BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Gedring...deur Christus se liefde. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Gedring...deur Christus se liefde. Wys alle plasings

Vrydag 23 Februarie 2018

AANGEDRYF DEUR DIE LIEFDE!

(WAT MOTIVEER JOU?) 


Ons weet ons as kinders van God is veronderstel om voluit vir die Here te leef. Die Here verwag van ons ’n lewe van radikale oorgawe, opoffering en gehoorsaamheid. Vreugdevolle diens. Om voortdurend te kies teen sonde. Om Hom eerste te stel bo materiële dinge, afstand doen van wêreld se skatte, ’n najaging van Koninkryksbelange. Maar hoe kry mens dit reg? Hoe bly mens entoesiasties? So dikwels kla ons – “ek weet ek leef laks, ek doen nie wat ek moet doen nie....my liefde vir die Here is so gebrekkig...” 

Wat inspireer die kind van God? Kom ons vra die vraag vir Paulus. Paulus het die pad van toewyding en entoesiasme gestap. Wat was sy geheim? In 2 Korintiërs 5:9-15  kry ons ’n duidelike aanduiding. Ons vind drie faktore wat Paulus motiveer: 

~Die werklikheid van die oordeel. “Maar, of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil. Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.” (9,10) Hier gaan dit oor die feit dat ook die kinders van God se dade beoordeel gaan word. Dit gaan nie hier oor redding nie. Die mense wat op Jesus vertrou het, is mos reeds gered en vrygespreek. Dit gaan hier oor verantwoording doen, dit gaan oor beloning! Wat maak jy met die genade en geleenthede wat vir jou gegee is? Is ons gedurig bewus daarvan dat ons elkeen voor Jesus sal verskyn en rekenskap moet gee? Dit gaan nie oor wat mense van ons sien en wat mense van ons dink nie, maar oor die Here wat die verborge dieptes van ons harte ken.*

Hierdie afspraak bly ons by en motiveer ons, maar daar is nog iets baie groter...

~Die werklikheid van Christus se liefde. “Die liefde van Christus dring ons,...” (14) Dit gaan oor die heerlike ontdekking wat Paulus gemaak het van Jesus se liefde. Ook vir Hom persoonlik. Watter groter motivering as liefde kan daar wees? Ons weet vanuit die alledaagse lewe watter groot aansporing die liefde kan wees...’n persoon los sy taal, geboorteland, eie ambisies, selfs jou familie...ter wille van die een wat vir jou so ontsettend lief is. Die besef dat iemand my werklik liefhet spoor mense aan tot uiterste opofferings. “Die liefde van Christus dring...”- dit gaan hier oor die liefde wat Christus vir ons het. As gevolg van hierdie liefde van Christus vir hom, het Paulus ‘n nuwe visie en doelwit gehad. Radikale toewyding aan God en diens aan ander om vir hulle die evangelie te bring. 

~Insig in die betekenis van Christus se dood. “Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.” (14,15) Die liefde van Christus, die liefde wat Hy vir ons het is ‘n baie duidelike , konkrete liefde. Dit was nie net woorde wat Hy vir ons gesê of ‘n gevoel wat Hy vir ons gehad het nie. Dis ‘n liefde wat sy dood gekos het. Dis ‘n liefde wat gemaak het dat Hy aan die kruis gaan sterf het vir ons. Hierdie sterwe was vir almal. “vir almal” beteken in die plek van almal. Die frase “dit beteken dat almal gesterf het” maak dit baie duidelik. Christus se sterwe was ’n plaasvervangende sterwe. Sy sterwe vir ons beteken dat God dit sien, beskou asof ons self gesterf het en die straf vir ons sonde gekry het. Christus se dood was die dood van almal in die sin dat hy die dood gesterf het wat hulle eintlik moes sterf. Hy het hulle straf gedra. Hy het in hulle plek gesterf. Die doodstraf vir sonde , my sonde is op Jesus voltrek. Jesus het die straf van die hel verduur wat sondaars moes deurgaan. Christus se dood het ons dus bevry van die skuld en straf wat ons na regte moes dra as gevolg van ons sonde. Hierdie “almal” is almal wat die boodskap van versoening deur die geloof in Christus aanvaar. Dis die grootste heerlikste nuus wat daar ooit vir ‘n helverdiende sondaar kan wees! 

Probeer jou indink aan ‘n situasie waar jou lewe aan ‘n draadjie gehang het, waar daar geen hoop was nie... iemand anders waag sy lewe...Om jou te red uit ‘n veldbrand, seestroom... Wat gaan jou reaksie wees? Intense dankbaarheid en liefde teenoor daardie persoon. Nou dink daaraan, Jesus het nie net sy lewe gewaag nie, Hy het inderdaad sy lewe gegee, opgeoffer. 

Vir ons wat bevry is van God se oordeel deur die marteldood van Jesus is daar net een logiese redelike opsie - ons kan nie meer vir onsself leef nie, maar vir Christus. 

 Ja, dis ’n uiters radikale ding, dit maak net sin in die lig van die radikale dood van Christus in my as goddelose se plek. As ek weet ek is van die hel verlos deur Jesus se kruis en opstanding is daar net een keuse wat ek in integriteit kan maak - leef vir die Een wat my verlos het. “Nie meer vir onsself nie, maar vir Hom” .... Natuurlik dis nie so eenvoudig en maklik nie! Om vir myself te leef is die mees natuurlikste ding vir elke mens om te doen. Elke mens op aarde leef outomaties vir homself, al doen hy watse goeie dinge, dis eintlik maar vir homself. Ook diegene wat donasies of borge gee aan al wat organisasie is, doen dit mos maar dikwels vir advertensie of om hulle gewetens te sus, eintlik dus maar vir hulleself. Daarom is dit ’n lewensingrypende besluit om nie meer vir myself te leef nie, dis ’n besluit wat daagliks hernu moet word - dis ’n besluit wat net geneem kan word as ek werklik die implikasie van Jesus se dood en opstanding vir my (en vir ander) besef. 


DIE GEHEIM DUS...

Die geheim van toewyding, die groot motivering is : verstaan die evangelie naamlik die goeie nuus oor die feit en implikasie van Jesus se sterwe aan die kruis, glo die evangelie, absorbeer die evangelie boodskap. Luister na die evangelie, weer en weer, dit wek geloof en dit bring ook toewyding. 

Verstaan ons die evangelie? Geliefde - sien raak die toorn/wraak van ’n heilige God. Sien die ewige hel wat wag vir sondaars. Sien God se regverdige wraak wat vir my en jou wag omdat ons elkeen van sy wette oortree het en sy eer geskend het.....kyk na die film van jou lewe...al die ongehoorsaamheid, al die valsheid, al die selfsug en bedrog, al die geniepsigheid, die rebelsheid....Maar kyk dan op... En sien dan die kruis, daar hang Iemand, stukkend, vol pyn, totaal van God en mens verworpe en verlaat, maar Hy roep uit - “Dit is volbring!” Al die dors, die dorings, die spykers, die géselslae, die Godsverlatenheid en die dood het Hy verduur was omdat Hy vir jou lief is. Ja, God se volle toorn en wraak word op Jesus uitgegiet omdat hy ons sondes dra uit liefde. Aan die kruis is hy as ’n sondaar behandel - Hy is met die dood gestraf sodat ons vrygespreek kan wees. “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.” (21) My aaklige sondes is in Hom gestraf! Klaar en finaal! My sonde kan nie meer teen my gehou word nie, dis regverdiglik gestraf! Hierdie besef is die aansporing om voluit vir Hom en nie meer vir jouself te leef nie! 

Hierdie evangelie sien ons ook hier voor ons oë op die nagmaalstafel en ons gryp dit weer persoonlik vas deur in geloof te eet en te drink! 



*Sien 1 Korintiërs 4:3-5. “Maar vir my is dit nie van die minste belang of my betroubaarheid deur julle of deur ‘n menslike regbank beoordeel word nie. Trouens, ek beoordeel dit self nie eens nie. Daar is ook niks waaroor my gewete my aankla nie, maar dit beteken nog nie dat ek vrygespreek is nie. Dit is die Here wat my beoordeel. Daarom moet julle nie te vroeg, voordat die Here kom, ‘n oordeel uitspreek nie. Hy sal ook die dinge wat in duisternis verborge is, aan die lig bring en die bedoelings van die hart blootlê. Elkeen sal dan van God die lof ontvang wat hom toekom.”

Donderdag 17 April 2014

NA GOEIE VRYDAG...

- kan ek nie meer vir myself leef nie!


Paulus het ‘n ontdekking gemaak wat ‘n ontsaglik radikale ommekeer in sy denke, motivering en loopbaan teweeg sou bring! Hy is gekonfronteer met die liefde van Christus, spesifiek die Goeie Vrydagliefde en hierdie insig het hom vir altyd verander. Hy skryf daaroor in 2 Korintiers 5:14,15 soos volg :

“Die liefde van Christus* dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.”

Om nie meer vir myself te leef nie. Sjoe! Dis ’n mondvol. Dis ’n uiters radikale stelling en besluit. Dit skreeu teen ons verstaan van menswees en ons innerlike oorlewingsdrang. Ons is mos van geboorte af ingestel om vir myself te leef..., vir my gerief, my belange, my besittings, my ideale. Selfsug en selfbelang is die natuurlike loopbaan van elke sondaarmens sedert Adam. Trouens, dis eintlik die essensie van sonde, dat ek mý begeertes en behoeftes verhef tot die absolute norm en daarom God en medemens ignoreer en vertrap. Wie die evangelie verstaan en in dankbaarheid daarop reageer, kan egter nie meer vir homself leef nie.

DIE ENIGSTE OPSIE

As ons die evangelie van die kruis en opstanding glo en aanvaar kan ons nie meer vir onsself leef nie, nee, ons moet leef vir Hom wat vir ons gesterf het. Dis die groot waarheid wat die apostel Paulus besef het en met ons deel. Hoe Paulus tot hierdie radikale konklusie gekom? Hy het insig gekry in die liefde van Christus. Hy het dit begryp en is daardeur aangegryp! Die liefde wat Christus deur sy kruisdood bewys het. Dit kom daarop neer - Hy het in my plek gesterf onder die toorn van God. Hy het my sonde op Homself gevat, Hy het my doodstraf ondergaan. Deur sy liefdesoffer het hy my weggeraap voor die bek van die gapende helse afgrond. In God se oë is dit asof ekself gesterf het en vir my sonde gestraf is. Die straf oor my is dus afgehandel. Dis die rede hoekom ek nou kan leef voor God. Die kruisdood van Jesus is al rede hoekom God se oordeel MY nie vermorsel nie, maar ek nog voor sy aangesig kan bestaan. Hy het gesterf sodat ek kan leef. Dieselfde gebeurtenis, die kruis wat Jesus afgetrek het na die dieptes van die dood, het my opgehys na die lewe. Ek het my lewe dus te danke aan Christus se sterwe. En wat bly nou vir my oor? Net een redelike opsie. Net een keuse wat ek in integriteit kan maak. En dis om nie meer vir myself te leef nie, maar vir Hom wat vir my gesterf het en uit die dood opgewek is.

JESUS HET DIE VOLLE BLAAM (EN GEPAARDGAANDE STRAF) VIR MY SONDE GEVAT, VRYWILLIG! DIS WARE LIEFDE!

Wie hierdie liefde verstaan, neem 'n besluit om nie meer vir homself te leef nie, maar vir Christus. Dis ’n vrywillige besluit in die lig van die evangelie, dis ’n daaglikse besluit...

Om te sterf aan jouself en te lewe vir Christus beteken o.a ten minste die volgende vier dinge (alhoewel dit nie waterdig geskei kan word nie):

~ ’n onverbiddelike keuse teen alle sonde en sondige begeertes. Dit beteken ’n beginsel besluit tot ’n verbete stryd teen alle sonde, selfs ten bloede toe. Sonde kan nie meer my vriend wees nie, want MY sonde het dan juis Jesus se dood gekos. Geen moeite en geen opoffering is te groot in my stryd teen sonde nie. As jou oog jou laat struikel, as jou hand.....raak ontslae daarvan. As jou geliefkoosde TV program, as jou beste vriend, as jou materiële welvaart, as jou druk lewensstyl jou laat struikel....raak ontslae daarvan. Roei uit wat jou wil wegrokkel van Christus af!

~ leef die lewe van Christus. Kies teen jouself en jou opinies. Volg SY voetspore na, leef volgens SY voorbeeld. - juis wanneer jy verontreg en mishandel word! “Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ‘n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg.” (1 Petrus 2:21) Om vir Jesus te leef is nie een of ander emosionele “high” nie, maar ‘n lewe van gehoorsaamheid aan God se wil. Mense wat die liefde van Jesus ontdek het, maak erns met God se wil. “Here, hoe wil U hê moet ek leef.” Jesus sê mos : “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.” (Johannes 14:15)

~ ’n gehoorsaamheid aan my roeping as dienskneggetuie. ’n Dienskneg behoort nie meer aan homself nie, maar aan sy Heer. My tyd, kragte, eiendom, talente word nou nie meer aangewend vir my saak nie maar vir my Heer se saak. Die insig oor Jesus se liefde het Paulus vasberade gemaak om sy roepingswerk te voltooi, al sou dit sy lewe kon kos... “Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.” (Handelinge 20:24) As ek self tot hierdie oortuiging gekom het van die betekenis van Jesus se dood, wil ek dit mos met ander deel! As kind van God het ek mos 'n roeping, al is ek nie noodwending 'n reisiger nie!

~ ’n lewe van diens aan die liggaam van Christus, naamlik my broers en susters in die geloof. Om te sterf aan myself en te leef vir Christus beteken dat ek radikaal vir sy liggaam (broers en susters) sal leef. “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was...” (Filippense 2:3-5.) Die standaard van leef vir die ander se behoeftes word in vers 5 gestel - dieselfd gesinindheid van selfprysgawe as wat in Jesus sigbaar was! Hierdie diens het geen grense nie- dit beteken dat ons mekaar se voete sal was - met ander woorde om dit wat selfs onaangenaam en vernederend is vir mekaar te doen, maar dit gaan ook verder, dit kan beteken dat ons selfs letterlik ons lewens vir mekaar moet aflê - dit sal ten minste behels dat ons nooit iemand van ons materieel sal laat ondergaan nie. (1 Johannes 3:16,17)

Om nie meer vir myself te lewe nie sal dus behels dat ek taamlik dikwels dinge moet doen waarvoor ek nie van nature lus voel nie of wat my iets gaan kos aan gewildheid, tyd, geld of gerief. Dis ’n lewe van militêre dissipline en ontbering (2 Timoteus 2:3), maar dis selfdissipline, en baie belangrik - dit word gedryf nie deur vrees en angs nie, maar deur die liefde, liefde vir Hom wat vir my uit liefde gesterf het.

Om nie meer vir myself te leef nie is nie ’n maklike pad nie. Dis daagliks ’n pad van keuses teen myself en teen natuurlike gevoelens en behoeftes. Maar dis beslis nie ’n uitsiglose doodloopstraat nie - dis ‘n poort na ‘n vol en vrugbare lewe op aarde en ’n ewige oorwinning hierna.** Dis inderdaad die enigste opsie in die lig van Jesus se sterwe ter wille van my!

REALISTIES?

Kom ons wees rou eerlik met onsself : Hierdie prysgawe van myself, hierdie besluit teen my ideale en belange klink na bisarre malligheid en is inderdaad onmoontlik, BEHALWE as ek ook tot die insig gekom het van wat Jesus se kruisliefde regtig beteken. Ek moet die skat van Goeie Vrydag vind! (Vers 14,15) Met ander woorde : om vir Jesus te leef maak net sin as ek eers die evangelie glo, nie as mooi teorie nie, maar as werklikheid. Nie van hoorsê nie, maar proefondervindelik! Anders gesê hoe meer ek die evangelie verstaan, die betekenis van die kruis en opstanding hoe meer sal vasbeslote raak om nie meer vir myself te leef nie, maar vir Hom wat... 

Die teenpool is net so waar : Selfgerigte lewens verraai een groot feit – nog nooit het hulle waarlik die liefde van Christus, spesifiek die Goeie Vrydagliefde aan die kruis besef en aanvaar nie...

Mag hierdie vir jou 'n besonder Goeie Vrydag wees...

* Die frase “die liefde van Christus” is hier ‘n subjektiewe genitief (Christus se liefde vir ons) en nie ‘n objektiewe genitief (ons liefde vir Christus) nie. Natuurlik lei die een tot die ander. Dat dit hier eerstens oor Christus se liefde vir ons gaan is duidelik uit die feit dat Paulus voortgaan om te beskryf wat Hy vir ons gedoen het – vir ons gesterwe het!

** Probeer gerus ‘n biografie lees van Adoniram Judson, die pioniersendeling in Burma wie se lewe ‘n aangrypende voorbeeld was van opoffering omdat die liefde van Christus hom gedryf het.