BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Oorvloed. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Oorvloed. Wys alle plasings

Dinsdag 01 Oktober 2019

DIE NUWE WYN


IS DIE BESTE! 

[Vir ‘n huweliksdiens, maar ook op elkeen van toepassing wat smag na 'n nuwe lewe...] 

Jesus verander water in wyn tydens ‘n bruilofsfees! (Johannes 2:1-12) Dis een van sy bekendste wonders. (Partykeer om ‘n verkeerde rede. Sommiges redeneer mos graag: “Ag, sien ons kan maar dronk word… Jesus self het mos wyn gemaak…” Jammer om hulle pret te bederf, maar hulle maak natuurlik ‘n groot fout, want die Woord van God is baie duidelik dat geen dronkaard die koninkryk van God sal binnegaan nie.) 

Wat beteken hierdie wonder dan wel? Wat wil die Johannes evangelie vir ons sê? En sê dit spesiaal ook iets vir julle wat vandag in die heilige eg verbind word? 

DIE GAS BY DIE FEES 

Die verhaal beweeg op verskillende vlakke. Dis natuurlik die wonderlike verhaal van die mens Jesus wat ‘n eg menslike fees, soos ‘n bruilofsfees saam met Sy dissipels bywoon en die gasheer uit ‘n groot verleentheid en verknorsing help. Sien vir Jesus vrolik rondbeweeg tussen die gaste! Jesus was geen askeet of kloosterbewoner nie, maar ware mens soos God bedoel het by die skepping. En onthou deel van God se goeie skepping was die skepping van die mens as man en vrou, van die huwelik… Dit moet ons tog duidelik laat verstaan : Die huwelik is ‘n kosbare geskenk van God aan die mens! Die huweliksverhouding en die intieme band tussen die twee geslagte is nie deur die duiwel uitgedink nie, maar deur God geskep! Geniet dit soos God dit bedoel het en vier fees! Maar vier fees op so ‘n manier dat ons Jesus as die belangrikste Gas in gedagte sal hou! 

TEKEN VAN SY HEERLIKHEID 

Maar daar is ook ‘n dieper vlak. Hierdie wonder word ‘n teken genoem. “Hierdie eerste een van sy tekens het Jesus te Kana in Galiléa gedoen; en Hy het sy heerlikheid geopenbaar, en sy dissipels het in Hom geglo.” (11) ‘n Teken wat ons iets moet wys van die allesoortreffende heerlikheid van Jesus. Dis tipies van die Johannes evangelie om Jesus se wonders te beskryf as tekens wat ‘n dieper geestelike boodskap moes oordra en geloof opwek. Nou wat is die boodskap van hierdie teken? Kom ons kyk na twee aspekte: 

OORVLOED 

Dis ‘n teken van oorvloed. “Jesus sê vir hulle: Maak die kanne vol water. En hulle het hul tot bo toe volgemaak.” (7) Let op die beklemtoning - “tot bo toe volgemaak” Die nuwe bedeling wat Jesus bring – die vergifnis en verlossing wat ‘n kenmerk is van sy heerlikheid is ‘n bedeling/lewe van oorvloed. En ons hoef nie te wonder van watse oorvloed hier gepraat word nie. Dis die heerlike oorvloed van genade! Johannes het sy lesers reeds hierop voorberei in die inleiding! “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon--en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom--vol van genade en waarheid...En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.” (1:14,16) Jesus die Messias, die Gesalfde van God bring ‘n oorvloed van genade en vergifnis. Vir die grootste stukkendste sondaar...

Meer nog! Hy bring ‘n nuwe begin, ‘n nuwe skepping, herstel van die skade wat sonde gedoen het. Die tema van die skepping en herskepping (waarby die saak van die huwelik so goed pas) het Johannes reeds aangeraak met sy inleidende sin. “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.” (1:1) Duidelike parallel met Genesis 1:1! Natuurlik deel nie almal in hierdie oorvloed van genade nie, trouens die meeste verwerp dit , maar vir die wat dit aanvaar – beteken dit ek deel in die voorreg om persoonlik ‘n kind van God te wees! (Sien Johannes 1:11-13)* 

Dis ook nie toevallig dat Jesus juis wyn maak as simbool van die nuwe Messiaanse bedeling nie. Dis ‘n tema wat by baie Ou Testamentiese profete voorkom, byvoorbeeld Amos**. Wyn is ‘n simbool van oorvloed, vreugde, vervulling en versadiging! 

DIE NUWE BEDELING 

Dis ‘n teken van die nuwe bedeling in Jesus wat die ou bedeling by verre oortref! Johannes maak ons spesifiek attent daarop dat die klipkanne wat Jesus gebruik het deel was van die reinigingsgebruike van die Jode. Die klipkanne met die water was deel van die ou Joodse oorde van seremonies en wette. “Daar het ses klipkanne gestaan vir water wat die Jode by hulle reiniging gebruik het. Elkeen het tussen negentig en honderd liter gehou”. (6) 

Jesus maak nou iets beter! Hy maak wyn in die plek van water. Die beste wyn! Hy vervang die ou orde en bring iets beter! 

Ook hierdie aspek het Johannes reeds in sy inleiding aangeraak. (Sien 1:17) Kort hierna verduidelik Johannes ook hoe Jesus die tempel vervang wat ook deel van die ou orde was. Die ou bedeling van Moses en die wet kon nie waarlik verlossing bring nie, maar Jesus kan! En Hy wil dit vir JOU doen!

Die nuwe bedeling wat Jesus bring, die nuwe skepping is soveel beter as die vorige! Die nuwe wyn wat Jesus maak is die beste! “Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water uitgeskep het, het geweet. Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom en sê vir hom: "‘n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou." (9,10) Die hele teken wat Jesus hier doen is ‘n teken van sy heerlikheid. Hy wat deur sy kruis en opstanding vir ons ‘n nuwe en beter toekoms geopen het. Oorvloedige vergifnis, maar ook uiteindelik volledige herstel van die skepping! Herstel van die skade en verwoesting wat Satan en sonde aangerig het. Kom ons roep hardop uit in hierdie stukkende wêreld : “Jesus maak sondaars nuut!” 

Hierdie nuutheid begin nou maar sal eendag volkome sigbaar wees. Die wonder wat Jesus by ‘n bruilof doen is juis so gepas, want dit wys uiteindelik heen na die bruilofsmaal van die Lam wat wag vir almal wat Hom glo. Die hemelse fees! En dis dié fees om nie mis te loop nie! 

Die betekenis van Jesus se wonderteken om water ‘n wyn te maak is dus baie duidelik. Dis ‘n teken van die nuwe oorvloedige genadebedeling in Jesus wat die ou bedeling by verre oortref en uitloop op ‘n nuwe skepping! Juis op die gebied van huwelik en seksualiteit is die sondegebrokenheid en sondeskade die duidelikste sigbaar. Maar dis juis ook hier waar Jesus ‘n oorvloed van genade en heelmaking kom bring het. Mag ons dit in die moeilike tye onthou! 

Francois en Madelein julle is as kinders van God begenadigde sondaars, julle het die volheid van sy genade ontvang. Mag julle dit ook verder in julle huwelik beleef en ook uitleef in julle huis, in die gemeente waar die Here julle geplaas het en in julle alledaagse handel en wandel! 

En sommer net ‘n laaste, maar baie belangrike vraag aan elkeen wat nou hier lees: 

HET JY AL DIE NUWE WYN GEPROE? 



*Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 
Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 
Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore. (Johannes 1:11-13) 

**Kyk, die dae kom, spreek die HERE, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees. 
En Ek sal die lot van my volk Israel verander, en hulle sal die verwoeste stede bou en bewoon, ook sal hulle wingerde plant en die wyn daarvan drink, en tuine aanlê en die vrugte daarvan eet. (Amos 9:13,14)



Baie geluk Francois en Madelein!


Sondag 01 Julie 2018

SKEP GENOEG

EN SKEP MET BLYDSKAP UIT DIE FONTEINE VAN REDDING! 



Ons luister na die lofsange van die verlostes in Jesaja 12. Dis hulle vir wie die Here eers kwaad was en gestraf het, maar nou verlossing gebring het. (Kliek – NIE MEER KWAAD) Hulle is sondes uitgewis aan die kruis. Verlos deur die takkie wat sou uitspruit uit die stomp van Isai, Jesus Christus.* 


Daar is 3 aspekte waarna ons kan kyk in hierdie lofsange : Vertroue, Blydskap, Dankbare lofprysing. Ons het reeds gekyk na vertroue. Vertroue is 'n doelbewuste stap wat ek met my denke neem om my volkome op God se beloftes te verlaat. Ons kan dit doen, ons moet dit doen, want God se karakter is volkome betroubaar. Waar God vertrou word vlug angs en vrees. Ons wat vertrou op Jesus hoef nie meer die dood, straf of aardse omstandighede te vrees nie. 

OORVLOED! 

As ek God vertrou en my vrese verdwyn, kom daar 'n nuwe emosie en aktiwiteit in my lewe. Blydskap en dankbare lofprysing. (Let wel emosie en gevoel is deel van proefondervindelike godsdiens, maar dis 'n gevolg van vertroue en geloof, nie andersom nie. Ek vertrou God nie omdat ek lekker voel nie, ek vertrou hom ongeag my gevoelens of omstandighede.) 

Hierdie reaksie word met 'n pragtige metafoor uitgebeeld in vers 3. “fonteine van redding” Dis baie treffend vir mense wat gewoond is aan 'n dor land. (soos ons Suidwesters!) Ons weet water is lewe! 'n Fontein is dus 'n wonderlike ding, dis 'n bron van lewe. Dit spel volhoubaarheid, oorvloed, meer as genoeg! 

Genoegsame en oorvloedige verlossingsgenade. 

Almal kan skep, skep met blydskap soveel as wat nodig is. Dit laat mens dink aan Johannes 1:16 waar ons lees: "Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang." Dis die oorvloed wat Jesus bring.  O, geliefdes, laat ons God se beloftes vertrou en skep en bly wees! Waarom wil jy nog daar eenkant staan en doodgaan van sondedors? Kom skep! Maak nie saak hoe groot jou sonde, skuld en skande is nie... Dit maak nie saak hoe lank die ry mislukkings is nie...  Dis Jesus self wat jou nooi: “Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: "As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!” (Johannes 7:37) 

BLYDSKAP 

Elkeen wat lewende water kom skep, wat deel kry aan die oorvloedige vergifnis en verlossing, word bly! Blydskap! Blydskap is nie 'n randsaak of ekstra is in ons praktiese Christenskap nie. Dis 'n onmisbare deel en inherente bestanddeel van die verlossing wat God skenk. Ons hoor dit reeds in die engele se aankondiging van die geboorte van Jesus, "ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap." Dis deel van Jesus se wens vir sy dissipels in sy hoëpriesterlike gebed in Johannes 17:13. "sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulle kan hê" Volgens Paulus is vreugde een van die basiese kenmerke van die wat deel is van God se koninkryk. “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.” (Romeine 14:17) So kan ons aangaan. Ook die geskiedenis bevestig dit - waar God kragtig werk soos in tye van herlewing, is daar intense blydskap, dikwels eers intense smart oor sonde en dan die oorvloedige blydskap. (Kliek - SOUTPANSBERG) Dis duidelik dat blydskap en vreugde deel van God se oorspronklike bedoeling vir die mens was. Sonde het dit verwoes; verlossing het dit herstel. Verlostes is bedoel en veronderstel om bly te wees. Die besef dat God vir my kwaad was, maar nie meer is nie, omdat Hy my vergewe het moet tog 'n reaksie van blydskap tot gevolg hê. Terloops, dis miskien die rede hoekom baie sogenaamde godsdienstige mense so min blydskap ervaar. Hulle het nog nooit sondelas gevoel, die toorn van God raakgesien en die straf van die heilige God gevrees nie en dan die verligting van vergifnis ervaar nie. 

Verlostes het rede om bly te wees, die enigstes wat regtig rede het. 

Hierdie blydskap is meer as net oppervlakkige glimlaggies, dis die onvernietigbare blydskap van Jesus ten spyte van omstandighede! (Kliek – ONVERNIETIGBARE VREUGDE) 

AANBIDDING, LOFPRYSING EN GETUIENIS 

Saam met blydskap gaan dankbare aanbidding en lofprysing. 

“Op dié dag sal julle uitroep: "Loof die Here, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend en verkondig dat sy Naam groot is. 
Sing tot die eer van die Here, want Hy het groot dinge gedoen, maak dit aan die hele wêreld bekend. 
Jubel en juig, inwoners van Sion, want groot is die Heilige van Israel en Hy is by julle!" (4-6) 

Hoor, dit behels sing, jubel en juig. Nie net sommer omdat dit lekker is nie, maar tot eer van die Here. Hierdie lofprysing het 'n getuieniskarakter hê. Die volke, ja die wêreld daarbuite sal geraak word. So in ons situasie sal dit beteken dat hierdie lofprysing en dank meer moet behels as net lekker sanggeleentheid. Dit gaan oor die oorvertel en praktiese demonstrasie van God se verlossingsdade. Die lof handel oor SY dade, die groot dinge wat HY gedoen het. Enige kind van God kan en moet meedoen aan hierdie lofuitinge. Los die verskonings om stil te bly!** 

Daar is drie redes in hierdie gedeeltes waaroor ons moet jubel en juig. Anders gestel, die inhoud van ons lofbetuigings handel oor drie sake: 

- die groot dinge wat God gedoen het (5) 

- God se karakter - Hy is groot, Sy Naam is groot! 

- God is by ons, in ons midde. (6) 

Laasgenoemde is eintlik die kersie op die koek. Wat 'n heerlike waarheid. Wat sou al God se wonderlike eienskappe ons gebaat het as Hy ver en verwyderd van ons sou wees? God is by ons - Hy is nie meer kwaad nie, die muur van skeiding is afgebreek. Die belofte van Jesaja 7:14 van Immanuel (God met ons) het waar geword! Jesus het gekom en onder ons kom woon. Hy woon op hierdie oomblik in ons deur sy Gees en eendag sal Hy permanent en volmaak vir altyd tussen ons wees. “Toe het ek ‘n harde stem van die troon af hoor sê: "Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.” (Openbaring 21:3) Dit lyk asof hierdie gedeelte profeties kyk na Jesus se eerste koms, die verlossing wat hy gebring het, die verlossing en ons reaksie daarop soos ons dit nou ervaar, maar ook verby dit alles na die ewigheid en ons finale verlossing. Die verlostes gaan vir ewig bly wees, besig met dankbare aanbidding en lofprysing. 

SING JY SAAM?

Is jy deel van die skare verlostes in Jesaja 12 en kan jy saamsing? Is jy deel van die skare wat kan sê : "U was ook vir my kwaad...." , wat kan sê : “Ek vertrou en is nie meer bang nie" ? 

Indien : 

JA - Wel vertrou nog meer, wees meer dankbaar, prys, getuig meer... Jy het rede! 

NEE - Kom na Immanuel, na Jesus die Spruit uit die stomp van Isai. Kom skep, stel jou vertroue in Hom. Hy vergewe, Hy versadig en verfris! Voeg dan ook jou loflied by die verlostes van Sion! 

*Jesaja 11:1,2 “‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra. Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here.” Isai was natuurlik die vader van Dawid en uit die nageslag van Dawid, is Jesus, die Seun van Dawid gebore. 

** Die verskoning is dikwels – “ek weet nie hoe om te praat nie, ek moet seker eers ‘n evangelisasiekursus loop.” Kind van God, jy het hoegenaamd nie eers 'n evangelisasie kursus nodig om te begin getuig nie. (Daarmee beweer ek nie dat dit nie nuttig en sinvol kan wees nie.) Inteendeel as iemand agterkom jy vertel vir hom iets waarin jy afgerig is op 'n kursus-, dan klink dit dalk nie meer so baie eg nie. Jy loop tog nie eers 'n kursus om te kan vertel van 'n wonderlike vakansie nie? Nee, jy borrel net oor van jou wonderlike wedervaringe!



 STROME!
(Die Molopo kom af, 2009)