BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Vrede vir 2020. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Vrede vir 2020. Wys alle plasings

Donderdag 02 Januarie 2020

NOOIT LAAT NIE!


JA, JESUS IS NOOIT LAAT NIE – GLO EN HOU OP VREES! 



TYD


Tyd speel ‘n deurslaggewende rol in ons lewens. Ons kan nooit wegkom van tyd nie. Ons aardse lewens is onlosmaaklik verbonde aan tyd. Ons hele lewe word ingedeel deur tyd en geregeer deur tyd. Die sekondewyser staan nooit stil nie. Elke uur en elke dag kry ons net een keer. Verlede jaar 2019 is onherroeplik verby! En die onbekende 2020 hardloop reeds met ‘n spoed! Ons word beperk deur tyd en tydsindelings- deur vervaldatums, afsnydatums, sluitingsdatums en uiteindelik ’n sterfdatum! 

Hoe het Jesus met tyd gemaak? Jesus is waarlik mens. Hy is gebore as mens. Ook die beperkings van menswees is deel van Hom – Hy word honger, moeg, Hy kon net op een plek wees… As mens was Hy ook in ‘n sin beperk deur tyd en ook Hy het ’n sterfdatum gehad. En tog, was Hy nooit laat nie! * Hy het die beperkings van tyd oorkom. Hy sal ook nooit te laat by jou kom nie! Hierdie tweedelige ineengevlegte genesingsberig in Lukas 8 demonstreer dit so duidelik. 

Jesus is altyd betyds en op die regte tyd op die regte plek – al dink mense nie so nie. Al voel ons beslis nie altyd so nie.

Ons sien dit so duidelik in Lukas se beskrywing van hierdie twee wonders in Lukas 8:40-56 – die genesing van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het en die opwekking van Jaïrus se dogtertjie uit die dood. Onthou net – Jesus se wonders was bedoel om te demonstreer dat Hy mag het, Goddelike mag om die vloek en onreinheid van die sondeval om te keer. 

Beide die vrou en die dogtertjie het gely onder die gevolge van die sondeval en die gevolglike vloek wat die wet meebring. Volgens die Mosaïese wette was hierdie vrou permanent in ’n toestand van onreinheid. (vgl. Levitikus 15:19-28) Dit verklaar haar skaamte. Ook die dogtertjie was in ’n sin onrein, sy was ’n lyk en volgens die wet van Moses mag ’n priester byvoorbeeld nie aan ’n lyk geraak het nie. Dit sou hom onrein maak. (Levitikus 21:1) 

TWAALF JAAR

Dis opvallend dat in beide die vrou en die dogter se geval die getal van twaalf jaar ’n rol speel. Sien vers 42 en 43. Mens kry die indruk dat Lukas dit doelbewus wil uitlig. Dit sê iets van die erns en hartseer van beide die vrou en dogtertjie se situasies. ‘n Paradoks. Vir die dogtertjie was 12 jaar te kort – sy het nog nie genoeg tyd gehad om groot te word en te lewe nie – 12 jaar se tyd was te min. Vir die vrou was 12 jaar te lank. Die siekte het ’n te groot tyd van haar lewe gesteel. Van die dogtertjie sou mens kon sê : “Hoekom so kort! Waar was die Here?” Van die vrou : “Hoekom so lank? Waar was die Here?” 

ONGEDULDIG, MOEDELOOS, BANG...?

Jy worstel dalk ook met dinge in jou lewe waarvan jy wil sê: “Here hoekom so kort? Waar is U? Here, hoekom so lank, waar is U?” Die troos is dat Jesus altyd daar is vir jou op die regte tyd en op die regte plek. Ja, ons verstaan nie sy tyd nie, ons verstaan nie sy plan met ons nie. Dikwels sou ons dinge anders of vinniger wou gehad het. Maar Hy is nooit laat nie. Hy weet wat Hy doen. Ons raak ongeduldig, moedeloos, beangs, paniekerig... Dink hoe moedeloos moes hierdie vrou wees na 12 jaar... Dink hoe beangs en benoud moes Jaïrus wees oor die vertraging... Dit lyk of Jesus te laat by sy kind gaan opdaag! Terloops, dit lyk asof Jesus doelbewus toegelaat het dat sy gaan na Jaïrus se kind vertraag was. In die geval van Lasarus se dood was dit nog duideliker... Hy het Hom glad nie gehaas na Lasarus nie en vier dae “laat” gekom! (Lasarus was toe al in sy graf) Volgens menslike beskouing het die vertraging in tyd wat deur die vrou se genesing veroorsaak is, gemaak dat Jesus te laat by Jaïrus se dogtertjie gekom het. En tog was Jesus presies betyds, betyds om God op 'n baie groter manier te verheerlik as wat die geval sou wees as Hy vroeër daar was en genees het. Nou toon Jesus dat Hy mag het, selfs oor die dood! 

Jesus was elke keer presies betyds om redding te bring en op so ’n manier dat God geëer is! 

Kom ons weet hier aan die begin van 2020: 

Jesus bring hoop vir sondaars in nood. Ons grootste nood is die sonde en natuurlik die gevolge van sonde. Jesus kom verlos ons van beide. Hy vergewe, reinig en verlos nou reeds. Eendag by die wederkoms sal alle gevolge en letsels van die sonde uitgewis word. 

Jesus in sy reddingswerk is nooit beperk nie. Hy is nooit laat nie! Jesus se genade en krag om sondaars aan te raak kan nie deur tyd en omstandighede ingeperk word nie. Jesus is die Here. Die Here ook oor tyd, oor moeilike omstandighede, Hy triomfeer oor ons beperkings en gebreke, ja oor al die ellendes van 'n stukkende wêreld. Hy stel diegene wat na Hom soek en na Hom roep (soos die vrou en  Jaïrus) nooit teleur nie!

Omdat Jesus se almag groter is as die beperkings van tyd, groter is as die mag van sonde en dood hoef ons nie moedeloos, bang en paniekerig te wees nie. Jesus se almag en juis sy liefdevolle almag roep ons op tot geloof. Mag sy gerusstellende woorde aan die bekommerde en angstige Jaïrus ook rus en vrede in jou en my harte bring... vers 50! “Moenie vrees nie. Glo net, en sy sal gered word.” ** Met hierdie woorde sê Jesus : “Vertrou my , want ek is in beheer, ek is nooit laat nie, my mag is onbeperk...”

Laat jou geloof tot aksie oorgaan – Kom na Hom met jou diepste nood en vertrou Hom! Vertrou Hom al pas Hy nie by jou tydskema in nie. Vertrou Hom, HY IS NOOIT LAAT NIE!





*Erkenning aan Paul Every. Oordenking op YouTube by MMM297
** “gered word” -  swqhsetai in Grieks



Woensdag 01 Januarie 2020

VIR 2020 : Johannes 20

Jesus se nuwejaarsboodskap - ontvang onverdiend die gawe van vrede, maar ook die opdrag om die vrede uit te deel…



Dit gaan nie goed met Jesus se dissipels hier in Johannes 20:19-23 nie. (Dalk ook nie met jou hier aan die begin van die nuwe jaar nie?) Sedert Jesus se indringende gesprekke met hulle in die bokamer voor die kruisiging het baie dinge gebeur. Hulle moes sien hoe Jesus voor hulle oë verneder en bespot word en hoe Hy ‘n grusame marteldood aan die kruis sterwe. Erger nog, hulle het Hom in die steek gelaat en voel seker baie skuldig en vol selfverwyt. Hulle het misluk as volgelinge, misluk in geloof en vertroue. Hulle is onseker, bang, vol vrees... (daarom is hulle hier weggekruip agter geslote deure) Dit lyk asof hulle die troos en opdrag wat Hy hulle voor sy kruisiging in Johannes 14:1 heeltemal vergeet het. 



“VREDE VIR JULLE!”

Maar nou kom die opgestane Jesus weer op sy inisiatief na hierdie jammerlike mislukte groepie toe. En merkwaardig, Hy kom nie met verwyte en beskuldigings nie, Hy kom nie met harde woorde en strafaankondigings nie. Hy kom met ‘n positiewe helende boodskap. ‘n Boodskap wat hoop en herstel bring : “Vrede vir julle!” Dis meer as net ‘n gewone groet. Dit sien ons uit die feit dat dieselfde woorde in vers 21 herhaal word. Jesus vervul ook hier ‘n belofte wat Hy voor Sy kruisiging gemaak het. (14:27; 16:33)

Jesus kom gee ook opnuut sy vrede hier aan elkeen van ons wat ‘n dissipel is aan die begin van die jaar 2020. 

En dis so wonderlik, Jesus se vrede is nie ‘n beloning wat Hy gee vir supermense nie. Nee, Jesus deel vrede (vergifnis, vernuwing, 'n skoon gewete) uit aan juis skuldige, stukkende en sondige mense soos ons, want Hy het aan die kruis ons skuld, skande en sonde reeds uitgewis! 

Hy identifiseer Homself baie duidelik as die Gekruisigde! Hy het hulle sy deurboorde sy en hande pertinent gewys. (20) Ja, die Opgestane Here is Niemand anders as die Offerlam van God nie! Dis juis die einste weersinwekkende en afgryslike kruisgebeure wat die basis is van die vrede wat aan die dissipels hier toegesê word. Sy bloed was die prys waarmee ons vrede gekoop is!  Ons Koning en Heer het sy lewe vir ons as bevrydingsoffer gegee! Ons skuld voor God is finaal uitgewis aan die kruis! Daarom en net daarom is ons nie nou ontvangers van straf nie, maar van vrede!

“...SO STUUR EK JULLE”

Jesus gee aan elkeen wat Hom in die geloof aanvaar sy vrede. (Ja, al verdien ons dit hoegenaamd nie – nes hierdie dissipels) Maar dan gaan Hy verder. Hy gee die opdrag : “Soos die Vader My gestuur het stuur ek julle.” Is dit nou nie weereens verbasend nie? Die groepie wat misluk word weer uitgestuur! Ons sou dalk redeneer, "nee wat julle het julle kans gehad en dit verbrou." Jesus se vrede en vergifnis is so volledig, Hy skenk nie net vergifnis nie, maar vertrou hulle met 'n nuwe opdrag! En dis 'n geweldige opdrag in omvag en belangrikheid :  Ons moet Jesus se bediening van vrede en vergifnis verder neem. Jesus se taak gaan voort via sy dissipels. 

Ons gaan aan met Jesus se werk. 

Met sy missie! Dis nie ‘n nuwe vreemde gedagte nie. Jesus het reeds daarvan melding gemaak in sy hoëpriesterlike gebed nog voor die kruisiging. “Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur;” (Joh 17:18) 

Hierdie gestuur wees het ingrypende implikasies vir my en jou. Om ‘n gestuurde te wees beteken om die opdragte en wense te gehoorsaam van die Een wat jou gestuur het. Jesus se opdragte moet van nou af eerste in ons lewens wees. (ek is nie meer my eie baas nie) As gestuurdes moet ons voorbereid wees op lyding en verwerping (selfs in ons eie families), net soos Jesus as Gestuurde van die Vader gely het en verwerp is. Maar as gestuurdes kan ons ook weet, wag daar ‘n heerlike beloning van die Vader, net soos Jesus beloon is.

Is jy ‘n onverdiende ontvanger van Jesus se vrede? Onthou dan hierdie jaar, jy is ‘n gestuurde. Sien jouself as ‘n gestuurde gemeentelid en nie net as ‘n ontvanger of passiewe toehoorder nie. En natuurlik die eerste groep mense waarheen ons gestuur word is ons eie huismense. Juis daar moet ons die boodskap van vergifnis en vrede uitleef en toepas. Maar ons word ook verder gestuur – werksmense, mense van ander kulture, binne ons landsgrense en ook buite ons landsgrense, soos die Here deure sal open. 

Ja, ons is stukkende gebroke mense – net soos die dissipels, maar dis juis na mense soos ons wat Jesus kom en ons bemoedig, troos, maar ook uitdaag met sy groet : “Vrede vir (jou) julle!” Dis mense soos ons wat ook uitgestuur word.

Jesus gee nie opdragte waarvoor Hy ons nie toerus nie. Johannes 20:22 is ‘n simboliese handeling van die bekragtiging van die Gees wat sou kom. “Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: "Ontvang die Heilige Gees!” En die Gees het tydens Pinkster gekom en is tot beskikking van elke kind van God. Die boodskap waarmee ons gestuur word is niks anders as die evangelieboodskap nie. Die kruisboodskap. Want daar het God self deur die offer van sy Seun vrede bewerkstellig. Oor hierdie boodskap mag en kan jy nie stilbly as jy self vrede ontvang het nie.


Ontvang die vrede wat Jesus ook hier in die begin van die jaar 2020 uitdeel, aan mense wat waarlik in Hom glo, maar juis ook aan mense vol mislukkings, foute, vrese... en gaan deel dit uit...

En is jy dalk glad nie 'n dissipel nie? Wel, Hy nooi jou, juis  deur die boodskap waarmee Hy hulle uitgestuur het.

By die Spitskoppe