BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Uitverkiesing. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Uitverkiesing. Wys alle plasings

Woensdag 17 Junie 2020

WIE HET DIE MAG OP AARDE?

- vaste kos vir versterking in ‘n tyd van verwarring. 


Wie het die mag op aarde? Platweg gestel - Wie is die sterkste, wie het die laaste sê? Dis ‘n saak wat nou weer baie aktueel raak. As ek so luister, klink dit vir my of almal nie heeltemal seker is nie. Wie het die mag? Ons sien nou immers soveel voorbeelde van magsmisbruik. (Dink maar aan die toepassing van buitensporige Covid-19 maatreels in Suid-Afrika en ander plekke.) So wie het regtig die mag? Is dit plaaslike politici? Is dit internasionale geldmagte of geheime organisasies? ‘n Toekomstige wêreldregering? Is dit die duiwel en sy demone? Of is alles maar net toevallige noodlot? 

In Jesus se sg. hoëpriesterlike gebed in Johannes 17 is dit baie duidelik wie alle mag op aarde het. 

 “Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: "Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee."  (Joh 17:1,2) 

Hierdie gebed gee vir ons as’t ware ‘n heilige insig in die diepte van sy wese. Jesus se gebed is ook ‘n volmaakte gebed. Die fokus van sy gebed is die fokus van alle ware gebed – die verheerliking van die Vader. Jesus se verheerliking deur sy kruisdood en opstanding gaan baie nou saam met die Vader se verheerliking. Die redding van sondaar mense deur Jesus se verheerliking in die kruis en opstanding bring immers eer en heerlikheid aan die Vader! 

Dis baie duidelik – Jesus dank Sy Vader dat Hy aan Hom die VOLMAG gegee het oor die hele mensdom (alle vlees) juis om die doelwit van eer aan God deur redding te bereik. 

Een ding kan ons van seker wees, Jesus se mag is ‘n absolute mag. 

Hier word ‘n spesifieke doel van Jesus se mag wat Hy van die Vader ontvang het aangedui – die redding van diegene wat die Vader aan die Seun gegee het. Ons het hier te make met ‘n baie diep, heerlike en vertroostende waarheid. Maar aan die ander kant natuurlik ook vir ons menslike verstand ‘n onbegryplike waarheid. Die Vader het sekere mense aan die Seun gegee om hulle te verlos. 

Wanneer? Dit het in die ewigheid gebeur, voor die grondlegging van die wereld. In die ewige raad van God het die God die Vader aan God die Seun sekere mense gegee om te red deur sy kruisoffer en opstanding. Hierdie waarheid vind ons reeds in Johannes 6:37. “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” Nie alle mense kom na Jesus vir redding nie, maar wel diegene wat deur die Vader aan Hom gegee is! 

As ons dit raaksien verstaan ons ook waarvan Handelinge 13:48 praat. Ons lees met betrekking tot Paulus en Barnabas se evangelieverkondiging die volgende : “Toe die heidene dit hoor, was hulle baie bly oor die woord van die Here en het hulle dit toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword.” “...en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” (OAV) 

Kind van God, hier het ons te make met ‘n verbysterende waarheid! 

Jou redding is van ewigheid af beplan en verseker deur God self! 



Die baie bekende Godsman dr Martyn Lloyd-Jones se preke oor hierdie gedeelte in Johannes 17 is saamgevat in die bundel, getiteld “Saved in eternity” Dis so veelseggend! 

Wat is die praktiese nut en betekenis van hierdie waarheid? Kind van God, jy wat na Jesus gekom het, jy kan weet dis nie uit jou eie krag of goedheid nie. Dis God se genade wat sonder verdienste aan jou vanaf ewigheid geskenk is, wat in die eerste plek gemaak het dat jy na Jesus gekom het en Hom as jou Saligmaker vertrou het. Die implikasie is dat jou redding nie op losse skroewe berus nie, maar van ewigheid vas is in die genadige besluit van God. Jou redding behels ‘n Goddelike wonderwerk en ingryping “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore.” (Joh 1:12,13)   Jou redding staan vas, nie omdat jou geloof of besluite so vas is nie, maar omdat jou redding verankerd is in die onveranderlike ewige genadebesluit van God self! Geboorte uit God! As dit jou nie opgewonde maak nie, wat kan dan? 

Die implikasie is : Geen duiwel, geen regering, geen geldmag kan verhoed dat Jesus God se uitverkorenes wat die Vader aan Hom gegee het, red nie! Geen mag of krag of gesag kan hierdie uitverkorenes uit die hande van Jesus ruk en hulle van hulle saligheid beroof nie 

Soek jy nog bevestiging van Jesus se almag? Luister bietjie... Jesus sê in Matteus 28:18 "Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.” Dis terloops die agtergrond van die heerlike sendingopdrag net in die volgende vers! 

Nog nie oortuig nie? Gaan lees maar net weer Openbaring. Openbaring in geheel is ‘n herbevestiging van Jesus heerlikheid en mag. Byv. die verheerlikte Christus het die sleutels van die dood en die doderyk. Nie Satan of wêreldmagte nie! Jesus is die Lam wat geslag is, maar wat terselfdertyd die Leeu van Juda is. Daar is nog baie voorbeelde. Die Verlosser Christus se mag is onbeperk en onaantasbaar!

DUIWEL?

Maar miskien wonder jy nou : "Wat van die Satan? Sy mag is tog ook groot? Hy word immers beskryf as die brullende leeu?" Ja, die duiwel is inderdaad gevaarlik. Hy kan groot skade aanrig en selfs kinders van God in die gevangenis laat werp en laat doodmaak. En tog... weereens is dit Openbaring wat vir ons 'n heerlike perspektief bied. In vergelyking met Jesus is sy mag baaie beperk en tydelik. Dit word pragtig uitgebeeld in die omstrede Openbaring hoofstuk 20. Jesus se regering is duisend jaar (simbolies vir volmaaktheid), die Satan word net vir 'n kort tydjie losgelaat om daarna vir ewig in die poel van vuur gewerp te word. Die kontras is duidelik : Jesus se mag is onbeperk en ewig. Satan het 'n klein beperkte speelruimte en sy ewige verdoemenis staan vas!

EWIGE LEWE

Onthou net weer, hierdie mag gebruik Jesus om onverdiend vir jou en my die ewige lewe te gee. En wat behels dit? Vers 3 “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.” 

Ewige lewe is nie net bloot ‘n onbepaalde verlengde bestaan nie. Lewe is meer as net blote bestaan. Ewige Lewe is ware kennis van God en sy Seun. Habakuk het al op hierdie begrip van ware lewe gesinspeel as hy ‘n tyd voorsien dat “die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” (Habakuk 2:14) 

Ons ken God en sy Seun nou reeds. 

Om God te ken beteken dat ek verander en vernuwe word en deel kry aan ‘n kwaliteit van ware lewe wat die ongelowige nie ken nie! Dink bietjie so daaraan – ons wat aan Jesus behoort kan nou in hierdie tyd van verwarring en vrees reeds elke dag die ewige lewe geniet! Ware kennis van en gemeenskap met die Vader en Seun deur die Heilige Gees. En niemand kan dit van ons wegneem nie, want Jesus het alle mag! Amen

Maandag 10 Junie 2019

MAAK VAS; MAAK SEKER! (3)

- WERP ALLES IN DIE STRYD! 



Die pad na sekerheid, vastigheid en volharding begin om raak te sien wat God gedoen het. Hy het volgens Petrus ons reeds ALLES geskenk wat nodig is om vir Hom te lewe en Hom te dien! Kliek op MAAK VAS; MAAK SEKER! (2)  



Na die wonderlike stellings wat Petrus in die eerste verse (2 Petrus 1:1-4) gemaak het (oor wat God ons geskenk het) sou mens dalk kon verwag, sy raad sou wees : “Ontspan. Let go, let God!” Nee! Toe nou nie! Allesbehalwe. Hoor wat sê hy in vers 5 : “En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk ...” (NAV) En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die..." (OAV) Ontvangers van verlossing word nêrens opgeroep tot passiwiteit, agteroorsit of ontspan nie! Ons durf nie laat slap lê, vir onsself leef of ons besig hou met net geldmaak of rugby speel of kyk nie... 



Daar's harde werk, broer en suster!

In hierdie oproep van Petrus in (2 Petrus 1:5) word die hele Bybelse benadering tot heiligmakig en die Christelike lewe saamgevat. Wat is dit?

Kom ek gebruik ‘n voorbeeld uit die oorlog. 

Twee luitenante moedig hulle manne aan voor ‘n kontak... 

Die een is baie positief. “Manne, julle weet ons het als wat ons nodig het. Ons het die beste opleiding ter wereld. Die bete wapentuig en voorrade. Die beste lugsteun en mediese ondersteuning as dit nodig sou wees. Julle weet die vyand is eintlik reeds verslaan en bang vir ons. Ons moet net die opruiming doen. Maar manne, nou moet ons alles gee... geen tyd vir slaplê of stadig en lui wees nie. Voluit, vorentoe!”

Die tweede luitenant het ‘n ander aanslag. “Manne, ek is bekommerd. Die vyand is sterk en het baie geie wapens. Ek is nie seker of ons genoeg ammunisie en ondersteuning het nie. Ek is ook nie seker of ons dit gaan maak nie. Ons moet maar kyk wat gaan gebeur... Ek wonder selfs of als die moeite werd gaan wees...”


Die Bybelse benadering tot die daaglikse Christelike stryd is duidelik die eerste een. God het ons alles geskenk. Werp daarom nou als in die stryd! Doen wat jy kan en moet. Stry hard! Raak gehoorsaam. Verander. Dink nuut, doen anders. Moenie stilstaan by jou aanvanklike geloof en bekering nie. Maak veranderinge in jou lewe, want God het julle reeds als geskenk wat nodig is om vir Hom te lewe! 


Onthou net, hierdie raad is nie vir alle mense nie. Net mense wat reeds kinders van God is, dus reeds vertroue op Jesus geplaas het. Die Heilige Gees woon in hulle. Hier het ons te doen met harde werk van heiligmaking. Dit kom nie sommer outomaties nie, want dan sou die opdragte nie nodig gewees het in die eerste plek nie.


Kom ons kyk net kortliks na die "trappe" wat volg op die basis van geloof. Die dinge waaraan ons hard moet werk... Ja, WERK! Hier is geen sprake van net een ervaring (die Charismate se omval) of ‘n kitsresep tot geestelike oorwinning nie.

Voeg met alle passie en vuur by jou geloof die volgende: 

DEUG/DEUGSAAMHEID Dis 'n skaars woord in die Nuwe Testament, wat eintlik uit die heidense wêreld kom. Dit beteken voortreflikheid, uitnemendheid (excellence). Dit was 'n belangrike kwessie destyds. Voortreflikheid is die volle vervulling van iets, 'n voortreflike mes is 'n skerp mes wat kan sny, 'n voortreflike perd is 'n perd wat vinnig kan hardloop. Maar nou is die vraag , wat is 'n voortreflike mens? Wat beteken deug nou prakties vir ons? Petrus het alreeds vir ons die leidraad gegee want hy gebruik dieselfde Griekse woord (areth) as wat hy i.v.m. Jesus gebruik het (in vers 3) om aan te dui hoe Jesus se heerlikheid , persoon , karakter ons na hom toe aangetrek het. Ware deug, ware voortreflikheid word in Jesus se karakter gevind. Jesus is die ware vervulde mens, wat aan sy Godgegewe doel beantwoord het, die mens par excellence. Ons word dus hier opgeroep om deur ons lewens iets van die aantreklikheid van Jesus se karakter te reflekteer. Maak werk daarvan... verander wat in botsing is met Jesus se karakter in jou lewe... Gesindheid, gewoontes, gedrag, ja selfs kleredrag!... Begin dink en doen soos Jesus gedink en gedoen het... Dit kos als, dit gaan moeilik wees... Dit gaan jou in botsing bring met die wêreld. Die wêreld hou nie van Jesus nie.... daarom het hulle Hom gekruisig... 

KENNIS. Dit gaan nie hier wetenskaplike kennis nie, maar praktiese insig om as Christen te lewe. Om goed van kwaad te onderskei. Vgl. Ef 5:17 “Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.” Petrus gebruik die woord (gnwsiV) ten spyte van die valse leraars se misbruik van die begrip (hulle "kennis" het tot losbandigheid gelei, teenoorgestelde van selfbeheersing soos ons lees in hoofstuk 2) Hierdie ware kennis lei tot heiligheid! Hoe kry dit prakties? Deur die Woord onder leiding van die Heilige Gees te bestudeer en te gehoorsaam!

SELFBEHEERSING. Kies vir selfbeheersing en beoefen dit! Nie net t.o.v. kos en drank nie maar in elke aspek van mens se lewe. Dit kom daarop neer dat ek my drange en begeertes sal beheer, hulle moenie my beheer nie. (Selfbeheersing het skaars geraak onder sogenaamde Christene - "Ag, ons het nie nou geld om te trou nie, maar ons bly maar saam, want dit kan nou nie anders nie... osn het nie selfbeheersing nie...") Vir die Christen beteken selfbeheersing nie maar net blote selfdissipline nie (dit het party heidene ook), maar oomblik na oomblik onderwerping aan die beheer van Jesus wat deur sy Gees in my woon. (Onthou die leiding van die Gees is lei in heiligheid – Romeine 8 vers 14) Petrus beklemtoon hierdie deel van heiligmaking weereens in direkte opposisie tot die valse leraars wat soos redelose diere die natuur volg, “Maar hulle sal, omdat hulle belaster wat hulle nie ken nie, soos redelose diere wat die natuur volg, gebore om gevang en vernietig te word, in hulle verdorwenheid te gronde gaan...” (2:12) en wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel. “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel.” (3:3). Dit sien ons elke dag , die onbekeerde mensdom is slawe van elke sondige begeerte , soos diere kan hulle nie anders as om hulle sondige instinkte slaafs na te volg nie. Dis juis sommige van hierdie mense wat spog oor spesiale geestelike insig en allerhande wonderlike ervarings met God wat hulle kastig gehad het. Laat ons dit duidelik weet, enige teologie wat ervaring en kennis losmaak van etiese reinheid en selfbeheersing is kettery. Dis valse lering. Vals lering (soos ons dit helaas ook kry aan ons teologiese fakulteite) lei tot onheiligheid en skynheiligheid! Ware lering wat in opregtheid gevolg word lei to ware heiligheid. Gelykvormigheid aan Jesus!

Selfbeheersing is heeltemal uit pas met die losbandige Huisgenoot en Hollywood leefstyl van vandag! Met selfbeheersing wys jy duidelik dat God jou uitgekies en verlos het!

So baie Christene broei heeltyd oor die kwessie van sekerheid. Gedurig besig met selfanalise, gedurig op soek na een of ander bevestiging – 'n wonderwerk, spesiale teks, visioen of ervaring. Petrus se raad is – Besef wat God jou deur Jesus geskenk het en begin met erns die Christelike lewe leef! Maak erns met hierdie opdragte en die res sal volg. Sit skouer aan die wiel om te vorder op die pad van heiligmaking! Dis hoe jy wys waarheen jy op pad is! Dis hoe jy jou uitverkiesing bevestig! AMEN!

Vir die begin van hierdie Pinksterreeks oor Sekerheid, kliek op MAAK VAS; MAAK SEKER! (1) 

Vir die opvolg op hierdie oordenking, kliek op MAAK VAS; MAAK SEKER (4)


Vrydag 14 September 2018

BYBELSE BALANS

EN AGAB OP SY WA !


“Iemand het egter losweg ‘n pyl afgeskiet, en dié het die koning van Israel getref tussen die skubbe van sy harnas en die borsplaat...” ( 1 Konings 22:34)

‘n Onbekende naamlose soldaat skiet sommer lukraak ‘n pyl af. Hierdie pyl tref egter niemand anders nie as Agab die goddelose koning van Israel. Is dit toevallig? Nee, Agab sterf soos God reeds vantevore aangekondig het, na die wrede moord op die onskuldige Nabot wie se wingerd hy so graag wou gehad het. 

Nou is die vraag, wie het Agab doodgemaak : God of die soldaat? 

Ja, Agab se dood het ‘n menslike oorsaak, die pyl van ‘n boogskieter. Was dit sommer toevallig, ‘n blote gelukskoot? Nee, Agab se dood het ‘n Goddelike oorsaak, dit was presies so deur God beplan. Die belangrikheid van menslike aksies en menslike verantwoordelikheid word net so in die Bybel beklemtoon soos Goddelike aksies en Goddelike soewereiniteit. 

Josef word deur sy broers verkoop. Dit was verkeerd en hulle bly verantwoordelik vir hulle eie gruwelike sonde. Maar daar is ook ‘n anderkant van die saak. “Toe Hy hongersnood oor die land gebring het en al hulle kos laat opraak het, het Hy iemand voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop.” Psalm 105:16,17. God se daad van stuur word parallel genoem met die daad van verkoop deur sy broers! Die een weerspreek nie die ander nie. 

Kom ons toets hierdie beginsel met nog ‘n gebeurtenis. Wie het Jesus gekruisig? Wie is verantwoordelik vir sy dood? Die skare in Jerusalem, Pilatus, Kajafas, Judas, die Romeinse soldate of die Satan self? Ja, hulle was almal verantwoordelik en dus skuldig. Petrus beskuldig juis die volk van hierdie vreeslike onreg. Maar daar is ook ‘n ander waarheid wat in balans hiermee is. “God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak.” Dis wat Petrus sê in sy toespraak op Pinksterdag in Handelinge 2:23. God is volkome in beheer, als gebeur soos wat Hy bepaal!

Goddelike soewereiniteit en menslike verantwoordelikheid is altyd in balans. 

Mense vergeet dit so maklik. Soms is dit vir ons gerieflik om menslike verantwoordelikheid te ontken. As iemand teen ‘n roekelose spoed jaag en so verongeluk, dan word die skouers maklik opgetrek en gesê : “Ag, wat sy strepie was maar getrek.” Dis waar, maar dis eensydig. God het ook vir ons die gebod gegee wat ons beveel dat ons nie menslike lewe (ook ons eie) in gevaar mag stel nie. God het ook vir ons die opdrag en verantwoordelikheid gegee om landswette te gehoorsaam. Die Bybel leer vir ons op baie plekke dat ons dade gevolge het. (Kliek - SWAPE EN SOTTE IN SPREUKE) Ons kan nie maar ons skouers optrek en onskuldig pleit nie. 

Die Bybel sien geen teenstrydigheid tussen menslike verantwoordelikheid en Goddelike soewereiniteit nie.

Dit geld ook vir ons geloofspad. Ons kry die ernstige opdrag in Filippense 2:12. “Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe” of soos die OAV dit nog sterker stel : “Werk julle eie heil uit met vrees en bewing”

Menslike verantwoordelikheid! Ons plig! Maar net daarna die wonderlike versekering. “want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.” Filippense 2:13 Goddelike soewereine genade. Ons moet werk ja, maar dis eintlik Hy wat ons die wil gee om te werk. Beide waarhede : die onteenseglike opdrag aan onsself én God wat alles bewerk soos Hy wil moet ernstig opgeneem word. Beide moet in balans gehou word.

Nog ‘n soortgelyke voorbeeld. Daar kom na elkeen ‘n dringende uitnodiging om na Jesus te kom. Dit behels ‘n keuse van my kant af.

"Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” (Matteus 11:28) Dis jou verantwoordelikheid om hierdie besondere uitnodiging te aanvaar. Aan die anderkant as jy dit aanvaar is dit nie jou goedheid nie, maar dit was Jesus se wil om Homself aan jou bekend te maak. “My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.” (Matteus 11:27) Hierdie waarheid word immers bevestig in Johannes 6:44. “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie;...”

Dit bring mens nou natuurlik weer by die ou strydpunt rondom die uitverkiesing. So baie Bybelse tekste beklemtoon God soewereine en onvoorwaardelike uitverkiesing. God kies ons van voor die grondlegging van die wêreld om sy kinders te wees. Dis 'n waarheid waaroor ons moet juig en bly wees! Daar is egter net so baie tekste wat die belangrikheid van ons keuse onderstreep. “Kies wie julle wil dien, vandag as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard nie, kom kry die water, elkeen wat wil… “ Ons moet beide waarhede ernstig opneem. Ons moet beide aspekte preek.

Paulus lê baie klem op die feit dat ons nét deur die geloof gered word sonder enige werke of verdienste van ons kant. “Ons betoog is tog dat ‘n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie.” (Rom 3:28) Jakobus stel dit weer duidelik dat geloof sonder werke heeltemal nutteloos is. “Julle sien dus dat ‘n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie.” (Jakobus 2:24) 

Is dit ‘n teenstrydigheid? Nee, Paulus vertel ons hoe ons gered word en dat redding alles net genade is. Hy sê dit vir mense wat die genoegsaamheid van Jesus se offer bevraagteken het en op eie prestasies, afkoms en wetsonderhouding wou staatmaak vir hulle redding. Jakobus praat aan die anderkant met mense wat genade wil misbruik en op hulle louere wil rus. Hy wil ons bewaar van ‘n valse skyngeloof. Dis vir mense wat redeneer, ons kan maar leef soos ons wil , want ons glo mos! Vir gesonde gebalanseerde Christenskap het ons beide waarhede nodig.

So is daar baie ander waarhede wat ons in balans moet handhaaf. Moet ons bid of werk vir ons kos? Ons moet bid, want Jesus het dit vir ons in die Onse Vader geleer. Beteken dit dat ons nie moet werk nie, en moet wag soos Elia dat die kraaie vir ons kos bring? (Nee, Elia het ‘n unieke opdrag van God gehad.) Die Bybel maak dit wel baie duidelik dat ons moet werk vir ons kos! "As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie." (2 Tessalonisense 3:10) Daar is ‘n Bybelse balans – bid en werk! 

Ons sien hierdie kombinasie baie treffend in die geskiedenis van Nehemia se opbou van die muur van Jerusalem. Daar is ernstig, gebid en gevas. Daar is net so ernstig hard gewerk en gebou. Hulle was ook gereed met hulle swaarde om hulle te verdedig teen die vyande wat die muur se bou wou keer. Gebed, maar ook troffels en swaarde was die instrumente... 

Ook wat die uitdra van die evangelie betref moet ons vashou aan beide bid en werk. As ons eksamen skryf,  bid en leer, as ons siek is… bid en medisyne gebruik.

Baie waarhede in die Bybel wat lyk of dit mekaar weerspreek. Dit weerspreek nie mekaar nie, maar is aanvullend. Ons moet elke waarheid ernstig opneem, maar nie eensydig opneem en verabsoluteer nie.

Simmetrie en balans is ‘n kenmerk van geestelike volwassenheid en insig. Baie dwalinge ontstaan juis wanneer een Skrifwaarheid bo ander beklemtoon word. Mag ons groei na geestelike volwassenheid wat Bybelse waarhede in balans sal hou! 

Erkenning aan Peter Barnes, Holding Two Truths Together, Banner of Truth, Dec 1997

Maandag 01 Mei 2017

METODISME

- vloek of seën? 

Metodisme is een van daardie vloekwoorde in die kerklike wêreld waarvan min mense wat die term gebruik presies weet wat hulle daarmee bedoel. ‘n Algemene beskuldiging wat sommer onnadenkend rondgeslinger en gehoor word is : “Die Skotse predikante het die Metodisme in die NG Kerk ingevoer” of “In Suid-Afrika word dr. Andrew Murray die draer van die Metodistiese denkstrominge.”  Dit maak dan sommer by implikasie van dr. Andrew Murray ‘n vreeslik gevaarlike dwaalleraar, want daar word ook beweer : “Die hoofgedagte van Metodisme is dat elke mens die saad van Goddelike genade in hom dra. Dit beteken dat dit van die mens self afhang of hy in die genade deel of nie. Daardeur verwerp hulle die uitverkiesingsleer.” Nou wonder mens van watter Metodisme word hier gepraat, aangesien een van die grondleggers van die Metodisme, George Whitefield juis ‘n vurige verdediger van die uitverkiesingsleer was!

Soms word die indruk gewek dat die etiket van die gewraakte Metodisme ‘n baie breë kwas is om almal te smeer wat erns probeer maak met Bybelse begrippe soos geloof, bekering en radikale lewensheiliging.  Sommige maak selfs die Bybelse opdrag om mense tot ‘n geloofsbeslissing uit te daag af as Metodisme. (Asof Johannes die Doper, Paulus en Jesus dit nie gedoen het nie!) Party is oortuig bidure is “Metodisties” en moet daarom liefs vermy word. Vir ander is  die begrip “herlewing” per definisie ‘n metodistiese dwaling. Is dit histories en teologies korrek en regverdig om sulke aannames te maak? Vermoedelik is daar kampvegters vir die suiwer leer wat die term “Metodisme” dalk met goeie intensies gebruik om kritiek te lewer op die oppervlakkige evangelisasie metodes en revivalisme wat by die semi-Pelagiaan Charles Finney (amper ‘n eeu later) ontstaan het. Dat ons skepties behoort te wees oor die sienswyses en praktyke wat party hedendaagse “evangelicals” by hom oorgeneem het, spreek vanself,  maar om dit onder die noemer van Metodisme te hanteer kan nie histories of teologies geregverdig word nie.  ‘n Bietjie  agtergrond kan dalk help om die verwarring op te klaar en baie van die wilde stellings te temper.

METODISME

Waarvandaan kom die begrip Metodisme?  Daar is duidelike historiese bewyse1. dat  die term van vroeg af deur George Whitefield op homself van toepassing gemaak is. Dis eers later deur John Wesley gebruik. Hierdie twee saam met John se broer Charles en verskeie ander was lede van die sogenaamde “Holy Club” in Oxford in 1729. Op hierdie vroeë stadium was die “Holy Club” natuurlik geensins evangelies van aard nie. Die fokus was streng geestelike dissipline en asketisme, maar sonder evangeliese sekerheid en blydskap. Die evangeliese herlewing en die kragtige prediking daaraan verbonde het eers later plaasgevind nadat Whitefield en die Wesleys die bevryding van die vryspraak deur die geloof in Christus alleen proefondervindelik gesmaak het. Niemand sal seker presies weet waarna die term “Metodisme” oorspronklik verwys het nie, maar Wesley se verklaring was  soos volg : “A Methodist is one who lives according to the method laid down in the Bible.” Dié benaming is natuurlik ook deur die teenstanders van die Groot Evangeliese herlewing van die 18de eeu gebruik om almal wat deur die herlewing beïnvloed is mee aan te dui hetsy diegene binne die Kerk van Engeland of daarbuite.  Eers later is die woord gebruik om Metodiste van Anglikaanse evangeliese gelowiges te onderskei.  Verder moet mens ook in ag neem dat die noemer “Metodiste” in ‘n engere sin na die volgelinge van John Wesley (wat Arminiaanse oortuigings gehuldig het) kon verwys, maar in ‘n breër sin ook kon verwys na Whitefield en Lady Huntingdom  se volgelinge wat die leerstellings van die Calvinisme onderskryf het.  Die werk van Whitefield en ander Calvinistiese herlewingspredikers soos Howel Harris en Daniel Rowland het immers later uitgeloop op die totstandkoming van die Calvinistic Methodist Connexion.

GEORGE WHITEFIELD

Dit spreek dus van absolute onkunde om Whitefield en Wesley in dieselfde teologiese mandjie te gooi bloot omdat hulle vriende en beide groot predikers was tydens die Groot Evangeliese Herlewing van die 18de eeu. George Whitefield, een van die invloedrykste predikers in die geskiedenis van die Christendom  was ‘n oortuigde Calvinis2. en het drasties en duidelik van Wesley verskil oor laasgenoemde se leer van perfeksionisme en Arminianisme. Enige iemand wat hieroor sou twyfel kan gerus maar net Whitefield se uiters bekwame antwoord lees wat hy aan Wesley geskryf het in reaksie op dié se aanval op die Calvinisme in sy preek getiteld “Free Grace”. Whitefield berispe Wesley onder andere met die volgende sterk taal : “Dear Sir, for Jesus Christ’s sake, consider how you dishonour God by denying election. You plainly make salvation depend not on God’s free-grace, but on man’s free-will…”  Hou ook in gedagte dat Whitefield besondere aanklank gevind het by die hoog aangeskrewe Calvinistiese teoloog (en kenner van herlewing) Jonathan Edwards van die Verenigde State. Juis ook as dit kom by die onderwerp van herlewing moet ons versigtig wees vir oorhaastige uitsprake en ongeldige kritiek. Om alle voorstanders van ware herlewing3. (wat iets heel anders is as die revivalisme van die latere Charles Finney) in ‘n Metodistiese (bedoelende Arminiaanse) kamp saam te jaag, is teologies onverantwoordelik, histories onjuis en getuig van onkunde oor die kragtige genadewerking van God gedurende herlewings waarvan die vrugte die toets van die tyd deurstaan het. Dink maar byvoorbeeld aan die heerlike en blywende vrug van die Koreaanse herlewing…

SKOTSE PREDIKANTE


Die Kaapse goewerneur Lord Charles Somerset het vanaf 1822 ‘n verengelsingsbeleid deurgevoer. Hiervoor sou hy ook die kerk probeer inspan. Die dringende tekort aan predikante weens die aansienlike vermeerdering van gemeentes het ‘n gaping vir hom gelaat om Engelsprekende predikante aan te stel en so op subtiele wyse sy doelwitte te help bereik. Drie Skotse leraars wat voorheen in diens van die Londense Sendinggenootskap4. was naamlik George Thom, John Evans en John Taylor is in NG gemeentes aangestel. In 1820 het die goewerneur vir ds. Thom na Skotland gestuur om nog Skotse predikante te gaan werf. Tydens die Kaapse sinode van 1834 was meer as die helfte van die predikante van Skotland afkomstig.  Dit spreek vanself dat hulle ‘n beduidende invloed in die NG Kerk sou uitoefen. Wat ons nie uit die oog moet verloor nie was dat die Skotse predikante waaronder ds. Andrew Murray (die bekende dr. Andrew Murray  en prof. John Murray se vader) Calviniste was. Dit was ‘n deurleefde evangeliese Calvinisme van die soort waarvan  die lewe en werk van bekende Skotse leraars uit daardie tyd waaronder Andrew en Horatius Bonar, Robert Murray McCheyne en die latere sendeling in China, William Burns5. getuig. Die verskynsel van herlewing binne ‘n Calvinistiese konteks was iets waarmee hulle goed bekend was.  (Dink aan die Kilsyth Herlewing van 1838-39 in Skotland.)  Alhoewel goewerneur Somerset klaarblyklik duistere oogmerke gehad het met die invoer van Skotse predikante, het hierdie leraars met hulle sterk evangeliese en puriteinse uitkyk ongetwyfeld daartoe bygedra dat daar ‘n behoefte in die kerk gestimuleer is na ‘n meer proefondervindelike godsdiens. Daar was ‘n verlange na ‘n geestelike ontwaking of herlewing.

HERLEWING

Dit bring ons dan by die evangeliese herlewing wat in die jare 1860-62 in die NG Kerk, maar ook in ander kerkgenootskappe in Suid-Afrika ondervind is. Hierin het dr. Andrew Murray, maar ook ander predikante (wat terloops nie Skotse wortels gehad het nie) soos G.W.A. van der Lingen, J.H. Neethling  en N.J. Hofmeyer ‘n groot rol gespeel. In hierdie tyd het baie lidmate ‘n persoonlike belewenis van die heil in Christus ervaar en was daar ‘n merkbare groei in toewyding in die kerklike lewe.  Belangrike vrae om te antwoord is onder meer : Hoe geregverdig is dit om Metodisme te koppel aan die evangeliese herlewing van die 1860’s in Suid-Afrika? Wat was dr. Andrew Murray se rol hierin? En wat was die vrugte van die herlewing?  

ANDREW MURRAY

Ons moet pasop om herlewing nie outomaties te assosieer met die verwerping van die uitverkiesingsleer (onthou vir Whitefield) en ortodoksie in die algemeen nie. Dit was juis Andrew Murray wat ‘n kragtige stryder teen die liberalisme was. (En hoe dringend nodig het die NG Kerk  tog vandag weer so ‘n dapper persoon wat vir die waarheid sal opstaan!)   Om net twee voorbeelde te noem. Murray  moes die kerk se gereformeerde standpunt in ‘n hofsaak verdedig  toe die advokaat siek geword het. Hy het toe ‘n toespraak van vier uur gelewer en die saak is gewen!6.  Murray het ook die liberalisme bestry in sy  “Het Moderne Ongeloof.”   Laat ons nie vergeet nie, dr. Andrew Murray was ‘n predikant van gereformeerde oortuiging wat selfs ‘n kommentaar op die Heidelbergse Kategismus geskryf het.  Inderdaad het hy ook sy teologiese swak plekke gehad waaronder sy siening oor  Goddelike genesing en sy affiniteit vir die Keswick leer van ‘n dieper lewe, maar hy was alles in ag genome ‘n man van God  met ‘n reuse positiewe geestelike nalatenskap.  Dis wel verstaanbaar dat sekere fasette van die herlewingsprediking  aanstoot sou kon gee soos die beklemtoning van bekering (veral seker vir onbekeerdes!) en ‘n sterk emosionele element versterk deur die sing van opwekkingsliedere en passievolle Woordverkondiging. Beslis  is  daar altyd die gevaar van uiterstes, eensydighede  en oorbeklemtoning wat mag voorkom, maar in geheel gesien is die lewe en praktyk van die NG Kerk oneindig verryk deur die herlewing waarin dr. Andrew Murray en baie ander ‘n groot aandeel in gehad het.  Buitendien is alle moontlike negatiewe gevolge van bogenoemde niks in vergelyking met die gevaar van verbondsoutomatisme en valse gerustheid nie. Die persoonlike ervaring van God se genade in Christus, erns met lewensheiliging,  stimulering van ‘n innige gebedslewe (soos ook tydens bidure en Pinksterdienste)  en ‘n sendingywer (waarvan die geskiedenis van die NG Kerk so merkwaardig getuig) is vrugte van herlewing wat tot die eer van God en die uitbreiding van sy Koninkryk gelei het!7.  As hierdie dinge dan deel van die “Metodisme” sou wees, dan moet ons dit as ‘n seëning uit die hand van die Here beskou.8.   

Uiteraard kan dit nie ontken word dat  die aantygings oor “Metodisme” in die NG Kerk  vir baie ‘n ernstige saak was nie.  Dit sou immers ook aangevoer word as een van die redes vir die hartseer afskeidings wat die NG Kerk beleef het met die totstandkoming van die Gereformeerde Kerk in 1859 en ook later die stigting van die Gereformeerde Kerke onder die Kruis.  Gewoonlik is sulke gebeure baie kompleks vanweë misverstande, plaaslike persoonlikheidsbotsings en omstandigheidsfaktore en moet mens sekerlik baie versigtig wees om “Metodisme” op ‘n simplistiese wyse die oorsaaklike sondebok vir hierdie kerklike onenigheid te maak. 9.  

Histories gesien bly dit in elk geval ‘n vraag of die invloed wat dr. Andrew Murray en ander op die kerk gehad het as Metodisme beskryf kan word.  Daar sou moontlik ‘n indirekte lyn aangedui kon word, maar die direkte  wortels van hulle oortuigings en praktyke moet  eerder by die Réveil, ‘n geestelike beweging wat in Nederland  (en ook ander Europese lande) van 1830 tot 1850 gevoel is, gesoek word. Die Réveil het klem gelê op die innerlike geloofslewe en praktiese Christenskap. Dit was ‘n broodnodige reaksie op die geestelike verval binne in die kerk. Onder die invloed van die Réveil het daar in 1844 ‘n studentevereniging SECOR DABAR  aan die Universiteit van Utrecht tot stand gekom met die doel om persoonlike bekering en ‘n praktiese vroom lewenswandel  te bevorder. Deur hierdie vereniging het Afrikaner studente soos John en Andrew Murray, N.J. Hofmeyer, J.H. Neethling en ander  wat in daardie jare in Utrecht gestudeer het, met die beginsels van die Réveil kennis gemaak en weer as latere geestelike leiers die NG Kerk in hierdie rigting beïnvloed. Wat die herlewing van die 1860's betref is dit belangrik om kennis te neem van die uitbreek van herlewing in verskeie lande in 1859 soos onder andere Ierland, Skotland en die VSA. Dit het niks te make gehad met Metodisme nie, maar het beslis meegewerk om die behoefte aan 'n geestelike ontwaking ook in Suid-Afrika te stimuleer. (Kliek op ULSTER HERLEWING as 'n voorbeeld)

Weens die komplekse geskiedenis en veelsydigheid van die Metodisme  lyk dit vir my of  mens maar baie versigtig moet wees om dit sommer as ‘n algemene etiket te gebruik om afwykings van die gereformeerde leer mee aan te dui en persone met wie mens nie heeltemal saamstem nie verdag te maak. As gelowiges mag en moet ons mekaar in broederlike liefde wys op gevare en foute, selfs ook oor kerkgrense heen. Hierdie teregwysings moet duidelik en sinvol wees sodat dit tot die geestelike welsyn van die aangesprokenes mag strek. ‘n Vae en ongenuanseerde beskuldiging van Metodistiese invloede dien myns insiens nie so ‘n doel nie.



Voetnotas

1. Dallimore, A., George Whitefield, Volume 1, p381ev.

2. Jonker, W.D., Uit Vrye Guns Alleen, p34.

3. Met “ware herlewing” word hier bedoel ‘n soewereine werk van God se genade op ‘n groot skaal wat lewens oor ‘n wye front radikaal aanraak en verander. Dit kan nie deur mense georganiseer word nie, maar is ‘n bonatuurlike heerlike ingrype van God. Vir ‘n duidelike hantering van die verskil tussen “herlewing” en “revivalisme” sien Murray, I. H. se Revival & Revivalism – The Making and Marring of American Evangelicalism 1750-1858, The Banner of Truth Trust, 1994.

4. Was hierdie voormalige sendelinge van die Londense Sendinggenootskap Calvinisties van oortuiging? ‘n Dieptestudie hieroor kan seker van groot waarde wees, maar val buite die skopus van ‘n kort skrywe soos hierdie. Daar is egter byvoorbeeld geen rede om die Calvinisme van iemand soos ds. George Thom te betwyfel nie. Sy leermeester by die sendingseminarie, Dr. David Bogue was ‘n Calvinis met ‘n sterk geloof in predestinasie. Na Thom se aankoms in die Kaap in Oktober 1812 het hy betrokke geraak by die 93rd Highland Regiment en spesifiek by ‘n Calvinistiese vereniging wat sedert 1808 tussen die soldate bestaan het. Van ds. Thom se voorstelle by die sinode van 1824, nadat hy ‘n leraar van die NG Kerk geword het, het ingesluit dat daar ten minste een keer per maand uit die Heidelbergse Kategismus gepreek word. Sien Christian Library (internet), George Thom (1789-1842): Scottish pioneer in South Africa (outeur onbekend). Vir ‘n evaluering van die enorme positiewe bydra van die Skotse leraars in die NG Kerk, sien Sass, F. W., The Influence of the Church of Scotland on the Dutch Reformed Church of South Africa (ongepubliseerde Ph.D. tesis, University of Edinburgh, 1956)

5.Interessant, as negejarige skoolseun, het Andrew Murray se pad met die van Burns gekruis in Skotland. Murray is natuurlik in Graaff-Reinet gebore, maar vir skoolopleiding oorsee gestuur. Heiberg, C.F., A Heart on Fire: The Life of Andrew Murray (1828-1917)

6. Ibid.

7. ‘n Boom word aan sy vrugte geken en die sendingywer wat kenmerkend was van Murray se fisiese en geestelike nasate spreek boekdele. Elkeen wat kennis dra van die merkwaardige sendingpogings van die NG Kerk dwarsoor Afrika en tot sover as die destydse Ceylon sal hiervan kan getuig.

8. Die kerkhistorikus Prof. P.B. van der Watt skryf dan ook : “Die meer praktiese inslag wat die Ned. Geref. Kerk ten gevolge van sy kontak met die Metodisme gekry het, moet as ‘n bate erken word.” Van der Wat, P.B., Die Nederduitse Gereformeerde Kerk 1824-1905, p24. Van der Watt onderskei ongelukkig self ook nie duidelik tussen die Arminiaanse en Calvinistiese vorm van die Metodisme nie.

9. In alle billikheid moet dit gemeld word dat daar ook ander redes vir die afskeiding van 1859 aangevoer word soos die kerk-staat verhouding, kollegialisme en natuurlik die Gesangekwessie. Met sommige van hierdie redes kan mens inderdaad meer simpatie as met ander hê. (Interessant genoeg, die Skotse leraars was juis die grootste beswaarmakers teen die staat se invloed in kerklike sake.) Die doel van hierdie kort artikel is egter nie om die redes van afskeiding te beoordeel nie, maar slegs om aan te dui dat die beskuldiging van “Metodisme” so maklik op ongenuanseerde en onverantwoordelike wyse gebruik word.

Donderdag 12 Mei 2016

GOD IS DRIE-ENIG

- en Hy is as Drie-enige God betrokke by ons verlossing! 


Die lewende God openbaar Homself aan die mens as ‘n Drie-enige God - Vader, Seun en Heilige Gees! Dis seker die mees kern belydenis en waarheid van die Christelike geloof.* Dis nie bloot ‘n ingewikkelde mens uitgedinkte teorie nie, dis ‘n praktiese en heerlike werklikheid. Die Bybel in geheel (nie net enkele tekste nie) beskryf God  so en ons wat sy kinders is beleef dit so. Hierdie God as drie-enige God maak ‘n heerlike verskil in sy kinders, ‘n verskil wat sigbaar word in nuwe lewens. Ongelukkig bestaan daar dikwels groot onkunde oor die Drie-eenheid , mens hoor partykeer iemand bid : “Vader, dankie dat U vir ons aan die kruis gesterf het.” Dis nie soos die Bybel praat nie! (Die Vader het nie vir ons gesterf nie, die Seun het) God openbaar Homself nie net as Drie-enige God nie, Hy is betrokke by ons as Drie-enige God. As Drie-enige God kies Hy ons, roep ons, red ons, bewaar ons, heilig ons en uiteindelik gaan Hy ons verheerlik en vervolmaak . 

Die Almagtige God, Vader, Seun en Heilige Gees is by jou redding betrokke! Dit kom onder andere so duidelik in hierdie groetwoord van Petrus aan die begin van sy brief aan die verstrooide Christene na vore. 

"Van Petrus, ‘n apostel van Jesus Christus. Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld, wat verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië.
Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus. Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees!" (1 Petrus 1:1,2)

Kind van God, jou redding is baie groter, vaster en heerliker as wat jy besef. Ons beperk ons siening van redding dikwels tot die aanneming van Jesus en natuurlik kry ons die duidelike opdrag om in Jesus te glo, Hom aan te neem, na Hom te kom (als sinonieme), en ja, dis ‘n kernmoment, maar ons verlossing is baie meer omvattend. Ons verlossing is niks minder as ‘n omvattende Goddelike ingryping nie! ‘n Magtige wonderwerk van die Drie-enige God. Daarom is ons verlossing vas en seker, ewige en heerlik! Ons geloof is trinitaries – dis ‘n geloof in die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Ons moet dit nie verskraal nie! 

Hier in die Pinkstertyd gaan die klem val op die unieke en heerlike werk van die Heilige Gees, maar ter aanvang gaan ons net so oorsigtelik kyk na die rol van die Vader, Seun en Heilige Gees in ons redding:

Vader : Van ewigheid het Hy ons verlossing beplan en vir Hom mense uitgekies. Dit word juis so heerlik beklemtoon deur Petrus omdat die Christene vir wie hy skryf eers heidene was wat uitgesluit was van God se verbond en beloftes. Hy wil sê : “Ja, ook julle is uitgekies, julle wat eens ver was en glad nie deel van God se volk nie!” (Sien 1 Petrus 2:10) Dis duidelik, God die Vader het ons verlossing geïnsinieer, Hy het Jesus gestuur om ons verlossing te bewerk! Hy het ons van ewigheid af lief!

Heilige Gees : (Petrus noem Hom tweede, daarom behandel ek dit so.) Die NAV gebruik die woord “afgesonder”, letterlik staan daar “heiligmaking van die Gees”. Dit gaan hier waarskynlik (as mens na die konteks kyk) oor die aanvanklike werk van die Heilige Gees, die wonder van die wedergeboorte, die werk van die Heilige Gees wat tot ware bekering en egte geloof in Jesus lei. Dis die radikale gebeurtenis wat hierdie voormalige buitestanders daartoe gebring het om deel van God se uitverkore volk te word. (Daar is ook ‘n ander betekenis van die woord heiligmaking, wat verwys na die voortgaande proses van vernuwing, om al heiliger word in ‘n Christen se lewe – dis ook die werk van die Heilige Gees en ons sal daarby kom as ons praat oor wandel deur die Gees en vervulling met die Gees) Die hoofsaak is, die Heilige Gees maak die verlossingswerk van Jesus van toepassing op ons. Hoe? Hy oortuig ons van sonde, Hy maak ons gewete wakker, Hy laat ons ons nood besef, Hy openbaar Jesus aan ons, Hy wederbaar ons... sonder die ingrypende werk van die Heilige Gees kan niemand ‘n kind van God word nie.

Seun : Jesus Christus het deur sy bloed ons verlossing bewerk. Die kruisdood staan sentraal in Jesus se werk. Geen kruis, geen verlossing! Daar is my straf gedra, daar is my skuld betaal, daar is die oorwinning oor Satan en sy aanklagte verseker deurdat die skuldbewyse teen my uitgewis is! (Sien Kolossense 2:14) Jesus het die transaksie afgehandel en die Heilige Gees bring ons tot geloofsgehoorsaamheid om persoonlik voor Hom te buig in geloof en so deel te kry aan die vergifnis wat Hy deur sy offer bewerk het. 

EN ONS KINDERTJIES?

Wat ‘n heerlike troos, die lewende Drie-enige God is besig met ons, betrokke by ons – en nie net met volwassenes nie, maar ook reeds met klein kindertjies van gelowige ouers! Of dit nou vir ons sin maak of nie, dis die duidelike boodskap van die Bybel – “Want U is my verwagting, Here HERE, my vertroue van my jeug af. Op U het ek gesteun van die geboorte af, van die moederskoot af is U my bevryder; oor U is my lof altyddeur." (Psalm 71:5,6) Geld dit wat in hierdie Psalm staan ook vir ons in die Nuwe Testament? Ja, beslis, want die Nuwe Testamentiese kerk word beveel om Psalms te sing!** Die Bybel sal ons mos nie beveel om iets te sing wat nie waar kan wees nie! God is inderdaad by magte om ook in klein kindertjies reeds binne hulle bevatlikheid en veral volgens sy soewereine genade te werk! 

Mag ons jong kindertjies ook die werk van die Heilige Gees beleef, om uiteindelik persoonlik tot geloof in Jesus te kom en so die Vader as hulle Vader te eer! Mag ons elkeen die sekerheid hê dat ek persoonlik deel is van God se uitverkore volk en mag ons Hom daarvoor dank met heilige lewens! Mag daar soos Petrus se wens sê : “Genade en vrede in oorvloed vir ons wees!”

*Groepe soos die Jehova Getuies wat hierdie belydenis verwerp staan dus heeltemal buite die Christelike geloof. Skrikwekkend blyk dit ook dat in sekere Hebrew Roots kringe die Drie-eenheid ook geminag word! (Kliek op MAANKYKERS)

** “...en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here.” (Efesiërs 5::19)




Donderdag 04 Junie 2015

UITVERKORENES MOET GOD LOOF!

- IS JY IN?

Alles in God se Woord is belangrik, maar as ‘n saak by herhaling direk en indirek genoem word, moet ons seker ons ore 'n bietjie ekstra spits en besondere aandag gee. Een van die begrippe of sake wat dwarsdeur die Woord by herhaling genoem word is God se uitverkiesing van mense.* Woorde soos "uitverkies, uitverkorenes, bestem, Sy voorneme..." loop soos ‘n goue draad dwarsdeur die Ou en Nuwe Testament.

Dink maar sommer so vinnig aan die Bybelse geskiedenis: God kies om Noag en sy gesin te red tussen al die bewoners van die aarde. God kies vir Abram (uit baie ander heidene) om juis met hom ‘n verbond te sluit. God kies Abram se seun Isak en nie die oudste Ismael nie, om die verbond voort te sit. Dan kies God weer een van Isak se tweelingseuns , Jakob en nie die eersgeborene Esau nie. Baie jare later as God ‘n koning vir Samuel aanwys uit die seuns van Isai dan kies hy die jongste een Dawid. As Jesus ‘n spesiale groep kies om sy binnekring dissipels te wees dan kies Hy twaalf manne en opvallend, Hy kies hulle nie tussen die geleerde skrifgeleerdes in Jerusalem nie, maar uit eenvoudiges soos vissermanne.


Paulus skryf aan die Christene van Efese en let op al die begrippe wat betrekking het op God se verkiesing en vooraf besluite : “uitverkies” (4) “genadige beskikking, bestem” (5) “sy besluit en voorneme” (9) “vooruit al bestem het, voorgeneem, sy raadsbesluit” (11) (Sien teks onderaan)

Kom ons kyk net kortliks na drie praktiese aspekte van God se uitverkiesing :

Wat is die maatstaf vir God uitverkiesing? Soewereine genade! Met ander woorde God kies mense omdat Hy wil, omdat Hy hulle liefhet en bloot omdat Hy hulle liefhet! Hierdie beginsel word so pragtig in Deuteronomium 7:6-8 met betrekking tot Israel gestel : “Jy is ‘n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees. Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal. Omdat die Here jou liefhet en Hy sy belofte nakom wat Hy met ‘n eed bekragtig het aan jou voorvaders, het Hy jou deur sy groot krag laat wegtrek en jou bevry uit die plek van slawerny, uit die mag van die farao, die koning van Egipte.” 

Dis duidelik : God kies nie soos mense kies nie. God kies nie volgens prestasie of menslike maatstawwe nie. (soos iemand gesê het - "nie die cream vir die team nie.") Die leer van die uitverkiesing onderstreep net dat ons redding heeltemal uit genade is, sonder enige verdienste van ons kant af. Dit het immers reeds voor die skepping gebeur, voor ons nog enigiets ouliks kon doen.   Wat ‘n groot troos! Want as Christenskap oor prestasie gegaan het, wie van ons sou ‘n kans gestaan het? Dan was daar geen goeie nuus in die Bybel vir sondaars nie. God kies sondaars, regte sondaars soos Petrus en Paulus en maak van hulle getuies! Die Here sê byvoorbeeld van Paulus : “Ek het hom gekies as my werktuig om my Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel.” (Handelinge 9:15)

Uitverkiesing en genade is sinoniem. As daar nie iets soos onverdienstelike uitverkiesing uit genade was nie, wie van ons sou 'n kans staan om in die Koninkryk in te gaan? 

Uitverkiesing blokkeer nie ons pad na die hemel nie, dit open die enigste pad!

WAT VAN MY?

Hoe weet ek of ek uitverkies is? Uitverkiesing staan nie los van Jesus Christus nie, maar is direk gekoppel aan Hom. (4) “deur Christus” (lees weer 11,13) As jy deur geloof verbind is aan Jesus, deur Hom die vryspraak ontvang het is jy ‘n uitverkorene! Jy weet nie dat jy ‘n uitverkorene is deur een of ander spesiale openbaring of visioen nie. Jy word uitgenooi om in Jesus te glo en Hom te aanvaar en as jy dit gedoen het, weet jy jy is ‘n uitverkorene! Calvyn het dit treffend gestel : Christus is die spieël van die uitverkiesing! Ek sien gelowig op Jesus en dan sien ek in Hom dat ek uitverkies is! God se GROOT UITVERKORE GELIEFDE** is Jesus en in Hom is ek ook 'n uitverkorene!

Hoe moet ek reageer op die feit van die uitverkiesing? Vir baie mense het die leerstuk van die uitverkiesing ‘n onderwerp vir filosofiese spekulasie geword. Bespiegeling oor 'n donker lys en wie se name daarop is of nie... Dit is egter nie hoe die Bybel oor uitverkiesing praat nie. Die Bybel praat met God se kinders hieroor in die konteks van lof en aanbidding. Sekerheid en blydskap. Ons verbly ons oor die feit dat ons verlossing seker is, omdat dit nie van ons goedheid afhang nie, maar gegrond is op God se ewige genadige besluite en raadsplanne. Paulus verweef sy lering oor God se verkiesing hier met die tema van lof! Vers 3,6,12,14. Die heerlike feit van die uitverkiesing roep ons op om in dankbaarheid heilig te lewe en God te loof! Ons is immers uitverkies om heilig en onberispelik te leef.

Uitverkiesing in die Bybel is nie iets om oor te debateer nie, maar om oor te juig!

Lees en kyk self in Efesiërs 1:4-14 hoe die temas van genade, lofprysing en uitverkiesing met mekaar verweef is. As ons dus die uitverkiesing nie verstaan as iets om oor bly te wees nie, verstaan ons dit verkeerd!

(4) So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.

(5) In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.

(6) Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het.

(7) Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God

(8) wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het.

(9) Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak

(10) en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus.

(11) Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit.

(12) Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys.

(13) Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël.

(14) Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.

Is jy in? Juig jy saam? As jy nie seker is nie, kan jy vandag Jesus se uitnodiging (Matt 11:28) aanvaar en begin saamjuig!

*Hierdie is uiteraard nie 'n volledige behandeling van leerstuk rondom die uitverkiesing nie, maar binne 'n pastorale konteks 'n fokus op die lofaspek daarvan.

** Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel 'n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring. (Jesaja 42:1 OAV)

Oor UITVERKIESING en MENSLIKE VERANTWOORDELIKHEID kliek op ROBOTTE?









NIE ROBOTTE NIE

- God se soewereine uitverkiesing reduseer ons nie tot willose houtpoppe sonder verantwoordelikheid nie!

Ons moet daarteen waak om nie die uitverkiesing deterministies mis te verstaan nie. In die uitverkiesing gaan dit inderdaad oor God se voorbeskikking, maar ons moet in gedagte hou dat daardie voorbeskikking van ’n unieke aard is. ’n Deterministiese denke oor die uitverkiesing skryf wel die volle heil aan God se genade toe, maar kan nie verstaan dat die genade van God juis die volle aktiwiteit van die mens oproep en so die mens met sy geloof en bekering ten volle by die ontvangs van die heil betrek nie.

God beskik op sodanige wyse oor die mens, dat die mens se menslikheid, vryheid en verantwoordelikheid nie opgehef word nie. God tas in sy beskikking oor die mens nie sy persoon-wees aan nie, oorweldig hom nie en dwing hom nie, maar trek hom onweerstaanbaar deur sy liefde (Joh 6:37) en werk in hom die vryheid om sy eie redding met vrees en bewing uit te werk (Fil. 2:12-13).

God se uitverkiesende wil word verwerklik deur die werk van die Gees en langs die weg van die genade middele : die verkondigde Woord en die Sakramente waarop die mens in geloof antwoord. Omgekeerd geskied die verwerping in die weg van die verset teen die Woord en die genade van God. Die groot verdedigers van die leer van die uitverkiesing soos Augustinus, Luther en Calvyn het, ondanks die gebrekkigheid van hulle woorde, die saak waarom dit hier gaan, intuïtief in ’n diep godsdienstige verhouding voor die aangesig van God verstaan. Wanneer ’n mens in die geloof voor die aangesig van God staan, weet hy dat God oor alle dinge beskik en dat hy met elke vesel van sy bestaan van God afhanklik is, en tog weet hy terselfdertyd dat hy geen marionet is nie en dat hy God in geen enkele opsig verantwoordelik kan hou vir sy eie sonde en ongehoorsaamheid nie. In die verwerping is die mens nie die slagoffer van ’n duistere besluit van God nie, maar ontvang hy die regverdige vergelding van wat hy gekies en gesoek het. In die werklike situasie van die mens voor die aangesig van God kan dié twee dinge albei vasgehou word : dat die verlossing volkome uit God is, maar dat die mens tog volkome daarby betrokke is, sodat alle lof vir die genade aan God gegee moet word, terwyl die skuld vir die mens se ongeloof en verlorenheid ten volle op sy eie skouers rus.


(Aangehaal/effens verwerk uit W. D. Jonker, UIT VRYE GUNS ALLEEN)


Vrydag 01 Maart 2013

LIEWE LULU

- wat weet jy van Calvinisme? 

Dit lyk my as jy iemand wil slegsê en jy het nie feite nie, dan beskuldig jy hom van rassisme of Calvinisme. So het minister Lulu Xingwana* van Suid-Afrika onlangs in ‘n onderhoud gesê: "Jong Afrikanermans word grootgemaak in die Calvinistiese geloof en glo hulle besit 'n vrou, hulle besit 'n kind, hulle besit alles, en daarom kan hulle daardie lewe neem, want hulle besit dit." ‘n Groter vertoon van dwaasheid en oningeligtheid is moeilik denkbaar. Miskien moet mens Lulu tog nie te hard oordeel nie, want geestelike insig kan seker nie verwag word uit die geledere van die goddelose ANC met sy heidens sekulêre agenda nie. Die absolute onkunde oor wat Calvinisme is, is egter nie net beperk tot die ANC nie, maar floreer ook onder mense wat veronderstel is om die Bybel en die kerkgeskiedenis te ken. So iemand is Prof. Johan Malan (‘n mede evangeliese gelowige) wat op sy webwerf beweer : “Calvinisme is ‘n misleidende leerstelling waardeur ‘n valse geestelike fondament aan ongeredde mense gebied word.” Watter totale mistasting! Het Prof. Malan nog nie gehoor van die duisende mense wat onder die Calvinistiese prediking van ‘n George Whitefield, Charles Spurgeon, Robert Murray M’Cheyne, Martyn Lloyd-Jones... en ons eie Dr. Willie Marais om maar net enkele voorbeelde te noem, tot bekering gekom het nie? (Prof. Malan maak wel melding van Spurgeon en beweer dat hy nie regtig ‘n Calvinis was nie. Wil hy die man nou in sy graf laat omdraai?) Weet hy van Calviniste soos Howel Harris, Daniel Rowland en Jonathan Edwards se rol in die groot herlewings van die 18de eeu? Dra hy kennis van die pionier sendingwerk van William Carey, David Brainard, William Burns...? En wat van die Calvinistiese sendelinge van die NG Kerk wat die lig tot diep in donker Afrika ingedra het? Is Prof. Malan bewus van die kosbare nalatenskap van geestelike reuse soos Tyndale, Latimer, Knox, Wishart, Perkins, Rutherford, Bunyan (Pelgrim’s Progress), Owen, Goodwin, Watts, Newton (Amazing Grace)...en later Hodge, Warfield...? Het Prof. Malan moeite gedoen om uit te vind wat Calvinisme is of baseer hy sy insigte op iemand soos Dave Hunt se bewerings? 


WAT IS CALVINISME? 



Om mee te begin is dit belangrik om te weet dat Johannes Calvyn self nooit so ‘n beskrywing van sy leerstellings sou goedgekeur het nie. Hy het geglo dat wat hy geleer het, bloot die waarhede van die Ou en Nuwe Testament was. Tog het hierdie briljante teoloog se uitleg van die Skrif inderdaad ‘n groot invloed gehad op wat later as Calvinisme bekend sou staan. 

Die term, Calvinisme kom hoofsaaklik uit die 17 de eeu vanuit opposisie teen die dwalinge van Arminius, wat uiteindelik by die Sinode van Dordt in 1618 veroordeel is. Hierdie kosbare waarhede vind neerslag in die Dordtse Leerreëls. 

Die kernbeginsel van die Calvinisme is die eer van die soewereine God. Soli Deo Gloria. Skepping en selfs verlossing is nie primêr gerig op die mens se vervulling en plesier nie, maar gebeur alles ter wille van God. Alles is uit God, deur God en tot God, soos Paulus in Romeine 11:36 sê. Die bron van Calvinistiese leerstellings is die Bybel. Die Bybel is die enigste bron van kennis oor God en sy wil, want vanweë ons sonde is ons blind vir God se heerlikheid wat uit sy werke uitstraal. God openbaar Homself aan die mens deur sy Woord en die werk van die Heilige Gees. 



Ook vind ons in die Bybel alleen insig in die ware (verlore) toestand van die mens. Hiervan is die leerstuk van die TOTALE VERDORWENHEID van die mens ‘n baie realistiese verduideliking. Dis ‘n Bybelse waarheid soos duidelik gevind in Romeine 3:10-12 wat lees : “soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” Dit beteken nie soos sommige probeer voorgee dat die mens nie ‘n wil het of bloot ‘n robot is nie, dit gaan daaroor dat die mens se wil ook deur die sondeval bedorwe is, tot so ‘n mate dat niemand vanself God wil ken of homself wil bekeer nie. Calvinisme maak erns met die verwoesting van die sondeval. (en die praktyk van boosheid en gebrokenheid wat ons elke dag rondom ons sien, bevestig dit) Dit het die implikasie dat ons as mense volkome afhanklik is van God se genade! Sonder werklike genade sal niemand gered word nie, want selfs ons geregtighede is soos “vuil klere” voor God. (Jesaja 64:6) 



Omdat ons so boos is dat niemand van ons eerste God sal kies nie, maar daar tog baie mense gered word, is dit vanselfsprekend dat God ons eerste kies deur sy genadige ONVOORWAARDELIKE UITVERKIESING. Die beginsel van onverdienstelikheid word alreeds gesien in God se verkiesing van Israel soos beskryf in Deuteronomium 7:7-8 “Die HERE het 'n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met 'n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos." Hierdie waarheid geld vir almal wat God se kinders is binne die Nuwe Verbond en word besonder helder in die Nuwe Testament gestel o.a. in Romeine 8:29,30 -  “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.”  Die totale verlossing van die mens, van oorsprong tot by die eindpunt van finale verheerliking is in die eerste instansie 'n werk van God!


Die uitverkorenes is sondaars soos alle ander mense en onder die toorn van God. Jesus moes dus kom en spesifiek en genoegsaam hulle sondeskuld aan die kruis deur sy plaasvervangende sterwe kom dra en die straf daarvoor op Hom neem. Die PARTIKULIERE VERSOENING beteken positief dat Christus sy mense werklik effektief met God versoen het deur hulle spesifieke straf vir hulle sondes te vat. Ja, Hy het die “gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee” (Efesiërs 1:4) Hierdie toegespitse versoeningswerk ter wille van die uitverkorenes, beteken nie dat God suinig is met sy genade nie.**  Christus het inderdaad ‘n versoening bewerk wat genoegsaam is vir die sondes van die hele wêreld, soos die Dordtse Leerreëls dit self stel.*** Dis egter net effektief ten opsigte van die uitverkorenes. Aan hulle gee Jesus die ewige lewe. Dis hulle  wat deur Jesus se Vader aan Hom gegee is (Johannes 17:2) en deur die Vader na Hom getrek word. “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” (Johannes 6:44) Let op hoe die onvermoë van die sondegevalle mens weer hier deur Jesus self bevestig word. 

Hierdie onvermoë beteken dat elkeen van ons afhanklik is van God se ONWEERSTAANBARE GENADE, anders sal niemand gered word nie. Dit word so pragtig bevestig in die bekering van Lidia in Handelinge 16. Dis die Here wat haar hart geopen het om ag te gee op Paulus se woorde. Niemand is outomaties gered nie. Sondaars moet ‘n defnitiewe wilskeuse vir Jesus Christus maak. Dis egter slegs God wat die verdorwe wil van die sondaar so kan aanraak dat hy tot ‘n besluit kan kom. Calviniste glo daarom, anders as wat hulle vyande dikwels beweer, nie dat mense willose robotte is nie. Die Dordtse Leerreëls is hieroor baie duidelik as dit verklaar dat God nie met ons werk asof ons “stokke en blokke” is nie. (Sien verder hieroor by DIE SOEWEREINE STEM WAT TOT LEWE ROEP) Calviniste glo daarom ook dat alle mense opgeroep moet word tot geloof en bekering. God se beloftes en uitnodigings kom inderdaad werklik en opreg tot alle mense. God bedoel mos wat Hy sê! Net soos die apostels moet ons daarom die evangelie aan almal verkondig, alhoewel slegs diegene wat bestem is vir die ewige lewe gehoor sal gee. “...en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” (Handelinge 13:48) Diegene wat gehoor gee aan die oproep tot bekering en vir Christus kies moet egter weet dat dat nie hulle eie goedheid is wat hulle daartoe gebring het nie, maar alleenlik die uitverkiesende en onweerstaanbare genade van God. "Dat ons in Christus glo, dat ons van ons kant ook vir God kies, is nie die vrug van ons eie goedheid nie, maar is as sodanig reeds ‘n geskenk van sy genade. Die verlossing is van voor tot agter die vrug van Gods liefdevolle en genadige inisiatief. Alles, alles is genade, onverdiende vrye guns alleen!"****  Diegene aan die anderkant, wat verlore gaan, kan nie God daarvoor blameer nie, want hulle het self die genade aanbod van die evangelie verwerp.

As God dan self so ‘n bonatuurlike wonderwerk in iemand gedoen het, nie op grond van enige verdienste aan ons kant nie, maar weens sy ewige besluit, sal God hierdie werk einduit volvoer. In Filippense 1:16 stel Paulus dit duidelik dat God die werk wat Hy in mens begin het, sal voltooi. Dis die waarheid van die VOLHARDING VAN DIE HEILIGES. Natuurlik kan mense met valse mensgemaakte bekerings nie aanspraak op hierdie belofte maak nie. Natuurlik misbruik baie hierdie belofte terwyl hulle lustig voortgaan met sonde. Dis direk teen wat die Calvinisme leer. God se bewaring vind plaas via die weg van volhardende geloof, die voortdurende stryd teen sonde en die positiewe najaging van heiligmaking. Die troos is dat Hy in sy groot genade ons hiertoe instaatstel en dat Hy die mag het om ons vlekkeloos te bewaar tot die einde! (Judas vers 24) 

Hierdie kosbare waarhede sal, as ons dit werklik glo ‘n verskil in die alledaagse lewe van die kind van God maak. Calvyn se uitverkiesingsleer gaan allermins oor metafisiese spekulasie. “Dit het ‘n praktiese doel, naamlik om die gelowige op te wek om alle eer aan God te gee, homself voor God te verootmoedig, en al sy troos en sekerheid in God se beloftes te soek.” (Jonker) Die erkenning van God se heerskappy oor sy hele skepping en alle fasette van menswees sal die gevolg wees in die lewe van alle mense wat eerlik voor hierdie Bybelse waarhede buig. 

As Calviniste, maak ons in ons prediking erns met die volle Skrifopenbaring. Ons neem Goddelike soewereiniteit en menslike verantwoordelikheid beide ewe ernstig op. As die Skrif verklaar dat God mense uitkies, dan verkondig ons dit. (Romeine 9:11-13) En dis inderdaad 'n heerlike waarheid, want God kies nie volgens status of verdienste of ras nie! Dit gee juis hoop aan die slegste sondaars! Uitverkiesing het in die Bybel nie met 'n donker swartlys te make nie, maar is 'n genadewoord wat in die konteks van lofprysing en dankbaarheid gebruik  word. (Efesiërs 1:3-14)***** Aan die anderkant, as die Skrif ons as mense uitdaag tot 'n keuse of uitnooi om na Christus te kom, dan pleit ons met vrymoedigheid en erns by alle mense om hierop te reageer! (Matteus 11:28-30)

Liewe Lulu, die probleme in die Suid-Afrikaanse gemeenskap is nie te wyte aan die Calvinisme nie, maar juis onder andere vanweë die hartseer feit dat baie hoofstroomkerke in ons dag hulle kosbare Calvinistiese erfenis verruil het vir postmodernisme (‘n lewe en teologie sonder waarheid en norme), teologiese liberalisme (verwerping van die Bybelse gesag) en ‘n eensydige horisontale sosiale evangelie (wat ontken dat die mens ‘n helverdiende sondaar is wat vergifnis by God nodig het om gered te word) en baie ander derglike goggas! Ongelukkig kry baie min Afrikaners (en ander volke) in ons land die geleentheid om die Calvinistiese (Bybelse) evangelie te hoor... die rugstreel en goedvoelboodskappies vanaf baie kansels lei nie juis tot bekering en lewensverandering nie. 

Calvinisme is eintlik maar niks anders as die waarhede wat Paulus en die ander apostels, ja, Jesus self verkondig het nie. Die humanistiese selfgenoegsame mens van ons dag hou egter nie van ‘n God wat “Hom ontferm oor wie Hy wil, en verhard wie Hy wil” nie. (Romeine 9:18) Vir elkeen wie se hart wel uit genade deur die Gees sag en nederig gemaak is, is dit ‘n vreugde om in blydskap te buig voor die God wat waarlik God en soewereine heerser van die heelal is! Soli Deo Gloria!

(Vir 'n deeglike bespreking van die Calvinisme deur 'n Baptistiese Calvinis, John Piper, kliek hier : Five Points of Calvinism  Jy sal dalk verbaas wees om te lees dat die bekende George Müller wat die weeshuis in Engeland gehad het, ook 'n Calvinis was.)

* Sy het darem blykbaar om verskoning gevra, maar dis te betwyfel of dit weens nuwe insig was. 

** Vir die wat dalk nie weet nie, nie alle kerke wat hulleself as Calvinisties beskryf, glo en leef ongelukkig meer vandag die waarhede uit waarvoor die Reformasie gestaan het nie. Daar moet dus ‘n duidelike onderskeid gemaak word tussen die beoordeling van Calvinisme as sodanig en die beoordeling van die stand van kerke wat hierdie naam dra. Prof. Malan wys tereg op euwels wat deesdae in tradisioneel Calvinistiese kerke geduld word. Ek deel sy afgryse hieroor, maar dis egter nie die Calvinisme se skuld nie, maar juis die gevolg van ‘n wegdraai van Reformatoriese beginsels. 

*** Jonker en DL II,3-4. Die begrip Limited Atonement, wat in die bekende akroniem TULIP gebruik word is vatbaar vir hierdie misverstand van suinigheid en moet liefs vermy word. 

**** en ***** Willie Jonker in “UIT VRYE GUNS ALLEEN” Meer as een gedagte in hierdie stuk is van hom geleen. Ander bronne sluit in THE FIVE POINTS OF CALVINISM (WJ Seaton) en THE NEW INTERNATIONAL DICTIONARY OF THE CHRISTIAN CHURCH (artikel deur WS Read)