BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Blydskap. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Blydskap. Wys alle plasings

Vrydag 05 Mei 2023

KAN GOD SORG? GEE HY OM?

 - ook vir ons aardse materiële nood en behoeftes?

[Johan en Ria de Koning]

KRY BALANS

Ons moet altyd pasop vir uiterstes, vir ekstreme standpunte. Aan die een kant is daar mense wat verkondig dat ‘n Christen altyd ryk en altyd gesond sal wees – jou geloof moet net reg wees.  Dis die siening van die welvaartsteologie en die Word Faith beweging. Ons weet egter duidelik dis nie wat die Skrif leer nie. In teenreaksie hierop kan daar opregte Christene wees wat dink dat God glad nie belangstel in ons daaglikse aardse lewe nie en dat Hy net vir ons siele sorg met die oog op die lewe hierna.  Miskien koester jy dalk self so ‘n aaklige vermoede dat God glad nie vir jou as mens op aarde omgee nie, maar jou net hemel toe wil vat. Jy het die nare suspisie - "God gee net om vir my geestelike lewe." Dis natuurlik en gelukkig nie waar nie!  

FILIPPENSE

God se omvattende sorg kan duidelik afgelei word uit die hele brief aan die Filippense en spesifiek Paulus se bemoedigende versekering in Filippense 4:19.

Let sommer op na twee sake :

 God se voorsiening raak al ons ons behoeftes.

God se voorsiening word beskryf as "ruimskoots" (ryklik, oorvloedig) 




Ons wil vandag bietjie nadink hieroor en vra – sorg God regtig vir sy kinders? 

AGTERGROND - 'N KOSBARE GEMEENTE EN 'N GESKENK IN DIE TRONK

Net eers ‘n bietjie agtergrond vir hierdie woorde van Paulus in vers 19. Hy is in die tronk en nou skryf hy ‘n brief aan die gemeente van Filippi. Hy het ‘n goeie verhouding met hierdie gemeente gehad - Hy en Silas het dit gestig. Dis mos o.a. die plek waar Lydia die purperverkoopster en die tronkbewaarder tot bekering gekom het. (Handelinge 16)  Dit blyk dat daar ‘n besondere band tussen Paulus en hierdie gemeente was. Nou terwyl Paulus in die tronk was het hy ‘n bydra of geskenk van hulle ontvang. Epafroditus het dit vir hom gebring. Een van die redes vir hierdie brief is om dankie te sê. Paulus doen dit baie versigtig, hy is natuurlik baie bly oor die finansiële hulp, maar wil tog nie die indruk skep dat hy ongelukkig is, swaarkry, gebrek het en kla nie. Trouens die hele brief loop oor van die tema van blydskap. Ja dis nogal ironies – die man binne die ellende van ‘n tronk is besig om die mense buite die tronk te bemoedig en tot blydskap aan te spoor. Dis in hierdie konteks wat Paulus dan ook verduidelik dat hy geleer het om in alle omstandighede tevrede, vergenoegd te wees. In tye van oorvloed sowel as in tye van gebrek. Hy verduidelik aan hulle dat hy alles kan hanteer, alle soorte omstandighede wat oor hom kom omdat Jesus hom krag gee. (10-13) Teen hierdie agtergrond bemoedig Paulus hulle nou ook met die versekering van God se versorging. 



PRAKTIESE MERKERS

Kom ons kyk na ‘n paar praktiese beginsels rondom God se versorging.

God se versorging gaan nie net oor ons siele nie. Paulus in die tronk  het self nou God se fisiese versorging beleef deur die gemeente in die vorm van finansiële hulp. Die Onse Vader is ‘n duidelike bevestiging van God se besorgdheid oor ons gewone behoeftes– Ons word aangemoedig om te bid vir daaglikse brood! (fisiese behoeftes) Natuurlik is dit net 'n onderafdeling van 'n houding en 'n gebed wat in die eerste plek Godgesentreerd is!

God se versorging is deel van Sy Vaderlike toesig en opvoeding van sy kinders. Hy besluit wat ons nodig het, wanneer ons dit nodig het en hoe Hy dit sal voorsien. God se Vaderlike versorging is deel van ‘n leerproses. (Dink aan sy voorsiening van die manna in die woestyn. Net genoeg vir elke dag! Hoekom? Die volk moes leer om Hom te vertrou en te gehoorsaam. ) God se eerste prioriteit is om ons meer heilig te maak! Om ons geloof te suiwer! En daarom bring Hy ook tye van beproewing oor ons – ook die geloofsreus Paulus sê vir ons daar was tye wat hy te min gehad het en honger was.!

God se versorging mag nie misbruik word vir gierigheid, sondige selfsug en selfverryking nie. Hy sal Hom ook nie so laat misbruik nie!  God se versorging geskied binne die konteks van radikale gehoorsaamheid om sy koninkryk en sy wil eerste te stel. Dink maar aan die verhaal van Elia en die weduwee van Sarfat – 1 Konings 17  Sy kry die opdrag om “eers” vir e|lia 'n roosterkoekie te maak en dan sal sy die wonderwerk van God se bonatuurlike versorging ervaar!  Wanneer Jesus sy dissipels leer om nie oor kos en klere bekommerd te wees nie – leer Hy hulle om die koninkryk en die wil van God eerste te stel! (Matteus 6:33) 



En onthou maar ook - God beloon vrygewigheid en nie suinigheid nie!


Neem ook kennis - God se manier van versorging is gewoonlik deur sy  ander kinders (God se familie op aardse), maar hy kan enige metode gebruik. Gemeente van Filippi word deur God gebruik om Paulus te verkwik, maar Elia word  deur kraaie versorg sowel as deur ‘n gehoorsame weduwee.

God se versorging sal nooit so werk dat dit ons tot luiheid of onverantwoordelikheid aanmoedig nie. Paulus het self op ‘n stadium vir sy eie onderhoud gesorg deur met sy hande te werk. (Hy was 'n tentmaker – 'n soort leerwerker) Hy skryf aan die gemeente van Tessalonika hieroor omdat daar mense was wat net vir die wederkoms wou wag en nie wou werk nie. Lees gerus  2 Tessalonisense 3:7-12. Hy beveel die lui gemeentelede wat net op die wederkoms wou wag om te werk sodat hulle hul eie brood kan verdien op 'n ordelike wyse. God gaan nie luiheid of roekelose omgang met geld soos onverantwoordelike skuld maak,  beloon nie! Spreuke waarsku mos ook baie duidelik teen die roekelose werk met geld.

Vertroue op God se versorging en ‘n keuse teen bekommernisse is deel van ons nederige onderwerping aan Hom! Vertroue op God as die Sorger is deel van ons basiese geloofslewe. Dis nie opsioneel nie.  


Kyk weer na die bekende 1 Petrus 5:5,6. (2020 Vert.) Hoe verneder ons onsself onder God se hand? Juis deur ons bekommernisse op Hom te laai, juis deur te vertrou dat Hy vir ons omgee en kan sorg. Vertroue op die lewende God wat ook in ons daaglikse behoeftes voorsien is deel van praktiese Christenskap. 

Ek wil sommer in die verband 'n staaltjie uit my eie kinderjare met jou deel. Ons het in Suiderhof, Windhoek gebly. Op 'n keer het my pa, Johan de Koning gebid en gevra dat die Here vir ons sou vleis voorsien. Hy het ook so iets gebid soos "dit maak nie saak deur wie nie" Daardie selfde dag kom 'n Damaraman al die pad uit Katutura en bring vir ons 'n bok se blad. Hulle het 'n bruilof gehad en toe vir ons van die vleis gebring!

VAT VERS 19 OOK VIR JOUSELF!


Paulus se versekering is nie uit die lug gegryp nie, dis in lyn met wie God is en hoe Hy Homself as versorgende Vader aan sy mense openbaar het! As kind van God wat in gehoorsaamheid aan Hom leef, kan jy maar hierdie vertroostende versekering ook vir jou vat! Onthou net in Jesus het God reeds sy grootste geskenk aan jou gegee, die lewe van Sy Seun, dit bevestig sy liefde en die rykdom van sy genade bo alle twyfel – daarom sal Hy verder ook oorvloedig voorsien in wat Hy weet wat ons nodig het. As jy God as VERLOSSER leer ken het, sal jy Hom ook as VERSORGER beleef!

Luister ook op YoutTube - GOD SORG!


Saterdag 20 Maart 2021

MAAK SOOS JESUS!

[Die waarheid as fondasie van RADIKALE LIEFDE]




VANUIT DIE TRONK! 

Filippense is ‘n opwindende brief! Een rede – die “real life setting” is so eenvoudig en duidelik. Paulus is in die tronk en hy bemoedig ouens buite die tronk. Merkwaardig! Nog meer merkwaardig - die oorheersende tema is blydskap. Hierdie brief wys dat geloof werk, dis realisties uitleefbaar en haalbaar in die donkerste situasies. In 'n Romeinse gevangenis, maar ook in ons tye van Covid, korrupsie, onreg  en kerkverkrummeling…

Een van die redes vir die skryf van die brief was om die gemeente te bedank vir ‘n geskenk wat hy van hulle in die tronk ontvang het. Paulus gebruik sommer die geleentheid om sy weldoeners aan te moedig tot blydskap en vergenoegdheid. Tog spreek hy ook goggas aan soos ‘n gebrek aan eensgesindheid (4:2)* en natuurlik dwaalleer. (3:2)** (Hy verwys op ‘n baie kras manier na hierdie dwaalleraars!)

VERMANING

Paulus vind dit dus nodig om die gemeentelede van Filippi op etiese en leerstellige vlak te vermaan. Ons sien dat Paulus se grootste begeerte vir die Filippense was dat hulle ‘n evangeliese eenheid en liefde tot mekaar sal openbaar. Die sleutel vir ‘n eenheidsgesindheid is om te besef wat ons deur Jesus ontvang het (“as, aangesien” in vers 1)*** Hierdie besef moet ‘n dankbaarheid wek wat onselfsugtig is. (3,4)****

Lees gerus nou eers Filippense 2:5-11****

JESUS AS VOORBEELD

Nou fokus Paulus op die kragtigste voorbeeld van nederigheid, opoffering, die ander hoër ag as jouself... JESUS! “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:” (5) Die opdrag, die imperatief is – “Wees soos Jesus in julle verhouding met mekaar!”

UITGEBREIDE CHRISTOLOGIE

Ons vind hier iets baie opvallend. Die etiese opdrag is kort, maar die teologiese begronding hiervan is baie uitgebreid en ongelooflik diep en deeglik. (Dis waarskynlik ‘n vroeg Christelike lied wat Paulus hier aanhaal.) Hierdie is een van die groot belangrike Nuwe Testamentiese gedeeltes oor die persoon en werk van Christus. Dit beskryf beide wat ons noem : sy trappe van vernedering en sy trappe van verhoging. Onontbeerlike Christologie. Anders as wat baie predikers van vandag dink – was dit vir Paulus belangrik dat mense die regte teologiese kennis moes hê, want Paulus het besef dat dit wat jy regtig verstaan en glo, neerslag gaan vind in jou dade.

Hier is dus geen oppervlakkige “Hi ouens julle moet nice wees met mekaar, want julle is ‘n klomp great ouens bymekaar” nie! Verre daarvandaan! Nee, Paulus se benadering is eerder : “Broers en susters, kom ons probeer iets verstaan van die geweldige vernedering wat Jesus ter wille van ons deurgegaan het en kom ons probeer iets verstaan van sy ontsagwekkende mag en majesteit! En in die lig hiervan durf ons nie anders as om mekaar radikaal onselfsugtig lief te hê nie!

Kom ons gaan net so vinnig deur die Christologie wat Paulus hier opsom: Dit gaan eerstens daaroor dat Jesus bereid was om van die grootste hoogte neer te daal en neer te buig na die diepste vernedering, vrywillig! Vir my en jou!

(6) Jesus het nie selfsugtig krampagtig vasgeklou aan Sy Goddelike regte en status nie! (Wat is die implikasie ons? Wees onselfsugtig lief vir ander. Vergeet van : “Dis my reg om...” of “Ek is belangrik...”) Dink weer mooi. Jesus was gewillig om na die stukkende gevalle, sondige wêreld te kom, nie as superheld nie, maar as beperkte mens onderhewig aan die “ellende” van menswees. Hy het swak en ellendig geword om ons te help. Vrywillig!

(7) Hy het Homself leeggemaak. Hy het nie sy Godheid afgelê nie, maar Hy het wel die menslike natuur aangeneem. Hy word een van ons. Waarlik Immanuel, God met ons. Hy het vlees geword en in ons skoene kom staan. Nie ‘n veraf gerieflike Redder nie. Die Kersboodskap is alreeds ‘n boodskap van vernedering en lyding! . Jesus is nie soos ‘n ryk donateur op ‘n afstand nie! (Hulle stuur mos graag geld , maar wil nie hulle hande vuil maak nie.) Jesus is anders, Hy kom maak letterlik sy hande en voete vuil ter wille van ons. Hy kom ook nie as super mens, semi Goddelike heerser nie, maar as dienskneg. Hy demonstreer dit letterlik in Johannes 13:3-5 (voetwassing)

(8) As mens word Hy absoluut gehoorsaam aan die Vader, ‘n gehoorsaamheid wat lei tot die afgryslike skande en vernedering van die kruis. “...nogtans nie my wil nie...” Aan die vloekpaal word Hy ‘n vervloekte – Galasiërs 3:14!

WORTELS IN DIE OU TESTAMENT

Twee Ou Testamentiese temas speel hier ‘n rol:

Jesus is as’t ware “Adam in reverse.” Adam en Eva wou soos God wees –opgaan, gelyk wees aan God, Jesus kom vrywillig af, word gelyk aan mense. Adam en Eva was ongehoorsaam, Jesus was volledig gehoorsaam aan God – ja, tot aan die kruis!

Hier is ook ‘n ego van Jesaja 53:12 die Lydende Kneg. Ons is ook geroep tot ‘n lewe van selfopofferende liefde vir ander!

VERHOGING EN VERHEERLIKING

Paulus bly egter nie stilstaan by die vernedering nie, maar gaan aan met die ontsagwekkende heerlike verhoging van Jesus! Dit soos jy weet behels Sy opstanding, hemelvaart, sit aan die regterhand van God, die magsposisie van die heelal! Daar is ‘n direkte verband tussen sy vernedering en die verhoging –“ daarom.” Omdat Hy bereid was vir die vernedering word Hy verhoog. (Die lesers moes hierdie implikasie in hulle lewens ook begryp)  Vernedering lei tot beloning!

“Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom 'n naam gegee wat bo elke naam is, “ (9)

Die hoogste naam? Here, God, Verlosser! Goddelike Verlosser! Dis die implikasie vanuit die agtergrond in die profesie van Jesaja! Jesaja 45:15 – “U is die God wat U verborge hou, die God van Israel, die Redder! Eers na sy lyding word sy ware identiteit bekend! Jesaja 45:23 – “Ek sweer by Myself; geregtigheid gaan uit my mond, 'n woord wat nie herroep word nie: dat voor My elke knie sal neerbuig, by My elke tong sal sweer.”

Paulus wil sê : “Sien tog raak wie Jesus is! Sy vernedering, maar ook die heerlike gevolge van sy vernedering! En wys sy gesindheid en karakter ook in julle lewens! (Terloops – hierdie bonatuurlike Christologie is onaanvaarbaar vir die ongelowige mens... destyds... maar ook vandag... Die wedergeboorte is nodig om dit te glo, te begryp en te waardeer!)

VERKONDIG CHRISTUS!

Mens kry die indruk dat lidmate tot satwordens toe vermaan word tot betrokkenheid, opoffering, eenheid, liefde... met min resultate. Dalk moet ons weer besef dis allereers nodig om Christus Jesus te verkondig en Hom as Gekruisigde, maar ook as die Verhoogde Messias. Die basiese heilsfeite is primêr en onontbeerlik. Slegs diegene wat aangegryp word deur die opofferende menswording en selfvernedering van Jesus, sy plaasvervangende lyding en sterwe, gaan getransformeer word tot ‘n gesindheid van radikale eenheid, opoffering en liefde! Alleenlik hulle wat in verwondering en blydskap juig oor die historiese feit van sy liggaamlike opstanding en die werklikheid van sy almag en majesteit word gemotiveer tot ‘n lewe van liefdesdiens. ‘n Liefde en eenheid nie gebou op die tydsgees van verdraagsaamheid (toleransie) vir sonde nie, maar ‘n liefde vir die waarheid. Wat ‘n groot waarheid! Wat ‘n groot liefde!

Ortopraksie volg op ortodoksie.*****

Leer ken die ware Jesus en jy sal begin reg leef! Ek bedoel natuurlik nie dat als gaan reg wees as ek bloot die heilsfeite ken nie, dat my lewe gaan verander as ek my katkisasie toetse deurgekom het nie. Ek bedoel dat as ek waarlik die feite rondom Jesus glo en dit vir my ‘n werklikheid geword het, sal my lewe nooit weer dieselfde kan wees nie. Onmoontlik! As sy vernedering en sy verhoging my aan die hart gegryp het kan ek nie ongeërg voortgaan op die pad van sonde, die soeke van eie belang en onvergewensgesindheid nie! Wat glo ek en jy werklik oor Jesus?


Slotopmerking – Die geskiedenis bewys dat daar waar Jesus as Verlosser vir mense persoonlik ‘n werklikheid word, hulle gedrag sal verander. In die 18de eeu was Engeland moreel op ‘n laagtepunt en op die rantjie van ‘n rewolusie soortgelyk aan Frankryk. Die haglike toestand van hierdie nasie was nêrens duideliker sigbaar as in die sogenaamde Gin Craze nie. Daar word bereken dat een uit elke sesde huis in London ‘n Gin shop was. (Sien Arnold Dallimore se George Whitefield, Vol I p25) Dit was die kragtige Christosentriese herlewingsprediking van George Whitefield en John Wesley wat die nasie geskud het en tot morele en maatskaplike hervorming gelei het!

Mag ons almal weer geskud word deur die evangelie van Jesus en so kom tot ‘n nuwe gesindheid in ons harte – die gesindheid van Jesus, wat ons anders sal laat optree!

NOTAS

· *Filippense 4:2 “Ek vermaan vir Euodia en ek vermaan vir Sintige om eensgesind te wees in die Here.”

· ** Hy spreek die dwaalleraars aan wat die besnydenis vir gelowige verpligting wou maak en noem hulle “hond” 3:2 - Let op die honde; let op die slegte arbeiders; let op die versnyding. (OAV)

· *** “Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing...”

**** 2:5 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.

2:6 Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie,

2:7 maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword;

2:8 en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.

Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom 'n naam gegee wat bo elke naam is,

sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,

 en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader. (Filippense 2:5-11)


***** ‘n regte lewenswyse volg op ‘n regte teologie!

Woensdag 20 Maart 2019

ROEP MY AAN IN DIE DAG VAN BENOUDHEID!


‘N HEERLIKE BELOFTE AAN GOD SE GETROUE GUNSGENOTE 



“Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer." (Psalm 50:15) 



Wat ‘n wonderlike belofte! Beleef ons nie juis nou dae van benoudheid nie? Dis droogte,  nee, RAMPDROOGTE (tans ongekend erg hier in Namibië), dis siekte, dis onheile en bekommernisse (ESKOM?) en wie weet wat alles wat ons kwel en bedreig... Ja, ook die benoudheid oor onbekeerde eggenotes, kinders...

Kom ons kyk mooi na hierdie wonderlike versekering. Kyk na die konteks. Psalm 50 (maak gerus jou Bybel hier oop) was waarskynlik deel van ’n seremonie van verbondshernuwing. (Sien die verwysings na “verbond” in verse 5,16) Dit was nodig, nie omdat Gód sy verbond vergeet nie, maar omdat mense hulle verantwoordelikheid binne die verbond vergeet. Dis natuurlik ook so vandag. Daarom die belangrikheid van die Woord en sakramente... Dit herinner ons telkens aan God se verbondsgetrouheid. Dit gee ons geleentheid om onsself opnuut aan Hom toe te wy. 

Die psalm val uiteen in drie dele : 

Oproep tot aanbidding. (1-6) In die Hebreeus begin hierdie psalm met ’n kragtige opeenstapeling van Godsname : El, Elohim, JHWH! Die hele wêreld, hemel en aarde en spesifiek sy gunsgenote, die wat aan Hom getrou is word opgeroep tot aanbidding! Dit bly altyd die hoofsaak : God moet aanbid word. Hiervoor het Hy ons gemaak en gered. God self is in die middelpunt! Sy heerlikheid, nie ons behoeftes nie! Sy AGENDA nie ons s'n nie!

Die ware betekenis van die offers. (7-15) Israel moet nou luister! Die Here spreek hulle verkeerde verstaan van offers aan. In essensie kom dit daarop neer – Julle moet besef God het geen offers nodig nie, want als behoort in elk geval aan Hom. God is nie honger of arm nie. Hy het óns nie nodig nie, ons het Hom nodig. In die verhouding met God gaan dit nie daaroor dat ons iets vir Hom moet doen omdat Hy een of ander behoefte het nie, maar die essensie van die offerdiens gaan oor dankbaarheid en dat ons getrou sal bly aan ons geloftes teenoor Hom! Binne die konteks van die verbond staan Hy in ’n verhouding met ons. En juis binne hierdie verhouding, as dit ’n gesonde verhouding is, kan ons Hom aanroep in ons nood en benoudheid en sal ons sy uitredding ervaar. (15) 

Die ware betekenis van die wet. (16-23) Hierdie woorde word nou gerig tot die goddeloses tussen die verbondsmense! Dis hulle wat God se wet ken, maar dit nie gehoorsaam nie. Voor die seremonie van verbondsvernuwing moet almal hulle harte ondersoek. Drie sake word uitgelig as voorbeelde van ontrou teenoor God se gebooie. Die agste, sewende en negende gebod! (18-20) Nou moet daar mooi geluister word. Diefstal, huweliksontrou, leuens en skinder! Jy doen dalk nie self hierdie dinge nie, maar jy geniet dit saam. (Is dit nie maar wat gebeur as jy so vasgenael voor die sepies sit nie? Wat gaan oorbly van jou sepie as sonde nie met kleur en geur uitgebeeld word nie?) Dis die probleem in die kerk. Sonde is nie meer so erg nie! Die punt is net : Sonde is erg vir God! Hy gaan jou tot verantwoording roep! “"Moet Ek stil bly as jy sulke dinge doen? Dan sal jy dink Ek het soos jy geword! Nee, Ek eis rekenskap van jou, Ek kla jou aan!” (21) 

Die groot bedreiging vir die kerk van Jesus is nie die droogte of ESKOM nie, maar die feit dat mense nie meer rekening hou met God nie! 

As jy steel en egbreuk pleeg en skinder (of geniet as andere dit doen) is dit ’n simptoom van iets dieper – jy vat nie meer God en sy wil ernstig op nie! Om God se gebooie te vergeet is gelykstaande om Homself te vergeet! “Julle moet luister na hierdie waarskuwing, julle wat nie met God rekening hou nie, anders verskeur Ek julle sonder dat iemand kan red.” (22) Dis ’n baie ernstige saak om God weg te laat uit jou lewe! God sal jou verskeur! 

Agter hierdie waarskuwing lê die metafoor van God as ’n vreesaanjaende leeu wat verskeur. Hosea 5:14- “Ek is soos ‘n leeu teenoor Efraim, soos ‘n roofdier teenoor Juda. Dit is Ek wat verskeur en my koers gaan, wat wegdra sonder dat iemand dit kan keer.” Vers 23 herbeklemtoon weer vers 14. 

"Die mens wat My eer, is die een wat lof as ‘n offer bring. Hy wat reg lewe, vir hom sal Ek red." (23) 

“Lof is die offer wat jy aan God moet bring. Betaal jou geloftes aan die Allerhoogste.” (14) 


Dankbaarheid en gehoorsaamheid is die pad waarop gebedsverhoring en God se redding ervaar word! 

As ons nie God se uitsprake oor sonde ernstig opneem nie, kan ons beslis ook nie aanspraak maak op sy beloftes nie!


Terug by vers 15. Kyk bietjie nader na hierdie heerlike en bekende belofte. Hierdie belofte is natuurlik bedoel soos ons gesien het vir diegene wat God se verbond ernstig opneem. As jy Jesus aanvaar het, is jy nou deel die Nuwe Verbond. As ek die verlossing deur sy kruisdood gesmaak het, het ek juis nog groter rede om dankbaar te wees en my geloftes aan Hom te hou. (Terloops, hoe ernstig is jy nog oor jou doop, belydenisaflegging, huweliksbeloftes?) Onthou, nie net die “voordele” van die Nuwe Verbond nie, maar ook die verantwoordelikhede is baie groter nie! In hierdie belofte staan twee sake uit: 

God sal ons UITHELP en ons sal Hom EER! 

Kom ons begin by laasgenoemde. Ons weet tog dat die groot doel van die Skepping is die eer en verheerliking van God. God het alles gemaak tot Sy eer. Hy wil hê dat Sy heerlikheid en majesteit erken, bewonder en vertel sal word. God se eie eer is die hoogste doel waarna Hy streef, want omdat Hyself die hoogste goed is in die heelal kan daar geen hoër ideaal as dit bestaan nie. 

En tog beloof hierdie groot God om ons te help in tye van benoudheid. Hoe pas ons welsyn, geluk en blydskap dan nou in by sy eer? Dis baie belangrik om te besef is dat ons blydskap nie bots met hierdie strewe van God tot Sy eer nie. God se passie vir Sy eer is ten diepste nie skadelik vir ons geluk as mense nie. (Dit mag wel so lyk vir die sonde gevalle mens) Hoekom sê ons so? God word juis geëer deur die blydskap van Sy skepsele wat Hom met vreugde aanbid en bewonder. ’n Pa word geëer en is gelukkig juis as sy kinders gelukkig is!

 “God is most glorified in us when we are most satisfied in Him” (John Piper) 

God word geëer juis wanneer ons ons geluk, vrede en uitkoms in Hom vind! Ten diepste is hierdie twee sake nie teenstrydige doelwitte nie, maar een doelwit. Dit word baie duidelik sigbaar in die werking van gebed. 

Wat gebeur wanneer ons volgens God se wil bid en so verhoor word en bly is? Ons kry die hulp en die Gewer kry die eer! Dis waarom gebed so onmisbaar belangrik is. Gebed het dus te make met hierdie twee sake : ons blydskap deurdat ons hulp van God ontvang en God se eer en heerlikheid. Omdat ons deur gebed Hom dank en erken as Gewer. Kom ons toets dit aan die lering van die Nuwe Testament. Hierdie waarheid word baie duidelik deur Jesus in Johannes 14:13 en 16:24 bevestig : 

“Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word.” 

“Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” 

God se belofte hier in Psalm 50:15 is steeds waar! Onthou net die hele konteks. Hierdie belofte is nie vir die wat in sonde volhard nie. Hierdie belofte is ook beslis nie 'n kitsreseppie om my probleme op te los nie. Dit funksioneer alleenlik binne ‘n dankbaarheidsverhouding met God in die konteks van die Nuwe Verbond waarvan Jesus die Middelaar is. Dis 'n kragtige hulpmiddel binne die raamwerk van God se agenda, naamlik die eer van Sy Naam! Hierdie verhouding binne die nuwe verbond is moontlik gemaak deur Sy kruis en opstanding. Elkeen wat in gehoorsame dankbaarheid teenoor Jesus leef kan hierdie belofte glo en toepas! Hy sal jou gebed beantwoord en jou uitred, help en antwoord op ‘n manier wat eer sal bring aan sy Naam! 

Kantaantekening. Weereens wat ’n verskriklike ding is biddeloosheid! Ons sny ons eie blydskap af, nog erger ons ontneem God van Sy eer. Deur nie te bid nie misluk ons in God se skeppingsdoel met ons. Positief gesê, wat ‘n heerlike middel is gebed! Deur gebed beantwoord ons aan God se skeppingsdoel. Gebedsverhoring bring vreugde en as ons bly is word God geëer. Gebed is inderdaad die vernaamste deel van ons dankbaarheid! * 

*Heidelbergse Kategismus , Sondag 45, Vraag 116



Sondag 01 Julie 2018

SKEP GENOEG

EN SKEP MET BLYDSKAP UIT DIE FONTEINE VAN REDDING! 



Ons luister na die lofsange van die verlostes in Jesaja 12. Dis hulle vir wie die Here eers kwaad was en gestraf het, maar nou verlossing gebring het. (Kliek – NIE MEER KWAAD) Hulle is sondes uitgewis aan die kruis. Verlos deur die takkie wat sou uitspruit uit die stomp van Isai, Jesus Christus.* 


Daar is 3 aspekte waarna ons kan kyk in hierdie lofsange : Vertroue, Blydskap, Dankbare lofprysing. Ons het reeds gekyk na vertroue. Vertroue is 'n doelbewuste stap wat ek met my denke neem om my volkome op God se beloftes te verlaat. Ons kan dit doen, ons moet dit doen, want God se karakter is volkome betroubaar. Waar God vertrou word vlug angs en vrees. Ons wat vertrou op Jesus hoef nie meer die dood, straf of aardse omstandighede te vrees nie. 

OORVLOED! 

As ek God vertrou en my vrese verdwyn, kom daar 'n nuwe emosie en aktiwiteit in my lewe. Blydskap en dankbare lofprysing. (Let wel emosie en gevoel is deel van proefondervindelike godsdiens, maar dis 'n gevolg van vertroue en geloof, nie andersom nie. Ek vertrou God nie omdat ek lekker voel nie, ek vertrou hom ongeag my gevoelens of omstandighede.) 

Hierdie reaksie word met 'n pragtige metafoor uitgebeeld in vers 3. “fonteine van redding” Dis baie treffend vir mense wat gewoond is aan 'n dor land. (soos ons Suidwesters!) Ons weet water is lewe! 'n Fontein is dus 'n wonderlike ding, dis 'n bron van lewe. Dit spel volhoubaarheid, oorvloed, meer as genoeg! 

Genoegsame en oorvloedige verlossingsgenade. 

Almal kan skep, skep met blydskap soveel as wat nodig is. Dit laat mens dink aan Johannes 1:16 waar ons lees: "Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang." Dis die oorvloed wat Jesus bring.  O, geliefdes, laat ons God se beloftes vertrou en skep en bly wees! Waarom wil jy nog daar eenkant staan en doodgaan van sondedors? Kom skep! Maak nie saak hoe groot jou sonde, skuld en skande is nie... Dit maak nie saak hoe lank die ry mislukkings is nie...  Dis Jesus self wat jou nooi: “Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: "As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!” (Johannes 7:37) 

BLYDSKAP 

Elkeen wat lewende water kom skep, wat deel kry aan die oorvloedige vergifnis en verlossing, word bly! Blydskap! Blydskap is nie 'n randsaak of ekstra is in ons praktiese Christenskap nie. Dis 'n onmisbare deel en inherente bestanddeel van die verlossing wat God skenk. Ons hoor dit reeds in die engele se aankondiging van die geboorte van Jesus, "ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap." Dis deel van Jesus se wens vir sy dissipels in sy hoëpriesterlike gebed in Johannes 17:13. "sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulle kan hê" Volgens Paulus is vreugde een van die basiese kenmerke van die wat deel is van God se koninkryk. “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.” (Romeine 14:17) So kan ons aangaan. Ook die geskiedenis bevestig dit - waar God kragtig werk soos in tye van herlewing, is daar intense blydskap, dikwels eers intense smart oor sonde en dan die oorvloedige blydskap. (Kliek - SOUTPANSBERG) Dis duidelik dat blydskap en vreugde deel van God se oorspronklike bedoeling vir die mens was. Sonde het dit verwoes; verlossing het dit herstel. Verlostes is bedoel en veronderstel om bly te wees. Die besef dat God vir my kwaad was, maar nie meer is nie, omdat Hy my vergewe het moet tog 'n reaksie van blydskap tot gevolg hê. Terloops, dis miskien die rede hoekom baie sogenaamde godsdienstige mense so min blydskap ervaar. Hulle het nog nooit sondelas gevoel, die toorn van God raakgesien en die straf van die heilige God gevrees nie en dan die verligting van vergifnis ervaar nie. 

Verlostes het rede om bly te wees, die enigstes wat regtig rede het. 

Hierdie blydskap is meer as net oppervlakkige glimlaggies, dis die onvernietigbare blydskap van Jesus ten spyte van omstandighede! (Kliek – ONVERNIETIGBARE VREUGDE) 

AANBIDDING, LOFPRYSING EN GETUIENIS 

Saam met blydskap gaan dankbare aanbidding en lofprysing. 

“Op dié dag sal julle uitroep: "Loof die Here, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend en verkondig dat sy Naam groot is. 
Sing tot die eer van die Here, want Hy het groot dinge gedoen, maak dit aan die hele wêreld bekend. 
Jubel en juig, inwoners van Sion, want groot is die Heilige van Israel en Hy is by julle!" (4-6) 

Hoor, dit behels sing, jubel en juig. Nie net sommer omdat dit lekker is nie, maar tot eer van die Here. Hierdie lofprysing het 'n getuieniskarakter hê. Die volke, ja die wêreld daarbuite sal geraak word. So in ons situasie sal dit beteken dat hierdie lofprysing en dank meer moet behels as net lekker sanggeleentheid. Dit gaan oor die oorvertel en praktiese demonstrasie van God se verlossingsdade. Die lof handel oor SY dade, die groot dinge wat HY gedoen het. Enige kind van God kan en moet meedoen aan hierdie lofuitinge. Los die verskonings om stil te bly!** 

Daar is drie redes in hierdie gedeeltes waaroor ons moet jubel en juig. Anders gestel, die inhoud van ons lofbetuigings handel oor drie sake: 

- die groot dinge wat God gedoen het (5) 

- God se karakter - Hy is groot, Sy Naam is groot! 

- God is by ons, in ons midde. (6) 

Laasgenoemde is eintlik die kersie op die koek. Wat 'n heerlike waarheid. Wat sou al God se wonderlike eienskappe ons gebaat het as Hy ver en verwyderd van ons sou wees? God is by ons - Hy is nie meer kwaad nie, die muur van skeiding is afgebreek. Die belofte van Jesaja 7:14 van Immanuel (God met ons) het waar geword! Jesus het gekom en onder ons kom woon. Hy woon op hierdie oomblik in ons deur sy Gees en eendag sal Hy permanent en volmaak vir altyd tussen ons wees. “Toe het ek ‘n harde stem van die troon af hoor sê: "Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.” (Openbaring 21:3) Dit lyk asof hierdie gedeelte profeties kyk na Jesus se eerste koms, die verlossing wat hy gebring het, die verlossing en ons reaksie daarop soos ons dit nou ervaar, maar ook verby dit alles na die ewigheid en ons finale verlossing. Die verlostes gaan vir ewig bly wees, besig met dankbare aanbidding en lofprysing. 

SING JY SAAM?

Is jy deel van die skare verlostes in Jesaja 12 en kan jy saamsing? Is jy deel van die skare wat kan sê : "U was ook vir my kwaad...." , wat kan sê : “Ek vertrou en is nie meer bang nie" ? 

Indien : 

JA - Wel vertrou nog meer, wees meer dankbaar, prys, getuig meer... Jy het rede! 

NEE - Kom na Immanuel, na Jesus die Spruit uit die stomp van Isai. Kom skep, stel jou vertroue in Hom. Hy vergewe, Hy versadig en verfris! Voeg dan ook jou loflied by die verlostes van Sion! 

*Jesaja 11:1,2 “‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra. Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here.” Isai was natuurlik die vader van Dawid en uit die nageslag van Dawid, is Jesus, die Seun van Dawid gebore. 

** Die verskoning is dikwels – “ek weet nie hoe om te praat nie, ek moet seker eers ‘n evangelisasiekursus loop.” Kind van God, jy het hoegenaamd nie eers 'n evangelisasie kursus nodig om te begin getuig nie. (Daarmee beweer ek nie dat dit nie nuttig en sinvol kan wees nie.) Inteendeel as iemand agterkom jy vertel vir hom iets waarin jy afgerig is op 'n kursus-, dan klink dit dalk nie meer so baie eg nie. Jy loop tog nie eers 'n kursus om te kan vertel van 'n wonderlike vakansie nie? Nee, jy borrel net oor van jou wonderlike wedervaringe!



 STROME!
(Die Molopo kom af, 2009)

Vrydag 07 Julie 2017

SMAG JY NA KRAG?

- Die gebed van die apostel Paulus gee perspektief en hoop!



Paulus bid vir sy lesers onder andere vir krag in die gebed wat opgeteken is in Kolossense 1:9-14. Nou as Paulus van krag praat roer hy onmiddellik ‘n snaar in ons almal aan. Hoe so? As Christene die woord “krag” hoor dan word die ore gespits. “Krag, wel dis wat ek nodig het, dis wat ek kort in my geestelike lewe”, sal baie kinders van God erken. Inderdaad is krag ‘n onmisbare faset van Christenskap. Die koninkryk bestaan tog nie uit praatjies nie, maar krag. ‘n Geloof wat nie werk, nie ‘n verskil maak nie is seker nie veel werd nie. 


Ons wil almal meer krag hê, maar wat het ons werklik in gedagte? Om die waarheid te sê alle mense smag na krag en sukses. Dis die rede waarom muti winkels, toordokters en “lifecoaches” altyd florerende besigheid maak. Almal soek krag... Dink aan Simon die towenaar (Hand 8) wat sy natuurlike begeerte na krag onder ‘n geestelike dekmantel versteek het. Dis die rede waarom mense deur die eeue godsdienstig was en is. Om krag by die een of ander godheid te kry om die aardse lewe makliker te maak en meer suksesvol te wees. Dis die groot aanspraak van alle dwalinge en kultusse – “by ons is daar regte krag te vind.” Dis vir baie mense deurslaggewend in die keuse van ‘n kerk – “hier is dit nie dood nie, hier is krag.”

Maar presies wat verstaan ons onder krag? En is dit ook wat Paulus met krag bedoel? Weet julle, onwillekeurig, die oomblik as ons die begrip krag hoor maak ons gedagtes ‘n vinnige draai by Tarzan, Superman of enige ander gespierde figuur uit die hede of verlede afhangende van jou ouderdom en blootstelling.* Onbewustelik projekteer ons dan hierdie konsep in die Bybelse begrip “krag”. Bonatuurlike krag wat die poppe laat dans en die koppe laat draai. Krag wat my bemagtig om dinge te laat gebeur, my gaan help om bonatuurlike dinge reg te kry. Krag wat siektes, probleme en teenstanders hetsy (fisies of geestelik) in die stof sal laat byt. Krag wat soos ‘n laserpistool werk en my geestelike opponente (hetsy bose magte of menslike teenstanders) sal laat vernietig tot daar net so ‘n rokie van hulle oorbly. Meer krag beteken in ons denke minder probleme en moeilikheid, meer sukses en gerief. Hoe meer krag hoe minder vyande en ongerief. Juis daarom soek almal krag. 

Wat bedoel Paulus hier met krag? Kyk na die teks self en die onmiddellike konteks.

“...en met alle krag bekragtig word volgens die mag van sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap, en die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig...” (Kolossense 111,12 OAV)

“Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig.” (Kolossense 111,12 NAB)

Drie sake kom na vore:

~Die aard van die krag - “mag van Sy heerlikheid” (OAV) “wonderbare krag” (NAB) Die krag waarvoor Paulus bid is die krag van God self. Dis nie positiewe denke nie, dis nie ‘n menslike foefie nie. As ons glo in die werklikheid van ‘n lewende God moet ons ook glo in die werklikheid van Sy krag in ons wat glo. In Efesiërs 1:18-20 verduidelik hy meer uitvoerig wat hierdie krag behels:

“Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het...”

Ja, die krag wat in jou as kind van God werksaam is, is dieselfde krag waarmee Jesus uit die dood opgewek is. Hierdie selfde krag is (reeds) werksaam in die lewe van God se kinders. (besef dit!) Dis ‘n ontsaglike ongelooflike heerlike waarheid! GLO DIT!

~Doel van die krag.  Dit word duidelik aangetoon - “om geduldig te volhard.” LW -nie krag vir sukses nie. Wat kan ons hieruit aflei ten opsigte van die krag? Een saak is baie duidelik dié krag is nie ’n towerstaffie om ons probleme uit die weg te ruim nie. Volharding en geduld veronderstel juis stryd, ‘n langdurige stryd! Dit gaan oor krag wat ons moet dra en laat vasbyt op die styl bergpad van die geloof! In alle omstandighede! Juis omstandighede wat nie lekker en aangenaam is nie... toetsing, verdrukking. Prakties beteken hierdie krag dus nie dat ek lyding in my huis, werkplek of skool sal vryspring nie. Hierdie krag beteken nie noodwendig dat my hele familie/werksmense onmiddellik sal bekeer en ek dit makliker sal hê nie. Hierdie krag beteken nie dat ek superfiks of stinkryk word nie! Hierdie krag gaan daaroor dat ek alles wat oor my pelgrimspad kom sal kan hanteer. Dis ook presies soos Paulus die bekende Filippense 4:13 gebruik!

~Nog ‘n derde saak wat hierdie krag besonders, eiesoortig maak is die blydskap aspek.** Dit bring ons by ‘n uniek Christelike aanslag. Daar’s immers baie nie-Christene wat ook ‘n hoë premie plaas op volharding, uithouvermoë en geduld soos byv. die Stoïsynse filosowe van Paulus se tyd. Hulle het groot klem gelê op selfgenoegsaamheid – “ek kan alles verduur en vat, want ek glo in myself.” Die element van blydskap impliseer dat die krag wat God ons gee nie maar net beteken om morrend of knorrend vas te byt nie of op ‘n fatalistiese wyse maar net gedwee alles te verduur nie.  Ons volharding is positief 'n saak van vreugde al is dit nie maklik nie. Dit gaan ook nie bloot oor aanplakglimlaggies ter wille van die media nie. Ons het as God se verlostes regtig rede om bly te wees. Wat is die grond van ons blydskap en dankbaarheid? “en die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig, Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde, in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes." (Kolossense 1:12-14.) Die verbysterende heerlikheid van ons genadige verlossing moet voorop staan in ons gedagtes, dan kan ons nie anders as om bly te wees nie!

Is hierdie blydskap te midde van alle omstandighede realisties? Ja, dink maar aan dit waarvan ons lees in Handelinge 16. Paulus en Silas in die tronk het nie net op hulle tande gebyt en gesê ons sal nie huil nie – nee, hulle gaan verder en sing! Dis in lyn met die opdrag wat Paulus (vanuit die tronk) gee in Filippense 4:4 “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” Wees bly! ALTYD! Trouens net ‘n entjie verder sien ons dit waarvoor Paulus gebid het vir die Kolossense was inderdaad ‘n praktiese belewenis in sy eie lewe! “Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie.” En dis juis die krag wat God hom gee wat hom hiertoe in staat stel! “Hóm (Jesus) verkondig ons deurdat ons alle mense met alle moontlike wysheid onderrig en leer, sodat ons elke mens tot geestelike volwassenheid in Christus kan bring. Daarvoor span ek my ook in en beywer ek my met die krag wat Hy gee en wat kragtig in my werk.” (Kol 1:24, 28-29)

Terloops, dis duidelik die ontvangs van Goddelike krag maak ons nie passief nie, maar wek in ons ‘n ywer en inspanning!

Jesus self is natuurlik die groot absolute voorbeeld van die soort krag wat Paulus hier in gedagte het! Maar merkwaardig, Hy het dit nie gebruik vir gerief, eie belang, eie veiligheid en gemak nie! Hy het nie eers brood vir Homself gemaak nie. Wat doen Hy met sy krag? Hy onderwerp Homself volkome aan die wil van sy Vader. Jesus se krag het Hom in Getsemane laat bid ”nogtans nie my wil nie...” Jesus se krag was so groot dat Hy Homself swak gemaak het om aan die kruis te hang en te sterf. Maar dit het Hom ook weer uit die dood laat opstaan volgens God se wil!

Die krag van God in ons maak ‘n praktiese verskil, nie in die aantal moeilikhede wat ons verduur nie, maar in die manier hoe ons dit verduur.

Dis ‘n krag wat ons laat volhard juis op ‘n manier dat ons eer aan God bring. Dis ‘n krag wat ons laat sing terwyl ons huil. Dis die krag wat ons oorwinnaars oor sonde maak. Dis die krag wat my terwyl ek seergemaak en verontreg word, my in staat stel soos Stefanus om toe hy met klippe doodgegooi is te bid : “Vader vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Die krag wat ons in staat stel tot volharding om die hemelse wenpaal triomfantlik te haal. 

Vertrou op God om hierdie gebed van Paulus in jou lewe waar te maak! Bid dit vir jouself en jou medegelowiges! Kies om in die stryd en beproewinge van die week wat kom geduldig te volhard met blydskap!

*Erkenning aan my broer dr. Jacobus de Koning van die Antipas Gemeente in Pretoria by wie ek hierdie preek die eerste keer "gehoor" het.
**Die verskille hier tussen die OAV en die NAB het te make met die keuse van punktuasie binne die Griekse teks. Gaan die woord blydskap saam met volhard of gaan dit saam met dank? Op die ou end is die betekenisverskil nie groot nie. Of ek dit sien as volharding met blydskap of dankbaarheid met blydskap, dis duidelik dat die werking van God se krag in my lewe tot blydskap sal lei.




Maandag 20 Junie 2016

DIS NOU DIE LEWE!

Die kind van God is in ‘n wen-wen situasie.

“Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.”

Hierdie is ‘n radikale uitspraak in Filippense 1:21 wat die kern en hart van egte Christenskap vir ons ontsluit en verduidelik. Dis ook seker die duidelikste toets van waar elkeen van ons regtig staan met betrekking tot die Verlosser Jesus Christus. (Dit wys my sommer wat gaan regtig in my hart aan?) Natuurlik val hierdie uitspraak van Paulus nie uit die lug nie. Paulus sit in die tronk en hy is nie seker dat hy lewend gaan uitkom nie. Juis daarom is dit so merkwaardig dat hierdie hele brief aan die Filippense oorheersend die tema van blydskap onderstreep. Paulus sê in effek dit maak nie regtig saak wat met hom gebeur nie, as hy bly lewe is dit goed, want dan kan hy nog vrugbare arbeid verrig, maar as hy sterwe is dit eintlik vir hom die beste, want dan is hy by Jesus. Hy bevind homself eintlik in ‘n wen-wen situasie, maak nie saak wat gebeur nie, lewe of dood, hy wen, want alles draai vir hom om Jesus Christus. 

Hoe raak dit my en jou as Paulus sê : “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Beslis, gaan dit nie net oor Paulus nie, dit gaan oor elkeen van ons. “Ja, maar ek is nie Paulus nie hoor, Paulus was darem ‘n apostel.”, hoor ek. Vriend, ons glo nie in die Roomse onderskeiding van geestelikes en leke nie, ons glo nie in super Christene en gewones nie. Daar is net twee soorte mense : Christene en nie-Christene. (Daar is wel in die liggaam van Christus ‘n verskeidenheid gawes en ampte.) Paulus se woorde behoort dus die eerlike belydenisverklaring van elke kind van God te wees.

In die woorde van Paulus vind ons juis die duidelikste onderskeiding tussen die Christen en die wêreldling – net die wedergeborene kan sê dat die lewe vir hom/haar Christus is! Ander (minder of meer godsdienstige) mense kan wel sê dat hulle soms tot Jesus bid, dat hulle van Jesus hou of van die kerk hou of graag soos Jesus wil lewe, maar hulle kan nie eerlik verklaar vir my IS die lewe Christus nie!

VERSKEIE SIENINGS OOR DIE LEWE

“Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Waarom draai die lewe vir jou? Wat IS lewe vir jou? Nou baie mense dink natuurlik nooit oor hierdie saak nie, hulle bestaan maar net van dag tot dag soos ‘n hond bestaan, eet sy kos, blaf as hy moet, kry kleintjies... en op ‘n dag is hy nie meer daar nie. 

Maar jy wat dink jy oor die lewe, waaroor gaan dit vir jou? 

Daar is natuurlik verskeie sienings : 

Hedonisme. Dit beteken prakties, ek melk die lewe vir elke krieseltjie plesier. Net een ding tel - hoeveel lekker dinge kan ek doen of ervaar. My maatstaf vir als is of dit my pret en plesier kan verskaf.

Vasbyter, sterkman siening. (stoïsyns) Ek moet die lewe maar vat soos hy kom, die lewe is iets om te verduur. Dis die “Cowboys don’t cry, ek sal nie huil nie korporaal” houding. Als draai om my eie oorlewing en belang. Ek het niks of niemand nodig nie.

Humanistiese beskouing. Ek moet net soveel as moontlik probeer goed doen aan ander mense. Wees net ‘n goeie mens, doen maar net altyd die regte ding. Daar is nie ‘n hemel of hel nie, dis als hier op aarde. Doen maar goed solank jy kan, want eendag is jy nie meer daar nie. 

Mistisisme. ‘n Passiewe houding van dood wees vir die wêreld se pyne en vreugdes, ‘n ontsnapping in ‘n mistieke sfeer. Vir sommige beteken dit ‘n kontak maak met jou dieper self.

Die gemiddelde, algemene materialistiese siening. Ag, ek dink nie veel oor die lewe nie, maar ek lewe maar vir my vrou en kinders, vir my werk en al die aktiwiteite waarmee ek besig is. Vir baie is dit hulle aftreeplanne! Toets jouself : Die dinge wat maar gedurig in my agterkop draai, dis maar die dinge waaruit my lewe bestaan en waarvoor ek regtig leef... My lewe bestaan uit en vir mense en dinge wat ek kan sien en tel. As hierdie dinge van my weggevat word is daar niks om voor te lewe en niks om na uit te sien nie. 

Soms kom die Here in sy groot genade en vat van hierdie “kosbare dinge” weg sodat ons die leegheid van ons lewe kan besef en Hom as sin en vreugde van die lewe kan soek!

Godsdienstige siening. (Dit lyk baie soos Christenskap, maar dit is nie.) Ek lewe vir my Christelike aktiwiteite en projekte wat ek aanpak. Die dinge wat ek DOEN vir die kerk gee sin aan my bestaan. Dit laat my nuttig voel. Ek geniet dit om besig te wees met “die dinge van die Here” Dis nie wat Paulus hier bedoel nie. As hy sy sin gevind het in sy avontuurlike sendingreise sou hy op hierdie stadium in depressie verval het, want hy kon nie nou reis nie, hy is gevange tussen die mure van die tronk. Vir Paulus het die lewe oor iets (Iemand) meer gegaan as sendingwerk, dit het gegaan oor Jesus self!

Wat bedoel Paulus met lewe en dat die lewe vir hom Christus is? Lewe is dit wat die belangrikste is vir my, dit wat sin en doel gee aan my bestaan as mens. Dis wat my laat “tiek”! Anders gestel dit is dit waarsonder die lewe geen betekenis sou hê nie. Dis dit wat my lewe oorheers, dit waarom my lewe draai. My GROOT LIEFDE! Sien Paulus daar sit in die tronk en dink... “Terwyl ek hier sit, vasgekeer, waaroor gaan my lewe, waarin kan ek vreugde vind, wat maak als sinvol? Ja, Jesus Christus maak die verskil, solank ek Hom kan liefhê, kan ek bly wees, ook terwyl ek agter tralies is. Die tronkkos en harde slaapplek kan niks aan sy liefde vir my verander nie. En as ek hier uitkom, het ek ook geen ander begeerte as om Christus beter te leer ken nie. Die kwaliteit van my lewe hang nie af van my omstandighede of my geleenthede om iets te doen nie, Jesus self gee kwaliteit aan my lewe en Hy verander nie. My blydskap is nie gebou op omstandighede nie, my blydskap is gebou op Jesus wat my so liefgehad het en sy lewe vir my gegee het. (Vgl. Gal 2:20ev) Die waarde van my lewe is nie afhanklik van wat ek besit of wat ek bereik nie, maar van Jesus en wie Hy is en wat Hy vir my reeds gedoen het.” Paulus se lewensideaal is Christus Jesus self. Hy vat dit pragtig saam in 3:10 as sy groot wens : “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood,”

Hoe het dit gebeur dat Jesus self Paulus se kosbaarste bate en die sin van sy bestaan geword het? Paulus het eers op ander bates staatgemaak en ander ideale gehad. Hy het op ander dinge en prestasies geleun om God te probeer beïndruk... Dit was inherent goeie dinge soos sy Joodse afkoms, sy suiwer ywerige godsdiens, sy hoë morele waardes.... Maar toe word hy op pad na Damaskus gegryp deur Jesus en hy besef al hierdie dinge is waardeloos om hom van sy sonde vry te spreek. Hy beskryf dit treffend in Fil. 3:3-9 soos volg : 

“As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: ek is op die agste dag besny, van geboorte ‘n Israeliet, uit die stam Benjamin, ‘n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ‘n Fariseër, in my ywer ‘n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik. Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo."

JESUS SE WAARDE IS ALLESOORTREFFEND!

Paulus moes tot die besef kom dat geen menslike bates hom kan red en voor God regverdig stel nie, net Jesus. So het Paulus die allesoortreffende waarde van Jesus besef en daarom het hy tot ‘n heel nuwe waardasie van die sin van die lewe gekom.

Jesus is my lewe sê Paulus. In Hom is daar vryspraak, vreugde, vrede. Hyself is genoegsaam vir al my behoeftes. Hy skenk my ‘n diepe tevredenheid in alle omstandighede.* As dit goed gaan en ek het oorvloed, as dit sleg gaan en ek gebrek ly. As vry is en kan rondbeweeg en ook as ek in die tronk sit agter tralies. Hy gee my krag om goed en sleg te hanteer. (Fil 4:13) Jesus is my doelwit, my skat, my onuitputlike bron, my alles! En ja, selfs as ek moet sterwe, ook dan kan ek nie skade ly of verloor nie, dan wen ek ook, dan is dit wins, want dan is ek by HOM! 

*Doen jouself ‘n guns en lees weer ten minste die hele Filippense hoofstuk 4.


Christuskirche - Windhoek

Donderdag 21 Mei 2015

VIND VREUGDE IN DIE VRYSPRAAK

- bou jou blydskap op die vaste feit dat God niks meer teen jou hou as jy in sy Seun glo nie!

Ons het nou al gesien dat een rede vir ‘n gebrek aan Christen vreugde en blydskap is dat baie mense in ‘n geestelike tussentoestand is – hulle het al iets van die werking van God in hulle lewens ervaar, maar hulle kan nog nie met sekerheid sê dat hulle aan God behoort nie.  (Kliek op TOEGEWASEMDE WINDSCREEN) Sommige het wel iewers ‘n opregte geloofskeuse vir Jesus gemaak, maar hulle is onseker of hulle werklik vergewe is en deur God aanvaar is. Een groot rede is dat hulle onkundig is oor die Bybelse begrip van vryspraak/regverdiging deur die geloof alleen. 

En dis juis ‘n kern Christelike waarheid – dis die waarheid wat vir eeue onder die stof van Roomse tradisie weggesteek was en toe deur Martin Luther en ander reformatore herontdek is. Is jy in jou gemoed helder oor die vryspraak deur die geloof alleen?

Hoe lyk iemand wat onseker of onkundig oor hierdie waarheid is? Dis iemand wat dink dat as ek goed is en oulike dinge doen hou God van my en as ek struikel dan hou Hy minder van my. Iemand wat gedurig bekommerd is, "Sê nou maar daar is een sonde wat ek vergeet het om te bely, sal ek dan hel toe gaan?" Dis iemand wat gedurig deur skuldgevoelens geteister word en knaend wonder : "Bid ek genoeg, lees ek genoeg Bybel, is ek heilig genoeg?" 

Jy maak dus baie erns met allerhande pligte (en dis goed), maar jy het nooit vrede nie en daarom ook nooit vreugde nie.  

Dis dikwels ook iemand wat gekwel bly oor die verlede. Ja, miskien is ek vergewe, maar wat van daardie een vreeslike ding? Hierdie mense sê in teorie ons word gered deur Jesus alleen, maar eintlik is dit ‘n werke godsdiens gebou op  godsdienstige prestasie. Eintlik glo hulle in redding deur die wet en omdat geen mens die wet volmaak kan hou nie, skiet hulle redding altyd te kort en het hulle nie vreugde en vrede nie. Die oplossing is die ontdekking van vryspraak deur die geloof in Jesus alleen. Vind vreugde in die vryspraak!

Kom ons kyk na ‘n paar aspekte van die vryspraak soos Paulus dit in die Romeine brief verduidelik. “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God,  en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig (vrygespreek -NAB) deur die verlossing wat in Christus Jesus is.” (3:24,25) Kyk na ‘n paar implikasies van hierdie uitspraak:

Almal het gesondig. Almal is ewe skuldig. Heidene sowel as Jode. “Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ‘n mens wat sonde is.” (3:20)   Al jou mooi godsdienstige prestasies of jou bevoorregte verbondsstatus kan nie vir jou vrede bewerk nie. Geregtigheid deur die wet is ‘n doodloopstraat, want nooit kan ek goed genoeg wees nie! 



Soos ‘n hamster op ‘n trapwieletjie bring al my ernstige pogings my nêrens nie!

Nou hoe sal ek dan ooit vrede en vreugde kan vind? Ons word vrygespreek "uit genade, sonder verdienste!" Let op die herhaling van dieselfde begrip en dus die sterk beklemtoning van God se vrye guns oor sondaars. Geen menslike verdienste of meriete is ter sprake by die redding van ‘n sondaar nie. Dis inderdaad heeltemal ‘n geskenk. Ek en jy kan dit op geen manier verdien of aanhelp nie.

Vrygespreek. Vryspraak is in wese ‘n juridiese begrip. Dit gebeur normaalweg in ‘n hof. Die regter of landdros het die mag om iemand onskuldig te verklaar. In hierdie geval, wie word onskuldig verklaar? Romeine 4:5 gee ‘n verbysterende antwoord : goddeloses!  “Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof.” Skuldiges wat die hel verdien word  onskuldig verklaar deur God. Verstommende genade!

Hoe kan dit gebeur? Hoe is so iets dramaties moontlik?  Vanweë die verlossing in Jesus. Dit gaan hier oor die losprys* wat Hy betaal het. Die straf wat Hy in ons plek gedra het.   Die kruis is die basis waarop ons vryspraak of kwytskelding berus! “Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.” (Kolossense 2:14) Hierdie vryspraak is volledig en beteken dat God niks meer teen my hou nie! “Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie." (Hebreërs 8:12)

Hoe kry ons die vryspraak?  Hoe word dit persoonlik myne?  Deur ‘n spesiale teks of openbaring of teken? Deur ‘n warm gevoel? Deur ‘n reeks stappe te volg of ‘n voorgeskrewe rympie te prewel? Nee, deur geloof in Jesus. Romeine  5:1 laat geen onduidelikheid oor die saak toe nie. “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” So het ons nou 'n hoop op deelhê aan God se heerlikheid en dit lei tot blydskap!  Vryspraak deur geloof!  Dwarsdeur  die Nuwe Testament is die skakel wat ons aan Jesus se weldade bind - geloof! Glo in Jesus, glo wat God oor Sy Seun getuig.  So kry ons vrede met God en dit bring blydskap! LW – Geloof in Jesus, nie geloof in my geloof nie! (want my geloof opsigself sal altyd maar gebrekkig bly)

Horatius Bonar se opmerking bly altyd baie waar – “What God demands from us is not satisfaction with our faith but satisfaction with Christ and His work!”

Glo in Jesus Christus. Ontvang so die vryspraak en verheug jou daarin ongeag jou gevoelens, omstandighede of Satan se beskuldigings!



*Grieks - apolutrwsiV  Bauer – “buying back a slave or captive making him free by payment of a ransom”