BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Mensevrees. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Mensevrees. Wys alle plasings

Woensdag 10 Oktober 2018

ESEGIËL EN DIE SEISOEN VAN LUISTER


[Sekere teoloë en predikante in die NG Kerk verwys baie graag na die seisoen van menswaardigheid wat in die kerk afgekondig is. Dis onder andere ‘n seisoen van luister na die mens… Ek het ‘n ernstige vraag oor die eensydige beklemtoning en toepassing van hierdie beginsel, veral in die gay debat en goedpraat van dinge wat uitdruklik vir die Here 'n gruwel is. Vir ‘n gebalanseerde perspektief sal dit dalk baie gepas wees om te gaan kers opsteek by die roepingsgeskiedenis van die profeet Esegiël.] 



GEROEP AS WAG 

Esegiël ontvang ‘n roeping van God self. (Kyk gerus na Esegiël hoofstuk 2 en 3) Esegiël is deur God aangestel as ‘n wag vir die volk. 

Hierdie roeping is ‘n baie ernstige saak. Die taak van ‘n militêre wag was destyds om op die stadsmuur te staan en uit te kyk of ‘n vyand aankom. As daar dan gevaar op pad was moes hy op die basuin blaas om die mense te waarsku. (vgl. Eseg 33:1-6) Dit was uiteraard ‘n uiters verantwoordelike werk, dit kon die verskil tussen lewe en dood maak vir die mense in die stad! Nalatigheid aan die wag se kant kon natuurlik ook skrikwekkende gevolge vir homself inhou – teregstelling! 

Die taak wat Esegiël van God ontvang is eweneens om mense te waarsku. 

Dit het ‘n dubbele fokus gehad: 

Goddeloses moes gewaarsku word dat hulle onder God se oordele sou sterf as hulle hul nie bekeer nie. “As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe--en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose vir sy goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar as jy die goddelose waarsku, en hy hom nie van sy goddeloosheid en van sy goddelose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered." (3:18-19 OAV) 

Dis egter nie al nie! Regverdiges moet ook gewaarsku word om nie die regte weg te verlaat nie. "En as 'n regverdige hom van sy geregtigheid afkeer en onreg doen, en Ek 'n struikelblok voor hom gooi, dan sal hy sterwe; omdat jy hom nie gewaarsku het nie, sal hy deur sy sonde sterwe, en aan sy geregtigheid wat hy beoefen het, sal nie gedink word nie; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis." (3:20-21OAV) 

Net soos in die geval van ‘n militêre wag het die opdrag van God ook vir Esegiël persoonlik ernstige implikasies gehad. As Esegiël sy opdrag versuim, sal die skuldiges sterwe, maar God sal van hóm rekenskap eis! (18,20 OAV) “maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.” of “maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood.” (NAV) 

Esegiël moes besef, hier word geen ruimte gelaat vir skouers optrek nie, vir luiheid en laksheid nie, vir mensevrees nie... dis ‘n Goddelike bevel en as hy ongehoorsaam is gaan dit bitter ernstige gevolge vir ander sowel as homself inhou. 

AL SIT JY OP SKERPIOENE! 

Aan die ander kant as Esegiël gehoorsaam is, sal hy sy eie lewe red, of die mense nou na hom wil luister of nie! Trouens, die Here het Esegiël duidelik voorberei vir die moontlikheid dat mense nie na sy boodskap van waarskuwing sal wil luister nie. "Dit is moedswillige en hardkoppige mense na wie toe Ek jou stuur. Jy moet vir hulle sê wat Ek, die Here God, sê, of hulle luister of nie, want hulle is ‘n weerbarstige volk, maar hulle sal agterkom dat daar ‘n profeet tussen hulle is. En jy, mens, moenie vir hulle bang wees nie, ook nie vir wat hulle sê nie, al stuit jy op weerstand, op dorings, al sit jy op skerpioene. Moenie bang wees vir wat hulle sê nie, moenie vir hulle skrik nie. Hulle is ‘n weerbarstige volk." (2:4-6) 

(En is daar nie baie skerpioene in ons dag nie! ‘n Hele verskeidenheid van liberale teoloë, gay aktiviste en die bewakers van sogenaamde menseregte se angels is baie skerp...)


EET DIE BOEK! 

Wat ‘n geweldige taak, wat ‘n ontsaglike verantwoordelikheid! Gelukkig het God eers opleiding gegee. God self het die profeet voorberei. (2:9-3:4) Hy moes GOD se Woord sy eie maak! Dit word deur ‘n treffende metafoor uitgebeeld. “Die stem het vir my gesê: "Mens, eet wat voor jou is, eet hierdie boekrol en gaan praat met die mense van Israel. Ek het my mond oopgemaak, en die Here het my die boekrol laat eet.” (3:1,2) 

Hy moes na GOD LUISTER! (Hy moes nie eers by die mense hoor wat hulle graag sou wou hoor nie!) God bepaal die profeet se boodskap, nie die mens se begeertes, behoeftes, voorkeure of “oriëntasie” nie! Oor die inhoud van Esegiël se boodskap kon daar geen onduidelikheid wees nie! “Toe sê Hy vir my: "Mens, gaan na die mense van Israel toe en sê vir hulle wat Ek sê.” (3:4) 

Esegiël het ‘n intense seisoen van luister deurgemaak! Hy moes in die eerste plek na God luister! 

Esegiël het sy boodskap so by God gekry! Natuurlik het dit nie beteken dat Esegiël vervreemd en verwyderd was van sy gehoor nie. Hy het immers sewe dae tussen hulle gaan sit! (3:15) Sy boodskap het hy egter nie by die geleerdes en aktiviste van sy dag gekry nie, maar by GOD! 

DIE PROFETIESE TAAK VAN DIE NUWE TESTAMENTIESE KERK 



Wat is die implikasies van Esegiël se opdrag vir ons? Natuurlik het Esegiël in unieke tye en omstandighede opgetree, maar hier is duidelik ook tydlose beginsels wat na ons as Nuwe Testamentiese kerk deurgetrek kan word: 

Jesus self is God se finale profeet wat ons kom waarsku en opgeroep het tot bekering. Die amp van profeet is deur Jesus vervul en vervolmaak. So klink sy boodskap reeds helder aan die begin van sy bediening : “Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie." (Markus 1:14,15) Juis omdat Jesus sy profetiese taak met waarheid uitgevoer het en geen doekies omgedraai het nie, is Hy gehaat en verwerp! Hy verklaar : "Die wêreld kan vir julle nie haat nie; maar hy haat My, omdat Ek openlik verklaar dat sy dade sleg is." (Johannes 7:7)

Ons wat aan Jesus behoort moet nou Jesus se profetiese amp voortsit na sy hemelvaart. “"Vrede vir julle!" sê Hy weer vir hulle. "Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook." (Johannes 20:21) As gemeente gesamentlik maar ook as individue het ons die onontkombare profetiese roeping. Niemand, geen gemeente, geen gelowige durf hierdie Goddelike bevel ignoreer nie! Natuurlik gebruik Hy elkeen volgens sy eie gawes en persoonlikheid. 

Soos Esegiël moet ons nie ons eie boodskap of die samelewing se grille of giere verkondig nie, maar slegs God se Woord. By wyse van spreke; ons elkeen moet die boekrol eet! Ken jy die Woord? Die kerninhoud van die Woord is natuurlik Jesus Christus self. Ons hoofboodskap is dus : Bekeer jou tot die gekruisigde en opgestane Jesus en jy sal lewe, so nie sal jy sterwe! Jesus is hier om te red, maar pasop, moenie die duisternis so liefhê dat jy weier om na die Lig te kom nie! (Vgl. Johannes 3:17-21)* Ons profetiese roeping word gedefinieer deur die evangelie. Dis die Goeie Nuus van God se verlossingswerk deur Jesus, maar ons moet dit ook duidelik stel dat diegene wat die evangelie verwerp onder die toorn en wraak van God sal deurloop. 

Soos in die geval van Esegiël rus daar ‘n skrikwekkende verantwoordelikheid op ons. Ons profetiese roeping het te make met die ewige bestemming en lot van die mense na wie die Here ons stuur! God stuur jou met ‘n duidelike doel na mense en wat hulle met daardie boodskap gaan maak, gaan hulle ewige toekoms bepaal. 

Soos Esegiël sal ons verantwoording moet doen oor die uitvoering van ons profetiese opdrag! Dit klink asof die apostel Paulus baie bewus was van die erns van sy opdrag en dat hy hierdie opdrag aan Esegiël in sy gedagte gehad het te hy afskeid geneem het van die ouderlinge van Efese… “Daarom betuig ek aan julle op hierdie dag dat ek rein is van die bloed van almal. Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie.” (Handelinge 20:26,27 OAV) 

Ons elkeen wat waarlik aan Jesus behoort het ‘n profetiese roeping om die evangelie na ander uit te dra en mense uit te nooi om voor Jesus te buig. Die keersy van die evangelie, God se toorn moet ook verkondig word! Ook binne die kerk rus die verpligting op ons om te vermaan tot getrouheid en heiligmaking. Wat ons met hierdie roeping maak het ingrypende gevolge, vir die mense na wie toe ons gaan, maar ook vir ons self!



* God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 

Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. 

En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 

Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 

Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is."




Donderdag 16 Februarie 2017

KEUSE TEEN DIE PALEISLEWE!

- Geloof kies teen gerief en sonde, maar vir die beloftes van God!


Dis maklik om te sê : “Ja.” Dis maklik om te sê : “Ek glo.” Maar om geloof op die regte manier te bely vra meer as net woorde, dis ‘n voortdurende keuse en lewenslange toewyding. Om geloof te bely is ‘n nuwe leefstyl wat mens dikwels in die moeilikheid bring. Om geloof te bely is om ‘n daaglikse pad saam met die Here loop. 

Ons het ‘n groep mense wat openlik gaan bely dat hulle in Jesus glo. Dis ‘n baie groot geleentheid. Dis ook ‘n goeie tyd om te vra : “Hoe raak geloof my lewe op ‘n praktiese vlak?” Baie misverstande oor geloof – geloof help jou om nie siek te word nie, geloof maak dat jy meer reën kry, geloof maak jou besigheid voorspoedig... NEE! Kom ons kyk wat sê die Bybel. As ons oor geloof wonder is Hebreërs 11 natuurlik ‘n baie geskikte hoofstuk om te raadpleeg, want hier kry ons ‘n beskrywing van geloof in aksie. Geloof word vir ons op ‘n baie praktiese manier uitgebeeld soos dit gelyk het in die lewens van die geloofsreuse van die ou Testament. Ons lees hoe geloof gefunksioneer het in die lewens van Abel, Henog, Noag, Abraham... Hierdie geloofshelde het nie oor geloof gefilosofeer nie, hulle het geloof in God en sy beloftes prakties geleef. Een van die besondere geloofshelde was Moses. Kom ons kyk watter praktiese effek het geloof in sy lewe gehad na aanleiding van Hebreërs 11:24-28 :

~ Geloof bring Moses by radikale keuses. “Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter. Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê." (24,25) Ons ken mos die geskiedenis van Moses – die baba in die mandjie, die Egiptiese prinses... sy bevoorregte grootwordjare in die paleis. Dit het beteken dat Moses die gerieflike lewe van ‘n Egiptiese prins kon geniet. Al die rykdom, plesier en voorregte van die Egiptiese paleis was syne... Maar op ‘n stadium moes Moses kies : die gerieflike paleislewe of ‘n lewe saam met God se volk. Dit moes ‘n baie moeilike besluit gewees het. ‘n Mens kan jou indink hoe sy vriende of dalk selfs sy “prinsesma” by hom gepleit het. “Dink mooi Moses, besef jy wat gaan jy verloor as jy die paleis verlaat en jou by die verdrukte Israelitiese slawe gaan voeg ? Dan kan jy maar koebaai sê vir al die skatte van Egipte, die beskerming van die Farao, die plesier van die hoflewe, die mooi Egiptiese meisies...moenie dom wees nie, Moses. Onthou die Israeliete is slawe, saam met hulle gaan jy net swaarkry.” Maar omdat Moses God se beloftes geglo het, het hy ‘n keuse gemaak om die lewe van ‘n prins in Farao se paleis vaarwel te roep. Hy kies teen die tydelike verbygaande genot van sonde, hy kies vir ‘n lewe van swaarkry. Geloof in God en sy Woord bring jou by ‘n keuse teen sonde, want jy besef dat die plesier van sonde van korte duur is, maar die vreugde wat God gee vir ewig duur! 

GELOOF VEREIS ‘N KEUSE VIR EN KEUSE TEEN!

~ Geloof laat Moses ‘n nuwe waardasie maak. “Die smaad ter wille van die Christus het hy ‘n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het.” (26) Moses moes kies tussen rykdom en Christus. (Ja, Jesus Christus het natuurlik toe nog nie aarde toe gekom nie, maar ‘n keuse vir God se beloftes was mos ‘n keuse vir Christus!) Let mooi op - Hier in Hebreërs 11 kry die “Prosperity Gospel” ‘n uitklophou. Geloof in God en in Jesus wat sou kom, het nie vir Moses rykdom gebring nie, inteendeel dit het hom juis rykdom laat verloor. Moses kon baie ryk gewees het as hy soet en stil in Farao se paleis gebly het. Hy sou ook ‘n invloedryke persoon met mag en voorregte gewees het. Maar nee, hy gehoorsaam God se opdrag om die volk uit te lei en verloor al sy kanse vir rykdom en prestige. Hoe het hy dit reggekry? Hy het uitgesien na God se beloning! Geloof laat ons die onsigbare sien. (11:1) Dit maak dat ons meer waarde heg aan Christus en die ewige lewe wat Hy vir ons bring, as aan tydelike aardse ambisies, plesiere en rykdom. Geloof heg meer waarde aan God se beloftes as aan ons pelle se opinie! Geloof sien dit wat ander mense rondom jou nie sien nie. Geestelike realiteite weeg meer as sigbares! Ander mense dink, Jesus is maar vaal en vervelig. Maar die een wat glo, besef dat om Jesus te ken oortref alles in waarde. (Vgl. Filippense 3:8) Die ongelowiges kyk vas teen die plesier en rykdom van die wêreld. Die gelowige word gefassineer deur die heerlikheid van Jesus en die beloning wat Hy bring! Glo jy? Hoe kosbaar is Jesus vir jou? 

GELOOF LAAT JOU ANDERS KYK NA LEWE!

~Geloof bevry Moses van vrees en laat hom volhard. “Omdat hy geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien.” (27) God roep Moses basies om in opstand te kom teen die heidense koning en die volk uit te lei. Dis ‘n baie gevaarlike opdrag en kon enige tyd sy lewe gekos het. Deur geloof het Moses God gesien. Omdat Moses geglo het, was God en sy beloftes vir hom ‘n groter werklikheid as Farao en sy dreigemente. As ek regtig God se beloftes glo, dan volhard ek op die pad van heiligmaking al word ek gespot, uitgestoot of gedreig. Geloof bevry mens van mensevrees en menslike opinies sodat ek volhardend die Here kan gehoorsaam. Dit beteken dat as my vriende se sienings bots met God se Woord, dan kies ek eerder om God te gehoorsaam as om gewild of in te wees! Dis baie duidelik of iemand glo; die gelowige begin God se opdragte implementeer en sy wil eerste te stel. 

GELOOF BEHELS VOLHARDING

~Geloof bring Moses by ‘n vaste vertroue in God se beloftes. “Omdat hy geglo het, het hy die pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie.” (28) God het besluit om die eersgeborenes in Egipte uit te delg. Hy gee toe die opdrag deur Moses dat al die Israeliete ‘n lam moet slag en die bloed aan die deurkosyne moet smeer... So sou hulle lewens gespaar word in daardie nag van verskrikking. Dit het menslike gesproke nie na ‘n baie logiese plan geklink nie. Hoe sou ‘n bietjie bloed aan ‘n deur die doodsengel kon weghou? Moses het God egter geglo en die opdrag laat uitvoer. Geloof bring ons by ‘n persoonlike vertroue op God se verlossingsplan in Jesus. Geloof laat my sien dat Jesus se eenmalige offer aan die kruis genoeg is en my vir altyd teen die Goddelike wraak op sonde beskerm. 

GELOOF IS 'N VASTE VERTROUE IN GOD SE BELOFTES

Geloof is nie bloot ‘n korrekte napraat van sekere feite nie, maar ‘n keuse vir ‘n nuwe leefstyl en lewensbeskouing. Geloof bring nie gerief en gemak nie, maar maak ons getroue volgelinge van Jesus in die harde werklikheid van die alledaagse lewe, sodat ons eendag die beloofde beloning kan verkry!