BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket New Age. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket New Age. Wys alle plasings

Sondag 17 April 2016

ULTIMATUM AAN DIE ALGEMENE SINODE

- behoort te wees : Herstruktureer of ons tree uit! Die NG Kerk kan nie meer op hierdie manier funksioneer nie.

Dit was van die sterk gedagtes wat uitgespreek is deur Prof. Johan Janse van Renburg tydens ‘n gereformeerde saamtrek op Otjiwarongo tydens die naweek van 15-17 April 2016. Hierdie geslaagde byeenkoms is bygewoon deur belangstellendes van so ver as Aranos in die suide, Omaruru in die weste en Grootfontein in die noord ooste. ‘n Kenner op die gebied van homoseksualiteit, Dr. Peet Botha het ook ‘n sinvolle bydrae gelewer.

Prof. Janse van Rensburg (skrywer van die boekie, “In Gesprek met die Kerk”) het reguit en duidelik gepraat oor sake wat ons na aan die hart lê soos Skrifgesag, Post Modernisme, leierskap, die gevare van die Ontluikende Kerk (Emerging Church), die kommerwekkende stand van teologiese opleiding, kerkvergaderings, Belhar, die AS besluit oor selfdegeslagverhoudings en vele ander verwante sake.

Ekself was net die Saterdag teenwoordig en onderstreep net ‘n paar wyshede van Prof. Janse van Rensburg by wyse van kort aanhalings. Wees gewaarsku, dis nie vir mense met swak siele nie...

SKRIFGESAG EN HERMENEUTIEK

“Ons is klowe uit mekaar wat betref Skrifgebruik.” Ons is ook weer daaraan herinner hoe die relativisme van die postmodernisme so 'n sterk invloed op ons kerk uitoefen dat 'n Algemene Sinode al besluit het dat elkeen maar self moet besluit of daar 'n duiwel is of nie.

“‘n Professor in Ou Testament sê : ‘Ek aanvaar nie Handelinge 8 se uitleg van Jesaja 53 nie.”

“Dis tyd om hermeneutiese keuses te maak en daarby te bly. ‘n Akkommoderende houding kan nie anders as om op relativisme uit te loop nie.”

“Ek was verstom toe ‘n dosent van ‘n fakulteit verklaar dat die Bybel vir ons geen etiese voorskrifte gee nie.”

HOMOSEKSUALITEIT

Oor die hantering van homoseksuele – “Ek sal jou met liefde behandel, maar moet net nie vra ek moet die Bybel verander sodat jy beter kan voel nie.”

ONTLUIKENDE KERK (EMERGING CHURCH)

Prof Janse van Rensburg het gewys op die idees van leiers in hierdie beweging soos Rob Bell, Allen Jones. Sommiges het sterk afwykende beskouings oor sake soos sonde en die kruisdood van Jesus. Met verskeie voorbeelde het Prof. Janse van Rensburg ons attent gemaak op die skrikwekkende invloed van die Ontluikende Kerk binne ons kerk.

“Waar kom die obsessie vandaan om inklusief te wees? Dit kom van die New Age af. Die emerging church is die vertoonvenster van die New Age.”

“Die vorige moderator (AS) is ‘n vurige ondersteuner van die Ontluikende kerk.”

LEIERS EN TEOLOGIESE OPLEIDING

Oor die bedenklike toestand in ons kerk - “Die AS en die leierskap en die teologiese opleiding het ons gebring waar ons nou is.”

“Die invloed van leiers op strategiese beplanning het handuit geruk. Die leiers het teologiese idees wat hulle wil deurvoer in die kerk.”

“Daar is nie ‘n fakulteit van die NG Kerk wat gereformeerde teologie doseer nie.”

GEREFORMEERDE KERKREG

“Ons het die beginsels van die gereformeerde kerkreg opsygesit. Een daarvan is dat die plaaslike kerk volledig kerk is.”

ALGEMENE SINODE

“Dit is absoluut ondenkbaar dat die AS 2015 besluit het dat die Wes Kaap kan besluit om Belhar as belydenisskrif te aanvaar. Dis onwettig. Die AS het dus sy verantwoordelikheid gedelegeer na die Wes Kaap.”

“Die moderator is voorsitter van die sinode in sitting. Na die sinode kan die moderator nie namens die sinode praat nie.”

“Die Algemene Sinode is ver verwyderd van die kerkverband. Die besluite van die Algemene Sinode word al hoe minder deur die publiek in die kerk aanvaar.”

MY GEWAARWORDINGE

Die dinge wat deur Prof. Janse van Rensburg aangeroer is, het mens weer opnuut warm onder die kraag gemaak en mens se ergste vermoedens bevestig. (‘n Mens weet nou ook hoekom word hy nie genooi na een ons predikantekonferensies hier in Namibië nie, of is ek nou verkeerd?) Hy praat van dinge waarvan ons intens bewus is. Soos die gewoonte om die dagwydings te gebruik om ‘n sinode (spesifiek verlede jaar se Algemene Sinode) te probeer manipuleer, die cliché van “Ons moet mekaar vashou” terwyl ons Skrifbeskouing myle van mekaar verwyderd is en nog vele ander.

Wat nou, moet ons moedeloos raak? Nee, selfondersoek, reformasie en herlewing begin by elkeen van ons. Dis ons elkeen se verantwoordelikheid en dan ook op ‘n besondere manier elke ouderling van ‘n plaaslike gemeente s’n. Mense val vir die leuens van die emerging church omdat hulle na ‘n ervaring soek aangesien die suiwer en bevrydende Woordverkondiging al skaarser word. As die Heilige Gees in ons werk en ons oortuig van ons sondelas, as die evangelie boodskap dan aan ons bevryding van hierdie las bring, sal daar waarlik blydskap en vreugde wees in Jesus Christus, en sal ons nie die kunsmatige en okkulte ervarings van die New Age ten prooi val nie.

My sterk gevoel is, die gewone lidmaat, ouderling en predikant, die kind van God wat nog glo in God se Woord, moet die kerk terugeis en terugvat van vreemde beheer en invloed wat ingesypel het deur ons leiers en teologiese fakulteite! Ons moet weer buig voor die koningskap van Jesus, die Here van die Kerk, wat sy kerk deur die Woord en Gees regeer.

Lewer gerus kommentaar en gee jou mening!

Donderdag 01 Mei 2014

“CHRIST LETTERS”

- stem van die draak; direk van die duiwel.

Ek beskik beswaarlik oor genoegsame woorde om my uiterste skok en benoudheid uit te druk oor die feit dat mense wat blykbaar eens die evangelie verkondig het, nou weggesleep word deur ‘n dwaling wat deur die sogenaamde “Christ Letters” versprei word.

Daar is ‘n sogenaamde “Christus” wie se briewe op die internet beskikbaar is. Christus sou Homself dan nou kwansuis weer opnuut openbaar na 2000 jaar! Hierdie valse New Age Christus verwerp die basiese waarhede van die evangelie naamlik Jesus se plaasvervangende sterwe ter wille van ons sonde aan die kruis. Jesus se betaling van ons sonde word ‘n “outrageous myth” genoem!

Hierdie lastering is bykans te erg om aan te haal, maar luister tog maar daarna: “As you dearly loved followers of mine know very well, Christians even now, are devoted to the idea of the crucifixion and Jesus' supposed payment of their sins . This unpleasant, displeasing dogma is nothing but an outrageous myth, a falsehood - an abominable description of Universal Consciousness, the loving 'Father-Power', the true and radiant Source of our Being of us all.”

Alle basiese Christelike leerstellings van die kerk van alle eeue, soos sonde, verlossing deur die kruisdood van Jesus as enigste unieke Verlosser en ‘n finale oordeel word ontken. Die Nuwe Testament as onfeilbare Woord van God word verwerp en ons moet ons nou verlaat op ‘n geheimsinnige bron wat briewe publiseer op die internet. Dit wil ons wysmaak - die mens is basies goed en kan sy eie toekoms skep. Wie enigsins die Bybel ken sal sommer gou die stem van die slang in die paradys in hierdie briewe raakhoor... Die mens wat aangepor word om God te wil speel. Wie vir hierdie leuen van Satan val, gaan te laat agterkom dat hy hierdie einste Satan se slaaf word.

Die doelwit van hierdie bose briewe word alreeds in die vierde brief baie duidelik as daar gesê word : “Christ gathers up the threads of his teachings in Palestine and says that he and Muhammad, Buddha and all other Masters have continued to develop spiritually until they have all ascended into CHRIST CONSCIOUSNESS.” 

Die enigste doel van hierdie kulkorrespondensie is om die evangelie onder verdenking te bring en dit te vervang met ‘n demoniesbeheerde een wêreldgodsdiens wat in diens van die Antichris kan staan.

Neem kennis, broers en susters, daar is net een evangelie, die kruisevangelie! Paulus kon dit nie duideliker gestel het nie : "Ek herinner julle, broers, aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het en wat julle ontvang het en waarin julle ook gevestig staan. Deur dié evangelie word julle ook gered as julle vashou aan die boodskap soos ek dit aan julle verkondig het. As julle aan iets anders vashou, het julle tevergeefs tot geloof gekom. Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte." (1 Korintiërs 15:1-4)

Enige geloof wat nie op hierdie boodskap gebou is nie, is vals en tevergeefs! Wie hulle ore aan die “Christ” van “Christ Letters” uitleen en dit opslurp, vertrap die bloed van God se Seun en kan niks anders verwag as die skrikwekkende oordeel van God nie!  “As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?” (Hebreërs 10:28,29)

 Daar is net EEN evangelie! Hoor die Woord van God : “Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring. Maar al sou een van ons of selfs ‘n engel uit die hemel aan julle ‘n evangelie verkondig wat in stryd is met die evangelie wat ons aan julle verkondig het—die vloek van God sal hom tref!”  (Galasiërs 1:7,8)

DIE LAKMOESTOETS

Ons moenie ons laat mislei deur mooi en vredeliewende praatjies nie!  Onthou, die draak doen homself voor as ‘n lam. (Openbaring 13:11)  Nou hoe gaan ons dan onderskei tussen die waarheid en die leuen? Wat is die lakmoestoets?



Dr. D. Martyn Lloyd-Jones het so duidelik hieroor gepraat: “People may come to you, they may give every appearance of being very spiritual people, highly moral people who may do excellent works – they may be the greatest philanthropists in the country – but that is not enough. The question we want to know is this – what do they say about Jesus? What is their confession with respect to him? Is he just the great teacher, just the supreme mystic, or is he the Son of God incarnate, who saves by his death upon the cross, by his body being broken and his blood being shed? These are the tests...”*

Enige Christus wat nie die gekruisigde Jesus van Nasaret is nie, is ‘n valse Christus! Jy ken die draak uit aan sy woorde, sy boodskap is kruisloos!

Gelukkig weet ons dat die uitverkorenes van God nie mislei kan word nie! Mag ons daarom te meer ag slaan op die suiwer melk van die Woord, wat juis God se metode is om sy mense te bewaar tot die einde toe!

*D. Martyn Lloyd-Jones in “PROVE ALL THINGS”, p110.