BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Heerlikheid van God. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Heerlikheid van God. Wys alle plasings

Woensdag 01 Januarie 2025

‘n Rowwe roete wat ek nog nooit gery het nie!


Die nuwe jaar lê soos ‘n onbekende pad voor ons, ‘n rowwe 4x4 roete wat ons nog nooit gery het nie... (En nie eens Nostradamus, Baba Vanga of Siener van Rensburg kan vir ons vertel wat gaan gebeur nie.) 




Die NUWE JAAR maak jou miskien baie opgewonde, maar dalk ook bang en vreesbevange....daar wag moontlik moeilike bulte, skerp draaie, vurk paaie wat my laat twyfel oor die regte rigting, vreugdes, verrassings, gevare, vol riviere van hartseer of teleurstellings, eensame vlaktes van worsteling en verlatenheid, maar gelukkig tog ook heerlike rusplekke en die aanmoediging van medereisigers... Maar bo alles, dis op hierdie pad wat die kind van God, uitroep – “Here, as U nie saamgaan nie, kan ek nie verder gaan nie!”  

Dit was natuurlik ook die hartskreet en versugting van Moses destyds op die trekpad na die beloofde land Kanaän geuiter het. (Eksodus 33:15 - jy kan gerus hierdie aangrypende hoofstuk biddend deurlees!) 




Vir Moses het dit egter oor baie meer gegaan dat God maar net ‘n veilige reis moes waarborg – Dit het gegaan oor die sin van die lewe self, die wese van ons bestaan as mense. Hoor wat sê Moses in vers 13 : “Daarom, as ek wel guns gevind het in u oë, maak tog aan my u paaie bekend, dat ek U kan ken, sodat ek guns bly vind in u oë, besef tog dat hierdie nasie u volk is.”
 

Miskien moet ons net vinnig terug gaan na die agtergrond van Moses se hartstogtelike gebed tot God. Op hierdie stadium het God reeds sy volk met ‘n kragtige hand uit die slawerny van Egipte verlos, die volk het reeds die wonders van God se beskerming en versorging ervaar... manna en kwartels. Hulle was nou by die berg Sinai waar God sy wet aan Moses bekend gemaak het- als so heerlik en wonderlik – maar daar is ook ‘n afgryslike donker kant – die volk met die kort geheue en die bose harte het ‘n goue kalf gemaak en afvallig geword. Ondankbaar, ongelowig, hardnekkig... 

Dit het God se toorn laat ontbrand, soveel so dat Hy die volk wou vernietig en ‘n nuwe volk uit Moses begin. (Eksodus 32:9,10) 




Dit het Moses diep ontstel en hy het vurig by God gepleit op grond van God se beloftes aan Abram, Isak en Jakob. En ja, God is ‘n Hoorder van gebed. Hy verhoor Moses se gebed en dan lees ons iets verbysterend – 32:14. Gebed het God se hart gedraai – moenie vir my vra om dit te probeer verduidelik nie, maar dis presies wat gebeur het! God besluit om nie meer die volk te vernietig nie! – in antwoord op gebed! 

Moet nooit ophou bid en smeek nie!

Maar dis nog nie die einde van die storie nie, God het wel besluit om nie die volk te vernietig nie – al het Hy hulle inderdaad swaar gestraf, maar Hy het gesê Hy gaan nie meer saam met hulle trek nie, Hy sal net ‘n engel saamstuur. En die rede waarom God nie saam  met hulle wou trek nie, was juis dat sy heiligheid hulle sou vernietig, want hulle was ‘n hardnekkige onheilige volk! En dis hier waar Moses opnuut weer by God gepleit het. (15) Moses weet dat hulle dit nie durf waag om verder te gaan as God se teenwoordigheid nie met hulle is nie!

Vriende, ek en jy kan nie, ons durf nie waag om sonder God ons lewensreis voltooi nie, ook nie die skof van hierdie jaar nie! En dit gaan nie bloot oor die Here se hulp en versorging in hierdie jaar nie – dit gaan oor die kern doel en sin van ons bestaan! Wat maak hierdie onbekende jaar sinvol en die moeite werd?  Waaroor gaan ons lewe hier op aarde?? 

Om God te ken! Dis die sin van my aardse bestaan! Als gaan oor Hom! 

Dit gaan daaroor om sy heerlikheid raak te sien. Dis die passievolle hartsbegeerte van Moses. (18!) Onthou, God alleen is oneindig, onuitputlik heerlik!



NUWEJAARSVOORNEMS? Jy weet, hier aan die begin van die jaar kan ons baie mooi doelwitte en ideale hê. Party is realisties, ander dalk naïef...maar daar is baie goeie dinge en doelwitte waarna mens kan streef. Ons het egter een, net een doelwit hier op aarde wat bo-alles belangrik is – om God te ken. Dis waarvoor ons op aarde geplaas is. Om God te ken en Hom te bewonder en ons in Hom te verlustig, ons vreugde en vrede in Hom te vind. Hy kan en sal jou nooit verveel nie... tot in alle ewigheid.

Dalk wonder jy nou- hoe kan ek God leer ken, hoe kan ek sy heerlikheid sien? Dit was ook vir Moses ‘n probleem. (20) 



Hierdie dilemma bring ons by die evangelie van ons Here Jesus Christus. Johannes skryf in sy proloog oor Jesus – die Woord wat mens (vleis) geword het – 14, 18!  




Moses moes na die tent van samekoms gaan (sien Eksodus 33:7-11) om die heerlikheid van die Here te ervaar en Hom te raadpleeg. Jesus, die Woord wat vlees geword het het onder ons kom woon, skryf Johannes. Die Griekse woord wat ons met "woon" vertaal beteken letterlik, "tent opslaan." Heerlik nê? 

Die heerlikheid van God word nou in Jesus openbaar! As ek Jesus as my Here aanvaar het, begin ek die heerlikheid van God ken en sien. In Jesus se wonders en optredes begin ek leer wie God is en hoe God is – ek leer ken sy waarheid en genade persoonlik. Dis veral wanneer die kruis gebeure vir my sin begin maak dat ek begin besef – hoe oneindig heilig God is, maar ook hoe oneindig genadig en barmhartig is. Saam met hierdie wonderlike God sien ek kans vir die nuwe jaar met al sy bulte en draaie. Saan met Hom is dit ‘n avontuur. Saam met Hom is dit nog steeds nie altyd maklik nie, want Hy plaas ons in ‘n leerskool – dikwels ‘n baie harde leerskool net soos die woestyn reis van die Israeliete, maar saam met Hom weet ek, ek is vir seker op pad na my ewige Vaderland, waar ek vir altyd my sal verlustig in die heerlikheid van God. Waar ek vir altyd Hom wat op die troon is en die Lam sal aanbid!

Mag ek en jy in gehoorsaamheid aan Jesus, God ons Vader baie diep leer ken in hierdie jaar! Kom ons weet God gaan saam met ons. Hy gaan saam met ons nie omdat ons so oulik is nie, maar omdat Jesus ons Middelaar vir ons pleit. Moses het vir die volk gepleit en God het gehoor. Jesus pleit vir ons by die Vader!

Kliek : JESUS PLEIT VIR ONS BY DIE VADER

Vrydag 05 Februarie 2016

DIE GROOT HONGER VAN DIE MENSEHART

- ‘n verlange na die genadeglorie van God!


“Laat my tog u heerlikheid sien.” Hierdie teks is geskrywe in die voorportaal van ons kerkgebou hier op Tsumeb. Dis nie toevallig daar nie, dis eintlik ‘n samevatting van die rede hoekom ons hier is! Kom ons kyk bietjie...

Moses rig ‘n passievolle versoek tot God in Eksodus 33:18. (OAV) “Laat my tog u heerlikheid sien.” Wat ‘n gewigtige smeekroep! Voordat ons kyk na hoe God hom geantwoord het moet ons eers na die konteks en agtergrond vra van Moses se woorde. In Eksodus 32 lees ons van die volk Israel se sondige opstand teen God, toe hulle die goue kalf aanbid het. Dit het die toorn van God laat ontvlam soos ons lees in 32:9,10. “Verder het die Here vir Moses gesê: "Ek het gesien dat dit ‘n opstandige volk is hierdie. Moet My nie probeer keer nie. Ek is toornig op my volk en Ek wil hulle vernietig. Vir jou sal Ek dan tot ‘n groot nasie maak." 

Moses pleit egter om genade by God en God vernietig nie die volk nie, al straf Hy hulle baie swaar. God gaan dan voort met sy plan om die volk na die beloofde land te lei, maar Hy sal dit deur ‘n engel doen. “Gaan lei jy nou die volk na die plek toe waarvan Ek met jou gepraat het. My engel sal voor jou uit gaan. Op die dag dat Ek rekenskap eis, sal Ek die volk straf oor hulle sonde." (32:34) God wil nie meer saam met hulle trek nie, want Hy weet Hy sal hulle vernietig omdat hulle so moedswillig en hardkoppig is. “Julle is so ‘n moedswillige volk dat Ek nie sal saamtrek na hierdie land wat oorloop van melk en heuning nie, want dan verdelg Ek julle op pad daarheen." (33:3) Moses pleit egter by die Here om self saam te gaan. “Toe het Moses vir Hom gesê: "As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie." (33:15) En God staan die versoek toe! “Die Here het vir Moses geantwoord: "Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam." (33:17)

Dis teen hierdie agtergrond wat Moses vra om die heerlikheid van God te sien. (vers 18) Dis asof Hy die versekering en gerustelling wou verkry in die openbaring van God se heerlike karakter dat God vir Hom en die volk genadig sal wees! Dis asof hy vra, “Here wys my tog regtig wie U is sodat ek daarop kan vertrou dat U ons genadig sal wees en nie sal vernietig nie, al verdien ons om vernietig te word!” Toe antwoord die Here hom...

“Maar die Here sê: "Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.
Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie."
Die Here het verder gesê: "Maar hier by My is ‘n plek waar jy op die rots kan staan.
As Ek in my magtige verskyning verbykom, sal Ek jou eers in ‘n rotsskeur sit en jou met my hande toemaak totdat Ek verby is.
Dan sal Ek my hande wegvat sodat jy My van agter kan sien. Niemand mag my gesig sien nie."
(Eksodus 33: 19-21)

Twee sake kom duidelik na vore:

God se heerlikheid gaan oor genade. God se heerlikheid is 'n genadige heerlikheid! God koppel sy Naam aan genade! Vers 19! In die volgende hoofstuk word dit bevestig. “Die Here het in ‘n wolk afgekom en daar by Moses kom staan en die Naam "die Here" uitgeroep.
Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: "Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.
Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag."
Moses het toe vinnig gebuig in eerbied
en gesê: "As ek u goedgesindheid geniet, Here, moet U saam met ons wegtrek. Al is die volk moedswillig, moet U ons ongeregtigheid en sonde vergewe. Laat ons tog u volk bly, u eiendom."
(Eksodus 34:5-9)

God se genade beteken dat Hy vergifnis skenk aan skuldige mense en hulle 'n erfdeel gee. Aan mense wat dit nie verdien nie, soos hierdie hardkoppige volk. Dis werklike genade, Hy gee dit soos Hy besluit, dis op geen menslike verdienste of prestasie gegrond nie! Maar moenie kanse met God probeer vat nie, vergifnis is nie ‘n ligtelike saak nie. Moenie sy genade as swakheid opvat nie! Moenie dwaas wees soos sommige en dink dis "ons voorreg om te sondig en God se plig om te vergewe" nie!

God se genade is nie vanselfsprekend nie, dis 'n voorreg wat met diep ontsag en eerbiedige dankbaarheid ontvang moet word!

God het sy heerlikheid net ten dele aan Moses geopenbaar. Moses sien God net van agter af. God voldoen aan Moses se versoek, maar op beperkte skaal.

ONS SIEN 'N GROTER HEERLIKHEID AS MOSES!

Die goeie nuus vir onder die bedeling van die Nuwe Verbond is dat God nou deur Jesus sy heerlikheid aan ons ten volle bekend gemaak het. Om dit te verstaan moet ons blaai na Johannes 1:14-18. 

 “14. Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid. 15. Johannes getuig van Hom en roep uit: "Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: Hy wat ná my kom, is my vóór, want Hy was voor my reeds daar." 16.Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. 17. God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. 18.Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak."


Sien jy die raakpunte met die Eksodusgebeure is uiters opvallend? Dit lees trouens soos ‘n opvolg kommentaar oor die gedeelte wat ons in Eksodus gelees het! Dit gaan oor Jesus, die Woord, wat mens geword het. God maak Homself nou sigbaar vir mense! Ons het die voorreg om sy heerlikheid te sien. 

Jesus self is die finale volle antwoord op Moses se versoek! 

Hoe lyk hierdie heerlikheid wat Hy vertoon? Wat is die aard van God se heerlikheid? Vol genade en waarheid! (14) Dis twee wye begrippe wat handel oor God se barmhartigheid, guns, verbondsliefde, getrouheid, waaragtigheid. Dis ‘n duidelike terugverwysing na die gebeure in Eksodus 33-34* Spesifiek na 34:6 waar hierdie twee elemente beklemtoon word. Die punt is, die heerlikheid van God wat aan Moses geopenbaar is, word nou ten volle in Jesus sigbaar vir elkeen wat waarlik glo... En deur Jesus word ons lewens persoonlik aangeraak deur God se heerlikheid, want ons ONTVANG genade op genade! (16) Dis nie maar net iets waarvan ons teoreties moet kennis neem nie, die sondaar smaak hierdie genade as ons vergifnis en vryspraak in Jesus verkry! Meer nog, God is nie suinig met hierdie genade nie, dit kom uit sy oorvloed! Die res van die Johannes evangelie gee vir ons praktiese voorbeelde van hierdie oorvloed...die Samaritaanse vrou, die vermeerdering van die boord, die blinde man, die gelykenis van die Goeie Herder (Johannes 10:10 "lewe in oorvloed"), Petrus se herstel na sy groot val... God se openbaring aan Moses wat die wet ingesluit het was net ‘n tydelike voorlopige fase. Die volle openbaring van God se heerlikheid en genadige karakter beleef ons nou in Jesus. Daarom word ook die kontras tussen Jesus en Moses hier deur Johannes uitgelig. (17) Die genade van Jesus is die genade van die Nuwe Verbond!

Moses se verlangende begeerte en dringende behoefte is eintlik elke mens se begeerte. Dit verwoord die diepste nood en versugting van elke mens. Die groot honger en hunkering van elke hart. Ons is geskape met hierdie behoefte na God se heerlikheid. Ons wil vervulling en gerusstelling vind in God se heerlikheid en karakter! Ons smag na iets groter as net ‘n bestaan van eet en drink, grootword, trou, kinders kry... Ons is trouens geskape om God se heerlikheid te bewonder, gemaak om ons te verlustig en te verbly in die asemrowende en ontsagwekkende majesteit van God. Dis die hunkering van elke mens, al is alle mense nie noodwendig daarvan bewus nie. Wanneer die Heilige Gees in die mens werk, dan eers besef ons ons nood, ons sonde en die leegheid van ‘n lewe sonder God. Ons besef al die plaasvervangers van geld en plesier kan my nie bevredig nie, maar neem my net verder weg van God. En dan kom hierdie versugting op in ons harte: “Here, laat my tog U heerlikheid sien! ‘n Heerlikheid wat my nie sal vernietig nie, maar sal vergewe en herstel.”

En nou antwoord God ons deur Jesus. So lyk my heerlikheid, vol troue waaragtige genade! Niemand het God ooit gesien nie, selfs nie Moses nie. Maar nou kan ek en jy wat Jesus aangeneem het God se heerlikheid “sien”, want God se eie Seun Jesus Christus het Hom aan ons bekend gemaak, verklaar!

Het jy ‘n honger en dors na God se heerlikheid? Voel jy ‘n behoefte aan genade? Kom kry dit in Jesus! Hy nooi jou uit! “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” (Joh 6:37) Dis natuurlik nie net ’n eenmalige ervaring nie. Nee, elke dag saam met Jesus word ons iets meer bewus van God se heerlikheid. En tot in ewigheid sal ons ons in hierdie heerlikheid verbly en Hom daarvoor bewonder! AMEN

*So sien Carson dit in sy "The Gospel According to John"


Vrydag 01 Augustus 2014

KYK NA JESUS

- en sien die hart van God!

Om God te ken, lief te hê, te dank en te bewonder is ‘n einddoel opsigself. Weet nou maar vir ‘n feit – geld maak gaan nie vir jou ‘n sinvolle doel gee om voor te lewe nie. Ja, selfs ook nie ons kosbare kinders nie. Dis dalk vir jou nuus, maar jy kan nie vir jou kinders lewe nie – ons is gemaak vir ‘n groter doel as dit. (Hoe ontsaglik belangrik hulle ook al is!)

Onthou weer God is nie ‘n middel tot ‘n doel nie, maar is self die doel! (Kliek op WAAROM DIEN JY GOD?) Om Hom te bemin en te eer met ’n passie, met ’n volkome hart, met ons lewe en ons energie is die sin en opdrag van ons bestaan. Natuurlik sit ons nou met ‘n praktiese probleem - hoe kan ons God liefhê as ons nie weet hoe Hy is nie? As ons nie sy karakter en persoonlikheid eerstehands van naby ken nie. ‘n Mens raak tog eers regtig lief vir iemand soos jy daardie persoon beter leer ken. Nou is dit ’n feit - ons ken God nie sommer so van vanself nie. (Ons kan wel sekere dinge aflei uit natuur, hoe groot en magtig Hy is.) Maar ons ken nie God se hart en gevoelens nie. Ons ken nie sy persoonlikheid en bedoelings nie. Inteendeel - mense het ’n valse beeld van God. Trouens die Satan skep ’n valse beeld van God juis sodat ons Hom nie moet aanbid en liefhê nie. (Reeds in die paradys insinueer hy dat God ‘n tiran is, wat nie wil hê dat die mens in sy voorregte en kennis moet deel nie) Daar is veral twee valse beelde van God:



Tiran : God is ‘n wrede heerser, ‘n hartelose despoot wat lekkerkry as hy ons kan uitvang of kan straf.

Vader Krismis figuur : Dis die ander uiterste van ‘n skewe beeld van God. Hy is ‘n persoon sonder enige norme en beginsels. God is maar altyd vriendelik en wil net persente uitdeel. Hy is nie konsekwent ten opsigte van sy eie wette nie. Hierdie valse God, wat maar eintlik die mens se eie skepping is, gee nie om as jy ongetroud saambly nie, as jy bedrog pleeg nie, as jy met onvergewensgesindheid en bitterheid loop nie... Hy "smile" net oor als.

MAG GOD ONS BEVRY VAN VALSE BEELDE OOR HOM!

Dis so dringend belangrik dat ons God sal ken, maar waarom ken ons Hom nie? Een rede is - niemand het God ooit gesien nie! Die dieper rede hiervoor is natuurlik dat ons sondigheid dit onmoontlik maak om God te sien. Ons sal sterf as ons Hom sien!  ...en tog dis juis so nodig dat ons Hom "sien".

Vir hierdie dilemma het God die volmaakte oplossing: “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon--en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom--vol van genade en waarheid. Johannes getuig van Hom en roep en sê: Dit was Hy van wie ek gesê het: Hy wat ná my kom, het voor my geword, want Hy was eerder as ek. En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade. Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.” (Johannes 1:14-18)

Dis die heerlike en drastiese stelling wat Johannes hier maak. Jesus het God aan ons bekend kom stel. Jesus het God vir ons kom wys. Jesus wys deur sy lewe en sterwe God se hart vir ons! As ons na Jesus kyk, deur die evangelies te lees dan sien ons God. Dit gaan nie oor ‘n uiterlike fisiese samestelling nie, nee God is Gees. Jesus wys vir ons God se persoonlikheid, sy karakter, sy wense en bedoelings. Anders gestel - Jesus wys God se heerlikheid vir ons. (Ja, Jesus is die finale antwoord op Moses se hartsbegeerte en versoek wat ons in Eksodus 33:18 kry : “Laat my tog u heerlikheid sien!") ’n Heerlikheid vol genade én waarheid. Jesus wys God self vir ons. Omvattend en volledig. Hoor wat sê Jesus vir Filippus in Johannes 14:8-9. “Toe sê Filippus vir Hom: "Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg."En Jesus sê vir hom: "Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’?" Geweldig! Jesus is God wat mens geword het, Jesus openbaar God self aan ons. 

Belangrik : God is nie anders as Jesus nie. Ek vermoed sommige van ons sit met ’n valse teenstelling : God, die Vader is streng en ongenaakbaar; Jesus is sag en vriendelik. God straf sonde , maar Jesus gee nie eintlik om nie. Dis ‘n totale valse persepsie. Jesus sê – “wie my gesien het, het die Vader gesien.” God se karakter verskil nie van Jesus se karakter nie!

Jesus wys God vir ons. Hy verklaar God *, deur sy woorde en dade vertel Jesus as’t ware God vir ons Ook ander NT skrywers bevestig dit : Paulus stel dit so duidelik in Kolossense 1:15 “Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie."  En in Hebreers 1:3 lees ons : “Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God.” “Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese...” (OAV)

JESUS WYS VIR ONS GOD!

Wil jy weet hoe is God? Wil jy sy heerlikheid aanskou? Kyk na Jesus se woorde en dade. Blaai sommer saam met my deur die Johannes evangelie. Sien hoe straal die heerlikheid van God uit Jesus - ’n heerlikheid vol van waaragtige, egte genade. Sien God se liefde vir sondaars raak as Jesus by die put met die Samaritaanse vrou praat. ’n Liefde vir sondaars! (Het jy geweet God het sondaars regtig lief terwyl hulle nog sondaars is. (God is so anders as ons – dis moeilik vir ons om ’n prostituut, verkragter of plaasmoordenaar lief te hê – maar God kan!) Maar kyk hoe gebalanseerd is God se liefde wat deur Jesus gewys word - Jesus bied lewende water aan, maar dit beteken nie sonde word goedgepraat nie – Hy bring haar verborge sondige leefstyl aan die lig, naamlik haar saambly met iemand wat nie haar man is nie!) God is volmaak liefde, ook volmaak heilig en dis deel van dieselfde heerlikheid.

Wil jy weet hoe is God? Kyk na Jesus by die graf van Lasarus. Hy huil, Hy voel saam met mense. Maar sien ook die Goddelike almag. Reddende almag wat ‘n vrot dooie van vier dae tot lewe kan roep!

Wil jy weet hoe is God? Hoor hoe hanteer Jesus vir die diep gevalle Petrus? (lees Johannes 21) Volmaakte vergewende liefde. ’n Liefde wat herstel. Kyk na Jesus, dan “sien “ jy God se genade vir iemand wat gestruikel het. 

Wil jy weet hoe is God? Kyk ook na Jesus as Hy die duiweverkopers en die gulsige “foreign exchange” agente by die tempel uitboender. (Johannes 2) Luister as Hy vir die ongelowige Jode uitkryt: “Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen...” (Joh 8:44) Onthou die heerlikheid van God is vol genade én waarheid... Ja, beslis ook waarheid, die heiligheid van God kan nie sonde en valsheid toesmeer nie, maar ontbloot dit!

Wil jy weet hoe is God? Kyk veral na die kruis, daar word God se volmaakte karakter soos nêrens anders geopenbaar nie. Daar sien ons die volle omvang en intensiteit van God se heiligheid en liefde. Sy intense heiligheid vereis dat Hy sy haat en toorn oor Jesus uitgiet aan die kruis, want op daardie oomblik is Jesus die offerlam wat in ons plek sterf, bedek met ons sonde. Maar juis daar sien ons sy intense onbeskryflike liefde as Hy sy eie Seun ’n martel en vloekdood laat sterf om sondaars te red. God is nie ’n tiran nie, Hy is ook nie ’n beginsellose sentimentele Vader Krismis nie. Hy is die volmaak heilige, die volmaak liefdevolle God wat die wêreld so liefgehad het dat Hy sy eie Seun gestuur het....

Kyk na Jesus dan sien jy wie is God. Kyk na Jesus, glo in Hom wat in jou plek die sondestraf gedra het, dan ontvang jy ’n nuwe hart, wat jou in staat stel om God regtig lief te hê. 

*Die Griekse woord wat hier vir bekendmaak/verklaar gebruik word is die woord waarvan ons begrip “eksegese” afgelei word naamlik εξηγησατο



Saterdag 26 Julie 2014

WAAROM DIEN JY GOD?

- “Laat my tog U heerlikheid sien!


Waarom is jy ‘n Christen? Wat verwag jy om uit die “deal” te kry? Wat beteken dit vir jou, wat bring dit jou in die sak? Waarom dien jy God? Wat is jou doel met jou godsdiens? Is dit om beter gesondheid te geniet, geriefliker te lewe en dalk iemand te hê om vir jou te sorg? Miskien voel jy dit gaan darem jou daartoe bring om moreel ‘n beter mens te wees, om darem ordentlik volgens reëls en norme te kan leef? Miskien hoop jy dat godsdiens jou gaan help om groter geluk op aarde te beleef, of ten minste darem eendag die hel vry te spring? Sommige van hierdie dinge kan wel soos God dit wil byvoordele wees, maar daar is ‘n baie groter en meer fundamentele rede...

In Romeine 1 dring Paulus deur tot die kern van die saak. Paulus se doel met hierdie brief is om die evangelie sistematies te verduidelik. En waar begin hy? Na sy inleiding (vgl. Die kragtige uitspraak in 1:17) begin hy by die toorn (heilige wraak) van God. Lees dit saam met my...

1:18 God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.
1:19 Wat ‘n mens van God kan weet, was immers binne hulle bereik, want God het dit binne hulle bereik gebring.
1:20 Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie,
1:21 omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister.

Hoekom begin Paulus op so ‘n negatiewe noot? Eenvoudig : ‘n Mens moet eers jou sonde besef voordat die genade boodskap vir jou sin maak. So baie mense stel nie belang in genade nie, want hulle reken eintlik dat hulle dit glad nie nodig het nie omdat hulle voel dat God nou nie juis te veel onrustig is oor hulle sonde nie! Paulus begin dus by sonde en God se oordeel daaroor. Wat is die eintlike groot sonde, die wortel van alle ander sondes? (21) Die mens besef vanuit die natuur wie God is en tog eer en dank hulle Hom nie as God nie! Anders gestel, wat is die groot wortelsonde wat die mens die hel laat verdien? Leef vir jouself! Mis so jou skeppingsdoel!

DIE GROOT DOEL VAN ALS

Nou as ons raaksien wat die groot sonde is, kan ons ook aflei wat die groot opdrag aan die mens en doel van die mens is... Om God as God te eer en te dank. Soos die Shorter Cathechism dit stel : “to glorify God and enjoy Him forever” Die doel en sin van ons bestaan is God self. Die doel waarom God sondaars red, is om hulle na Homself te bring! (1 Petrus 3:18 – kliek op REDDINGSDOEL) Dit word bevestig deur Jesus se samevatting van die wet : “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand...”

God moet aanbid en geëer word omdat Hy God is*, omdat Hy Skepper is, omdat Hy die Almagtige is, omdat Hy alleen hoog en verhewe is, omdat Sy Naam heilig is. As ons waarlik in God se teenwoordigheid kom, vergeet ons van alle byvoordele en eer Hom as God! 

God is nie ‘n middel tot ‘n doel nie, God self is die doel!


So baie lyne in die Ou en Nuwe Testament loop uit op hierdie punt. Kom ons kyk na ‘n paar:

God self is sy kinders se erfdeel. Na die Intog word die land verdeel onder die stamme van Israel. Nou is dit opvallend, die stam van Levi kry nie ‘n grondgebied nie... Die opdrag aan die Leviete in Numeri 18:20 (OAV) spreek boekdele : “Ook het die HERE vir Aäron gesê: Jy sal in hulle land nie erwe nie, en jy sal geen deel onder hulle hê nie. Ek is jou deel en jou erfenis onder die kinders van Israel.” God self is hulle erfenis en beloning. In die nuwe bedeling is ons almal priesters... Hierdie beginsel geld nou vir alle gelowiges! Vir my en jou!

God self versadig ons en is die bron van ons vreugde. Habakuk 3:17-19 spel dit so duidelik uit! "Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. Vir die koorleier. Met snarespel. Die woordjie “nogtans...”(18) vertel als. Maak nie saak wat gebeur nie, oor God sal ek my verbly!

In Psalm 73 gaan dit oor die worsteling van ‘n gelowige met die vraag oor hoekom dit met hom sleg gaan, terwyl die goddeloses vet van die voorspoed is. Eers ontstem dit hom en maak hom sommer baie ongelukkig, maar uiteindelik kom Hy tot die gevolgtrekking dat sy geluk in God self te vind is! “Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.” (25)

Ook die Nuwe Testament maak dit vir ons duidelik, dit gaan nie oor wat God vir ons gee nie, maar oor God self, om Hom te ken... "En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is." (Johannes 17:3) 

Die ewige lewe is nie iets wat God gee, los van Homself nie, dis HYSELF!

Die essensie van die sin van ons bestaan is om te besef wie God is en Hom as God te eer en te dank! Dis jou doel op aarde! Om God opreg en passievol te eer en te dank moet ons eers weet hoe wie en hoe Hy is. Hoe nodig het ons daarom om die heerlikheid van God raak te sien! Laat ons daarom saam met Moses verlangende tot God roep : “Laat my tog u heerlikheid sien.” (Eks 33:18 OAV) As ons nie weet hoe wonderlik Hy is nie, gaan ons nie die begeerte hê om Hom te eer, te dank en te bewonder nie! Mag ons God se heerlikheid sien! Geen ander heerlikheid kan ons versadig en ‘n doel gee om voor te leef nie!

Is jou oë al geopen vir wie God is? 

Dit bring ons by die aller belangrikste vraag : Hoe en waar kan ons God se onbeskryflike heerlikheid raaksien?

Natuurlik kan ons baie van God se grootheid, heerlikheid en almag in sy skepping sien. Ons het dit gelees... Daarom sal niemand eendag ‘n verskoning hê nie. God openbaar homself in die natuur, maar Hy het Homself nog duideliker bekend gemaak. Deur mens te word in Jesus Christus... In Jesus se woorde en dade en veral in sy kruis en opstanding skyn die heerlikheid van God, die allesoorweldigende heerlikheid wat ons op ons knieë in aanbidding voor Hom bring! Na hierdie heerlikheid gaan ons nou vorentoe verder kyk. Spesifiek hoe Jesus die verskeidenheid van die ATTRIBUTE (eienskappe) van God se eerlikheid aan ons bekend maak.

*D.Martyn Lloyd-Jones, THE PLIGHT OF MAN AND THE POWER OF GOD, p33


Die heerlikheid van God se almag kan in die natuur gesien word, maar die volle heerlikheid, vol van genade en waarheid, kan ons alleenlik in Jesus Christus aanskou! (foto - Rundu)