BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 27 Maart 2013

LINA LOS DIE KERK

- watter lesse moet ons hieruit leer? 



Die bekende digter Lina Spies het onlangs in Rapport vertel van haar bedanking uit die NG Kerk. En natuurlik sal die onheilspers nooit ‘n geleentheid laat verbygaan om ‘n sappige (al is dit bitter sap) verhaal te publiseer wat die evangelie probeer diskrediteer nie. 



Lina kla oor baie dinge, maar wat is die essensie van haar ontnugtering? Sy het in opstand gekom teen die leer van sonde, verlossing en dankbaarheid. Lina skryf : “Kerkgangers sing ook lustig die huidige Lied 238: “God, enkel lig, voor u gesig/ is niks op aarde rein nie./ Ons is bevlek, met skuld bedek – kan nie voor u verskyn nie.” Die gevolg van so ’n allesoorheersende sondebesef deur jare lange kerklike indoktrinasie is ’n na binnegekeerde selfhaat wat tot uitdrukking kom in woede teenoor andersdenkendes in jou eie geloof en ander gelowe.” Hier is die kruks van die saak : Lina hou nie daarvan as die kerk haar vertel (en dit in sang verwoord) dat sy ‘n sondaar is nie. Sy beskryf dit as kerklike indoktrinasie, maar liewe Lina vergeet dat die lering dat die mens ‘n gruwelike en verlore sondaar voor die aangesig van die heilige God is, nie sy ontstaan by die NGK of enige ander denominasie het nie. Dis die duidelike lering van die Skrif : 


Daar staan immers geskrywe: "Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. 
Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie. 
Hulle keel is ‘n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange, hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. 
Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. 
Hulle laat ‘n spoor van verwoesting en ellende agter. 
Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie, ontsag vir God het hulle nie." Dit weet ons: alles wat Moses se wet sê, sê hy vir dié wat die wet het. Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God. Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ‘n mens wat sonde is. (Romeine 3:10-20) 



Die verdorwe mens haat dit om te hoor hy/sy is ‘n sondaar. Dis die kernrede vir verset teen die Bybel se boodskap. 


Omdat Lina klaarblyklik verseg om voor hierdie Bybelse waarheid te buig, is dit dan eintlik vanselfsprekend dat sy geen proefondervindelike belewenis van verlossing en dankbaarheid kan smaak nie. Wie die diepte en erns van die sondeval en sy gevolge ignoreer, beleef ook nie die heerlike hoogte van die verlossing deur Jesus nie! En kan derhalwe ook nie saamjuig in dankbaarheid nie! Dis slegs as ek platgeslaan word deur die slegte nuus van die mens se verdorwenheid, dat die heerlike genadenuus van vryspraak my weer ophef as ek dit gelowig aanvaar. Daarom gaan Paulus voort :


Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. (Romeine 3:23,24) 



Dis eers as die mens die vreugde van hierdie vergifnis ervaar het, dat hy hier en nou voluit tot God se eer kan lewe, as ‘n verloste in ‘n stukkende wêreld. Dit verstaan Lina blykbaar nie. En ja, beslis sien die verlostes wat nog elke dag die pyn van eie sonde en ‘n gebroke en bose samelewing moet trotseer, uit na die finale verlossing en verheerliking, ook van die liggaam. Dis ook onteenseglik deel van die Bybelse boodskap, dat daar ‘n beter toekoms wag. (beter selfs as Stellenbosch...) Hierdie hoop is nie ‘n lugkasteel nie, maar is gebou op die werklikheid van Jesus se liggaamlik historiese opstanding uit die dood, wat ons in hierdie dae met blydskap kan vier. 

Lina, uit wat jy skryf kan ek nie anders as om af te lei dat jy hoegenaamd nie die evangelie begryp nie. Jy reageer op die Woordfeesdebakel rondom Jean Oosthuizen en skryf van Jesus wat nie bang was om met Nikodemus en die Samaritaanse vrou debat te voer nie. Weet jy wat het Jesus vir Nikodemus gesê? Hy het die noodsaaklikheid van die wedergeboorte onder sy aandag gebring. Waaroor het Jesus met die Samaritaanse vrou gepraat? Hy het haar sondige lewensstyl (saamblyery) ontmasker en vir haar die lewende water aangebied. Dis tog heel iets anders as die Woordfeesdebatvoerders en hulle ondersteuners wat ons wil oortuig dat die Bybel nie waar is nie! Ai, Lina wees bietjie meer skepties oor die filosofie en gaan kinderlik na die Woord van God en mag God gee, dat jy die LIG sal leer ken!    
Beleef Sy vergifnis en liefde, en dan sing jy opreg saam met ons uit die LIEDBOEK (waaraan jy ook gewerk het) van die verlossing van sonde wat lei tot 'n nuwe lewe, nou maar ook eendag!

WAT MOET DIE KERK LEER UIT LINA SE VERHAAL? 

Mag die kerk besef, dat die afskaffing van tug, kompromie met sonde en die gelekkery van teologies liberales geen voordele vir die gemeente van Jesus Christus inhou nie. Hulle word net daardeur aangemoedig om al verder van die waarheid af te wyk en as hulle iewers opgehou pamperlang word, hardloop hulle graag na die media en deel as “gemarginaliseerdes” hulle hartseer verhaal van ontnugtering. 

Die kerk moet duideliker die boodskap van Jesus verkondig. Jesus roep alle mense, inderdaad ook saamblyers en onsedelikes, homoseksuele... fariseërs..., ja, alle soorte sondaars (soos ek ook), maar Hy roep mense tot bekering (Markus 1:14,15) en nie tot selfgeruste stagnasie en versuiping in die vullisbad van sonde nie. 


Die kerk kan gerus weer die Heidelbergse Kategismus afstof en terugkeer na die kernwaarhede van sonde, verlossing en dankbaarheid. Ons moet duideliker oor sonde en die skrikwekkende gevolge daarvan praat, dan sal mense hulle behoefte aan ‘n volmaakte Verlosser besef en hulle tot Hom bekeer. Maar juis ook dan en net dan kan daar ware dankbaarheidsvreugde en blymoedige aanbidding in die kerk wees.

Dinsdag 26 Maart 2013

LIG UIT LEVITIKUS

- offers wat “verveel” en vermoei, verduidelik ons die OFFER wat versoen en verkwik! 


As ons “Levitikus” hoor dink ons : Offers, offers, offers...Kom ons blaai bietjie vinnig saam deur Levitikus. Ons kyk net so rakelings na die soorte offers : Brandoffer (hoofstuk 1), Graanoffer (hoofstuk 2), Maaltydoffer (hoofstuk 3), Sondeoffer (hoofstuk 4), Skuldoffer (hoofstuk 5). Sjoe, dis ‘n hele mondvol! Jy proe amper al die bloed...

Wat is die betekenis van hierdie onderskeie offers? Net baie kortliks. Die brandoffer gaan oor versoening. (1:4) Van al die offers is hierdie die enigste waar die dier totaal verbrand moes word. Die dier verteenwwordig die sondaar, en word dus plaasvervangend in die plek van die sondaar totaal vernietig. Die een wat offer bly leef, omdat die dier in sy plek gesterf het. Die graanoffer het geen bloed behels nie, maar gaan net daaroor dat ek iets teruggee aan God waartoe Hy my instaat gestel het. Met die maaltydoffer word die aanbidder toegelaat om die meeste van die offerdier self te eet. Dit gaan oor ‘n ete in die teenwoordigheid van God. Dit dui op gemeenskap (fellowship) met God en die genieting van sy seëninge. In die sondeoffer gaan dit oor versoening (4:35). Dit dui hier op die noodsaaklikheid van straf vir sonde. Die dier dra die straf in plaas van die een wat offer. (moontlik was die fokus van die sondeoffer, versoening vir spesifieke sondes , terwyl dit by die brandoffer gaan oor sondigheid in die algemeen)* Die skuldoffer lyk of dit ‘n variasie van die sondeoffer was en het dus ‘n soortgelyke betekenis. (pasop net om te sterk onderskeid te maak tussen die verskillende offers) 

Hierdie offers is deurlopend gebring. Maar, die verstommende feit, dit was nog nie genoeg nie! (Ja, jy het reg gelees!) 

Een maal ‘n jaar het die Groot Versoendag plaasgevind. 

Dit word breedvoerig beskryf in Levitikus 16. Die agtergrond vir hierdie instelling, was die grusame dood van Aäron se twee seuns, Nadab en Abihu. (16:1) Ons lees van hierdie skrikwekkende gebeure in Levitikus 10:1-3 as volg: “Nadab en Abihu, seuns van Aäron, het elkeen sy vuurpan gevat en gloeiende kole daarin gesit. Hulle het wierook daaroor gegooi en dit vir die Here aangebied. Dit was egter ongeoorloofde vuur omdat dit teen die bevel van die Here was. 
‘n Vuur wat van die Here af gekom het, het hulle verteer, en hulle het gesterf in die teenwoordigheid van die Here. 
Toe sê Moses vir Aäron: "Die Here het gesê: Wie ‘n offer vir My bring, moet besef dat Ek heilig is; sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees." Aäron was sprakeloos.” 

Tydens die Groot Versoendag moes die hoëpriester dan ‘n offer bring, eers vir homself en al die priesters. (16:6) Onthou hulle was ook mense en dus ook sondaars! Dit was dus vir hulle lewensgevaarlik om in die teenwoordigheid van die heilige God te kom! Daarna word versoening gedoen vir die sondes van die volk. Onder andere was daar twee bokke betrokke. Die een is geoffer. Die ander een is die woestyn ingejaag, nadat die volk se sonde op hom oorgedra is. Levitikus 16:20-22 vertel hiervan : "Nadat Aäron die Allerheiligste, die tent van ontmoeting en die altaar gereinig het, moet hy die lewende bok nader bring.
Terwyl hy dan sy twee hande op die kop van die bok lê, moet hy ál die oortredinge en opstandigheid, al die sondes van die Israeliete daar bo-oor die bok bely. Sodoende sal hy die sonde op die kop van die bok oordra. Iemand wat beskikbaar is, moet dan die bok die woestyn injaag. 
So sal die bok al hulle sonde met hom saamdra na ‘n onherbergsame streek toe en daar in die woestyn moet hy agtergelaat word." 

VERVEEL DIE OFFERS JOU DALK?

Offers, offers en nogmaals offers... nimmereindige detail, eindelose herhaling. Dis net nooit genoeg nie, dit kry nooit einde nie. Waarom al die offers, hoekom al hierdie bloed? Dit gaan oor die probleem wat ontstaan wanneer ‘n heilige God in verhouding staan met onheilige mense. Hoe kan sondige mense in die teenwoordigheid leef van ‘n sondelose God, sonder dat Hy hulle vernietig? Die antwoord was : offers en allerhande voorskrifte en wette! As mens lees van al hierdie offers is dit byna asof mens vermoeid en selfs verveeld raak. In ‘n sekere sin is dit reg as jy so voel. Hierdie eindelose offers laat mens verlang na ‘n OPLOSSING. 

Die OPLOSSING het gekom – die volmaakte en genoegsaame offer van Jesus aan die kruis! 

Al die aspekte van die verskillende offers vind ons in die kruisoffer van Jesus. Jesus is die finale sondeoffer en skuldoffer. Hy het ons straf gedra. (1 Petr 2:24, Jesaja 53:5,6) Hy is die brandoffer, wat totale dood in ons plek verduur het. Hy is die genoegsame graanoffer wat deur sy gehoorsaamheid dank en eer aan God gebring het. Hy is die maaltydoffer deur wie ons gemeenskap met God beleef – spesiaal ook in die Nagmaal word ons uitgenooi om hierin te deel.  Jesus vervul ook die betekenis van die Hoëpriester en die groot Versoendag. Hebreërs 9:11-15 maak dit so duidelik. 
"Maar Christus het gekom as Hoëpriester van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie. 
Met sy eie bloed en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en ‘n ewige verlossing tot stand gebring. 
Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ‘n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. 
Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer. Daarom is Hy ook die Middelaar van ‘n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang." 

Hoe heerlik! Die Ou Verbond met sy vereistes en offers is vervang deur ‘n Nuwe Verbond met ‘n Verlosser! 

Praktiese Opmerkings 

1. Ons het te doen met ‘n heilige God. Hy is nie ons speelmaatjie nie. Ons kan nie sommer net in sy teenwoordigheid instorm nie. Selfs die hoëpriester het eers ‘n offer nodig gehad om in sy teenwoordigheid te kom. 

2. Jesus se kruisdood is die eenmalige genoegsame offer (boetedoening) vir al ons sondes. Nie ons trane, gebede, beloftes, mooi praatjies en godsdienstigheid kan ons skuld wegvat nie, sy kruisdood alleen doen dit. Hier is die geheim van 'n bevryde gewete!

3. Het jy al sy offer aanvaar? Het dit persoonlik vir jou betekenis? Dink aan die bok wat die woestyn ingejaag is. Kom lê jou sondes op Jesus, of liewer aanvaar dat God dit gedoen het – aanvaar in die geloof dat Hy jou sondes weggeneem het en dank Hom! 

4. Die boodskap van offers en bloed, die boodskap van die Gekruisigde Christus is ‘n gruwel vir baie postmoderne mense, maar elke kind van God weet, hier het ons te maak met die krag van God en ons enigste fondasie van hoop. Dr. Flip Schutte (een van Abel Pienaar se meelopers) en voormalige Hervormde predikant skryf oor sonde en sê dan : “Ek het nie bloed, of die dood van 'n verlosser nodig om daarvan ontslae te raak nie.” Dis natuurlik glad nie so ‘n nuwerwetse tipe van denke as wat hy dit wil laat klink nie. Reeds in Paulus se tyd, was die kruisboodskap vir die Jode ‘n aanstoot en vir die ander onsin, maar vir elkeen wat deur God geroep is, is die Gekruisigde Christus die krag van God! Wat sê die Woord? “Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. 
...Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir die ander is dit onsin, maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. (1 Korintiërs 1:18,23) 

Mag ons oë geopen word vir twee waarhede

  • Die erns van sonde in die aangesig van die heiligheid van God! 
  • Die genoegsaamheid en finaliteit van die offer wat Jesus aan die kruis gebring het! Ons vrede, ons sekerheid lê nie in die krag van ons geloof of in die kwaliteit van ons toewyding nie, maar in die onoortreflike volkomenheid van Jesus se eenmalige offer! Dis nou genoeg  rede om Paasfees met blydskap te vier!
*Sien Vern Poythress vir inligting oor die offers.

Dinsdag 19 Maart 2013

GELUK

- via GEBED of GEWELD?


Hoe probeer jy geluk in die lewe vind? Is jy  ’n bidder of ’n bakleier? Word jou lewe oor die algemeen gekenmerk deur gebed of geweld? Hoe klink dit in jou huwelik, gesin, werksplek? Hoe hanteer jy frustrasies en onreg? (En laat ons maar kennis neem, dit sal altyd daar wees) Baklei jy? Nie noodwendig met die vuis nie, nie altyd met harde verbale geweld nie, maar jy begin net so byt-byt, subtiel beledig, skimpe rondstrooi, stilstuipe kry of onttrek jouself aan mense? En ja, selfbejammering en manipulering is seker die algemeenste vorm van geweld tussen huweliksmaats en binne gesinne.  Hierdie alles is inderdaad ook wrede vorme van baklei!

Bid of baklei, gebed of geweld is simptome van ‘n dieper saak. Gebed, ware gebedswandel met God is ‘n uitvloeisel van ‘n herstelde verhouding met God.  Net so is baklei ‘n simptoom van ‘n lewe sonder Jesus, sonder ‘n verhouding met God of dan ten minste ‘n aanduiding van ‘n ernstige versteuring tussen ons en Hom.  Jakobus, hoofstuk 4 vertel vir ons baie oor hierdie twee uiteenlopende benaderings:

"1.Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie?
2. Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ‘n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.
3. As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.
4. Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is.
5. Of dink julle dat die Skrif sonder rede sê dat God die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê?
6. Maar die genade wat Hy gee, is nog groter. Daarom sê Hy: "God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade."
7. Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.
8.Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars.
9.Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid.
10. Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog."

Bid en baklei word teenoor mekaar gestel as twee uitsluitende werks en lewenswyses. (sien vers 2)

Hoe lyk die bakleier?

(Uit hierdie gedeelte kan mens ’n paar kenmerke opsom. Vers 1 verwys eintlik terug na die vorige gedeeltes in hfst3.  Waar kom die stryd  waarvan in 3:14-16 gepraat word, vandaan?)

~ Die bakleier huisves naywer, selfsug en afguns. (3: 14-16) Hy is ten diepste jaloers. Nie tevrede met wat hy het nie. Nie tevrede met sy finansies nie, nie tevrede met sy vrou en kinders wat God hom gegee het nie. Ontevrede hoe ek lyk, ontevrede met my werk...

Onvergenoegdheid lei tot geweld, ontevredenheid bring konflik.

~ Die bakleier se lewe word gekenmerk deur vriendskap met die wêreld.  Sy denke en begeertes is deurdrenk met wêreldse sienings en begeertes. Die wêreld se media, opinies en verwronge standaarde bepaal sy begeertes. ‘n Goeie voorbeeld, die sepies vol van die  wêreld se sienings oor geld, seks en mag is sy verwysingsraamwerk. Hoe meer jy na al die chaotiese “Vermaak” kyk, hoe meer lyk jou en jou gesin se lewens soos in die daardie einste sepies. Net soos die sepiekarakters baklei om meer mag en meer plesier, gebeur dieselfde met jou.

~ Die bakleier is ’n diep ongelukkige mens. Ontevrede. Onvergenoegd. Hy voel altyd daar is ’n klomp dinge wat hy wil hê. Hy/sy meet homself altyd aan ander mense : “Kyk hoeveel het daardie ou, kyk, kyk..... en kyk wat het arme ek.”  Begeer, begeer, begeer... Die grootste rede vir sy ongelukkigheid en onvervuldheid is die skrikwekkende feit : God het sy vyand geword. As jou lewe oorheers word deur die wêreld begeertes van nog hê , nog hê ..... dan is jy en God in ‘n staat van vyandskap. (4:4)   Johannes 2:15-17 stel hierdie selfde waarheid so : 

“Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. 
Die wêreldse dinge - alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit-kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. 
En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.”

  
~ Die bakleier bid ook soms. Die bakleier se gebed is egter nie suksesvol nie. Dit frustreer hom of haar net nog meer. Hoekom? God verhoor nie sy gebede nie. Hoekom nie? Hy bid verkeerd. Die selfsug en afguns wat sy lewe kenmerk spoel oor in sy gebedslewe. Die bakleier se selfgesentreerde, selfsugtige gebede is ‘n gruwel voor God. “Gee, gee, gee...” Die bietjie wat hy wel bid is maar net ’n uitlaatklep vir sy selfsugtige begeertes. “Here, ek het dit en dit en dit...... nodig! Here, hy pla my, Here sy maak die lewe vir my moeilik, verander hulle tog dat ek ‘n lekkerder lewe kan hê…”

~ Die bakleier is ’n hoogmoedige mens. (6) Egosentries tot in sy gebeente!  Sy rasionaal is : “Ek is so oulik, ek moet alles hê wat ek begeer.”  Die skrikwekkende feit is,  God self word sy teenstander!  Die bakleier sal sê, alles loop verkeerd, die duiwel maak vir my die wêreld moeilik", maar eintlik is dit God wat teen hom gedraai het.  Daarom vind hy nooit geluk nie, al baklei hy hoe hard daarvoor!

Hoe lyk die bidder?

~ Wel, hy bid! Hy maak tyd daarvoor. Hieruit kan mens iets belangrik aflei. Hy staan in ’n lewende verhouding met God en daarom praat hy met sy Vader! Biddeloosheid is ’n simptoom van iemand wat sonder God leef. Aan die anderkant is ware onselfsugtige gebed  ’n kenmerk van iemand wat God se kind is en in afhanklikheid van Hom leef.

~ Hy vertoon ‘n nederige tevredenheid. “Here, wat U vir my gee en wat U vir my doen is goed.”  ’n Bidder is iemand wat hom in nederigheid voor die Here onderwerp. ’n Bidder sê opreg : Laat U wil geskied! ’n Bidder sê soos Paulus in  Filippense 4:11,12 : “…ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly.” (OAV) (Terloops, mense wat aan die prosperity gospel/ voorspoedsevangelie glo, kan nie ware bidders wees nie, hulle is net bakleiers met ‘n vroom godsdiensousie oor hulle selfsug )

~ Die bidder bied teenstand teen die Duiwel. Die bakleier luister na die duiwel en slurp sy propaganda in. Die bidder sê : “Nee!”  Nee vir die duiwel, nee vir versoekings, nee vir die sonde, nee vir die wêreld se lewensstyl!

Die bidder baklei ook, maar hy baklei nie teen sy huweliksmaat nie, nie teen sy werkgewer nie, nie teen die kerk nie, maar hy baklei teen die Satan op sy knieë!

~ Die bidder los sonde. Hy treur oor sonde en laat staan dit! (8,9). ’n Bidder is sensitief vir sy eie sonde. ‘n Bidder fokus nie op ander se foute nie, maar bring sy eie na God in die gebed.

Baklei of bid? 

Dis twee uiteenlopende lewenswyses wat treffend verteenwoordig word deur die twee karakters van Saul en Dawid. . . Die bakleier is soos Saul. Hy was ongehoorsaam aan God, ontevrede met God se plan, jaloers op Dawid en diep ongelukkig!  Sy selfgesentreerde selfsugtige gebede het hom niks gebaat nie, en uiteindelik het God hom heeltemal verlaat en moes hy in desperaatheid ’n spiritis raadpleeg!  Die bidder is soos Dawid, nederig in sy eie oë. In onderworpenheid aan God, wag hy geduldig vir God se tyd! Ja, toe hy nie waaksaam was nie, val hy in sonde, maar hy onderwerp hom weereens in nederigheid aan God. Lees maar Psalm 51.

As ons baklei, stry ons ‘n verlore stryd soos Saul se geskiedenis wys. Al sy planne het niks gehelp nie, want God self was teen hom. As ons bid, dan veg God ons saak, soos Dawid ondervind het. God het vir hom gestry en op die regte tyd die koningskap aan hom gegee.

Is jy ‘n bakleier? Die oplossing is : word ’n bidder. ’n Bidder, ‘n kind van God wat tot God nader, ’n bidder wat afstand doen van die sonde, ’n bidder wat jou onderwerp aan God, ’n bidder wat teen die wêreld draai en homself voor God verneder.
 Die belofte hier in Jakobus is 4:8-10 is ook vir jou (maak nie saak hoe erg jou bakleiersverlede is nie) : As jy biddend nederig na God toe kom, sal Hy jou weer optel en dit sal nie nodig wees om te baklei nie! Jy sal nie meer wil baklei nie, want jy sal diepe tevredenheid  en geluk vind in die teenwoordigheid van God. Hy  vervul ons diepste behoeftes deur Jesus Christus. Hy gee geluk soos wat Hy in sy goedheid en regverdigheid besluit, wanneer ons onsself aan sy volmaakte wil onderwerp.

LOS GEWELD! GOD GEE GELUK VIA GEBED!

Donderdag 14 Maart 2013

DIE MAN ONDER DIE BOOM

- getuienisgreep wat herinner aan Handelinge.

['n Verdere uittreksel uit die boek wat ek skryf oor my Pa wat verlede jaar oorlede is. Vir die eerste uittreksel, kliek op WAARLIK VRY - die laaste sigaret ]

As mens die verhaal van die Etiopiër op die wa in Handelinge 8 of Kornelius en Petrus in Handelinge 10 lees,  sien ons hoe die Here aan beide kante werk om ‘n afspraak te bewerkstellig. ‘n Engel het met Filippus gepraat en hom gestuur, maar die feit dat die Etiopiër juis toe besig was met die lees van Jesaja, was ook nie toevallig nie. Net so het die Here aan die een kant aan  Kornelius 'n opdrag gegee deur Sy engel, maar aan die ander kant werk Hy met Petrus deur die nagmerrielaken vol onrein diere om hom vir ‘n spesiale opdrag voor te berei.  Petrus het geweet dit is die Here wat hom, ‘n Jood, na ‘n heiden stuur.  Petrus moes maar net sy mond open en sê wie Christus is: “Van Hom getuig al die profete dat die wat in Hom glo bekering en vergifnis van sonde in Sy naam ontvang.”  Johan de Koning kon getuig van ‘n soortgelyke ervaring.

Maandagmiddag 6 Oktober 1954, net na sy terugkeer van  die wonderlike konferensie waar God met hom ontmoet het, stap Johan in Schoemanstraat, Arcadia oppad na die kantoor van die Aartappelraad om sy fiets wat daar gestoor was te gaan haal. Onder ‘n boom langs die sypaadjie gewaar hy ‘n  swartman. Meteens kom daar diep in sy binneste die gewaarwording : “Gaan praat met daardie man!” Sy innerlike reaksie was onmiddellik : “Wat, ek met ‘n kaffer gaan praat hier in die straat! Wat sal die mense sê?”  (Onthou, dit was nog apartheidsjare! Dit was die woord wat in sy gedagtes was.) Johan stap nog aan en toe hy regoor die man was, was die “stem” so duidelik dat hy geen twyfel gehad het dat dit die Here was wat met hom gepraat het nie.  Hy los maar sy argument van “wat sal die mense sê?” Johan het na die man gestap en gegroet. Hy was besig om te lees. “Wat lees jy?”, vra Johan.  “My Basie”, kom die eerbiedige antwoord, “Ek lees van Jesus.”  Nou was Johan nog meer bewus dat die Here in die saak is. “Maar ken jy die Here Jesus?”, vra Johan weer.   “Nee, Basie, maar ek wil Hom graag ken.”  Johan se vrees het nou in oorvloedige blydskap verander.

Johan het die man gevra om te wag sodat hy sy fiets kan gaan haal en uitgenooi om dan saam met hom na sy kamer te gaan. Hy was nou haastig. Die gebou se ingangshek waar sy fiets was, was gesluit. Byna desperaat pluk hy aan die hek en roep na die wag. Gelukkig was die wag daar en kon hy sy fiets kry. Toe Johan so ‘n halfuur later weer terug is, het die man onder die boom nog gewag.

Saam stap die twee na Johan se kamer. Hy het op sy bed gaan gesit, en die man so skuins teen sy kamermaat se bed.  Met geen ondervinding, maar darem kennis van verse soos  1 Johannes 1:7 en 9  het Johan die man gehelp.  Met oortuiging het die man gesê : “Ek glo”  en het hulle saam op hulle knieë gegaan om te bid. Dit was ‘n onvergeetlike hemelse ondervinding. Die volgende dag het Johan vir hom ‘n Bybel gekoop.

Lees ook PA WORD TAGTIG

Dinsdag 12 Maart 2013

KERKBODE KASKENADES

- bring weer die uniekheid van ons GEKRUISIGDE VERLOSSER in die kollig!

Vir almal wat die waarheid liefhet is dit baie goeie nuus dat die omstrede joernalis en Kletskerk aanhitser, Jean Oosthuisen, uiteindellik weg is by DIE KERKBODE. (Die amptelike koerant van die NG Kerk) Die slegte nuus is,  dat iemand met sulke afwykende teologiese sienings  hoegenaamd daar geduld is en in die proses onherroeplike skade aan die NG Kerk (en dus ook aan die liggaam van Christus) aangerig het. Dwalinge is nie maar soos sommige mense dink net “alternatiewe en onskuldige vorms van een waarheid nie”, maar vernietig die geloof van sommige. 2 Timoteus 2:16-18 stel dit so : “Maar die onheilige en sinlose praatjies (seker tydskrifte en webwerwe ook?) moet jy vermy, want dié wat dit versprei, sal nog verder in goddeloosheid verval, en hulle woorde sal voortvreet soos kanker. Onder hulle is daar Himeneus en Filetus, wat van die waarheid afgedwaal het deur te sê dat die opstanding alreeds plaasgevind het. Daarmee vernietig hulle die geloof van sommige.”

Of die Kerkbode base goeie regverdige arbeidsetiek gehandhaaf het in sy losmaking en die skikking wat met hom bereik is, weet ek nie. Wat ek wel weet is dat dit ‘n tragedie is dat ‘n dwaalprofeet vir so lank ‘n platform in die hart van die kerk gebied is.  

Waarom sê ek so?

Kom ons bepaal ons net by een kernsaak. Jean glo baie beslis nie aan die uniekheid van Jesus as die enigste weg na die Vader nie en daardeur verwerp hy ‘n wesentlike gedeelte van die Christelike geloof! In sy onderhoud met Hanli Retief van Rapport sê hy duidelik : “Kyk, party mense dink ons geloof is ál regte een. Maar as ek in ’n Moslemland gebore is, was ek mos ook een. En ’n Jood in Israel. Wie gee mý die reg om te sê net my godsdiens is reg? Ek het God leer ken deur ­Jesus van Nasaret wie se volgeling ek is, wat rigting gee aan my lewe. Maar ek kan nie sê ’n Moslem is verkeerd nie, dis arrogant.”

Dis ‘n skreiende skande dat die NG Kerk so iemand  toegelaat het om so ‘n groot invloed op die kerklike debat uit te oefen. 

Wie hoegenaamd in die Bybelse Jesus glo, moet sy uniekheid as enigste Seun van die Vader aanvaar. God het mens geword, net in Jesus, nie ook in Mohammed of Boedha nie! Vir wie anders as Jesus het God daar op die Berg van Verheerliking gesê : "Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom." (Matteus 17:5) Van wie anders kan die  uiters ontsagwekkende stelling gemaak word : “In Hom is die volle wese van God beliggaam” (Kolossense 2:9) Wie anders het sonder sonde geleef, volmaak gehoorsaam aan die wil van God, ja, gehoorsaam tot die dood van die kruis en kon uitroep : “Dit is volbring!” (Johannes 19:30)

Dis ‘n basiese Bybelse beginsel dat geloof in Jesus die enigste ware reddende geloof is, omdat daar geen ander Naam is waardeur mens gered kan word nie. Die Geesvervulde Petrus se woorde laat hieroor geen twyfel nie : “Julle almal en die hele volk Israel moet weet dat dit in die Naam van Jesus Christus van Nasaret is dat hy hier gesond voor julle staan—dié Jesus vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het. Hy is die klip wat deur julle, die bouers, afgekeur is. Juis Hy het die belangrikste klip in die gebou geword. Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie." (Handelinge 4:10-12)

Die waarheid van Jesus se unieke Middelaarskap word so duidelik in 1 Timoteus 2:3-5 uitgespel dat die miskyk daarvan slegs aan totale geestelike blindheid te wyte kan wees. “...So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself as ‘n losprys vir almal gegee het...”  (1 Timoteus 2:3-6) Hierdie Skrif ontmasker die elemente van postmodernisme wat beweer dat daar nie waarheid is nie en dat dit nie geken kan word nie, as in stryd met die Bybelse boodskap. Dit maak ook korte mette van al die praatjies oor baie godsdienste en baie middelaars wat ons by God sou kon uitbring. Juis omdat daar net een Middelaar is, is Paulus as apostel van die heidene aangestel om hulle te onderrig “in die boodskap van die geloof en die waarheid.” (2 Timoteus 2:7) Juis omdat daar net EEN MIDDELAAR is en die nasies van die wêreld nodig het om tot geloof in Hom te kom vir redding, stuur God gesante uit en is hulle te midde van groot opoffering bereid en gehoorsaam om diie blye boodskap van Jesus na die eindes van die aarde uit te dra. Omdat daar net een Middelaar is, het Martin Rautanen (Nakambale) Finland verlaat en na Ovamboland gekom om aan heidene in duisternis van die Lig te vertel. Dit was ‘n groot offer wat die lewens van ses van sy nege kinders gekos het. Omdat daar net een Middelaar is en die Moslems dit ook moes hoor, het Henry Martyn sy geluk, sy geliefde en sy lewe geoffer in diens van die verkondiging van die evangelie.  Die voorbeelde van heldedade en offers van mense wat vir hierdie waarheid geleef en gesterf het is oneindig.... Die kerk en sendinggeskiedenis is geskryf in die bloed van mense wat onwrikbaar geglo het in die enigste unieke middelaarskap van Jesus. Hulle het hulle lewens verloor weens hierdie waarheid, maar het dit juis vir ewig behou!

Dit lyk my nou asof sommige kerkmanne oor hulle voete val om mooi woordjies aan arme Jean oor te dra. Verskoon my, maar ek kan nie in hierdie rugkrapkoor sing nie. Dit spreek of van huigelary of van onkunde of van bedenklike simpatie met sy dwaalstories. Jean word geprys dat hy soos Paulus godsdiensgesprekke na die markplein toe gevat het.  Hoe kan enigiemand wat by sy volle positiewe is, Jean met Paulus vergelyk? Ja, Paulus het die evangelie na die mense geneem binne hulle konteks en denke, maar luister wat Paulus vir die Grieke en uitlanders op die Areopagus te sê gehad het : "’God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer,  want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.’ Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het party hom uitgelag, maar party het gesê: "Ons sal jou weer hieroor wil hoor." (Handelinge 17:30-32) Paulus se debatsvoering het hom uiteindellik by ‘n duidelik verkondiging van die waarheid uitgebring. ‘n Ondubbelsinnige bekeringsboodskap aan ‘n goddelose mensdom! Ek het nog nêrens gesien of gehoor dat Jean sy kletsvriende oproep tot bekering tot die enigste Middelaar Jesus en hulle waarsku oor die komende oordeel nie!

KOM ONS BELY ONS UNIEKE MIDDELAAR ONBESKAAMD!

Dis baie dringend noodsaaklik dat ons weer die uniekheid van Jesus, die gekruisigde en opgestane Seun van God duidelik en onbeskaamd in hierdie verwarde wêreld sal bely. Ons eie finale toekoms hang daarvan af, maar meer nog, die eer van God is op die spel. Ja, ons moet inderdaad ons geloof na die markplein toe neem – die werk, die skool, die sosiale media... maar dis slegs die geloof in die enigste unieke Middelaar, Jesus wat die moeite werd is om in die openbaar onder die massas verkondig te word... al kos dit ons aansien en populariteit... oor die boodskap van die opgestane Jesus wat as Regter sal kom is Paulus immers al destyds uitgelag, dis niks nuuts nie.


Die ontkenning van Jesus se unieke middelaarskap sal lei tot ewige verdrinking in die diep waters van God se toorn!

Donderdag 07 Maart 2013

KOU JY GRUISKLIP?

- maak kopskoon saam met Klaagliedere en kry weer hoop. 



[Maak gerus jou Bybel self oop by Klaagliedere 3] 


Daar kom tye ook in die lewe van ’n gelowige dat dit werklik ellendig gaan…Alles loop skeef, alle hoop vervaag... die ergste is dat ek beleef dat die Here se hand teen my is. Hierdie skrywer was in so ’n posisie:  “Ek is die man wat ellende belewe het. Die Here het my met sy toorn geslaan”. (Klaagliedere 3:1) Hy het lyding in die uiterste vorm ervaar. Hierdie swaarkry was so erg dat dit geblyk het dat bid nie eers meer help nie! “Al roep ek en al smeek ek om hulp, Hy weier om my gebed te verhoor.” (3:8) Daar was net geen uitkomkans nie. Het jy al só vasgekeer gevoel in ellende met geen uitsig op verlossing nie? “Hy het my pad met klip toegebou, vir my geen uitkomplek gelaat nie.” (3:9) Dit voel vir jou of jy klippe kou en jou tande besig is om een vir een te breek. Kyk net hoe treffend beskryf die digter dit : “Hy het my gruisklip laat kou” (3:16) Vriend, ek weet nie watter ellende of teistering jy tans beleef nie, maar hier het ons iemand met wie dit rowwer as rof gegaan het, so ons kan gerus luister wat hy te sê het. 

Een ding kan jy ten minste sommer hier reg aan die begin weet, jy is nie die eerste of enigste wat deur bitter beproewing benou word nie. 

Nou as mens in ellende verkeer, as mens benoud is, dan kom daar allerhande gedagtes of herinneringe by jou op. Die terugdink aan foute, sonde, verlore kanse, dinge wat nooit weer reggemaak of gewens kan word nie.... Slegte herinneringe is soos ’n ruwe houtknuppel vol splinters wat jou gewonde gewete verder stukkend slaan en laat bloei. Grimmige gedagtes oor my gruwels van gister is soos swaar gewigte wat my aftrek in die donker diepsee van uiterste wanhoop. Hoe meer ek dink, hoe meer ondraaglik raak my situasie. “Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my; as ek daaroor nadink, draai my gedagtes vas.”(Vers 18-20) Klink dit bekend? 

DIE DRAAIPUNT

Gelukkig het die digter nie op hierdie punt ophou dink nie. Hy het verder gedink en dit het ’n wending, ’n verandering gebring. VERS 21! Hier kom ‘n heerlike draaipunt! “Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop:” (vergelyk ASV “This I recall to my mind; therefore have I hope.”) Nadenke en herinnering kan ’n stok wees waarmee die reus Wanhoop mens stukkend slaan, maar die bepeinsing van Bybelse beloftes en waarhede is juis ’n vuurhoutjie waarmee ek weer die lamp van hoop aan die brand kan steek. ’n Lig wat al die duisternis van wanhoop en moedeloosheid kan verdryf. 

Watter gedagtes, eerder watter selfherinnering aan Goddelike waarhede het die vlam van hoop weer vir hierdie man in sy ellende aangesteek? (Waaraan moet ons onsself herinner om weer hoop te kry?) Kom kyk saam in Klaagliedere: 

1. Sien raak dat jy deur God se genade nog nie vergaan het nie. “deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie;” (22) Hoe erg jou situasie nie, jy is nie op hierdie oomblik in die hel nie. Dis net mense in die hel wat geen hoop ooit kan hê nie! Kom ons gestel jy is in ’n diep onderaardse kerker opgesluit en die sleutel is weggegooi... Dis klam, donker eensaam, groen mos groei al op jou lyf. Dis inderdaad erg, maar dis ‘n toestand nog oneindig beter as iemand wat hom vandag in die ewige verdoemenis bevind… Vir jou wat hier lees is daar hoop. Vir jou staan die deur nog oop, want God se Woord kom na jou en jy kan dit hoor, glo en lewe… 

2. Maak oop jou oë vir God se getrouheid in jou lewe ten spyte van jou baie moeilike omstandighede, wankelende geloof of ergere depressie*. “Tel jou seëninge” bly na al die jare steeds goeie raad vir elkeen van ons. (as jy sukkel, vat ‘n stuk papier en skryf dit neer, jy kan dalk verbaas wees hoe lank die lys raak) God het nie verander nie, Sy getrouheid is ‘n gegewe. “God bly getrou, by Hom is daar onbeperkte ontferming daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.” (22/23) Miskien het jy baie geld verloor....maar jy het darem nog geëet vanoggend - dank God vir daardie ontferming. Dalk verkeer jy in ’n ernstige gesondheidskrisis... jy kan darem hier lees of jy kan nog God se Woord hoor - dank God vir hierdie ontferming. Miskien beleef jy ‘n familiekrisis...jy het darem nog ’n familie - dank God vir hulle, (ook die wat jou kwaadmaak, ja!) Moontlik bevind jy jouself in ‘n put van verworpenheid of vasgevang in ‘n net van skuldgevoelens. Sien raak, dat Hy Sy genadewoord nou na jou toe stuur en dank hom reeds daarvoor! Onthou ons verdien niks goeds nie, trouens ons almal verdien die hel en tog is God so goed. 

3. Besef : God is nog steeds my God! “Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom." (24) Miskien het jy wel alles op aarde verloor...dalk sonder enige familie, sonder enige besittings, sonder enige vooruitsigte vir beterskap of beter omstandighede, maar kind van God jy het nie jou Here verloor nie. Hy is mos meer as alles en almal. My familie kan almal teen my draai, maar as die almagtige God my persoonlike Vader is, bied dit nie vir my troos nie? Ek kan al my besittings verloor, maar as ek weet daar wag ’n erfenis in die hemel vir my wag, sal dit nie die verlies baie versag nie? Het jy al besef dat God alles is? Die skrywer van Psalm 73 is ook diep getref deur ellende, hy was ook onsteld dat dit so goed gaan met die goddelose en met hom wat regverdige is gaan dit sleg. Maar dan maak hy ’n heerlike ontdekking in vers 25 : “Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.” (OAV) “Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie.” (NAV) Het jy al dit besef? Ja, jy het dalk in verterende twyfel geval, daar is baie vrae wat jou siel vaswoel, maar diep onder al die as van selfverwyte of skeptisisme, leef daar nog ‘n kooltjie van verlange na God. Anders sou jy nie nou hier gelees het nie. Diep binnekant weet jy God is jou enigste hoop! 

4. Daar bestaan nog steeds iets soos gebed en God se Woord. "Die Here is goed vir die vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra: dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here" (25,26) Hierdie man in ellende herinner homself aan ’n vaste uitkoms. Gebed en vertroue op God. Ja, ten spyte van sy negatiewe belewenis oor gebed (vers 8) dring die besef maar weer tot hom deur: Daar is nog steeds iets so gebed, daar is nog steeds God se beloftes! Wanneer alle mense en middele my teleurgestel het, kan ek in my angs en nood nog steeds na my Vader roep. Herinner Hom aan sy beloftes! Ja, daar kom tye dat dit voel of ons gebede nie help nie, asof God sy ore sluit. Dan moet ons weer sy beloftes oor gebed opnuut glo.” Roep my aan in die dag van benoudheid....., bid en vir julle sal gegee word…” Die troon van God is ’n genade troon en deur gebed in Jesus se naam kry ons toegang tot daardie troon. Miskien voel dit vir jou asof jy vasgekeer is deur omstandighede, asof daar ’n blokkade rondom jou opgerig is wat alle hulp verhoed. Weet : As Jesus jou hoëpriester is kan jy bid, met vrymoedigheid... Hebreërs 4:12-16  En wag geduldig vir die regte tyd waarop Hy jou gaan help!

5. Dink daaroor en besef dat God ‘n plan met jou lewe het. Ook hierdie ellende wat ek nou beleef is nie maar net ‘n wrede toevalligheid nie. Dis God wat dit oor my pad laat kom het…Daar is sin en rede in alles, al is dit vir my menslike logika ontoeganklik. “dit is goed vir ‘n mens om sy las in sy jeug te dra. Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly as God hom die las opgelê het, laat hy hom diep verootmoedig—miskien is daar hoop— laat hy sy wang draai vir wie hom slaan, laat hy maar oorvloedig smaad ondervind.”(27-30) Laat ons ons onderwerp aan God se tugtiging. Hy het ‘n heerlike doel daarmee. Hebreërs 12:10,11 sê dat God se doel daarmee is om ons in sy heiligheid te laat deel. Hierdie swaarkry (en dis uiters pynlik en voel beslis soos iets om oor te huil) is dus deel van God se goedheid oor jou! Regtig? Ja! Psalm 119:71 maak hierdie onbegryplik heerlike stelling : “Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek U voorskrifte geleer. En kyk wat sê vers 75 “Ek weet, Here, dat u bepalings regverdig is. Dat U my laat swaarkry, is ‘n teken van u trou.” Spurgeon* sê dit so mooi :”Baie van God se beloftes is in onsigbare ink geskryf, wat jy nie kan lees voordat die vuur van beproewing nie die letters sigbaar maak nie. (Soos daardie geheime briefies wat mens met uiesap skryf) 

6. Hierdie swaarkry, hoe erg ook al is net tydelik. Kind van God, jou siekte, hartseer, depressie…gaan nie vir ewig duur nie. As jy in die diepste ellende verkeer, onthou hierdie tyd van ellende gaan nie vir altyd aanhou nie, daar is uitkoms! “Die Here verstoot ‘n mens nie vir altyd nie; as Hy beproewing oor ‘n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot: dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring.”(31-33) 

As God ellende oor ons lewe toelaat is dit eintlik teësinnig. Soos ‘n pa wat sy kinders met ‘n seer hart pak gee en self elke hou voel. God is nie ‘n sadis nie. Sy werklike begeerte vir ons is vreugde. Nou reeds in hierdie stukkende wêreld, maar in die volmaakte sin eendag. Hierdie volmaakte vreugde gaan finaal aanbreek by die wederkoms en vir altyd aanhou. Ons ellende hoe erg ook al, is kort. In vergelyking met die ewigheid sommer baie kort en onbenullig. Ja, selfs iemand wat ’n sieke moet oppas, wat swaarkry onder ‘n wrede man, wat spot moet verduur van goddelose kinders, wat dag vir dag met pyn moet leef… kan dit weet... dis kort, laat ek moed skep, dis kort! 

Die swaarkry wat jy nou ervaar beteken nie dat God se liefde vir jou opgehou het nie. 

Die  bittere swaar waardeur Jesus aan die kruis moes gaan, het nie die einde van sy Vader se liefde vir Hom beteken nie. Die lyding, ellende en verwerping waaronder God se kinders gebuk gaan, mag ons nooit die afleiding laat maak dat Hy nie meer vir ons lief is nie. Glo dit, die Woord sê so, ja die duiwel sê anders, maar luister eerder na die Woord as na die Satan! 

UITERSTE ELLENDE; STEEDS HOOP!

Miskien is jou ellende so groot, jy sê : “Ek weet nie of hierdie mooi beloftes op my van toepassing is nie, want ek weet nie meer of ek hoegenaamd ’n kind van God is nie. Ek weet en glo hierdie beloftes geld vir God se kinders, maar ek weet nie meer of ek onder sy kinders tel nie.” 

As jy so sê wil ek jou verseker daar is nog steeds hoop. Daar is ’n vaste waarheid in God se Woord wat ook vir jou kan hoop bring. 1 Timoteus 1:15 lees : “Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.” As jy nie op hierdie oomblik na die Here Jesus kan kom as ’n kind van God nie, kom as ’n sondaar. Hy bring hoop vir sondaars, hoor dit : “sondaars”! Regte werklike, aaklige sondaars is welkom by Jesus! 

 “if you cannot come as a saint come as a sinner”

Spurgeon** vertel die volgende verhaal : ‘n Koning het ‘n maaltyd aangebied vir al bedelaars van ‘n stad. Daar was egter in die stad ook ‘n edelman wat sy geliefde koning graag wou sien, maar weens die koning se program was ‘n afspraak nie moontlik nie. Die edelman maak toe ‘n blink plan. Hy kry ou klere in die hande en gaan in sy vodde saam met die bedelaars na die maaltyd, solank hy maar net die koning kon sien! Kom na Jesus, werp jou in sy arms kom op die manier waarop duisende sondaars, moordenaars, prostitute, twyfelaars, moedverloorders… al gekom het... Hy wys niemand weg nie… 

*Lees verder oor depressie by PROFEET ONDER DIE BOS
**Ek gee graag erkenning aan CH Spurgeon vir sy preek in “Finding Place in Life’s Storms”, getitel “The Gift of Memory” 


Sondag 03 Maart 2013

VAAL EN VERVELIG?

– los die valse opkikkers en vind die volheid in Jesus! 



Voel jou Christenskap, vaal en vervelig, sonder vreugde en avontuur? Ja, jy weet dat Jesus jou Verlosser is en dat Hy jou aangeneem en vergewe het, maar jy het verval in vreugdelose vorms en verpligtinge. Jy bid nog ja, en jy lees maar bietjie Bybel en jy kom maar so bietjie kerk toe omdat jy skuldig voel. Dis egter als dor en droog. Dis ‘n situasie wat ons almal maar al te goed ken... 

Wat is die oplossing? Wat kan aan die saak gedoen word? Die gevaar is groot as mens so voel om te val vir valse stimulante en tydelike foefies. Daar is baie kunsmatige hulpmiddels wat mense gebruik om hulle Christenskap op te kikker. Daar is ‘n soeke na een of ander geheime oplossing, maar niemand weet juis wat dit is nie. Hierdie toedrag van sake is nie iets nuuts nie. Paulus spreek hierdie probleem aan in sy brief aan die Kolossense. Daar was mense, so kan ons aflei, wat hierdie Christene vertel het van ‘n geheimenis wat hulle moes ontdek. Dis asof hulle hierdie Christene probeer wysmaak het : “Luister dis goed dat julle in Jesus glo, maar daar is nog iets dieper wat julle moet ontdek. Daar is ‘n dieper insig, daar is ‘n groot geheim van krag, oorwinning en vreugde wat julle nog moet raaksien.” Klink bekend, nê? Hoeveel boeke, handleidings en kitsoplossings word aan ons opgedis : ”Die Geheim van Ware Vreugde, Vyf stappe tot Oorwinning, Tien Stappe tot Geestelike Sukses...” 

VALSE TYDELIKE OPKIKKERS

Die geheime oplossing en kitsresep wat die dwaalleraars aan die Christene in Kolosse voorgeskryf het was ‘n mengsel van verskillende dwaalbestanddele. Ons kan ‘n paar afleidings maak van wat dit was: 

~ ‘n Terugkeer na Joodse wette en en rituele. Hulle het die raad gekry om weer Joodse voedselwette, feeste en die Saterdag Sabbat te onderhou. Ja, inderdaad kan hierdie dinge mens vir ‘n tydlank besonder heilig en verhewe laat voel, maar Paulus waarsku sterk hierteen. “Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus.” (Kol 2:16,17) Dit het behoort tot die Ou Verbond, maar het in die Nuwe Verbond geen funksie meer oor nie. Hy verduidelik dat al hierdie dinge slegs tekens was van die saak (Persoon) waaroor dit werklik gaan, naamlik, Jesus Christus. ‘n Skaduwee kan mens wel iets vertel van ‘n persoon, maar die persoon self is tog oneindig belangriker! (lees meer hieroor deur te kliek op STILSTAAN BY DIE SKADUWEE?

Neem kennis :  Wettisisme en Ritualisme is valse opkikkers! 

‘n Duisend brandende kerse kan my dalk vir ‘n tyd emosioneel beter laat voel, maar kan my niks nader aan God bring nie! 

~ ‘n Staatmaak op mistieke of bonatuurlike belewenisse. Sommige het gedink dat hulle die geheimenis van ‘n vol Christenskap kan vind deur kontak met die engele en deur insig in die onsigbare werklikheid deur visioene.  Ons hoor dalk vandag nog : “ ‘n Engel het aan my verskyn en dit of dat gesê” of “my seuntjie was in die hemel en het met ‘n spesiale boodskap teruggekom” Dit klink so indrukwekkend, maar Paulus stel dit baie duidelik dat hierdie dinge nutteloos is en tot hoogmoed lei. Erger nog dit lok mense weg van Jesus af. “Moenie dat iemand wat behae skep in danige nederigheid en in die aanbidding van engele en wat voorgee dat hy allerhande visioene gesien het, julle daarmee mislei nie. So iemand verhef hom oor wat hy in eiewaan van homself dink, en hy hou nie aan die hoof, aan Christus, vas nie. Uit Christus groei die hele liggaam, ondersteun deur die gewrigte en saamgebind deur die spiere, soos God dit laat groei.” (Kol 2:18,19) 

Neem kennis : Mistisisme is nog ‘n vals opkikker. 

~ ‘n Onderhouding van allerlei streng mensgemaakte reëls. Dit gaan hier oor dinge wat die Bybel nie verbied nie, maar allerhande streng mensgemaakte wette. (Dis nie so algemeen vandag nie, maar was algemeen in die kloosterwese soos  om hard te slaap op ‘n vloer) Dit skep ‘n valse euforie van heiligheid en toewyding. Paulus sê dat hierdie dinge geen waarde het nie, want uiterlike reëls kan nie ons sondige begeertes intoom hou nie. "Julle het saam met Christus gesterwe en is dus dood vir die wettiese godsdienstige reëls van hierdie wêreld. Waarom lewe julle dan nog asof julle aan hierdie wêreld behoort? Waarom gehoorsaam julle allerhande voorskrifte soos: "Hieraan mag jy nie vat nie!" "Daaraan mag jy jou mond nie sit nie!" "Daaraan mag jy nie raak nie!"? Dit gaan alles oor dinge wat bedoel is om gebruik te word en te vergaan, en dit is maar net gebooie en leerstellings van mense. Hierdie leerstellings het wel ‘n skyn van wysheid met hulle selfgemaakte godsdiens, danige nederigheid en streng beheersing van die liggaam, maar dit het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte nie." (Kol 2:20-23) 

Neem kennis : Asketisme is ook ‘n gevaarlike opkikker. 


DIE ENIGSTE OPLOSSING

Paulus spreek al hierdie dwalings gesamentlik aan as hy waarsku in 2:8. “Pasop dat niemand julle van Hom (Christus) af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie...” Die gevaar van al hierdie ekstras is dat dit ons aandag en fokus van Jesus af wegvat. Dis die groot gevaar van alle geestelike stokperdjies en byvoegsels. (Party mense wil net heeldag stry oor die wegraping en die Antichris, ander is met die tora en Hebreeuse name oor die kop geslaan, nog ander hardloop agter selfaangestelde profete aan...) Al hierdie dinge kan ons die heerlikheid wat God bedoel het laat misloop, want u sien daar is geen ander geheime resep vir oorvloedige Christenskap, behalwe Jesus Christus self nie. In Kolossense 2:3 gee Paulus die kernoplossing vir vaal en vervelige Christenskap. Ja, daar is ‘n geheimenis, maar dis nie iets anders nie of ekstra nie, dis Christus – al die “verborge skatte van wysheid en kennis is in Hom te vind.” Als wat ek nodig het vir my verlossing en die leef as verloste is te vind in Jesus Christus. Hoe so? Wel in Jesus  woon die volle wese van God, en meer nog... as ek aan Hom verbind is, deel ek in hierdie volheid. "In Hom is die volle wese van God beliggaam, en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid."  (Kol 2:9-10) Prakties beteken dit : In Jesus is die volledige pakket wat God my gee. As ek Jesus het, het ek alles. Wat nodig is nie om ‘n nuwe ervaring te soek of ‘n nuwe ontdekking te maak nie, wat nodig is, is om beter te besef wie Jesus is. Daarom haal Paulus sommer al aan die begin van die brief ‘n ou Christelike lied aan wat die allesoortreffende heerlikheid van Jesus besing. (sien vanaf Kol 1:15ev) 

Hier word dit nou sommer duidelik wat geestelike groei is: Geestelike groei is om beter te verstaan wie Jesus is. Dis om die volle implikasies te besef van wie Hy is en wat Hy deur sy kruis en opstanding bewerk het.  Hoe kan ek sonder vreugde wees as ek byvoorbeeld al die betekenis van sy kruisdood soos in Kolossense 2:14 beskryf, werklik verstaan en my eie gemaak het? Hoe meer ek besef wie Jesus is, hoe meer ek Hom bewonder en aanbid, hoe meer sal my daaglikse Christenskap vol avontuur, dankbaarheid, blydskap en oorwinning wees. 

Weereens, daar is geen geheime resep vir vreugdevolle Christenskap nie, die resep is JESUS!

Vrydag 01 Maart 2013

LIEWE LULU

wat weet jy van Calvinisme? 

Dit lyk my as jy iemand wil slegsê en jy het nie feite nie, dan beskuldig jy hom van rassisme of Calvinisme. So het minister Lulu Xingwana* van Suid-Afrika onlangs in ‘n onderhoud gesê: "Jong Afrikanermans word grootgemaak in die Calvinistiese geloof en glo hulle besit 'n vrou, hulle besit 'n kind, hulle besit alles, en daarom kan hulle daardie lewe neem, want hulle besit dit." ‘n Groter vertoon van dwaasheid en oningeligtheid is moeilik denkbaar. Miskien moet mens Lulu tog nie te hard oordeel nie, want geestelike insig kan seker nie verwag word uit die geledere van die goddelose ANC met sy heidens sekulêre agenda nie. Die absolute onkunde oor wat Calvinisme is, is egter nie net beperk tot die ANC nie, maar floreer ook onder mense wat veronderstel is om die Bybel en die kerkgeskiedenis te ken. So iemand is Prof. Johan Malan (‘n mede evangeliese gelowige) wat op sy webwerf beweer : “Calvinisme is ‘n misleidende leerstelling waardeur ‘n valse geestelike fondament aan ongeredde mense gebied word.” Watter totale mistasting! Het Prof. Malan nog nie gehoor van die duisende mense wat onder die Calvinistiese prediking van ‘n George Whitefield, Charles Spurgeon, Robert Murray M’Cheyne, Martyn Lloyd-Jones... en ons eie Dr. Willie Marais om maar net enkele voorbeelde te noem, tot bekering gekom het nie? (Prof. Malan maak wel melding van Spurgeon en beweer dat hy nie regtig ‘n Calvinis was nie. Wil hy die man nou in sy graf laat omdraai?) Weet hy van Calviniste soos Howel Harris, Daniel Rowland en Jonathan Edwards se rol in die groot herlewings van die 18de eeu? Dra hy kennis van die pionier sendingwerk van William Carey, David Brainard, William Burns...? En wat van die Calvinistiese sendelinge van die NG Kerk wat die lig tot diep in donker Afrika ingedra het? Is Prof. Malan bewus van die kosbare nalatenskap van geestelike reuse soos Tyndale, Latimer, Knox, Wishart, Perkins, Rutherford, Bunyan (Pelgrim’s Progress), Owen, Goodwin, Watts, Newton (Amazing Grace)...en later Hodge, Warfield...? Het Prof. Malan moeite gedoen om uit te vind wat Calvinisme is of baseer hy sy insigte op iemand soos Dave Hunt se bewerings? 


WAT IS CALVINISME? 



Om mee te begin is dit belangrik om te weet dat Johannes Calvyn self nooit so ‘n beskrywing van sy leerstellings sou goedgekeur het nie. Hy het geglo dat wat hy geleer het, bloot die waarhede van die Ou en Nuwe Testament was. Tog het hierdie briljante teoloog se uitleg van die Skrif inderdaad ‘n groot invloed gehad op wat later as Calvinisme bekend sou staan. 

Die term, Calvinisme kom hoofsaaklik uit die 17 de eeu vanuit opposisie teen die dwalinge van Arminius, wat uiteindelik by die Sinode van Dordt in 1618 veroordeel is. Hierdie kosbare waarhede vind neerslag in die Dordtse Leerreëls. 

Die kernbeginsel van die Calvinisme is die eer van die soewereine God. Soli Deo Gloria. Skepping en selfs verlossing is nie primêr gerig op die mens se vervulling en plesier nie, maar gebeur alles ter wille van God. Alles is uit God, deur God en tot God, soos Paulus in Romeine 11:36 sê. Die bron van Calvinistiese leerstellings is die Bybel. Die Bybel is die enigste bron van kennis oor God en sy wil, want vanweë ons sonde is ons blind vir God se heerlikheid wat uit sy werke uitstraal. God openbaar Homself aan die mens deur sy Woord en die werk van die Heilige Gees. 



Ook vind ons in die Bybel alleen insig in die ware (verlore) toestand van die mens. Hiervan is die leerstuk van die TOTALE VERDORWENHEID van die mens ‘n baie realistiese verduideliking. Dis ‘n Bybelse waarheid soos duidelik gevind in Romeine 3:10-12 wat lees : “soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” Dit beteken nie soos sommige probeer voorgee dat die mens nie ‘n wil het of bloot ‘n robot is nie, dit gaan daaroor dat die mens se wil ook deur die sondeval bedorwe is, tot so ‘n mate dat niemand vanself God wil ken of homself wil bekeer nie. Calvinisme maak erns met die verwoesting van die sondeval. (en die praktyk van boosheid en gebrokenheid wat ons elke dag rondom ons sien, bevestig dit) Dit het die implikasie dat ons as mense volkome afhanklik is van God se genade! Sonder werklike genade sal niemand gered word nie, want selfs ons geregtighede is soos “vuil klere” voor God. (Jesaja 64:6) 



Omdat ons so boos is dat niemand van ons eerste God sal kies nie, maar daar tog baie mense gered word, is dit vanselfsprekend dat God ons eerste kies deur sy genadige ONVOORWAARDELIKE UITVERKIESING. Die beginsel van onverdienstelikheid word alreeds gesien in God se verkiesing van Israel soos beskryf in Deuteronomium 7:7-8 “Die HERE het 'n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met 'n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos." Hierdie waarheid geld vir almal wat God se kinders is binne die Nuwe Verbond en word besonder helder in die Nuwe Testament gestel o.a. in Romeine 8:29,30 -  “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.”  Die totale verlossing van die mens, van oorsprong tot by die eindpunt van finale verheerliking is in die eerste instansie 'n werk van God!


Die uitverkorenes is sondaars soos alle ander mense en onder die toorn van God. Jesus moes dus kom en spesifiek en genoegsaam hulle sondeskuld aan die kruis deur sy plaasvervangende sterwe kom dra en die straf daarvoor op Hom neem. Die PARTIKULIERE VERSOENING beteken positief dat Christus sy mense werklik effektief met God versoen het deur hulle spesifieke straf vir hulle sondes te vat. Ja, Hy het die “gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee” (Efesiërs 1:4) Hierdie toegespitse versoeningswerk ter wille van die uitverkorenes, beteken nie dat God suinig is met sy genade nie.**  Christus het inderdaad ‘n versoening bewerk wat genoegsaam is vir die sondes van die hele wêreld, soos die Dordtse Leerreëls dit self stel.*** Dis egter net effektief ten opsigte van die uitverkorenes. Aan hulle gee Jesus die ewige lewe. Dis hulle  wat deur Jesus se Vader aan Hom gegee is (Johannes 17:2) en deur die Vader na Hom getrek word. “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” (Johannes 6:44) Let op hoe die onvermoë van die sondegevalle mens weer hier deur Jesus self bevestig word. 

Hierdie onvermoë beteken dat elkeen van ons afhanklik is van God se ONWEERSTAANBARE GENADE, anders sal niemand gered word nie. Dit word so pragtig bevestig in die bekering van Lidia in Handelinge 16. Dis die Here wat haar hart geopen het om ag te gee op Paulus se woorde. Niemand is outomaties gered nie. Sondaars moet ‘n defnitiewe wilskeuse vir Jesus Christus maak. Dis egter slegs God wat die verdorwe wil van die sondaar so kan aanraak dat hy tot ‘n besluit kan kom. Calviniste glo daarom, anders as wat hulle vyande dikwels beweer, nie dat mense willose robotte is nie. Die Dordtse Leerreëls is hieroor baie duidelik as dit verklaar dat God nie met ons werk asof ons “stokke en blokke” is nie. (Sien verder hieroor by DIE SOEWEREINE STEM WAT TOT LEWE ROEP) Calviniste glo daarom ook dat alle mense opgeroep moet word tot geloof en bekering. God se beloftes en uitnodigings kom inderdaad werklik en opreg tot alle mense. God bedoel mos wat Hy sê! Net soos die apostels moet ons daarom die evangelie aan almal verkondig, alhoewel slegs diegene wat bestem is vir die ewige lewe gehoor sal gee. “...en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.” (Handelinge 13:48) Diegene wat gehoor gee aan die oproep tot bekering en vir Christus kies moet egter weet dat dat nie hulle eie goedheid is wat hulle daartoe gebring het nie, maar alleenlik die uitverkiesende en onweerstaanbare genade van God. "Dat ons in Christus glo, dat ons van ons kant ook vir God kies, is nie die vrug van ons eie goedheid nie, maar is as sodanig reeds ‘n geskenk van sy genade. Die verlossing is van voor tot agter die vrug van Gods liefdevolle en genadige inisiatief. Alles, alles is genade, onverdiende vrye guns alleen!"****  Diegene aan die anderkant, wat verlore gaan, kan nie God daarvoor blameer nie, want hulle het self die genade aanbod van die evangelie verwerp.

As God dan self so ‘n bonatuurlike wonderwerk in iemand gedoen het, nie op grond van enige verdienste aan ons kant nie, maar weens sy ewige besluit, sal God hierdie werk einduit volvoer. In Filippense 1:16 stel Paulus dit duidelik dat God die werk wat Hy in mens begin het, sal voltooi. Dis die waarheid van die VOLHARDING VAN DIE HEILIGES. Natuurlik kan mense met valse mensgemaakte bekerings nie aanspraak op hierdie belofte maak nie. Natuurlik misbruik baie hierdie belofte terwyl hulle lustig voortgaan met sonde. Dis direk teen wat die Calvinisme leer. God se bewaring vind plaas via die weg van volhardende geloof, die voortdurende stryd teen sonde en die positiewe najaging van heiligmaking. Die troos is dat Hy in sy groot genade ons hiertoe instaatstel en dat Hy die mag het om ons vlekkeloos te bewaar tot die einde! (Judas vers 24) 

Hierdie kosbare waarhede sal, as ons dit werklik glo ‘n verskil in die alledaagse lewe van die kind van God maak. Calvyn se uitverkiesingsleer gaan allermins oor metafisiese spekulasie. “Dit het ‘n praktiese doel, naamlik om die gelowige op te wek om alle eer aan God te gee, homself voor God te verootmoedig, en al sy troos en sekerheid in God se beloftes te soek.” (Jonker) Die erkenning van God se heerskappy oor sy hele skepping en alle fasette van menswees sal die gevolg wees in die lewe van alle mense wat eerlik voor hierdie Bybelse waarhede buig. 

As Calviniste, maak ons in ons prediking erns met die volle Skrifopenbaring. Ons neem Goddelike soewereiniteit en menslike verantwoordelikheid beide ewe ernstig op. As die Skrif verklaar dat God mense uitkies, dan verkondig ons dit. (Romeine 9:11-13) En dis inderdaad 'n heerlike waarheid, want God kies nie volgens status of verdienste of ras nie! Dit gee juis hoop aan die slegste sondaars! Uitverkiesing het in die Bybel nie met 'n donker swartlys te make nie, maar is 'n genadewoord wat in die konteks van lofprysing en dankbaarheid gebruik  word. (Efesiërs 1:3-14)***** Aan die anderkant, as die Skrif ons as mense uitdaag tot 'n keuse of uitnooi om na Christus te kom, dan pleit ons met vrymoedigheid en erns by alle mense om hierop te reageer! (Matteus 11:28-30)

Liewe Lulu, die probleme in die Suid-Afrikaanse gemeenskap is nie te wyte aan die Calvinisme nie, maar juis onder andere vanweë die hartseer feit dat baie hoofstroomkerke in ons dag hulle kosbare Calvinistiese erfenis verruil het vir postmodernisme (‘n lewe en teologie sonder waarheid en norme), teologiese liberalisme (verwerping van die Bybelse gesag) en ‘n eensydige horisontale sosiale evangelie (wat ontken dat die mens ‘n helverdiende sondaar is wat vergifnis by God nodig het om gered te word) en baie ander derglike goggas! Ongelukkig kry baie min Afrikaners (en ander volke) in ons land die geleentheid om die Calvinistiese (Bybelse) evangelie te hoor... die rugstreel en goedvoelboodskappies vanaf baie kansels lei nie juis tot bekering en lewensverandering nie. 

Calvinisme is eintlik maar niks anders as die waarhede wat Paulus en die ander apostels, ja, Jesus self verkondig het nie. Die humanistiese selfgenoegsame mens van ons dag hou egter nie van ‘n God wat “Hom ontferm oor wie Hy wil, en verhard wie Hy wil” nie. (Romeine 9:18) Vir elkeen wie se hart wel uit genade deur die Gees sag en nederig gemaak is, is dit ‘n vreugde om in blydskap te buig voor die God wat waarlik God en soewereine heerser van die heelal is! Soli Deo Gloria!

(Vir 'n deeglike bespreking van die Calvinisme deur 'n Baptistiese Calvinis, John Piper, kliek hier : Five Points of Calvinism  Jy sal dalk verbaas wees om te lees dat die bekende George Müller wat die weeshuis in Engeland gehad het, ook 'n Calvinis was.)

* Sy het darem blykbaar om verskoning gevra, maar dis te betwyfel of dit weens nuwe insig was. 

** Vir die wat dalk nie weet nie, nie alle kerke wat hulleself as Calvinisties beskryf, glo en leef ongelukkig meer vandag die waarhede uit waarvoor die Reformasie gestaan het nie. Daar moet dus ‘n duidelike onderskeid gemaak word tussen die beoordeling van Calvinisme as sodanig en die beoordeling van die stand van kerke wat hierdie naam dra. Prof. Malan wys tereg op euwels wat deesdae in tradisioneel Calvinistiese kerke geduld word. Ek deel sy afgryse hieroor, maar dis egter nie die Calvinisme se skuld nie, maar juis die gevolg van ‘n wegdraai van Reformatoriese beginsels. 

*** Jonker en DL II,3-4. Die begrip Limited Atonement, wat in die bekende akroniem TULIP gebruik word is vatbaar vir hierdie misverstand van suinigheid en moet liefs vermy word. 

**** en ***** Willie Jonker in “UIT VRYE GUNS ALLEEN” Meer as een gedagte in hierdie stuk is van hom geleen. Ander bronne sluit in THE FIVE POINTS OF CALVINISM (WJ Seaton) en THE NEW INTERNATIONAL DICTIONARY OF THE CHRISTIAN CHURCH (artikel deur WS Read)