BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Bloedmane. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Bloedmane. Wys alle plasings

Maandag 13 April 2020

WOLHAARSTORIES



of WAARHEID? 

Die virus wat in hierdie tyd die vinnigste versprei is wolhaarstories. Samesweringsteorië. Conspiraciy theories. Dit word tot satwordens toe rondgestuur op Whatsapp, Facebook en elke denkbare manier. Soos byvoorbeeld – David Icke (!) se bangmaakstories oor die 5G tegnologie (dis terloops die ou wat verkondig sommige mense stam van reptiele af!!) of mens moet hoor dat die merk van die dier nou in ons ingespuit gaan word. Daar is hordes aspirant profete wat in hierdie tyd na prominensie (en geld) soek en hierdie tipes stories die wêreld instuur. Ek wonder hoekom glo mense nog hierdie tipe snert? 

Laat jou gedagtes bietjie teruggaan. Al hierdie tipe wolhaarstories en geestelike kwaksalwery is al keer op keer as verkeerd en vals bewys. Onthou jy nog die Y2K bedreiging of die einde van die wereld wat in 2012 sou aanbreek volgens die Maja kalender, die sogenaamde bloedmane of die veelbesproke nag van die lang messe wat Siener van Rensburg kwansuis sou voorspel het … ? Kort-kort is daar ‘n nuwe storie. En dan hardloop al wat onstandvastige siel is die vlaktes vol om dit uit te basuin en onkundiges te verlei. 

Ek wonder net - gestel sommige van die stories is waar, wat kan jy en ek in elk geval daaraan doen? 

Wat is die doel wat hierdie bangmaakprofete en sensasiesoekers nou eintlik wil bereik? Wil hulle hê dat ek moet bang wees vir Bill Gates? (Kan Bill iemand in die hel werp?) Moet ek iewers in die Namib gaan wegkruip? Of wat? Ek is oortuig dat Satan hierdie tipe stories gebruik om ons aandag af te lei van die noodsaak tot bekering en die eis om op Jesus alleen te vertrou!

Ek dink almal wat so ophol gaan en mens toegooi met wolhaar whatsapps moet eerder kennis neem van God se Woord : 

"Julle moenie alles ‘n sameswering noem wat hierdie volk ‘n sameswering noem nie. Julle moenie bang wees en skrik vir die dinge waarvoor hulle bang is nie. 

Julle moet die Here die Almagtige eer as die Heilige. Vir Hom moet julle vrees en vir Hóm moet julle bang wees."  
(Jesaja 8 :12,13) 

Vriend ek wil by jou pleit. Vergeet die wolhaarstories en maak erns met die waarheid van die Woord. 

Vrees en eer God. Bekeer jou van jou sonde en kom skuil in Jesus Christus. Breek met daai sondige saamblyverhouding, staak jou egskeidingsplanne, gaan betaal jou broer vir wie jy soveel geld skuld, vergewe daardie persoon vir wie jy so haat, gaan maak jou lewe reg... Klim van jou selfoon af, gaan op jou knieë en bely jou sonde. Plaas jou vertroue volledig in Jesus, in Hom is jy veilig teen God se oordele. Hou op met die nonsens van huise uitsalf en shofars blaas! Doen eerder wat die Woord jou duidelik beveel : 

 Glo die evangelie en doen afstand van alle ongeregtigheid! 

God se kinders kry ‘n (kliek) heerlike versekering in hierdie tye van chaos en wanorde, vrese en onsekerheid : 

"Nogtans, die hegte fondament wat God gelê het, staan vas met dié woorde daarop gegraveer: "Die Here ken dié wat aan Hom behoort," en: "Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbreek van die ongeregtigheid." 
(2 Timoteus 2:19) 

VERGEET DIE WOLHAARSTORIES EN KIES DIE WAARHEID, JESUS SELF!

Vrydag 19 Februarie 2016

ALLES IS TOE NIE OK NIE!

- Moenie deel wees van die hartseer statistiek van die soutpilare nie!

Sommige verkondig ‘n nuwe “evangelie” – “Moenie stress nie, alles gaan OK wees!” “ ‘n Mens hoef nie te stress oor ‘n wederkoms of finale oordeel nie”, sê ‘n tipiese lekkerleef post modernistiese profeet van ons tyd. Jesus self skets vir ons egter ‘n heeltemal ander prentjie in LUKAS 17:26-35.* Volgens Hom sal baie nie gereed wees op die dag van oordeel en finale skeiding nie. Vir baie mense gaan dinge nie OK wees nie, vir ewig gaan dit nie OK wees nie!

Waarom gaan so baie mense die Koninkryk van God misloop? Waarom gaan so baie mense onverhoeds betrap word deur die oordeel van God? (Gaan hulle dalk die hemel mis omdat hulle nie die sogenaamde profesie van Haggee oor die bloedmane geglo het nie? NEE!) Die verrassende Bybelse antwoord, is dat niemand die hemel gaan misloop omdat hy te sleg was nie! Ja, jy het reg gehoor, niemand gaan verlore omdat hy te sleg was nie. “Hoe kan jy so sê?”, vra jy. Dis maklik om te bewys : In die hemel gaan daar voormalige moordenaars en egbrekers wees – Dawid om maar een voorbeeld te noem. Daar gaan voormalige skelms wees – jy sal beslis vir Saggeus daar kry. (Vgl. 1 Kor. 6:9-11)

GEEN REAKSIE OP GOD SE WAARSKUWINGS NIE!

Mense gaan die Koninkryk en die vrede van God misloop omdat hulle nooit tyd gehad het vir Jesus en sy boodskap nie. Mense gaan die Koninkryk misloop omdat hulle nooit hulle behoefte aan genade besef het nie. Mense gaan die Koninkryk misloop omdat hulle nie gereageer het op God se waarskuwings nie. Mense gaan die Koninkryk misloop, omdat hulle nooit tot ‘n daadwerklike keuse gekom het om Jesus se vergifnis te aanvaar nie, en onthou as jy Jesus nie aanvaar nie, verwerp jy Hom! (as jy hier lees en jouself  nog nooit aan Hom oorgegee het nie, is jy tot op hede besig om die Seun van God te minag en te verwerp!) 

Het jy al erns gemaak met God se waarskuwings en jou bekeer?

Kom ons stel dit anders, in ‘n algemene sin : Wat is die grootste gevaar wat bestaan? Die grootste gevaar is om nie die gevaar te besef nie! Die grootste gevaar is nie dat daar ‘n brand in jou huis uitbreek nie, maar om onbewus te wees daarvan en rustig te lê en slaap, terwyl die vlamme al nader kruip... Die grootste gevaar is nie die ernstige siekte nie, maar om onbewus te wees van die siekte wat besig is om jou liggaam op te vreet...

DIE GEWONE GANG VAN DIE LEWE...

Ons grootste gevaar is om so vasgevang in die gewone gang van sake te wees, sodat ons nie betyds aandag gee aan die waarskuwings en die genadeverkondiging in God se Woord nie! Opvallend in hierdie gedeelte - ‘n Mens hoef nie ‘n vreeslike openbare sonde te pleeg of in misdaad te verval om onder God se oordeel te beland nie Jy kan maar net rustig en selfgesentreerd met jou lewe aangaan...

Jesus praat hier baie ernstig oor die koms van die Koninkryk en die finale skeiding wat sal plaasvind. Hy waarsku dat dit skielik en onverwags sal wees. Mense sal maar “soos gewoonlik” nog met hulle lewens aangaan en dan kom die oordeel.

NOAG EN LOT

Om dit te onderstreep noem Hy twee voorbeelde uit die geskiedenis : Noag en die sondvloed, Lot en die verwoesting van Sodom. Hierdie twee tydperke gee vir ons insig in die wederkoms. Die gebeurtenis van die wederkoms sal soortgelyk wees. In beide gevalle het God die goddeloosheid van mense skielik gestraf. In beide gevalle was die oordeel van God baie onverwags. Die waters van die sondvloed het die mense verswelg voor hulle kon voorsorg tref, die vuur uit die hemel het die mense verteer voor daar tyd vir planne was! Die mense het maar met hulle gewone lewens aangegaan en hulle nie gesteur aan God se waarskuwings nie. Die verkeerde was nie dat hulle geëet en gedrink en getrou en gebou het, maar nie tyd gemaak het om hulle lewens voor God reg te stel nie! Hulle het nie geluister na Noag se verkondiging nie. (2 Petrus 2:5) Ook die mense van Sodom het ‘n regverdige in hulle midde gehad naamlik Lot. (2 Petrus 2:6-8) In beide gevalle het God se oordeel die selfversekerde massas verdelg, maar ook ‘n klein groepie gered. Noag en sy familie. Lot en sy twee dogters.

Wat was die verskil tussen die massas aan die eenkant en Noag en Lot aan die anderkant. Natuurlik genade! Maar hoe het dit prakties gewerk? Beide Noag en Lot het betyds gehoor gegee aan God se waarskuwings. Vir Noag het God gesê om ‘n ark te bou, vir Lot het God gewaarsku om te vlug!

STATISTIEK VAN DIE SOUTPILAAR!

My vriend/vriendin luister terwyl daar tyd is! Vlug terwyl daar kans is. Moenie huiwer nie! Vlug vir jou lewe, die ewigheid is op die spel. Jesus beklemtoon die belangrikheid van drastiese optrede met die dringende waarskuwing : "Onthou wat gebeur het met die vrou van Lot!"  Tragies. Sy het wel die opdrag om te vlug gehoorsaam, maar net halfhartig. Haar gerieflike huis en mooi meubels was vir haar belangriker as God se opdrag. Daar is belangrike dinge in jou lewe wat keer dat jy die belangrikste, die ewige lewe kan ontvang! Vlug weg van jou ou lewe en vlug na Jesus, ons enigste ware skuilplek teen die toorn van God. Dink aan die vrou van Lot is ook die spesiale boodskap wat ek aan ons nuwe lidmate wil gee. Julle bely dat julle gehoor gegee het aan God se waarskuwings, julle bely dat julle ‘n keuse gemaak het – Volhard in hierdie keuse! Dink aan die hartseer statistiek van die soutpilare. So baie jong mense het al voor die kansel gestaan en bely dat hulle omgedraai het van die verkeerde pad en nou Jesus wil volg, maar na ‘n ruk het hulle weer omgekyk en terugverlang na die ou lewe! Vandag is hulle lewelose soutpilare...hard en ongevoelig vir God se Woord, koud, leweloos en verlore!

Alles gaan nie OK wees nie! Sommige mense tussen ons gaan nie gereed wees nie! Sommige in ons eie huise , sommige wat saam met ons werk... maak seker dat jy een van diegene sal wees wat wel gereed is!

Maak betyds seker. Vlug betyds. Vlug na Jesus! En bly by jou keuse!


*"Net soos dit in die tyd van Noag gegaan het, so sal dit ook gaan in die tyd van die Seun van die mens:
hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Toe kom die sondvloed, en dit het hulle almal uitgewis.
In die tyd van Lot het dit ook net so gegaan: hulle het maar soos gewoonlik geëet en gedrink, gekoop en verkoop, geplant en gebou.
Maar op die dag toe Lot Sodom verlaat het, het vuur en swael uit die hemel gereën, en dit het almal uitgewis.
Net so sal dit ook gaan op die dag wanneer die Seun van die mens verskyn.
"Dan moet die man wat op die dakstoep sit, nie ingaan om sy besittings in die huis te gryp nie. Net so moet ook die man wat op die land is, nie omdraai huis toe nie.
Onthou wat met die vrou van Lot gebeur het!
Elkeen wat sy lewe probeer behou, sal dit verloor, maar elkeen wat dit verloor, sal dit behou.
Ek sê vir julle: Dan sal twee mense op een bed slaap, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.
Twee vroue sal koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word."

Woensdag 02 September 2015

BLOEDMAAN

- is die einde van alle dinge naby?



Gaan daar iets vreesliks gedurende die nag van 27/28 September 2015 (of kort daarna) gebeur met ‘n besondere maansverduistering, die vierde in ‘n reeks van sogenaamde bloedmane? Hieroor word wyd berig in sekere godsdienskringe en selfs in die sekulêre media. (Kliek op CNN)



Ons word vertel : “Astronome het die tekens opgemerk. Geskiedkundiges het die betekenis daarvan erken. In 2014 en 2015 is daar die fenomeen in die hemelruim van vier bloedmane wat gedurende Joodse feesdae plaasvind. Dit het nog net drie maal in die geskiedenis plaasgevind: 1493-94, 1949-50 en 1967-68. Elkeen van hierdie datums het ’n buitengewone betekenis vir die volk Israel gehad. Vanaf die ontdekking van die Nuwe Wêreld tot die skepping van moderne Israel, is hierdie jare waarin die vier bloedmane verskyn het, ware keerpunte in die geskiedenis.” (Dit klink na iemand wat graag 'n boek wil verkoop...)

Bewerings oor die betekenis van die sogenaamde bloedmane is nou aan die orde van die dag. Wat moet ‘n Bybelgetroue Christen hiervan dink? Net 'n paar perspektiewe:

DIE EINDE IS BESLIS NABY!

In 1 Petrus 4:7 lees ons : “Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid.” Die Bybel sê dus duidelik dat die einde van alles naby is! God se Woord is genoegsaam en finaal en ons moet dit ernstig opneem. (of die wêreld nou saamstem of nie)  Die sogenaamde tekens van die bloedmane voeg dus niks nuuts by tot ons kennis nie! Die einde is beslis naby, maar wat beteken dit nou presies? "Naby" is natuurlik ‘n relatiewe begrip. Is dit nou dae, maande, jare, dekades of eeue? Dit hang alles af van mens se perspektief op die geskiedenis. “Naby” in die sin wat Petrus en ander Bybelskrywers dit in verband bring met die wederkoms is myns insiens nie ‘n bepaalde stuk tyd wat gemeet kan word nie, maar eerder ‘n uitdrukking dat die wederkoms ‘n naderende, onverwagse werklikheid en ontsagwekkende realiteit is wat al ons aandag en voorbereiding en waaksaamheid vereis! Met ander woorde : Wees gereed! Die res van Petrus se woorde bevestig hierdie siening. Die nabyheid van die einde (hetsy dit my eie dood of die wederkoms is) moet ons aanspoor tot selfbeheersing en nugterheid, juis sodat ons kan bid! Die erns van die tye, as ons dit reg verstaan sal ons gedurig op ons knieë bring! En enigiets wat ons aandag aflei van gebed of gebedsversteuring veroorsaak moet ons ten alle koste vermy. Elkeen wat erns maak met die Bybelse lering oor die wederkoms kan uitgeken word, nie aan sy spraaksaamheid oor wederkomsteorieë of spekulasies nie, maar aan sy gebedspassie!

PASOP VIR NOG ‘N FOEFIE

Het ons nie al genoeg gehad van bangmaakstories en wolhaarprofesieë wat op niks uitgeloop het en net die Christendom se naam skade aangedoen het nie? (Dis net jammer dat hulle propageerders en aanhangers so stil-stil van die toneel verdwyn sonder om verskoning te vra vir hulle onsinnuge verkondiging van misleiding)

Onthou jy nog die planete wat in 1982 in lyn met mekaar sou beweeg en groot aardbewings en dergelike katastrofes sou veroorsaak? Niks het gebeur nie. In 1997 was dit weer die Hale-Bop komeet wat ‘n groot angstigheid en afwagting meegebring het. Weer niks. En toe die groot Y2K rekenaarkrisis wat die einde van die wêreld sou inlui in die veelbesproke jaar 2000. Dit sou kwansuis chaos veroorsaak en mense is aangeraai om noodvoorrade bymekaar te maak. Weereens, die jaar 2000 het stil gekom en gegaan, niks snaaks het gebeur nie. Meer onlangs was dit die paniek in 2012 rondom die sogenaamde Maja kalender en ander wederkomsvoorspellings wat alles op niks uitgeloop het. Al wat gebeur is dat ‘n hele paar mense elke slag heelwat geld maak met hulle verkoop van sogenaamde profetiese inligting aan liggelowige en onkundige Christene. Die uitbuiting van dwases!

WEES VERSIGTIG

Die bron van die nuutste bloedmaan bewerings is nie baie suiwer nie en dit moet mens maar klaar ‘n bietjie versigtig maak. Mark Biltz, van El Shaddai Ministries buite Washington in Amerika, wat die ontdekkings oor die bloedmane sou gemaak het se teologie toon ooreenkomste met die dwalinge van die Hebrew Roots Movement. (alhoewel hy ontken dat hy een van hulle is) John Haggee wat ‘n groot propageerder van die bloedmaan fenomeen is, se lering oor spesifiek Israel laat ook ernstige vrae ontstaan.

Daar is ook baie vrae oor spesifieke aspekte rondom die bloedmaan teorie as sodanig. Dis nogal ironies dat slegs een van die vier maansverduisterings sigbaar sal wees in die staat Israel. Dit maak nie regtig sin as dit 'n verskynsel van betekenis vir die land/volk Israel sou wees soos beweer word nie.

Die groot gevaar egter in al hierdie bewerings en die entoesiasme wat dit veroorsaak lê daarin dat dit mense opsweep en opgewonde maak oor allerhande dinge, maar nie juis aanspoor tot heiligheid en hulle opgewonde maak oor die evangelie nie. Wat maak jou werklik opgewonde? Is jy opgewonde waaroor die engele opgewonde is naamlik die evangelie? (1 Petrus 1:12)

LEES DIE BYBEL IN SY GEHEEL EN IN KONTEKS

Sons en maansverduisterings, duisternis as sodanig is tipiese beskrywings om iets van die geweldige intensiteit van God se oordele aan te toon (Vergelyk Eksodus 10:22; Esegiël 32:7-8) Die bekende profesie van Joël val ook in hierdie kategorie. Dit gaan oor Goddelike ingrype in terme van oordeel sowel as verlossing. Joël 2:31 lui: “Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom.” Hierdie profesie van Joel word deur die apostel Petrus aangehaal tydens sy Pinksterdag preek en luister wat sê Petrus. “Maar Petrus het opgestaan met die elf en sy stem verhef en hulle toegespreek: Joodse manne en almal wat in Jerusalem woon, dit moet julle weet, en luister na my woorde. 
Hierdie mense is tog nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar die derde uur in die môre. 
Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: 
En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom. En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Handelinge 2:14-21)

Petrus haal die Joel profesie in geheel aan en veronderstel dat dit vervulling gevind het in die gebeure op Pinksterdag. Dit onderstreep die waarheid, erns en eskatologiese betekenis van die gebeurtenis. Die profesie word nêrens aangewend as ‘n model waarvolgens sekere tydsberekening gedoen moet word nie. Ons leef beslis in die LAASTE DAE! Dis die tydperk van Jesus se eerste koms tot by sy wederkoms. Dis die tyd van geleentheid en redding, maar dis ook die tyd van God se oordele, wat reeds aan die gang is, maar ‘n hoogtepunt met die finale verskyning van Jesus sal bereik. Die laaste dae is dus die groot draaipunt van die geskiedenis met betrekking tot die koms van die Koninkryk van God! En dis nou, dis vandag... dis 'n tyd van beslissing!

Hierdie beeld uit die Joël profesie word ook Openbaring 6 aangetref as beskrywing van God se oordele en nie as ‘n berekeningsformule nie. "En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was 'n groot aardbewing; en die son het swart geword soos 'n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos 'n vyeboom wat deur 'n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos 'n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openbaring 6:12-17) God se oordele koms beslis, wees gewaarsku! Dis die Bybelse waarskuwing aan die goddelose, maar terselfdertyd die troosboodskap aan die verdrukte kinders van God.

Nêrens in die Skrif word ons aangemoedig om die tyd van Jesus se wederkoms te bereken nie, maar wel om altyd gereed te wees!