BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Hoer/prostituut. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Hoer/prostituut. Wys alle plasings

Saterdag 26 Augustus 2023

BLY JY DALK TE LEKKER IN BABILON?

- Daar is geen toekoms in BABILON nie!

(Jy dink miskien dis lekker, maar dis GEVAARLIK!)


Waar woon jy en voel jy tuis? Waar behoort jy? Waar is dit lekker?  Ek bedoel nou nie Tsumeb, Windhoek of dalk die Kaap nie. Ek bedoel  Babilon of  die nuwe Jerusalem, die twee stede waarvan ons in Openbaring lees? (Kyk gerus by 
Openbaring 18:1-3;  21:1-3)

In Ou Testamentiese taal - Babel of Sion? Ja, want hierdie twee plekke het ‘n lang en onstuimige geskiedenis lank nog voor die tyd waarin Openbaring geskryf is en waaroor Openbaring skryf.

ABSOLUTE KONTRAS

Hierdie twee stede is ook op die uiterstes van die spektrum, onversoenbaar, “incompatible”. Dis die absolute “Tale of two cities” om nou maar Dickens se woorde te gebruik.  Dit verteenwoordig twee opponerende leefstyle, waardesisteme, koninkryke en eindbestemmings.  Dis duisternis teenoor lig. Leuen teenoor waarheid.  Geweld teenoor vrede. Onsedelike boosheid teenoor rein heiligheid. 

‘n Onrein losbandige prostituut teenoor ‘n rein maagdelike bruid.


DIE VERRE OORSPRONG

Kom ons gaan terug ver na die Ou Testament. Jerusalem is God se uitverkore stad. Ook bekend as, Sion. Hier is die troon van Dawid, die setel van God se heilige tempel, die sentrum van ware aanbidding. Jerusalem het egter gruwelik gesondig en God het die goddelose Babel gebruik om sy stad, sy mense te straf. Die volk Israel is in ballingskap na Babilonië weggevoer. Daar het hulle swaargekry en getreur. Die hartseer word so treffend verwoord in die bekende Psalm 137. (Onthou jy nog Boney M. se treffer "By the rivers of Babylon"?) 



Alles het so hopeloos en hartseer gelyk, maar God het sy volk en Jerusalem nie afgeskryf nie. God nie sy verbond vergeet nie. Deur die profete het Hy weer die einde van die ballingskap, die herstel van Jerusalem, die herbou van die tempel en die straf oor Babel aangekondig. 

God het nou vir sy volk deur die profete aangekondig dat Jerusalem se straf verby is. Jesaja 40:1,2 



God kondig ook die straf oor Babel aan. Kyk byvoorbeeld na Jesaja 47 waar die val van Babel aangekondig word. Jesaja 47:10-11




Saam met die oordeelsaankondiging oor Babel kom God se oproep om uit Babel pad te gee. Jesaja 48:20  God beveel sy mense :"Kom nou weg uit hierdie bose plek en sisteem, hierdie plek gaan nou vernietig word!"



Teenoor God se oordeelsaankondigings oor Babel verseker Hy sy eie volk, die stad Sion dat Hy hulle nooit sal vergeet nie. Jesaja 49:14-16  God gaan sy stad reinig en bevry  Jesaja 52:1-2   Hierdie nuus dat God inderdaad KONING is (ten volle in beheer van die geskiedenis is en alle mag het om sy volk se lot postief  te verander) is goeie nuus!  (Niks anders nie as EVANGELIE) Jesaja 52:7








Hierdie beloftes van God oor  sy volk se bevryding uit Babel en die herstel van Jerusalem is natuurlik letterlik vervul. God het in sy absolute soewereine almag, die heidense koning Kores gebruik om die volk weer terug te bring na Jerusalem en die stad en die verwoeste tempel weer te herbou. 

Maar daar het nog iets heerliker  gekom. Jesus, die Lydende Kneg van Jesaja 53 het finaal ‘n einde aan die ballingskap gebring. Hyself was die ware tempel en Hy herstel Jerusalem  - Hy maak ‘n rein bruid, sy kerk bymekaar wat in Openbaring die nuwe Jerusalem genoem word.

Die kontras tussen die onheilige Babel en God se nuwe herstelde Jerusalem word deur Paulus gebruik om die Christene in Korinte tot heiligheid aan te spoor. 2 Kor. 6:17,18 7:1 vgl. Jesaja 52:11   Die goeie nuus van die bevryding uit Babel is nou die Goeie Nuus van die evangelie, ons verlossing uit die verslawende ballingskap van die sonde en sy sisteme. Maar as ons hierdie Goeie Nuus glo, moet ons wegbreek van alle sonde en ongehoorsaamheid! Dis lewensbelangrik!




(Om na 'n boodskap oor bogenoemde teks te luister, kliek op KOM WEG DAAR!)

IN OPENBARING

Maar kom ons blaai nou na Openbaring. Hier word die kontras tussen Babel en die nuwe Jerusalem, Jesus se bruid op ‘n spits gedryf. Die parallel met die beloftes in Jesaja en die boodskap van Openbaring is so opvallend.  Babilon is die simbool van hierdie bose wêreld met sy wellus en gierigheid wat die ware kinders van God onderdruk. Die oordeel oor Babilon word hier in hoofstuk 18 uitvoerig beskryf…



Let op Openbaring 18:4 (vgl. Jesaja 48:20 en 52:11 waarna ons reeds gekyk het)


Hierdie beskrywings van haar sonde, uitspattige weelde, onsedelikheid en moord op God se kinders kom uit veral Jeremia en Jesaja. 



DIE REIN BRUID

Teenoor die losbandige prostituut Babilon met die uitspattige en uitlokkende houding en voorkoms staan die rein bruid van Jesus, die nuwe Jerusalem, die geheiligde volgelinge van Jesus. Openbaring 21:2; 9-11 Daar is nie plek om op al die eienskappe en heerlikheid van die nuwe Jerusalem in te gaan nie. Een saak wat so belangrik vir onms tyd is moet egter duidelik uitgewys word – vers 27!





Waar voel jy tuis? (Voel jy tuis by die Visfees, Wildsfees of watter fees ook al waar gehoer en rumoer word?) Jy kan nie ‘n burger van beide Babel en die nuwe Jerusalem wees nie. Jy kan nie ‘n ondersteuner van altwee bly nie… Jy kan nie hoer en bruid tegelyk wees nie!  Baie mense mislei hulleself… ons behoort mos aan die kerk, ons is mos gedoop en aangeneem…ons is mos deel van die Nuwe Jerusalem. Kom ons stel dit duidelik – God se Woord is baie reguit… as jy aangaan met valsheid en gruwels… as jy aangaan met jou onsedelikheid, jou dronkenskap, geweld, leuens, bedrog… vergeet van toegang tot die heilige stad.

Die waarheid van God se bedoeling is nie om ons weg te stoot nie, maar op te roep tot bekering. Laat staan jou sonde en bekeer jou tot Jesus. Dis die duidelike boodskap van die sewe briewe aan die gemeentes in dieselfde boek van Openbaring.(Kliek op Boodskap van die Heilige Gees) Die oproep tot bekering kom in Openbaring na kerkmense, mense wat binne in die kerk leef soos aanhangers van Babilon. Kom en laat jou klere gewas word in die bloed van die Lam!

Kyk op YouTube. Kliek op LEKKER IN BABEL?

Vrydag 06 September 2019

BABILON

IS NIE BY DIE BRUILOF NIE

[basiese besonderhede oor die ewige heerlikheid wat algemeen vergeet word]



Kom ons vra weer : Hoe lyk dit in die ewige heerlikheid by God? Openbaring gee die antwoord in prentjies en simbole. 



Die werklikheid van die hemelse koninkryk word dikwels voorgestel as ‘n Bruilofsmaaltyd (Natuurlik is daar nog baie ander aspekte van die hemel wat deur ‘n verskeidenheid metafore uitgebeeld word.) – ‘n huweliksfees wat innige gemeenskap, saamwees, harmonie en uitbundige vrolikheid simboliseer. Die gemeenskap van gelowiges kwadraat!


Om in die hemelse koninkryk te wees beteken dat ek bevoorreg is om uitgenooi te wees na die bruilofsfees van die Lam (Jesus)! “Toe sê die engel vir my: "Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is." Verder sê hy vir my: "Dit is die woorde van God, en hulle is waar." (Openbaring 19:9!) Dis die een fees wat tel, dis die een partytjie wat mens nie moet misloop nie! Dit maak nie saak wie jy is en hoe swaar jy nou kry nie...arm, siek, bespot of uitgestoot... as jy ‘n genooide is na Jesus se bruilof is jy ‘n uitermate geseënde! Die absolute maatstaf van geseënd wees! Ek hoop dat jy as jy reeds 'n kind van God is, besef  jy is baie meer geseënd as Bill Gates. Juig daaroor en dank God dat jy so ‘n uitverkorene mag wees!

Wie is die gelukkige uitgenooides en hoe lyk hulle?

Die uitgenooides is die bruid self, dit wil sê almal wat waarlik deur die wedergeboorte deel geword het van Jesus se kerk!

BRUID OF HOER?

Johannes skets vir ons die verhewe skoonheid en rein heerlikheid van Jesus se kerk in kontras met ‘n onheilige hoer/prostituut. Daar is natuurlik geen skerper kontras as juis dit nie – ‘n maagdelike bruid en ‘n onrein/onsedelike prostituut.

Die prostituut word beskryf met die term Babilon. (Babilon en die val van die stad word in hoofstuk 18 in detail beskryf.) Die bruid word in hoofstuk 21 beskryf as die Nuwe Jerusalem. “Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke het waarin die sewe laaste plae was, gekom en met my gepraat. "Kom," het hy gesê, "ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam."Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na ‘n groot hoë berg toe geneem en die heilige stad Jerusalem vir my gewys, wat van God af uit die hemel uit afkom.”(21:9,10) Babilon is simbool van als wat onrein, onheilig en in opstand is teen God en sy norme en wette. Die prostituut Babilon met haar uitlokkende klere van mag, wellus en ydele rykdom staan in skrille kontras met die bruid, wat versier is met die blink klere wat die regverdige dade van die gelowiges simboliseer. Vergelyk self Openb. 17:4;18:2,16 met Openb. 19:8. 

God sê van Babilon - Openb.17:4 "Die vrou was uitgedos in pers en helderrooi klere en opgetooi met goud, edelstene en pêrels. In haar hand het sy ‘n goue beker vol losbandigheid gehad, die onreinheid van haar onsedelikheid."
Openb. 18:2,16 “En hy het met 'n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword 'n woonplek van duiwels en 'n versamelplek van allerhande onreine geeste en 'n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls,...” "Hoe vreeslik, hoe vreeslik! Die groot stad, uitgedos in fyn klere, pers en helder rooi, en opgetooi met goud, edelstene en pêrels!”

(Terloops, baie sogenaamde Christen jong dames se kleredrag en leefstyl herinner baie eerder aan die voorkoms van die hoer as die maagdelike bruid!)

God sê van die kerk (bruid) -Openb. 19:8. “God het haar dit vergun om fyn, helder blink klere aan te trek." Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die gelowiges.”

SY IS SO MOOI!

Die duidelike boodskap is :Die bruid van Jesus lyk anders as die sedelose onheilige wêreld! Sy word uitgeken aan haar versiering van regverdige dade. Regverdige dade, goeie werke is alles wat ons doen uit dankbaarheid vir ons verlossing en in gehoorsaamheid aan ons Verlosser! Moenie ‘n fout maak nie – goeie werke, maak saak, heiligheid maak saak – dis volgens die Apostoliese belydenis die groot kenmerk van die ware kerk van Jesus! “Ek glo aan ‘n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges.” Vir onheiliges gaan daar geen plek wees aan die bruilofstafel van Jesus nie!

BABILON SAL NIE BY DIE BRUILOFSFEES WEES NIE!

Openbaring in sy geheel is baie duidelik : Ons word nie gered deur goeie dade nie! Nee, net deur die bloed van die Lam. Ons maak ons klere wit in die bloed van die Lam. Dit beteken ons ontvang volkome vergifnis op grond van Jesus se kruisdood. Ons word nooit deur ons goeie dade gered nie. Maar goeie dade is die noodwendige gevolg van ware redding uit genade. Goeie dade is die versiering, die sigbare kenmerk van dié wat vergifnis ontvang het. Goeie dade maak die ware kinders van God, die bruid, MOOI! Hierdie mooi bruid gaan vir ewig feesvier saam met die Lam! Dis hemels!

DIE BRUID VAN JESUS IS ‘N REIN BRUID, VERSIER MET REGVERDIGE DADE!

Is jy deel van die Bruid, of gaan jy saam met Babilon? Dra ons die blink klere van heiligheid of vertoon ons die magsug, onreinheid en wellus van die onheilige prostituut? Is jy besig om jouself gereed te kry vir hierdie fees, of ploeter jy voort in ongehoorsaamheid en vuilheid? “Laat ons bly wees en juig en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak.” (7) Daar is nou nog tyd vir bekering...

Die Nagmaal bevestig al die heerlike waarhede van Openbaring met betrekking tot die bruid: Redding deur die bloed van Jesus, aansporing tot goeie dade, ‘n feesmaal wat ‘n vooruitskouing is op die ewige bruilofsmaal saam met Jesus, die LAM!

Vrydag 16 Oktober 2015

GOD SE LIEFDE VIR 'N HOER!

- Die oorwinnende mag van God se liefde soos beskryf deur die profeet Hosea.



‘n Hoer word gekies as bruid, die bruid word weer ‘n hoer, maar haar man gaan haal haar en vat haar terug. Eintlik meer, hy koop haar terug! Ons vind in die boek Hosea die mees dramatiese demonstrasie van die oorwinnende mag van God se liefde. Hierdie profeteboek is taamlik ingewikkeld, maar die basiese boodskap is tog baie duidelik : God in sy ruim liefde skryf sy mense nie af as hulle ontrou geword het nie, maar roep hulle terug, oorreed hulle terug en lei hulle tot bekering! God oorweldig mense met liefde! God bring hierdie boodskap nie net in woorde nie. Die profeet Hosea se persoonlike lewe moes dit op aangrypende wyse demonstreer. Hosea se optrede moes ‘n spieëlbeeld wees van God se verbysterende groot liefde ten spyte van afgryslike groot ontrouheid.



Die profeet Hosea kry opdrag om met ‘n prostituut met buite egtelike kinders te gaan trou. Wat ‘n groot skande en vernedering! Haar naam was Gomer. (Hosea 1:3) Sy het egter weer ontrou geword en weggeloop en die huwelik geskend. En nou kom die merkwaardige opdrag in 3:1. “Gaan knoop weer ‘n liefdesverhouding aan...” Dit gaan om dieselfde Gomer, al word haar naam nie genoem nie.* 


“Die Here het vir my gesê: Gaan knoop weer ‘n liefdesverhouding aan met ‘n vrou wat vir ander mans lief is en egbreuk pleeg, net soos die Israeliete vir wie Ek, die Here, lief het, ander gode aanhang en lief is vir rosyntjiekoeke.

Ek het toe vir my ‘n vrou gekry vir vyftien stukke silwer en honderd kilogram gars.

Ek het vir haar gesê: "Jy moet ‘n lang tyd tot my beskikking wees. Jy mag met niemand hoereer of trou nie, ek sal dit ook nie doen nie."

Net so sal die Israeliete ‘n lang tyd moet klaarkom sonder ‘n koning en amptenare, sonder offers en klippilare, sonder efodbeeld en afgodsbeeldjies.

Daarna sal die Israeliete hulle bekeer. Hulle sal vra na die wil van die Here hulle God, en hulle sal hulle koning Dawid aanhang. Hulle sal vol eerbied terugkom na die Here toe en na die oorvloed toe wat Hy in die toekoms sal skenk.” (Hosea 3:1-5)

Beide Gomer en Hosea se optrede dra ‘n duidelike boodskap:

  • Gomer se ondankbare ontrouheid is ‘n beeld van Israel se ontrouheid deurdat hulle ander gode gedien het. Die rosyntjiekoeke waarna verwys word, het ‘n belangrike rol in die Baäl kultus gespeel. Dit het ‘n simbool geword van die Baäl kultus, 'n sogenaamde vrugbaarheidskultus met sy soete genietinge van sondige wellus en uitspattigheid. Dis ter wille van hierdie genietinge van die Baal vrugbaarheidsgodsdiens dat die Israeliete God verlaat het. Ja, mense verlaat die gebod van God ter wille van sondegenot!
  • Hosea se vergewende liefde is ‘n aangrypende beeld van God se onmeetbare liefde vir sy afgedwaalde en rebelse kinders. Hosea moes vir Gomer gaan terugkoop teen ‘n hoë prys. Waarskynlik het haar hoerery haar in ellende en slawerny laat beland. Hosea se liefde deins vir niks terug nie! God se liefde gaan tot die uiterste toe om ons harte terug te wen vir Hom! Die boodskap vir ons as kerk van Jesus is mos baie duidelik : God het ons teen ‘n ontsagwekkende hoë prys losgekoop uit die mag van Satan, die BLOED VAN SY SEUN JESUS! Die kruisboodskap is ‘n boodskap van God se verlossende liefde, wat ons tot terugkeer en inkeer roep!

Die NG Kerk se Algemene Sinode het ongetwyfeld soos ‘n hoer opgetree deur vir goddelose humanisme en tydsgees te kies teen God se Woord. Maar moet ons nou summier sê dat God die kerk in geheel afgeskryf het? Die boodskap van Hosea is dat God mense nie sommer so vinnig afskryf nie, maar eerder probeer oorreed met sy liefde, ‘n liefde wat ons tot bekering oproep.

Ons moet nou net pasop in hierdie tyd om nie net alleenlik op die Algemene Sinode te fokus nie. Wat van ons? As gemeente, maar ook as enkelinge? Daar is gruwelike sondes in ons midde. Sondes wat ons vertroetel en voor verskonings soek. Hoeveel van ons leef rustig in hardnekkige bewuste sondes voort? Alle sondes is vir God ‘n gruwel, nie net homoseksuele dade nie! Kyk weer na 1 Kor. 6:9-11. 

“Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.
En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.”

Daar is geen twyfel dat homoseksuele dade sonde is nie, maar AL die dinge in die lys is baie ernstig... en dis dinge wat algemeen onder ons voorkom! Hier in ons eie gemeente is saamblyery, gieriges, dronkaards... Ons weet dit mos! Gaan ons berou hê daaroor, of gaan ons aanhou om dit goed te praat? Ons is tereg ontsteld oor die bose besluit van die Algemene Sinode, maar is ons ook net so ontsteld oor die boosheid hier onder ons?**

God se liefde is ondenkbaar groot. God se liefde sluit natuurlik ook tugtiging in. Sy liefde maak dat Hy ons laat swaarkry! Ons kry ‘n treffende voorbeeld Hosea 2:12,13. “Ek gaan haar laat boet vir al die kere dat sy die Baäls gedien het en vir hulle geoffer het, vir al die kere dat sy haar uitgedos het met ringe en versiersels en agter haar minnaars aangeloop het en My vergeet het, sê die Here.Tog sal Ek weer begin om haar die hof te maak. Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê.” 

Sy strawwe kan soms erg wees. En die leiers van sy volk word uitgesonder... "Israeliete, luister na die woord van die Here, want Hy kla die inwoners van die land aan: Omdat trou, liefde en toewyding aan die wil van God in die land ontbreek, het vervloeking, valsheid, moord, diefstal en egbreuk hand oor hand toegeneem en is die vergieting van onskuldige bloed aan die orde van die dag. Dit is waarom die land verdor en al die inwoners van dors versmag saam met die wilde diere en die voëls, en waarom selfs die visse vrek.
Niemand word ligtelik aangekla en tot verantwoording geroep nie, maar Ek gaan jóú mense aankla, Priester!
Jy gaan vandag nog tot ‘n val kom en die profeet gaan vannag nog saam met jou tot ‘n val kom en Ek gaan selfs jou moeder om die lewe bring." (4:1-5) 

God se oordele is skrikwekkend, maar sy motief bly liefde! Sy liefde roep die NG Kerk terug, ons gemeente, vir my en jou persoonlik!

Gaan ons antwoord, gaan ons ons bekeer? Mag die oorweldigende mag van God se liefde ons harte vermurwe en oorreed tot ware berou en bekering!

*Van Leeuwen, p83

** Vergelyk Heidelbergse Kategismus 

87 Vraag: Kan die mense dan nie salig word wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie? Antwoord: Nee, glad nie. Want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower en sulkes die koninkryk van God sal beërwe nie (a). (a) 1 Kor 6:9, 10; Ef 5:5, 6;1 Joh 3:14. 

Vrydag 31 Julie 2015

BABILON IS NIE BY DIE BRUILOF NIE

- basiese besonderheid oor die hemel wat algemeen vergeet word.



Kom ons vra weer : Hoe lyk dit in die hemel? Ons het gesien dis die plek waar God bewonder en aanbid word in ‘n ewige erediens. (kliek op HOE LYK DIE HEMEL?) Ons aardse erediens is ‘n afbeelding daarvan. (die wat die aardse erediens vervelig en onnodig vind sal ook nie welkom voel by die ewige erediens nie) Natuurlik is daar nog baie ander aspekte van die hemel wat deur ‘n verskeidenheid metafore uitgebeeld word.

Die werklikheid van die hemelse koninkryk word dikwels voorgestel as ‘n Bruilofsmaaltyd – ‘n huweliksfees wat innige gemeenskap, saamwees, harmonie en uitbundige vrolikheid simboliseer. 

Om in die hemelse koninkryk te wees beteken dat ek bevoorreg is om uitgenooi te wees na die bruilofsfees van die Lam (Jesus)! “Toe sê die engel vir my: "Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is." Verder sê hy vir my: "Dit is die woorde van God, en hulle is waar." (Openbaring 19:9!) Dis die een fees wat tel, dis die een partytjie wat mens nie moet misloop nie! Dit maak nie saak wie jy is en hoe swaar jy nou kry nie...arm, siek, bespot of uitgestoot... as jy ‘n genooide is na Jesus se bruilof is jy ‘n uitermate geseënde! Ek hoop jy besef jy is baie meer geseënd as Bill Gates. Juig daaroor en dank God dat jy so ‘n uitverkorene mag wees!

Wie is die gelukkige uitgenooides en hoe lyk hulle?

Die uitgenooides is die bruid self, dit wil sê almal wat waarlik deur die wedergeboorte deel geword het van Jesus se kerk!

BRUID OF HOER?

Johannes skets vir ons die verhewe skoonheid en rein heerlikheid van Jesus se kerk in kontras met ‘n onheilige hoer/prostituut. Daar is natuurlik geen skerper kontras as juis dit nie – ‘n maagdelike bruid en ‘n onrein/onsedelike prostituut.

Die prostituut word beskryf met die term Babilon. (Babilon en die val van die stad word in hoofstuk 18 in detail beskryf.) Die bruid word in hoofstuk 21 beskryf as die Nuwe Jerusalem. “Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke het waarin die sewe laaste plae was, gekom en met my gepraat. "Kom," het hy gesê, "ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam."Ek is toe deur die Gees meegevoer en die engel het my na ‘n groot hoë berg toe geneem en die heilige stad Jerusalem vir my gewys, wat van God af uit die hemel uit afkom.” (21:9,10) Babilon is simbool van als wat onrein, onheilig en in opstand is teen God en sy norme en wette. Die prostituut Babilon met haar uitlokkende klere van mag, wellus en ydele rykdom staan in skrille kontras met die bruid, wat versier is met die blink klere wat die regverdige dade van die gelowiges simboliseer. Vergelyk self Openb. 17:4;18:2,16 met Openb. 19:8. 

Openb.17:4 "Die vrou was uitgedos in pers en helderrooi klere en opgetooi met goud, edelstene en pêrels. In haar hand het sy ‘n goue beker vol losbandigheid gehad, die onreinheid van haar onsedelikheid."

Openb. 18:2,16 “En hy het met 'n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword 'n woonplek van duiwels en 'n versamelplek van allerhande onreine geeste en 'n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls,...” "Hoe vreeslik, hoe vreeslik! Die groot stad, uitgedos in fyn klere, pers en helder rooi, en opgetooi met goud, edelstene en pêrels!”

Openb. 19:8. “God het haar dit vergun om fyn, helder blink klere aan te trek." Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die gelowiges.”

SY IS SO MOOI!

Die duidelike boodskap is :Die bruid van Jesus lyk anders as die sedelose onheilige wêreld! Sy word uitgeken aan haar versiering van regverdige dade. Regverdige dade, goeie werke is alles wat ons doen uit dankbaarheid vir ons verlossing en in gehoorsaamheid aan ons Verlosser! Moenie ‘n fout maak nie – goeie werke, maak saak, heiligheid maak saak – dis volgens die Apostoliese belydenis die groot kenmerk van die ware kerk van Jesus! “Ek glo aan ‘n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges.” Vir onheiliges gaan daar geen plek wees aan die bruilofstafel van Jesus nie!

BABILON SAL NIE BY DIE BRUILOFSFEES WEES NIE!

Openbaring in sy geheel is baie duidelik : Ons word nie gered deur goeie dade nie! Nee, net deur die bloed van die Lam. Ons maak ons klere wit in die bloed van die Lam. Dit beteken ons ontvang volkome vergifnis op grond van Jesus se kruisdood. Ons word nooit deur ons goeie dade gered nie. Maar goeie dade is die noodwendige gevolg van ware redding uit genade. Goeie dade is die versiering, die sigbare kenmerk van dié wat vergifnis ontvang het. Goeie dade maak die ware kinders van God, die bruid, MOOI! Hierdie mooi bruid gaan vir ewig feesvier saam met die Lam! Dis hemels!

DIE BRUID VAN JESUS IS ‘N REIN BRUID, VERSIER MET REGVERDIGE DADE!

Is jy deel van die Bruid, of gaan jy saam met Babilon? Dra ons die blink klere van heiligheid of vertoon ons die magsug, onreinheid en wellus van die onheilige prostituut? Is jy besig om jouself gereed te kry vir hierdie fees, of ploeter jy voort in ongehoorsaamheid en vuilheid? “Laat ons bly wees en juig en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak.” (7) Daar is nou nog tyd vir bekering...

Die Nagmaal bevestig al die heerlike waarhede van Openbaring met betrekking tot die bruid: Redding deur die bloed van Jesus, aansporing tot goeie dade, ‘n feesmaal wat ‘n vooruitskouing is op die ewige bruilofsmaal saam met Jesus, die LAM!


[Dankfees ete 2015]