskap. Maar dis waar ons nou dalk met ’n ongemaklike vraag in ons hart sit – Kan ons in opregtheid vandag nog ’n fees van blydskap vier? 

Anders gestel het ons vandag nog ’n eerlike rede om bly te wees? Is dit tog nie so dat daar baie redes vir treurigheid en hartseer is nie? Kom ons wees eerlik- Dit was ’n skrikwekkende jaar van verlies en dood - daar is baie plekke aan ons Kersfeestafels wat leeg gaan wees, die plekke van geliefdes wat hierdie jaar van ons weggeneem is. En verder...Daar is soveel bekommernisse... finansies, gesondheid. Nog erger daar is soveel sondeverskeurdheid - gebroke huwelike en gesinne, bitter familietwiste...

Kan ons in die lig van al hierdie rou en ruwe hartseer nog met blydskap Kersfees vier? JA! Al hierdie hartsere onderstreep net dat ons die boodskap van Kersfees nog meer as ooit tevore nodig het en dat ons nog meer as ooit tevore daarna moet luister en dat ons meer as ooit tevore moet ag gee daarop.

Wat sê die kersboodskap soos die engele dit oorgedra het vandag vir ons?

(ek lig net 'n paar kerngedagtes uit)

Moenie bang wees nie. (vers 10) Vanaf die tyd toe Adam en Eva teen God gekies het, leef die mens in vrees en bekommernis. Hoekom? Voor die sondeval het God absolute sekuriteit aan die mens gebied – in alle opsigte – het Hy geestelik en liggaamlik vir die mens gesorg. Toe rebelleer die mens en van toe af hunker en soek die mens gedurig na sekuriteit. Dis soos ‘n jong kind wat wegloop van die huis. Dis eers as hy weggeloop het en die eerste nag koud en honger op straat moet slaap, wat hy besef- “ek is nou regtig bang, ek mis die sekuriteit van my ouerhuis. Die heerlike kos, die warm bed...” Maar nou -As God deur Jesus die verhouding met die weggeloopte sondaar herstel, moet ons weer en weer duidelik hoor : Moenie bang wees nie! Dis nie meer nodig om in vrees te leef nie! Die rede: die KIND in die krip! Ook genoem Immanuel... God by ons!

God het nie van die stukkende wêreld vergeet nie. Dis waaroor die engele juig en sing. God het stukkende mense lief, en dis juis hoekom ons nie meer hoef te vrees nie. Vir hierdie liefde moet ons eer en dank aan God bring. (vers 14)

Die Verlosser het gekom! (vers 11) Die liefde van God het ’n konkrete gestalte. Dis nie net mooi woorde of ’n vae teorie nie. God het die Verlosser gestuur. Dis die kern rede waarom ons vandag ’n vreugdefees mag vier ten spyte van al die sonde, swaarkry, siektes en sterftes in hierdie wêreld. Jesus kom verlos mense van sonde. Dis ons grootste probleem. Dis wat skeiding tussen ons en God veroorsaak. Dis wat hierdie gebrek aan sekuriteit en vrese tot gevolg het. Maar Jesus se verlossingswerk eindig nie net by die vergifnis en bevryding van sonde nie. Ons liggame gaan ook verlos word. Bevry word van verganklikheid. Dis waarna ons uitsien met hoop en verlange terwyl ons nou nog sug en swaarkry. “En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees as God se eerste gawe ontvang het, sug innerlik, terwyl ons uitsien na ons aanneming tot kinders, die bevryding van ons liggame.” (Romeine 8:23)

Hierdie Verlosser het as mens gekom. (vers 12) Dis die aangrypendste. God self kom as mens na die wêreld. Die onsigbare God maak Homself sigbaar. Jesus kom as gewone mens. Die Skepper van sterrestelsels, die son en yster word 'n hulpelose baba. Dis onbegryplik heerlik. Soos Johannes dit stel. “En die Woord het vlees (vleis) geword en onder ons kom woon...” (Johannes 1:14) Ons het nie ’n onbetrokke veraf God en Verlosser nie. Hy het een met ons geword, Hy ken ons, voel saam met ons, Hy het in ons skoene kom staan en in ons smart en ellende kom deel. Hy ken armoede, hongerte, moegheid, verwerping, bespotting, teleurstellings... en ja ook die angs, skeiding en donkerte van die dood! Hy is daarom die volmaakte Middelaar, Advokaat, Trooster en Hoëpriester vir elkeen wat op Hom vertrou! Oor so ’n Verlosser kan en moet ons vandag bly wees ongeag ons eie omstandighede.

HET JY AL REAGEER?

As ons regtig blydskap wil ervaar is daar nog iets. Ons moet reageer op hierdie boodskap. Ons moet hierdie boodskap regtig glo. En as ons dit glo sal dit ons in beweging bring. Dis baie duidelik uit die skaapwagters se reaksie dat hulle hierdie vreemde boodskap geglo het. (vers 15b) Hulle kon nie stilstaan nie. Hulle het self gaan kyk. Hulle het God verheerlik en geprys. Hulle het mense gaan vertel.

Glo jy regtig die Kersboodskap? Dis eintlik maklik om vas te stel. Watter veranderings het daar in jou lewe gekom weens die boodskap oor Jesus as Verlosser? Het die boodskap van Jesus ’n verskil gemaak in jou gedrag die afgelope jaar? Het die boodskap van Jesus gemaak dat jy teen sonde gekies het? (Het jy daardie buite egtelike verhouding verbreek? hey jy daardie lastige vyand vergewe?) Nog verder... Het die boodskap van Jesus gemaak dat jy Hom graag saam met medegelowiges aanbid het in die erediens? Hy jy in jou vriendekring en leef of werksomgewing gepraat oor Jesus?

EGTE REDE TOT VREUGDE

As ek en jy waarlik die boodskap van die engele glo, dan het ons REGTIG REDE om vandag baie bly te wees, maak nie saak van al die hartsere in en rondom ons nie! Die boodskap van die Verlosser se koms bring vir ons hoop – nou en eendag. Nou reeds kan ons vrede en vergifnis ervaar op grond van Jesus se menswording en kruisdood, maar ons kan ook gelowig uitsien na die herstel van die ganse gebroke skepping, ja ook die bevryding van ons liggame, die opstanding van die vlees! As jy nog nie hierdie boodskap glo nie, word jy vandag uitgenooi om te glo saam met die skaapwagters en miljoene na hulle... En dan sal jy beleef – die Kersboodskap is steeds ‘n bron van egte vreugde! (vers 10)


Wil jy iets verder hoor oor die radikale verskil wat die boodskap van Kersfees aan ons ellende maak? Kliek op IKABOD



Donderdag 01 Augustus 2019

MET ONS?

In droogte? In siekte? In geldskaarste? 

Jesus het ‘n duidelike belofte gemaak dat Hy met ons (sy dissipels) sal wees! 

Maar is dit waar en beleef ons dit? 

DROOGTE EN GELDSKAARSTE 

Dis ‘n gegewe. Dis afgryslik en skrikwekkend droog hier by ons in Namibië. Met moedeloosheid moes ons die afgelope somer verlangend kyk na sulke “pensvetwolkies”* wat verbydryf terwyl die groot reënwolke weggebly het! Dit alles teen die agtergrond van ‘n baie diep ekonomiese insinking met baie implikasies...werksgeleenthede gaan verlore, skoolgelde kan nie betaal word nie...Nou kom die vraag by ons op : Waar is Jesus? Wat dink Jesus van die droogte, ekonomie, ellendes...?  Wat is vir Hom in hierdie tyd belangrik? Ons maak mos al meer planne in sulke tye, maar wat is SY PLAN? 

GAAN DAN HEEN 

Die opgestane Jesus se groot laaste opdrag en PLAN aan al sy volgelinge was: “Gaan dan heen en maak soveel geld as moontlik en ek sal by julle wees!” Ekskuus… dis seker nie wat Hy gesê het nie, maar dis wat die meeste van sy volgelinge vandag gehoor het of mee besig is. 

Hier is wat Hy gesê het (vir in geval ons dit dalk gemis het) : 

Jesus kom toe nader en sê vir hulle: "Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. 
Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld." (Matteus 28:18-20) 

Jesus het na sy opstanding weer hier sy dissipels bymekaar geroep om laaste opdragte aan hulle te gee. Die eerlikheid van die evangelieskrywer is opvallend. Selfs hier na die opstanding heers daar tog nog ‘n mate van twyfel in sommige van Jesus se leerlinge se harte. (17) Hierdie twyfel handel nie oor Jesus se lewe en majesteit nie, maar oor die ongelooflike waarheid dat God se Seun vir sondaars gesterf het. Die twee sake wat hier saamgaan : God se Seun saam met ‘n vernederend kruisdood was net te ongelooflik. Nou gebeur iets wonderlik... Terwyl hulle Jesus aanbid word hulle twyfel genees en vergewe, want hulle almal ontvang ‘n bemoediging en ‘n belofte. 

Jesus verwag nie eers volmaaktheid van ons voor Hy ons bemoedig, uitstuur en wil gebruik nie. 

ALLE MAG BEHOORT AAN HOM 

Jesus begin sy dissipels bemoedig met die wonderlike versekering van sy almag. "Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde." (18) Die almag wat die Vader aan Hom as die Seun gegee het. Jesus het absolute mag. Dis niks nuuts wat Jesus hier sê nie. Sy hele bediening het dit bewys… Sy volkome heerskappy oor die natuur, siekes is genees, besetenes is bevry, dooies is opgewek…. Ook die verskriklike feit van sy eie sterwe het niks daarvan weggevat nie. Sy sterwe was juis ‘n vrywillige nie-gebruikmaking van sy mag om sondaars te red! Ja, spesifiek sy mag om sondaars te red is onbeperk... Daar is soveel voorbeelde... 

GAAN NA AL DIE NASIES 

Wat wel nuut en radikaal is, is Jesus se opdrag en veral die wye omvang daarvan. Vantevore is die dissipels se sending beperk tot Israel. (10:5) Nou word die grense wawyd oopgegooi. Ja voorheen het daar wel soms heidene by die volk Israel aangesluit. (Dink aan uitsonderings soos Ragab en Rut) Maar nou is die opdrag nie om van heidene Jode te maak nie, maar direk hulle dissipels/leerlinge van Jesus te maak! Die belofte aan Abram dat al die nasies deur hom seën sou ontvang gaan nou in vervulling. Jesus is immers die seun van Abram. (1:1) Hoe merkwaardig – die praktiese uitvoering van God se belofte word in die hande van Jesus se volgelinge gelaat! In my en jou hande! God vertrou ons daarmee! Hier gebeur iets heerlik aangrypend. Hier is die aansluitingspunt tussen die evangeliegeskiedenis en ons eie persoonlike geskiedenis. Hier word ek en jy self deelnemers in die Bybelverhaal, in die ontplooiing van God se verlossingsplan in die wêreld. 

‘n Christen is ‘n leerling van Jesus, met die opdrag om nog ander leerlinge te werf en te begelei! 

MAAK DISIPPELS 

Hoe moet die opdrag uitgevoer word om van mense dissipels/leerlinge van Jesus te maak? Die hoofopdrag is : maak dissipels! Dan word twee deelwoorde gebruik in die Grieks om die “hoe” te verduidelik : dopende en lerende. Die kern van die opdrag is die onderwerping van alle volke aan Jesus. Die deur onderwerping aan Jesus deel mens in die gemeenskap saam met die Vader en die Heilige Gees. (daarom die doop in die Naam van die Drie-enige God) Dis spesifiek Jesus se opdragte wat aan die volke geleer moet word. En dit sluit natuurlik juis weer ook die opdrag in om weer ander dissipels te maak! 

DIE BELOFTE 

Die heerlike versekering en belofte wat saam met die opdrag gaan mag ons nie miskyk nie. Terwyl ons die opdrag uitvoer kan ons weet dat Jesus by ons is, nie soms nie, nie deeltyds nie, maar elke oomblik tot op die einde! Jesus is met ons, ook in die ergste droogte, tydens die ergste geldelike krisis of siekte... wanneer ons besig is met sy opdrag! Hierdie term “met julle” (OAV) is in die konteks van die Matteus evangelie ‘n gelaaide term met ryke betekenis. Reeds in Matteus 1:23** word Jesus se koms in verband gebring met Immanuel (God met ons), hier aan die einde van die Matteus evangelie word die volle betekenis van Immanuel duidelik. God met ons, God met al die nasies van die aarde. Immanuel vir alle volke! Dis Jesus se groot missie. Dis die missie wat op ons skouers rus. Maar dis ook die heerlike vertroosting. Diegene wat besig is met Jesus se opdragte hoef niks en niemand te vrees nie. Ook nie droogte nie! Ook nie ekonomiese wurgtye nie! 

Wie met Jesus se opdragte besig is kan reken op Jesus se teenwoordigheid op ‘n besondere manier. Dis 'n feit - die geskiedenis en praktyk staaf dit!

Is dit dalk die rede hoekom Jesus se volgelinge tans so dikwels sy besondere saamwees en teenwoordigheid mis? Ons is besig met ons eie selfsugtige agendas. Platweg gestel – ons is ongehoorsaam aan ons Verlosser-Koning se duidelike opdragte! 

ONS DURF NIE JESUS SE BELOFTE LOSMAAK VAN SY OPDRAG NIE! 

Die groot vraag is of ek en jy hierdie opdrag ernstig opneem? Hierdie opdrag kom na alle Christene... ook juis na ons Afrikaner Christene hier in Afrika waar ons ‘n roeping het. Daar is mos sommiges wat redeneer dat hulle stoere Afrikaners is en teen sending moet wees... (byvoorbeeld die mense van die sogenaamde Israelvisie) Dis natuurlik ‘n groot misverstand. Die geskiedenis is baie duidelik oor Christen Afrikaners se sendingywer van die verlede... 

Kliek op : 







Dit gaan egter nie hier oor Afrikanerskap nie, maar oor die wese van Christenskap. Wie nie met Jesus se opdragte besig is nie, moet eerlik selfondersoek doen : Is ek self al ‘n dissipel of hoop ek maar ek is een? Nou hoor mens onmiddelik allerlei besware. Ja, maar ons is nie almal predikante nie. Moet ons nou almal ons werk bedank of besighede toemaak? Nee, natuurlik nie. Die opdrag is nie, maak jou besigheid toe of los jou boerdery nie, die opdrag is maak dissipels. Die vraag is wel of jy in jou besigheid en boerdery besig is om dissipels te maak? Het jy al met mense by jou werk of skool oor Jesus gesels? Jy sê, maar ek kan nie goed praat nie! Los asseblief daardie verskoning. Jy het al met almal iewers gepraat oor die weer, oor ‘n vorige Saterdag se rugby, oor die slegte ekonomie of oor jou kinders se prestasies… Jy kon daaroor praat omdat dit jou persoonlik raak. As jy Jesus ken, kan jy oor Jesus praat. Is die probleem nie “ek kan nie praat nie”, maar eerder : “ek is onseker of ek Jesus regtig ken”, nie? “Ja,ek ken Jesus,maar my geloof is baie swak.” Dis ook geen verskoning nie. Ons het gesien die dissipels se geloof was ook maar swak toe hulle die opdrag gekry het. Jesus vra nie sterk geloof nie, maar gehoorsaamheid! 

Jesus se prioriteit vir sy volgelinge is duidelik. “Gaan maak dissipels!” Ek wonder maar net, as dit ook nie ons prioriteit is nie, is dit nie dalk bietjie arrogant of vermetel om aanmekaar vir reën of finansiële uitkoms te bid nie? Is ons nie dalk soos ongehoorsame en rebelse kinders wat weier om basiese opdragte te uit te voer nie, maar ons kerm gedurig oor meer sakgeld of lekkers? 

Kom ons vra onsself opnuut – Is ek besig met sy opdrag? 

*Sulke uitgespreide vlieswolkies wat net soos ‘n skaap se pensvet lyk. 

**“Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.” (Matteus 1:23) 


Sondag 01 Julie 2018

SKEP GENOEG

EN SKEP MET BLYDSKAP UIT DIE FONTEINE VAN REDDING! 



Ons luister na die lofsange van die verlostes in Jesaja 12. Dis hulle vir wie die Here eers kwaad was en gestraf het, maar nou verlossing gebring het. (Kliek – NIE MEER KWAAD) Hulle is sondes uitgewis aan die kruis. Verlos deur die takkie wat sou uitspruit uit die stomp van Isai, Jesus Christus.* 


Daar is 3 aspekte waarna ons kan kyk in hierdie lofsange : Vertroue, Blydskap, Dankbare lofprysing. Ons het reeds gekyk na vertroue. Vertroue is 'n doelbewuste stap wat ek met my denke neem om my volkome op God se beloftes te verlaat. Ons kan dit doen, ons moet dit doen, want God se karakter is volkome betroubaar. Waar God vertrou word vlug angs en vrees. Ons wat vertrou op Jesus hoef nie meer die dood, straf of aardse omstandighede te vrees nie. 

OORVLOED! 

As ek God vertrou en my vrese verdwyn, kom daar 'n nuwe emosie en aktiwiteit in my lewe. Blydskap en dankbare lofprysing. (Let wel emosie en gevoel is deel van proefondervindelike godsdiens, maar dis 'n gevolg van vertroue en geloof, nie andersom nie. Ek vertrou God nie omdat ek lekker voel nie, ek vertrou hom ongeag my gevoelens of omstandighede.) 

Hierdie reaksie word met 'n pragtige metafoor uitgebeeld in vers 3. “fonteine van redding” Dis baie treffend vir mense wat gewoond is aan 'n dor land. (soos ons Suidwesters!) Ons weet water is lewe! 'n Fontein is dus 'n wonderlike ding, dis 'n bron van lewe. Dit spel volhoubaarheid, oorvloed, meer as genoeg! 

Genoegsame en oorvloedige verlossingsgenade. 

Almal kan skep, skep met blydskap soveel as wat nodig is. Dit laat mens dink aan Johannes 1:16 waar ons lees: "Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang." Dis die oorvloed wat Jesus bring.  O, geliefdes, laat ons God se beloftes vertrou en skep en bly wees! Waarom wil jy nog daar eenkant staan en doodgaan van sondedors? Kom skep! Maak nie saak hoe groot jou sonde, skuld en skande is nie... Dit maak nie saak hoe lank die ry mislukkings is nie...  Dis Jesus self wat jou nooi: “Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: "As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!” (Johannes 7:37) 

BLYDSKAP 

Elkeen wat lewende water kom skep, wat deel kry aan die oorvloedige vergifnis en verlossing, word bly! Blydskap! Blydskap is nie 'n randsaak of ekstra is in ons praktiese Christenskap nie. Dis 'n onmisbare deel en inherente bestanddeel van die verlossing wat God skenk. Ons hoor dit reeds in die engele se aankondiging van die geboorte van Jesus, "ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap." Dis deel van Jesus se wens vir sy dissipels in sy hoëpriesterlike gebed in Johannes 17:13. "sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulle kan hê" Volgens Paulus is vreugde een van die basiese kenmerke van die wat deel is van God se koninkryk. “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.” (Romeine 14:17) So kan ons aangaan. Ook die geskiedenis bevestig dit - waar God kragtig werk soos in tye van herlewing, is daar intense blydskap, dikwels eers intense smart oor sonde en dan die oorvloedige blydskap. (Kliek - SOUTPANSBERG) Dis duidelik dat blydskap en vreugde deel van God se oorspronklike bedoeling vir die mens was. Sonde het dit verwoes; verlossing het dit herstel. Verlostes is bedoel en veronderstel om bly te wees. Die besef dat God vir my kwaad was, maar nie meer is nie, omdat Hy my vergewe het moet tog 'n reaksie van blydskap tot gevolg hê. Terloops, dis miskien die rede hoekom baie sogenaamde godsdienstige mense so min blydskap ervaar. Hulle het nog nooit sondelas gevoel, die toorn van God raakgesien en die straf van die heilige God gevrees nie en dan die verligting van vergifnis ervaar nie. 

Verlostes het rede om bly te wees, die enigstes wat regtig rede het. 

Hierdie blydskap is meer as net oppervlakkige glimlaggies, dis die onvernietigbare blydskap van Jesus ten spyte van omstandighede! (Kliek – ONVERNIETIGBARE VREUGDE) 

AANBIDDING, LOFPRYSING EN GETUIENIS 

Saam met blydskap gaan dankbare aanbidding en lofprysing. 

“Op dié dag sal julle uitroep: "Loof die Here, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend en verkondig dat sy Naam groot is. 
Sing tot die eer van die Here, want Hy het groot dinge gedoen, maak dit aan die hele wêreld bekend. 
Jubel en juig, inwoners van Sion, want groot is die Heilige van Israel en Hy is by julle!" (4-6) 

Hoor, dit behels sing, jubel en juig. Nie net sommer omdat dit lekker is nie, maar tot eer van die Here. Hierdie lofprysing het 'n getuieniskarakter hê. Die volke, ja die wêreld daarbuite sal geraak word. So in ons situasie sal dit beteken dat hierdie lofprysing en dank meer moet behels as net lekker sanggeleentheid. Dit gaan oor die oorvertel en praktiese demonstrasie van God se verlossingsdade. Die lof handel oor SY dade, die groot dinge wat HY gedoen het. Enige kind van God kan en moet meedoen aan hierdie lofuitinge. Los die verskonings om stil te bly!** 

Daar is drie redes in hierdie gedeeltes waaroor ons moet jubel en juig. Anders gestel, die inhoud van ons lofbetuigings handel oor drie sake: 

- die groot dinge wat God gedoen het (5) 

- God se karakter - Hy is groot, Sy Naam is groot! 

- God is by ons, in ons midde. (6) 

Laasgenoemde is eintlik die kersie op die koek. Wat 'n heerlike waarheid. Wat sou al God se wonderlike eienskappe ons gebaat het as Hy ver en verwyderd van ons sou wees? God is by ons - Hy is nie meer kwaad nie, die muur van skeiding is afgebreek. Die belofte van Jesaja 7:14 van Immanuel (God met ons) het waar geword! Jesus het gekom en onder ons kom woon. Hy woon op hierdie oomblik in ons deur sy Gees en eendag sal Hy permanent en volmaak vir altyd tussen ons wees. “Toe het ek ‘n harde stem van die troon af hoor sê: "Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.” (Openbaring 21:3) Dit lyk asof hierdie gedeelte profeties kyk na Jesus se eerste koms, die verlossing wat hy gebring het, die verlossing en ons reaksie daarop soos ons dit nou ervaar, maar ook verby dit alles na die ewigheid en ons finale verlossing. Die verlostes gaan vir ewig bly wees, besig met dankbare aanbidding en lofprysing. 

SING JY SAAM?

Is jy deel van die skare verlostes in Jesaja 12 en kan jy saamsing? Is jy deel van die skare wat kan sê : "U was ook vir my kwaad...." , wat kan sê : “Ek vertrou en is nie meer bang nie" ? 

Indien : 

JA - Wel vertrou nog meer, wees meer dankbaar, prys, getuig meer... Jy het rede! 

NEE - Kom na Immanuel, na Jesus die Spruit uit die stomp van Isai. Kom skep, stel jou vertroue in Hom. Hy vergewe, Hy versadig en verfris! Voeg dan ook jou loflied by die verlostes van Sion! 

*Jesaja 11:1,2 “‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra. Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here.” Isai was natuurlik die vader van Dawid en uit die nageslag van Dawid, is Jesus, die Seun van Dawid gebore. 

** Die verskoning is dikwels – “ek weet nie hoe om te praat nie, ek moet seker eers ‘n evangelisasiekursus loop.” Kind van God, jy het hoegenaamd nie eers 'n evangelisasie kursus nodig om te begin getuig nie. (Daarmee beweer ek nie dat dit nie nuttig en sinvol kan wees nie.) Inteendeel as iemand agterkom jy vertel vir hom iets waarin jy afgerig is op 'n kursus-, dan klink dit dalk nie meer so baie eg nie. Jy loop tog nie eers 'n kursus om te kan vertel van 'n wonderlike vakansie nie? Nee, jy borrel net oor van jou wonderlike wedervaringe!



 STROME!
(Die Molopo kom af, 2009)

Donderdag 21 Desember 2017

Nie Ikabod nie,

maar Immanuel!



Name speel ‘n baie belangrike rol in die Bybelse geskiedenis en boodskap en hier tydens die Kersgety word dit weer pragtig onderstreep. Soveel so dat ons die hele boodskap van Kersfees (Jesus se vleeswording) in een naam kan opsom : IMMANUEL!

“Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem." Die naam beteken God by ons.” (Matteus 1:23)


Kom ons gaan eers ver terug in die geskiedenis, eeue voor Jesus se geboorte…‘n Sterwende vrou wat so pas geboorte geskenk het, gee aan haar seuntjie ‘n buitengewoon dramatiese naam : Ikabod. Ons ken die agtergrond… Weens die goddeloosheid van Eli se seuns het God sy oordele oor Israel gebring en hulle verloor teen die Filistyne in ‘n geveg. Toe dink die volk Israel hulle kan God dwing om hulle in die oorlog te help en hulle vat die verbondsark na die slagveld. Hulle het gedink hulle kon God manipuleer. Dit misluk en lei tot ‘n verdere vernietigende neerlaag en ramp vir Israel. Dis as’t ware ‘n donker uur van Godsverlatenheid en oordeel. Israel se geskiedenis is op ‘n laagtepunt van hopeloosheid en ellende. ‘n Boodskapper kom toe na Eli met die vreeslike nuus van Israel se nederlaag op die slagveld, die dood van Eli se seuns (een van hulle was die barende vrou se man) en die ergste van als - dat die verbondsark self in die hande van die Filistyne geval het… Ons lees hiervan in die hartseer geskiedenis van 1 Samuel 4:17-22. Te midde van hierdie smart en ellende noem die jong ma haar seuntjie, “Ikabod.” Dit beteken : ”Waar is die eer?” Dis ‘n uitroep van wanhoop, van Godverlatenheid, van neerlaag en mislukking. Dit weerspieël ‘n gevoel dat God ver weg is, dat God nie meer by Sy mense is nie, maar hulle afgeskryf het!

In Matteus lees ons weer van die geboorte van ‘n seuntjie : Immanuel. Ook hierdie naam is vol betekenis. Die agtergrond is die voorspelling deur die profeet Jesaja. (Jesaja 7:14) God het sy heerlike belofte van redding en uitkoms waar gemaak!

Ikabod, Immanuel - daar is geen groter kontras moontlik, as die kontras tussen hierdie twee name en waarvoor dit staan nie!

As ons na die wêreld rondom ons kyk, as ons eerlik is oor wat in ons eie lewens en ons eie huisgesinne gebeur wil ons ook miskien uitroep : “Ikabod!”– alles is hopeloos en God is ver! Miskien is jy dalk op hierdie einste oomblik, by Ikabod in jou lewe?

Maar daar is ‘n groter werklikheid. Die evangelie van Jesus Christus. Die evangelie is die waarheid van Immanuel – God is by ons, met ons!

Die twee name is as’t ware twee vensters van waaruit ons kan kyk… Beide vensters is baie realisties en hou rekening met ‘n stukkende wêreld van sonde en oordeel. Maar daar is 'n reuse verskil:

Ikabod is die venster van wanhoop, moedeloosheid, uitsigloosheid, oordeel....

Die ander venster is die venster van Immanuel.  Dis die hoopbringende venster van die evangelie, wat die lig van God se genade binnelaat tot in die donkerste dieptes van verlorenheid. God kom na ons juis in ‘n stukkende wêreld. Die skrywer van die Matteus evangelie was deeglik bewus van die gebroke werklikheid van hierdie wêreld. (Kyk maar sy geslagsregister wat opmerklik vroue soos Tamar, Ragab, Rut en Uria se vrou insluit...) Stukkend, sondig, gebroke... Maar wat wonderlik is, in hierdie bose en gebroke wêreld is God by ons. God kom staan in ons skoene. Hy vereenselwig Homself ten volle met die mens, soveel so dat Hyself mens word. Nie ‘n super mens of super held nie, maar ‘n gewone mens. Hy het self nie sonde nie, maar Hy kom woon tussen sondaars, Hy identifiseer met sondaars. Hy word versoek soos sondaars, word honger, word moeg en ly en sterwe soos gewone sondige mense. Ja, Hy weet dis ‘n sondige wêreld en Hy ken en verstaan ons hulpeloosheid en verslawing en daarom is daar ook ‘n ander naam wat vol betekenis is, Jesus! Verlosser! “Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos." (Matteus 1:21) Hy word juis ‘n mens van vlees en bloed om die doodstraf op Golgota in ons plek te ondergaan sodat elkeen wat in Hom glo, gered kan word.

Ikabod word met Kersfees (dink : evangelie) uitgekanselleer en vervang deur Immanuel! 

Ons hoef nie langer in wanhoop en ellende vas te haak by Ikabod nie, maar ons kan glo in Immanuel en ons elkeen kan die Naam van Jesus aanroep met die heerlike wete dat God met ons is en dat die belofte geld : “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word!” (Romeine 10:13)

Stukkende mens in ‘n stukkende wêreld, dis vandag dalk vir jou tyd om van Ikabod aan te beweeg na Immanuel!



Die kenner van die Hai//om taal en kultuur, oom Reinhard Friederich vertel ons hoe die Boesmans hierdie plant se gif aanwend.


Boesmangif (Adenium boehmianum)


Tambotiewoud

Donderdag 01 Januarie 2015

WAAR IS DIE GOD VAN LIEFDE?

Kyk : Immanuel is die duidelike antwoord!

Waar is die God van liefde? So baie het al hierdie vraag deur die eeue heen gevra en vra dit nog steeds. So veel aaklige gebeurtenisse het hierdie vraag aangevuur... die Anglo Boere oorlog konsentrasie kampe, die bloedige loopgrawe van die Eerste Wêreld Oorlog, die massa uitwissing van mense in die Tweede Wêreld Oorlog, maar ook die afgelope jaar... die ellendes van Sirië, Irak...maar ook nader aan ons lyf, plaasmoorde, gesinsmoorde, kindermishandeling, onreg, ongelukke*, korrupsie, uiterste armoede, siekte, eensaamheid, hartseer, dood van ‘n geliefde... ook ek en jy het dalk al dikwels (miskien in die stilligheid) gewonder... Ja, ons vier Kersfees, maar nog steeds : WAAR IS HY? HOOR, SIEN, VERSTAAN HY? GEE HY HOEGENAAMD OM? 



Waar is die God van liefde? Hierdie vraag is gelukkig finaal beantwoord deur die menswording van Jesus. Ons kyk hierdie ooglopende antwoord so maklik mis. Met slim redenasies probeer mense die misterie van lyding ontsyfer en God selfs skuldig bevind, terwyl ons die waarheid hier naby ons miskyk. Die antwoord is : “Jesus, Immanuel, God met/by ons!” Matteus vertel ons in verband met Jesus se geboorte : “Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: "Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem." Die naam beteken God by ons.” (23) Deur Jesus se vleeswording het God self na ons afgedaal. Hy is hier... God word mens met ons soos ons by ons. Dis die uiterste vorm van liefde. 

God maak Homself "swak" om soos ons te word en by ons te wees!

God se “met ons wees” het geweldige implikasies en is die uiterste vorm van radikale onselfsugtige liefde! Dis ‘n selfopofferende, self-gee, naby liefde. Paulus, as hy Christene tot liefde wil aanspoor, skets op kragtige wyse vir ons hierdie liefde wat geïmpliseer word deur die menswording van God se Seun in Filippense 2:5-8! “Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.”

So waar is die God van liefde? Wel, kyk net en sien...

Waar is die God van liefde? Sien die God van liefde as Jesus as swak suigeling in ‘n krip lê soos miljoene ander babas voor en na Hom, volkome afhanklik van sy moeder...

Waar is die God van liefde? Sien die God van liefde as Jesus in ‘n ry staan en skouers skuur saam met growwe sondaars om deur Johannes gedoop te word in die Jordaan. Hy vereenselwig Homself met sondaars deur die doop van bekering te ondergaan al het Hy self dit nie nodig nie.

Waar is die God van liefde? Sien die God van liefde as Jesus bemoeienis maak met die groot skelm in die dorp Jerigo, Saggeus en juis kies om by hom aan huis te gaan. Ja, God is by sondaars, by mense wat dit nie verdien nie... (Kliek op SAGGEUS VIER KERSFEES)

Waar is die God van liefde? Sien die God van liefde as Jesus vir ‘n verworpe vrou wat by sy voete huil die versekering gee : “Jou sondes is vergewe!” (Kliek op BAIE LIEFDE)

Waar is die God van liefde? Sien die God van liefde as Jesus oorweldig van emosie, huil by sy vriend Lasarus se graf.

Waar is die God van liefde? Sien die God van liefde as Jesus tussen hemel en aarde, halfnaak, verwerp, verag en bespot hang aan ‘n kruis om sondaars se straf te dra. Hier het ons die uiterste vorm van vereenselwiging met die gevalle mensdom, as Hy ons skuld op Homself neem en aanspreeklikheid vir ons misdade aanvaar... en gestraf word daarvoor. (Sien Jesaja 53:5,6) Hier is die vaste historiese feitelike antwoord op die vraag, “Waar is die God van liefde?” Geen groter liefde as dit is moontlik nie, dat iemand sy lewe vir ander gee nie... en nie vir goeies nie, maar vir slegtes...

Weet jy, ek dink die vraag : “Waar is die God van liefde?”, is dalk heeltemal ‘n verkeerde vraag. Die vraag moet eerder wees : “Sondaar, waarom verwerp jy tot nou toe die God van liefde, waarom weier jy om voor Jesus te buig?”

Sien die God van liefde as Jesus na sy opstanding uit die dood vir sy bang dissipels gerusstel : “Vrede vir julle!” Weereens , Hy is by hulle...

Sien die God van liefde as Jesus sy dissipels aan die einde van Matteus verseker : “...En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld." (LW. God se liefde het nooit beloof dat ons nie verdrukking, nie moeilikheid, nie siekte of dood op aarde sal beleef nie... Inteendeel, sy kinders sal ‘n oorvloed van hierdie dinge ondergaan...) Sy liefde beloof wel dat Hy by ons sal wees, by sy kerk tot aan die einde... 

[In gehoorsaamheid aan ons opdrag om vir die evangelie te getuig ervaar ons die saamwees van Immanuel op ‘n besondere manier... Anders gestel, diegene wat vir hulle self leef, sal dit nie juis beleef nie...]

Sien die God van liefde as Jesus se volgelinge ook hulle lewens opoffer vir ander... deur die eeue, maar ook sommer baie onlangs – Pierre Korkie word vermoor in Jemen, die Groenewalds in Afganistan...

In al hierdie situasies kom God by stukkende sondaars in hulle nood en smart staan. God se liefde is ‘n naby liefde... by wyse van spreke – God is nie bang om Sy hande vuil te maak in die proses om by sondaars te wees nie!

Waar is die God van liefde? Sien (in geloof) die God van liefde as Jesus weer sal kom op die wolke van die hemel en dan als sal nuutmaak. Tot dan moet ons nie ‘n nuwe wêreld verwag nie – tot dan sal daar rampe, tragedies en onreg wees.... Maar dis ons voorreg om binne hierdie situasies sy nabye liefde te beleef! En Hom te eer deur in sy liefde te bly glo, omdat Hy dit vir eens en altyd aan die kruis bewys het!

Waar is die God van liefde? Jesus self is die bewys, meer nog die persoonlike vergestalting van God se liefde! 

En wat so wonderlik is - niks kan ons van hierdie liefde skei nie! Nie die slegste, wreedste, onregverdigste gebeure en omstandighede nie! Paulus die groot sendeling en martelaar kon ondubbelsinnig getuig : “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (Romeine 8:38,39)

Vra jy nog : “Waar is die God van liefde?” Weereens jy hoef nie ver te soek na God se liefde of navorsing daaroor te gaan doen nie. God se liefde is Jesus – GOD MET ONS! Hy is nou hier by ons deur Sy Heilige Gees! Is Hy al deel van jou lewe? Het jy Hom al aanvaar? Wel, as Hy jou Verlosser geword het kan jy getuig : “IMMANUEL – GOD BY MY!”



[ By ons in ons klipharde omstandighede...]

*Die tragiese en onnodige gru ongeluk by Hentiesbaai is nog rou in Namibiërs se gemoed...