BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Selfgesentreerdheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Selfgesentreerdheid. Wys alle plasings

Woensdag 14 Oktober 2020

DIE GEVAARLIKE GOGGA VAN EGOSENTRISME (1)

- wat gate vreet in jou siel!



"I, me and myself.”  Selfgesentreerdheid. Dis nie ’n nuwe probleem van ons tyd nie. Dis baie duidelik as mens lees hoe Jesus al destyds met Sy dissipels in  MARKUS 9:33-50   gepraat  het oor egosentrisme. Dis so raak, dis so treffend en van toepassing, dis asof Hy hier staan en spesiaal ‘n boodskap vir ons bring. Selfgesentreerdheid/egosentrisme is die denkwyse waarvolgens ek eintlik in die middel is. Ek is die belangrikste “peanut” in die pakkie. Miskien dink jy : “Ek het nie so ’n probleem nie.” Wag ’n bietjie... Wat is die simptome van selfgesentreerdheid? “Ek hou nie daarvan nie/dit staan my nie aan nie/dit pas my nie, daarom gaan ek nie meer saamspeel nie.” Of wat van selfbejammering, ‘n gedurige leef in die verlede? Ek voel maklik te na gekom, ek word gou-gou jaloers,  ek voel maklik seergemaak en dan beplan ek sommer vinnig  wraak... ? Al hierdie dinge het maar iets te doen met selfgesentreerdheid/egosenrisme. Jy sal moet erken, dit raak ons maar eintlik almal...

 

Ons gaan nou eers kyk na Markus 9:33-37:

 

33 Toe hulle daarna in Kapernaum by die huis kom, het Hy vir hulle gevra: "Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?"

34 Hulle het egter niks geantwoord nie, want hulle het langs die pad met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is.

35 Jesus het gaan sit en die twaalf geroep. Hy sê toe vir hulle: "As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees."

36 Toe het Hy ‘n kindjie geneem en hom tussen hulle laat staan. Hy het sy arm om hom gesit en vir hulle gesê:

37 "Elkeen wat so ‘n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang nie net vir My nie, maar ook vir Hom wat My gestuur het."

 

EEN STUK LERING

Hierdie gedeelte is deel van ’n  hele gesprek in Markus 9:33-50. Dis ‘n stuk lering van Jesus wat ‘n eenheid vorm.  As mens dit raaksien dan word dit ook aansienlik makliker om die onderskeie gedeeltes te verstaan. Drie sake wys op die eenheid en samehang van hierdie onderwysing van Jesus.*

Dit vind op een plek plaas. Die huis in Kapernaüm (9:33) Dis hier waar Jesus gaan sit het om te onderrig.

Aan die einde van Sy lering kom Jesus weer terug by die saak wat oorspronklik tot die hele gesprek aanleiding gegee het. Die gesprek het begin nalv die dissipels se twis (9:34) en Hy sluit Sy onderrig gepas af met die woorde : "Julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe." (9:50b)

Daar is duidelik ‘n tematiese eenheid. Die egosentriese benadering van die dissipels word aangespreek en gekorrigeer tot ‘n Christosentriese benadering.

 

JESUS SE LYDING

 

Jesus is oppad na Jerusalem om te gaan sterwe. Sy naderende lyding en verwerping staan sentraal en hang ook in die agtergrond van die gesprek. Hy het sy dissipels geleer en vir hulle gesê: "Die Seun van die mens word in die hande van mense oorgelewer, en hulle sal Hom doodmaak; en drie dae nadat Hy doodgemaak is, sal Hy opstaan." (31) 

Op hierdie belangrike pad is vrede en eenheid onder die dissipels noodsaaklik en daarom moet Jesus hulle aanspreek oor hulle getwis en vra hy die vraag: "Waaroor het julle langs die pad geloop en praat?" (33) Die stilswye van die dissipels sê alles.(34) Teen hierdie tyd moes hulle al besef het dat Jesus mense se gedagtes en harte deurgrond, alles weet. Hulle stilswye is eintlik skaamte : “Ons is uitgevang, wat kan ons nou sê?”

 

WORD DIENAARS

 

Jesus gaan sit nou en roep die Twaalf. (Onthou daar was ook ander dissipels/leerlinge) Mens kan jou die spanning en afwagting voorstel.  Hulle sou dalk dink : “Gaan Jesus tog nou aankondig wie die belangrikste is? Is ons twaalf tog dalk die belangrikste onder die groot getal leerlinge?”

Hoe vreemd klink Jesus se woorde dan nie in hierdie situasie nie.  Die twaalf (en die ander) wil graag voor staan, eerste wees. Dis uit hierdie wil waaruit hulle twis voortgespruit het. Jesus buig hierdie wil nou om, keer dit onderstebo - ja, daar is wel ‘n ereplek by Jesus, maar dit bestaan daarin dat ek die laaste plek, die plek van die dienaar moet inneem.  Die dienaar van almal wees.

 

Koninkrykswaardes is die omgekeerde van die wêreld se waardes!

 

Ons het hier te maak met ’n verrassende wending - die nader roep van die Twaalf lei nie daartoe dat Jesus aankondig wie die belangrikste is nie, maar  gee wel ‘n aanduiding van hoe mens die belangrikste kan word. Maar Jesus laat Sy lering nie net by die teoretiese nie. Hy wys nou prakties hoe lyk die “belangrikste”. Hy bring ‘n kindjie binne die kring in en slaan Sy arm om hom. Dis nie Jesus se bedoeling om te sê dat kinders die belangrikste in die gemeenskap is nie. Hy gebruik juis die kind omdat hulle die minste is, hulle het nog nie posisie of waardigheid nie.’n Kind tel nog nie eintlik nie. Die kind daar in hulle midde is ‘n onderstreping van Jesus se woorde. Wie belangrik wil wees moet die laaste plek inneem, moet soos ‘n kindjie word.

Hoe moet die term “ontvang” tuisgebring word by hierdie situasie? (37)  Onthou die boodskap wat Jesus hier wil oordra is gerig op hierdie leerlinge wat gestry het oor wie die belangrikste is. Hulle “aanvaarding, ontvangs deur ander, hoe ander hulle behandel” was voorop in hulle gedagtes. Nou help Jesus hulle reg. Dissipels word nie geroep om hulle eie ontvangs te reël nie, maar juis om vir andere die eer van ontvangs voor te berei.

 Jesus leer vir hulle (en ons) : “Julle is nie dissipels  ter wille van julleself nie maar ter wille van die voordeel van ander.” Dissipels  moet dienaars wees, dienaars van almal selfs ook geringste kind.**

 

KOM ONS RAAK PRAKTIES:

 

Selfgesentreerdheid kom ongelukkig ook voor onder Jesus se volgelinge. Dis een van die stukke bagasie wat maklik en ongemerk saamgebring word uit die vorige bestaan. Selfgesentreerdheid is altyd en vir almal verkeerd, maar wat dit soveel erger maak by volgelinge van Jesus is dat Jesus juis die teenpool van alle selfgerigtheid en selfbelang is. Hy is die lydende Jesus wat afstand gedoen het van alle selfbelang en regte terwille van ons.

Ons motiewe in die beoefening van ons Christenskap word tot op die been oopgevlek.  Is ek dalk ’n  kind van God ter wille van my eie voordeel? Sien ek nie Christenwees as maar net nog ‘n aspek van die lewe wat my tot hulp kan wees om my maksimum potensiaal te laat bereik nie?

Jesus se lering plaas ons denke oor die evangelie en die kerk onder die soeklig. Om die evangelie aan te bied as ‘n pakket wat allerhande tydelike voordele vir my kan bring pas nie in by hierdie lering van Jesus nie. Die voorspoedsteologie van die Word Faith (groepe soos die CRC) is nie dieselfde evangelie wat Jesus verkondig het nie!  Ons vind in Jesus se woorde ook ‘n nuwe perspektief op kerkwees. Hoe verstaan jy jou lidmaatskap?   Gaan dit vir jou dalk oor : “Wat kry ek hier, hoe kan ek bedien word?”  Jesus sê,  nee ons is hier om dienaars te wees.  Dien ek en jy ander binne ons gemeentes?

Mag ons weer opnuut besef wie se volgelinge ons is - die Lydende Jesus!   Die Jesus wat afstand gedoen het van al sy hemelse voorregte!  Die Jesus wat Homself verneder het om ’n slaaf te word. (letterlik) Die Jesus  wat Sy eie lewe nie liefgehad het nie,  maar dit afgelê het vir my en jou, Sy skape!  Kom ons besef weer wie Jesus is. Dit  sal ons help om  weerstand te bied teen die altyd teenwoordige bedreiging van egosentrisme. ‘n Gedurige fokus op Jesus sal verseker dat ons soos Hy plek sal maak vir die geringes.

 

*Erkenning aan die kommentaar van Jakob van Bruggen vir eksegetiese insigte.

**In 10:13-14 waar Jesus die kindertjies seën  is dit duidelik dat hulle dit moeilik kon verstaan!

 

Vrydag 02 Maart 2018

DIE GEHEIM AGTER DIE DEUR…

WAT ‘N HEERLIKE VERSKIL MAAK AAN ONS VRESE EN ‘N NUWE VISIE OPEN… 


Waarom red God sondaars? Waarom maak God deur Jesus se bloed vrede met mense wat eens sy vyande was? Anders gestel wat moet ons as geredde mense se fokus wees? Nou, maar ook tot in alle ewigheid? Ons het soveel stryd, soveel moeilikheid, soveel dinge wat ons tyd in beslag neem en soveel goed wat ons benoud en bang maak. (Soos daai geluide van Ramaphosa om grond sonder vergoeding af te vat...) Waarop moet ons konsentreer? Waar pas ons in die groot prentjie? Wat is regtig belangrik? My behoeftes, pyne of begeertes of dalk iets groter? 

Kom ons oordink die hooftema : Die hoofdoel van die ganse skepping is aanbidding van Hom wat op die troon is! 

Hierdie fundamenteel belangrike saak is so heerlik duidelik uit Openbaring hoofstukke 4 en 5! Ons gaan net so oorsigtelik daarna loer. Openbaring is in elk geval soos ‘n skildery! Ons hoef nie te veel ons koppe te breek oor elke stukkie detail nie! Dis die geheelbeeld wat ons aanraak en in vervoering en bewondering bring. Ja, tot aanbidding aanspoor! 

Twee belangrike aaneenvloeiende temas is hier ter sprake : God wat op die troon is en die aanbidding (worship) van God. 

GOD IS OP DIE TROON 

Johannes kry ‘n kykie op die hemelse Goddelike werklikheid. Hier sien ons die ware toedrag van sake. ‘n Deur word oopgemaak en dan sien hy iets onbegryplik en onbeskryflik heerlik. “Hierna het ek, Johannes, in die hemel ‘n deur gesien wat oopgemaak is, en die stem, soos die geluid van ‘n trompet, wat ek die eerste keer met my hoor praat het, het gesê: 

"Kom op hierheen, en Ek sal vir jou wys wat hierna moet gebeur." 
Onmiddellik is ek deur die Gees meegevoer. Ek het gesien daar staan ‘n troon in die hemel en op die troon sit daar Iemand. 
Sy voorkoms was soos opaal en karneool. Om die troon was daar ‘n reënboog met die glans van smarag.” (4:1-3) 

Ons wat Openbaring lees word saamgenooi om ook te kyk en ons te verwonder. So wat sien ons deur die oop deur? Die troon van die heelal. Die setel van regering, van mag en gesag, die plek van alle besluite en beslissings. En wie sit op hierdie troon? GOD! Lees saam verder – 4:4,5,6,9,10; 5:1,6,7,11,13 

Dis ‘n kernwaarheid en deurlopende tema in Openbaring. Waarom? Onthou die mense vir wie Openbaring aanvanklik geskryf is, was Christene wat baie swaar gekry het. Verdruk en vervolg, doodgemaak. Dit skep by mense vrees en onsekerheid. Wat gaan met ons gebeur? Het die duiwel en sy bose handlangers al die mag? Gebeur als maar volgens ‘n donkere noodlot? Hoekom gebeur soveel slegte dinge met ons? Is daar enige sin en doel in als? Het God ons nog lief? Is God nog in beheer? Die deurlopende motief van God op sy troon wil duidelik sê : God en God alleen is in beheer! Nie goddelose mense, nie goddelose regerings en tiranne nie, nie die Satan self beheer en bepaal die toekoms nie, maar net God en God alleen. Hy sit op sy troon en heers oor die heelal en die geskiedenis! Maar meer as dit, Hy is in beheer van jou persoonlike omstandighede en toekoms. Laat elkeen dit weet - God is op die troon – ook terwyl jy swaarkry, siek is, alleen voel, benoudheid ervaar… God is op die troon, juig daaroor! 

As jy begin wankel en moedeloos word, kyk deur die oop deur van Openbaring 4! 

AANBIDDING 

Die tweede groot tema is aanbidding. Dis opvallend belangrik. Dit ontwikkel tot ‘n absolute klimaks. Juis omdat God en God alleen op die troon is, maak dit volkome sin om Hom alleen te aanbid. Kyk bietjie wie aanbid God op sy troon: 

Die lewende wesens. (4:8) Die beeldspraak van die lewende wesens kom uit Esegiël en Jesaja. Die vier wesens verteenwoordig die hele skepping. Hulle sien alles raak (die oë) en hulle is oral (vlerke). Hulle observeer die grootheid van God. Dit reflekteer ook God se alwetendheid en alomteenwoordigheid. 

Die 24 ouderlinge. (4:10-1) Hulle is verteenwoordigend van die hele gemeenskap van gelowiges. Die 12 Ou Testamentiese stamme van Israel plus die 12 Nuwe Testamentiese apostels. Saam verteenwoordig hulle die kerk/volk van God van alle eeue! 

Albei groepe. (5:8-9) Let op die gebede van die gelowiges wat nou op aarde swaarkry is ‘n lieflike geur (soos wierook) in die hemel! 

Die menigte van engele. (5:11-12) Die inhoud van hulle aanbidding is lof aan die Lam! 

Dan die klimaks! Die ganse skepping! “Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê: "Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid." (5:13) Die hele skepping is gefokus op God! Niks en niemand is wonderliker, heerliker, meer fassinerend en belangriker as Hy nie! 

SKEPPER EN VERLOSSER!

Net nog iets baie opvallend en belangrik! God word aanbid as Skepper in hoofstuk 4. "Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep." (4:11) Ons moenie vergeet om God te prys vir die oneindig wonderlike skepping wat Hy gemaak het nie! Kyk net rondom jou...en loof Hom! 

God word aanbid as Verlosser in hoofstuk 5. Hier word God geprys as die Een wat deur Jesus, die Lam mense gered en bevry en losgekoop het. “Toe sing hulle ‘n nuwe lied: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. U het hulle ‘n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer."* (5:9,10) 

Die hele skepping draai om een saak : die aanbidding van God! 

Ons moet bevry word van ons selfgesentreerdheid en individualisme en inval by en meedoen aan hierdie groot saak. Die aanbidding van God! Soos die aarde om die son draai, draai die ganse skepping rondom die heerlikheid van God! Als het ‘n groter doel! Kyk na die groter prentjie, die prentjie van God op die troon wat aanbid word. Moenie net vaskyk teen die onreg en boosheid van die wêreld nie. Moenie jou blindstaar teen korrupsie en tiranne nie. Moenie vasval in jou klein, persoonlike wêreldjie en agenda en bekommernisse nie. Kyk na die groter prentjie. Sien die groter werklikheid agter die skerms. Ja ons vrese en ellendes en pyne en hartsere is erg, maar as kinders van God, losgekoop deur die bloed van die Lam kan ons verby dit kyk en ons harte en stemme voeg by die aanbidding van God! 

Laat ons fokus op God – God as Skepper, God as Verlosser! AANBID HOM! En mag ons so bevry word van beide vrees en selfbeheptheid! 

*Vergelyk die treffende ooreenkoms met Eksodus 19:4-6, waar dit gaan oor God se doel met die redding van sy volk Israel. Hierdie waarheid word dan deur Petrus in 1 Petrus 2:9-10 op die Nuwe Testamentiese kerk van toepassing gemaak.En nou vind ons dit weer in Openbaring!


Eer Hom as Skepper...


Eer Hom as Verlosser...