BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Vryspraak/Regverdiging. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Vryspraak/Regverdiging. Wys alle plasings

Donderdag 02 Maart 2017

KYK NA DIE STERRE

en GLO!

Abram, soos ons almal weet, was ‘n man van geloof. Die vader van alle gelowiges. Maar dis baie belangrik om altyd te onthou dat God self die inisiatief geneem het met Abram op die geloofspad. In Genesis 12:1-4 lees ons van hoe God vir Abram ‘n gewone afgodsdienaar geroep het, ‘n opdrag aan hom gegee het en beloftes aan hom gemaak het. 

“Die Here het vir Abram gesê: "Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.
Ek sal jou ‘n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ‘n seën wees.
Ek sal seën wie jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek. In jou sal al die volke van die aarde geseën wees."
Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here...”

Dit was die begin van Abram se geloofspad – hy het die beloftes geglo en dus gehoorsaam weggetrek al het hy glad nie geweet presies waarnatoe als sou lei nie. Belangrik om nou reeds te sien : 

Geloof is geloof nie in wat ek wil glo of wens nie, maar geloof in God se duidelike beloftes! 

NIE MAKLIK NIE! 

Hierdie pad van geloof was natuurlik nie maanskyn en rose nie. Dit was ‘n pad vol bedreigings, vertwyfeling, aanvegtinge, herhaalde keuses en volharding. Dit was geen afdraende ontspanningspaadjie nie, maar ‘n opdraande stryd. Abram se geloof was voortdurend onder druk. Hoe so? Ons weet God het hom ‘n groot nageslag beloof, maar nou na jare was Abram steeds kinderloos. Abram word in sy geloofsbestaan bedreig. Dit was die harde feite en dis die agtergrond vir die merkwaardige gebeure in hoofstuk 15. Hier kom die Woord van die Here na Abram en sê vir hom : “Vrees nie, Abram, Ek is vir jou 'n skild en jou loon is baie groot.” (OAV) God gee ‘n versekering aan Abram. Hy wil Abram versterk en bemoedig. 

HY MAAK SY HART OOP 

Dit lyk of God se bemoedigende woorde van versekering Abram se hart raak, want hy maak sy hart oop en praat eerlik oor die wanhoop en frustrasie wat in sy hart is. (Genesis15:2,3) In effek kom dit daarop neer: “Ek is op pad om kinderloos te sterwe Here, so wat help al die beloftes van ‘n land en beskerming? Wat help die wonderlike belofte van ‘n land as daar geen nageslag is nie?” Geloof beteken nie ons kan nie eerlik met God wees nie. Geloof is immers ook ‘n leerproses en in die proses mag ons maar vrae vra. Abram suggereer dat hy maar ‘n plan B gemaak het en sy getroue dienskneg Eliëser aangeneem het as sy erfgenaam. Dis so ‘n tipies menslike aanpassing en mensgemaakte oplossing. Dis egter nie God se wil nie. God weier om deur ‘n surrogaat ‘n kwasievervulling van sy belofte te gee.* Die belofte was immers dat Abram se nageslag ‘n groot nasie sou word en die land erf. (Terloops, dit was ook nie Abram se laaste keer dat hy na ‘n menslike plan gegryp het nie... In Gen 16 luister hy na Sara en neem Hagar as vrou; dit lei tot Ismael se geboorte en eeue van geweld en ellende) Abram se plan is nie God se plan nie, want God vervul nie sy beloftes halfpad nie. Hy maak ook nie halwe beloftes nie – ook nie aan ons nie, Hy belowe nie halwe vergifnis, halwe redding en ‘n halwe hemel nie. Bo alles Hy het nie ‘n halwe Verlosser beloof nie, maar sy eniggebore Seun! 

BELOFTE HERNU 

God self kom Abram te hulp met ‘n hernuwing van sy oorspronklike belofte. Die Almagtige God hoef nooit terug te val op ‘n plan B nie. God maak seker dat daar geen misverstand kan wees nie – nie ‘n aangenome kind nie, maar een uit jou liggaam, Abraham! Jy het reg gehoor - JOU liggaam! Maar dit was juis ook die probleem. Abram se liggaam was oud! Verstorwe noem Paulus dit! “Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy vader sou word van baie volke volgens wat gesê was: So sal jou nageslag wees. En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie.” (Romeine 4:18,19 OAV) 

“Abram wat jy nie kan doen nie kan EK doen!” 

Opvallend, die Here verwyt nie die weifelende en wanhopige Abram nie, Hy kom hom helpend en bemoedigend tegemoet. Hy vat Abram na buite. Sien...Abram uitstap in die donker woestynnag, sy oë oplig na die helder sterrehemel... Hy hoor die opdrag : “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan!” Kyk na die almag van God! In gewyde stilte kyk hy, kyk hy... Dink vir ‘n oomblik hoe Abram in stilte na die sterrehemel staar en die oorweldigende almag en majesteit van God indrink... KYK NA DIE STERRE! ‘n Woordlose boodskap van God : “Abram wat jy nie kan doen nie kan EK doen!” Dalk is dit vir ons in ons swakheid nodig om letterlik weer na die sterre te gaan kyk... Ons kan die boodskap van die sterre dalk nog beter as Abram verstaan...ons weet mos daar is der miljoene galaksies met elk der miljoene sterre...oneindig, ontelbaar! Duiselingwekkend! So oneindig almagtig is God. Ja, wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik. Dis wat Maria moes hoor... “Niks is vir God onmoontlik nie." (Lukas 1:37) Dis wat die ontnugterde dissipels uit Jesus se mond hoor na die hartseer gebeurtenis met die ryk jongman... “Daarop antwoord Hy: "Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik." (Lukas 18:27) 



KYK NA DIE STERRE! AANSKOU GOD SE ALMAG! 

Die almag van God is die antwoord op ons wankelende geloof! KYK NA DIE STERRE! 

Twyfel jy? Wonder jy? Kan die Here my regtig vergewe? – KYK NA DIE STERRE! Kan die Here my veilig bewaar om in sy koninkryk in te gaan? KYK NA DIE STERRE! Kan God sy kerk in stand hou teen die vloedgolf van boosheid en goddeloosheid? KYK NA DIE STERRE! 

Daar onder die sterrehemel, waar God sy beloftes sigbaar onderstreep met sy almagswerke** daar glo Abram weer opnuut. “En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.” (6) Geloof is die antwoord van die mens op God se beloftes. Sonder God se beloftes, sonder God se Woord is daar geen geloof nie. Weereens -Geloof is daarom nie gebou op wat ek graag wil hê of doen nie, maar op dit wat God belowe in sy Woord om te doen. 

Waartoe wil hierdie gedeelte ons oproep? Om opnuut ons geloof in die beloftes van God te stel. Spesifiek in die belofte aangaande sy Seun. Die afgehandelde genoegsaamheid van sy kruisoffer en sy opstanding. Paulus praat so heerlik hieroor... 

“Daarom is dit hom (Abraham) ook tot geregtigheid gereken. 
Maar dit is nie alleen om sy ontwil geskrywe dat dit hom toegereken is nie, maar ook om ons ontwil aan wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het, wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking." (Rom 4:22-25) 

Ja, die sigbare feite maak ons moedeloos en laat ons wanhoop. Die sigbare (en ongemaklike) feite oor ons sondigheid, gebrokenheid en vele geloofsmislukkings..., maar daar is iets groter - God se Almag. Sy ALMAG skyn feitelik, sigbaar duidelik in die naghemel bokant ons... Nog heerliker... God se beloftes wat waar geword het in Jesus. Abram se geloof was in God en sy beloftes. Ons geloof is in God wat Jesus oorgelewer het vir ons sondes – ons sondeskuld is betaal, en Hom opgewek het en so ons vryspraak/regverdigmaking verseker het! 

Gaan kyk na die sterre, glo in God wat sy Seun Jesus vir jou oorgelewer en opgewek het! Dank Hom met jou lewe! 




*A van Selms p222, De prediking van het Oude Testament, Genesis deel 1

** God se algemene openbaring naamlik sy openbaring deur die skepping versterk ons geloof in sy besondere openbaring, sy openbaring deur die Woord. Hierdie waarheid is die eerste keer onder my aandag gebring deur Nico van der Walt.

Donderdag 21 Mei 2015

VIND VREUGDE IN DIE VRYSPRAAK

- bou jou blydskap op die vaste feit dat God niks meer teen jou hou as jy in sy Seun glo nie!

Ons het nou al gesien dat een rede vir ‘n gebrek aan Christen vreugde en blydskap is dat baie mense in ‘n geestelike tussentoestand is – hulle het al iets van die werking van God in hulle lewens ervaar, maar hulle kan nog nie met sekerheid sê dat hulle aan God behoort nie.  (Kliek op TOEGEWASEMDE WINDSCREEN) Sommige het wel iewers ‘n opregte geloofskeuse vir Jesus gemaak, maar hulle is onseker of hulle werklik vergewe is en deur God aanvaar is. Een groot rede is dat hulle onkundig is oor die Bybelse begrip van vryspraak/regverdiging deur die geloof alleen. 

En dis juis ‘n kern Christelike waarheid – dis die waarheid wat vir eeue onder die stof van Roomse tradisie weggesteek was en toe deur Martin Luther en ander reformatore herontdek is. Is jy in jou gemoed helder oor die vryspraak deur die geloof alleen?

Hoe lyk iemand wat onseker of onkundig oor hierdie waarheid is? Dis iemand wat dink dat as ek goed is en oulike dinge doen hou God van my en as ek struikel dan hou Hy minder van my. Iemand wat gedurig bekommerd is, "Sê nou maar daar is een sonde wat ek vergeet het om te bely, sal ek dan hel toe gaan?" Dis iemand wat gedurig deur skuldgevoelens geteister word en knaend wonder : "Bid ek genoeg, lees ek genoeg Bybel, is ek heilig genoeg?" 

Jy maak dus baie erns met allerhande pligte (en dis goed), maar jy het nooit vrede nie en daarom ook nooit vreugde nie.  

Dis dikwels ook iemand wat gekwel bly oor die verlede. Ja, miskien is ek vergewe, maar wat van daardie een vreeslike ding? Hierdie mense sê in teorie ons word gered deur Jesus alleen, maar eintlik is dit ‘n werke godsdiens gebou op  godsdienstige prestasie. Eintlik glo hulle in redding deur die wet en omdat geen mens die wet volmaak kan hou nie, skiet hulle redding altyd te kort en het hulle nie vreugde en vrede nie. Die oplossing is die ontdekking van vryspraak deur die geloof in Jesus alleen. Vind vreugde in die vryspraak!

Kom ons kyk na ‘n paar aspekte van die vryspraak soos Paulus dit in die Romeine brief verduidelik. “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,  en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig (vrygespreek -NAB) deur die verlossing wat in Christus Jesus is.” (3:24,25) Kyk na ‘n paar implikasies van hierdie uitspraak:

Almal het gesondig. Almal is ewe skuldig. Heidene sowel as Jode. “Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ‘n mens wat sonde is.” (3:20)   Al jou mooi godsdienstige prestasies of jou bevoorregte verbondsstatus kan nie vir jou vrede bewerk nie. Geregtigheid deur die wet is ‘n doodloopstraat, want nooit kan ek goed genoeg wees nie! 



Soos ‘n hamster op ‘n trapwieletjie bring al my ernstige pogings my nêrens nie!

Nou hoe sal ek dan ooit vrede en vreugde kan vind? Ons word vrygespreek "uit genade, sonder verdienste!" Let op die herhaling van dieselfde begrip en dus die sterk beklemtoning van God se vrye guns oor sondaars. Geen menslike verdienste of meriete is ter sprake by die redding van ‘n sondaar nie. Dis inderdaad heeltemal ‘n geskenk. Ek en jy kan dit op geen manier verdien of aanhelp nie.

Vrygespreek. Vryspraak is in wese ‘n juridiese begrip. Dit gebeur normaalweg in ‘n hof. Die regter of landdros het die mag om iemand onskuldig te verklaar. In hierdie geval, wie word onskuldig verklaar? Romeine 4:5 gee ‘n verbysterende antwoord : goddeloses!  “Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof.” Skuldiges wat die hel verdien word  onskuldig verklaar deur God. Verstommende genade!

Hoe kan dit gebeur? Hoe is so iets dramaties moontlik?  Vanweë die verlossing in Jesus. Dit gaan hier oor die losprys* wat Hy betaal het. Die straf wat Hy in ons plek gedra het.   Die kruis is die basis waarop ons vryspraak of kwytskelding berus! “Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.” (Kolossense 2:14) Hierdie vryspraak is volledig en beteken dat God niks meer teen my hou nie! “Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie." (Hebreërs 8:12)

Hoe kry ons die vryspraak?  Hoe word dit persoonlik myne?  Deur ‘n spesiale teks of openbaring of teken? Deur ‘n warm gevoel? Deur ‘n reeks stappe te volg of ‘n voorgeskrewe rympie te prewel? Nee, deur geloof in Jesus. Romeine  5:1 laat geen onduidelikheid oor die saak toe nie. “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” So het ons nou 'n hoop op deelhê aan God se heerlikheid en dit lei tot blydskap!  Vryspraak deur geloof!  Dwarsdeur  die Nuwe Testament is die skakel wat ons aan Jesus se weldade bind - geloof! Glo in Jesus, glo wat God oor Sy Seun getuig.  So kry ons vrede met God en dit bring blydskap! LW – Geloof in Jesus, nie geloof in my geloof nie! (want my geloof opsigself sal altyd maar gebrekkig bly)

Horatius Bonar se opmerking bly altyd baie waar – “What God demands from us is not satisfaction with our faith but satisfaction with Christ and His work!”

Glo in Jesus Christus. Ontvang so die vryspraak en verheug jou daarin ongeag jou gevoelens, omstandighede of Satan se beskuldigings!



*Grieks - apolutrwsiV  Bauer – “buying back a slave or captive making him free by payment of a ransom”

Dinsdag 05 Februarie 2013

VYEBLARE OF VRYSPRAAK?

- die fatale fout van selfgeregtigheid en mensgemaakte godsdiens.

Na Adam en Eva se sonde, het hulle bemerk dat hulle kaal was.   (lees gerus die gebeure in GENESIS 3:6-10;21)  Dit beteken hulle het nou skuldig en ontbloot gestaan voor God en mekaar. Hulle maak toe self (tipies mens!) ‘n plan :  klere van vyeblare. Klere van vyeblare is  om verstaanbare redes egter nie baie doeltreffend nie... Dit was veral nie effektief om hulle skaamte en skuld vir God te bedek nie, want ons lees dat hulle nog steeds vir God weggekruip het. (10)

Ons wil dalk lag vir Adam en Eva se naïwiteit, maar die  sondaar mens se ingesteldheid is maar nog steeds dieselfde. Die mens maak vandag nog  “vyeblaarklere” om sy sonde naaktheid en skuld vir God te probeer wegsteek. Ons weet mos ons staan skuldig voor God en maak dan alle planne om van hierdie skuldgevoel ontslae te raak of dit te onderdruk.

Hoe lyk die sondaar se  vyeblaardenke en vyeblaarplanne vandag?

Ek probeer myself aanvaarbaar maak vir God. Ek probeer God se standaard – God se geregtigheid, tevrede stel met een of ander menslike prestasie of inisiatief.
Ek sê vir myself ek sal my bes probeer om ‘n Christen te wees. (dis ‘n redelik algemene frase van ‘n onbekeerde!)
Ek probeer om bietjie minder te vloek of bietjie meer Bybel te lees en dink dat dit my nou ‘n Christen maak.
Ek voel darem goed oor myself, veral as ek kyk hoe goddeloos ander mense leef. Ek herinner myself dat ek wel ‘n sondaar is, maar darem nou nie die ergste wat daar is nie. (Terloops - die vyeblaarmens skinder nogal graag, want dit laat hom beter voel. Dis lekker om te praat oor die skandes van Zuma, Steve Hofmeyer, Joost van der Westhuizen of die bure wat so op mekaar skreeu en borde rondslinger!) Ek probeer my gewete op die manier troos.
Ek maak baie erns met al my godsdienstige pligte...vyeblare!
Ek maak altyd verskonings vir my sonde, dis nie my fout nie, maar my moeilike kinderjare, moeilike omstandighede, moeilike man of vrou...vyeblare!
Ek troos myself dat ek darem ‘n lidmaat van die kerk is en nie ‘n heiden of ‘n Moslem nie.
Partykeer is mense baie ernstig en gaan tot uiterstes met hierdie vyeblaargodsdiens om hulleself vir God aanvaarbaar te maak – hulle vas en bid en gee soms groot bydraes vir die kerk.....  John Wesley het so ver gegaan om ‘n sendeling te word in Amerika! Alles nuttelose vyeblare! Dis alles opsigself goeie dinge, maar dit kan nie ons sondeskuld voor God wegneem nie!

Die skokkende waarheid is dat ons beste planne nikswerd is nie! 

Al die mens  se pogings om self sy skuld voor God te bedek misluk!  Nog erger ons beste planne om ons self voor God aanvaarbaar te maak is soos vuil klere voor God.  Jesaja 64:5-7  Let wel – nie ons sonde is soos vuilklere voor God nie, maar ons beste dade! (OAV – ons geregtighede) As ek nou gedink het,  vandag het ek darem ‘n goeie daad gedoen – ‘n straatkind gehelp of ‘n bydrae vir die kankervereniging  of Kanaal 7 gegee – dan sê God, dit kan jou nie red nie, dit is nutteloos en verwerplik soos vuil klere voor my oë! Tevergeefse vyeblare!

Weet beslis : Ons aangeplakte vroomheid is vuil en vieslik voor God! Ons mensgemaakte geregtigheid is ‘n gruwel. Skokkend, maar waar! 

Is daar hoop?

JA! Die Genesis gebeure  is vol van die mens se mislukking en  God se oordeel, maar gelukkig ook vol van Goddelike  genade. God self kom soek die mens op : “Adam, waar is jy?” (9) Meer nog, 

 God self voorsien klere van vel aan die mens! (21)

Dis presies wat God ook in Jesus aan ons gee. In Jesus gee God ‘n oplossing vir ons sondenaaktheid. Daar vind ‘n groot omruiling plaas, Jesus vat ons sonde en kry die straf daarvoor, maar Hy gee sy geregtigheid vir ons as ‘n bedekking.

Die kosbare 1 Korintiërs 1:30 (OAV) stel dit so duidelik. “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.” (Die kontras is  baie duideliker in OAV met Jesaja 64:6 “ons geregtighede is soos ‘n besoedelde kleed”) Ek kan nie met my eie dade van geregtigheid God tevrede stel en die oordeel vryspring nie, maar God voorsien self ‘n kleed van geregtigheid. Die volmaakte geregtigheid van Jesus. Hy gee dit aan elkeen wat Jesus aanvaar as Here. Dit is wat vryspraak (regverdigmaking) beteken. God sien nie meer my eie vuil sondige naaktheid nie, maar Hy sien my bedek met Jesus se volmaakte geregtigheid. Elkeen wat alleenlik op Jesus vertrou is skoon gekleë, heilig en volmaak in God se oë!

Ons kan nie met die vuil klere van ons eie geregtigheid en ons eie godsdienstige pogings in die hemelse koninkryk ingaan nie. Ons het die skoon wit klere nodig nodig wat net God ons kan gee op grond van Jesus se kruisdood. Die wit klere waarvan Openbaring 7:9-14 praat. Gaan jy deel wees van hierdie skare?


Ons elkeen het een van twee keuses : of ek vertrou op die vyeblare van my eie godsdienstige pogings of ek vertrou op die genoegsaamheid van Jesus se geregtigheid. Gaan jy voortsukkel met vyeblare, die vuil vodde van eie geregtigheid of gaan jy die geskenk van nuwe klere, Jesus se geregtigheid in die geloof aanvaar? Gaan jy voort met selfpogings (vyeblare) of gaan jy aanvaar wat God vir jou voorsien in Jesus Christus (vryspraak)?

Vrydag 03 Augustus 2012

GERAAMTES WAT RAAS

- maak ‘n Christen se verkeerde verlede nog saak?  

Maak my verlede nog saak? Daardie gruwelike geraamtes in die kas? Spesifiek nou, as ek ’n kind van God geword het, moet ek nog nadink oor my verlede, moet ek al die sondes en mislukkings onthou, moet ek daarmee rekening hou? Elkeen van ons het ’n donker verlede! Ja, ja, elkeen... ons is mos in sonde gebore en ons het almal aktief sonde gedoen. Ons het oortree teenoor God en teenoor ons medemens! Ons het almal dinge gedink, gesê en gedoen waaroor ons (as ons kinders van God geword het) nog steeds skaam is! Deur ons sondige besluite het ons dikwels onherroeplike  skade aangerig aan onsself en aan ander. En ja, ander se sonde het ook weer letsels op ons gelaat.

Ek vra hierdie vraag spesifiek as kind van God : Maak my verlede nog saak as ek ’n  vrygespreekte kind van God geword het? Die antwoord is NEE, maar die antwoord is ook JA! Dis baie belangrik vir elkeen se geestelike gesondheid en vreugde om te verstaan waarom die antwoord NEE is, maar dis net so belangrik om ook te verstaan waarom die antwoord, JA is!

Kom ons kyk na die perspektief wat twee gedeeltes uit die Hebreërs brief vir ons gee:

~ Eerstens die NEE antwoord. Maak die kind van God se verlede saak? Die antwoord is NEE. Hoekom nie? Hier in Hebreërs  8 word die heerlike implikasies van die Nuwe Verbond verduidelik en vers 12 stel dit baie duidelik oor hoe God  oor ons sondige verlede voel.

 “Oor hulle ongeregtighede sal ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie.”

 Geliefde, verstaan dit mooi : As jy jou vertroue as sondaar op Jesus gestel het, as jy nie meer staatmaak op jou eie prestasies nie, maar op Jesus se offer aan die kruis, dan sê God vir jou dat Hy nooit meer aan jou sondes dink nie. Dis die gevolg van die vryspraak wat ons ontvang as ons Jesus aanvaar as Verlosser en Middelaar - ons sonde, ja ook al die aakligste sondes en gruwelikste mislukkings van die verlede word glad nie, hoegenaamd nie, meer teen ons gehou nie! GOD DINK NIE EERS MEER DAARAAN NIE! Ons oortredings bestaan nie meer in God se boeke nie! Dis uitgewis vir eens en altyd! Al die beskuldigings teen ons is eintlik alreeds by die kruis vernietig! (Kol 2:14) Daarom kan Paulus so duidelik verklaar in Rom 8:1 : “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie!” As jy in Jesus is, sien God  jou as ’n volmaakte skuldlose  mens! Ek hoef dus nie meer skuldig of minderwaardig te voel nie!

So : Maak die kind van God se verlede nog saak, moet ek nog daaroor tob en bekommerd wees? Wat betref ons nuwe status voor God, is die antwoord ’n baie duidelike NEE!

~ Maar nou die JA antwoord. In Hebreërs  12:1-3 is dit baie duidelik dat die Christelike lewe met ’n wedloop vergelyk word.   Dit gaan dus hier oor mense wat reeds vergewe en reeds vrygespreek word. Maar nou word hierdie Christene (en ons) sterk aangemoedig om al die "laste en sonde wat ons so maklik verstrik" en ons wedloop belemmer, af te gooi! Hoor nou mooi : Ja, God dink nie eers meer aan ons sonde nie, Hy hou dit glad nie meer teen ons nie, maar in ons elke dag se Christelike lewe is dit nodig dat ons sekere oorblyfsels van ons sondige verlede moet afgooi sodat ons die Christelike wedloop met sukses kan voltooi! Ons sondige verlede, agtergrond en neigings is ‘n belemmering vir ons geestelike wedloop.
In hierdie opsig is dit duidelik dat ons sondige verlede wel saakmaak en dat ons beslis daarmee moet rekening hou!

Die punt is : Daar is oorblyfsels van ons sondige verlede, daar is gevolge van ons sondige natuur en agtergrond, wat nog steeds ’n effek op ons het! 

Ons moet dit weet en ons moet iets daaraan doen! Ons sondige agtergrond, ons ou sondige lewenspatrone beïnvloed steeds  ons daaglikse lewens as Christene in ons persoonlike lewe, in ons huweliks en gesinslewe, in ons verhoudinge by die werk en in die gemeente!          

 Kom ons raak prakties met enkele voorbeelde :

Ons het almal ’n onvolmaakte sondebevlekte opvoeding gehad (ja, ek weet by verre die meeste mense wat hier lees het ’n baie goeie Christelike opvoeding gehad, maar ons weet ook ons almal se ouers was ook net mense en het ernstige foute gemaak met ons opvoeding al het hulle dit nie bedoel nie.)   Jy het dalk selfsugtig grootgeword en altyd jou sin gekry... nou word jy ’n Christen en die Here het al daardie selfsug en al daardie  vloermoere vergewe! Maar weet jy wat, daardie selfsugtige neigings dra jy nou in jou huwelik in... nou verstaan jy nie : “Ek is dan ’n Christen en my vrou is ’n Christen, maar hoekom sukkel ons so, hoekom is daar soveel konflik?”  Dis dan wanneer jy moet besef : My verlede maak saak! Ek moet ernstig daaraan aandag gee en hierdie selfsugtige neigings uitroei met die krag van die Heilige Gees!

Dalk het jy grootgeword met ’n alkoholis pa wat altyd gelieg en bedrieg het of ander ongelukkige huislike omstandighede. So het daar ’n diepgewortelde wantroue teenoor ander mense in jou lewe ontstaan... Jy het intussen ’n kind van God geword, maar in jou agterkop dra jy nog hierdie wantroue rond en jy vertrou niemand nie, jy is oorkrities op ander mense. Hierdie wantroue het ’n effek op jou huweliksmaat, jou kinders, jou werksmense... Jy moet besef, jou verlede maak saak! Deur die Heilige Gees en dalk met behulp van Christen vriende sal jy moet leer om van hierdie kritiese gesindheid van wantroue ontslae te raak.

Moontlik is daar een of ander verslawing of hardnekkige gewoonte vanuit jou verlede... pornografie, nikotien, vloek, allerhande vrese... noem maar op. Toe jy ’n Christen geword het, het God jou op een oomblik als vergewe. Jou verlede maak nie meer saak nie, want God aanvaar jou volkome as sy kind! En tog maak jou verlede saak, want dit werk nie altyd so dat hierdie verslawings en gewoontes  onmiddellik gebreek word nie. (Anders sou sulke opdragte soos hier in Hebr 12 mos nie nodig gewees het nie) Dis waar baie Christene die fout maak en in ontkenning leef : “Ag, ek is nou God se kind en als is wonderlik!”  Maar dis nie waar nie! Daar is nog laste en sondes wat ek moet aflê! Deur die kragtige werking van die Heilige Gees, deur gebed, deur die Woord, deur die hulp van ander Christene moet ek ontslae raak van hierdie verslawings en ou patrone uit die verlede. In hierdie opsig maak my verlede saak en moet ek dit hanteer!

Miskien is jy deur die hartseer van egskeiding, dalk het jy weer getrou. God het jou al jou sondes op hierdie terrein vergewe, maar in jou daaglikse wandel met Hom en ander mense sal jy moet rekening hou met die gevolge van hierdie verlede. Om byvoorbeeld in ‘n hersaamgestelde gesin te leef, met ontwrigte kinders wat seergekry het is nie so eenvoudig nie en verg baie geduld, gebed, aanpassing en volharding. Jy gaan dalk ook die hulp nodig hê van ervare en kundige medegelowiges om jou te begelei. Dis normaal. Moenie skaam wees daaroor nie. Vertrou bo alles die Heilige Gees om jou te help om aanpassings te maak en verdraagsaam te wees met jou huweliksmaat, gesin en familie.

Voor my bekering het ek dalk baie mense te na gekom en skade aangedoen. Wanneer ek Jesus aanvaar word al hierdie misdade vir my volkome vergewe. Maar nou moet ek realisties wees. Ek sal waar nodig en waar moontlik  ook hierdie verontregte mense om verskoning moet vra en dinge moet regstel, anders sal my getuienis ongeloofwaardig en kragteloos wees. Ek kan nie maar net aangaan asof hierdie slegte dinge nooit gebeur het nie.

 In my daaglikse stryd moet ek rekening hou met die effek wat my ou sondige lewe nog op my kan hê en dit dan deur die vernuwende krag van die Heilige Gees hanteer!

MAAK MY VERLEDE SAAK?

Kom ons vat net weer saam. Kind van God, wees verseker God het jou heeltemal vergewe, NEE, jou verlede maak nie saak nie! Dank God en wees bly!

Kind van God, ons is besig met ’n harde wedloop, daar is laste en sondes wat uit ons verlede voortkom, JA, ons verlede maak saak, ons moet dit besef en ons moet dit hanteer soos God  se Woord vir ons voorskryf. Laat ons eerlik wees en mekaar hierin help! Laat ons bo alles die oog hou op Jesus! 

Wat betref ons status  voor God en ons aanvaarding by Hom  speel ons verlede genadiglik hoegenaamd geen rol nie! Die kruis van Jesus het daardie verlede vir eens en vir altyd uitgewis. Wat betref my daaglikse keuses, besluite en stryd, moet ek deeglik rekening hou met die gevolge en oorblyfsels van my vorige sondige leefwyse. Gelukkig, deur die krag van die Heilige Gees kan ek oorwinnend daaroor leef. 

Om dit teologies korrek te stel : Wat ons vryspraak (justification)  betref, maak ons verlede glad nie saak nie! Wat ons daaglikse stryd van heiligmaking (sanctification) betref, maak ons verlede saak en moet ons eerlik daarmee rekening hou en daaraan werk! Daartoe stel God sy kinders instaat, deur die bekragtiging van die Heilige Gees!

Dinsdag 01 Mei 2012

ALLES NUUT!

- ‘n belofte aan stukkende mense in ‘n stukkende wêreld.

“Kyk, Ek maak alles nuut” (Openbaring 21:5) In ‘n stukkende wêreld soos hierdie ondermaanse van ons,  kan daar geen heerliker belofte as juis dit wees nie! En belangrik, dis “Hy wat op die troon sit”,  God self, wat dit beloof! Daarom kan ek en jy hierdie belofte glo en daaroor bly wees!

Ons voel almal die werklikheid van ‘n stukkende bestaan op aarde aan ons eie lyf. Die daaglikse pyn van 'n morele en fisiese skrootwerf. Ja, God het alles goed geskape, maar toe die mens die duiwel se leuens geglo het in die paradys, het als stukkend geword. Ons hele lewensloop word gekenmerk deur gebrokenheid. Ons menslike bestaan gaan gebuk onder sonde, swaarkry, siekte en sterflikheid. Sonde het ons lewens kom verwoes, lelik en oud gemaak. Wrakke! Hierdie ellende wat sonde gebring het is op alle terreine van die lewe sigbaar, maar die effek word dalk die ergste gevoel op die gebied van die huwelik, seksualiteit en gesinsverhoudings! En die rede hiervoor is maar al te duidelik. Toe God die mens as Sy verteenwoordiger en beeld gemaak het, word daar pertinent gemeld dat Hy man en vrou geskape het. (Genesis 1:27) Ons geslagtelikheid, ons man- en vrouwees en spesifiek soos dit in die huwelik moet uiting vind, is bedoel as ‘n vertoonvenster van die heerlikheid van God. Dit is veronderstel om iets te demonstreer van die volmaakte harmonie en liefdesgemeenskap binne in die heilige Drie-Eenheid. Nou, verstaan jy waarom Satan hom toespits om die huwelik en als wat verband hou met die mens se geslagtelikheid, te skend en te ontsier. En hierdie skending soos ons maar al te goed weet, veroorsaak onbeskryflike smart en hartverskeurende skade. Dit hoor en sien ons elke dag!

Maar nou het ons hierdie belofte. ‘n Belofte van nuutmaking. Hoe doen God dit? Wat behels dit alles? Raak dit ons volle menswees? Ook die huwelik? 

Die antwoord kry ons in 2 Korintiërs 5:17 

“Daarom as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”

Jesus Christus is die sleutel tot die nuutmaking van die mens.  Trouens, dit gaan oor iets baie wyer as net die mens! In Hom maak God die ganse skepping nuut. ‘n Volledige  herskepping van die totale werklikheid  wat deur die sonde geskend is. Jesus is self die begin van hierdie herskepping en die waarborg van die suksesolle voltooiing en uiteindelike triomf daarvan. Wie aan Jesus behoort, “in Hom”  is, is reeds deel van die nuwe skepping en self ‘n nuwe skepsel.

Wat beteken hierdie nuutmaking nou prakties vir my en jou? Dit kom na vore in die drie (tyds)aspekte van ons verlossing. 

  • Dit gaan in die eerste plek oor  vryspraak.(regverdiging) Dis die volledige kwytskelding en  vergifnis wat ‘n sondaar ontvang as hy sy vertroue in Jesus stel. Die heerlike belofte van die Nuwe Verbond beskryf die heerlikheid hiervan so in Hebreërs 8:12. “Oor hulle ongeregtigheid sal ek genadig wees, en aan hulle sondes nooit meer dink nie”. Die vryspraak wat ons ontvang in Jesus beteken dat ons volkome nuut is in God se oë, bedek met Jesus se volmaakte geregtigheid!   


Glo jy dit werklik? Hoe raak dit jou siening oor jouself, oor ander Chrstene? Oor jou Christen eggenoot?

  • Maar ons word nie maar net vergewe nie. Vergifnis  lei ook tot ‘n verdere heelmaak en nuutmaakproses.  Ons moet leer leef volgens ons nuwe status as vrygespreektes. Ons noem dit heiligmaking. Dit beteken dat ons daagliks en al hoe meer  verander na die beeld van Christus. Ons begin al hoe meer optree soos Hy sou opgetree het. Natuurlik, dit vat harde werk en daaglikse gehoorsaamheid aan God se Woord. Dis ‘n voortdurende stryd wat ons met die krag van die Heilige Gees teen die ou natuur, sonde en Satan stry! Maar ons stry dit positief, wetende dat God ons reeds as sy kinders aangeneem het uit genade!
  • Maar dis nog nie al nie... daar kom ook ‘n finale nuutmaking. Dis wat hier in Openbaring beloof word. Alle sonde en alle gevolge van die sonde sal dan uitgewis word.  Al die trane van ons oë sal afgevee word. Alle gevolge en letsels wat die sonde agtergelaat het, sal vir ewig verdwyn. Ons noem dit verheerliking. As volmaak nuwe mense sal ons vir ewig in God se teenwoordigheid leef en Hom loof! Ja, God gaan by ons woon! (Openbaring 21:3)

Nuutmaking moet dus verstaan word vanuit 3 perspektiewe : Vryspraak (as reeds afgehandelde feit), Heiligmaking (as voortgaande proses), Verheerliking (dit word finaal voltooi by die wederkoms)

Hoe raak bogenoemde waarhede ons huwelik?

Vryspraak. As beide eggenote* Jesus as Verlosser aanvaar het, beteken dit dat al my en my maat se  sonde en oortredings van die verlede vergewe is. Om ou koeie uit die sloot te haal en verwyte rond te slinger pas dus nie en wys dat ek die vryspraak nie reg verstaan of waardeer nie! Ek moet weet en glo dat my maat volledig vergewe is en uit hierdie oogpunt na hom of haar kyk.

Heiligmaking. As altwee huweliksmaats Jesus ken, beteken dit  ook dat hulle die Heilige Gees ontvang het, wat hulle daagliks krag sal gee om nuut en anders in hulle huwelik te leef.  Die Heilige Gees maak ons nie passief nie, maar gee ons krag om daagliks teen die sonde te kies (dit sluit ook dinge in soos ons selfsug, opstandigheid, selfbejammering, onvergewensgesindheid ens. wat so skadelik is vir ‘n huwelik) Die Heilige Gees maak my hart sag sodat ek my foute kan erken en die Here (en my maat) om vergifnis kan vra.

Verheerliking. Kinders van God wat ook in die huwelik stry teen sonde en versoeking en dalk moedeloos raak daaroor, kan uitsien na en versterk word deur die feit van ons finale nuutmaking by die wederkoms. Daar kom ‘n tyd wanneer ons nie meer ontsier sal word deur sonde, misverstand en onvolmaaktheid nie.

Die aardse vorm van die huwelik gaan nie bly voortbestaan nie  (Matteus 22:30), maar ons gaan volle vervulling en harmonie beleef as ewige bruid, ja, vrou van die Lam! (Openbaring 21:9ev) Dit gaan ‘n voortgaande Fees van volmaakte vreugde wees!

Hierdie Bybelse feite oor die nuutmaking  spoor ons aan om ons huwelike volgens God se Woord tot sy eer in te rig, al beleef ons moeilike tye, teleurstellings en versoekings!


Bogenoemde is 'n basiese samevatting van die boodskap by Sakkie en Erna  Schreuder se seëningsgeleentheid oor hulle huwelik. Sakkie en Erna, ons is saam met julle bly en wens julle die oorvloedige belewenis van God se genade toe, as deel van ons gemeente. Ons is regtig lief vir julle!

*As jy in ‘n huwelik is met ‘n ongelowige is dinge natuurlik baie ingewikkelder en, helaas soms skrikwekkend moeilik! Dis waarom ons nie met ‘n ongelowige mag trou nie. As jy reeds in so ‘n huwelik is, is als egter nie verlore nie! Dis moontlik dat God deur jou getuienis en veral jou leefstyl, jou maat ook kan red. Maar weet, dis gewoonlik nie ‘n maklike pad nie. As die vrou die gelowige is, moet sy veral weet dat haar man nie deur woorde gewen sal word nie, maar deur ‘n heilige onderdanige lewenswandel. (1 Petrus 3:1)  Sterkte!

Donderdag 01 Maart 2012

PALEISPRINS IN OPLEIDING

- die baie belangrike beginsel om te begryp.

Op ‘n dag neem ’n ryk goedhartige Koning ’n wandeling deur sy hoofstad. Langs die straat bemerk hy ’n liederlik vuil straatkind. ’n Jeugdige wetsoortreder. ’n Regte gomsnuiwer en daggaroker. Dit roer die Koning se hart en Hy rig ’n uitnodiging aan die verwaarloosde kind. “Kom saam met my. Ek as die hoogste gesag in die land gee vir jou koninklike kwytskelding van al jou misdade. ’n Volledige amnestie. Geen vervolging sal teen jou ingestel word nie. Word my eie kind. Ek neem jou aan!” Die seuntjie stem in. Die aanneming word sommer dadelik in ’n hof wettiglik formeel bekragtig. Dit beteken dat die weggooi straatkind nou onmiddelik die status het van ’n koningskind - ’n prins! Een implikasie is dat hierdie kind as prins ook ’n wettige erfgenaam van die Koning is!

Dis onbegryplik heerlik en dramaties - een oomblik nog ’n straatkind met ’n uitsiglose duister toekoms. Die tronk het gewink. Die volgende oomblik, ’n prins met ’n blink toekoms!

Die prins gaan woon nou in die paleis soos dit by sy nuwe status pas. Hier wag natuurlik groot aanpassings en veranderings op hom. Sy vodde word vervang met splinternuwe koninklike klere. Hy moet leer om soos ‘n koninklike te eet. (Dis nie so maklik nie, want hy was gewoond om in die asblikke vir oorskietkos te aas) Die moeilikste is egter om van sy straatmaniere en agterbuurttaal ontslae te raak. Dit vat tyd en inspanning. Die nuwe prins is nie altyd so suksesvol om by die nuwe leefstyl aan te pas nie. Soms is dit nodig dat die Koning hom ernstig berispe en selfs partykeer straf as hy van sy ou kriminele streke wil uithaal. Dan word hy ernstig vermaan en aan sy nuwe status herinner : “Gedra jou soos ’n prins, jy bly nie meer op straat nie!” Sulke vermanings raak die nuwe prins diep, as hy dan met dankbaarheid terugdink aan hoe goed die Koning vir hom was. Dit motiveer hom opnuut om met erns ’n nuwe lewe te leef. ’n Leefstyl wat die Koning, sy eie Pa gelukkig sal maak!.

Hierdie verhaaltjie probeer vir ons die verskil tussen vryspraak (justification) en heiligmaking (sanctification) verduidelik. Dis wesensbelangrik vir ons geestelike gesondheid en vreugde om hierdie onderskeid te verstaan.

Ek word ’n kind van God as Hy my genadig is op grond van wat Jesus gedoen het aan die kruis. Dis ’n groot voorreg! (1 Johannes 3:1) Ons verdien nie om God se kinders te wees nie, dis net uit genade wat ons gered word vanuit ons sondige straatkindbestaan! (Efesiërs 2:8) Ons is inderdaad goddelose mense wat vrygespreek word en so in God se oë ’n nuwe status het. (Romeine 4:4) Vryspraak/regverdigmaking is ’n onmiddelike eenmalige aksie van God wat aan ons geskenk word deur die geloof, heeltemal gratis en verniet. (Romeine 3:23,24) Die oomblik as ek my vertroue op Jesus plaas, is ek dus ’n vrygespreekte en staan ek strafloos voor God. My sonde word hoegenaamd nie meer teen my gehou nie. (Hebreërs 8:12) Soos die rower aan die kruis kan ek seker wees dat die paradys nou vir my oopstaan. Ek het vrede met God en staan onder geen veroordeling meer nie! (Romeine 5:1, 8:1)

As God se vrygespreekte kinders moet ons nou leer om volgens ons nuwe status te leef! Dis ’n lewenslange proses en word heiligmaking genoem. Dit beteken die afsterwe (afleer) van die ou sondige lewensstyl en die aanleer van ’n nuwe lewensstyl wat volgens God se wil is. Die genade wat ons ontvang het, stel ons onder ’n verpligting om drastiese aanpassings te maak. (Romeine 12:1-2) Dit beteken dat ons nie meer gelykvormig aan die wêreld se norme sal leef nie, maar toelaat dat God ons denke verander om sy wil te gehoorsaam. Heiligmaking is ’n harde daaglikse stryd (opleidingsproses), waarby ons aktief betrokke is. (Vryspraak is iets wat ons net ontvang deur die geloof, ons kan geen bydra daartoe lewer nie.) In heiligmaking is ons hele menswees betrokke. Nie net my wil nie, maar ook my liggaam. Ek moet selfs my voete gebruik om weg te vlug van die kwaad! (2 Timoteus 2:22) Heiligmaking behels dat ek verkeerde dinge in my lewe met wortel en tak sal uitroei en ’n nuwe lewensstyl sal najaag! Lees gerus Kolossense 3:5 en verder. Ek moet nuut word, nie net in my denke nie, maar in al my optrede en verhoudings met ander. Die Heilige Gees, wat in elke kind van God woon (Rom 8:9) gee my die krag om ’n einde te maak aan die sondige praktyke in my lewe. (Rom 8:13)

Vryspraak en heiligmaking gaan onlosmaaklik saam. Heiligmaking is die noodwendige gevolg van vryspraak! Wie werklik die vryspraak beleef het, sal erns maak met heiligmaking! As iemand beweer om ’n vrygespreekte te wees en geen tekens van heiligmaking toon nie, moet daar ernstige vrae gevra word.

Die basis van ons aanvaarding by God is egter altyd ons vryspraak op grond van Jesus se genoegsame sterwe (wat volmaak is) en nie ons heiligmaking (wat onvolmaak en nog aan die gang is) nie! Die straatkind is 'n prins, nie omdat hy nou opgelei word om soos 'n prins te leef nie, maar omdat die koning hom reeds kwytgeskel en aangeneem het! Omdat hy alreeds volledig 'n prins is, moet hy nou geleer word om waardiglik soos 'n prins te leef!

Kind van God, die Koning is vir jou ontsaglik lief! En as Hy jou partykeer hard moet aanspreek of jy wil moedeloos raak, onthou net : Jy is ’n paleisprins in opleiding!

Donderdag 09 Februarie 2012

GOLIAT HET REEDS GEVAL

- dis werklik GOEIE NUUS!

(Maak jou Bybel oop by 1 Samuel 17)

Ons ken die verhaal van die jong skaapwagterseun wat die reus verslaan so goed, dalk het dit al bietjie vaal geword. Ek wil jou verseker en waarborg hier is heerlik verrassende goeie nuus. Ek sê doelbewus “verrassende” nuus, want die meeste mense het nog nooit die werklike goeie nuus hierin raakgesien nie. Vir baie is hierdie verhaal bloot net ̕n vroom voorbeeld van ̕n gelowige wat met God se hulp ̕n groot probleem oorkom het. Nee, dit gaan oor baie meer!

Kom ons bekyk die toneel van die slagveld. Sien die prentjie, voel die spanning, die afwagting! Die linies van die twee leërs op die teenoorstaande rante. Net ’n smal vallei wat hulle skei. Hierdie toestand gaan al vir 40 dae aan. Die vyand het ‘n ongemaklike greep gehad op God se beangste volk.

Dan betree die jong Dawid die verhoog....ons weet wat het toe gebeur...toe verander als! Ek wil net vier aspekte uitlig wat belangrik is vir die verstaan van die boodskap:

 

1) Baie belangrik! Wie is die Dawid, wat skielik hier op die slagveld verskyn? Uit hoofstuk 16 is dit duidelik, Dawid was nie maar net ‘n besonder gelowige skaapwagter nie. (Dis nie wat hom uniek maak nie, daar was sekerlik ook ander skaapwagters wat God geken het.) Dawid was iemand spesiaal. Hoekom? God het Samuel gestuur om een van Isaï se seuns as koning te salf in Saul se plek. Dawid was wel jonk, in almal se oë onbelangrik, maar hy was God keuse. Ons lees : “Die Gees van die Here het kragtig in hom gewerk.” (1 Sam 16:13) God se keuse, God se man, meer nog God se Gesalfde! Dawid was verseker ’n gelowige maar hy was terselfdertyd baie meer as net nog ’n gelowige Israeliet. Dawid is God se Gesalfde en Gestuurde. Gestuur om die hele volk te bevry! Hier is die sleutel vir die verstaan van die verhaal. Bo alle twyfel staan dit vas : Dawid is ’n voorbeeld van Iemand wat groter is as hyself. Die Nuwe Testament herinner ons herhaaldelik : Jesus is die Seun van Dawid, gebore in Betlehem, die stad van Dawid. Jesus is immers die Christus (Gesalfde in Grieks)

2) Waaroor gaan die stryd? Wat is op die spel? (17: 8-10) Dit gaan oor die voortbestaan van God se uitverkore volk in hulle beloofde land! Wen Goliat - word die Israeliete slawe, wen Dawid dan is God se volk vry om in hulle land te woon. Die volk se toekoms en welsyn is hier op ’n mespunt gebalanseer. Net een geveg, maar met verreikende gevolge. Groot ellende of groot blydskap. Vryheid of verslawing! En veral het dit gegaan oor God se eer en God se beloftes. (17:26) Dit gaan nie bloot oor Israel as ’n volk nie - Israel was Gód se volk, Dawid verwys na hulle as die linies van die lewende God! Die stryd gaan dus oor God se belange - dis nie bloot ’n konflik tussen twee etniese groepe nie, dis nie ’n persoonlike relletjie tussen ’n reus en ‘n skaapwagter nie!

3) Wie het die verlossing bewerk? (Vers 45-50.) Ons is geneig om te sê : “Wow, hierdie Dawid kon slingervel gooi! Dis om die punt te mis. Hier is iets groter as Dawid se bedrewenheid met ’n slingervel. Ons moenie fokus op Dawid nie, maar op God wat ’n bomenslike wonder bewerk. Dit was God wat sy gesalfde, Dawid as instrument gebruik het. Die hele oorwinning is ’n Goddelike ingryping ten behoewe van sy volk! God verlos sy volk. En die manier hoe Hy dit doen is so belangrik - nie deur ’n magtige vaardige krygsman nie, maar ‘n veragte jong seun, heeltemal ontoereikend toegerus volgens menslike standaard. Hy moes die smaad en spot van ander verduur. Dawid was heeltemal onwelkom en is beledig ! (Vers 25-28) Klink bekend, nê? Ons het ook mos 'n Verlosser wat onwelkom was en bespot is!

4) Wat was die gevolge? Goliat delf die onderspit! Toe die Filistyne dit sien kies hulle die hasepad. (Vers 51-52) Toe hulle kampioen val, VLUG hulle! Goliat se nederlaag was ‘n beslissende moment (draaipunt.) Goliat se dood het ook ‘n ander gevolg. Dit spoor die Israeliete aan tot aksie. Hulle volg Dawid se oorwinning op, om af te rond en skoon te maak. Merkwaardige verandering! Die einste manskappe was kort tevore nog bang, moedeloos en radeloos. Nou skep hulle moed! Hoekom? Die beslissende slag is geslaan, God het ingegryp, die uitslag is nie meer in die weegskaal nie. Stel jouself die vreugde voor in die stede van Israel toe hierdie goeie nuus hulle bereik. Daar was benoudheid en angs. Nou kom die nuus dat Dawid die reus verslaan het! Daar word gedans en gesing en gejubel. (18:6-7)

Die groot Hervormer Martin Luther het dit so treffend raak gestel :

“Toe Dawid die groot Goliat verslaan het, het die Joodse volk die goeie rapport en bemoedigende nuus gekry dat hulle vreeslike vyand neergeslaan is en dat hulle verlos is en vreugde en vrede gebring is. En hulle het gesing en gedans en was bly daaroor.. So is hierdie evangelie van God in die Nuwe Testament ̕n goeie verhaal en rapport wat in die hele wêreld deur die apostels uitgebasuin is, wat ons vertel van ’n ware Dawid wat gestry het teen sonde dood en die duiwel en hulle oorwin het en so almal verlos het wat gevang was deur sonde, geteister is deur die dood en oorweldig is deur die duiwel."


In hierdie verhaal lê ’n kragtige hoopvolle boodskap opgesluit. Dit raak die sekerheid van ons VRYSPRAAK en die sukses van ons HEILIGMAKING!

Boodskap vir ons vryspraak/regverdiging. Jesus is ons Dawid wat reeds die oorwinning behaal het. Die evangelie is die rapport, die berig van hierdie oorwinning... Die evangelie sê nie jy moet dit of dat doen nie, Nee : DIT IS GEDOEN. ons moet dit glo en in dankbaarheid aanvaar. Sien Jesus, swak en onaansienlik in mense oë ..... Hy oorwin sonde, satan, dood en hel. Hoe so? Hy het ons straf gedra- ja, my eie sondes is reeds gestraf...as ek dit in geloof aanvaar het Satan geen mag meer oor my, die dood het geen verskrikking, en die hel is geen bedreiging meer nie!

Boodskap vir ons heiligmaking m.a.w. ons daaglikse stryd teen sonde. Ons is nie Dawid nie, Jesus is ons Dawid! Ons kan eerder vergelyk word met die volk, die manskappe van Israel. Omdat hulle geweet het die oorwinning is reeds behaal kon hulle met moed teen die oorblywende Filistyne veg. So kan ons daagliks met moed teen die sonde stry, omdat Jesus reeds ons verlossing bewerk het. Ons geveg is teen ’n vyand, wat alhoewel nog gevaarlik is, reeds verslaan is!


God het Dawid gebruik om Goliat te verslaan en die volk te bevry. God het sy Seun Jesus gebruik om die Satan vir eens en vir altyd te oorwin en so ons vryheid bewerk. Ek moet hierdie Goeie Nuus (evangelie) gelowig aanvaar, dan kan ek seker wees van my verlossing en met alle krag stry teen die oorblywende sonde!


Dinsdag 07 Februarie 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (4)

- Die groot VRAAG en die heerlike ANTWOORD!

(Maak gerus oop by Openbaring hoofstuk 7)

Almal stem saam dat ons antwoorde moet soek in die Bybel. Maar wat is die kernvraag? Ons moet seker maak dat die vraag wat ons vra ook die belangrikste vraag is en dit ons nie ons eie vrae (wat God dalk nie as belangrik beskou) op die Bybel afdruk nie. Dis regtig nie God se bedoeling om ons nuuskierighede oor Iran se kernprogram, China se weermagsterkte of Amerika se nuutste helikopters te bevredig nie!

Die KERNVRAAG wat God se Woord stel is : Hoe kan die onheilige sondaar aanvaarding vind by die heilige God?* Die antwoord daarop is die EVANGELIE : Op grond van Jesus se sterwe en opstanding! Deur Jesus se kruisdood het Hy die straf gedra en die opstanding het bewys dat God die straf as genoegsaam aanvaar het...

Ongelukkig is die meeste mense bekommerd oor die vraag: Hoe kan ek nou ’n gemaklike lewe op aarde en eendag ’n gemaklike lewe in die hemel hê? Dis waar die baie valse interpretasies van die Bybel hulle oorsprong het. (Soos byvoorbeeld die welvaartsteologie/prosperity gospel)

Die evangelie as antwoord op hierdie KERNVRAAG is ook die kernboodskap van Openbaring!

Openbaring gaan oor die evangelie!

Openbaring 7:13,14 definieer vir ons hoe mense gered word. (evangelie)

LW - hulle kom uit die verdrukking. Ons het verlede keer gesien verdrukking was ’n basiese bestanddeel van egte Christenskap. Dit verwys dus nie net na ’n sekere groepie Christene in ’n tyd wat nog moet kom nie... Onthou die oorspronklike lesers (lidmate van die 7 gemeentes) het die verdrukking alreeds eerstehands ervaar.

Wat maak hulle anders? Hoe is hulle gered? Hulle klere is gewas in die bloed van die Lam! Dit beteken :

Hulle is vrygespreek (geregverdig) en aanvaar deur God op grond van Jesus se plaasvervangende sterwe aan die kruis!

Die ou waarheid van Jesaja 53:5,6 word herbevestig! Vgl. ook 1 Joh 1:7; Hebr 10:19,22. Geregverdig, beteken dat ons in Jesus net so aanvaarbaar is voor God as Jesus self toe die stem uit die hemel gesê het : "Dis my Geliefde Seun in wie ek ’n welbehae het!" (Matt 3:7) Omdat Jesus die volle boete aan die kruis betaal het, staan elkeen wat in Hom glo, sonder skuld voor God!

Openbaring 7:1-8 gaan oor die verseëldes van God wat die wraak van God gaan vryspring. God se mense wat sy oordele gaan misloop en veilig gaan wees. Johannes sê nie dat God se kinders verdrukking gaan vryspring nie, maar dat God se kinders veilig gaan wees teen die finale “verdrukking” van God se oordele en wraak.

Belangrik : die twee groepe mense in Openbaring 7 is nie verskillende mense nie, maar dieselfde mense (God se kinders) vanuit verskillende hoeke gesien!

Die twee groepe is die 144 000 en die groot menigte

~ Die 144 000 (12x12x10x10x10) Dis baie duidelik ’n simboliese getal! Die 12 stamme van Israel m.a.w die gelowiges van die Ou Bedeling en die 12 Apostels as verteenwoordigers van God se volk in die Nuwe Testament maal 10 tot die mag drie. Tien is die volheidsgetal. Hierdie groep is nie etniese Israel nie, maar die volle getal van God se kinders wat veilig is teen die finale oordele en wraak van God! Nie een van God se kinders wat bedoel is vir die Koninkryk gaan kortkom nie! “The kingdom of God will not lack one member that belongs to its perfection” ** Elke plek wat Jesus gaan voorberei het (Joh 14) gaan gevul wees! God het sy uitverkore kinders se name reeds voor die skepping in die boek van die lewe geskryf! (Openb 13:8 vgl. Ef 1:4) Nie een van hulle sal kort nie!

~ Die groot menigte. Die tweede prentjie komplementeer die eerste. Die groot menigte lê die klem op die wydheid van die kerk uit alle volke en nasies! (Vers 9) Die kerk is universeel!

Die eerste prentjie lê die klem op die vaste getal, die feit dat nie een sal ontbreek nie! Die kerk word hier geteken as die strydende kerk op aarde. In stryd, maar veilig!

Die tweede prentjie - sê vir ons God se kinders bestaan uit ’n ryke verskeidenheid van mense! Die kerk word hier geteken as die seëvierende kerk in die hemel!

Die waarheid oor die ware kerk van Jesus moet ons troos en bly maak in alle omstandighede.

Ons is veilig. Ons gaan wel deur verdrukking, maar ons heerlike ewige bestemming staan vas. Ons is veilig teen die oordele van God. Ons ewige bestemming is oneindig seker en oneindig heerlik. Jesus se kruis en opstanding is die waarborg daarvan! Die bloed van die Lam maak die verskil! Volgende keer meer hieroor.

 

* Goldsworthy p191

** ibid p192