BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Besprinkeling. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Besprinkeling. Wys alle plasings

Donderdag 29 Maart 2018

DIE GOEIE NUUS EN VOORREG VAN GOEIE VRYDAG

moet verstaan word binne die konteks van God se heiligheid! 



Wat ‘n aangrypende gebeurtenis vind ons hier in EKSODUS 24! Moses, Aäron, Nadab, Abihu en sewentig leiers bestyg die berg Sinaï en kom in die teenwoordigheid van God! Ja, hulle sien Hom en hulle het geëet en gedrink! As’t ware saam met die lewende God aan tafel. Natuurlik, dit was slegs moontlik nadat hulle met bloed besprinkel is! Drie groot sake vra ons aandag : 


1. God is angswekkend heilig en asemrowend heerlik! God is waarlik God. Heilig, hoog en verhewe. Dis ‘n kernboodskap in beide die Ou en Nuwe Testament. Ons as mense moet ons plek ken voor God en wegbly van alle arrogansie en hoogmoed. God gee hier die duidelike opdrag aan Moses : “As julle nog ver is, moet julle al voor My buig.” (1) God is nie ons speelmaatjie nie! Daar is geen plek vir die hedendaagse Amerikaansgedrewe familiariteit met God in die Skrif nie! Ons kan nie met ons onheiligheid en verwaandheid by Hom instorm en vir Hom hiet en gebied nie. Ons kan nie vir Hom beveel nie, Hy beveel ons! Hy alleen gee opdragte! Hy gee die gebooie waarvolgens Hy gedien moet word. God verwag gehoorsaamheid. Op God se bevel het Moses al die gebooie van die Here neergeskryf en dit aan die volk voorgelees. (4,7) Die hedendaagse rebelse en outonome mens wil mos self besluit wat reg en verkeerd is (selfs die definisie van wat ‘n huwelik is moet verander word....) - ons maak ‘n dodelik gevaarlike fout! God alleen mag besluit wat reg en verkeerd is en Hy alleen bepaal hoe Hy gedien moet word. God se heiligheid en heerlikheid word op verskeie maniere hier onderstreep. Sy heerlikheid word verberg deur ‘n wolk wat die berg omhul. Sy heiligheid lyk soos ‘n gloeiende vuur! (16,17) Vuur is meermale ‘n simbool van God se heiligheid in die Skrif. VUUR is verterend , gevaarlik, tog ook heerlik, suiwerend, helend! (Kliek op Brandende bos) Mag ons kennis neem : die ware God is ‘n angswekkend heilige God! 

2. God begeer gemeenskap en saamwees met sy mense. Dis wat so merkwaardig is : die groot heilig verhewe God verlang na gemeenskap met die klein sondige mens. Onbegryplik heerlik. God wil by sy mense wees en in ‘n verhouding met hulle staan. God het sy volk uit Egipte verlos en gelei met ‘n baie duidelike doel . Dit word duidelik uitspel dit in Eksodus 19:4-6. “‘Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel." Hy het hulle op arendsvlerke gedra en na Homself gebring! Ja, om by Hom te wees! God soek reeds in die tuin van Eden toenadering tot die mens as Hy na Adam roep... God neem hier in Eksodus 24 ook die inisiatief en nooi uit : “Klim die berg op na My toe...” (1) God verlos vandag nog mense sodat ons in ‘n verhouding met Hom kan staan. Dis die uiteindelike doel waarop sy redding van sondaars afstuur. Dit word so mooi gestel in Openbaring 21:3 “Kyk, die woonplek van God is by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.” 

WEET DIT, GOD WIL OOK IN ‘N INNIGE VERHOUDING MET JOU STAAN! 

3. God maak self voorsiening dat sondaar mense saam met Hom kan wees en sy heerlikheid kan aanskou. Die eerste twee feite wat ons raaklees in hierdie gedeelte veroorsaak ‘n probleem. God is ontsagwekkend heilig, maar Hy wil in ‘n verhouding staan met mense. Die probleem is - hierdie mense is sondige mense! Dis die groot dilemma wat die Bybel vir ons stel, maar gelukkig ook self antwoord en oplos : Hoe kan sondaars in die heilige teenwoordigheid van God kom sonder om verteer te word en te sterf? Hoe vind ons genade by God? Die antwoord kom baie duidelik uit hierdie gedeelte (die antwoord is natuurlik die evangelie opsigself) : God maak in sy verbond voorsiening dat die sondes deur offers versoen kon word. Die verbond word deur bloed bevestig. Hierdie bloed is toe op die volk gesprinkel. Na die besprinkeling kon Moses en sy metgeselle die berg uitklim na die teenwoordigheid van God. 

Ons vind hier ‘n asemrowende en uitsonderlike opwindende gebeurtenis - ‘n verbysterende hoogtepunt.“Hulle het die God van Israel gesien ; onder sy voete was ‘n plaveisel van saffiersteen, so blou soos die hemel self. God het geen hand teen die leiers van Israel gelig nie : hulle het geëet en gedrink.” (10,11) 

Mense sien God! Hulle beleef God se teenwoordigheid op ‘n besondere manier. Die heerlikheid van God is natuurlik te groot vir ‘n sterfling om te verstaan en te beskryf - daarom word net gemeld van die plaveisel onder sy voete wat blou siersteen was. Baie belangrik : hierdie manne eet en drink in God se teenwoordigheid. Om saam met iemand te eet het besondere betekenis. Dis ‘n veelseggende teken van aanvaarding en opregte vriendskap en belangstelling! Dit word uitdruklik gemeld dat God geen hand teen hulle opgelig het nie! Hoekom is dit so buitengewoon en verdien dit spesiale vermelding? Dit beklemtoon net weer God se verterende heiligheid. Eintlik mag geen mens naby God kom sonder om te sterf nie, maar God laat hulle toe naby Hom kom op grond van sy groot genade, op grond van die bloed van die verbond waarmee hulle besprinkel is! 

Die bloed wat gevloei het tydens die sluiting van die Ou Verbond by Sinaï, was ‘n voorspel tot die kruisiging van Jesus, die Lam van God wie se bloed binne die konteks van die Nuwe Verbond volkome genoegsaam was vir al ons sondes en vir ons ewige toegang tot die heerlike teenwoordigheid van God bewerk het. 

Dis die boodskap van die heilige Nagmaal. Daar is net een manier hoe ons toegang kan kry tot die heilige God! Ons word gereinig deur die bloed van die Middelaar van die Nuwe Verbond, Jesus Christus. Dis evangelie! Die Goeie Nuus van Goeie Vrydag! Maar dit eis van ons dat ons Jesus se offer persoonlik gelowig moet aanvaar as genoegsaam vir my eie sondes. Dis die vereiste van Goeie Vrydag! Elkeen wat so gereinig is, deel ook in die voorreg van Goeie Vrydag naamlik ewige tafelgemeenskap met God. In Eksodus 24 is daar duidelike lyne wat deurloop na die Nagmaal. In die Nagmaal word die genoegsaamheid van Jesus se offer persoonlik, sigbaar en “proebaar” aan elkeen wat glo bevestig. “Dis vir julle!” In die Nagmaal beleef ons nou reeds tafelgemeenskap met die lewende Here as ‘n voorskou tot en ‘n voorsmaak van die ewige bruilofsmaaltyd van die Lam.

Geseënde Paasfees!!

Maak ook weer seker van die feite van die OPSTANDING wat die bevestiging is van die Goeie Nuus van Goeie Vrydag!

Donderdag 19 Januarie 2017

UITVERKORE EN AANGERAAK

- deur die Drie-enige God!


[ ‘n Bybelstudie reeks oor die 1 Petrusbrief]

Van Petrus, ‘n apostel van Jesus Christus. Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld, wat verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië.

Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus. Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees! (1 Petrus 1:1-2)

No2 Uitverkore en gereinig deur die Drie-enige God

Ons het gesien hoe Petrus in sy aanhef God se volk tipeer met terme soos verstrooiing en vreemdelinge. (Kliek op PELGRIMSVOLK) God het ’n volk, met ander woorde daar is mense wat Sy eie is. Ons as Christene is oor die wêreld heen versprei, maar is nie regtig permanente inwoners van hierdie wêreld nie. Ons is reisigers met ’n vreemde paspoort. God se volk op pad na hulle werklike Vaderland. 

Maar wie presies is hulle en waarvandaan kom hulle? Ons bekyk weer 1 Petrus 1:1-2. As ons mooi kyk wat hier staan en die konteks begryp, word hier eintlik dramatiese dinge oor God se volk gesê. Dramaties heerlik en buitengewoon wonderbaarlik! Onthou ons het reeds gesê Petrus skryf vir Christene wat hoofsaaklik uit ‘n heidense agtergrond kom. Hierdie heidene het geen deel gehad aan God se volk nie, totaal goddeloos en onkundig. Hulle het voorheen ‘n sinnelose lewenswandel gehandhaaf. Petrus verwys daarna in 1:18. “Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie.” Hulle was ten volle deel van heidense goddeloosheid en verdorwenheid soos ons kan aflei uit 4:3. “In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg— en drinkpartye en afskuwelike afgodery.” Hierdie lesers was dus volbloed heidene, en nou word na hulle as God se pelgrimsvolk verwys. Luister wat sê Petrus van hierdie voormalige heidene met hulle verdorwe lewens. Hierdie mense is uitverkorenes van God die Vader, geheilig deur die Heilige Gees en besprinkel met die bloed van Jesus Christus. Drie verbasingwekkende uitsprake as ons in aanmerking neem dat dit van heidene gesê word. Kom ons kyk verder na hierdie drie sake wat genoem word:

1.Uitverkorenes van die Vader! Dis ‘n vreemde verrrassende ding om van heidene te sê. Almal het mos geweet dat die volk Israel God se uitverkore volk is. Hoe kan dit nou van heidene gesê word, dat hulle uitverkorenes is? Ja, mens sou dalk nog kon sê dat God in genade as nagedagte maar ‘n paar heidene bygevoeg het tot sy volk - mense soos die Etiopiër op die wa, Kornelius en sy familie ens. Dis egter nie die verduideliking wat Petrus hier gee nie. Luister weer : “uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader” Wat hy sê is dat die heidene God se volk is omdat hy hulle van ewigheid af geken het. 

Waaroor presies gaan hierdie “voorkennis”? Baie belangrik - die begrip “voorkennis” word spesifiek ook van Christus gebruik. (1:20) Christus is vooraf deur die Vader geken nog voor die skepping van die wêreld. Die begrip voorkennis beteken nie bloot dat God sekere inligting oor Christus of die uitverkorenes gehad het nie. dit beteken eerder dat beide Christus en sy mense die objek van God se liefde was van ewigheid af! Ook Paulus gebruik hierdie begrip voorkennis in die sin van liefde, van die teenoorgestelde as verwerping. (Vergelyk Romeine 11:1,2) Jesus se koms en die redding van heidene en hulle deel word van God se volk was nie maar net ‘n nagedagte of noodplan nie, maar van ewigheid af deel van God se plan en bedoeling! Petrus self gebruik hierdie woord “voorkennis” in sy toespraak in Handelinge 2:23. “Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring;” (OAV) Christus is uitgelewer, maar dit was alles deel van God se ewige plan! ’n Vooropgesette plan! Watter heerlike vertroostende gedagte gee Petrus sommer reg aan die begin hier aan die heiden Christene deur wat so baie vervolging moes verduur. Hy wil hulle laat verstaan, julle is werklik deel van God se volk! Van ewigheid af was dit so bedoel. Hulle is wel nie fisiese afstammelinge van Abram nie, maar deur God gekies in Christus om sy volk te wees.

God het dus heidene gekies om sy volk te wees. Dit bring mens onmiddellik by ’n groot krisis - God is absoluut heilig, die heidene is absoluut verdorwe, vasgevang in okkultiese duisternis van afgodery en in ’n moeras van onsedelikheid en wetteloosheid. Nou moet hulle God se volk gemaak word, want hulle is daartoe gekies. Nodeloos om te sê, hierdie keuse sou ook beteken dat God prakties sou moes optree om dit ‘n werklikheid te maak. Om volk van God te word is ‘n groot saak. Dit vereis drastiese ingrype, niks minder as ’n wonderwerk nie! Dit sou moes beteken dat hulle van sondes verlos en gereinig moes word. God is heilig en sy volk moet dus noodwendig ook heilig wees. (Vgl. 1:16) Petrus gaan nou voort om prakties te beskryf hoe God van verdorwe heidene sy uitverkore volk gemaak het. In hierdie verband verwys hy na die Gees en na Jesus Christus. Dis baie duidelik dat ons verlossing deur die Drie-enige God bewerk word.

2.Die heiligmaking van die Gees verwys hier waarskynlik na die aanvanklike reinigende werk van die Heilige Gees in ons. (Natuurlik is daar ook ‘n voortgaande werk van die Heilige Gees, maar die verwysing in vers 3 na die nuwe posisie van hoop wat die heidene het as gevolg van die wedergeboorte maak dit meer waarskynlik dat hy hier na die aanvanklike werk verwys.) Net so verwys die term gehoorsaamheid nie na die voortdurende gehoorsaamheid van God se kinders nie, maar na ons aanvanklike oorgawe en onderwerping aan Jesus. Gehoorsaamheid aan die waarheid van die evangelie. (Vgl. 1:22) Paulus noem dit ook in Romeine 1:5. Dis die stap tot geloofsoorgawe aan Jesus, waartoe die Heilige Gees mens bring, en alleen die Heilige Gees kan dit doen. 

3.Die reiniging van God se volk behels ook besprenkeling met die bloed van Jesus. Wat beteken dit? Dis nie een of ander mistieke gebeurtenis nie. Ons moet dit verstaan uit die Ou Testamentiese agtergrond wat Petrus in gedagte sou gehad het. Een moontlike agtergrond is wat ons kry in Eksodus 24. “Moses het toe die bloed gevat en op die volk gesprinkel terwyl hy sê: "Dit is die bloed van die verbond wat die Here op grond van al hierdie gebooie met julle gesluit het." (Eksodus 24:8) By Sinaï het Israel God se volk geword deur aan Hom verbind te word in die verbond. Nou praat Petrus van heidene wat God se volk geword het deur Christus se bloed. Ons as voormalige heidene staan nou ook in ‘n verbondsverhouding, maar nou natuurlik die Nuwe Verbond. Ons word besprinkel nie deur die bloed van vee nie, maar deur die bloed van Christus. Die bloed van Christus verwys na Jesus se kruisdood. Jesus se dood het God se geregtigheid tevrede gestel, dit was genoegsame betaling vir ons sondes en daarom kan ons as versoendes deel wees van God se volk. Gereinig deur die bloed van Christus beteken dus dat God ons ten volle aanvaar op grond van Christus se dood. Hy kan ons aanvaar ten spyte van ons gebrokenheid want geregtigheid het geskied, die volle straf vir ons sondes is klaar betaal. Anders gesê God het ook nou deur Jesus se bloed ‘n aanspraak op ons, ons behoort aan Hom (2:18-19)

Moontlik is hier dalk ’n ander stuk Ou Testamentiese agtergrond ter sprake - die besprinkeling van die priesters met bloed om hulle met die oog op die priesterskap te wy. (Eks 29:19-21; Lev 8:30) Die implikasie is dan ook baie gepas in die konteks - deur Jesus se bloed wat versoening vir hulle bewerk het, is hierdie voormalige heidene aan God gewy as priesters, spesiaal uitverkore in God se diens! Later sê Petrus dit mos eksplisiet dat hulle ’n koninklike priesterdom is. (2:9)

OPSOMMEND

Heidene soos ons kan deel wees van God se volk. Menslik gesproke is dit onlogies en onmoontlik. Dis wel heerlik moontlik deur die werk, die ingrype van die Drie-enige God. Wat ’n verbysterend heerlike waarheid - die almagtige God self gryp in om vir Homself ’n heilige volk uit ’n verdorwe heidendom saam te stel. Hierdie wete moet ons vol hoop en in blydskap laat volhard!


Hei//om meisies wat deel is van Wildevy gemeente se jeugkoor op Tsintsabis.