BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Seën. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Seën. Wys alle plasings

Vrydag 11 Januarie 2019

DEUR MOEILIKHEID

MET BLYDSKAP OP PAD NA 

VOLMAAKTHEID



Ons is nog nie klaar met die temas van voorspoed en seën nie. Ons het reeds twee belangrike dinge geleer oor geseëndheid : Elkeen IN Christus is ‘n geseënde. Die seën wat ons in Hom ontvang het is geestelike seëninge. (vergifnis, kindskap, die grootste seëning is dat die Heilige Gees in ons woon en ons ewige erfenis waarborg) Luister net weer na Efesiërs 1:3. * 

PROBLEEMVRYE LEWE?

Maar tog bly daar nou baie vrae in jou hart oor. "Ja, ek weet ek is ‘n geseënde in Christus, ek weet ek is vergewe, ek weet ek kan uitsien na die ewige heerlikheid. Maar wat van nou? Hoe raak my geseëndheid my alledaagse praktiese lewe?" (“Ag, Here ek dien U mos, U moet darem net sorg dat ek nie moeilikheid kry nie.”) Wat kan ons verwag van die lewe as geseëndes? 

Die brief van Jakobus kan ons baie help, dis 'n praktiese boek. Mens kan amper sê, Jakobus is die Spreuke van die Nuwe Testament. Kom ons kyk na Jakobus 1:2-8. Sommer met die intrapslag verstom hy ons…. Dit kom daarop neer : “Ag julleself gelukkig as julle baie moeilikheid kry!” (2) Het ons reg gehoor? Ja, ons het gehoor die seëninge is geestelike seëninge maar ons hoop tog maar op ‘n probleemvrye lewe wat rustig is en waar al ons planne sal uitwerk en alles sal goed gaan. Nou kom Jakobus en sê julle moet bly wees oor moeilikheid! Geseënde van God, jy kan moeilikheid verwag en meer nog, jy moet dit nie net verduur nie, jy moet daaroor bly wees! Regtig? JA! 

STANDVASTIGHEID EN VOLMAAKTHEID

Jakobus maak nie sommer net ‘n stelling in die wind nie, hy gee ‘n duidelike rede hiervoor. “want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming” (3,4) 

Moeilikheid is die pad na geestelike rypheid. Na volmaaktheid.** 

Maak Jakobus nie dalk ‘n fout nie? Kom ons kyk wat sê een van die ander NT skrywers, Paulus. Romeine 5:3-5. 

“Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.” Selfde storie! Moeilikheid en swaarkry kweek volharding en standvastigheid. Deur moeilikheid kom ons by ons einddoel uit. 

Wat is die volmaaktheid waartoe die volharding deur beproewing en toetse ons bring? Die NAB praat van geestelike rypheid, geestelike volwassenheid. Pasop om volmaaktheid te tegnies te verstaan en dan sommer maklik die verskoning te gebruik dat niemand in elk geval volmaak kan wees nie. 

Wat is dit? Dis ‘n lewe van wysheid. Goddelike wysheid. Wat is wysheid? Jakobus sê vir ons. Jakobus 3:13-18. 

“Is daar ‘n wyse en verstandige mens onder julle? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig. 

Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie. 

Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, demonies, 

want waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade. 

Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. 

Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.” 

God gebruik moeilikheid om jou ‘n volwasse lewe van wysheid te bring. Hy gáán dit doen. Hy doen dit met elkeen van sy kinders. 

WYSHEID EN GEBED

Hoe gebeur dit prakties? Hoe lei moeilikheid ons na volwassenheid en wysheid? Te midde van die moeilikheid moet ons BID! Moeilikheid, versoekings en beproewings en aanvegtinge dwing ons op ons knieë. “As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid.” (5:13a) Bid vir wysheid. Hier kry ons ‘n heerlike belofte. God gee wysheid aan diegene wat Hom vra. Onthou net weer wat is wysheid – Dis ‘n radikale nuwe lewenshouding. “Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg.” (3:17) 

Hier is net ‘n belangrike voorwaarde vir gebed. Geloof. Wat bedoel hy met geloof? Is dit hierdie spoggerige selfversekerdheid dat ek als sal kry waarvoor ek vra? Nee. Hy kontrasteer geloof met dubbelhartigheid. Die woord wat die NAB met "altyd aan die twyfel" vertaal is dubbelhartig- diyucoV, (letterlik dubbelsiel) Hoe lyk ‘n dubbelhartige persoon? "Ek sal die Here probeer en maar kyk of dit werk, ek sal godsdiens probeer maar as dit nie vir my die regte resultate lewe nie, dan los ek dit." Dubbelhartigheid is om al my opsies oop te hou. Ware geloof sê : "Here, ek vertrou op U al moet ek ook vergaan!" Die dubbelhartige persoon probeer orals inpas. Op twee stoele sit. Tussen die kerkmense praat ek asof ek die Here ken en ek gebruik die regte woorde… Tussen die wêreldlinge dan gebruik ek weer ‘n ander woordeskat… Dubbelhartigheid is die grootste enkele rede waarom mens nie geestelike vordering maak nie! 

Vir dubbelhartiges het Jakobus net een raad. “Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.” (4:8-10) *** 

Voorspoed en seën vir ‘n kind van God beteken nie ‘n probleemlose lewe nie, dis vol toetse en beproewings. Dis God se opvoeding om my geestelik volwasse te maak sodat ek met wysheid kan leef in hierdie wêreld. Hierdie wysheid kry ek as ek biddend God daarvoor vertrou met ‘n onverdeelde hart! 

Gaan lees Jakobus ‘n slag biddend deur. Hierdie eerste paragraaf is die inleiding en hy werk die temas wat hy hier aanraak verder in detail uit. Temas soos beproewings, wysheid, geloof, gebed en volharding. 

Kom ons sê dit weer :

Moeilikheid is deel van ‘n kind van God se lewe. Moeilikheid moet ons nie moedeloos maak nie. Dit moet ons bly maak, want dis God se pad vir ons na geestelike rypheid! Dis ‘n pad wat ons gelowig biddend moet stap! 



*Vir die bespreking van Efesiërs 1:3-14, kliek op GESEËNDES 

**Grieks - teleioV

*** “huigelaars” in die NAB is die vertaling van diyucoi ("dubbelhartiges" - OAV)

Hugenote monument, Franschoek.

Sondag 06 Januarie 2019

PROFIEL VAN ‘N GESEËNDE

- Is jy seker dat jy ‘n geseënde is? 


Ons wens mekaar graag ‘n geseënde of voorspoedige nuwe jaar toe. Wat beteken dit? Vir ‘n kind van God beteken dit Goddelike seën. Goddelike seën is om die goedheid en guns van God te ervaar. Maar wat impliseer dit nou prakties vir ons in die alledaagse lewe van swoeg en sweet? Dis alles belangrike vrae... En baie persoonlik, is jy 'n geseënde, of wonder jy? Voel jy dat jy dalk eers 'n bankstaat moet trek of die uitslag van 'n onlangse mediese toets moet nagaan...? (Terloops, ek vermoed daar is sommige wat dink hulle is geseënd, maar nie is nie, en ander wat nie geseënd voel nie weens een of ander rede, maar inderdaad wel geseënd is!) 

Wie is geseënd en wie is nie? Hier is dit baie belangrik om die verskil tussen die ou en nuwe bedelings te verstaan. Die tyd voor en na Christus. Wie hierdie onderskeid en konteks nie ernstig opneem nie gaan in diep slaggate en dwalings val. Dis onder andere die dwaling van die Prosperity Gospel. (Wat trouens geen gospel is nie!) Hierdie mense maak oorvereenvoudigde en direkte afleidings sonder om die heilshistoriese konteks in ag te neem. Daar word so maklik gesê – “Abraham was geseënd en die Here het hom ryk gemaak” – so as die Here jou seën gaan jy ryk word. Nog ‘n prominente Skrif wat mens baie hoor is Deut 28:1-14. Veral vers 13. “En die HERE sal jou die kop en nie die stert maak nie, en jy sal net boontoe en nie ondertoe gaan nie as jy luister na die gebooie van die HERE jou God wat ek jou vandag beveel om te hou en te doen,” (Deut 28:13) Die implikasie, so word gesê is dat dit met God se kinders baie goed sal gaan op liggaamlike en finansiële gebied. Jy moet Hom net gehoorsaam – veral om tiendes te gee sal die Amerikaanse TV evangeliste beklemtoon! Jy sal dan in als eerste wees – die kop en nie die stert nie! Jy gaan eerste in die ry staan as geluk en goud uitgedeel word... Is dit regtig so? 

Kom ons kyk eerlik na die Bybelse gegewens. Ongetwyfeld is daar in die ou bedeling ‘n sterk klem op sigbare materiële seëninge! Dit staan beslis voorop in ‘n gedeelte soos Deuteronomium 28. (Natuurlik is daar wel voorbeelde in die Ou Testament van God se gunsgenote wat baie swaar gekry het... Dink maar aan die arme Jeremia of die boodskap van die boek, Job!) Oor die algemeen vind ons egter die gedagte in die ou bedeling dat dit goed sal gaan met God se gehoorsame mense. Veral met die verbondsvolk as geheel in terme van 'n lang en gelukkige lewe in die land wat God hulle gegee het. Gelukkig onder jou vyeboom en wingerd!

Maar dit bring mens by ‘n hele klomp moeilike vrae as ons by die Nuwe Testament kom. Was Paulus dan ‘n geseënde – hy vertel van honger en naaktheid en ‘n doring in die vlees? Wat van die ontvangers van die Hebreër brief wat juis hulle besittings verloor het weens hulle geloof? (Hebreërs 10:34) Wat van al die martelare deur al die eeue, wat nie net hulle goed nie, maar ook hulle lewens verloor het weens hulle Christenskap? Wat van Jesus self? Hy het nie eers eiendom besit nie en sy lewe was vol lyding en smart? Was Hy geseënd?

GEESTELIKE SEËNINGE 

Kom ons kyk wat sê Paulus oor geseënd wees in Efesiërs 1:3-14. Ons begin as vertrekpunt by vers 3. Die OAV praat van “geestelike seëninge.” Ook die DVL vertaal dit so. “Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus. Dit is Hy wat ons in Christus geseën het met elke geestelike seëning in die hemel.” 

As ons na hierdie gedeelte kyk en in die Nuwe Testament as geheel sien ons ‘n duidelike klemverskuiwing. In die konteks van die Nuwe Verbond is die fokus inderdaad op geestelike seëninge. Jesus beloof nêrens aan sy volgelinge ongekwalifiseerde rykdom en gerief nie, juis die teendeel. “Neem julle kruis op en volg my.” Juis, “Kies teen jouself en jou belange!” 

Beteken dit nou dat God in die nuwe bedeling glad nie meer omgee vir ons gewone bestaan as mense nie? Natuurlik nie. Jesus leer ons ongetwyfeld dat ons kan bid vir daaglikse brood, dus daaglikse versorging, maar dis nie waar die klem val nie. 

Die beste as ons wil weet wat Paulus hier met seëninge bedoel is natuurlik om in die konteks self te kyk. Hy brei uit op wat hierdie geestelike seëninge behels. Kom ons kyk na ‘n paar aspekte. Ons kry hier as’t ware ‘n profiel van ‘n geseënde! (Maak oop jou Bybel en kyk saam in Efesiërs 1) 

‘n Geseënde het genadige en onverdiende seën ontvang. God het ons daartoe uitverkies voor die wêreld geskep is. (4) Ons kan dus geen bydrae lewer tot hierdie seën of daarvoor kwalifiseer nie. Ons kan dit nie met tiendes “koop” nie! Dis sy besluit, sy voorneme. (9,11) Dis inderdaad net genade. (5) ‘n Geseënde is dus ‘n begenadigde uitverkorene volgens God se besluit. Alle uitverkorenes is geseëndes! Alle geseëndes deur God is uitverkore! 

‘n Geseënde het spesifiek die geskenk van vergifnis en verlossing ontvang. Kan daar beter nuus wees vir 'n sondaar wat skuldig staan voor God? (7) Die doel is sodat ons onberispelik en heilig voor Hom kan wees. (4) LW – dis ‘n duidelike geestelike doelwit. Nie aardse gerief en gemak nie, maar hemelse gereedheid! 

‘n Geseënde het die Heilige Gees ontvang as waarborg van kindskap en erfgenaam wees. (13,14) n Geseënde is dus ‘n kind en ‘n erfgenaam van God en dit sê ALLES! Met ander woorde God is jou Vader en jy erf als by Hom! Vir ewig kan jy niks kortkom nie! Hiervan oortuig die Heilige Gees wat nou in jou woon jou – Hyself is immers die klimaks van God se seëninge! Watter groter seëning sou daar kon wees as die Gees van die Lewende God wat in my as swakke mens woon? 

‘n Geseënde is elkeen wat IN Christus is. Dis die kernwaarheid. (kyk weer na vers 3) Hier word die lyn getrek, hier kom die verskil. In Christus is jy geseënd en ontvang jy al God se guns. 

Buite Christus is jy nie geseënd nie en bly jy ‘n voorwerp van Goddelike toorn! 

Kyk ook weer na vers 13! Hierdie waarheid is so duidelik ook in Galasiërs 3:13-14. “Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: "Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is."Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het.” Jesus het ons straf gedra. Die vloek wat die oortreding van die wet oor ons gebring het is uitgewis. In Jesus is ek dus nie meer ‘n skuldige vervloekte nie, maar ‘n geseënde. Ek kry nou deel aan die seën wat reeds aan Abraham beloof is. Aan Abraham is drie dinge beloof : ‘n land, ‘n nageslag, en dat die Verlosser van alle nasies uit hom sou voortkom. As ek aan Jesus behoort, IN Christus is – erf ek die ewige Kanaän, ek is deel van God se uitverkore volk, die Verlosser is nou ook my Verlosser! Dit is alles dinge wat verby hierdie huidige sigbare werklikheid strek...

Pasop! Selfs ook ons wat nie aanhangers van die Welvaartsevangelie is nie, trap in die slagyster om God se seëninge primêr aan materiële en sigbare welvaart te koppel! 

Die groot punt is : 

As jy in Jesus is, is jy ‘n geseënde, ‘n uitverkore begunstige!

Aan die anderkant... As jy los van Jesus is, staan jy onder die vloek en toorn van God al is jy blakend gesond en besit jy die helfte van Clifton en Kampsbaai...al het jy die mooiste persoonlikheid en vriendelikste geaardheid! Jy is sonder hoop en sonder uitsig, nou en vir ewig! 

Is jy ‘n geseënde? Dis nie ‘n onsekere saak of moeilike vraag om te antwoord nie. 

As jy aan Jesus Christus behoort en die Gees in jou woon is jy ‘n geseënde ongeag jou omstandighede. Jy is ‘n geseënde te midde en ten spyte van daardie siekte, swaarkry of smart wat jou op die oomblik teister! Hierdie wete maak dat ons 2019 met positiewe verwagting en vertroue kan ingaan. 

ONTHOU OM DIE HERE TE PRYS! Dis immers waartoe Paulus ons wil oproep in Efesiërs hoofstuk 1.

Geseënd wees gaan oor baie meer as net 'n paar lekker dinge wat God ons gee om te geniet. Dit gaan oor ons nuwe status IN Christus!