BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Skrif - genoegsaam. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Skrif - genoegsaam. Wys alle plasings

Woensdag 12 November 2014

HAPPY LIFE

- Hannah Whitall Smith se geheim van “heiligheid en geluk” wat toe al die tyd ‘n leuen was!



Die verhaal van Hannah Whitall Smith (1832-1911) is in meer as een opsig ‘n enorme tragedie. Haar drie oorlewende kinders (vier sterf vroeg) se lewens illustreer dit op hartseer en skokkende wyse. Die een dogter raak betrokke in ‘n buite egtelike verhouding en verlaat haar man en kinders. ‘n Ander dogter trou met die bekende ateïs Bertrand Russel en die huwelik loop ook op die rotse. Haar seun is ook nie ‘n Christen nie. Dit alles sou mens nog as beproewings kon verklaar... Maar erger is dat dit met Hannah se eie huwelik ook alles behalwe goed gaan. Haar man Robert het ‘n beroemde prediker geword in Europa en ‘n groot rol gespeel in die “higher life movement.” Hy het alleen sonder sy vrou gereis en in morele skande verval. Hannah het in die ongelukkige huwelik aangebly, maar haar briewe getuig van ellende. Hierin het sy met haar self opgelegde seksuele onthouding en feminisme beslis ‘n groot bydrae gelewer om die huwelik onder permanente druk te plaas tot met Robert se dood in 1898.

Die grootste tragedie is dat hierdie einste Hannah Whitall Smith deur baie gesien word as ‘n geestelike reus en haar deurmekaar teologie as die geheim van ‘n dieper geestelike lewe! Haar klassieke werk, “The Christian’s Secret of a Happy Life” het vir baie die standaard handboek geword vir ‘n dieper geestelike lewe van oorwinning. Dit is ‘n sombere herinnering (en gepaste waarskuwing) dat titels van boeke nie noodwendig die waarheid omtrent die inhoud daarvan reflekteer nie! G. Richard Fisher noem dit ‘n boek, “that overpromises and underdelivers and still sells well despite its 1875 publication date.” Die Smiths se uiters ongelukkige lewe, maak ‘n bespotting van die resep vir ‘n “Happy Life”! Hulle diep “ongelukkigheid” strek egter baie verder as persoonlike omstandighede en sondigheid. Hannah het later ‘n vorm van dwaalleer naamlik universalisme (dat almal uiteindelik gered sal word) geleer en Robert het ‘n afvallige en agnostikus geword.

Smith se heiligmakingsteorie is ‘n soort van passiewe en heiligheidsleer toegedraai in mistisisme. Dit leer ‘n tipe van “oorgawe” aan God wat die gelowige passief maak. Haar boek vorm een van die fondasies van die Keswick teologie. Dit druis in teen die duidelike lering van die Skrif dat heiligmaking ‘n voortdurende stryd is waarin die gelowige aktief betrokke is om sonde deur die krag van die Heilige Gees uit te roei. (Hiermee word hoegenaamd nie beweer dat almal wie se name aan die Keswick konferensies gekoppel word, ketters was of is nie! Dis eerder 'n kwessie van gebrekkige en verwarrende lering deur mense wat baie erns gemaak het met heiligheid en toewyding)

As Hannah Whitall Smith se mislukkings ons een ding kan leer is dit om nie enige teorie op ander se (beweerde) persoonlike belewenisse of ervarings te bou nie, maar erns te maak met deeglike Skrifuitleg! (kliek op SKRIF ALLEEN)

Vir meer oor die Smiths kliek op UNHAPPY 

Vir ‘n gebalanseerde bespreking van Keswick Teologie kliek op KESWICK  

Woensdag 18 Junie 2014

SONEL of die SKRIF?

- ek glo eerder die Bybel

Wei daar 'n wit perd in die hemel? Op my rekenaar beland die volgende. (ek neem aan met baie goeie bedoelings) Ek plaas dit hieronder met spelfoute en al:



Sonel.

Sy was 6 jaar oud toe sy die eerste ervaring in die hemel gehad het.

Sederdien was sy al 'n paar keer 'n gas in die hemel. Sy vertel jou presies hoe lyk Jesus. Sy vertel hoe lyk die engele en dat verskilende engele verskillende opdragte en take het om te verrig. Sy vertel dat Gabriel en Michael van die twee vernaamste engele in die hemel is. Sy vertel jou hoe lyk die poorte wat ook baie ooreenstem met Openbaring.

Sy het geleer om te lees en skryf asook hoe om somme te doen. Sy vertel ons presies hoe lyk die troonkamer en die Leeu van Juda. Sy praat oor die bruilofstafels wat die engele besig is om te dek. Sy vertel van 2 perde wat sy gesien het en spesifiek die wit perd wat die engel Gabriel besig is om voor te berei vir iemand wat daarop moet ry. Daar is nog baie van haar ervarings wat ek nie nou wil oorvertel nie omdat daar te veel detail aan verbonde is. Ek hoop dat die opsomming van Sonel vir jou van hulp sal wees.

DIE SKRIF ALLEEN!

Ek is oortuig dat dit van groter hulp sal wees as mense maar net eerder die BYBEL, die onvervalste Woord van God sal glo, wat ons leer dat:

Jesus self die finale en genoegsame openbaring van God is! “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het. Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte” (Hebreërs 1:1) Ons het Jesus se boodskap en evangelie in die Bybel, wat soek ons meer?

Die opgestane Jesus nou met ons deur die Skrifte praat. “En Hy (Jesus) sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word. Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan." (Lukas 24:24-25) Interessant, Jesus verwys sy eie disippels na die Skrifte! (Bybel) Vandag nog open die verheerlikte Jesus deur Sy Heilige Gees ons verstand om Hom in die Woord te leer ken... Wat soek ons meer?


Juis omdat Jesus genoegsaam is, moet ons waak teen mense wat aanspraak maak op die sien van engele! “Moenie dat iemand wat behae skep in danige nederigheid en in die aanbidding van engele en wat voorgee dat hy allerhande visioene gesien het, julle daarmee mislei nie. So iemand verhef hom oor wat hy in eiewaan van homself dink, en hy hou nie aan die hoof, aan Christus, vas nie. Uit Christus groei die hele liggaam, ondersteun deur die gewrigte en saamgebind deur die spiere, soos God dit laat groei.” (Kolossense 2:18,19) Mense hou natuurlik van spektakulêre en opspraakwekkende dinge, maar dit vat die fokus so maklik van Jesus self af weg en dis die tragedie! Luister eerder na Jesus self, breek met sonde en dien god in heiligheid!


As mense hulle nie aan die Wet en Profete (m.a.w. die Heilige Skrif) steur nie, hulle nie sal luister nie al staan iemand ook uit die dode op! Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie al sou iemand uit die dood opstaan." (Lukas 16:31) Wat is die nut van al hierdie gesigte?


Sola Scriptura!



Ons enigste normatiewe bron vir ware kennis van God is die Heilige Skrif! Ja, ek persoonlik glo dat daar egte nadoodse ervarings kan wees, maar dit voel my dat daar deesdae met reëlmaat melding gemaak word van sogenaamde "besoeke aan die hemel" wat ernstig onder verdenking behoort te staan veral weens die sensasionele en onskriftuurlike aard daarvan. In effek kom dit neer op "byvoeging" by die Woord van God of verdraaiing van die boodskap. Sonel se wit perd wat sy kwansuis gesien het, strook glad nie met die simbolies-metaforiese aard van Openbaring nie! (kliek op OPENBARING)

Ek wil graag almal se goeie bedoelings aanvaar, maar wonder nou maar net of hierdie nie maar een van die "godsdienstruuks" is wat vanuit Amerika na ons oorgewaai het nie...is daar nie nou al te veel seuntjies en dogtertjies met hemelse besoeke op hulle kerfstok nie? 

Ek verkies die Skrif! Die Skrif alleen...